Seldsame man – Bets Smith

super

Dis die natuurlikste ding op aarde om haar arms om hom te sit soos haar ma gemaak het. Die logiese ding om te doen, asof dit so hoort. Toe hy haar vashou, voel dit vir haar nog meer gepas. Onder haar oor klop sy hart gerusstellend, ’n bekende, sterk klop soos sy dit op Phuket gehoor het wanneer hulle almal so teen mekaar gesit het vir warmte en troos. Sy leun agtertoe om in sy oë te sien of hy onthou en besef presies wat dit destyds vir hulle beteken het en wat dit nou vir haar en haar gesin beteken.

Sy lippe beland teen haar voorkop asof hy sy mond teen haar hare wou druk maar hy sê niks toe hy na haar afkyk nie. Ook dit voel reg. In sy kakebeen span die spiere. Sy glimlag en strek om hom op daardie bultende spiere te soen, maar hy draai sy kop onverwags en haar lippe beland teen syne. Die mond op hare is koel en stewig. Aangenaam. Onpersoonlik. Toe skielik ook nie. Opwinding bruis deur haar en sy is eensklaps oorweldigend bewus van sy arms om haar. Van die lippe teen hare. Haar hart hamer oorverdowend in haar ore.

Met haar mond nog teen syne, luister sy na haar hartklop wat in haar ore dreun. Dis die onverwagse reaksie van haar hart wat haar woordelose dankiesê verander in iets meer. Haar mond gaan verbaas oop. Dis waar sy bitter graag wil wees, hier naby hom, fisiek en emosioneel.

Ettienne trek sy asem in. “Isabel . . .” Dis meer ’n kreun as ’n woord. Sy arms span styf, trek haar vaster teen hom. Krampagtig. Sy mond beweeg asof die spiere in sy kakebeen ook stywer span.

Toe soen hy haar.

’n Regte soen wat met dankie niks te doen het nie. Sy lippe soek hongerig oor hare. Passievol. En sy soen hom terug. Tyd staan stil. Toe begin haar hart hamer met iets anders as passie.

Iets hiervan is bekend.

Die krag van die emosie wat in haar oopbars, betrap Isa egter onkant en laat die bekendheid van die situasie onmiddellik verdwyn. Toe Ettienne se soen verdiep en reaksie eis, maak dit vuur in haar bloed totdat haar hart nog wilder te kere gaan en sy hom met ewe veel passie terugsoen.

Eers toe sy ’n leeftyd later tot haar sinne kom, tref dit haar weer.

Hoekom is hierdie situasie vir haar bekend?

Haar hartklop verander van ritme. Dis bekend, nie omdat sy die emosie as passie herken het nie. Ook nie omdat sy in Deon se arms dieselfde gevoel het nie. Wat hulle gehad het, was anders. Dis bekend omdat sy die omhelsing herken as iets wat voorheen gebeur het. Tussen haar en Ettienne gebeur het.

Sy het die geborgenheid herken toe Ettienne se arms aanvanklik om haar gegaan het, het onthou hoe vertroostend sy nabyheid was. Dit ook, ja. Maar dit het nie by troos gebly nie.

Dis hoekom die herkenning haar ruk. Dit spoel soos ’n stroom yswater oor haar, deur haar, sodat sy stokstyf in sy arms bly staan. Hy moes dit gevoel het, want hy lig sy lippe dadelik.

Sy rem van hom af weg en gee ’n tree terug.

Hy is grysbleek, sy oë meer swart as blou. Maar sy gesig vertel haar presies wat sy wil weet.

“Dis bekend.” Sy beduie vaag na hulle twee. “Hierdie situasie . . . Dit voel bekend want dit het voorheen gebeur, en jy onthou dit ook.” Haar stem klink so geskok en verslae soos sy voel.

“Isabel.” Sy stem is skor.

En hy lyk skuldig, besef sy eensklaps. Iets het tussen hulle gebeur toe hulle nog op Phuket was. Hoe, waar en presies wat dit was, kan sy nie onthou nie, sy weet net sy arms om haar, sy mond op hare, is bekend. Iets het gebeur, en dit net dae ná Deon se dood.

“Jy onthou dit nog die hele tyd,” verwyt sy. “Dis wat jy nie vir my wou sê nie. Hoe kón jy?” Sy soek na woorde maar besef dadelik die skuld kon nie net syne gewees het nie. “Hoe kon ons?” Wat het sy aangevang?

 

Blommetaal – Mattie Pansegrouw

blommetaal_high-res

Maandagmiddag buite dokter Nel se kamers steek Natildi soos ’n moedswillige donkie vas. Het diepredikant nie werk om te doen nie? Sy het verlede nag van hom gedroom en sy skaam haar morsdood as sy hom vandag in die oë moet kyk.

“Middag. Ry asseblief saam. Ek moet ’n hondjie op ’n plaas gaan aflewer.”

’n Waarskuwingsirene gaan in haar af. Bly weg. Moenie nader gaan nie. “Hoekom wil jy hê ek moet saamry?”

“Om te keer dat die hondjie onder my voete beland terwyl ek bestuur. Ek kan ongelukkig nie al die hondjies hou nie en smokkel hulle een vir een uit sodat Reonie my nie kan keer nie.”

“Skaam jou.” Natildi buk by die oop deur in. “O, dis ’n pragtige diertjie.”

“Moenie hom wakker maak nie. Hy is woelig en jy wil nie ’n plas op jou pragtige wit romp hê nie.”

Sy kan nie aan ’n verskoning dink om te weier nie en klim onseker in. Sy betrap sy geamuseerde blik op haar toe hy by die verkeerslig stilhou. “Wat kielie jou?”

“Ek dink aan jou geskokte gesig toe jy gedink het ek gaan jou soen. Ek moes die uitdaging aanvaar het.”

Sy is seker die ruimte in die kajuit tussen hulle het gekrimp. Sy sukkel om asem te haal. ’n Halfuur later trek hy van die pad af en hou stil. Verlig klim sy uit. Sy trek die vars geur van die veld diep in.

“Natildi, haal asem. Jy het gehoor wat die dogtertjie gesê het: ’n Dominee mag nie meisies soen nie.” Hy lag en gee vir haar ’n houertjie sap aan.

“Dankie. Jy beter dit onthou. Dis pragtig hier, die ruwe kranse, dennebome en fynbos.”

“Lieflik, ja. Ek verkyk my aan soveel ongekunstelde skoonheid.”

Sy kyk op en betrap sy oë vol bewondering op haar. ’n Gloed van ekstase rimpel deur haar. Ag, hoekom moes haar pad met so ’n sondige verleiding kruis? Die predikant is hartbrekend manlik, maar buite haar bereik. Wat ’n groot verlies! Hulle staan stil langs mekaar en eet die toebroodjies wat hy saamgebring het. Maar binne-in haar borrel en kook dit. Ergerlik omdat sy nie meer in beheer is van haar gevoelens nie, druk sy die leë kartonhouertjie plat en gooi dit in die vullissakkie wat hy na haar toe uithou. Hy doen dieselfde en vryf die krummels van sy hande af.

