Ingeboek vir leesgenot

Meneer Perfek − Cecilia Nortjé

meneer-perfek-voorblad_high-res

Liela en die eksentrieke Fensham word mede-eienaars van haar ouma se teaterrestaurant, Die Mal Perd, in Johannesburg. Sy hoop om weer die bande met haar jeugliefde, Magnus op te neem. Maar dis gedagtes oor Fensham wat haar saans wakker hou.

Meneer perfek volg Vriende met voordele op.

Ver anderkant Wiesenhof −Alma Carstens  

ver-anderkant-wiesenhof-voorblad_high-res

Tien jaar gelede het Kara Nikla se hart gebreek toe sy hom vir ’n ryk Engelsman gelos het. Nou moet sy bakhand na Wiesenhof terugkeer en Nikla is al een wat vir haar werk het. Maar voel hy ook steeds dieselfde oor haar?

Troue in ’n towerbos − Rosita Oberholster

troue-in-n-towerbos-voorblad_high-res

Hannah Malan vlug die Sederberge in nadat haar verloofde haar soos ’n warm patat voor die kansel gelos het. Sy beland op Koelstroom waar ’n spierpaleis met ’n afskuwelike baard haar siel om elke hoek en draai versondig.

Blommetaal − Mattie Pansegrouw

blommetaal_high-res

Na haar ma se verraad vlug Natildi van die huis af en beland in ’n paradys buite Heideville. Hier ontmoet sy Riccardo, die enigste persoon met wie sy spontaan kan gesels. Maar steek hy dalk iets weg?

Suikersoetsonde Dina Botha

suikersoetsonde

Zelda Fourie betrap haar man saam met sy minnares in hul slaapkamer toe sy onverwags van ’n oorsese besoek aan hul seun terugkeer Suid-Afrika toe. Sy word gekonfronteer met skuldgevoelens oor ’n huwelik van oor die twintig jaar wat nou aan skerwe lê. Sy het geglo dat sy alles gedoen en gegee het om vir haar man en seun ’n gerieflike en goedversorgde huis te gee. Haar dagtake het sy met entoesiasme aangepak, daarom maak dit haar man se verraad ondraaglik.

Zelda maak ’n afspraak met ’n prokureur en stelselmatig help Frans Jordaan haar om haar eie lewe en geluk weer in haar eie hande te neem.

Offerande − Chanette Paul  

Is Caz Colijn se pa Elia, die sagsinnige man wat voor haar geboorte koelbloedig vermoor is, of dra sy César, die moordenaar, se gene?

Dié kwellende vraag kan Caz eers probeer beantwoord as sy van die reusediamante in haar besit ontslae raak en só die Kongolese wat haar tot in Suid-Afrika gevolg het, van haar spoor af kry. Antwerpen kan die antwoord op hierdie missie wees, maar hoe kry sy die diamante daar? En as sy eers daar is, waarheen neem sy dit?

Kommissaris De Brabander is ʼn opsie tot Caz besef sy staan van voor af weer eerste op sy lys van verdagtes – dié keer vir die moord op een van haar agtervolgers.

Boonop daag Caz se eksman by haar op en dring aan om sy dogter te ontmoet. Caz besluit om die keuse aan Lilah oor te laat, maar toe dié uit België aankom, is sy nie die lieflike kind wat Caz ken en grootgemaak het nie.

Offerande volg op Offerlam op.

Fortuin − Chanette Paul

fortuin-3de-uitgawe

Hier is nommer twee in die Gys Niemand-reeks!

Is Eva van Eden ’n heks, of ’n engel? Paradyskloof die voorpoorte van die hemel, of ’n Satansnes? Dis wat Xanthe Tredoux moet uitvind in opdrag van Tuisfront se redakteur.

Die werklikheid waarmee Xanthe by die sogenaamde holistiese oord te doen kry, is surreëel: die kasteelagtige huis, die meer, tematuine, labirinte en ondergrondse tonnels. Die rituele verwar haar net soveel soos die vreemde gaste, en nog vreemder gebeure. Wat haar egter die meeste verwar, is Math Stone se betrokkenheid. En dat Eva al hoe meer soos ’n engel begin lyk.

Alle boeke te koop by LAPA-webwerf. Romanza-klublede kry 30% afslag: www.lapa.co.za 

Vind mekaar – Dina Botha

vind-mekaar

“Ma, daar staan ’n klimraam langs die kerk. Kan ons daar gaan speel?”

Sy onthou D’Niel se woorde. Die kinders is veilig. “Nou goed, maar julle bly by mekaar en julle praat nie met vreemdelinge nie.”

Indien hulle iets daarop te sê gehad het, hoor sy dit nie. Hulle is reeds besig om na die klimraam te hardloop. Lizette volg die paadjie tot by die pastorie se voordeur.

Sy klop en wag geduldig.

“Goeiemiddag, kan ek help?”

