Moord in die suikerrietlande

Kom kuier Woensdag 1 Junie saam met Dibi Breytenbach 🙂

“Sien jy haar?” roep Johannes Kleinveldt agter hom.

Maarschalk antwoord nie.

’n Sweetdruppel rol teen sy rug af. Hy sou veel eer-

der in die hof wou wees. Daar is ten minste lugversorging.

Versigtig en stadig gee hy nog ’n tree, soos ’n verkleurmannetjie. Hy het nog nooit ’n dooie mens gesien nie.

Hy het geen behoefte daaraan om een te sien nie.

Nog ’n druppel gly tussen sy blaaie in. Sies.

“Nog ’n bietjie,” sê die boer.

Maarschalk knik. Hy stoot die groen stingels versigtig uitmekaar. Die beweging van die riete laat ’n wolk brommers opstyg. Die hitte en klamte het sy werk gedoen.

Hy staan stil en wurg aan die dik gevoel in sy keel.

Hy sluk weer.

“Sien jy haar?” vra Kleinveldt.

Die plaasmense roer onrustig. Dis een van hulle mense wat daar lê.

“Ja,” antwoord Maarschalk. Die woord is enkel en finaal.

Hy sien haar.

Skugter Khethiwe se gesig is mismaak.

Hy verbeel hom haar skaam laggie, heel anders as die groteske karikatuur van ’n mens wat voor hom op die grond lê. Sy het gely voordat sy dood is.

Die smaak lê soos etter op sy tong.

“Wat sien jy?” vra Kleinveldt op ’n afstand.

Maarschalk buig dieper in die suikerriet in, maar versigtig. Hy skud sy kop, selfs al kan die boer hom nie sien nie. “Jy wil nie weet nie,” sê hy sag.

Khethiwe lê op haar rug tussen die groen stingels, ’n klein, stil figuur. In die helder sonlig lyk sy skraal en oneindig breekbaar, soos ’n dooie tinktinkie.

Haar kop is kaal en daar is ’n donker bewegende stroom onder haar heupe en haar opgeblase lyf.

Miere.

Maarschalk kan hulle krassende voetstappies hoor.

Hulle swartrooi rûe glinster in die helder son. Die insekte steur hulle nie aan hom nie. Hulle het werk om te doen. Brommers draai om sy kop. Sy teenwoordigheid is vir hulle ’n irritasie. Hulle het ook werk om te doen, dié gevleuelde ontbinders.

’n Sterfte in die bos is arbeidsintensiewe banaliteit.

Maarschalk ril ten spyte van die hitte en die soelte. In die helder vroegmiddagson is dit maklik om te sien hoe Khethiwe aan haar einde gekom het.

Hy sluk swaar en sy kiewe trek saam.

Sy nekspiere is lam en hy voel sy elfuurtee in sy keel opstoot.

Die blinkbont doek om die skraal vrou se nek het die lewe uit haar gewurg. Haar oë peul uit die kasse en haar tong steek obseen tussen haar geswolle lippe uit.

Maarschalk maak sy oë toe en neem met sy selfoon ’n foto van die toneel. Hy sluk weer. Dit is ’n verskriklike dood.

Hy tree versigtig agteruit.

“Bel die polisie,” sê hy oor sy skouer vir Johannes Kleinveldt wat intussen nader gestap het, maar buite sig van die hartseer prentjie in die suikerriet bly. Nyx is kort op sy hakke.

“Die polisie?” vra Kleinveldt.

“Ja. En moenie nader kom nie.” Maarschalk draai om en tree bewerig uit die riet die trekkerpad tussen die lande in. “Sy’s vermoor.”

 

Advertisements

Met liefde gedruk

Droom saam met my – Dina Botha

droom saam met my_high res

Weens haar oupa se konkelary gaan Sanrie bestuurslesse by die aantreklike Boshoff Nel kry. Maar hy is haar werkgewer en sy is smoorverlief op hom! En nog erger: hy gaan uit met die beeldskone Monika …

’n Stukkie perfeksie – Susan Olivier

'n stukkie perfeksie_high res

Mari vertrou nie mooi mans nie. Hulle beteken net een ding en dis moeilikheid! Maar hoe gemaak met Henk Gouws … Die nuwe onmoontlik aantreklike pediater op die dorp wat haar knieë lam maak?

Nou eers verlief – Ronelle Uys

nou eers verlief_High_res

’n Klein kamer en werk as kelnerin is Hannah se vooruitsigte nadat haar man sy hand diep in Hamilton Ingelyf se trustfonds gesteek het. Maar haar redding kom uit ‘n onverwagse oord: Nicolas Hamilton!

Kammabruid – Ida Bester

kammabruid_high res

Sanrie en ’n kollega hou as kammapaartjie ‘wittebrood’ by ’n eksklusiewe lodge om die scoop van die jaar te kry. Die veldwagter Luan Maritz slaan egter Sanrie se asem weg. Maar is hy wie hy voorgee om te wees?