Sy moet onthou, vir hom is sy slegs ’n vriendin by wie hy net homself kan wees en niks meer nie, berispe sy haarself. Dis moeilikheid soek om saam met hom rond te rits. “Mario, miskien moet ons ry voor die hondjie wakker word.”

“Nou kom ons ry.” Hy hou die motordeur oop. “Maandae is ek vry. Ek het gehoop jy sal saam met my ontspan en die dag geniet.”

Hy lyk afgehaal. Skuldig omdat hy so fyn ingestel is op haar gevoelens en haar ongemak kan aanvoel, klim sy in. “Mario,” probeer sy onbeholpe vergoed toe hy langs haar inklim. “Ek geniet dit. Jy weet tog ek is lief vir die natuur en hou nie van mure om my nie.”

Suikersoetsonde – Dina Botha

suikersoetsonde

“Die dag toe jy daar in my kantoor gesit het, het ek na jou bleek en ontnugterde gesig gekyk en al waaraan ek kon dink, is dat jy my aan haar herinner. Sy was net so mooi en ek kon dieselfde sagtheid in jou aanvoel. Al die ander tekens was ook daar. Ten spyte van alles gaan jy net soos sy vasbyt en eerder van alles probeer vergeet. Jy gaan selfs probeer om jou man te vergewe. Ek was toe oortuig dat jy vir die res van jou lewe, nes my ma, ’n slagoffer gaan bly. Ek kon dit nie toelaat nie. Nee, ek stel dit nie reg nie. Ek wou nie toekyk hoe jy dieselfde paadjie loop nie. Dit was beter om my eerder heeltemal van jou te distansieer.”

“Dis die rede hoekom jy my keer op keer weggewys het?”

“Ja, Zelda, ek was nie van plan om op die kantlyn te staan en kyk hoe j’y jou grootste vyand word nie.”

Dis vir haar ’n openbaring. Eerstens verklaar dit Frans se bombastiese en onversetlike gedrag teenoor haar. Tweedens het sy nooit vermoed Frans huisves sulke pynlike herinneringe nie. Nog minder het sy vermoed sy herinner hom aan sy ma. Dit is ’n minder aangename verrassing, want sy wil hê Frans moet eerder aan haar as ’n interessante en unieke vrou dink en nie as ’n potensiële kandidaat vir selfmoord nie.

“En nou, wat dink jy nou van my? Gaan ek dit oorleef?”

Frans glimlag en die troebelheid in sy oë los op. “Jy gaan dit oorleef.”

Sy glimlag terug. “Ja, ek gaan. Dit gaan miskien tyd neem, maar ek weet ek gaan oukei wees.” Sy staan op en sug oordrewe. “Maar nou moet hierdie survivor huiswaarts keer.”

Haar handsakkie lê op die koffietafeltjie en sy swaai dit oor haar skouer. Sy steek haar hand uit en herinner Frans dat hy nog haar motorsleutels in sy baadjiesak ronddra.

“Ek loop saam tot by jou motor.”

Hy dring nie weer aan dat sy daar oornag nie en sy is heimlik spyt. Tog verstaan sy in ’n mate sy redes. Frans het alleentyd nodig om dit wat hy met haar gedeel het weer veilig agter sy skans van onaantasbaarheid te bêre.

Sy sluit haar motor oop, maar Frans se hand op haar deur keer dat sy inklim. Hy staan so na aan haar, sy ruik sy naskeermiddel. Hy is manlik en standvastig en sterk. Nie net fisiek nie, maar ook emosioneel. Al die troebelheid is nou uit sy oë en sy voel beter. Hy kyk haar so lank en stil aan dat haar hart weer met sy manewales begin en haar keel wil toetrek. Dit kos wilskrag om nie na sy mond te kyk nie. Sy wens hy wil haar soen, net een keer en sonder om aan sonde of reëls te dink.

“Dankie, Frans, vanaand was wonderlik. Baie dankie vir al jou moeite,” verbreek sy die stilte.

Frans tree weg en haar teleurgestelde hart val tot op die vuil vloer. Dit gaan nie gebeur nie. Hy gaan haar nie soen nie. Sy wilskrag is sterker as hare.

Hy maak die deur oop en toe haar rok uit die pad is, druk hy dit weer toe. Sy rol haar venster af.

“Nag, Frans.”

“Mooi ry, Zelda.”

Hy wil nog iets sê, sy sien dit in sy oë, maar dan bedink hy hom. Hy lig sy hand in ’n laaste groet en laat haar geen ander keuse as om weg te ry nie.

Die strate is stil en leeg en daar is ’n gevoel van verlies in haar. Sy mis Frans, al is sy nog nie eens twee blokke weg nie. Sy mis hom nog meer toe sy deur Yellow Stone Estate se hekke ry.

Toe sy later alleen in haar bed lê, pols haar lyf van verlange en dit verwar haar. Hoe kan sy so oor ’n ander man voel? Sy ken hom ’n skamele paar weke. Die feit bly egter staan, as dit nie vir Derrick se rondlopery was nie, het sy dalk nie ontdek dat sy steeds vroulike begeertes ervaar nie. Dat sy na ’n mooi en manlike lyf kan kyk en dit begeer nie. Daar is egter een feit wat sy nie kan miskyk nie en dis dat sy en Frans nooit iets meer as prokureur en kliënt kan wees nie. Sy dink nie Frans sal dit toelaat nie.

En jy, Zelda, sal jy dit toelaat terwyl jy nog met Derrick getroud is? vra ’n stemmetjie in haar kop.

Nee, natuurlik nie, antwoord sy haar gedagtes. Maar haar lyf en haar hart het ’n heel ander antwoord gereed.

 

Meneer perfek – Cecilia Nortjé

meneer-perfek-voorblad_high-res

“So jy was Sterloerders se produksiesekretaresse?” vra Terry beïndruk. “Watter celebrities het jy almal ontmoet?”

Liela noem ’n paar name op.

“Jy’t nie dalk vir Greg Coetzee ook raakgeloop nie? Ek dink hy’s ’n stunner. En ’n uitstekende ak­teur. Ons gaan nog baie van hom sien.”

“Wie’s dit?” vra Fensham.

“Haai, nee,” sê Terry onthuts. “Kyk jy nie sepies nie? Hy’s dokter Justin van Ons daaglikse lewe.”

“Ons was getroud,” sê Liela droog.

“Nee!” snak Terry ongelowig. “Jy en Greg Coetzee? Jy jok.”

Fensham los die slinger van die pastaroller en kyk verbaas op. “Was Greg Coetzee jou man?”

