Linelle Venter: Onbeplande liefde

“Dit was van die eerste dag af duidelik.” Sy sagte woorde trek haar oë vinnig na sy gesig en sy sien ’n onpeilbare uitdrukking op sy gesig. “Anke, nie almal is soos jou eksverloofde, die seuns se ouma en die . . . grotgemors van ’n onderbestuurder nie.”

Dit laat haar onwillekeurig glimlag. “Rasioneel weet ek dit, maar in die afgelope vyf jaar het ek omtrent al my vriende verloor en is daar eenvoudig net te veel bewyse dat daar wel baie sulke mense is.”

“In Kaapsche Hoop het jy vir my gesê dat jy my vertrou.”

Die herinnering aan waar hulle nege dae gelede was en wat daar gebeur het, stuur Anke se hart op hoëspoed en dit  voel asof haar longkapasiteit netnet bo nul staan. Skielik kraak die lug tussen hulle met ’n aantrekkingskrag so sterk dat sy voel asof sy haarself in ’n towervakuum bevind.

“Het jy dit bedoel?” Sy vraag wat amper net ’n fluistering is, hang tussen hulle terwyl Anke diep in haar siel soek na

’n eerlike antwoord. Dit neem haar nie lank om te besef dat sy die man wat hier langs haar sit onvoorwaardelik

vertrou nie. Sy sluk hard aan hierdie nuwe besef want dit maak haar bang. Nie net is sy verlief op die man nie, sy vertrou hom ook. Hoeveel weerloser kan sy haar hart maak?

“Ja.”

Dis asof haar antwoord ’n vuur in Dewald se oë aansteek. Hy sit sy hand liggies teen haar wang. “Dankie.”

Anke sluk aan die sensualiteit van die oomblik en toe hy liggies sy duim oor haar onderlip beweeg, voel dit asof sy kan versmelt van die vuur diep in haar. Onbewustelik maak sy haar lippe oop vir ’n diep asemteug, maar volg dan met die punt van haar tong die pad wat sy duim op haar onderlip gebrand het.

Dewald se sagte kreun trek haar oë na sy gesig. Met begeerte in sy oë volg hy die pad van haar tong. Hy leun effe oor en, asof getrek deur ’n magnetiese krag, beweeg Anke nader tot sy Dewald se asem liggies op haar gesig kan voel. Veersag plaas hy sy lippe op hare en sy tong veeg oor haar lippe. In haar lewe het ’n soen nog nooit gedreig om haar beendere te laat smelt nie.

Hulle verken gretig die geheime wat in elkeen se soen lê. Haar linkerhand is op die swembadplaveisel om haar balans te behou, met haar regterhand ondersoek sy die krag onder Dewald se hemp. Die oomblik toe haar palm op sy gespierde borskas rus, vloei die begeerte tot in haar murg. Sy wonder of dit moontlik is om in passie te verdrink.

Dewald se vingers is deur haar bos krulle gevleg en hy maak seker dat sy nie haar kop kan terugtrek nie. Asof in ’n maalkolk, draai Anke se bewuste dieper en dieper na die passie wat haar roep. Hulle is alleen by die swembad, sonder ’n gehoor, en kan mekaar geniet.

“O drommeldinges.” Anke vlieg regop met ’n besef wat haar passie vinniger as ’n swembad vol yswater laat afkoel.

“Wat?” Dewald kyk verward rond of sy iets gehoor het en hy nie, en toe hy niks sien of hoor nie draai hy, steeds brandend van passie, na haar.

Anke sluk baie hard aan die sug wat haar na hom toe trek en maak keel skoon. “Toe ons in Kaapsche Hoop was, het die seuns my gesê hulle sien ons gereeld langs die swembad wanneer ons hier sit en gesels. Hulle is veronderstel om nou te slaap, maar sê nou hulle kyk vir ons?”

’n Stoute glimlag lig Dewald se mondhoeke. “Hulle loer ons af?”

“Blykbaar.” Sy gee hom ’n vuil kyk. “Dis nie snaaks nie.”

“Dit is.”

Hy skuif ongemaklik rond en Anke besluit om eerder op die diepkant van die swembad te focus en nie te dink aan die ongemak in Dewald se skoot en haar eie passie nie. Die stilte waarvoor sy vroeër gewens het, sak saggies op hulle neer en Anke roer die water met haar voete om terwyl sy probeer sin maak van die afgelope tien minute.

Leave a comment