Anderkant vergeet – Santie van der Merwe

Anderkant vergeet(Voorblad)

Anneleen Gericke word in ʼn motorongeluk teruggeruk uit die hede terug in die verlede. Toe sy bykom, haar brein gekneus en geswel, het sy geheueverlies. Sy dink dis net na die ongeluk vier en twintig jaar gelede. Ná hulle matriekafskeid was sy en vier ander in ʼn gruwelike ongeluk betrokke. Tot haar afgryse moet sy hoor dat haar beste vriendin dood is, dat een van haar vriende ʼn parapleeg is, en dat ʼn tweede vriend gevlug het.

Asof dit nie erg genoeg is nie, vind sy uit dat sy en Christiaan, met wie sy daardie noodlottige aand uitgemaak het, getroud is, en hulle het twee kinders.

Anneleen se brein genees, maar sy het steeds ʼn donker gat in haar geheue. Sy herstel vir ’n paar weke in die bekende geborgenheid van haar ouerhuis, maar dan moet sy terug na die lewe wat sy vergeet het.

Sy soek antwoorde, maar daar duik voortdurend meer vrae op. Hoekom het sy die keuses gemaak wat sy gemaak het? Kan sy ’n ma wees vir die nuuskierige elfjarige seun en die opstandige, moeilike, agtienjarige dogter? En bowenal, kan sy Christiaan weer liefkry? Het sy hom ooit liefgehad?

Moordlys – Henk Breytenbach

Moordlys(Voorblad)

Sedert Suid-Afrika se politieke omwentelinge vanaf 1989 word daar van Nasionale Intelligensie se vertroulike lêers uit die vorige bedeling vernietig. Terselfdertyd kom ses Duitsers onder geheimsinnige omstandighede in Suid-Afrika aan. Natuurlik kry almal ’n nuwe identiteit, Afrikaanse name, ’n nuwe lewe. Nie almal wat met hierdie sake gemoeid was, het skoon rekords nie.

’n Man soos Vic Nel is byvoorbeeld tot veel meer in staat as wat dit lyk, noudat hy ’n hardeware-verkoopsman is wat laag lê sover hy kan. Alles werk, tot ’n reeksmoordenaar vaardig raak en Vic se foto by die moordtoneel staangemaak word. Dit terwyl Vic nie ’n benul het hoe hy en die onbekende slagoffers se lewe vervleg kan wees nie. En as dit uit die verlede dateer, is dit ook so dat niemand sedert 1989 so jonk gebly het dat hulle nog geredelik herkenbaar sal wees nie.

Ná ’n besoek aan ’n befoeterde ou man in ’n aftreeoord tel hy wel ’n spoor op, maar hy word vriendelik vermaan om weg te stap, want die verlede is verby en niemand kan iets daaraan verander nie. Maar wegstap kom nie vir Vic maklik nie.

#FBF Ons kuier by Alma Carstens in Malawi

Vyf jaar gelede toe ons van Nairobi af Lilongwe toe getrek het, was die aanpassing bitter moeilik. Anders as in die groot stad, is hier geen flieks of groot winkelsentrums nie. Lilongwe is meer soos ’n plattelandse dorp waar mens omtrent almal ken en groente sommer by die straatsmous koop.

Die lewe in Malawi is rustig.  Dis ’n geweldig arm, maar pragtige en veilige land met vriendelike mense. Die expat-gemeenskap is baie sosiaal en ons het wonderlike vriende gemaak.  Een groot nadeel van die soort lewe is dat mens gereeld vriende moet groet wat aan die einde van ’n kontrak na ’n ander land aanbeweeg.

Na ’n paar jaar in die internasionale skool is ons kinders na ’n kosskool in Franschhoek.  Die leë nessie is glad nie lekker nie, maar die wete dat hulle albei so gelukkig is daar, maak die verlange darem draagliker.

Sedert die voltooiing van my studies aan die einde van 2012, probeer ek hard om meer te skryf.  Meestal slaag ek in my doel, maar vele versoekings soos om te lees (en lees en lees), gholf te speel of net lekker saam met vriendinne te kuier, kry soms die oorhand.

Bestel Alma se jongste Romanza, Middernagsoene, hier: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/middernagsoene/sagteband

Blank-Book

Liefde by die universiteit

Lorna en die professor – Malene Breytenbach

lornaenp

Stadig ry sy in die straat af en sien daar voor die valboom by die ingang waar mense by hul motorvensters uitleun en ’n kode op ’n toegangsbordjie intik of ’n personeelkaart deur ’n gleuf vee. Dan lig die valboom op en sodra die motor deur is, sak dit onmiddellik weer af. Daar kan sy beslis nie ingaan nie. Sy het nog nie ’n kode of toegewyste parkeerplek nie. Hopelik sal sy dit gou kan kry as sy eers begin werk.

’n Groot silwer VW Touareg kom van die teenoorgestelde kant en draai skielik voor haar in sodat sy hard moet rem. Maar nie betyds nie. Met ’n skok hoor sy die aaklige kraak soos haar motor teen die groot voertuig bots. Sy kreun kliphard. Ag hemel, net nie dit nie. Nie vandag nie.

