Madelie Human

MadelieMadelie vind dat sy dit die meeste geniet om romantiese komedies te skryf. Sy glo daar is oorgenoeg seer en swaarkry in die lewe en  skryf omdat sy mense wil help om, al is dit net vir ‘n rukkie, daarvan te ontsnap en na ‘n wêreld waar daar altyd hoop op geluk en liefde is, weg te voer.

Die hele idee is om die leser te vermaak en nie om te filosofeer oor die liefde of te wroeg oor diep en donker dinge nie. Haar stories is natuurlik nooit suiwer humor nie, want die lewe is mos nie regtig so nie. Haar karakters beleef ook hulle deel van swaarkry, maar humor dra hulle daardeur en die liefde help hulle om struikelblokke te oorwin.

Natuurlik is haar helde aantreklik, sterk, tone-krul sexy en bowendien sensitief vir die heldin se gevoelens, want geen volbloed romanse kan daarsonder nie. Op haar beurt is die heldin vir hom baie mooi, sag en vroulik, maar sy is ook ‘n vrou wat weet wat sy wil hê en is boonop suksesvol op haar gebied – geen pushover nie. Dit verskaf gewoonlik heerlike konflik tussen die twee wat die leser aan die omblaai hou en die kos in menige huishouding se potte laat aanbrand terwyl Ma haar boek nie kan neersit nie.

Madelie wil hier met lesers gesels wat haar skryfsels geniet sodat sy kan hoor hoekom hulle daarvan hou. Sy wil net so graag gesels met lesers wat haar werk nie geniet nie en sy sal ook wil weet hoekom, sodat sy daarop kan verbeter.

Besoek gerus Madelie se Facebook-blad by https://www.facebook.com/pages/Madelie-Human/130512203691742 of gesels gerus saam op haar blog:  http://madeliehuman123.wordpress.com/

 

Madelie Human se boeke:

REEKS: Die mense van Le Fleur

  • Wilde hawer
  • Altyd die strooimeisie
  • Kolwyntjie
  • Terug na Jou
  • Le Fleur se Hartebreker
  • Handomkeer
  • Onwelkome geskenk

Madelie Human se nuutste juweelHandomkeer_Madelie Human

Trilogie:

  • Om Ben lief te hê
  • Om Dirk te tem
  • Om Kobus te ken

Om Ben lief te hêOm Dirk te temOm Kobus te ken

Kaalvoetbruid
  • Myne vir altyd
  • Alles of Niks
  • Pad vol dubbeltjies
  • Jy’s die een
  • Optelgoed is Hougoed
  • Genoeg is genoeg:
  • Onwelkome geskenk
    Halsoorkop
  • Voltooide Sirkel
  •  Allesbehalwe

59 thoughts on “Madelie Human

  1. Madelie Human says:

    Weet jy dat “Om Kobus te ken” die opvolg op hierdie twee is? Hoop jy kan hom nog iewers in die hande kry, Dis wel beskikbaar as e-boek. mens kan mos deesdae die e-leser apps gratis aflaai en dan die boek op jou rekenaar lees as jy nie ‘n e-leser het nie.

  2. a says:

    Hallo madelie, om ben lief te he en om dirk te tem was vir die mooiste stories, ek is mal oor al jou storie, ek leef my so in die storie in, ek sal graag wil weet wat gebeur verder in n storie.

  3. Ronelle says:

    Hi Madelie
    Ek het uiteindelik VOLTOOIDE SIRKEL gelees. Dis was regtig ‘n diep verhaal en jy het dit meesterlik weergegee. Jy mag maar, vrou, jy mag maar! Riette kon nie anders om later smoorverlief te raak op Henning nie!
    Baie dankie, ek het lekker gelees!
    Nou wag ek vir die volgende ene!

  4. Rika Du Plessis says:

    Ek het eindelik jou Voltooide sirkel gelees. Ek het hom bietjie “dieper” gevind as jou ander romanzas waar telkens ‘n tikkie humor te bespeur was, en weet jy wat, ek het daarvan gehou. Sommige lesers verkies die ligter trant by die romanses, en ek geniet dit ook, maar soms soek ek ‘n bietjie meer erns wat daarmee gepaard moet gaan, en dit het ek in Voltooide sirkel gekry – dis ‘n pragtige verhaal.

    • Madelie Human says:

      Dankie, Rika! Ek waardeer jou terugvoer. Ja, mens se stories kan tog nie almal op dieselfde trant wees nie. Ek het dit nogal geniet om meer ernstig te raak.