“Ek sê mos so.” Liela staan op en kry die wasva­doekie om die skoon toonbank af te vee.

“Hoekom is julle geskei?” Met haar glas tussen haar vingers leun Terry gretig nader. “Of nee, laat ek raai: Hy’t jou verneuk. Sorrie dat ek so blatant is, Liela, maar ek het drama geswot; ek weet hoe dit gaan. Daar is basies net drie tipes: die serious nerds, die weirdos en die lookers met hengse ego’s wat teer op goedkoop aandag.”

Sonder om op die stelling te reageer vat Liela die gaping. “Het jy drama studeer? Ek dog dan jy’s ’n onderwyseres?”

“Dramaonderwyseres,” help Terry haar reg. “Eers drama geswot en toe ‘iets agter my naam gekry’ soos my pa sê.”

“Jy lyk soos ’n gebore aktrise. Roep die verhoog jou nie?” wonder sy.

Terry gooi haar arms dramaties in die lug. “The world is my stage. En ek love die kids.”

“Ek dog dan dit gaan so sleg by die skole?” vra Fensham terwyl hy die deeg met ’n wielietjiesnyer in blokkies verdeel.

“Nie in my klas nie. Die kids wat daar is, wil daar wees. Arty farties, almal van hulle, hulle is so gefokus soos kan kom. Vir die enkele rammetjie-uitnekke het ek ’n goeie kuur. Ek doen hulle hare.”

“In die klas?” vra Liela verbaas.

“Ja, ek spuit hulle hare nat en kam dit in ’n mid­delpaadjie. Glo my, hulle is vir daai spuitbottel so bang soos ’n wurm vir gif.”

Liela lag en staan op om die CD om te ruil. Wat ’n gesellige, interessante mens is Terry Robinson nie! Sal sy dit regkry om Fensham sy vrygestelsta­tus te laat prysgee? Of het hulle regtig net vriendskap in gedagte?

Terwyl sy die slaai maak, hou sy die twee ongemerk dop. Wel, daar is genoeg raakpunte tussen hulle; hulle gesels onophoudelik, alhoewel Terry selfs ’n klip aan die praat sal kry. Fensham eintlik ook, hy is so ’n gemaklike mens. Maar as daar ’n vonk tussen hulle is, steek hulle dit baie goed weg.

“Jy’t nog nie gesê hoekom jy en Greg uitmekaar is nie,” vis Terry terwyl sy plekmatjies op die eet­blad dek.

“Lang storie,” systap Liela haar en gee die messe en vurke vir haar aan.

“Een aand polish ek en jy ’n bottel wyn, dan ver­tel jy my, hoor. Dus is jy weer in die mark?”

“O genade, nee,” keer Liela dadelik. “In die sta­dium van my lewe is ’n man die laaste ding wat ek soek.”

“Te bang?” vis Terry onbeskaamd.

“Net versigtig. Ek sal tien keer dink voor ek weer ’n verhouding oorweeg.”

“Hoe klink dit my jy het baie hoë standaarde?”

“Ek dink nie so nie. Maar ja, ek het ’n paar duur lesse geleer. Tensy ’n man honderd persent by my pas, stel ek nie belang nie.”

Terry gaan staan voor die swartbord met ’n stuk kryt in haar hand. “Praat met Juffrou,” nooi sy guitig.

“Oor wat?” vra Liela verbaas.

“Jou vereistes vir ’n man.” Sy draai na die bord en skryf iets daarop.

“Hy moet ’n hunk wees,” lees Liela hardop toe Terry selfvoldaan wegstaan. “O jitte, nee. Vee dadelik uit. Hunks is harde werk.”

“Hy moet ryk wees,” stel Fensham voor sonder om op te kyk. Hy is besig om lepels vol vulsel op die blokkies deeg te skep.

“Ook nie,” keer Liela toe Terry kryt in die hand na die bord draai.

Terry plant haar hande op haar stewige heupe en frons oordrewe. “Girl, as jy dit standaarde noem, kom laai ek môre ’n duisend mans op jou grasperk af. Wat soek jy dan in ’n man?”

“Hy moet getrou wees,” sê Liela beslis.

“Aha!” Terry skryf dit in haar groot, ronde hand­skrif op die bord. “En?”

“Hy moet eerlik wees.”

“Dis dieselfde as getrou,” redekawel Terry.

“Nee, dit is nie,” sê Liela beslis. “Hy moet eerlik met homself wees.”

“Sy bedoel hy moet die guts hê om homself te wees,” verduidelik Fensham.

“Presies,” sê Liela verbaas. “Toe nou, Terry, skryf dit neer: Hy moet eerlik wees. En dan nommer drie: Hy moet my beste vriend wees.”

“Mite,” lewer Fensham koponderstebo kommen­taar.

“Is nie,” stry Liela. “Dis moontlik. Ek en Magnus was beste vriende.”

“Al is hy ’n hunk?” vra Fensham.

Liela frons. “Hy kan nie help hoe hy lyk nie.”

“Ek ook nie,” spot hy.

“Wie’s Magnus?” vra Terry nuuskierig voor Liela kan sê Fensham is enige tyd net soveel ’n hunk soos Magnus. Dalk selfs meer. Sy het lank­laas so ’n warm, interessante mens ontmoet. As dit nie was dat nie een van hulle twee in ’n ver­houding belangstel nie, het sy beslis met ander oë na hom gekyk.

“My stiefbroer,” verduidelik Liela.

“En ’n voormalige kêrel wat haar onlangs weer kom opsoek het,” las Fensham by.

Liela ignoreer hom. “Hy moet suksesvol wees.”

Terry draai om en skryf dit op die bord.

“Ek dog jy soek nie ’n ryk man nie.”

“Rykdom en sukses is nie sinonieme nie, Fensham,” betig Liela hom uit die hoogte. “Daar is baie ryk mans wat ’n totale mislukking as mens is.”

“Waaraan meet jy dan sukses?” kibbel hy.

“Beslis nie aan ’n bankbalans nie. ’n Man moet weet wie hy is en goed wees in wat hy doen. Dis sukses.”

“Dit klink my jy is op soek na Meneer Perfek,” meen hy droog.

“Ek het mos so gesê,” antwoord Liela en vat sy leë whiskeyglas. “Wat moet ek doen met ’n man wat nie perfek is vir my nie?”

Terry draai om en skryf in sierskrif bo-aan die lysie: Meneer Perfek. “En hoe lyk Mevrou Perfek?” vra sy met fladderende wimpers vir Fensham ter­wyl sy op ’n oop spasie op die swartbord tik-tik.

“Daar’s net een vereiste. Sy soek nie man nie.”

“Ek hoor jou,” lag Terry en kom sit by die blad, skynbaar geensins geaffekteer deur Fensham se duidelike waarskuwing nie. Liela loer onderlangs na Terry wat uit die slaaibak peusel. Of is dit net sy wat dink dis ’n waarskuwing?

