Een laaste somer – Dina Botha

een laaste somer_high res

Luigi sit sy bagasie neer en haak ewe familiêr by haar in.

“Carlos, terwyl jy vir ons vervoer reël, gaan ek en Carmin nog ’n drankie op die jag geniet. Dit lyk in elk geval nie of die ander haastig hotel toe is nie.”

Carmin wil haar arm onder syne uittrek en sê dat sy nie vir die hotel se bussie gaan wag nie. Sy gaan solank aanstap huis toe. Sy wil die bekende reuke en geure van die eiland op haar eie tyd inneem en haar daarin verlustig. Dit sal buitendien nie die eerste keer wees wat sy al die pad van die hawe tot by die hotel loop nie. As kinders het sy, Alisha en Alexus dit dikwels gedoen. Niks keer haar nie. Haar kortbroek is gerieflik vir die stappie, en sy het ’n paar gemaklike sandale aan haar voete.

Carmin kry egter nie kans om enige van die goed vir Luigi te sê nie, want ’n koel en alte bekende stem agter haar sê haar naam.

“Carmin?”

Carmin voel hoe die bloed haar gesig verlaat en haar bene dreig om jellie te word. Ses jaar lank wag sy vir hierdie oomblik. Nee, eerder vrees sy dit, want hoe kyk ’n meisie haar slegste herinnering in die oë? Sy ruk haar vinnig reg. Die ontmoeting sou tog een of ander tyd plaasvind. Dis net jammer dat sy nie meer tyd gehad het om haar daarop voor te berei nie. Sy veins ’n verbaasde glimlag en draai stadig om. Haar hart ruk toe Alexus nie alleen is nie. Met haar kort donker hare en perfek gegrimeerde gesig, is die meisie aan sy sy ’n toonbeeld van skoonheid en elegansie. Carmin kyk by Alexus verby. ’n Entjie verder dra ’n man bagasie van ’n jag af, een wat sy dadelik herken as die Anita, Ari Papadakis se jag. Sy stuur haar blik terug na Alexus en fokus op sy voorkoms. Hy is in ’n wit hemp en langbroek geklee en hy dra sy hare effens korter as wat sy kan onthou. Daardie mooi en jong gelaatstrekke wat haar so bekoor het, het hom laat verander in ’n uiters aantreklike volwasse man.

“Alexus, wat ’n verrassing om jou te hier sien!” Sy maak haar arm uit Luigi s’n los en loop nader. Toe soen sy Alexus liggies op elke wang.

Alexus se oë is agter ’n donkerbril verskuil en sy kan dus nie probeer aflei hoe hy voel nie. Sy skouers is egter in ’n stywe lyn teruggetrek.

“Hoekom het jy nie laat weet jy kom nie?” vra hy kortaf.

“En die verrassing bederf?”

“Jou ma weet dus nie dat jy huis toe kom nie?”

“Nee, niemand weet nie. Ek het aanvanklik laat weet dat ek nie Pa se verjaarsdag kan bywoon nie, maar soos jy kan sien, het ek intussen van plan verander.”

Luigi vat haar aan haar arm om haar aandag te trek. “Jammer om te onderbreek, Carmin. Carlos het reëlings getref. Die hotelbussie kom ons haal.”

“Dankie, Luigi, ek sal nou by julle wees. Het jy nie iets gesê van ’n drankie nie?” vra sy met ’n soet glimlag.

“Natuurlik, ek gaan kry vir jou iets om te drink.”

Soos ’n skoothondjie draai Luigi om en gaan weer aan boord.

Een van die meisies lag hard en effens skril en Alexus frons ontevrede. “Ou vriende van jou?”

“Meer soos nuwe vriende. As jy my nie aan jou vriendin gaan voorstel nie, moet jy my verskoon. Ek sien jou later by die huis.”

“Wag, Carmin. Jammer, dit was ongemanierd van my. Ontmoet Kate Rogers, ’n sakevriend se dogter. Kate, dit is my suster Carmin.”

“Aangename kennis,” sê Kate en klink verras.

“Amerikaans?” vra Carmin toe sy die aksent herken.

“Dis reg. Ek woon in New York.”

Kate se grysgroen oë vernou voordat sy na Alexus kyk. “Jy het genoem dat jy twee susters het, maar nie dat die een so blond en anders is nie, en met anders bedoel ek sy lyk nie soos ’n Griek nie.”

“Haar ma is ’n Suid-Afrikaner en net so lig van gelaat.”

“O, dit verklaar alles.”

As Kate in New York woon, beteken dit sy kuier by Alexus op die eiland? Reguit vra kan sy ook nie.

Carmin kan egter nie besluit of sy van die meisie hou of nie. Gewoonlik besluit sy dadelik en is selde verkeerd in haar besluit. Daar sal seker genoeg tyd wees om daardie antwoord te vind. Toe besef sy dat Alexus die subtiele vraag rondom haar nasionaliteit netjies omseil het. Hy het gesê haar ma is Suid-Afrikaans, wat kan beteken hulle het dieselfde pa maar twee ma’s. Sou hy doelbewus die feit verswyg dat hulle slegs aangetroude familie is? Is dit vir hom belangrik dat Kate aan hulle as eie broer en suster dink?

“Hier is jou drankie, Carmin, met baie ys soos jy dit verkies.”

“Dankie, Luigi. Laat ek jou sommer nou aan my broer voorstel. Ek is seker jy sal hom weer op die eiland raakloop.”

Carlos staan ook nader en die jongmense word oor en weer aan mekaar voorgestel. Sy kyk weer na Kate. “Kate, gaan jy by die Papadakisse inwoon of bly jy in die hotel?”

“In die hotel. Alexus sê hy wil nie julle ma verontrief nie.”