  5. Ronelle says:

    Baie geluk mer Voltooide sirkel, Madelie! Ek kan nie wag om my boek te kry en te lees nie! Hoop die volgende een is al klaar weer reg vir publikasie!

  6. Madelie Human says:

    Dankie, Ronelle! Dis goed om te hoor wat jy hier te sê het. As jy verlief geraak het op Brink, het ek as romanseskrywer geslaag in my doel.

    Ek was self op my dag so verlief op die hoofseun van die skool soos Tharien en weet net hoe daardie onbeantwoorde liefde voel.😉

  7. Ronelle says:

    Hi Madelie
    Groot was my vreugde toe ek OPTELGOED IS HOUGOED in ons plaaslike biblioteek raakloop. Ek was so opgewonde soos ‘n kind oor ‘n rooi stokkielekker EN …. jy het my weereens nie teleurgestel nie!!! Ek het heerlik gelees aan Tharien en Brink se verhaal.

    Baie dankie vir jou kundigheid met woorde, dat jy dit met ons deel. Ek het regtig verlief geraak op Brink!

    Ek het HALSOORKOP al deur die pos ontvang. My Romanza boekies hou ek vir ekstra spesiale geleenthede. Ek moet myself dwing om nie dadelik die boeke te gryp en te verslind nie. Dit kos nogal wildskrag om die lekker so ‘n bietjie uit te rek, want hulle lê gewoonlik op my bedkassie, so die versoeking is elke dag daar!

    Sal jou laat weet wat ek dink!

    Lekker skryf aan jou volgende! Sien baie uit daarna!

  8. Ronelle says:

    Hi Madelie

    Baie geluk met Halsoorkop!

    Kan nie wag om dit te lees nie! Ek hoop dit is weer propvol lekker humor, en lekkerlees verassings!

    Sien baie daarna uit!

  9. Suzette Smit says:

    Ek was gelukkig genoeg om ‘n “preview” van Onwelkome Geskenk te hê. Wat ‘n heerlike ervaring! Ek het myself totaal verloor in Marile se innerlike stryd om die onwelkome geskenk te hou – of terug te stuur.
    Die pragtige skryfstyl, humor, eg menslike karakters en seksuele spanning werk alles saam om mens se aandag vas te vat en dit dwarsdeur die boek te hou.
    Ek was skoon hartseer toe ek die boek klaar gelees het, wou nog gehad het dit moet aanhou en aanhou …

  10. Madelie Human says:

    Dankie vir die inloer, Marie-Louise. Sjoe, en dankie vir die komplimente, dit maak my sommer lus vir skryf. My nuwe boek, Onwelkome geskenk, verskyn in Maart. Halsoorkop sien die lig in Junie. Voltooide sirkel is ook klaar en sal hopelik gekeur word vir later in die jaar. Hoop die drie stel jou nie teleur nie. Ek werk ook alweer heerlik aan nommer veertien.

  11. Marie-Louise says:

    Hi Madelie! Ek kan nie wag vir jou volgende romanse nie – hoe lank nog? Jy is regtig my gunsteling Afrikaanse romanse skrywer – ek geniet jou boeke vreeslik! Jou karakters is diep en eg genoeg dat mens voel asof hulle enige oomblik uit die bladsy kan spring, en jou konflik is net so realisties en is sterk genoeg om ‘n mens dwarsdeur jou boeke te boei. Ek geniet die heerlike humor – wat ook altyd net reg is: geloofwaardig, nie ‘over the top’ nie. Ek hoop ons kan uitsien na nog ‘n hele paar titels in 2011.

  12. cecilia nortje says:

    Madelie
    Genade, maar jy het ‘n lekker klomp inskrywings op jou blog! Ek is soooo jaloers. Toemaar, ek gaan ook nog eendag famous wees.
    Ek het vir jou ‘n sms gestuur na ek nou die aand Myne vir altyd gelees het, maar jy het nie gereageer nie. Miskien het hy verdwaal. Ek MOET net vir jou vertel hoe ek die boek geniet het. Dis nou skryfKUNS daai. Ek verlang nou nog terug na die karakters! Wow, as jy daai Ryk-man van papier af in lewende lywe kan kry, is hy myne!
    Alle grappies op ‘n stokkie – jy het regtig alles reg gedoen. Interessante, diep karakters geskep, ‘n snaarstywe seksuele spanningslyn aan die gang gehou en les bes, nie ‘n eks-blond/rooikop laat opduik om moeilikheid te maak nie. Ek het jou heldin die meeste geniet. Haar persoonlike issues was genoeg om spanning te skep. Madelie, jy MAG maar skryf.