Die vrou kan onmoontlik D’Niel se vrou wees, sy is te oud daarvoor. Ook nie sy ontvangspersoon nie, want dié sal nie met ’n voorskoot rondloop nie.

“Ek wil dominee Malan spreek, asseblief.”

Die vrou hou die deur uitnodigend oop en Lizette stap binne. Toe sien sy die twee dames in die gang raak. Hulle wag, nes sy daardie eerste dag, op die stoele teen die muur.

“Sit asseblief. Dominee is net besig met ’n konsultasie.”

“Dankie,” sê sy beleef en neem haar plek tussen die twee jong vroue in. Sy is dadelik bewus van hul opsommende blikke. Of is dit dalk krities? Sy besluit om haar eerder nie voor te stel nie. Sy glimlag net effens vir hulle en kyk voor haar uit. Toe sy nie langer so ’n passiewe houding kan handhaaf nie, kyk sy ongemerk na een van die vroue. Sy hou ’n wit koekblik met groen Kersbome vas. Lizette probeer ongesiens na die ander meisie kyk. Dié bring ook geskenke, lyk dit vir haar. Goudbruin koeksisters met Glad Wrap bedek lê en loer vir haar. Sy skuif haar blik terug en kyk maar na die toe deur.

“Is jy nuut op die dorp?” verbreek die meisie aan haar linkerkant die stilte.

Lizette kan kritiek verstaan, maar nie aggressie nie. Die meisie ken haar nie eens nie.

“Ja, ek is, hoekom vra jy?”

“Jy laat nie juis gras onder jou voete groei nie. Waarmee kom jy hom beïndruk? En waar is dit?”

Het Vind Mekaar ’n gestig waarvan sy nie weet nie, want die meisie het duidelik ’n klap van die windmeul weg. “Ek is jammer, maar ek verstaan nie. En die antwoord is nee, ek het niks saamgebring om enige iemand te beïndruk nie.”

“O, maar jy het darem gehoor dat hy nou amptelik drie jaar ’n wewenaar is?”

Lizette trek haar asem verras in. “Wewenaar?”

“Ja, sy vrou is vandag presies drie jaar gelede oorlede. Maar dit het jy seker geweet, want hoekom anders sal jy hier soos Charlotte sit en hoop jy beïndruk hom met koeksisters wat jy by die kafee gekoop het.”

“Dis nie gekoopte koeksisters nie. Ek en my ma het dit spesiaal vir Dominee gebak,” kap die meisie aan Lizette se regterkant dadelik terug. “En ja, Petru, soos wat jý verlede jaar se gemmerkoekies vir die basaar self gebak het, nè?”

Lizette weet nie watter skok sy eerste probeer verwerk nie: die predikant wat nie meer ’n pastoriemoeder het nie of die twee meisies wat mekaar reguit vertel wat hulle van mekaar se gebak dink. Sy wil regop kom, maar elke keer steek een van hulle haar amper met ’n vinger in die oog.

“Môre, dames,” sê D’Niel hard en duidelik.

Lizette het sowaar nie die deur hoor oopgaan nie. Sy kyk hulpsoekend na hom, maar daar is ook ’n tikkie paniek in sy oë toe hy die vroue sien.

“Dankie, tannie Kotze, vir die kuiertjie,” sê hy beleef en Lizette wonder of hy nie dalk lus het om die tante na buite te vergesel om van die vroue in sy voorportaal te ontsnap nie.

Die bejaarde dame druk haar handsak onder haar arm in en haar blik skroei oor hulle al drie. “Skaam julle julle nie? Om so skaamteloos vir ’n ongetroude man goed aan te dra. Dominee se vrou draai in haar graf om as sy julle nou kan sien.”

“Wag, Tante, alles is onder beheer. Stuur asseblief groete aan die oom en ek sien julle Sondag in die kerk.”

D’Niel lei die tante by hulle almal se voete verby tot by die deur waar hy lomp vir ’n tweede keer groet. Toe hy omdraai, is sy wange rooi en ongemak oor sy hele gesig geskryf. Hy kyk na die meisies se offers.

“Ek neem aan daardie eetgoed is vir die pastorie bedoel, Charlotte, Petru?”

Van die onlangse boosaardige uitdrukkings op die twee meisies se gesigte is daar niks te bespeur nie. Hulle stemmetjies is stroopsoet terwyl hulle gelyk verduidelik wat hulle gebring het.

“Dis werklik baie gaaf van julle om aan ons te dink. Stap gerus deur kombuis toe. Tannie Kotie sal julle wys waar om dit neer te sit. Ons is juis besig om vir die skuiling vir werkloses eetgoedjies bymekaar te maak.”

“Maar, Dominee, dis nie vir …”

“Ontspan, Petru, ek is seker hulle sal dit waardeer. Nogtans baie dankie vir julle moeite.”

D’Niel kyk na Lizette en sy lig vinnig haar hande op vir hom om te sien sy het nie ʼn geskenk gebring nie.