“Liela is die soort meisie wat geen man miskyk nie” – Fensham Dreyer

Jy is berese. Wat is jou gunstelingplek in die wêreld?

Definitief Italië. Klassiek, ryk aan kultuur en die kos is onverbeterlik.

Jy kan kook dat die stof staan. Maar wat eet jy graag?

My smaak is wyd. Enige kos wat met toewyding voorberei is, is vir my heerlik. Eenvoudige bestanddele in die regte balans is ’n wenresep. Seekos is beslis ’n gunsteling met vars kreef bedruip met egte botter oor die kole bo-aan die lysie.

Wat eet jy nie?

Ek is mal oor pasta, maar ek verpes ’n verbeeldinglose dis soos macaroni met maalvleis. Baie mense dink pasta is kortpad-kos maar dis ’n mistasting.

Wat sal jy vir Liela op ’n date kook?

Liela is ’n gemaklike mens en tog moet sy versigtig benader word. Sy kan maklik omspring en vlug. Ek sou haar stadigies verlei met springbok-carpaccio gevul met bloukaas as voorgereg, gevolg deur iets soos ’n gestopte hoenderborsie in goudbruin krummels en met ’n ryk kaassous. Daarby ’n groot groenslaai en vir nagereg Turkse lekkers met ’n glasie yskoue, droë vonkelwyn.

1springbok-carpaccio-1349265810

Hoe vaar julle groentetuin?

Ek is bevrees na Liela se aanvanklike entoesiasme het óns groentetuin, mý groentetuin geword. Sy hou steeds daarvan om daarin rond te loop en aan die vars produkte te smul, maar groen vingers het sy nie.

Hoe gaan dit met julle verhouding?

Tans? So fantasties soos dit met twee jong getroudes kan gaan.

Wanneer het jy besef jy is lief vir Liela?

Kyk, Liela is die soort meisie wat geen man miskyk nie, geswore vrygesel of nie. Sy het natuurlik dadelik my aandag getrek, maar bloot op ’n objektiewe manier. Aanvanklik het ek haar regtig net as ’n vennoot en vriendin gesien, veral omdat sy reeds by iemand anders betrokke was. Ek het met haar flankeer soos ek met die meeste meisies doen, maar niks daarby bedoel nie. Maar daardie dag toe sy haar hare afgesny het en ek haar kantoor binnestap …

Ek weet nou nog nie mooi wat of hoekom dit gebeur het nie maar daar was net skielik magic tussen ons. Tog het ek gedog dis net ’n eenmalige vergryp, maar dit was nie. Ek het elke dag meer en meer van haar bewus geraak en Magnus het my verskriklik begin irriteer. As teenvoeter het ek meer uitgegaan, veral saam met Terry vir wie ek geweet het ek nooit meer as vriendskap sou voel nie. Dit het nie gewerk nie. Alles het finaal in plek geval die dag toe ons Liela se eks in ’n restaurant in ’n ongemaklike situasie betrap. Ek was blind van woede. Ek dink as ek bereid was om eerlik met myself te wees sou ek moes erken dis omdat ek Liela toe reeds liefgehad het. Die gedagte dat iemand haar so kon verneder en seermaak het my moordgedagtes laat koester.

Wat is Liela se gunstelingmaaltyd?

Enigiets wat sy nie self hoef te maak nie.

Watter eienskap sal jy byvoeg by die Meneer Perfek-lys?

Is jy nou laf? Daai lys is volmaak; Liela het my onbewustelik perfek opgesom!

Watter land se disse was die lekkerste om te maak tydens jou Reis om die wêreld-etereeks?

Die Indiese disse. Die speserykombinasies is verstommend en die vurige kerrie het natuurlik altyd interessante reaksies tot gevolg.

Beskryf jul verhouding in drie woorde?

Tyd, humor, begrip.

Koop ‘Meneer Perfek’ hier: http://bit.ly/2ek9HtB

Sanet se ou probleem

“Ai, my vrou, môre huil jy weer oor jou gewig.” Willem trek die band van sy netjiese donkerblou kamerjas vererg stywer en draai om, terug kamer toe, die oorgewig labrador op sy hakke en die erg oorgewig gemmerkat op dié se hakke.

Sanet kyk hulle ’n oomblik agterna. Willem is die soort man wat elke vrou begeer en dan op die ou end vervelig vind: gelykmatig en betroubaar, tot sterwens toe. Soozie is die soort hond wat sy nooit wou hê nie: ongedissiplineerd, vraatsugtig en lui, maar liefdevol tot versmorens toe. Patti is ’n kat uit die poorte van die warmplek: selfgenoegsaam, verwaand en humeurig by uitstek. En net liefdevol as sy hoop om ’n lekkernytjie los te slaan. Willem en die diere is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. As hy die slag tuis is, bly die twee op sy hakke, trap waar hy trap, sit waar hy sit. Aan al drie van hulle is sy onlosmaaklik verbonde, soms teen haar sin, soms met wrewel, maar altyd verbonde.

“Ek huil lankal nie meer by jou oor enigiets nie!” roep sy agter die drie verdwynende rûe aan. Sy behoort môreoggend ’n lekker ent te gaan stap en vir die dag op vloeistof, rou groente en vrugte te leef. Dit sal die skade van die bose haas minstens in haar kop uitkanselleer. Tot op ’n punt het dié tegniek vir haar gewerk, die perfekte kombinasie van boetedoening en ontgiftiging ná ’n dwaling van die smalle weg af tot in die poorte van haar persoonlike swakheid.

Dis net dat sy nie vir stap lus is nie. Stap is nie meer lekker nie. Te veel bewegende dele, te min selfvertroue. En buitendien vas mens nie op jou vyftigste verjaardag nie, veral nie as jy met vriendinne op ’n mooi plek onder eikebome gaan vier nie. Sy is ook nie lus om te verjaar of om haar oor haar huwelik te bekommer of om van hierdie stoel af op te staan en verder te probeer slaap nie. Sy is net lus vir nog ’n Paashaas, dis al.

“Sanet.”

Sy wip soos sy skrik, sy het hom nie hoor terugkom nie. Onvermydelik wag die kat en die hond geduldig in die agterhoede. Deesdae voel dit permanent of daar ses oë op haar gerig is, ses oë wat al haar swak plekke raaksien. Dis nou wanneer Willem hom die slag verwerdig om huis toe te kom, wanneer hy nie by die werk is of by die meisiekind met die kleintjie nie. Soms wonder sy of die kind ooit die grote Coenraad Beyers s’n is en nie dalk dié van sy getroue prokureur nie.