Om haar het mense gaan staan en staar na die ongeluk. Twee studente kyk grootoog van die sypaadjie af en ’n derde een grinnik asof hy lekker kry om dit te sien. Lorna voel hoe die hitte tot in haar gesig opstyg. Dat sy nou bloedrooi moet bloos, maak alles nog erger.

’n Man wat soos ’n dosent aangetrek is – ’n netjiese langbroek en hemp – klim uit die groot voertuig. Hy lyk in sy dertigs en is beslis aantreklik met sy goudbruin hare en ’n lenige lyf. Maar sy gesig is woedend toe hy nader kom. Lorna byt so hard op haar lip dat sy bloed proe. Sy draai haar ruit af.

“Juffrou, ek besef jy soek parkeerplek en jy is seker laat vir jou klas, maar kyk tog waar jy ry,” raas hy. “Julle studente ry ook so roekeloos, ’n mens is jou lewe nie seker hier op die kampus nie. Jy het my kar gestamp. Klim asseblief nou uit en kom kyk watse skade jy aangerig het.”

Lorna klim uit en probeer haar bedees hou, maar eintlik is sy kokend van ergernis en verontwaardiging. Toe kan sy haarself net nie langer beteuel nie en sy bars uit: “Ek is jammer, Meneer, maar dit is jou skuld dat ek in jou vasgery het. Hoe kan jy sommer net so voor my indraai?”

Hy is seker ’n kop langer as sy en kyk met saamgeperste lippe, ’n vreeslike frons en blitsende oë na haar. Dit tref haar dat hy die mooiste helderblou oë het wat sy nog aan iemand gesien het. Ongelukkig spat die vonke nou daaruit.

“Dit het gelyk asof jy stilstaan in ’n besige straat en toe draai ek. Het jy my nie sien aankom nie? My flikkerlig was in elk geval ook aan.”

“Nee, Meneer, ek soek wel parkering maar ek het regtig nie gaan stilstaan nie. My motor het nog beweeg. Dié straat is baie besig en boonop vol padvarke.”

Haar woede bou op en haar wange vlam maar die woord padvarke het darem uitgeglip. Dit laat hom nog kwater lyk.

“Kyk, Juffrou, julle studente . . .”

“Ek is nie ’n student nie, Meneer,” help sy hom kil reg.

Hy lyk vir ’n oomblik uit die veld geslaan. “O, nou wat dan?”

“Ek moet vandag hier by Informasietegnologie begin werk.”

“O so? Dis goed dat ek dit weet. Ek sal jou maklik in die hande kan kry. Hier is skade en dit beteken polisieverklarings vir die versekering en allerhande hassles. Ek ry nie met ’n beskadigde voertuig nie.”

Hy kyk, vuiste op sy heupe, na waar die twee motors teen mekaar staan.“Die skade is darem gering. Dit kon veel erger gewees het.”

Aan sy voertuig sien sy slegs ’n skraap maar daar is ’n lelike duik in die modderskerm van haar motortjie. Sy is lus en bars in trane uit. Sy het nie geld om dit reg te maak nie en sal maar net met ’n beskadigde motor moet ry.

Hy gaan maak sy motordeur oop en haal iets uit. Kom terug met ’n pen en notaboekie.

“Goed, wie is jy, Juffrou?” vra hy.

“Lorna Ramsay.”

Hy skryf in sy boekie.

“Selfoonnommer?”

Sy gee dit.

“Huisadres?”

Sy gee dit ook.

“Afdeling?”

“Ek gaan by die dienstoonbank by Informasietegnologie werk.”

Sy wenkbroue boog boontoe. “Jy lyk dan soos ’n eerstejaarstudent.”

Sy vererg haar bloedig en byt op haar lip. Hy kyk ’n oomblik kwaai na haar, haal ’n beursie uit sy broeksak, neem ’n visitekaartjie daaruit en gee dit vir haar. Sy lees en haar moed sak tot in haar skoene. Professor Arno Retief van die departement Siviele Ingenieurswese. ’n Groot vis in dié geweste en sy is slegs ’n sardientjie.

“Ek sal dit by die polisie gaan aanmeld,” sê hy bars en skryf haar registrasienommer neer. “Jy het my nou laat gemaak vir my eerste klas en jy is natuurlik ook laat. Ons praat weer, juffrou Ramsay.”

Hy draai kortom en gaan klim in sy motor, ry na die valboom, trek sy kaart deur die gleuf en ry deur. Sy kyk hom agterna, ignoreer die nuuskierige mense wat na haar staar, klim in haar motor en ry. Doer anderkant is daar darem plek om te parkeer, sien sy. Ver weg.

Kon sy maar so ’n indrukwekkende en sexy man in gunstiger omstandighede ontmoet het, wens sy. ’n Professor en nog jongerig en aantreklik daarby. Maar hy dink sy is net ’n roekelose en astrante meisietjie wat soos ’n eerstejaarstudent lyk en hy is boonop kwaad vir haar. Sy sug. Sowaar, die dag het nie goed begin nie.

