Sean Tucker is Romanza se Ridder

sean_low_res

Wat wil moderne vroue in ’n man hê?

Daar was ’n tyd toe mens ’n ridder agter elke bos kon uitskop. ’n Dame het skaars voor ’n plas water in die pad te staan gekom of ’n galante heer het reeds sy baadjie oor die poeletjie neergelê; maar die tye het verander. Moderne vroue het waterdigte skoene en ridders op wit perde is bloot net onprakties. Dit beteken egter nie dat die skoner geslag nie steeds na só ’n man hunker nie.

Dít is waarom LAPA Uitgewers ’n nuwe ridder wou vind. ’n Moderne ridder. Hierdie Ridder het ’n hart van goud, ’n six-pack van staal, en kan enige vrou laat swymel met beide sy looks én sy persoonlikheid.

LAPA het die publiek genooi om mans wat aan hierdie beskrywing voldoen, as die Romanza Ridder te nomineer. Mans kon hulleself ook nomineer.

Sean is genomineer deur Mariska Leibbrandt, ’n vriendin van Sean se ma. Mariska is ’n kranige Romanza-leser.

LAPA het haar gevra waarom sy vir Sean genomineer het en haar antwoord was: “Want ek dink enige vrou sal hom op ’n voorblad wil sien en die boek koop.”

Beter kon ons dit nie stel nie. Sean gaan inderdaad binnekort op ’n Romanza-voorblad verskyn. Hy wen ook R15 000 en daar is ’n aantal ander optredes wat beplan word rondom hierdie moderne Ridder.

Hoe voel hý oor al die aandag? Sean is baie opreg dat dit ’n eer is om gekies te word. Hy sê egter dit gaan vir hom oor meer as die feit dat hy ’n gesig gaan wees. Vir hom is die konsep van ’n “cover boy” (sy woorde) ook direk gekoppel aan die uitbou van die handelsmerk.

Waar kom so ’n jong man aan soveel wysheid? Sean lag toe ons hom die vraag vra en noem toe dat hy as ’n eiendomsmakelaar baie met mense moet werk. Sy baas het ook vir hom geleer hoe om mense te laat glo in die produk wat hy verkoop.

Wanneer Sean nie passievol bemark aan sy eiendomme nie, doen hy klank by troues vir ’n ekstra inkomste. Tog, as hy eerlik moet wees, is Sean op sy gelukkigste in ’n tentjie langs die viswater. Daar, in die natuur, vind Sean homself en herlaai hy sy batterye om weer die korporatiewe wêreld in die oë te kyk.

 

Die agtergrond tot hierdie kompetisie

Cecilia Britz, die hoof van fiksie by LAPA Uitgewers, het een-en-twintig jaar gelede romantiese fiksie se beeld by die destydse Perskor, waar sy toe werksaam was, verander. Vroue wou aanklank vind by moderne mans en die robuuste helde van die verlede was besig om hulle glans te verloor. Om mense terug te lok na Afrikaans, het Britz skrywers begin oplei om meer modern te dink.

Jorge_ destyds se HUNK by Perskor_foto

Jorge, destyds se Hunk by Perksor

’n Lang, lenige man met ’n digte bos swart hare is toe as ridder gekies om nuwe lewe in die Perskor liefdesverhale te blaas. Hy was, sou ’n mens kon sê, die Suid-Afrikaanse weergawe van die bekende Amerikaanse Fabio. Hy het die harte gebreek, deels ook omdat hy ’n sagte mens was, al die spiere ten spyt.

Tien jaar gelede het Britz dieselfde vernuwing op liefdesverhale by LAPA toegepas en die Romanza-reeks is begin. Sean Tucker is hierdie jaar se Romanza Ridder-wenner en hy voldoen aan die Ridder-vereistes: Hy wen harte met beide sy looks én persoonlikheid.

Tien jaar is ’n lang tyd, en Sean lyk baie anders as die vorige ridder. Die hart wat reg klop, is egter ononderhandelbaar.