Ouer vriendinne gee so hoog op oor die toenemende gevoel van bevryding wat elke dekade veronderstel is om te bring. Jy is veronderstel om vrede met jouself te hê, minder om te gee wat ander dink, sterker in jouself te word. Aangesien die veertigs haar helaas nie van ’n enkele van haar inhibisies bevry het nie, moet sy dalk maar begin oefen vir die vyftigs. Sy sal sommer begin deur vir ’n verandering van die heup af te skiet. “Is jy seker die kind is nie dalk joune nie, Willem?” Sy skuif die stoel agteruit en lig haar lyf met moeite uit die vertroude warmte. Dit het vroeg begin koud word vanjaar, die kilte slaan op uit die teëls. Of dalk is die koue meer in haar kop en hart as in haar lyf.

Vir haar bring woorde warmte, sy is ’n ongeneeslike prater. As sy met haar man baklei, praat hy ten minste met haar. Nie dat dit ooit ’n maklike taak was om Willem Smit aan die praat of aan die baklei te kry nie. Deesdae is dit egter ’n onbegonne taak. Die laaste tyd is dit asof hy finaal in sy eie kop in verdwyn het. Net die lyf bly nog by haar, die mooi, sportiewe lyf waaraan hy meer aandag gee as aan sy vrou.

Koop nou Net ’n mens hier (Onthou Romanza-klublede kry 30% afslag!): http://bit.ly/2bBxe5k

 

Ver anderkant Wiesenhof – Alma Carstens

 

ver-anderkant-wiesenhof-voorblad_high-res

Terwyl hulle eet, klop haar hart so onstuimig dat sy die kos met moeite afgesluk kan kry. Sy drink groot slukke wyn om haar senuwees te kalmeer, maar verniet. Haar hele lyf is snaarstyf gespanne en sy krap meesal net met haar vurk die kos deurmekaar sonder om daarvan in haar mond te sit.

“Is jy nie honger nie?” vra Nikla en wys ligweg na haar bord wat nog vol is terwyl syne byna leeg is.

“Nie eintlik nie. Ek is nie juis ’n wafferse kok nie. Joe het altyd gesê ek moet die kosmakery maar liewer aan die sjef oorlaat. Of miskien was hy net bang ek vergiftig hom,” lag sy vreugdeloos en byt dan inderhaas op haar onderlip toe sy die stroewe lyne om Nikla se mond sien. “Jammer,” maak sy verskoning vir haar onvanpaste grappie.

“Hoekom sou jy dit wou doen, Kara?”

Sy haal haar skouers op. “My huwelik met Joe was nie maanskyn en rose nie, Nikla.”

Hy knik en neem ’n slukkie wyn. “Ja, hy klink na ’n onaangename vent. Iemand wat diere mishandel.”

“Jy het geen idee nie,” prewel sy ingedagte.

“Nee,” sê hy sag en staan op. “En dis dalk beter dat ek nie alles weet nie, nè?”

Kara staan ook op en stoot haar stoel onder die tafel in. “Nikla, ek weet ek het jou bitter seer

gemaak, maar jy was nie die enigste een wat seergekry het nie. Glo my as ek sê dat ek my straf dubbel en dwars uitgedien het in die tien jaar saam met Joe.”

“Straf uitgedien?” vra hy verontwaardig. “Jy het in weelde geleef, Kara.”

“Geld koop nie geluk nie, Nikla.”

“Dit kon ek jou tien jaar gelede al gesê het.”

Kara tree nader na hom toe en sit albei haar palms teen sy bors. “Ek wens ek het toe geweet wat ek nou weet, Nikla. Dis hel om met ’n man getroud te wees terwyl jou hart aan ’n ander een behoort. My liefde vir jou het nooit gekwyn soos ek gehoop het nie, maar het met die jare net aanhou groei. Ek wens jy kon weet hoe ek na jou verlang het.” Sy staan op haar tone en druk haar lippe uitnodigend teen syne.

Nikla staan vir ’n paar sekondes net doodstil, toe gly sy arms om haar en soen hy haar met soveel passie dat haar hele lyf daarvan tintel. Vir Kara voel dit asof sy nie naby genoeg aan hom kan kom nie, en sy sirkel haar arms om sy nek en druk haar borste styf teen sy harde borskas vas.

Nikla se hande gly laer en skulp om die rondings van haar sitvlak voor hy haar nog stywer teen hom vastrek. Sy mond breek weg van hare en soek teen haar nek af, verken die sagtheid van die vel oor haar sleutelbeen voor hy weer haar lippe vind in ’n honger soen wat haar sinne benewel.

Kara voel die polsing in hulle lywe en weet met sekerheid die passie wat hulle soveel jaar gelede gedeel het, brand steeds hoog tussen hulle. Sy maak haar arms om Nikla se nek los en voel met haar vingers na die boonste knopie van sy hemp. Toe sy by die vierde knopie kom, vat hy meteens albei haar polse met sy hande vas en lig sy kop op. Sy oë brand op haar gesig en sy asem jaag.

“Kara,” sê hy skor. “Moenie.” Hy tree weg van haar af en maak sy hemp se knope weer vas.

Kara skud haar kop in onbegrip en tree nader na hom toe, maar hy tru nog verder weg van haar af, sy oë steeds vas in hare.

“Moenie weer naby my kom nie,” sê hy hees.

“Nikla,” sê sy kortasem. “Ek weet jy wil my hê. Net soveel as wat ek jou wil hê.”

“Natuurlik wil ek jou hê, Kara. Magtig, ek is nie ’n klip nie. Ek wil jou hê, wou jou nog altyd hê, maar dis . . . wat nou net gebeur het, was ’n fout.”

“Nee, Nikla, dis nie ’n fout nie. Ek het jou lief, meer as ooit. Dit het nooit verander nie.”

“Alles het verander. Daai dag toe jy met Joe getroud is, het alles verander, Kara. Verstaan jy dit dan nie?”

Kara voel hoe haar keel dik word van trane en sy sluk desperaat om die knop afgewurg te kry. “Hoeveel keer moet ek nog sê hoe jammer ek is, Nikla? Ek sal enigiets gee, enigiets doen om reg te maak vir my fout.”

“Fout?” vra hy met ’n diep frons. “Jy het my verraai, Kara. My seerder gemaak as wat ek ooit gedink het moontlik is. Daar is niks wat jy kan doen of sê om dit ongedaan te maak nie. Niks wat jy sê, kan verhoed dat Lucy na haar graf toe is met die wete dat ek haar nie liefgehad het nie. Niks wat jy doen of sê, kan die tien jaar van hel waardeur ek is, uitwis nie. Niks!”

Kara trek haar asem diep in toe haar oë vol trane stoot en sy magteloos is om die stortvloed emosies wat sy woorde in haar losruk te keer.

“Ek weet, Nikla,” snik sy opeens. “Maar my onbesonnenheid het nie net slegte dinge tot gevolg gehad nie. Ek sal Jack vir niks onder die son verruil nie. En ek is seker jy voel dieselfde oor Ellie.”