“Dan sal ons almal mekaar weer raakloop. Totsiens vir eers.”

Carmin verander van plan. Sy wil nie meer alleen wees nie. Sy stoot doelbewus haar arm deur Luigi s’n. Hy stort ’n bietjie van sy drankie en sy besef dadelik dat hy nie heeltemal so vas op sy voete is as wat hy behoort te wees nie. Die frons tussen Alexus se oë word dieper en sy oë killer.

“Jy kom saam met ons, Carmin,” sê hy en slaan oor na Grieks.

Sy boog haar wenkbroue. “Hoekom?”

“Want jou vriende is almal besope. Jy waarskynlik ook.”

Luigi is klaarblyklik ook die taal magtig, want hy lig sy hand in beswaar op. “Haai, jy kan nie so met Carmin praat nie,” probeer hy haar verdedig.

“Ek mag, sy is my suster en ek dra haar belange op die hart. Carmin, wat gaan dit wees? Gooi ek jou dronk vriend in die see of ry jy saam met ons huis toe?”

Om een of ander rede glo sy hy bedoel elke woord wat hy sê. Omdat sy nie haar vakansie op so ’n suur noot wil begin nie, hou sy haar drankie na Luigi uit. Sy gooi haar rugsak oor haar skouer en tel haar drasak op. Sy weet dis seker ongelooflik min bagasie vir ’n internasionale model, en indien iemand dit sou oopmaak, sal hulle vind dit bevat net ligte klere en onderklere, niks uitspattigs nie. En natuurlik swemklere. Dis haar idee van ’n vakansie, nie ’n spul ontwerpersklere in ontwerperstasse nie. Indien sy enige iets anders benodig, sal sy dit koop.

“My ouboet het gepraat, Luigi. Ek sal jou more by die hotel kom opsoek.” Sy soengroet hom op albei wange, waai vir die ander jongmense en toe vir Carlos.

“Carlos, dankie vir die saamrygeleentheid.”

 

 

Advertisements

Brug na haar hart – Elsa Winckler

brug na haar hart_high res

Sy is nie vreeslik mal oor al die honderde sosiale media-moontlikhede nie, maar sy het begin om haar voltooide skilderye op Instagram te vertoon. Aanvanklik was dit vir haarself – om haar vordering te sien, om elke dag rekenskap aan haarself te gee van dit wat sy onderneem het om te doen. Maar baie gou het mense belangstelling getoon, bestellings begin plaas en foto’s aan haar gestuur van brûe in hulle omgewing waaraan hulle besondere betekenis heg.

’n Brug verbind, maak toegang wat onmoontlik was moontlik, dra vervoer. Haar tekeninge het brûe geword na ander mense in ander lande, ander kulture.

Maar ’n brug doen soveel meer. Haar ouma was haar brug na warmte, liefde, aanvaarding. Anders as haar ouers, het ouma Bel nooit haar keuses bevraagteken of haar laat voel sy is minderwaardig omdat sy nie ook soos hulle belangstel in ’n beroep in die finansiële wêreld nie.

’n Sielkundige sal seker nog baie ander afleidings kan maak uit haar keuse om brûe te skilder. Elke skilderytjie wat sy klaarmaak, laat sing haar hart, en sy weet elke keer sy is met die regte ding besig.

Nie in haar wildste drome het sy kon dink sy sou so suksesvol wees nie. Die piepklein skilderytjies trek wêreldwyd aandag – sy verskeep tot in Amerika daarvan. En die lekkerste van alles? Sy maak meer as genoeg om vir haarself te sorg. Ouma Bel se geld is veilig belê vir die huis wat sy gaan koop wanneer sy terug is op Stellenbosch.

Dis ook hoekom sy in een van die luukser huisies in die Tankwa-Karoo-park gaan bly en nie gaan kamp nie. Dit is iets wat sy so ver as moontlik probeer vermy.

Soms, wanneer sy nie anders kan nie, skilder sy portretstudies. Dié werke adverteer sy nie en kan sy aan niemand anders verkoop nie. Op hierdie stadium skilder sy dieselfde mens oor en oor en oor. Wanneer hy eendag uit haar sisteem is, sal sy enige emosie kan skilder, enige gesigsuitdrukking op doek kan weergee. Dit is dus eintlik ’n goeie ding, want sy oefen net.

Yeah, right. Sy pers haar lippe opmekaar. Sy wonder al so lank oor hom, oor die soen, oor wat sou gebeur het as sy nie die wille weghol gekry het nie. Nou het hy haar weer gesoen en sy is bevrees dit gaan nog moeiliker wees om daarvan te vergeet.

Haar klein viertrek begin vreeslik skud. Dis ’n ellendige pad. Sy vou haar hande stywer om die stuurwiel en konsentreer om die motor in die pad te hou. Dis toe sy om ’n draai kom dat sy die groot viertrek langs die pad sien staan en ’n man wat sy hand uitsteek. Haar motortjie bokspring oor die klippe en sy moet weer op die pad konsentreer.

Sy haal haar voet van die petrolpedaal af en loer in haar truspieëltjie. Daar is nie ’n ander siel in sig nie. Dis net sy en die man. Sy is maar skrikkerig om vir ’n vreemdeling stil te hou, maar sy kan ook nie die stomme man so laat staan nie, sy sal nooit vannag slaap nie.

Sy hou dus maar stil. Toe sy opkyk, ruk haar hart tot stilstand en sy kreun hardop. Die man langs die groot viertrek is niemand anders nie as Henno van Niekerk. Sy sit doodstil, want haar breinselle weier om te werk.

Hy kom stadig nadergestap en gelate draai sy haar venster af.