Sy parkeer en sluit haar motor, kyk toe op haar horlosie. Hemel, dit is al kwart oor agt. Sy kreun hardop. Op haar eerste dag wil sy ’n goeie indruk maak, maar sy is sowaar laat. Wat gaan hulle van haar dink? Sy draf behoorlik in die straat af na die ingang.

’n Jong man sit in die voorportaal van die Informasietegnologiegebou toe sy ingehaas kom. Hy staan op toe sy die deur agter haar laat toeklap en kyk ergerlik na haar.

“Hallo, ek wag al lank vir jou. Ek is Donovan Lackay en jy is seker Lorna Ramsay.”

“Hallo, ja, ek is Lorna Ramsay.”

“Ons hoof het my gestuur om jou in te wag want jy moet eers jou toegangskaart laat aktiveer. Ek moet jou waarsku, daar’s g’n genade vir mense wat by die dienstoonbank laat kom vir werk nie. Ons ses verteenwoordigers kry vierhonderd en meer oproepe per dag.”

“Ek is regtig jammer, maar ek het hier voor in professor Arno Retief van siviele ingenieurswese se groot viertrek vasgery. Nou is ek behoorlik ge-rattle.”

Sy irritasie verdwyn en hy kyk simpatiek na haar. “Oeps, dis hectic. Is jou kar baie stukkend?”

“’n Bietjie ingeduik maar ek sien min skade aan syne. Hy was baie kwaad vir my.”

In gesprek met Malene Breytenbach

 

Wie is jou drie gunstelingskrywers?

Leo Tolstoy, Jane Austen, Ingrid Winterbach (drie is darem te beperk!)

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

Jane Austen, Charles Dickens, Etienne van Heerden

Wat is die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

“Skryf is oorskryf,” − Chanette Paul

Watter boeke kan jy herhaaldelike lees?

War & Peace (Tolstoy); Possession (AS Byatt), Jane Austen se Pride & Prejudice en Sense & Sensibility, Charles Dickens se Bleak House. Ek kan boeke geniet, maar een keer se lees is genoeg. Dit moet werklik iets besonders wees as mens dit weer en weer wil lees.

As jy vir ’n dag as ’n ander bekende skrywer kan leef, watter skrywer sal dit wees? En hoekom?

JK Rowling. Sy het ’n wonderlike verbeelding en dink die fassinerendste goed uit. Dit het haar ook skatryk gemaak. Sy WEET sy is ’n reuse sukses.

shot a 014n

 

Watter fiktiewe karakter sal jy in jou vriendekring wil hê? Hoekom?

Elizabeth Bennett (Pride & Prejudice). Ek dink sy is oulik, slim en laat nie met haar mors nie.

Waarom skryf jy romanses?

Ek skryf romanses omdat dit my toelaat om my verbeeldingsvlugte te volg en iets te skep wat ek en die leser kan geniet. Iets wat nie saai en alledaags is nie, maar ideaal, romanties en mooi. Ek kan karakters skep wat ek self bewonder en mans op wie ek self verlief sou kon raak. Ek skep graag ontvlugting vir wie ookal dit nodig het.

Watter boek/e is op die oomblik op jou bedkassie?

Split (Debbie Loots), Brandwaterkom (Alexander Strachan), Slaafs (Bettina Wyngaardt)

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

’n Skilder of ’n dosent

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees?

Operaster

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Jy moet nooit dink een probeerslag is goed genoeg nie. Wees bereid om na opbouende kritiek te luister en oor te skryf. Gebruik ’n woordeboek. Moenie moed opgee as jy ’n terugslag kry nie. Probeer weer. Lord of the Rings van JRR Tolkien is eers afgekeur. JK Rowling se eerste boek ook. Daardie uitgewers huil nou nog.

EILANDVUUR – SERENA STEYN

eilandvuur_high res

Die dansers is kaalvoet. Die vroue is geklee in veelkleurige wye rompe en helderoranje bloese, en die mans het geblomde hemde en wit kniebroeke aan. Hulle voer die opwindende en sensuele dans met geesdrif en ywer uit. Luide applous bars los toe hulle klaar is.

“Ek dink ek gaan maar inkruip.” Laverne tel haar aandsakkie op. “Verskoon my, asseblief.”

“Ek stap saam.” Alain wink die kelner nader.

“Dis in orde,” protesteer sy. “Ek wil nie meer van jou tyd in beslag neem nie.”

Hy ignoreer haar en sy is verplig om te bly sit tot die rekening afgehandel is.

By haar kamerdeur glimlag sy vir hom. “Dankie vir ’n besondere dag. Lekker slaap.”

Hy leun met sy arm teen die deurkosyn en streel onverwags oor haar hare. “Jy is twee mense,” sê hy sag. “Wie is die regte een? Uitlokkende Gabrielle of teruggetrokke Laverne?”

Laverne soek desperaat in die aandsakkie na haar sleutelkaart. “Ek is nie onder normale omstandighede teruggetrokke nie,” sê sy kwaai en kry uiteindelik die deur oopgesluit.