    • Madelie Human says:

      Dankie vir jou mooi woorde, Cecilia. Het beslis nie jou SMS gekry nie, anders sou ek definitief reageer het.

      “Myne vir altyd” was een van my eerste boeke, so ek waardeer jou kommentaar soveel te meer. Ek leer nog met elke manuskrip iets by. Dis wat skryf so lekker maak.

  13. Suzie Combrinck says:

    Madelie, ek is in die gelukkige posisie om te se dat ek al jou boeke het, en wanneer daar ‘n nuwe een in die pyplyn is, kan ek byna nie wag om dit te kry nie. Ek het die drie “manne” -boeke baie geniet omdat dit my die gevoel gegee het dat ware vergifnis en liefde is baie nodig in ons lewe, eers wanneer werklike vergifnis gegee word, kan die liefde seevier. Dankie vir ‘n stel pragtige boeke.
    Suzie

    • Madelie Human says:

      Baie dankie vir jou kommentaar, Suzie. Dis so lekker om te hoor van iemand wat met insig lees.

      Die ‘manne’ boeke lê my na aan die hart en is geïnspireer deur die baie kinders wat ek in my jare in die onderwys mee te doen gekry het, wat sonder ‘n pa moes grootword. So baie mans geniet wat daar te geniet is en dan keer hulle die rug na die verantwoordelikheid wat dit meebring.

      ‘n Kind het eendag op die Oprah program gesê: “There is a hole in my soul in the shape of my father.”

  14. Somé Greeff says:

    “Om Ben lief te hê” is die beste boek wat ek nog in die 17 jaar wat ek op hierdie aarde is gelees het. Ek het dit by die biblioteek uitgeneem, maar wil dit graag koop. Waar kan ek dit kry? Ek soek myself dood!

    • Madelie Human says:

      Somé, wat ‘n uitsonderlike naam! Ek is ‘chuffed’ om te hoor ‘n tiener geniet ook my stories.

      Ben se boek is ongelukkig lankal uitverkoop en uit druk uit, maar die goeie nuus is: Ben se storie kom volgende week uit as ‘n e-boek. As jy na die 1ste Julie gaan kyk by http://www.kalahari.com sal jy hom te koop kry as ‘n elektroniese boek wat jy kan download op jou rekenaar en dit kos presies dieselfde as ‘n gewone boek. Cool, nè?

      Jy sal net jou ma of pa se kredietkaart benodig vir die e-transaksie.😉

  15. Magdaleen Walters says:

    O, ja, soos jy kan sien het ek so min of meer reggekom met die rekenaarprobleempie wat ek gehad het en kan ek weer op julle persoonlike geselsruimtes ingaan.

  16. Magdaleen Walters says:

    Madelie,
    Dankie vir jou vertellingkie van jou mammie wat my storie geniet het. Ek en jy is gelukkig om nog ons ma’s te hê, weet jy. Myne kuier op die oomblik by my, ‘n uitgesproke mens wat te alle tye 100% eerlik is. Sy’t net vanoggend so met ons Romanza-blaadjie in die hand gesit en toe gesê die heldin op my nuwe boek se voorblad is darem regtig ‘n lelike mens met ‘n knopneus. Maar darem nog nie so lelik soos daardie ander boek waar mens net ‘n stuk kaal rug sien nie. En toe sê ek daai voorblad is nou regtig vir my mooi, toe sien ek net oe! nou’t ek skade gemaak. Ek ‘konformeer al weer met die wêreld.’ Hoeookal, ek verruil haar vir NIEMAND in die hele wêreld nie. Wie weet nie watter loslyfdoedie ek sou uitdraai as dit nie vir haar was nie. Groete, daar en lekker dag.

  17. Arien Lubbe says:

    Madelie, ek wil net vir jou sê dat elkeen van jou boeke nog ‘n glimlag op my gesig gesit het. Dis so vreeslik lekker om jou boeke te lees. Baie dankie.

  18. anngert says:

    Jy het die onderhoud hoogs intelligent hanteer en Romanza se naam hoog gehou. Tien uit tien.

    Ek het ‘Genoeg is genoeg’ bestel en wag nog daarvoor.