“Eva?” vra hy verbaas. “Ek dog jy is al by jou bestemming.” Hy kyk haar motor kopskuddend op en af. “Ek kan nie glo jy ry met hierdie dingetjie nie.”

“My motor ry, joune staan. Wat is jou probleem?” val sy hom dwars in die rede.

Hy staar minute lank na haar en kruis sy arms.

“Ek het sonder petrol gaan staan,” sê hy, hoogs geïrriteerd.

’n Giggel begin laag in haar maag en wil-wil opsluit uitbars, maar sy sluk dit met mening terug. Die kloppende spiertjie in sy wang is ’n aanduiding dat die man dalk ietwat opgewerk is.

“Dis jou gelukkige dag,” glimlag sy en wip uit haar motor. Sy stap om na die agterkant en maak die deur oop. “Ek het ekstra petrol. Omdat ek maar net ’n vroumens is, het ek geluister wat almal sê. En almal sê . . .”

“Ja, ja, oukei,” sê hy ergerlik. “Almal sê maak vol, daar is nie weer ’n vulstasie voor die Tankwa nie. Dink jy ek weet dit nie?” Met lang treë stap hy na die agterkant van haar motor, haal twee van die groot kanne petrol uit en sit dit op die grond neer.

“Waar bly jy? Ek sal terugry dorp toe, die kanne weer volmaak en aan jou terugbesorg. Ek het ook my kos by die gastehuis vergeet.”

Toe bars die lag eenvoudig uit, verby al die pogings om dit in te hou. Sy beduie met haar vinger na hom en probeer iets sê, maar die lagbui is nog lank nie klaar nie.

Henno kners op sy tande en kyk na Eva. Met haar hande op haar heupe, vooroor gebuig, lag sy hom uit. Hy het niemand anders om te blameer vir sy penarie nie, net homself.

Voor hy mooi dink wat hy doen, beweeg sy voete die paar tree tot by haar. Sy kom net weer regop toe hy voor haar staan. Sy pers haar lippe opmekaar in ’n poging om die lag te stop, maar honderde duiweltjies dans in haar oë.

Hy gee nog ’n tree nader sodat hulle feitlik teen mekaar staan. Haar oë rek, die duiweltjies hou op dans en sy trek haar asem hoorbaar in.

“Wil jy weet hoekom ek van alles vergeet het?” vra hy.

“Hoekom?”

“Oor jou,” sê hy.

Sy skud haar kop en laat sak haar ken. “Henno, dis . . .”

“Belaglik, ek weet,” sê hy en druk haar hare agter haar oor in.

“Moenie,” sê sy en ruk haar kop vervaard terug. “Vat die petrol. Ek hoop jy kom reg.”

Voordat hy iets verder kan sê, is sy terug in haar motor en trek sy weg dat die klippe spat. Hy staar die stofwolk lank agterna. Dis eers toe hy die petrolkanne optel dat hy agterkom hy het ’n breë glimlag op sy gesig.

Inspirasie vir Brug na haar hart

Eva Rademeyer is Lichen se vriendin in Byvoordele gewaarborg en Henno van Niekerk is Regard, die held in Byvoordele gewaarborg, se broer.

Toe ek besluit het Henno is ’n landkunstenaar en Lichen maak troukaartjies, het ek nie geweet ek moet ook hulle twee se storie vertel nie, maar met die bisarre spronge wat ’n mens se brein maak, het ek uiteindelik geen keuse gehad as om die twee se storie te vertel nie.

Ek het kontak gemaak met die baie bekende en bekroonde Suid-Afrikaanse landkunstenaar, Strijdom van der Merwe en het in die proses my hart op sy grootse werke verloor. Hy het met groot geduld al my vrae beantwoord en my met nuwe oë na die wonder van die natuur laat kyk. http://www.strijdom.com (Terloops ‘landkunstenaar’ is die term wat gebruik word teenoor ‘landskapskunstenaar’ wat na iemand verwys wat ’n landskapstoneel skilder).

Strijdom van der Merwe se kunswerke

Die talentvolle miniatuurkunstenaar, Lorraine Loots, was my inspirasie vir wat Eva doen. http://lorraineloots.com Ek het om een of ander rede besluit Eva skilder bruggies in opdrag van besoekers op haar sosiale media-netwerke. Ek het op Facebook vir mense gevra om vir my foto’s van brûe aan te stuur uit hulle omgewing – wat ’n heerlike ondervinding. Daar is mos net iets aan ’n brug.

Lorraine Loots se kunswerke. Hierdie is vanaf haar Instagram-blad

Terselfdertyd het ek ook op Pinterest ’n foto gesien van ’n brug wat deur die landkunstenaar Bob Verschueren gebou is – en dadelik geweet dís die brug wat Henno teen die einde van die storie vir Eva bou. https://www.pinterest.com/pin/48484133467021370/

Brug na haar hart was een van daardie stories wat my nog steeds bybly. Ek het soveel nuwe dinge geleer en moes diep delf om seker te maak die emosie wat ek ervaar, is te lese tussen die blaaie van die boek.

Reënboogbruid – Mari Grobler

reënboogbruid_high res

Haar eerste beker egte boeretroos proe soos manna uit die hemel. Sy lees die koerant deur, los dit op die tafeltjie vir iemand anders en gaan dwaal in die interessante lughawewinkeltjies rond.

’n Lang blonde man wat net soos Hubert Jones lyk, staan by ’n rak in ’n boekwinkeltjie en haar hart ruk. Toe hy verby haar stap, sien sy sy oë is bruin in plaas van blou, sy neus is langer en sy mond het ’n ander vorm. Sy wonder of dit haar voorland is om vir die res van haar lewe na glimpe van Hubert in ander mans te soek. Dis tog verregaande. Niemand sal ooit hy kan wees nie.

