Rykie skryf, want sy is versot op stories

Hoekom skryf jy, Rykie?

Omdat ek myself nie kan help nie! Vandat ek kan onthou, was ek versot op stories. En as ek nie ’n storie uitdink of een skryf nie, dan lees ek een. Ek glo ook dat liefde ’n groot helingskrag kan hê en geniet dit daarom om romanses te skryf.

Hoe begin ’n storie vir jou?

Dis gewoonlik iets wat iemand sê of iets wat ek iewers lees of ’n interessante persoon wat ek ontmoet wat die storiemakery vir my aan die gang sit. Dan sal ek dae of selfs weke met ’n idee speel, die karakters en die storielyn in my kop sien vorm kry, die nodige navorsing doen en uiteindelik begin skryf.

Wanneer en waar skryf jy?

Ek probeer om elke dag te skryf, meestal in die middae nadat ek en my twee kinders ons tuisskoolwerk vir die dag afgehandel het. Ek probeer om elke dag minstens een duisend woorde uit my verbeelding uit te wring. Ek skryf in my slaapkamer op ’n mini-skootrekenaar. Sonder musiek. En sonder om deur die venster na die uitsig te kyk. Al die stimulasie wat ek dan nodig het, is in my kop.

Jy is bekend vir jou deeglike navorsing. Vertel ons meer oor van die interessante plekke en mense met wie jy al moes praat om jou stories meer geloofwaardig te maak.

Ek het al ’n operasie meegemaak, geleer om te tango, ’n hele nag met ’n vlieënier gekuier (my man was darem by), ’n juwelemaker besoek en gekyk hoe sy werk, ’n oggend by ’n traumasentrum deurgebring, met ’n perdrykenner gepraat, op ’n universiteitskampus rondgehang om aspirant-argitekte dop te hou en natuurlik ure en ure op Internet spandeer. Ek is basies baie nuuskierig en dis vir my heerlik om ’n wettige verskoning te hê om mense so oor hulle lewens te kan uitvra.

Jou nuutste boek, ’n Meermin vir Xander, wat in Mei 2010 verskyn, speel onder meer op ’n klein eiland naby Australië af. Was jy al daar?

Nee, ek droom maar net daarvan. My suster en haar man, ’n dokter, woon egter die afgelope vyf jaar in Australië en hulle het my voorsien van die soort besonderhede waarvan net mense wat self in die land bly, weet. Die heldin is ’n apteker en die held ’n dokter en die vonke spat van die begin af tussen die twee. My swaer het my, soos met van my vorige boeke, baie gehelp met die mediese aspekte van die storie.

Daar is ’n jellievis in die boek, nie waar nie?

’n Baie, baie klein en baie, baie dodelike jellievis, ’n irukandji. Die aktrise Kate Hudson het ook ’n potjie met dié jellievis geloop en ek kon die versoeking nie weerstaan om dit in my storie in te werk nie.

Moenie vir my sê die jellievis byt iemand in die storie nie!

Jy sal maar moet lees om uit te vind!

Waar kan ’n mens dié boek en jou ander boeke in die hande kry?

Dit word uitgegee deur Lapa Uitgewers en die beste is om na hulle webwerf te gaan en dit te bestel. Die tweeluik Net Jy wat twee van my stories (Die flerrie en die advokaat en Lieflike leuenaar) bevat en Trofeevrou is ook nog beskikbaar. Lapa vra geen posgeld vir posbestellings nie. Van my boeke, ook dié wat by ander uitgewers verskyn het, behoort by boekhandelaars beskikbaar wees.

Wat is daar omtrent jou wat min mense weet?

Ek het die BBC weergawe van Pride and Prejudice al meer as twintig keer gekyk! Ek kan myself nie help nie. Dis so romanties.

6 thoughts on “Rykie skryf, want sy is versot op stories

  1. Delene Grogor says:

    boek voorlesing vrydag 10 junie 2016 omtrent 10h50 am se kant, wil die boek koop? maar weet nie wat die naam is nie, die voorlesing het my hart gebreuk, my Mamma se naam was Hettie, haar seuntjie se naam Jakobssie, sy het in Florida gebly en sy wou ook haar ASsies op Jabobussie se graf he?

  2. Marie Snyman says:

    goeie dag…ek stel belang om die boek “satyn prinses” te koop. Hoe kan ek dit in die hande kry?
    Ek is n groot “fan” van Rykie Rouw se werk… Help Asb!!

  3. Estelle Naudé says:

    Hallo Rykie,
    Dankie vir die lekker leesstof wat jy aan ons verskaf. ek is versot op lees. Tans is RSG besig met ‘n voorlesing uit een van joui boeke: Satyn Prinses wat ek nie het nie. my skoonsus het ook navraag gedoen en is nêrens meer beskikbaar nie. Jy weet nie dalk waar ons ‘n boek in die hande kan kry nie of andersins wat van ‘n tweede druk?
    Ek skryf ook graag maar meestal gedigte. het op ‘n keer ‘n Novelle voorgehou aan Lapa, toe naog Van der Walt uitgewers maar was nie baie suksesvol nie. Laurette was die storie se naam, wil weer eendag na al die punte kyk wat deur hulle aan my uitgewys is as foutief en probeer regstellings aanbring.
    Goed gaan met jou en lekker skryf!
    groete
    Estelle

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s