“I don’t bear any gifts. Ek is hier om iets van my huurhuis met jou te bespreek.”

“O ja, natuurlik. Stap voor, mevrou Lotz, ons kan sommer in my kantoor praat.”

Dit lyk of Charlotte ook protes wil aanteken, maar D’Niel maak die deur agter hulle toe. Hy stoot sy hand deur sy hare en rem aan sy das wat hom skynbaar nou wurg. Toe glimlag hy verleë. “Sit, asseblief, mevrou Lotz. Waarmee kan ek help?”

Lizette kan nie help om sy formele voorkoms te bewonder nie. Sy ligte snyerspak pas hom perfek. Sy hemp kan nie witter wees nie en sy grys strepiesdas is volmaak geknoop. Dis dus die ander sy van D’Niel Malan – die professionele en in-beheer man. Oukei, op daardie oomblik seker nie heeltemal so gemaklik en in beheer soos wat hy graag sou wou wees nie.

“Wat gaan met daardie twee meisies aan?” vra sy, hoewel sy reeds die antwoord weet. Dit sal ’n leuen wees as sy sê dat die nuus van sy wewenaarskap haar nie effens onkant gevang het nie. Maar hoekom sou hy noem dat hy ’n wewenaar is? Dis nie iets wat ’n mens soos ’n titel dra nie.

Maar hy kom iets laat glip het, hou haar agterkopstemmetjie aan om te redeneer.

Net soos wat jy hom kon vertel het dat jy geskei is. Maar jy het nie, want ’n mens blaker nie jou huwelikstatus teenoor enige iemand uit nie.

Sy fokus haar blik op D’Niel en wag vir sy antwoord.

“Dis sommer niks, net twee uiters ywerige susters in my gemeente. Is daar probleme by die huis?”

 

MAAR EERS MOET MENS BEGIN − Bets Smith

Ek word dikwels gevra hoe ’n storie vir my begin. Soos julle sekerlik self al ondervind het, kan enigiets ’n storie ‘trigger’. Dis dikwels waar die knoop lê. Die trigger van my eerste boek was ’n insident in die grensoorlog. Dit was seker dan onafwendbaar dat dit in ’n spanningsverhaal sou ontaard. Die aard van JOU TRIGGER gaan dalk ook bepaal in watter genre jy skryf.

By my begin daardie idee in my kop groei en begin die karakters lyf kry en name en gesigte, selfs ’n blyplek en leef in my kop. Hulle bly ’n hele rukkie daar voor ek navorsing begin doen om te sien of die storie-idee kan werk. Sodra mens weet die idee en die agtergrond is geloofwaardig en haalbaar, kom die eintlike werk: om die spulletjie op die skerm (of op papier) lewe te gee.

Ander skrywers doen breedvoerig beplanning, met ‘n skema en tydlyn ens. ens. voordat hulle begin skryf. Hoe jou skryfproses ookal werk, iewers moet jy tog gaan sit en skryf. Die beste raad oor skryf het ek by ander skrywers gekry: die ABC van skryf: Apply Bottom to CHAIR. Gaan sit eenvoudig en skryf. En onthou die noodsaaklike skryfelemente ☺ STORIE-IDEE (getrigger deur IETS), deadline, en koffie (of wat jy ookal drink)

14370150_1198716596841796_9051164508364585677_n

 

As julle dit nog nie agter gekom het nie, sal julle wel uitvind dat selfs die romanse nie ’n WOERTS-WARTS VINNIGE SKRYFSELTJIE is, en dan is dit fluit-fluit die storie is uit nie – veral nie as mens skoolhou of voltyds in enige beroep staan nie.

Vir die paar maande terwyl ek aan ‘n storie werk, gaan hy oral saam met my: in die motor op pad iewers heen, wanneer ek skottelgoed was (nogal lekker dinktyd daai!), wanneer ek in die veld stap. Skool toe ook, dat ek iemand in die storie kan vermoor as ‘n tiener my boos maak.

Dis natuurlik alles in my kop tot ek tyd kry om agter die rekenaar in te skuif. En wanneer ek klaar is met die dag se meesterlike stukkie, is ek doodtevrede – tot ek my ‘briljante’ woorde die volgende dag lees en agterkom ‘n hele lot daarvan is twak en werk glad nie, omdat dit nie realisties/geloofwaardig/uitvoerbaar is nie – of watter rede ookal. Dan kom wat die ander skrywers “Killing your darlings” noem: dan gooi ek weg. Of sny groot dele. En herskryf ek maar weer, en weer, en weer. En sny. En begin oor.