Hy sluk en klem sy kake styf opmekaar. “Nee, maar Jack moes myne gewees het en Ellie joune, Kara. En dit kan jy nooit verander nie.”

“Nikla,” keer sy desperaat toe hy sy motorsleutels optel wat op die tafel lê. “Ons is nog jonk en kan oor begin. Saam met Jack en Ellie. Asseblief, sê jy vergewe my.”

Hy kyk vir ’n paar tellings net reguit na haar terwyl sy kake hard opmekaar werk. Toe stap hy by haar verby na die voordeur toe.

Kara gryp hom aan sy arm en probeer hom terughou. “Nikla! Ek is verskriklik lief vir jou. Beteken dit dan vir jou niks?”

Hy draai sy kop net effens, maar kyk nie na haar nie. Toe trek hy sy arm uit haar greep en stap by die deur uit.

Toe Kara sy motor hoor wegtrek, bars rou snikke deur haar keel. Die besef dat sy Nikla vir altyd verloor het, is so pynlik dat sy die gedagte byna nie kan verduur nie. Haar liefde beteken niks meer vir hom nie en gaan nie sy vergifnis koop nie. Nie eens sy fisieke begeerte na haar, wat hy self aan haar erken het, gaan haar help om Nikla terug te wen nie.

Ongelukkig moet ’n mens soms ’n hele paar paddas soen – Alma Carstens

Wat is jou gunstelingwoord?

Liefde

Waarna verlang jy die meeste van Suid-Afrika?

Rooibostee, Robertson-speserye, goeie wyn.

Wat geniet jy die meeste van Thailand?

Die kos, natuurlik. Die straatstalletjies se kos is die beste!

Vir wie sal jy jou laaste dans wil spaar? Hoekom?

My man. Hy is die enigste een in wie se arms ek wil wees.

Noem vyf dinge waarvan jy hou en vyf dinge wat jy nie kan verdra nie?

Waarvan ek hou:

  • Boeke
  • Romantiese flieks
  • Nachos
  • Om te reis en nuwe plekke te verken
  • Yskoue Sauvignon Blanc

Wat ek nie kan verdra nie:

  • Oneerlikheid
  • Rou uie
  • Kwaadstokery
  • Horseradish (Peperwortel)
  • Gruwelflieks

download-1

Watter drie doelwitte op jou bucket list wil jy nog bereik?

Om weer die Camino de Santiago te gaan stap.

Om ’n Formule Een-wedren iewers te gaan kyk.

Om deur die hele Italië te gaan toer sonder om aan tyd gebonde te wees.

de5ef350850986db02c8b7d15133ee58

Wat beïnvloed jou skryfstyl?

Dis ’n moeilike vraag.  Ek het geen idee nie.  Ek skryf soos wat ek praat, die belangrikste is dat dit maklik moet kan lees.

Het jy altyd geweet dat jy ’n skrywer wou word?

Ja. Ek was van jongs af gek oor lees en het altyd gedink ek sal daarvan hou om romantiese fiksie te skryf. Daar was gedurig stories in my kop, maar ek het nooit gedink ek sou dit kon regkry om ’n hele boek klaar te skryf nie.

Watter prikkel het jou laat besef jy wil skryf?

Ena Murray, Ettie Bierman en Schalkie van Wyk om maar ’n paar te noem. Ek het met liefdesverhale grootgeword en telkens wanneer ek hulle boeke gelees het, daarvan gedroom om eendag my eie stories te kan skryf.

Wat was die inspirasie agter Ver anderkant Wiesenhof?

Ek het ’n paar jaar gelede ’n artikel gelees oor ’n paartjie wie se paaie na skool geskei en byna veertig jaar later weer gekruis het. Hul liefde vir mekaar het nooit gesterf nie, ten spyte van die feit dat albei intussen met ander mense getrou het. Ek wou vir Kara en Nikla ’n tweede kans gee, terwyl hulle nog jonk genoeg is om oor te begin en wou hulle darem nie veertig jaar daarvoor laat wag het nie.

ver-anderkant-wiesenhof-voorblad_high-res

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Moenie skryf om ander te probeer beïndruk nie, maar vind jou eie skryfstyl, een waarmee jy gemaklik is. Ek kan nie onthou wie dit vir my gesê het nie.

Wat het Kara en Nikla jou geleer?

Moenie ’n tweede kans op geluk deur jou vingers laat glip weens hardkoppigheid en onvergewensgesindheid nie.

Het jy van die begin af geweet Middernagsoene, Ver anderkant Wiesenhof en Joune vir altyd (verskyn Februarie 2017) sal ’n drieluik wees?

Nee, glad nie. Nikla en Kara se storie was reeds geskryf toe ek besluit het om Ben en Giselle se storie (die eerste boek in die drieluik) ook te vertel. En natuurlik moes Rudi en Melani mos uiteindelik saam geluk vind, so voltooi hulle storie toe die Wiesenhof-sage.

Hoe verskil Giselle, Kara en Melani  van mekaar?

Giselle is ’n vuurvreter, maar het ook ’n sensitiewe kant en is baie familievas.

Kara hou nie van konflik nie en probeer om almal gelukkig te hou, soms ten koste van haarself.

Melani is ’n sagte persoon wat voorheen maklik sou toelaat dat mense oor haar loop. Dit het gelukkig verander toe sy moes leer om op haar eie voete te staan.

Boodskap vir die lesers …

Eerstens is ek oneindig dankbaar vir elke mens wat my boeke lees en my stories geniet. Sonder liefde sou die wêreld maar ’n kleurlose plek gewees het en sonder ons lesers, sou Romanza nie kon voortbestaan nie. Baie dankie vir julle getroue ondersteuning. Tweedens wil ek vir elkeen wat aan die liefde glo sê: moet nooit hoop verloor dat dit eendag oor jou pad mag kom nie. Ek glo heelhartig elke mens kry die geleentheid om sy/haar eie Romanza uit te leef, maar ongelukkig moet ’n mens soms ’n hele paar paddas soen om by die prins/prinses uit te kom.

soen

Troue in ’n towerbos – Rosita Oberholster

troue-in-n-towerbos-voorblad_high-res

Hannah druk vir die hoeveelste maal die silent-knoppie op haar foon. As Malan Fouché haar nog een maal bel, gaan sy skree. Dit was seker die vyftiende keer in een week dat sy nommer op haar selfoonskerm verskyn het. En natuurlik los hy nie boodskappe nie. Seker benede sy stand, maar sy sal hom wys. Hy kan bel tot sy aantrek­like bakkies alle skakerings van blou is, sy sal nie haar foon antwoord nie.

Is jy nie nou baie kinderagtig nie, kla haar gewete haar aan. Nee, nie kinderagtig nie. Dalk ’n bietjie vermakerig, kap sy terug. Jy gee hom nie kans om homself te verdedig nie. Hy is nie eens bewus van die ware rede vir jou bedanking nie, hou haar binnestem hardkoppig vol. Sy skud haar kop. Dan is dit maar tot daarna toe.