  19. Madelie Human says:

    Hallo, Naomi. Jy doen my ego baie goed, hou so aan … Jy is bevoorreg om April se boeke nou al te kry. Ek het gister eers my Maart pakkie gekry! Hoop jy geniet vir Genoeg. Wanneer sien ons jou weer op die blog?

  20. Naomi Eloff says:

    Ek het ‘Genoeg is Genoeg’ in my pakkie gekry en kan nie wag om dit te lees nie. Jy kom vir my baie dinamies voor. Ek haal my hoed vir jou af! Ek sal jou graag in persoon wil ontmoet, dink dit sal lekker wees om saam met jou oor ‘n koppie tee te gesels oor romanza.

  21. Rika Du Plessis says:

    Gisteraand was my ou man uitgeroep vir ‘n ongeluk by die myn en ek was wawyd wakker. Vat toe jou “Jy’s die een” en lees hom. Was heel lekker en het toe glad nie vaak geword nie. Gewoonlik as ‘n boek my verveel, raak ek sommer lomerig as ek in die bed lê.

  22. Rika Du Plessis says:

    Madelie, ek het nog net daai twee boeke van jou gelees – maar ook elke stukkie wat jy by ons blogstorie bygelas het, en ek wil graag vir jou sê dat ek van jou skryfstyl hou. Ook Marile s’n is verfrissend.

  23. Cathy Rheeder says:

    Hallo Madelie,
    Ek het onder andere “Om Dirk te tem” en “Om Kobus te ken” gelees en is oral op soek na “Om Ben lief te he”, maar soos ek verstaan by Lapa is hy uitverkoop. Gaan hy weer gedruk word?

    Ek hou BAAAAIE van jou skryfstyl en kan nie wag vir jou April boek nie!

    • Madelie Human says:

      Hallo Cathy, dankie vir jou moeite om my hier te besoek. Weet jy, ek hoop dat die trilogie in ‘n omnibus sal uitgegee word. Dit kan egter net gebeur as die ander twee ook uitverkoop is. Sover ek weet, het Lapa meer van hulle gedruk en ek weet dus nie wanneer dit sal gebeur nie. Goed om te hoor jy is ‘n aanhanger, dit maak my sommer lus om meer te skryf.

  24. Naomi Eloff says:

    Ek het sopas ‘Optelgoed is Hougoed’ gelees en dit vreeslik geniet. Ek sou nooit daaraan gedink het om my heldin ‘n werktuigkundige te maak nie, dis uitstekend! Wys net hoeveel het ek nog om te leer, ek haak nog vas by die prentjie van ‘n beeldskone vleklose heldin in ‘n rok, soos ‘n prinses in ‘n ‘fairytale’.

    • Madelie Human says:

      Naomi, ek ken ‘n pragtige, sexy vrou wat ‘n lektor in motorwerktuigkunde by ‘n kollege is en daar’s niks van ‘n kar wat sy nie weet nie. Sy lyk net so mooi in ‘n oorpak as in ‘n aandrok. Sy het ‘Optelgoed’ se heldin vir my laat werklik word. Bly jy het haar geniet.

  25. Madelie Human says:

    Naomi, daar is ‘n storie agter die storie:

    My man het eendag by die huis gekom en my vertel dat hy so ‘n vliegtuig wat landerye bespuit, gesien het en gedink het dit sal ‘n interessante beroep wees vir een van my karakters. Die idee van die bespuitery van die organiese land het my ‘n paar dae later getref toe ek gaan organiese groente koop het by ‘n boer hier naby ons. Hy het my baie gehelp met my navorsing.

  26. Naomi Eloff says:

    Ek kan nie wag vir jou nuwe boek nie! Ek kan net dink watter konflik daar tussen die held en heldin gaan wees. Goeiste, om in ‘n boer se organiese groenteland met spuitstof te beland! Ek is reeds dik van die lag net om daaraan te dink.

  27. Suzette says:

    Ek hou van jou skryfstyl en die spontaneïteit in jou werk.
    Ongelukkig kry ons in die buiteland nie maklik ligte Afrikaanse leesstof in die hande nie.
    Ek is in die VSA. My skoondogter in New Zeeland kla ook daaroor.
    Miskien sal die uitgewers dit oorweeg om uit te voer as genoeg lesers in die buiteland daarna begin vra.