Agter hulle in die gang kom ’n verliefde paartjie aangestap. Hulle hang aan mekaar en kyk giggelend na haar en Alain. Sy tree terug in die kamer en wil die deur toedruk, maar Alain tree saam met haar binne en stoot die deur agter hom toe.

Laverne se asem raak weg en haar hart hamer in haar keel toe hy nader tree en haar in sy arms intrek. Sy het, besef sy, in haar diepste wese geweet dit kom. Van die oomblik toe hy haar hand gesoen het. En sy wil dit nie hê nie. Dit was Gabrielle se werk om Alain te verlei, maar sy, Laverne, het niks aan hom nie. Haar verstand beredeneer die saak logies, maar haar liggaam reageer anders. Haar hande, wat hom wil wegdruk, gly moedswillig teen sy bors op. Hulle glip onder die wit materiaal van die hemp in en verlustig hulle in die hitte van sy vel en sy hart se onstuimige klop. Toe is sy in sy arms en oorweldig sy liefkosings haar.

Laverne verloor kop. Sy weet net van die honger na hom wat sluimerend in haar was. Sy weet dat hy haar optel en op die bed neerlê en sy kyk op na hom. Daar is trane in haar oë, maar hy sien dit nie. Sy lippe is warm in haar nek en hy prewel liefdeswoorde in Frans terwyl sy hand warm teen haar been opgly. Sy gee haar oor aan sy liefkosings en voel van ver af hoe sy tong haar mond binnedring.

Sy sluit haar oë en druk haar liggaam teen hom aan. Toe hy sy mond lig, breek die ontsettende verlange oor haar lippe.

“Mike . . .”

Die hitte van Alain se liggaam is in een beweging weg.

Laverne hys haar op haar elmboog en vee haar nat wange af.

Alain staan aan die onderpunt van die bed met skitterende groen oë.

“Ek . . . is . . . nie . . . Mike . . . nie.” Hy byt die woorde uit.

Sy trek haar rok af en druk haar hand oor haar oë. Sy kan nie meer na hom kyk nie.

“Gaan net weg,” prewel sy. “Asseblief, Alain.”

Hy sê iets heftigs in Frans en klap die deur agter hom toe. Sy spring op om dit van binne af te sluit en sak op die vloer neer. Toe verberg sy haar gesig in haar hande. Sy kan hierdie man nie hanteer nie. Sy kan haar eie emosies nie beheer nie. Sy verstaan haarself nie meer nie.

Toe sy rustiger raak, leun sy haar kop teen die deur en vleg haar hande om haar knieë. Dankie tog dat daar van môre af ander mense om hulle sal wees – sy gaste, sy huispersoneel en die mense by die duikskool.

Sy verwyder haar grimering meganies en borsel haar tande. Toe lê sy lank na die liggies van buite op die plafon en staar. Buite gesels die see. Iewers begin ’n kitaar speel en iemand sing.

Sy probeer desperaat onthou hoe dit gevoel het om Mike te soen, maar sy kan nie. Daar is net die gloeiende kole van Alain se liefkosings. Sy weet sy moet veg teen die dwaasheid van ’n lukraak affair met hom. Dit sal haar smart net vererger. Sy wens sy kon terugklim op die vliegtuig en huis toe vlug, maar sy kan nie. Sy moet vasbyt. Vir Ahlula. Die woorde word ’n refrein wat haar uiteindelik aan die slaap sus: Byt vas vir sestien weke. Dis al. Net sestien weke.

Serena Steyn is aan die woord

Wie is jou rolmodel wat jou skryfwerk betref?

Suid-Afrikaanse skrywers soos Jeanette Ferreira, Deon Meyer, Andre P. Brink, en andere.

Wat is jou  gunstelingaanhaling?

JRR Tolkien, my gunstelingskrywer: “Those who had asked me for more information about hobbits eventually got it, but they had to wait a long time; for the composition of the Lord of the Rings went on at intervals during the years 1936 to 1949; a period in which I had many duties I did not neglect, and many other interests as a learner and teacher that often absorbed me.”

In Suid-Afrika is baie min voltydse skrywers. Hierdie aanhaling het vir my baie beteken gedurende tye wat ek ’n huishouding en gesin, ’n werk en stokperdjies saam met my skryfwerk moes balanseer.

Wat is noodsaaklik op jou lessenaar (behalwe jou rekenaar) om lekker te kan skryf?

My woordeboeke, ’n notaboek en pen om idees neer te skryf.

Wat is die belangrikste les oor skryfkuns wat jy geleer het?

Ek dink dit is: “Jy moet net gaan sit en skryf”. Van my beste boeke het gekom in die moeilikste tye van my lewe. Dis asof iets in my net oorneem en die storie vloei voort, ongeag.

jack-kerouac-typewriter

Watter spesifieke eienskap moet ’n held hê om jou hart te steel?

Integriteit. My vrouwees skop ook in − hy moet darem iets vir die oog wees, nie net fisiek nie, maar hy moet ook ’n aantreklike persoonlikheid hê.