Hannah gaan sit by haar kombuistafel en slaan die koerant oop. Monty lê opgekrul op ’n stoel langs haar en sy streel ingedagte oor hom. Operasie werksoek, heel van voor af. Sy kyk gesteurd op toe sy ’n klop aan die deur hoor. ’n Vin­nige blik na die kombuishorlosie bevestig haar vermoede. Dis net mooi tienuur. Gewoonlik die tyd van die oggend wat tannie Marie langsaan lewe kry en ontdek sy het nie genoeg suiker of melk vir haar oggendkoffie nie. Dan klop sy aan almal se deure.

“Ek kom,” roep sy ongeduldig toe ’n tweede klop deur die woonstel dawer.

Sy haal die veiligheidsketting af en sluit die deur oop. ’n Diep sug ontsnap oor haar lippe. Iewers moes ’n paar drade in die heelal gekruis het. Of geknoop het. Of sommer net morsaf gebreek het. Hoe is dit moontlik dat sy haar nie kan draai of sy moet hard sluk aan die een of ander vernedering voor Malan Fouché nie? Hier staan sy al weer in ’n gehawende pienk kamerjas, met ’n kop wat soos ’n kraaines lyk, en nie ’n strepie grimering op haar gesig nie. Sy kyk af na haar voete en wens ’n tornado of iets dergliks wil die stad tref. Haar ou skaapvelpantoffels lyk asof Stanley hulle beetge­had het.

Kon sy nie maar vroeër die res van die kar­tondose uitgepak het nie? Daarin is splinternuwe slaapklere. Dit het sy nou van uitstel. Sy kyk op en wens dit was moontlik om haarself te skop. Malan, aan die ander kant, lyk asof hy opgetooi is vir ’n fotosessie vir ’n produk van Hugo Boss of dalk Calvin Klein. Sy sug weer. Haar ouma sou gesê het, dis nie ferplie nie.

Hy kyk fronsend na haar. “Gaan jy heeldag staan en sug, of gaan jy my innooi? Dis ysig koud hier in die portaal.”

Hannah tree terug en hou sonder ’n woord die deur groter oop. Sy maak ’n gebaar met haar hand om hom binne te nooi. “Wat maak jy hier, Malan?” Sy beduie na ’n stoel. “Wil jy sit?”

“Ek wil koffie hê, asseblief. Sterk en sonder sui­ker.”

Sy wil weer sug, maar maak net betyds haar mond toe. “Aangesien jy so voorbarig is, kan jy maar vir ons die ketel aanskakel. Ek wil gou gaan aantrek.”

“Asseblief, ja. Jy lyk maar redelik oes. Ek kon nog nooit verstaan hoekom daar na vroue as die skoner geslag verwys word nie.” Hy gaan sit op haar stoel en begin doodluiters deur die koerant blaai.

Hannah vererg haar. “Jammer om jou bubble vir jou te bars, pel, maar geen vrou lyk op haar beste as sy pas opgestaan het nie.”

“Dis al amper middag.”

“Wel, ek het nie werk nie, so ek kan opstaan wanneer ek wil. En vir jou inligting, ek staan nooit so laat op nie; dit is omdat ek eers in die vroeë oggendure aan die slaap geraak het.”

“En wie se skuld is dit? Seker jou gewete wat jou uit die slaap gehou het.”

Hannah het lus en vlieg hom sommer behoor­lik in, maar sy byt die woorde terug. “Jy’s besig om ’n argument uit te lok, en ek gaan nie daarvoor val nie. Ek gaan nou aantrek, verskoon my.”

Sy pluk ’n jean en ’n trui uit haar kas, en verwens vir die hoeveelste maal haar bos krulhare. Hoe nou gemaak? Hy het haar reeds op haar sleg­ste gesien. Eintlik het hy haar al ’n paar maal op haar slegste gesien, en nog nooit op haar beste nie. “So be it,” mompel sy en vang haar hare met ’n groot knip agter haar kop vas.

Hannah steek in die kombuisdeur vas. Sy lig haar wenkbroue. “Ek dog jy verpes katte?”

Malan tel Monty van sy skoot af, en sit hom weer op die stoel neer. “Ek hou van katte. Ek het maar net ’n verskoning gesoek om met jou te praat. Jou skoonheid het my onkant betrap.” Hy trek sy skouers op. “Jy het my so ’n bietjie van my ewewig beroof.”

Hy kyk baie ernstig na haar en Hannah draai vinnig weg voor hy die blos op haar wange sien. “Jy jok. Jy het my selfs daarvan beskuldig dat ek ’n man soek.”

Hy glimlag breed. “M’m. Ek onthou, ja. Ek wens jy kon jou gesig sien. Vir ’n oomblik het ek gedink jy gaan my op my skeen skop.”

Met ander woorde hy het haar geterg. Sy gee hom ’n vernietigende kyk terwyl sy koffie in die koppies afmeet. “Hoekom is jy hier, Malan?”

“Hoekom antwoord jy nie jou foon nie, Han­nah?” antwoord hy met ’n teenvraag.

“Want ek wou nie met jou praat nie.”

“Dis ’n baie volwasse antwoord.”

Sy sit die beker koffie tesame met die melkbeker voor hom neer. “Sê wat jy wil sê en kry klaar.”

“Hoekom het jy bedank?” Hy drink versigtig aan die warm koffie.

“Omdat . . .” Wat gaan sy sê? In haar bedanking het sy aangevoer dat sy om persoonlike redes be­dank. Miskien moet sy daarby hou. Dis in elk geval die waarheid. Wat haar redes alles behels, gaan hom nie aan nie. “Om persoonlike redes. Dis wat ek in my bedanking gesê het, en dis wat dit is.”

“Dis nonsens en jy weet dit.”

Sy neem oorkant hom plaas. “Ek kan dit nie met jou bespreek nie, Malan. Wat ek egter nie in my bedanking gesê het nie, is dat ek jammer is dat ek jou nou weer sonder ’n kurator los. En ek is regtig jammer, maar ek kan nie anders nie.”

Hy knik. “Is dit iets waarmee ek kan help?”

Sy skud haar kop. “Nee. Dis dinge wat ek self moet uitwerk, maar dankie vir die aanbod.”

Hy knik. “Daar het ’n nuwe restaurant in Blaauwberg oopgemaak. Ek laai jou môreaand seweuur op.” Hy staan op en tel sy motorsleutels van die tafel af op. “Dankie vir die koffie.”

“Vergeet dit, Malan. Dis nie hoe dit werk nie. As jy wil hê ’n vrou moet jou êrens heen vergesel, dan vra jy haar. Jy sê haar nie net nie.”