Moenie ‘n fout maak nie: die herskrywery is nie net omdat ek ongeorganiseerd is nie. Watter soort skrywer jy ookal is, skryf is herskryf. Jy gaan, nes ek, ‘n paar van jou briljantste idees of gesegdes of karakters vermoor voor jy jou storie instuur.

thanesteelbattleaxe

Jy kan dus raai dat die storietjies wat jy in drie ure klaar lees, my langer as ses maande neem om te voltooi – as skooldinge dit toelaat. Dis byna soos ’n swangerskap. En dan kom die geboortepyne: wanneer jy hom instuur vir keuring. Want dis so erg soos om jou baba, kaal en sonder beskerming, die wye wêreld in te stuur vir ander om uitmekaar te trek en te kritiseer.

En as hy aanvaar word, volg die res van die proses – as die manuskrip aanvaar word! Want soms kom hy terug en stel die uitgewer (as dit LAPA is) voor mens verander hom so hier en daar. Ander uitgewers stuur net terug en sê jammer, die storie is nie in sy huidige vorm bruikbaar nie. By LAPA kry jy darem die geleentheid om dit reg te stel. Dan word daar geredigeer of herskryf, verander en getrek tot die spulletjie na wense is. En dan eers volg die res van die publikasieproses. Want sien, net soms, as jy BAIE goed is, aanvaar hulle hom net so.

Dan eers is dit FLUIT FLUIT MY STORIE IS UIT.

Maar glo my, selfs met die lees van die finale proewe wonder ek soms wat het my besiel om ’n ding presies so pateties te stel.

seldsame-man

 

Jy kan nie ’n skrywer wees as jy nie lees nie. Geniet ’n lekker storie en rond jou skryfvaardighede af. Koop Seldsame man hier: http://bit.ly/2cJgQnq  

 

Facebook-vriendin: Chantell Roberts

Vertel ons so bietjie van jouself?

My gesin is my alles. Ek probeer my bes om die lewe vir hul gemaklik en lekker maak.

Woon in: Pretoria Bon Accord

Stokperdjies: Bak, kosmaak, foto’s neem en boeke lees

Jy is ’n fotograaf van beroep. Wat is jou hoof ‘tema’ wat jy afneem? Troufoto’s? Portrette?

My hooftema is paartjies, maar ek is mal daaroor om kinders af te neem

Wat geniet jy die meeste van lees?

Die passie tussen die paartjie

Vertel ons van jou ander stokperdjies?

Om saam met my dogtertjie te bak en brou; en foto’s te neem van plante.

Behalwe romanse lees ek ook graag …

Rillers

Wat is die items waar sonder jy nie kan leef nie?

My boeke, selfoon, kamera en gesin

Wie is jou drie gunstelingskrywers is?

Dina Botha, Rika du Plessis en Bernette Bergenthuin

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

Dina Botha, Charlize Theron en my man

Watter boeke kan jy herhaaldelik lees?

Man op sig – Dina Botha

Glansheld en die koerantprinses – Bernette Bergenthuin

Temmer van haar hart − Marie-Louise Cronjé

Met watter skrywer sal jy graag ’n dag wil bestee? Hoekom?

Dina Botha, want sy het ’n  passie vir skryf

Dina Botha se SuperRomanza, Suikersoetsonde, verskyn Oktober 2016.

’n Held is aantreklik as hy watter eienskappe het?

Liefdevol, verstaanbaar en omgekrap deur die liefde

Waar sonder kan jy nie leef nie?

My gesin

 

 

In Sanet se kieste

Net ’n mens(Voorblad)

Sanet, toe ons jou ontmoet sondig jy met sjokolade. Is dit jou trooskos?

Helaas, ja. Daar is ander heerlikhede wat ook troos … malvapoeding met dik vla, vars brood met plaasbotter en tuisgemaakte appelkooskonfyt … Maar sjokolade bly die beste.

As jy op Instagram was, wat sal jou mees gebruikte hutsmerk wees?

#doodaansjokolade

sjokolade

Soet of sout?

Soet, soet, soet!

Watter dis sal jou laaste maal wees?

’n Pot kerrieafval met baie aartappeltjies soos my ma dit gekook het.

Dit is Saterdag Erfenisdag. Ons wil vir jou kom kuier. Watter resep sal jy vir ons voorsit?

Ek sal julle bederf met wat in ons familie as “vlieëpoeding” bekend is.

Dis darem nie regte vlieë nie, maar korente waarna ’n kind as vlieë verwys het!

Die regte naam is eintlik sagopoeding:

Kook 4 eetlepels (e) sago in 2 groot koppies water.

Roer by:               2k suiker

2e appelkooskonfyt

1k korente

3 eiers

2e botter

2t koeksoda aangemaak met klein bietjie lou water

Halwe koppie broodkrummels

Bak vir ’n halfuur by 180 grade.

Koop nou Net ’n mens hier: http://bit.ly/2bBxe5k

 

As die liefde blom – Elsa Drotsky

As die liefde blom_high res

Dit is warm op die patio waar die son sedert middagete begin skroei het. Alein pluk sy das los en onder sy kraag uit. Onder sy vingers spring twee hempsknope ook oop. Wanneer ’n meisiekind so naby die see grootgeword het, is mans se kaal bolywe lankal nie meer snaaks nie. Dis egter iets anders wanneer ’n spierwit hemp so onverwags naby ’n man se kuiltjie begin gaap om onverwags ’n blik op donker, krullerige borshare te gee.