Wat is jou grootste skryffiemies?

’n Netjiese manuskrip. Ek gaan my manuskrip baie kere deur en kyk na baie faktore voor ek dit afstuur.

Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Ek lees baie, stap, kyk voëls, brei, kyk gholf op televisie en werk in my tuin.

Wat is jou grootste vrees?

Om onthoof te word. Veral omdat ek ’n Christen is en dikwels met traktate die strate invaar, word die ISIS spook baie werklik.

Wat is jou grootste uitdaging wanneer jy ’n romanse skryf?

Ek het twee: dat my karakters uniek moet wees en om die storieidee, die eerste proef, klaar te skryf. Ek haal ’n storie uit die lug. Daarna werk mens met iets konkreet.

Watter inspirasiesaadjie was die begin van Eilandvuur?

Ek het my idee van ’n eilandstorie en persoonlike hartseer met my kleindogter, Sonja, gesit en bespreek (die boek is aan haar opgedra), toe sê sy, “Ouma bedoel ‘n ‘payback’?” Ek het aanvanklik bedoel om my held ’n meer ongenaakbare karakter te maak, toe stap Alain Picault op die blaai en neem oor. Hy is een van die lekkerste helde waarmee ek nog gewerk het. ’n Mense-mens.

Werk jy aan ’n volgende manuskrip? Kan ons ’n sneak preview kry?

Ek probeer om sodra ek ’n manuskrip afstuur met die volgende een te begin. My volgende manuskrip gaan einde Junie uitgewer toe, so ek kan nie te veel uitlaat tot dit aanvaar is nie. Ek kan wel sê dat my heldin nie die standaard heldin is nie en dat dit in ’n lekker Suid-Afrikaanse milieu afspeel.

Watter boeke lê op jou bedkassie?

The Private Life of Plants −David Attenborough; Asterix en Cleopatra; Ontdek groot katte, Kulture van die wêreld.

Wat sal jy as hoogtepunt van jou loopbaan uitsonder?

Toe ek by die NALN-museum in Bloemfontein my eerste ‘hygroman’ Vuurgety op die uitstalrak gesien het en dit onder die tien topverkopers in Suid-Afrika was.

Aan watter skryfgewoonte (van jouself of ander skrywers) het jy ’n broertjie dood?

Pretensie en die neersien op ander se werk. Daar is ruimte vir alle genres en ’n groot verskeidenheid lesers daar buite.

Noodsaaklike reisgenote in hierdie lewe:

My God en Verlosser Jesus Christus en die Heilige Gees met Sy raad en bystand. My man, seuns, skoondogters en kleinkinders, vriende.

Wat is jou grootste kopseer in verband met publisering?

Ek dink daar is nie altyd genoeg geleentheid om verskillende genres te publiseer nie. Die swak ekonomie maak risikos ongewens. Dankie tog vir Internet Publisering.

Waar het jy vir Laverne Rieckert gaan haal?

Ek was in die wagkamer by die x-strale vir ’n jaarlikse ondersoek, toe tel ek ’n oorsese glans- vrouetydskrif op, en sien Laverne (in vermomming). Soos my navorsing gevorder het, het die karakter begin vorm aanneem. Haar liefde vir kinders kom van ’n vriendin af wat straatkinders bevriend en later ’n vooghuis vir hulle opgerig het. Mens kry uitsonderlike mense.

shutterstock_63868810

 

Kry gemoedsrus met ‘Draai jou sente om’

 

Volgens die ekonoom, Dawie Roodt, is dit  ’n vreemde maar waar verskynsel dat mense huiwerig is om hul finansies korrek te bestuur. “Myns insiens het hierdie huiwering te doen met ’n gebrek aan kennis en die afwesigheid van ’n raamwerk om die individu te help met die bestuur van sy finansies. Draai jou sente om vul hierdie leemte en bied ’n uitstekende riglyn vir finansiële bestuur.”

draai jou sente om

Hier is ’n paar wenke wat jy kan volg:

draai jou sente om_memes3

draai jou sente om_memes2

Wat jy nie moet doen nie

  • Bly weg van casino’s en indien jy ’n paar rand op die Lotto wil waag, beperk dit asseblief tot slegs ’n paar rand. Jou kanse om te wen is minder as 1 uit 13 miljoen.
  • Moenie enige geld belê in vriende of familielede se besigheid nie. Veral nie as jy niks daarvan verstaan of weet nie. Indien hulle so angstig is om jou te betrek, vra hulle om jou vir ses maande aan te stel. Dit sal jou ten minste in staat stel om die besigheid te begin verstaan en om dan ’n weldeurdagte besluit te neem oor die beleggingspotensiaal.
  • Moenie geld aan jou kinders leen of skenk nie. Hulle kan by ’n finansiële instelling leen. As hulle nie daar geholpe kan raak nie, dan is hulle ’n risiko en sal jy waarskynlik nooit weer jou geld terugkry nie. Jou kinders het in elk geval ’n leeftyd om te kan spaar, terwyl jy nóú dringend geld nodig het.