Hy trek sy skouers op. “Jy skuld my. Ek sit sonder ’n kurator, onthou.” Hy raak met sy kneu­kels aan haar wang. “Tot môreaand, bosnimf. Sluit die deur agter my. En moet nooit weer die veiligheidsketting afhaal voor jy gevra het wie dit is nie.”

Hannah staar oorbluf na die deur wat sag ag­ter hom toegaan. Iets het gebeur. Iets groot en on­beskryflik het pas hier in haar beskeie woonstel­letjie gebeur. Sy raak aan haar wang. Dis asof sy skielik intens bewus is van hom. Asof hy ’n stukkie van haar saam met hom by die deur uit geneem het.

Wat gaan sy doen? Sommer net maak soos hy sê sonder om daarteen te stry? Sy sal nie gaan nie. Môreaand sal hy soos ’n swaap voor haar deur staan, en sy sal nie hier wees nie. Maar diep binne haar weet sy dat sy hier sal wees, gereed om saam met hom te gaan, al is dit ook na die donker kant van die maan.

WEES JOU EIE MUSE − Rosita Oberholster

Wat lees jy op die oomblik?

Op die oomblik lees ek niks nie. Ek gebruik elke minuut tot my beskikking om te skryf. My vierde Romanza kom Desember uit, en ek het sopas nog ’n manuskrip voltooi, en ’n nuwe een begin. Maar Koors − Deon Meyer wag vir my.

Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Tussen my skryfwerk en ons onderneming in Moorreesburg is daar maar min tyd vir ontspanning, maar wanneer ek ’n spaar tydjie het, skilder ek graag.

 Wat is jou grootste vrees?

Dis ’n moeilike vraag. Mens het maar altyd vrese en dis moeilik om een uit te sonder, maar ek dink as jy ’n ouer is, dan draai jou grootste vrese maar altyd om jou kinders.

Watter boeke lê op jou bedkassie?

Geen boek haal ooit my bedkassie nie. Ek lees soos ’n besetene en wanneer ek met ’n boek begin, dan hou ek nie op voor dit nie klaar is nie. Ek sit graag so na as moontlik aan die kombuis en lees, sodat ek nie te ver hoef te loop vir koffie nie.

 f02e5abdb78e0323b34491809503e38a

Hoe gaan jy te werk as jy ’n boek begin?

Ek gaan sit agter my rekenaar, en ek begin. Dit is seker nie die regte manier nie, maar dit is hoe dit die beste vir my werk. Beplanning was nog nooit vir my van enige nut nie, want ek hou nie daarby nie.

Wie is jou skryfrolmodelle?

Daar is baie skrywers wie se boeke ek terdeë geniet, en vir wie ek die hoogste agting het, maar daar is twee skrywers wat vir my uitstaan bo almal. Chanette Paul en Sophia Kapp. Ek is net heeltemal versot op albei se skryfstyl.

Wat is die grootste uitdaging vir jou om romanse te skryf?

Om my heldinne fyn opgevoed en ordentlik te hou. Omdat hulle altyd in hulle vroeë of middel dertigs is, is dit soms baie moeilik om hul humeure te beteuel! Vroue van daardie ouderdom laat hulle nie maklik voorskryf nie.

c89d958d937d07f5ce0a4042cbc3c0bb

Watter eienskappe moet ’n held hê om jou hart te steel?

Natuurlik moet hy aantreklik, groot en sterk wees. Hy moet geen nonsens van niks en niemand vat nie, maar hy moet ook ’n sagte kant aan hom hê. ’n Baie sagte kant, veral waar dit kom by die vrou van sy hart.

 Hoe het jy begin skryf?

Ek wou nog altyd skryf. My ouers, en die eerste twee onderwyseresse wat ek gehad het, het ’n onsterflike liefde vir boeke by my gekweek. Eendag het ek iets soortgelyks aan ’n Romanza gelees, en begin wonder of dit dan regtig so moeilik is om te skryf. Ek het letterlik, onmiddellik my rekenaar nadergetrek en begin. En so is Sy Fosforvrou gebore. Dit was die heel eerste maal dat ek my hand aan papier gewaag het om te skryf, en dit is ook die eerste keer aanvaar vir publikasie. Dit is iets waarop ek baie trots is, en ewig dankbaar voor is. Ek weet nie of ek sou aanhou skryf het as my eerste manuskrip afgekeur sou word nie. Ek glo nie.

 Het jy romanses gelees voor jy dit self begin skryf het?

O, ja. Hordes. My ma het aan ’n boekklub behoort en ek het ’n fees gehad. Ek lees romanses al vandat ek elf jaar oud is. Ena Murray, Paula en Wille Martin het later soos familie gevoel.

Daar is baie mense wat graag wil skryf. Wat sou jy sê is die eienskappe waaroor ’n voornemende skrywer moet beskik?

As lees nie jou passie is nie, gaan dit byna onmoontlik wees om te skryf. Lees so veel as moontlik in die genre waarin jy graag wil skryf. Deursettingsvermoë is ’n absolute moet, dit klink na pret om te skryf, maar die werklikheid is veel anders. Dit is baie harde werk wat nie vra watter tyd van die dag of nag dit is nie.

Wat was die kosbaarste les wat jy by ander skrywers geleer het?

ABC. Apply Butt to Chair and start typing/writing. Ek weet nie wie dit gesê het nie, ek het dit eendag op Romanzalesersblog raakgelees. Dit is al wat werk. Dit help nie om vir die muse te sit en wag nie. Sy is ’n wispelturige madam wat haar nie laat aanjaag nie. Wees jou eie muse.

 14370150_1198716596841796_9051164508364585677_n

Wat wens jy, jy het geweet toe jy begin skryf het? 

Ek wens ek het vroeër geweet dat niemand vir my manuskrip gaan lag nie. Dat wanneer jy ’n manuskrip vir ’n uitgewer stuur die antwoord bloot ja of nee gaan wees. (Eintlik is dit logies, nè?) Ek het soveel kosbare tyd verlore laat gaan omdat ek nie die guts gehad het om dit vir LAPA Uitgewers te stuur nie. Ek dink dit het meer as ’n jaar in my laai gelê voor ek dit gepos het.

Troue in ’n Towerbos is jou derde Romanza. Het die moeilikheidsgraad van skryf toe- of afgeneem?

Dit is beslis moeiliker. Mens groei in die proses, en jy probeer heeltyd jouself verbeter. Dit is geen geringe taak nie.

 

troue-in-n-towerbos-voorblad_high-res

Troue in ‘n towerbos is nou beskikbaar. Koop by LAPA: http://www.lapa.co.za 

Wat is daar vir jou in die pyplyn?

Ek wil die beste skrywer wees wat ek kan wees. Dis ’n groot miskien, maar ek wil graag in die toekoms ’n studierigting in die lyn van letterkunde aanpak.