Van onder uit die vallei verjaag die kenmerkende klank van ’n visarend se roep die namiddagstilte en hulle kyk spontaan in mekaar se oë. Sy weet dis nie net die kreet van die voël wat haar koue rillings op hierdie soel agtermiddag laat kry nie.

Selfbewus oor ’n emosie wat sy so onverhoeds beleef het, loop sy ’n paar tree weg. Dit was soos ’n voorspooksel, die gevoel waarmee sy hulle oomblikke van eensgesindheid beleef het. Sy is vlugtig bewus van die afgetrokkenheid waarmee hy die das wat hy netjies om sy hand gevou het in sy broeksak druk. Hy glimlag toe hulle oë in haar verwondering op die skynbaar normale gewoonte van hom fokus, en sy kyk met warm wange weg. Menige man sou die das sommer in sy broeksak teruggebondel het. Dit pla haar dat so ’n ongeërgde handeling haar net meer bewus van haar intense belewenis van hom maak.

Dit is ’n ontstellende ontdekking nadat sy tot nou toe goed daarin geslaag het om nie meer as vriendskap uit mans se belangstelling te maak nie. Sy weet immers net sy kan haar teen die soort teleurstelling beskerm wat in ’n geval of twee haar ervaring in die lig van Izahn se gewildheid was. Kere toe sy werklik geglo het dat sy die aantrekkingskrag was en nooit gedink dat dit meer om die halsbandjie as die hondjie gaan nie.

Tjammie kom met haar swaaiende stert die trap opgewaggel en Erin woel haar ore deurmekaar waar sy flikflooiend voor haar bly staan.

“Hoe oud is sy?” Erin sak op haar hurke neer en met Tjammie se kop tussen haar twee hande vasgevang, kyk sy geskok in Alein se ondersoekende oë vas. Tjammie is so deel van die opset op River View dat sy vergeet het die hond se teenwoordigheid daar is nie so bestendig deel van die huis soos die meubels en ander huishoudelike artikels nie. Tot nou toe het sy nie gedink hulle sal vir haar ook in hulle beplanning voorsiening moet maak nie.

“Vier, amper vyf jaar,” sluk sy, en steek haar gesig in die syagtige gladheid van Tjammie se hare weg. Die oorsaak van die branderigheid wat Tjammie se lot in haar ooghoeke begin pla het, is nie vir Alein O’Leary se oë bedoel nie.

“Kom, kom,” lok Alein met ’n tongklapgeluidjie. “Gaan haal die vis vir Erin,” por hy Tjammie aan, en gooi die speelding wat sy met haar aankoms op die grond laat val het ’n ent weg.

Aan ’n jasmyn hang ’n takkie wat deur die wind of ’n voël geknak is en Erin pluk dit af. Dieselfde het met ’n roosboom gebeur. Dis gewoonlik skade wat dikwels in die tuin gesien word wanneer die wind dae lank verwoestend gewaai het, en ’n goeie verskoning om vlugtig besig te wees terwyl Alein nog ’n stel trappe afgestap het om meer van die tuin te sien wat teen ’n helling van die huis af uitgelê is.

Sy buk en pluk ergerlik aan ’n tak omdat haar oë net in een rigting wil kyk en dit is al agter hom aan. Ná die deeglike les wat sy destyds uit haar onnoselheid met Otto geleer het, weet sy immers van beter. Sy was verlore in haar verliefdheid toe sy daardie somervakansie met skool klaar was en hy sy verskyning tussen die jongmense op Nahoonstrand gemaak het.

Mog’t troffe − Bets Smith

Hoe en hoekom het ek begin skryf: Hoekom skryf enigiemand?

14292491_1266901063344797_1966250005131282357_n

Fools rush in … Dit was eintlik baie lukraak en mog’t troffe:

Dit was vir my nooit ’n brandende ambisie om eendag SKRYWER te word nie. Sedert my ouers se slaaptydstories wat die spoke en monsters kon wegjaag, was ek mal oor stories en het gou-gou self begin lees.

Die skrywery het gegroei uit hierdie voorliefde vir stories, asook my liefde vir Geskiedenis en navorsing, en het ‘gebeur’ toe ek in die negentigerjare gewonder het of ek nie self ’n storie sal kan skep nie. ’n Afrikaanse storie vir Afrikaanse vroue, ’n liefdesverhaal maar ene met ’n bietjie aksie ook.