draai jou sente om_memes

Luister Saterdagoggend na Ontbytsake, tussen 7:30 en 9:00 op kykNET, en kry raad om jou bestaande finansiële posisie te verbeter. Bestel die boek, ‘Draai jou sente om’, hier: https://www.lapa.co.za/niefiksie/algemene-niefiksie/draai-jou-sente-om/sagteband

 

 

 

Middernagsoene – Alma Carstens

Blank-Book

Ben stoot die bril ingedagte terug op sy neusbrug terwyl hy in die breë gang afstap en ’n verslag loop en lees. Iets lyk nie reg met die uitslag van die bloedtoetse nie, maar hy sal eers vir die ander uitslae moet wag voor hy verdere toetse kan aanvra. Hy is op pad na sy kantoortjie by ongevalle, maar besluit om eers by die susters se diensstasie navraag te doen oor die pasiënt.

“Suster Watson, het meneer Hanson se ander toetsuitslae al teruggekom van die laboratorium af?”

Ina Watson kyk haastig deur die hoop verslae in die mandjie en skud haar kop. “Nee, nog nie, dokter Joubert. Sal ek hulle bel en uitvind?”

“Asseblief.” Hy draai weg en stamp liggies aan iemand. “Jammer,” sê hy en mik om aan te stap toe die meisie voor hom intree.

“Dokter Joubert?” vra sy met opgetrekte wenkbroue. “Ek sit al wie weet hoe lank hier en wag vir jou, want jy antwoord nie my oproepe nie en reageer nie op die klomp boodskappe wat ek al vir jou gelos het nie.”

Hy haal sy bril af en kyk ondersoekend na haar. Is hy veronderstel om haar te ken? Dalk ’n pasiënt van hom? Hy kan nie onthou dat hy enige boodskappe ontvang het waarop hy nie geantwoord het nie. Gewoonlik bel hy sy pasiënte dadelik terug.

“Ek is jammer, juffrou . . .?”

“Reichman. Van Crous en vennote,” sê sy en steek haar hand na hom toe uit.

Ben neem haar hand en glimlag verskonend. “O, oor die huis in Rosestraat?”

“Ja, oor die huis in Rosestraat,” sê sy styf met nie ’n sweempie van ’n glimlag om haar mooi mond nie.

Hy wys met sy hand dat sy saam met hom moet stap. “Kom ons gaan gesels in my kantoor. Hoe kan ek help? Waarom soek jy so dringend na my?”

“Ek het die laaste van die oordragvorms gebring en dit sal my baie help as jy dit kan teken. Nou dadelik, asseblief, want meneer Crous wag daarvoor.”

Ben glimlag vir haar parmantige houding. Sy is behoorlik vies vir hom as hy so na haar stemtoon luister. Dis baie duidelik dat sy hard probeer om professioneel op te tree, maar sy kan haar ontevredenheid met hom nie heeltemal wegsteek nie.

“Natuurlik, geen probleem nie.” Hy wag tot sy op die stoel langs sy lessenaartjie gaan sit voor hy op die een agter die lessenaar neersak. “Ek is werklik jammer dat ek jou nog nie teruggebel het nie, Juffrou. Elke keer as ek dit wou doen, het daar ’n noodgeval ingekom.”

Sy maak die lêer oop en haal die dokumente uit. Toe kom staan sy langs hom en sit die papiere op die lessenaar neer. “Daar moet jy parafeer en daar.” Sy blaai deur die bladsye en wys oral waar hy moet parafeer. “En hier moet jy voluit teken. En daar ook,” wys sy met haar vinger. “En hier moet jy jou inligting en vandag se datum invul.”

Ben kry die ligte geur van haar parfuum toe sy effens oor hom leun om die bladsye by te kom. Vir ’n oomblik verloor hy konsentrasie en sien nie waar sy wys nie. Hy vergeet heeltemal wat sy hier kom doen het en is meteens net bewus van haar teenwoordigheid so naby aan hom. Dit neem ’n rukkie voor hy besef dat sy van die lessenaar af weggetree het en afwagtend na hom staan en kyk.

“Is daar ’n probleem, Dokter?”

“Nee, maar moet ek nie eers die dokument lees voor ek dit teken nie?”

“Dis standaardvorms en ek het reeds daardeur gegaan en seker gemaak al die inligting is korrek, maar u is welkom om dit deur te lees voor u teken,” sê sy styf.

Ben knik en byt op sy lip om te verhoed dat hy hardop lag. Hy vind haar houding geweldig amusant, veral noudat sy die “jy” en “jou” laat vaar het en hom as “u” aanspreek asof dit haar outoriteit moet bevestig. Terwyl hy vlugtig deur die paragrawe lees en die vorms teken, trommel sy ongeduldig met haar vingers teen die nou rompie waar die materiaal oor haar linkerheup span. Dit trek sy aandag af en hy kyk vlugtig op.

“Iets fout?” vra sy parmantig en lig haar wenkbroue.