Sy is haastig om haar mense te sien en is een van die eerste passasiers wat aan boord gaan vir die vlug na Port Elizabeth. Gelukkig het sy ’n sitplek by ’n venster. Sy maak haar sitplekgordel vas, leun met haar kop teen die rugleuning en maak haar oë toe. Dis die eerste dag van Desember, ’n mooiweersdag vol somer. In Japan is daar nou wit sneeutoppe met verskillende skakerings van skadu’s in die berge.

“Sayonara, totsiens,” het sy vir meneer Laroche gesê toe sy hom moes groet. Hy het aan sy grys bokbaardjie gevat-vat soos hy altyd maak wanneer hy emosioneel word en sy gevoelens blitsvinnig weer agter sy amber oë verskuil. Japannese, selfs digters, glo die antwoord lê in dit wat nié gesê word nie.

“Mata dozo, come again,” het hy geantwoord en ’n opgerolde scroll met een van sy gedigte in haar hand gedruk. Sy het die scroll oopgerol en die woorde verstaan asof sy dit self geskryf het.

Slightly disguised words

like stars in the rain . . .

I knew you at first sight.

katoogFacebooktweede5

Sy het hom ook met die eerste oogopslag geken, dié middeljarige Japannees wat haar geleer het dat slegs eerlike gedigte misterieus en onsterflik word. Hy het haar gewys hoe om simbolies en dubbelduidend te skryf en ’n hele wêreld in die natuur te ontdek: insekte, reptiele, soogdiere, weersveranderinge, berge, plante, getye en planete. Dit sou wonderlik wees as sy hom en Hubert Jones in haar tas kon pak en kon saamneem huis toe. Sommer vir Su Fen ook, glimlag sy by haarself. Sy weet sy gaan die drie mense vir die res van haar lewe onthou en mis.

Tog voel sy opgewonde om binnekort weer in haar eie huis in haar eie kamer te slaap, maar sy weet sy sal Japan nooit kan vergeet nie. Die land het haar met ope arms ontvang en sy het in die drie maande van haar verblyf daar al hoe meer veroosters en soos ’n opregte Japannees gevoel. Die landskappe met die sagte skakerings in mis en helder kleure in die son is gedigte wat net wag om geskryf te word. Sy gaan veral vir meneer Laroche mis, wat vier tale magtig is en ’n Japannese haikoe in ’n oogknip in Engels kan vertaal.

Die middeljarige promotor met sy skerpkyk- half skelerige bruin oë en diep insig by wie sy so baie oor die skryfkuns geleer het, was terselfdertyd vir haar ’n pa-figuur in die vreemde, ’n vreemdeling wat daagliks al hoe meer bekend geword het. Sy het hom selfs van Hubert Jones vertel. Volgens hom is geen afstand groot genoeg om ware liefde te keer nie en dit sal wel oorbrug word. Sy moet leer om te wag soos die bome vir reën wag. Hy het haar aan Wang Wu herinner, die verbeeldingsmaat waarvan Ma- Simoné haar kleintyd vertel het. Haar ma is ook ’n enigste kind en het dié maat vir haarself opgetower nadat ’n familielid vir haar ’n Oosterse boek gegee het met ’n prentjie van ’n ou Chinees in syklere daarin afgedruk. Sy wonder hoekom sy en Ma-Simoné albei so met die Ooste gepla is.

Gelukkig was my Wang Wu ’n vlees-en-bloed- mens, dink sy verlig. Ek het die voorreg gehad om hom te leer ken. Hoe gaan ek nie daarna verlang om saam met hom gesoute pampoenpitte te eet, ryswyn te drink en gedigte te skryf nie? Hy het my vakgebied verstaan en my nooit ongemaklik laat voel in sy teenwoordigheid nie. Hoekom het ek nie eerder op hom in plaas van Hubert Jones verlief geraak nie?

Die aankondiging dat hulle binnekort gaan opstyg en hulle sitplekgordels moet vasmaak, verbreek haar diep gedagtegang en ruk haar terug tot in die hede. Sy weet sy en meneer Laroche en Su Fen sal ten minste kontak hou, maar Hubert het soos ’n skim in Taiwan agtergebly. Hy het nie eers haar foonnommer of adres nie. Van hom sal sy nooit weer hoor nie. Net die blote gedagte gaan lê soos ’n swaar klip in haar hart.

Sy leun met haar kop teen die venster toe die vliegtuig die aanloopbaan bevlieg soos ’n windhond met terpentyn onder sy stert se sagste plek. Toe hulle opstyg, kyk sy oor die vlerk van die metaalvoël wat al hoe verder weg van Hubert vlieg. Hugh wat sy nooit weer sal sien nie, Hugh wie se beeld soms nog so fel in haar geheue vassteek dat dit voel of sy hom kan aanraak as sy haar oë toemaak en haar hand uitsteek. Sy hoop maar die beeld sal mettertyd heeltemal vervaag. Gelukkig sit daar niemand langs haar nie en kan sy rustig in haar gedagtes afskeid neem van alles wat sy in die Verre Ooste moes agterlaat, die goeie en die slegte. Sy dommel weg en droom ’n verspotte droom van haar en Hubert wat op die rug van ’n getemde Oosterse draak bokant wolke vlieg.

Sy skrik wakker en maak die haikoeboek wat Hubert vir haar gegee het oop. Daar was nie tyd om dit in Japan te lees nie. Sy was te besig om haar eie haikoes te skryf. Sy blaai deur die boek en sien ’n klein opgevoude stukkie papier tussen die blaaie. Toe sy dit oopvou, sien sy daar is iets in Hubert se hoekige handskrif geskryf. Minette, ek het dit nooit in reguit woorde vir jou gesê nie. Die Chinese versluier dit wat vir hulle werklik waardevol is, maar ek wil graag hê jy moet dit weet. Ek sal jou liefhê tot die Sewe Susters eendag in die Melkweg se arms gaan lê. Hubert Jones.

