Ver anderkant Wiesenhof – Alma Carstens

 

ver-anderkant-wiesenhof-voorblad_high-res

Terwyl hulle eet, klop haar hart so onstuimig dat sy die kos met moeite afgesluk kan kry. Sy drink groot slukke wyn om haar senuwees te kalmeer, maar verniet. Haar hele lyf is snaarstyf gespanne en sy krap meesal net met haar vurk die kos deurmekaar sonder om daarvan in haar mond te sit.

“Is jy nie honger nie?” vra Nikla en wys ligweg na haar bord wat nog vol is terwyl syne byna leeg is.

“Nie eintlik nie. Ek is nie juis ’n wafferse kok nie. Joe het altyd gesê ek moet die kosmakery maar liewer aan die sjef oorlaat. Of miskien was hy net bang ek vergiftig hom,” lag sy vreugdeloos en byt dan inderhaas op haar onderlip toe sy die stroewe lyne om Nikla se mond sien. “Jammer,” maak sy verskoning vir haar onvanpaste grappie.

“Hoekom sou jy dit wou doen, Kara?”

Sy haal haar skouers op. “My huwelik met Joe was nie maanskyn en rose nie, Nikla.”

Hy knik en neem ’n slukkie wyn. “Ja, hy klink na ’n onaangename vent. Iemand wat diere mishandel.”

“Jy het geen idee nie,” prewel sy ingedagte.

“Nee,” sê hy sag en staan op. “En dis dalk beter dat ek nie alles weet nie, nè?”

Kara staan ook op en stoot haar stoel onder die tafel in. “Nikla, ek weet ek het jou bitter seer

gemaak, maar jy was nie die enigste een wat seergekry het nie. Glo my as ek sê dat ek my straf dubbel en dwars uitgedien het in die tien jaar saam met Joe.”

“Straf uitgedien?” vra hy verontwaardig. “Jy het in weelde geleef, Kara.”

“Geld koop nie geluk nie, Nikla.”

“Dit kon ek jou tien jaar gelede al gesê het.”

Kara tree nader na hom toe en sit albei haar palms teen sy bors. “Ek wens ek het toe geweet wat ek nou weet, Nikla. Dis hel om met ’n man getroud te wees terwyl jou hart aan ’n ander een behoort. My liefde vir jou het nooit gekwyn soos ek gehoop het nie, maar het met die jare net aanhou groei. Ek wens jy kon weet hoe ek na jou verlang het.” Sy staan op haar tone en druk haar lippe uitnodigend teen syne.

Nikla staan vir ’n paar sekondes net doodstil, toe gly sy arms om haar en soen hy haar met soveel passie dat haar hele lyf daarvan tintel. Vir Kara voel dit asof sy nie naby genoeg aan hom kan kom nie, en sy sirkel haar arms om sy nek en druk haar borste styf teen sy harde borskas vas.

Nikla se hande gly laer en skulp om die rondings van haar sitvlak voor hy haar nog stywer teen hom vastrek. Sy mond breek weg van hare en soek teen haar nek af, verken die sagtheid van die vel oor haar sleutelbeen voor hy weer haar lippe vind in ’n honger soen wat haar sinne benewel.

Kara voel die polsing in hulle lywe en weet met sekerheid die passie wat hulle soveel jaar gelede gedeel het, brand steeds hoog tussen hulle. Sy maak haar arms om Nikla se nek los en voel met haar vingers na die boonste knopie van sy hemp. Toe sy by die vierde knopie kom, vat hy meteens albei haar polse met sy hande vas en lig sy kop op. Sy oë brand op haar gesig en sy asem jaag.

“Kara,” sê hy skor. “Moenie.” Hy tree weg van haar af en maak sy hemp se knope weer vas.

Kara skud haar kop in onbegrip en tree nader na hom toe, maar hy tru nog verder weg van haar af, sy oë steeds vas in hare.

“Moenie weer naby my kom nie,” sê hy hees.

“Nikla,” sê sy kortasem. “Ek weet jy wil my hê. Net soveel as wat ek jou wil hê.”

“Natuurlik wil ek jou hê, Kara. Magtig, ek is nie ’n klip nie. Ek wil jou hê, wou jou nog altyd hê, maar dis . . . wat nou net gebeur het, was ’n fout.”

“Nee, Nikla, dis nie ’n fout nie. Ek het jou lief, meer as ooit. Dit het nooit verander nie.”

“Alles het verander. Daai dag toe jy met Joe getroud is, het alles verander, Kara. Verstaan jy dit dan nie?”

Kara voel hoe haar keel dik word van trane en sy sluk desperaat om die knop afgewurg te kry. “Hoeveel keer moet ek nog sê hoe jammer ek is, Nikla? Ek sal enigiets gee, enigiets doen om reg te maak vir my fout.”

“Fout?” vra hy met ’n diep frons. “Jy het my verraai, Kara. My seerder gemaak as wat ek ooit gedink het moontlik is. Daar is niks wat jy kan doen of sê om dit ongedaan te maak nie. Niks wat jy sê, kan verhoed dat Lucy na haar graf toe is met die wete dat ek haar nie liefgehad het nie. Niks wat jy doen of sê, kan die tien jaar van hel waardeur ek is, uitwis nie. Niks!”

Kara trek haar asem diep in toe haar oë vol trane stoot en sy magteloos is om die stortvloed emosies wat sy woorde in haar losruk te keer.

“Ek weet, Nikla,” snik sy opeens. “Maar my onbesonnenheid het nie net slegte dinge tot gevolg gehad nie. Ek sal Jack vir niks onder die son verruil nie. En ek is seker jy voel dieselfde oor Ellie.”

Hy sluk en klem sy kake styf opmekaar. “Nee, maar Jack moes myne gewees het en Ellie joune, Kara. En dit kan jy nooit verander nie.”

“Nikla,” keer sy desperaat toe hy sy motorsleutels optel wat op die tafel lê. “Ons is nog jonk en kan oor begin. Saam met Jack en Ellie. Asseblief, sê jy vergewe my.”

Hy kyk vir ’n paar tellings net reguit na haar terwyl sy kake hard opmekaar werk. Toe stap hy by haar verby na die voordeur toe.

Kara gryp hom aan sy arm en probeer hom terughou. “Nikla! Ek is verskriklik lief vir jou. Beteken dit dan vir jou niks?”

Hy draai sy kop net effens, maar kyk nie na haar nie. Toe trek hy sy arm uit haar greep en stap by die deur uit.

Toe Kara sy motor hoor wegtrek, bars rou snikke deur haar keel. Die besef dat sy Nikla vir altyd verloor het, is so pynlik dat sy die gedagte byna nie kan verduur nie. Haar liefde beteken niks meer vir hom nie en gaan nie sy vergifnis koop nie. Nie eens sy fisieke begeerte na haar, wat hy self aan haar erken het, gaan haar help om Nikla terug te wen nie.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s