Hy skud sy kop en bring sy handtekening aan op elke plek waar hy dink sy aangedui het. Toe hy die bladsye bymekaargemaak het, hou sy haar hand na hom toe uit, maar hy oorhandig dit nie dadelik aan haar nie.

“Was dit nou so moeilik?” mompel sy sag.

Ben kan sy lag nie langer hou nie. Nie net moes hy haar baie erg omgekrap het nie, maar sy maak seker hy weet dit. “Hoekom het ons nog nie voorheen ontmoet nie? Ek het die huis al byna twee maande gelede gekoop.”

“Marius Fouché het die oordrag hanteer, maar hy is tans met siekverlof. Meneer Crous het my nou aangestel om dit by hom oor te neem. As u ’n probleem daarmee het . . .”

“Nee, glad nie,” val Ben haar vinnig in die rede en moet weer sy lag onderdruk toe hy opmerk hoe hard sy probeer om afsydig voor te kom. Sy vererg haar telkens opsigtelik vir hom en ondervind moeite om professioneel op te tree. Sy belangstelling is opeens geprikkel. “Juffrou Reichman, het jy ’n naam?”

“Natuurlik, nes enige ander mens, Dokter.” Sy staan steeds met haar hand uitgestrek na hom in afwagting van die dokumente wat hy vashou.

Hy staan stadig van die stoel af op. “Mag ek weet wat dit is?”

“Giselle. As jy dan moet weet,” mompel sy die laaste sin ontevrede.

“Giselle,” proe hy haar naam versigtig op sy tong. “Soos die ballet?”

Sy trek haar skouers op. “Die oordragvorms, asseblief,” gebied sy styf.

Ben oorhandig die vorms aan haar terwyl sy gedagtes verwoed rondsoek na iets om die gesprek mee aan die gang te hou. Hy is ineens onwillig om haar te laat gaan.

Bernette Bergenthuin gesels oor haar skryfwerk en meer

Ek sal die gelukkigste persoon in die wêreld wees as …

Ek by my hartsmense is.

Liefde is soos…

Koue water. Iets om aan gewoond te raak.

Ek’s niks as dit nie was vir…

My ouers

As ek verveeld is …

e2a4d23c6d23bb647f266d42c8cdb208Dan shop ek.

Vrede omring my as…

Draf

Waar wil jy op vakansie gaan?

In Suid-Afrika by die wildtuin en in Parys, Frankryk.

Watse verrassings is in jou beursie?

Ek is altyd verras oor die aantal klubkaarte wat ek het.

Ek kan regtig leef sonder…

Rooi vleis

Niks, ek herhaal niks, kom tussen my en my…

Grimeringsakkie

Wat’s jou gunstelingwoord?

Lyf − dit is ’n lekker beskrywende woord.

13100751_1196752987001526_3205174829554786794_n

Bernette skryf ook graag kortverhale. Meer as 30 van haar kortverhale het in tydskrifte soos Vrouekeur en rooi rose verskyn.

My trooskos is…

My ma se melkkos

Wie is jou gunstelingskrywer?

Wilbur Smith, ek is ’n fan van formaat. Maar Sophia Kapp en Chanette Paul is  ’n kortkop agter.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

“Daar is nie iets soos writer’s block nie. Jy moet gaan sit en skryf.” Dit was  ’n Facebook-wysheid.

Vir wie sal jy jou laaste dans wil spaar? 

Daniel Craig

download

Het jy altyd weet dat jy ’n skrywer wou word?

Ek dink so. Ek dink dit is wat jy is − dit kies jou.

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees?

’n Koninlike in die hof van Versailles tydens die Renaissance.

Wie/wat beïnvloed jou skryfstyl?

Alledaagse gebeure

Waar kry jy inspirasie vandaan?

Dit is jou eie storie, vriendinne se stories − dan kom die muse van iewers.

13149970_1098660523535125_1500673545_n

Watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Ek is ’n nagskrywer − tussen 21:00 en 23:00.

Wie is die muse agter Vida en Josefien?

Ek het op Stellenbosch ’n beste vriend, Rudi, gehad wat saam met my gedraf het. Dit was die inspirasie agter Rudi. Ek het vir Vida geskep om by Rudi te pas.

Josefien is ’n mengsel tussen my ma en tannie.

13179082_1197170173626474_613215262474421428_n

Ontmoet vir Josefien

Wat is jou skryfproses? Het jy ’n vaste roetine of skryf jy organies?

Glad nie. Ek is ’n groot procrastinator.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Moet dit nie oordink nie. As jy ’n skrywer wil word, werk en sal jy ’n skrywer wees.

Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Lam in wolfsklere, dit was my eerste roman en die eerste boek in die genre wat ek skryf.

lam_in_wolfsklere

Hoe was die oorgang van die skryf van ’n Romanza na ’n roman?

Baie natuurlik. Ek het ’n internetkursus by Jeanette Ferreira gedoen en ek het met haar ’n deal gemaak om in plaas van ’n Romanza-hoofstuk, ’n hoofstuk vir ’n roman in te handig.