Jeanette Stals: die speurder agter Katoog

Katoog is LAPA Uitgewers se eerste spanningsroman vir 2016; ons leer ken die skrywer agter die pen.

Ek sal die gelukkigste persoon in die wêreld wees as:

Alle hulpelose en magtelose skepsels (mense sowel as diere) iemand kon hê wat vir hulle omgee. Te veel kinders word verwaarloos –  fisies sowel as emosioneel . Hulle dwaal rigtingloos dwaal en kom nooit by ’n sinvolle, gelukkige bestaan uit nie. Te veel honde en katte is aan bitter slegte omstandighede blootgestel. Die mens het eeue gelede honde begin ‘domesticate’ wat beteken hulle is van mense afhanklik gemaak. Ons behoort hierdie verantwoordelikheid ernstiger op te neem.

Ek’s niks as dit nie was vir…

Gesien in die wyer konteks van die skrywers milieu, ’n onbekende beginner wat een klein vissie is in ’n GROOT dam met REUSE visse wat daarin swem. Maar nietemin dankbaar om my daar te bevind.

As ek verveeld is …

My dae en jare is eintlik te kort om plek te hê vir verveling. Sou eerder meer tyd wou hê om te lees en te skryf. Wie weet? Met meer tyd op hande sou ek dalk ’n beter antwoord kon verskaf op hierdie vraag.

Vrede omring my as…

Mooi musiek speel of as ek my in die ongerepte natuur bevind.

Waar wil jy op vakansie gaan?

Enige van Afrika se wildreservate. Ek is veral lief vir die Kruger-wildtuin. My ander keuse sou wees iewers afgeleë soos Ysland, die Amerikaanse of Suid Amerikaanse wildernisgebiede. Ek sien elke keer op TV nuwe en onbekende plekke waar die natuur min of meer nog in beheer is.

Watse verrassings is in jou beursie?

Alles wat ek normaalweg mag nodig kry, buiten veel geld.

Ek kan regtig leef sonder…

Mense, maar seker net vir ’n beperkte tyd. Het dit nog nie regtig uitgetoets nie en dalk werk dit gladnie.

Niks, ek herhaal niks, kom tussen my en my…  

My kinders en familie.

Wat’s jou gunsteling  woord?

Moet ek een kies? Soveel ongelooflik beskrywende, emosioneel belaaide en bloot pragtige woorde in ons geliefde taal.

My trooskos is…

Lindt se donker sjokolade! Die Orange Intense as dit beskikbaar is.

download

Wie is Jeanette Stals as sy van haar skrywerstoel af opstaan?

’n Ouer vrou met vier seuns en twee kleinkinders, gelukkig getroud met ’n gawe man. Doodgewoon en niks om oor huis toe te skryf nie.

Wat is jou skryfproses? Het jy ’n vaste roetine of skryf jy organies?

Mens kan dit seker organies noem. Word gewoonlik baie vroeg wakker met idees en stemme (dialoog) wat deur my kop loop. Skryf dan tot ongeveer 10:00. Daarna droog dit op en doen ek liewer iets anders.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Om die manuskrip oor en oor te lees en te verfyn was nogal tydrowend en nie so bevredigend soos om die gebeure die eerste keer nuut en vars te beleef en beskryf nie.

280bdedf4881401925786869ae69df88

Waarom die spanningsgenre? Is dit een van jou gunstelinggenre?

Ek hou baie van spanningsverhale. Die wie, wanneer en hoe is vir my interessant, maar ek vind veral die waarom fassinerend. Ons weet almal wat reg en wat verkeerd is. Wat kan dus die redes wees waarom mense sekere besluite neem en soms teen hulle beterwete daarmee deurdruk?

Wat was vir jou die belangrikste: plot, karakter, ruimte, atmosfeer of tema?

Ek raak nogal betrokke by en lief vir my karakters, maar moes noodwendig ook aan die ander aspekte aandag gee. Anders werk dit mos nie.

Het jy, nadat Katoog vir publikasie aanvaar is, in alle opsigte na jou keurder geluister?

Min of meer, ja. Soms in die stilligheid geswets, maar eindelik aanvaar die mense met die ondervinding weet van beter. Veral nadat ek gesien het hoe die veranderings wat ek implementeer die manuskrip in die geheel  verbeter.

katoogFacebooktweede2

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers? Ek sou wil vra: Sien jy kans om

  1. vir BAIE ure hard te werk?
  2. Om na kritiek te luister sonder dat dit jou persoonlik ontstel? (Of jy nou daarmee saamstem al dan nie)
  3. Om oor en oor te werk aan aspekte waar dit nodig blyk te wees

Indien ja op hierdie vrae, gaan dan voort en geniet dit! Daar is sekerlik min beroepe waaruit jy soveel genot sal put.

 

’n Duisend keer ja – Felicia Snyman

'n duisend keer ja_high res

“Dis darem ’n glimlag waarvoor ek nooit sal kan moeg word nie.”

Sy wip van die skrik. Wat is dit met hierdie man wat altyd op die vreemdste tye soos ’n duikboot in haar lewe opduik. Hy staan baie naby aan haar. Dankie tog hy kan nie gedagtes lees nie, anders was sy nou in ’n lekker tameletjie gewees.

Sy loer skuins op na hom. “Miskien sien jy dit net te min.” Sy kan nie help om weer te glimlag nie.