Dus ’n Romantiese spanningsverhaal: Tot my grootste verbasing is daardie eerste poging baie positief ontvang, maar dit was ’n weermagstorie oor die grensoorlog, en dit so kort na die vrylating van Meneer Mandela. Ek probeer weer en By Omdraai Verby, ’n romantiese spanningsverhaal maar in die romanse formaat, verskyn in 1997 as deel van JP Van der Walt se klubboeke. Bloedspoor oor die maan, nog ’n spanningsverhaal, verskyn in 1999 as enkeltitel. Daarna verander ek my eerste poging en viola: Dodelike Fokus verskyn in 2000 by JP van der Walt-uitgewers (nou LAPA Uitgewers). Daarna konsentreer ek op romanses. Sedert daardie eerste boek is 26 gepubliseer. maar om “’n skrywer” genoem te word, voel nog steeds vir my vreemd.

Bloedspoor (groot)

Koop Bloedspoor hier: http://bit.ly/2cGGXbf

Ek sal niemand aanraai om so mog’t troffe soos ek te begin nie. Weet eerder meer van die genre waarin jy wil skryf, sodat jy nie tyd mors en rondval nie. As mens weet wat jy doen en jy beplan volgens die genre, gaan jy baie gouer ’n boek op die rakke kry.

Waar begin mens? Hoe weet mens jy skryf goed genoeg? En watter genre is die een vir jou?

Vergeet van jou twyfel, begin net.

Kyk na die opsies.

GENREFIKSIE

Is ’n onderafdeling van mainstream/hoofstroomfiksie, maar fiksie beslaan ’n uiteenlopende en deurmekaar lopende verskeidenheid genres wat soms moeilik is om te definieer en behoorlik van mekaar te onderskei. Boonop druk elke skrywer sy/haar stempel af op die genre waarin sy uitblink en afhangend van hoe eiesoortig die aanslag, kan sy haar eie subgenre daarbinne skep. Skrywers soos Chanette Paul verskuif grense en skep selfs ’n nuwe unieke genre.

Om TEGELYK in verskillende genres te skryf, moet jy goed besin en weet wat jy aanvang, nie soos ek blindelings instorm nie. As LAPA se keurders en redakteurs nie so geduldig was nie, het hulle sweerlik al menige van my pogings eenvoudig in die snippermandjie gegooi of delete. Fokus eers op een genre voordat jy ’n volgende pak, veral as jy sensitief is oor kritiek.

FEIT OF FIKSIE?

Fiksie is ’n namaaksel/nabootsing van die werklikheid, tog verkry dit spoedig ’n lewe van sy eie. Sodra die proses om die werklikheid na te boots begin, tree die skrywer se kreatiwiteit en verbeelding in en vind lewenskragtige veranderinge plaas. Feite en verbeelding raak magies vermeng. Kyk byvoorbeeld na Kamphoer en Die Soenoffer. En al Leon Uris se boeke wat handel oor die Jode in die konsentrasiekampe.

FEIT? FIKSIE? OF ALBEI?

Fiksie is ’n nabootsing van die werklikheid.

“There is always a mixture of fact and invention in writing fiction.” (Novakovich,1995:8).

In die skrywer se hande word die werklikheid herskep en word ’n eie, unieke gestalte daaraan gegee.

“Fiction is so nearly like life that a good fiction nearly always changes under your hands, takes on an atmosphere, a feel, a will of its own” (Dibell, 1988:3).

Hierdie mengsel van feit en fantasie (verbeelding) is van so ’n aard dat dit die werklikheid herskep en ’n eie, unieke gestalte daaraan gee. “Fiction is so nearly like life that a good fiction nearly always changes under your hands, takes on an atmosphere, a feel, a will of its own” (Dibell, 1988:3). Dit is hierdie besondere kwaliteit van fiksie, die lewe en wil van sy eie wat dit ’n magiese kwaliteit gee en daarmee saam ’n onwerklike aspek.

Menige skrywer het dit al ondervind – karakters voeter in ’n ander koers en verander jou storie!

Koop Bets Smith se SuperRomanza hier: http://bit.ly/2cJgQnq 

Romanza-klublede kry 50% afslag! 

Kalli is moeg vir die gevaarlike werk wat sy doen – Lien Roux-de Jager

Wat was die grootste les wat jy nog as skrywer moes leer?

Dat die muse nooit net sommer in jou skoot kom val nie, dat skryf harde werk is – navorsing, bloed, sweet en trane.

Na watter skrywers sien jy op en geniet jy om te lees?

Sophia Kapp, Bets Smith, en enige spanningsverhaal – Engels en Afrikaans – veral Deon Meyer s’n.

Van watter boek/storielyn/genre droom jy vir die toekoms?

Ek sou graag ’n fantasiereeks wou skryf – eendag lank, lank gelede – geskoei op die kultus-reeks Game of Thrones, maar geplaas in ’n fiktiewe kontinent soos Afrika, waar Game of Thrones op ’n fiktiewe Europa afspeel. Maar dis so ’n groot taak, ek weet nie of ek ooit daar sal uitkom nie.

game-of-thrones-all-men-must-die-raven-t-shirt_500

As jy nie met woorde getoor het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?