    14/05/2010:

    Ek het jou “Genoeg is Genoeg” nou net klaar gelees. Wat ‘n heerlike boek om mens van die wêreld met al sy probleme te laat vergeet. Die boek is vir my mooier afgerond as jou vorige werke. Ek is mal oor jou vloeiende skryfstyl – dis maklik om te lees.Ek haat ‘n “stop-start” rukkerige styl. Die dialoog oortuig en die karakters is eg . Punt van kritiek : waar is die stomende hyg toneel ?”

    • Madelie Human says:

      We wish! Twyfel of dit maklik sal gebeur. Dankie, Suzette. Bly jy hou van my werk. Nou kan ek sê ek het ‘n leser wat in die VSA woon!

      15/05/2010:

      Terloops, die stomende tonele is nie altyd funksioneel nie, dan los ek dit uit. Toemaar, die volgende een het weer genoeg stoom in vir almal wat daarvan hou.

  28. Arien Lubbe says:

    Ek het ‘Om Ben lief te he’ sonder enige verwagtinge begin lees, omdat dit ‘n nuwe skrywer was. WAS EK VERRAS! Dit was ‘n heerlike boek en daarna kon ek nie wag vir jou volgende nie. Ek onthou een maand het lapa vir my 3 boeke gestuur en daar was nie een van joune by nie. Ek het by myself gedink: “Madelie, hoekom skryf jy so stadig? Ek wil nog van jou stories lees.”

    Jou April boek klink heerlik! Ek kan nie meer wag nie!

    • Madelie Human says:

      Ag, Arien, jy maak my dag. Ek was self baie verbaas oor ‘Om Ben lief te hê’ se sukses. Ek wens ek kón elke maand ‘n boek uitgee. Sou dit nie wonderlik wees nie? Maar jy het seker darem self nou al agtergekom ‘n mens kan nie ‘n romanse sommer eendag in jou etensuur skryf nie, nè?

  29. Hettie Beer says:

    As ek net een boek moet uitsonder dan sal ek nie weet watter een om te kies nie. Almal het unieke verhale wat my so gebind het dat ek als om my vergeet het totdat ek die boek klaar gelees het. Hierdie warm liefdesverhale het my soms na my asem laat snak as ek besef ek leef my so in die verhaal in dat ek my skoon verbeel ek is die meisie in die boek. Ek sien so uit na Madelie se volgende boek om te verskyn en glo dit sal net so ‘n treffer wees soos al die voriges. Hou so aan Madelie, jy laat ons weer jonk voel!

    • Madelie Human says:

      Dankie, Hettie, jy is ‘n leser so na my hart. As jy sê jy word die heldin terwyl jy lees, dan het ek in my doel as skrywer geslaag. My nuwe boek verskyn in April.

  30. Annetjie van Tonder says:

    Om Kobus te ken, was ‘n besondere leeservaring. Beide held en heldin se karakters word sterk uitgebeeld deur hulle optrede, innerlike monoloë en dialoog. Die boodskap van hoe belangrik liefde in ‘n verhouding is, word sterk uitgedra deur Sureta wat eers aan die einde kopgee toe Kobus, na al sy ander redes waarom hy wil trou, uiteindelik sy liefde verklaar. Sureta was nie bereid om met minder tevrede te wees nie.

    Wil definitief WILDE HAWER in die hande kry om die ander twee verhale ook te lees. Het dit al verskyn?

  31. rykieroux says:

    In Kaalvoetbruid gaan die leser saam met die mooie heldin, Anel op ’n reis op soek na haar ware self. Op elke tree van die pad is Gustav by haar. Haar reis begin kaalvoet as sy van haar deftige troue wegvlug en neem haar onder meer na Sydney, New York, Parys en natuurlik die idilliese Knysna. Kan sy ooit vir ’n man meer as net ’n dekorasie wees? Dis die etiket wat haar snobistiese ma om haar nek gehang het.
    Die leser kou saam met haar naels of sy dit kan waag om Gustav te vertrou op die pad om ’n kunstenaar te word. Hy pryk dan knaend in die koerant aan die sy van nog ’n beeldskone vrou. En het hy nie ook maar, soos al die ander mense in haar lewe, sy eie agenda nie? Dis ’n lekkerlees storie vir diegene wat nog glo dat liefde ’n mens kan heelmaak.

    • Madelie Human says:

      Dankie, Rykie. Ek kan sien dat jy die onderliggende boodskap van my storie verstaan het. Ek wens al ons lesers kan met dieselfde begrip as jy lees. Baie lesers blaai net om agter die storie aan.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s