“Daaraan sal ek beslis moet aandag gee. Ten minste een keer ’n dag vir doeleindes van die gevallestudie.” Hy glimlag terug en haar hart bokspring opnuut.

“En dan is hy nog intelligent ook. Wat staan ’n mens te doen?”

Hy lag vir haar speelse opmerking en raak haar liggies aan om te wys sy kan maar instap.

Haar rug trek styf. Haar lyf reageer soos ’n tiener s’n op die ligste aanraking van hom. Sy maan haarself aan en fokus op die taak op hande. Om ’n sitplek in ’n restaurant in te neem kwalifiseer seker nie as ’n taak nie, maar met hom so naby aan haar is haar konsentrasie maar min.

Die dag verloop goed. Almal babbel onophoudelik en vrolik. Sy en Raquella stap later kleedkamer toe. Haar suster wag net totdat hulle buite hoorafstand is toe sy opgewonde uitroep.

“Julle sal so ’n oulike paartjie maak.”

“Sjuut! Is jy laf? Netnou hoor iemand jou. Ons is bloot besig om mekaar te leer ken. Daar is nog absoluut niks om oor opgewonde te raak nie.”

“Ek sê jou nou daardie man dink jy is ’n engel wat in watte toegedraai moet word, en jy lyk so gelukkig, asof die wêreld van jou skouers afgeval het.”

“Ek is gelukkig. Kom ons gaan terug. Netnou begin hulle dink ons bly ’n bietjie te lank weg en begin ongemaklike vrae vra.”

Hulle giggel toe hulle terugstap.

Sy sien hoe Le Roux opkyk en stip na haar kyk. Sy oë steek nie vir een sekonde weg dat hy hou van wat hy sien terwyl hy na haar kyk nie. Sy voel ontbloot onder sy sterk blik en kyk vinnig af grond toe.

Hy staan op. Toe hy by haar kom, vee hy liggies oor haar wang voordat hy verder stap. Sy bloos bloedrooi toe sy Raquella se opgewonde gesig langs haar sien. Sy sug net. Dit is ’n hopelose stryd wat sy teen haar eie hart verloor het.

“Hy moes ’n foonoproep gaan maak het,” verduidelik Deon sonder dat enige iemand spesifiek gevra het. Hy ken hierdie twee susters ook beter as wat hulle dink. Twee nuuskierige agies wanneer hulle enigsins in iemand se doen en late belangstel, natuurlik.

Oomblikke later voel sy Le Roux se groot hand saggies op haar skouer rus. Hulle kyk almal vraend na hom.

“Baie dankie vir die wonderlike dag, julle. Ek moet ongelukkig teruggaan plaas toe. Die werkers het die pype per ongeluk in die windpomp se gat laat afval. Dit is ’n ramp in die kleine. Ek sal tien teen een iemand moet inkry om dit te kom uithaal.”

“Ai, dit is omtrent nou ’n situasie wat jy op hande het. Sterkte en dankie dat jy saamgekom het. Laat weet as ons met iets kan help.”

“Dankie, Deon.” Hy gee Deon ’n ferm handdruk. “Raquella. Goed om jou weer te sien. Sê vir Caleb ek het gegroet. Hy speel seker nou. Christabella, sal jy saam met my stap?” Hy hou sy hand na haar toe uit en sy neem dit sonder aarseling.

Hulle loop in stilte by die restaurant uit en tot by sy bakkie. Le Roux sluit oop en duik amper met sy hele lyf in die kajuit in om iets uit te haal. Christabella rek haar nek om te probeer sien wat dit is.

Hy vat haar hand en sit iets in haar palm voor hy sy hand weer wegneem. Dit neem haar ’n oomblik om te registreer wat dit is. Haar gesig helder op en sy kyk met glinsterende oë na hom.

’n Klein bossie veldblommetjies is aan ’n windpompsleutelhouertjie van hout vasgemaak. Dit is delikaat en fyn.

“Dis pragtig. Is dit myne?”

Hy glimlag breed vir haar kinderlike opgewondenheid en tik haar op die neus.

“Verseker. Ek het dit nou die dag in ’n winkel gesien en dadelik aan jou gedink aangesien jy my byna al ’n klomp hartaanvalle gegee het oor jou obsessie met windpompe. Eintlik dink ek nogal baie aan jou.”

Sy ontmoet sy blik. “Jy oordryf nou, maar ek gaan jou vandag verskoon. Dis vreeslik mooi. Baie dankie.”

Sy kyk eers weer na die geskenkie voordat sy opkyk. “En ek dink baie aan jou ook.” Haar woorde kom sag uit.

Hy tree effens nader aan haar.

“Dit vat al my selfbeheersing om jou nie nou net hier in die straat in my arms te neem en te soen nie.”

Sy eerlike woorde laat haar bloos. Haar mond voel droog en sy lek oor haar lippe. Hy streel sag met sy duim oor haar onderlip en sy voel hoe haar hele wese weer begin smelt. Sy oë volg die vorm van haar mond. Dit vat al haar selfbeheersing om hom nie nader te trek en te soen nie.

Sy skud haar kop verward. Dis ongetwyfeld ’n nuwe gedagte. Hy tree weer agteruit en sy wonder of hy dit doen om sy selfbeheersing te behou.

“Jy is iets besonders.” Hy laat die woorde in die lug hang.

Sonder om te dink sit sy haar palm op sy wang. Hy neem haar hand en soen die binnekant daarvan. Toe draai hy om, klim in sy bakkie en ry weg.

Verby die omslag: Felicia Snyman

Felicia Snyman se eerste Romanza, ’n Duisend keer ja, het pas verskyn. Ons leer ken die vrou agter Christabella en Le Roux se verhaal.