Dis ’n moeilike een, want woorde is al wat ek het. Ek is hopeloos met somme. Miskien ’n landskapargitek?

Vergete leuens is die vyfde en laaste boek in die Kalli Krynauw-reeks. Het jy vanaf die begin beplan dat daar vyf boeke in die reeks sal verskil?

Ek was eintlik al klaar ná die derde, maar toe praat Cecilia Britz (Hoofuitgewer by Fiksie: LAPA) my om om nog een te skryf en terwyl ek besig was om nommer 4 te skryf, kry ek die idee vir nommer 5. Maar nou is ek regtig klaar met Kalli; sy is ook moeg vir die gevaarlike werk wat sy doen.

In Vergete leuens ondersoek Kalli moord in ’n klub vir gesellinne. Hoe het jy navorsing gedoen vir hierdie storielyn?

Gelees en gelees en gelees en gelees, oor baie jare. Ek wou lankal ’n boek oor gesellinne skryf en toe trek ek my lêer met knipsels oor gesellinne nader en weef vir Kalli in die storie in. En Google is natuurlik ook altyd ’n handige bron.

Vergete leuens(Voorblad)

Kalli Krynauw is ’n geliefde karakter. Wat weet lesers nie van haar nie?

Na vyf stories oor haar is daar bitter min wat die lesers nie van haar weet nie. Miskien het dit nie sterk deurgekom hoe lief sy vir haar pa was nie en hoe graag sy hom trots op haar sou wou maak nie. Maar hy is vroeg in haar lewe al oorlede.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses vir die Kalli Krynauw-reeks?

O my goeiste, die NAVORSING! Ek het bitter min geweet van “CIS” en moes oplees en onderhoude hou vir ’n vale. Ek was natuurlik skelm om SIS, ’n spesiale eenheid te skep, want vandag se polisieprosedures stem mos maar nie altyd met die handboeke ooreen nie.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Deon Meyer en dan Jeffery Deaver, Minette Walters, Kathy Reichs, John Connelly, David Baldacci, Ken Follett, Stephen King en Tolkien.

Watter een van jou eie boeke is jou gunsteling?

Dis gewoonlik maar die laaste een. Vergete Leuens was ’n uitdaging, daarom bevredigend.

Wat is daar volgende vir jou in die pyplyn?

Ons het pad getrek na ’n kleiner blyplek en dit was uitmergelend. Ek is nog ’n bietjie broos.  Liefde op die Nyl, ’n Romanza, se eerste paar bladsye is darem al geskryf.

Koop Vergete leuens hier: http://bit.ly/2cxwQDk

Vlinderdraai − Frenette van Wyk

Vlinderdraai_high res

Sy gaan koop vir haar ’n koeldrank by ’n klein karavaanstalletjie onder ’n koelteboompie, en toe sy weer omdraai en opkyk, is dit reguit in die amberwarm oë van Arend de Villiers.

Haar hart wip onnodig hoog in haar keel. Wat maak hy hier? Sy dag hy is weer vort. Maar hemel, sy hoef nie vir hom te skrik nie. Sy vete is met Gerhard, nie met haar nie.

Sy weet egter dis nie die enigste rede waarom haar hart so buitensporig vinnig klop nie. Sy is verras en ’n bietjie bly dat hy nog in die omgewing is.

“Môre,” groet hy en lyk ook verbaas om haar te sien.

Sy knik haar kop beleefd en lig haar wenkbroue net effentjies, maar verraai niks van haar innerlike gemoedswoeling toe sy verby hom stap nie.

“Al enigiets gekoop vanoggend?” vra hy skuins agter haar.

Sy skud haar kop en kyk terug oor haar skouer. “Kyk nog. Besluit nog. Daar is niks wat my jaag nie.”

Sy sien hoe hy agter haar aankom.

“Ek soek net die beste vir my nuwe huis.” Sy weet sy is moedswillig om dit te sê, want dit was tog voorheen sy huis wat hy wou terugkoop, maar na sy afjakkerige houding laas teenoor haar verdien hy geen simpatie nie.

Die volgende oomblik spring hy voor haar in, so triomfantelik vermetel, dit slaan byna haar asem weg.

“Sê my net,” sy hande gaan sit ferm op sy heupe en hy kyk deur skrefiesoë vir haar, “wat wil jy nou eintlik met so ’n verlate huis in die middel van die eensame Karoovlaktes maak, rooikop?”

Sy skouers span uitdagend breed en sy kuif blink nonchalant teen die gesonde sonbruin van sy gelaat, meesleurend sterk en manlik, maar sy vererg haar sommer dadelik weer vir die arrogante manier waarop hy haar aanspreek.

“Al ooit van iets soos restourasie gehoor, h’m?” vra sy sarkasties.

“Het jy al ooit voorheen so iets aangepak?” kom hy met ’n skeptiese teenvraag.