Beroep: Ek is ’n prokureur en voltydse regsdosent

Woon in: Die pragtige Jakarandastad, Pretoria.

Stokperdjies: Ek jag, speel kitaar, doen pilates, fliek, sing en dans! Ek skryf graag gedigte, maar hou dit as bloot ‘n stokperdjie. Dan speel ek ook soms golf en geniet dit om rugby te kyk.

Troeteldiere: ’n Boston Terrier, genaamd Rocky Snyman

Ek sal die gelukkigste persoon in die wêreld wees as …

Al my boeke gepubliseer kan word en ek eendag blywende voetspore in die Afrikaanse taal kan nalaat. Indien ek iemand se lewe kan verryk soos my ouers my lewe het.

Liefde is soos …

Ou plate. Dit laat jou verlang na mense wat jy nie ken nie, weet hoe om ’n hartseer hart te laat sing en daar is altyd die opgewekste verrassings. Net soos die liefde: dit laat jou spontaan lag, skielik huil, jy wil dans van blyskap en soms wil jy net toegevou word in die beskerming daarvan.

download

Ek’s niks as dit nie was vir…

My twee wonderlike ouers en my lieflike suster nie. Hulle het my al die geleenthede gebied waaroor ek kon droom en nog meer. Kan ook nie my ondersteunende familie en vriende vergeet nie.

As ek verveeld is …

Luister ek musiek en sing uit volle bors saam. Soms ontwikkel dit in ’n bietjie liggaamlike bewegings ook.

Vrede omring my as…

Ek omring is deur die skoonheid wat God gemaak het; plaas, see, berge. Of in my huis is met ’n lekker glas rooiwyn en ’n plaat wat speel.

Waar wil jy met vakansie gaan?

Egipte! Dit is die een plek wat ek vandat ek ’n kind was wou besoek. Dink dit is ’n fassinerende land met soveel onverklaarbare verskynsels.

images

Watse verrassings is in jou beursie?

Skuifspelde, haarknippies en skaammakende foto’s van my en my ouer suster.

Ek kan regtig leef sonder…

Tegnologie. Veral ’n selfoon. Ek mis briewe, lang gesprekke en ’n huistelefoon wat lui. (Kan net nie my skootrekenaar wegneem nie!)

Niks, ek herhaal niks, kom tussen my en my…

Boston Terrier nie!

Wat’s jou gunstelingwoord?

Afrikaans!

Afrikaans Stamp

My trooskos is…

Mamma se kos. En tee! Tee kan selfs ’n gebroke hart genees…

Jy eerste romanse het pas verskyn. Vertel ons bietjie die storie: het jy ʼn oproep of ʼn e-pos gekry? Hoe het jy gevoel? Wat het jy gedoen om die geleentheid te vier?

Dit was ’n Saterdagoggend. Ek was besig om assistent te speel vir my tandarts-vriendin (so bietjie navorsing vir ’n boek dalk) toe ek die e-pos ontvang het. Dit was angswekkend. Ek was te bang om die e-pos oop te maak. Die nuus was ongelooflik! Ek wou begin huil en lag en sommer alles deurmekaar. En dit is presies wat ek en my vriendin gedoen het. Ons het amper op en af gespring en nie ’n vlieënde piering omgegee of die pasiënt dink ons is die kluts kwyt nie! Daarna het ons dit gaan vier met soetgoed en iets in ’n langsteelglas. Dit was die grootste voorreg om die goeie nuus te ontvang. Dink ek en my gesin vier dit nou nog!

Waar sonder kan jy nie leef nie?

Tee, musiek en Labello (‘lip-ice’)

Wie is jou drie gunstelingskrywers?

As ek vinnig moet dink, op hierdie oomblik: Deon Meyer, Ena Murray en Nicholas Sparks.

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

Anthony Hopkins, dink hy is ’n ongelooflike interessante en talentvolle mens; my oorlede ouma Annetjie, sy was die stylvolste mense wat ek al ooit teëgekom het en Dot Serfontein, sy is ’n merkwaardige voorbeeld vir elke vrou.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Eerstens: By die skryfskool in Potchefstroom: kreatiwiteit val nie uit die lig uit nie. Wees bereid om agter jou werk te staan en dit te verdedig, maar ook te luister na goeie raad en gesonde en opbouende kritiek.

Tweedens: My familie: “Gaan sit op jou bas en skryf. Moenie verskonings, soos skrywersblok, soek nie.”

Watter boek kan jy herhaaldelike lees?

Dokter Delmarie deur Ella van der Mescht! Dit is een van die eerste liefdesverhale wat ek gelees het en ek lees dit elke jaar weer. Liefdesverhale − ek is mal daaroor om my gunstelingdele oor en oor te lees.

Werk jy tans aan ’n boek?

Jip. Ek is amper klaar met die manuskrip vir ’n Romanza. Ek is ook besig met die beplanning van ’n volgende boek waarvan my karakters my net eenvoudig nie met rus wil laat nie. Hul storie moet vertel word en ek is die uitverkore tikster.

14762-Typewriter

As jy vir ’n dag as ’n ander bekende skrywer kan leef, watter skrywer sal dit wees? En hoekom?

Deon Meyer. Hy het al soveel bereik en is trots om in sy taal te skryf. Hy maak ’n impak in die Afrikaanse letterkunde deur sy taal-spore diep te trap. Hy skryf eerlik en op die man af. Ek glo daar was kere wat hy ook wou tou op gooi, maar dink nie dit het hom ooit gestop nie. Miskien as ek voorbarig kon wees, sou ek ook Dina Botha wou wees. Vir die eenvoudige rede om uit te vind waar kom al haar lieflike storie idees vandaan.

Waarom romanse-genre? Is dit een van jou gunsteling genre?

Romanse-genre is verseker een van my gunstelinggenre. Verhoudings is waaroor die lewe gaan of dit nou werksverhoudings, broers en susters of die alombekende liefdesverhouding is. Daar is soveel gevoel in die romanse-genre. Jy kan saam met dit leef, groei, droom en reis na plekke waar jou hart en siel weer vrolik sing. Ek wil daardie gevoel by lesers tuis bring.

Watter boek/e is op die oomblik op jou bedkassie?

My Bybel; Kambro-kind deur F.A Venter; Ware noord deur Elsa Winkler; Tjoklits vir die siel deur Susan Coetzer; Confessions deur James Patterson en Ballade vir ’n enkeling deur Leon van Nierop. Ek is seker wat mense ’n reeks-leser sal noem. Ek is gaande oor lees en sal iets in elke genre aandurf.

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

Steeds ’n regsdosent. Die regte is ’n veranderende en interessant veld waarin mens daagliks iets wys kan word. Dit is deel van my passie om mense te help om hul volle en intellektuele potensiaal te bereik. Ek sal nooit kan ontvlug van my honger na leer, lees en skryf nie.

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees?

’n Hond in ons huis. Hulle word oorlaai met liefde en bederfies. Hulle kan heeldag lê en word behoorlik bedien. Al tel hul ’n bietjie gewig op word hulle net mooier en kry nog meer speelse komplimente.

Op ’n ernstiger noot sou ek graag ’n beroemde persoon wou wees, vir een rede en een alleen: Om die mag te hê om ’n verskil te maak, om mense te onderrig en te lei om hul drome en potensiaal te bereik, ongeag hul agtergrond en tekortkominge.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Dit klink baie clichè: maar glo in jouself en jou drome. Moenie opgee nog voordat jy probeer het nie. En lees! Lees soveel as wat jy kan. Die beste lesers is ook die beste kritici.

Maart Romanzas

 Brug na haar hart – Elsa Winckler

brug na haar hart_high res

Vyf jaar ná ’n vurige soen tussen hulle by haar vriendin se troue, is Eva oortuig dat Henno uiteindelik uit haar sisteem is … Maar hy staan nou lewensgroot voor haar en haar hart tamboer sy naam.

Een laaste somer – Dina Botha

een laaste somer_high res

Carmin het haar kans om Alexus se hart te verower, verbeur. Nietemin moet sy die spoke van haar verlede in die gesig staar. Alexus het nou ’n meisie, maar hoekom tree hy so jaloers en beskermend teenoor haar op?

Reënboogbruid – Mari Grobler

reënboogbruid_high res

Minette is in Taipei, Taiwan, om meer oor haar biologiese ouers uit te vind, maar sy is eensaam in dié bedrywige stad. Die aantreklike mede-Suid-Afrikaner Hubert Jones laat haar hart vinniger klop, maar hy is veertien jaar ouer as sy.

’n Duisend keer ja – Felicia Snyman 

'n duisend keer ja_high res

By die Nampo-oesdag loop Christabella haar vas in Le Roux, ’n blou-oog marmerman, wat haar verkeerd opvryf. Le Roux is haar swaer se vriend en hulle sien mekaar nou noodgedwonge gereeld – dan spat die vonke.

 

Maart romans is hier!

KATOOG – Jeanette Stals

Katoog

Luna, ’n jong speurdersersant, moet die saak oplos van ’n meisie wie se lyk in ’n riviertjie gekry word. Maar wie is die meisie, met wie het sy kontak gehad en waar het sy vandaan gekom? Aanvanklik lyk dit nie of Luna eens hierop antwoorde gaan kry nie, tot ’n verwaarloosde meisietjie van haar afhanklik raak en haar onwetend op ’n spoor plaas.

Dit bring egter net nuwe probleme. Luna raak bewus van ’n motorfietsryer wat net te dikwels agter haar op ’n openbare pad verskyn, later voor haar woonplek, en hy probeer nie juis onopsigtelik wees nie. Die dwelmwêreld wat voor haar oopmaak, is ook nie ’n verwikkeling waarop sy gereken het nie. Luna word terselfdertyd gekonfronteer met kennis uit haar persoonlike verlede wat al net ’n vae herinnering geword het. Is luitenant Johan Botha wie sy dink hy is?

 

OORLEWINGSGIDS VIR ’N BEDONNERDE DIVA – Sophia Kapp

Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva

Dit is Simoné se annus horribilis. Op vier en veertig stap sy vir die tweede keer uit ʼn huwelik, bankrot, werkloos, moedeloos, verbrysel. Al wat sy het om van vier en veertig jaar te wys, is ʼn bedenklike verlede, ʼn tienerseun wat skaars met haar praat, en die besef van mislukking en ontoereikendheid wat soos ʼn meulsteen om haar nek hang. Al waarheen sy het om te gaan, is die kleinburgerlike dorp op die Oos-Vrystaatse platteland waar sy grootgeword het, waar haar konserwatiewe ma en konvensionele suster haar gedurig aan haar tekortkominge kan herinner. Rock bottom, dis waar sy is.

Maar omdat dit al is wat daar is om te doen, begin sy herbou; aan ʼn loopbaan, ʼn vriendekring, haar verhouding met haar kind, haar verhouding met haar ma. Aan haar vertroue in haarself. Stelselmatig kom daar lig, en sin, en rigting, selfs vir haar.

Al waarvoor sy glad nie reg is nie, is Barnard Richter, wat van haar verwag om ten spyte van alles wat sy nie kon vermag nie en alles wat sy nooit sal kan wees nie, weer in die liefde te glo.

Onthou om môre saam met Sophia te kom kuier!