Moet hy nie maar ook uit haar sake bly nie, aangesien hy haar aangeraai het om uit sy en Gerhard se sake te bly?

“Ek gaan alles in my vermoë doen om die reuseprojek te laat slaag,” antwoord sy hom so vaag as moontlik.

Sy het reeds drie soortgelyke projekte suksesvol saam met ander ervare restoureerders voltooi. Die gewelhuis in die Kaap was vir haar ’n heerlike uitdaging. Sy het die geleentheid gehad om as leier van die projek op te tree, en die ervaring wat sy daar opgedoen het, is van onskatbare waarde. Sy is vol vertroue in haar vermoëns om met Dwarreldraai dieselfde sukses te behaal. Maar laat hy gerus wonder oor haar bekwaamheid en kundigheid aangesien hy so pynlik neerhalend teenoor haar wil wees.

“Ek kan jou ’n aanbod maak en die plaas by jou koop voor jy ’n gemors maak . . .”

“’n Gemors maak?” Sy wil eers ’n kabaal opskop oor sy verwaande uitlating, maar sy begin eerder heerlik lag.

Dit betrap hom onkant, nes sy gehoop het.

“Ek bedoel, voor jy jou geld mors,” sê hy gou en hou haar fronsend dop. “Jy gaan heel moontlik oorkapitaliseer en teen ’n verlies werk, veral as jy nie behoorlik nagevors het vir hoeveel gerestoureerde plekke hier in die Karoo weer verkoop nie.”

“Dankie vir jou besorgde raad, maar ek is nie van plan om weer te verkoop nie.”

Sy sê dit met duidelike, doelbewuste finaliteit in haar stem wat sy hoop soos ’n emmer koue water in sy gesig spat, en du rakelings teen hom verby na waar die afslaer reeds die volgende item begin opveil.

Hopelik het sy hom nou afgeskud, maar hy bly sowaar aan haar sy.

“Oe, dit sal nogal ideaal wees vir my nuwe badkamer,” sê sy toe die afslaer ’n stel geelkoperkrane begin opveil. Spesifiek bedoel om Arend weer te irriteer.

Maar die krane lyk wel ook nog mooi, outyds en antiek, iets wat vandag se dae nie meer in gewone winkels beskikbaar sal wees nie. Sy kan haar net voorstel hoe perfek dit by ’n ou Victoriaanse porseleinbad sal lyk. Ja, hulle is ideaal en sy laat nie langer op haar wag nie.

Sy bie.

Die volgende oomblik maak Arend hier langs haar ’n baie hoër bod op die krane.

Sy kan haar ore byna nie glo nie. Probeer hy die krane voor háár neus wegraap? Is dit sy powere poging om haar te wys hy sal wel die laaste sê hê?

Navorsing in Skryfwerk − Susan Olivier

“Navorsing is seker die beste muse wat ’n skrywer kan hê.” − Deon Meyer

Deon Meyer het vir Spoor onder meer navorsing gedoen oor spoorsny, swart renosters, privaatspeurders, en Moslem-ekstremiste. Hierdie navorsing laat ’n storie in sy gedagtes vorm kry.

Waar begin ’n mens?

Begin met die opsomming van jou verhaal. Watter elemente is belangrik vir jou storie: Karakters? Omgewing? Bou dan elk van hierdie elemente met jou navorsing uit. Hier is lyste wat my help wanneer ek skryf.

14222078_1266901126678124_6755518371593704885_n

Wie is jou karakters?

  • Peuter/Tieners/Volwasse
  • Sielkundige aspekte
  • Persoonlikheidstipes
  • Sielkundige afwykings
  • Manier van praat
  • Klere wat hulle dra

Skep ’n karakterprofiel van al jou karakters

  • Naam:
  • Ouderdom:
  • Voorkoms:
  • Tuisdorp:
  • Tipe huis/area:
  • Verhoudingstatus:
  • Familie:
  • Familie agtergrond:
  • Vriende:
  • Ander nabye verhoudings:
  • Beroep:
  • Klerestyl
  • Godsdiens

Maak jou storie visueel. Beleef jou verhaal en jou lesers sal dit saam met jou beleef.  

visueel

 

Navorsing oor die plek:

  • Besoek die plek.
  • As nie kan nie, kyk op Google maps.
  • Lees boeke oor die area.
  • Artikels in tydskrifte.
  • Aanbeveling: Begin waarmee jy bekend is, voordat jy na eksotiese omgewing gaan wat jy nie ken nie.

Wat maak ’n plek uniek:

  • Klimaat
  • Planteryk
  • Geboue
  • Areas- ryk/arm
  • Tipe eetplekke
  • Verblyf
  • Platteland/stad

Let op na wat pas nie by die plek nie, byvoorbeeld as dit in die winter reën, sal jou storie Wes-Kaap afspeel, eerder as die noorde. 

Ekstra hulpmiddele: