Facebook-vriendin: Chantell Roberts

Vertel ons so bietjie van jouself?

My gesin is my alles. Ek probeer my bes om die lewe vir hul gemaklik en lekker maak.

Woon in: Pretoria Bon Accord

Stokperdjies: Bak, kosmaak, foto’s neem en boeke lees

Jy is ’n fotograaf van beroep. Wat is jou hoof ‘tema’ wat jy afneem? Troufoto’s? Portrette?

My hooftema is paartjies, maar ek is mal daaroor om kinders af te neem

Wat geniet jy die meeste van lees?

Die passie tussen die paartjie

Vertel ons van jou ander stokperdjies?

Om saam met my dogtertjie te bak en brou; en foto’s te neem van plante.

Behalwe romanse lees ek ook graag …

Rillers

Wat is die items waar sonder jy nie kan leef nie?

My boeke, selfoon, kamera en gesin

Wie is jou drie gunstelingskrywers is?

Dina Botha, Rika du Plessis en Bernette Bergenthuin

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

Dina Botha, Charlize Theron en my man

Watter boeke kan jy herhaaldelik lees?

Man op sig – Dina Botha

Glansheld en die koerantprinses – Bernette Bergenthuin

Temmer van haar hart − Marie-Louise Cronjé

Met watter skrywer sal jy graag ’n dag wil bestee? Hoekom?

Dina Botha, want sy het ’n  passie vir skryf

Dina Botha se SuperRomanza, Suikersoetsonde, verskyn Oktober 2016.

’n Held is aantreklik as hy watter eienskappe het?

Liefdevol, verstaanbaar en omgekrap deur die liefde

Waar sonder kan jy nie leef nie?

My gesin

 

 

In Sanet se kieste

Net ’n mens(Voorblad)

Sanet, toe ons jou ontmoet sondig jy met sjokolade. Is dit jou trooskos?

Helaas, ja. Daar is ander heerlikhede wat ook troos … malvapoeding met dik vla, vars brood met plaasbotter en tuisgemaakte appelkooskonfyt … Maar sjokolade bly die beste.

As jy op Instagram was, wat sal jou mees gebruikte hutsmerk wees?

#doodaansjokolade

sjokolade

Soet of sout?

Soet, soet, soet!

Watter dis sal jou laaste maal wees?

’n Pot kerrieafval met baie aartappeltjies soos my ma dit gekook het.

Dit is Saterdag Erfenisdag. Ons wil vir jou kom kuier. Watter resep sal jy vir ons voorsit?

Ek sal julle bederf met wat in ons familie as “vlieëpoeding” bekend is.

Dis darem nie regte vlieë nie, maar korente waarna ’n kind as vlieë verwys het!

Die regte naam is eintlik sagopoeding:

Kook 4 eetlepels (e) sago in 2 groot koppies water.

Roer by:               2k suiker

2e appelkooskonfyt

1k korente

3 eiers

2e botter

2t koeksoda aangemaak met klein bietjie lou water

Halwe koppie broodkrummels

Bak vir ’n halfuur by 180 grade.

Koop nou Net ’n mens hier: http://bit.ly/2bBxe5k

 

As die liefde blom – Elsa Drotsky

As die liefde blom_high res

Dit is warm op die patio waar die son sedert middagete begin skroei het. Alein pluk sy das los en onder sy kraag uit. Onder sy vingers spring twee hempsknope ook oop. Wanneer ’n meisiekind so naby die see grootgeword het, is mans se kaal bolywe lankal nie meer snaaks nie. Dis egter iets anders wanneer ’n spierwit hemp so onverwags naby ’n man se kuiltjie begin gaap om onverwags ’n blik op donker, krullerige borshare te gee.

Van onder uit die vallei verjaag die kenmerkende klank van ’n visarend se roep die namiddagstilte en hulle kyk spontaan in mekaar se oë. Sy weet dis nie net die kreet van die voël wat haar koue rillings op hierdie soel agtermiddag laat kry nie.

Selfbewus oor ’n emosie wat sy so onverhoeds beleef het, loop sy ’n paar tree weg. Dit was soos ’n voorspooksel, die gevoel waarmee sy hulle oomblikke van eensgesindheid beleef het. Sy is vlugtig bewus van die afgetrokkenheid waarmee hy die das wat hy netjies om sy hand gevou het in sy broeksak druk. Hy glimlag toe hulle oë in haar verwondering op die skynbaar normale gewoonte van hom fokus, en sy kyk met warm wange weg. Menige man sou die das sommer in sy broeksak teruggebondel het. Dit pla haar dat so ’n ongeërgde handeling haar net meer bewus van haar intense belewenis van hom maak.

Dit is ’n ontstellende ontdekking nadat sy tot nou toe goed daarin geslaag het om nie meer as vriendskap uit mans se belangstelling te maak nie. Sy weet immers net sy kan haar teen die soort teleurstelling beskerm wat in ’n geval of twee haar ervaring in die lig van Izahn se gewildheid was. Kere toe sy werklik geglo het dat sy die aantrekkingskrag was en nooit gedink dat dit meer om die halsbandjie as die hondjie gaan nie.

Tjammie kom met haar swaaiende stert die trap opgewaggel en Erin woel haar ore deurmekaar waar sy flikflooiend voor haar bly staan.

“Hoe oud is sy?” Erin sak op haar hurke neer en met Tjammie se kop tussen haar twee hande vasgevang, kyk sy geskok in Alein se ondersoekende oë vas. Tjammie is so deel van die opset op River View dat sy vergeet het die hond se teenwoordigheid daar is nie so bestendig deel van die huis soos die meubels en ander huishoudelike artikels nie. Tot nou toe het sy nie gedink hulle sal vir haar ook in hulle beplanning voorsiening moet maak nie.

“Vier, amper vyf jaar,” sluk sy, en steek haar gesig in die syagtige gladheid van Tjammie se hare weg. Die oorsaak van die branderigheid wat Tjammie se lot in haar ooghoeke begin pla het, is nie vir Alein O’Leary se oë bedoel nie.

“Kom, kom,” lok Alein met ’n tongklapgeluidjie. “Gaan haal die vis vir Erin,” por hy Tjammie aan, en gooi die speelding wat sy met haar aankoms op die grond laat val het ’n ent weg.

Aan ’n jasmyn hang ’n takkie wat deur die wind of ’n voël geknak is en Erin pluk dit af. Dieselfde het met ’n roosboom gebeur. Dis gewoonlik skade wat dikwels in die tuin gesien word wanneer die wind dae lank verwoestend gewaai het, en ’n goeie verskoning om vlugtig besig te wees terwyl Alein nog ’n stel trappe afgestap het om meer van die tuin te sien wat teen ’n helling van die huis af uitgelê is.

Sy buk en pluk ergerlik aan ’n tak omdat haar oë net in een rigting wil kyk en dit is al agter hom aan. Ná die deeglike les wat sy destyds uit haar onnoselheid met Otto geleer het, weet sy immers van beter. Sy was verlore in haar verliefdheid toe sy daardie somervakansie met skool klaar was en hy sy verskyning tussen die jongmense op Nahoonstrand gemaak het.

Mog’t troffe − Bets Smith

Hoe en hoekom het ek begin skryf: Hoekom skryf enigiemand?

14292491_1266901063344797_1966250005131282357_n

Fools rush in … Dit was eintlik baie lukraak en mog’t troffe:

Dit was vir my nooit ’n brandende ambisie om eendag SKRYWER te word nie. Sedert my ouers se slaaptydstories wat die spoke en monsters kon wegjaag, was ek mal oor stories en het gou-gou self begin lees.

Die skrywery het gegroei uit hierdie voorliefde vir stories, asook my liefde vir Geskiedenis en navorsing, en het ‘gebeur’ toe ek in die negentigerjare gewonder het of ek nie self ’n storie sal kan skep nie. ’n Afrikaanse storie vir Afrikaanse vroue, ’n liefdesverhaal maar ene met ’n bietjie aksie ook.

Dus ’n Romantiese spanningsverhaal: Tot my grootste verbasing is daardie eerste poging baie positief ontvang, maar dit was ’n weermagstorie oor die grensoorlog, en dit so kort na die vrylating van Meneer Mandela. Ek probeer weer en By Omdraai Verby, ’n romantiese spanningsverhaal maar in die romanse formaat, verskyn in 1997 as deel van JP Van der Walt se klubboeke. Bloedspoor oor die maan, nog ’n spanningsverhaal, verskyn in 1999 as enkeltitel. Daarna verander ek my eerste poging en viola: Dodelike Fokus verskyn in 2000 by JP van der Walt-uitgewers (nou LAPA Uitgewers). Daarna konsentreer ek op romanses. Sedert daardie eerste boek is 26 gepubliseer. maar om “’n skrywer” genoem te word, voel nog steeds vir my vreemd.

Bloedspoor (groot)

Koop Bloedspoor hier: http://bit.ly/2cGGXbf

Ek sal niemand aanraai om so mog’t troffe soos ek te begin nie. Weet eerder meer van die genre waarin jy wil skryf, sodat jy nie tyd mors en rondval nie. As mens weet wat jy doen en jy beplan volgens die genre, gaan jy baie gouer ’n boek op die rakke kry.

Waar begin mens? Hoe weet mens jy skryf goed genoeg? En watter genre is die een vir jou?

Vergeet van jou twyfel, begin net.

Kyk na die opsies.

GENREFIKSIE

Is ’n onderafdeling van mainstream/hoofstroomfiksie, maar fiksie beslaan ’n uiteenlopende en deurmekaar lopende verskeidenheid genres wat soms moeilik is om te definieer en behoorlik van mekaar te onderskei. Boonop druk elke skrywer sy/haar stempel af op die genre waarin sy uitblink en afhangend van hoe eiesoortig die aanslag, kan sy haar eie subgenre daarbinne skep. Skrywers soos Chanette Paul verskuif grense en skep selfs ’n nuwe unieke genre.

Om TEGELYK in verskillende genres te skryf, moet jy goed besin en weet wat jy aanvang, nie soos ek blindelings instorm nie. As LAPA se keurders en redakteurs nie so geduldig was nie, het hulle sweerlik al menige van my pogings eenvoudig in die snippermandjie gegooi of delete. Fokus eers op een genre voordat jy ’n volgende pak, veral as jy sensitief is oor kritiek.

FEIT OF FIKSIE?

Fiksie is ’n namaaksel/nabootsing van die werklikheid, tog verkry dit spoedig ’n lewe van sy eie. Sodra die proses om die werklikheid na te boots begin, tree die skrywer se kreatiwiteit en verbeelding in en vind lewenskragtige veranderinge plaas. Feite en verbeelding raak magies vermeng. Kyk byvoorbeeld na Kamphoer en Die Soenoffer. En al Leon Uris se boeke wat handel oor die Jode in die konsentrasiekampe.

FEIT? FIKSIE? OF ALBEI?

Fiksie is ’n nabootsing van die werklikheid.

“There is always a mixture of fact and invention in writing fiction.” (Novakovich,1995:8).

In die skrywer se hande word die werklikheid herskep en word ’n eie, unieke gestalte daaraan gegee.

“Fiction is so nearly like life that a good fiction nearly always changes under your hands, takes on an atmosphere, a feel, a will of its own” (Dibell, 1988:3).

Hierdie mengsel van feit en fantasie (verbeelding) is van so ’n aard dat dit die werklikheid herskep en ’n eie, unieke gestalte daaraan gee. “Fiction is so nearly like life that a good fiction nearly always changes under your hands, takes on an atmosphere, a feel, a will of its own” (Dibell, 1988:3). Dit is hierdie besondere kwaliteit van fiksie, die lewe en wil van sy eie wat dit ’n magiese kwaliteit gee en daarmee saam ’n onwerklike aspek.

Menige skrywer het dit al ondervind – karakters voeter in ’n ander koers en verander jou storie!

Koop Bets Smith se SuperRomanza hier: http://bit.ly/2cJgQnq 

Romanza-klublede kry 50% afslag! 

Kalli is moeg vir die gevaarlike werk wat sy doen – Lien Roux-de Jager

Wat was die grootste les wat jy nog as skrywer moes leer?

Dat die muse nooit net sommer in jou skoot kom val nie, dat skryf harde werk is – navorsing, bloed, sweet en trane.

Na watter skrywers sien jy op en geniet jy om te lees?

Sophia Kapp, Bets Smith, en enige spanningsverhaal – Engels en Afrikaans – veral Deon Meyer s’n.

Van watter boek/storielyn/genre droom jy vir die toekoms?

Ek sou graag ’n fantasiereeks wou skryf – eendag lank, lank gelede – geskoei op die kultus-reeks Game of Thrones, maar geplaas in ’n fiktiewe kontinent soos Afrika, waar Game of Thrones op ’n fiktiewe Europa afspeel. Maar dis so ’n groot taak, ek weet nie of ek ooit daar sal uitkom nie.

game-of-thrones-all-men-must-die-raven-t-shirt_500

As jy nie met woorde getoor het nie, watter ander beroep sou jy kon volg?

Dis ’n moeilike een, want woorde is al wat ek het. Ek is hopeloos met somme. Miskien ’n landskapargitek?

Vergete leuens is die vyfde en laaste boek in die Kalli Krynauw-reeks. Het jy vanaf die begin beplan dat daar vyf boeke in die reeks sal verskil?

Ek was eintlik al klaar ná die derde, maar toe praat Cecilia Britz (Hoofuitgewer by Fiksie: LAPA) my om om nog een te skryf en terwyl ek besig was om nommer 4 te skryf, kry ek die idee vir nommer 5. Maar nou is ek regtig klaar met Kalli; sy is ook moeg vir die gevaarlike werk wat sy doen.

In Vergete leuens ondersoek Kalli moord in ’n klub vir gesellinne. Hoe het jy navorsing gedoen vir hierdie storielyn?

Gelees en gelees en gelees en gelees, oor baie jare. Ek wou lankal ’n boek oor gesellinne skryf en toe trek ek my lêer met knipsels oor gesellinne nader en weef vir Kalli in die storie in. En Google is natuurlik ook altyd ’n handige bron.

Vergete leuens(Voorblad)

Kalli Krynauw is ’n geliefde karakter. Wat weet lesers nie van haar nie?

Na vyf stories oor haar is daar bitter min wat die lesers nie van haar weet nie. Miskien het dit nie sterk deurgekom hoe lief sy vir haar pa was nie en hoe graag sy hom trots op haar sou wou maak nie. Maar hy is vroeg in haar lewe al oorlede.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses vir die Kalli Krynauw-reeks?

O my goeiste, die NAVORSING! Ek het bitter min geweet van “CIS” en moes oplees en onderhoude hou vir ’n vale. Ek was natuurlik skelm om SIS, ’n spesiale eenheid te skep, want vandag se polisieprosedures stem mos maar nie altyd met die handboeke ooreen nie.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Deon Meyer en dan Jeffery Deaver, Minette Walters, Kathy Reichs, John Connelly, David Baldacci, Ken Follett, Stephen King en Tolkien.

Watter een van jou eie boeke is jou gunsteling?

Dis gewoonlik maar die laaste een. Vergete Leuens was ’n uitdaging, daarom bevredigend.

Wat is daar volgende vir jou in die pyplyn?

Ons het pad getrek na ’n kleiner blyplek en dit was uitmergelend. Ek is nog ’n bietjie broos.  Liefde op die Nyl, ’n Romanza, se eerste paar bladsye is darem al geskryf.

Koop Vergete leuens hier: http://bit.ly/2cxwQDk

Vlinderdraai − Frenette van Wyk

Vlinderdraai_high res

Sy gaan koop vir haar ’n koeldrank by ’n klein karavaanstalletjie onder ’n koelteboompie, en toe sy weer omdraai en opkyk, is dit reguit in die amberwarm oë van Arend de Villiers.

Haar hart wip onnodig hoog in haar keel. Wat maak hy hier? Sy dag hy is weer vort. Maar hemel, sy hoef nie vir hom te skrik nie. Sy vete is met Gerhard, nie met haar nie.

Sy weet egter dis nie die enigste rede waarom haar hart so buitensporig vinnig klop nie. Sy is verras en ’n bietjie bly dat hy nog in die omgewing is.

“Môre,” groet hy en lyk ook verbaas om haar te sien.

Sy knik haar kop beleefd en lig haar wenkbroue net effentjies, maar verraai niks van haar innerlike gemoedswoeling toe sy verby hom stap nie.

“Al enigiets gekoop vanoggend?” vra hy skuins agter haar.

Sy skud haar kop en kyk terug oor haar skouer. “Kyk nog. Besluit nog. Daar is niks wat my jaag nie.”

Sy sien hoe hy agter haar aankom.

“Ek soek net die beste vir my nuwe huis.” Sy weet sy is moedswillig om dit te sê, want dit was tog voorheen sy huis wat hy wou terugkoop, maar na sy afjakkerige houding laas teenoor haar verdien hy geen simpatie nie.

Die volgende oomblik spring hy voor haar in, so triomfantelik vermetel, dit slaan byna haar asem weg.

“Sê my net,” sy hande gaan sit ferm op sy heupe en hy kyk deur skrefiesoë vir haar, “wat wil jy nou eintlik met so ’n verlate huis in die middel van die eensame Karoovlaktes maak, rooikop?”

Sy skouers span uitdagend breed en sy kuif blink nonchalant teen die gesonde sonbruin van sy gelaat, meesleurend sterk en manlik, maar sy vererg haar sommer dadelik weer vir die arrogante manier waarop hy haar aanspreek.

“Al ooit van iets soos restourasie gehoor, h’m?” vra sy sarkasties.

“Het jy al ooit voorheen so iets aangepak?” kom hy met ’n skeptiese teenvraag.

Moet hy nie maar ook uit haar sake bly nie, aangesien hy haar aangeraai het om uit sy en Gerhard se sake te bly?

“Ek gaan alles in my vermoë doen om die reuseprojek te laat slaag,” antwoord sy hom so vaag as moontlik.

Sy het reeds drie soortgelyke projekte suksesvol saam met ander ervare restoureerders voltooi. Die gewelhuis in die Kaap was vir haar ’n heerlike uitdaging. Sy het die geleentheid gehad om as leier van die projek op te tree, en die ervaring wat sy daar opgedoen het, is van onskatbare waarde. Sy is vol vertroue in haar vermoëns om met Dwarreldraai dieselfde sukses te behaal. Maar laat hy gerus wonder oor haar bekwaamheid en kundigheid aangesien hy so pynlik neerhalend teenoor haar wil wees.

“Ek kan jou ’n aanbod maak en die plaas by jou koop voor jy ’n gemors maak . . .”

“’n Gemors maak?” Sy wil eers ’n kabaal opskop oor sy verwaande uitlating, maar sy begin eerder heerlik lag.

Dit betrap hom onkant, nes sy gehoop het.

“Ek bedoel, voor jy jou geld mors,” sê hy gou en hou haar fronsend dop. “Jy gaan heel moontlik oorkapitaliseer en teen ’n verlies werk, veral as jy nie behoorlik nagevors het vir hoeveel gerestoureerde plekke hier in die Karoo weer verkoop nie.”

“Dankie vir jou besorgde raad, maar ek is nie van plan om weer te verkoop nie.”

Sy sê dit met duidelike, doelbewuste finaliteit in haar stem wat sy hoop soos ’n emmer koue water in sy gesig spat, en du rakelings teen hom verby na waar die afslaer reeds die volgende item begin opveil.

Hopelik het sy hom nou afgeskud, maar hy bly sowaar aan haar sy.

“Oe, dit sal nogal ideaal wees vir my nuwe badkamer,” sê sy toe die afslaer ’n stel geelkoperkrane begin opveil. Spesifiek bedoel om Arend weer te irriteer.

Maar die krane lyk wel ook nog mooi, outyds en antiek, iets wat vandag se dae nie meer in gewone winkels beskikbaar sal wees nie. Sy kan haar net voorstel hoe perfek dit by ’n ou Victoriaanse porseleinbad sal lyk. Ja, hulle is ideaal en sy laat nie langer op haar wag nie.

Sy bie.

Die volgende oomblik maak Arend hier langs haar ’n baie hoër bod op die krane.

Sy kan haar ore byna nie glo nie. Probeer hy die krane voor háár neus wegraap? Is dit sy powere poging om haar te wys hy sal wel die laaste sê hê?

Navorsing in Skryfwerk − Susan Olivier

“Navorsing is seker die beste muse wat ’n skrywer kan hê.” − Deon Meyer

Deon Meyer het vir Spoor onder meer navorsing gedoen oor spoorsny, swart renosters, privaatspeurders, en Moslem-ekstremiste. Hierdie navorsing laat ’n storie in sy gedagtes vorm kry.

Waar begin ’n mens?

Begin met die opsomming van jou verhaal. Watter elemente is belangrik vir jou storie: Karakters? Omgewing? Bou dan elk van hierdie elemente met jou navorsing uit. Hier is lyste wat my help wanneer ek skryf.

14222078_1266901126678124_6755518371593704885_n

Wie is jou karakters?

  • Peuter/Tieners/Volwasse
  • Sielkundige aspekte
  • Persoonlikheidstipes
  • Sielkundige afwykings
  • Manier van praat
  • Klere wat hulle dra

Skep ’n karakterprofiel van al jou karakters

  • Naam:
  • Ouderdom:
  • Voorkoms:
  • Tuisdorp:
  • Tipe huis/area:
  • Verhoudingstatus:
  • Familie:
  • Familie agtergrond:
  • Vriende:
  • Ander nabye verhoudings:
  • Beroep:
  • Klerestyl
  • Godsdiens

Maak jou storie visueel. Beleef jou verhaal en jou lesers sal dit saam met jou beleef.  

visueel

 

Navorsing oor die plek:

  • Besoek die plek.
  • As nie kan nie, kyk op Google maps.
  • Lees boeke oor die area.
  • Artikels in tydskrifte.
  • Aanbeveling: Begin waarmee jy bekend is, voordat jy na eksotiese omgewing gaan wat jy nie ken nie.

Wat maak ’n plek uniek:

  • Klimaat
  • Planteryk
  • Geboue
  • Areas- ryk/arm
  • Tipe eetplekke
  • Verblyf
  • Platteland/stad

Let op na wat pas nie by die plek nie, byvoorbeeld as dit in die winter reën, sal jou storie Wes-Kaap afspeel, eerder as die noorde. 

Ekstra hulpmiddele:

Tong in die kies: onverstaanbaar – Frenette van Wyk

Ek sal die gelukkigste persoon in die wêreld wees as…

My twee seuns geluk in hulle lewe vind. My wens is dat my jongste seun ook ’n huweliksmaat sal vind wat by hom pas, en dat hulle albei ’n beroep volg waarin hulle vervulling ervaar en ’n persoonlike verhouding met die Here sal bly hê.

My droomhuis is …

’n Grasdak- kliphuis in die middel van die bosveld.

Wat is jou gunstelingwoord?

Hoop. Dis ’n sonskyn-emosie, die anker van jou siel in tye van storms. Dis inspirasie. Dis toekomsgerig. As ’n mens hoop het, kyk jy vorentoe met verwagting, het jy nog geloof om jou drome en ideale waar te maak.

hhe

Waar wil jy op vakansie gaan?

Enige plek waar die son skyn en dit warm is, en waar my man ook is. Dis skep kalmte, vertroosting en ook inspirasie in my binneste.

Wie is Frenette van Wyk as sy van haar skrywerstoel af opstaan?

’n INFJ-persoonlikheidstipe (volgens die Myers-Briggs persoonlikheidstoets: lees meer hier https://www.16personalities.com/infj-personality). Glo net 1% van die wêreldbevolking het dié tipe persoonlikheid en so ’n tipe persoon word o.a. beskryf as ’n ‘walking contradiction’. Dus, tong in die kies, onverstaanbaar.

’n Absolute idealis en ’n dromer wat die wêreld deur ’n roosgetinte bril bekyk. Ek glo elke storie in die lewe het uiteindelik ’n gelukkige einde.

’n Gevoelsmens wat maklik my hart eerder as my kop volg. Ek maak baie meer op my intuïsie staat as op feite, en dit het my nog nooit in die steek gelaat nie.

Leef baie graag eerder buite die spreekwoordelike ‘boks’ as binne reëls en perke wat ander mense probeer stel.

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

Ek sou graag ’n motiveringspreker wou wees. Ek sou mense wou inspireer om die lewe te geniet, en hulle wou oortuig dat dit belangrik is om hulle doel in die lewe te ontdek en dit met passie uit te leef.

Waar is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het? 

Terwyl ek op vakansie was in Pilanesberg. Die heerlike hitte en stilte het my so begeester dat ek daar en dan in die skadu’s van ’n doringboom ’n nuwe boek aangepak het.

africa2-scxenic_9048

Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Elke nuwe boek wat vir publikasie aanvaar word, is ’n hoogtepunt, maar daardie eerste keer toe LAPA Uitgewers my laat weet het dat hulle my manuskrip graag wil uitgee en dat ek nou ’n outeur in volle reg is, was suikersoetekstase. Ek het omtrent ’n uur lank op en af in my huis gehuppel, dans, lag en huil van blydskap.

Waar kry jy inspirasie vandaan?

Om te reis en nuwe plekke te sien inspireer my altyd om ’n nuwe liefdesverhaal te skryf. Interessante, oorspronklike, kreatiewe mense is ook ’n groot bron van idees vir storieboekkarakters.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Prof. Hans du Plessis wat my aangemoedig het om ook in die ‘Innie skylte vannie Jirre’ te skryf.

Vinnige feite oor Dina Botha

dina-botha

Sedert 1 Maart 2013 het Nielsen BookData 167 weeklikse topverkoperlyste uitgereik. In hierdie 167 weke was Dina Botha 136 keer in die Top 100 vir fiksieverkope in Suid-Afrika. Jip, 136 uit 176! Om op hierdie lys te kom, ding ’n skrywer mee met alle outeurs van reg oor die wêreld, nie net Suid-Afrikaners nie.

Dina het in dié tydperk 60 keer die Top 40 gehaal en was nie minder nie as 24 keer in die top 20.

As kind het sy naarstiglik Ena Murray gelees. Vandag pluk Dina die vrugte. Sy is ongetwyfeld die nuwe koninging van die liefde.

 vind mekaar_high res

Vind Mekaar is Romanza nommer 51 vir Dina Botha.

 

Dit is een en vyftig Romanzas in tien jaar.

Dan het sy boonop ses Superromanzas ook al geskryf.

Sluit nou aan by Romanza-klub en spaar tot bykans 40% op jou Romanzas: http://bit.ly/2bAiDdL

Laat ek jou liefhê – Annarie Linde

Laat ek jou liefhê_high res

“Ai, Josie, wil jy nie liewer vir jou broer wag nie?”

“Nee Katryn, nou. Gryp die dag!” Josie sleep die leertjie agter die toonbank in en Katryn moet padgee, met haar boek en al. Sy dink duidelik nie daar is nou tyd vir prente ophang nie. Intussen stap Josie weer terug en gaan staan voor die toonbank. Sy korrel met die oog.

“Katryn, staan daar en hou jou hand net daar. Net bokant daardie merk moet ek die spyker inslaan.” Katryn staan weer gedwee reg, hou haar oë op Josie en skuif haar hand soos Josie beduie.

“Jy lyk nogal mooi vanoggend in daardie rokkie.”

“Dink jy so?” Josie kyk ’n oomblik af na die geblomde nommertjie, miskien meer van ’n strandrokkie, kort, bokant die knie, en koel, skouerloos, maar sy dra ’n pienk bolero’tjie bo-oor.

“Ek dink dit gaan warm wees vandag. Bergwind.”

“Nou ja, jy lyk amper soos een van Sue se cupcakes, die ene pienk en blomme.”

“Ag nee, Katryn, dit klink nie soos besigheid nie!” Josie lag vir Katryn wat opreg en eerlik is soos gewoonlik, maar dis dalk nie wat ’n jongmeisie van ses en twintig wil hoor nie. Soos ’n cupcake!

“Ek bedoel maar net, jy lyk sag en vroulik. Daardie kakie wat jy plaas toe dra, is mos glad nie so nie.”

“Nou ja, solank ek net nie outyds lyk nie!”

Josie het intussen met die leertjie opgeklim. Sy besluit om die hakie ’n bietjie hoër in te slaan as wat sy oorspronklik beplan het, en strek boontoe. Versigtig hou sy die spykertjie vas en slaan met mening.

“Verdeksels!” Die eerste een is skeef.

“Gee nog aan, Katryn.” Sy hou haar hand uit, maar Katryn kyk anderpad.

“Josie . . .” Katryn kyk na die deur, haar stem dringend.

“Wat nou? Katryn, gee aan.” Maar Katryn het reeds die spykers op die toonbank neergesit en stap om.

“More, Meneer, kan ons help?”

Josie draai haar bo-op die leertjie om en verloor byna haar balans. Teen die helder sonlig buite sien sy die silhoeët van ’n man wat sy nog nooit van adamskant af gesien het nie. Sy gesig kan sy nie sien nie, net die buitelyn van ’n skralerige figuur met ’n wilde bos hare en die sonlig van agter soos ’n rooi stralekrans. Wie op aarde?

“Is dit die plek dié?” Diep stem, maar beslis ontevrede en geïrriteerd.

Katryn staan nader.

“O, dis die melkterte!”

Die man het ’n groot plat boks wat aan die een kant oop is in sy hande. Soos hy nader kom, lyk dit of die terte gaan gly, maar net betyds herwin hy sy balans.

“Oppas, Meneer!” kom dit van Katryn. Josie staan nog steeds op die leer. Hier van bo af sien sy die ontevredenheid op die skraal gesig.

“Is dit die plek dié?”

Sy stem is net so ontevrede, en Josie raak meteens selfbewus oor haar kort rokkie en haar kaal bene so hoog op die leer. Sy sien darem hoe die man ten spyte van sy ontevredenheid twee keer kyk.

“Wie stuur jou?” Josie het reeds Mynie se melkterte herken, die goue skilferkors en die verleidelike vulsel wat nog dril, maar sy probeer haar waardigheid en kalmte herwin. “Mynie?”

“Ja, Mynie.” Hy plak die boks op die toonbank neer.

“Is daar nog?” wil Katryn weet. Hy is egter reeds by die deur uit, en toe sien Josie eers Mynie se blou stasiewa waarmee sy altyd die terte kom aflewer. Hy is gou terug.

“Daar’s nog!” Hy klink beskuldigend.

Toe hy die laaste paar inbring, moet hy dit op een van die tafeltjies in die koffiewinkel self neersit.

“Ek weet nie hoekom sy dit dóén nie!” sê hy vererg.

“Wat doen nie, Meneer?” vra Katryn beleefd.

“Hierdie verd . . . hierdie terte bak nie. Hoekom bak my ma melkterte vir ’n winkel soos dié?”

Josie se innerlike vrede wankel. Sy voel hoe iets in haar begin roer, hoe sy haar vererg en die bloed opstoot in haar nek. Tog antwoord sy koelweg, nogal professioneel, dink sy.

“Wat is die probleem, meneer Bruwer, aanvaar ek, as jy Mynie se seun is? Is dit dat jou má bak, of dat sy mélkterte bak en nie beskuit nie, of dat sy bak vir ’n winkel soos hierdie?”

Josie is agter die toonbank uit en kyk die man vererg op en af. Ongelukkig is hy ’n ent langer as sy. Katryn is reeds besig om die terte op die rak te pak en kyk anderpad.

Pleks dat hy stilbly, antwoord hy. Heeltemal onvanpas na Josie se sin.

“Dis so kleindorps, so outyds, so ánders as wat sy ooit gedoen het.”

“Outyds? Kleindorps?” Josie moet na haar stem soek, so ergerlik is sy. “Jy is duidelik oningelig oor hierdie bedryf. En dis nogal jou ouma se resep wat jou ma gebruik, weet jy?”

“Presies dit wat ek sê! Outyds. My ma was nog nooit so ’n … so ’n ouma-huisvrou-tipe nie! Buitendien, sy hóéf dit sekerlik nie te doen nie. My pa sorg tog goed vir haar.”

“’n Mens doen nie altyd dinge net vir die geld nie! Buitendien, hoe weet j’y, meneer Bruwer?” Josie is nou behoorlik op dreef. “Wanneer laas was jy hier dat jy weet wat in haar lewe aangaan? Hoekom gaan vra jy haar nie self nie? Arme Mynie, om uit te sien na haar seun se kuier en dan is hy dikbek as hy haar met iets moet help. Tussen hakies, hoekom is jy vandag al hier? Was jy nie veronderstel om môre eers hier aan te kom nie?”

Ten spyte van haar verergdheid, merk Josie die aantreklike skraal gesig, die fyn hoenderspoortjies langs die donkerbruin oë, die langerige hare wat teen die son nog steeds lyk soos ’n stralekrans, die stoppelbaard.

“Dít, Juffrou, is nie jou saak nie, maar jy is reg, ek sal my ma vra.”

“Sê sommer vir haar sy hoef jou nie môre lastig te val met die bestelling nie. Ek sal dit self kom haal.”

“Skerp tong, swak besigheid!” Hy draai om en stap uit.

’n Saluut aan daardie baie gelukkige paar jaar – Annarie Linde

Waar is die vreemdste plek waar jy al ooit geskryf het?

Ek neem graag notas oor wat ek sien en beleef waar ek ook al beland: terwyl ek wag by SARS, of in ’n vliegtuig op pad êrens heen. Ek  verkies om met die rekenaar op my skoot te sit en werk in die tuin of vroegoggend in die bed. Nie baie buitengewoon nie!

 Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Sekerlik die oproep toe my eerste manuskrip aanvaar is. Ek was op die N4 op pad van Pretoria na Nelspruit en ek onthou hoe ek eers van pure blydskap langs die pad moes stop. Dit was wonderlik!

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Doen dit net! Skryf die eerste 200 woorde en kom aan die gang. Dit hoef nie perfek te wees nie. Dikwels beplan mens eindeloos en doen baie navorsing en dit is eintlik ’n vorm van uitstel.

Hierdie is jou eerste Romanza in drie jaar? Was dit moeilik om weer eens ’n romanse te skryf?

My beroep het ’n nuwe draai gemaak wat my laat sweet het. Die belangrikste was dat ek ’n jonger suster aan ’n uitmergelende siekte verloor het. My woorde het vir ’n lang ruk opgeraak.

Wat het jy in die tussentyd gedoen?

Joernaal gehou soms. Soos Julia Cameron sê mens moet doen − morning pages wat mens darem kreatief aan die gang hou. ’n Kursus gedoen in feature writing, maar ek kon  nie fiksie skryf nie.

Drie items waar sonder jy nie kan leef nie.

Mense, boeke en my lipstif!

Wie is jou drie gunstelingskrywers?

Nee, nee, nee! Dis soos om te vra watter een van my seuns my gunsteling is! Miskien dalk tog Jane Austen. Sophia Kapp het my baie beïndruk met haar Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva en haar siening oor skryf vir vroue. Jan Morris se reisbeskrywings.

Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees.

Mr Darcy, Tannie Ans, Jan Morris.

Wat is die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Ek lees graag oor skryf. Stephen King se boek On Writing is waardevol en sonder fieterjasies. LAPA Uitgewers se Lenteskool vir romantiese fiksie het my gedwing om die eerste hoofstuk te skryf van my eerste boek. Dankie tog!

Watter boeke kan jy herhaaldelike lees?

Pride and Prejudice (en die BBC movie), Tony Osler se Zen boeke oor die Karoo, die Bybel.

Vertel ons 5 dinge wat nie in jou bio is nie.

  • My komvandaanplek is die plaas Pontdrift aan die Limpopo
  • Ek is baie nuuskierig
  • Baie lief vir die visuele kunste
  • Ek’s meestal baie geduldig maar beleef woeste emosionele reaksies onder die oppervlak
  • Ek doen graag joga

Joga-Koper-Deusa

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

Sakevrou.

Wat was die muse vir Laat ek jou liefhê se storielyn?

Baie jare gelede het ek aanvanklik saam met my skoonsuster, ’n koffiekroeg bedryf in ’n klein dorpie in die Suid-Kaap. Op ’n manier is Laat ek jou liefhê ’n saluut aan daardie baie gelukkige paar jaar. Natuurlik is Josie en Matt se storie nie myne nie, maar hier en daar is wel ’n insident of ’n bietjie atmosfeer wat ek beleef het. Maar Josie en Matt – hulle het hulle heeltemal nuut kom aanmeld!

Laat ek jou liefhê_high res

Josie is baie goed met handwerk. Is brei of hekel ook ’n stokperdjie van jou?

Naaldwerk was waarskynlik my heel eerste skeppende liefde. Lap/tekstiel is magic. Maar nouja, die dice het vir my anders geval … met vier seuns maak jy eerder kos as hekellappies!

Wat is volgende in die pyplyn vir jou?

Baie skryf, baie skilder, leef met ’n groot oop hart.

Sakke vol liefde

Vind mekaar – Dina Botha

vind mekaar_high res

Op Vindmekaar wil Lizette ’n nuwe lewe vir haar en haar seuns skep. Maar durf sy vlerke aan haar gevoelens vir die dorpspredikant gee. En hoe gemaak met die vroue van die dorp wat dié nimlike wewenaar se drumpel so plattrap?

Laat ek jou liefhê – Annarie Linde

Laat ek jou liefhê_high res

Josie het nie ooghare vir mense wat ander oordeel nie. Daarom stamp sy en Matt onmiddellik koppe toe hy met sy vooroordele by haar koffiewinkel instap. En tog, sy kan dié aantreklike rooikop net nie uit haar gedagtes kry nie …

Vlinderdraai – Frenette van Wyk

Vlinderdraai_high res

Arend het nie ooghare vir Liabelle nie. Sy het onwetend sy erfplaas voor sy neus weggeraap. Hy word ’n doring in haar vlees, maar sy intense oë – en sy soene – veroorsaak vlinders in haar hart.

As die liefde blom – Elsa Drotsky

As die liefde blom_high res

Die laaste ding wat Erin verwag is om haar hart te verloor op Alein O’Realy − die man wat haar ma se boedelsake finaliseer. Kan sy hom weerstaan terwyl hulle die somervakansie saam op River View woon?

 

Is jy al ’n Romanza-klublid? Jy kry 30% afslag op alle LAPA-boeke! Sluit hier aan: http://bit.ly/2bAiDdL

 

Spanningsvolle leesgenot

VERGETE LEUENS – Lien Roux-de Jager

Vergete leuens(Voorblad)

Kalli word weer deur SIS ingeroep om hand by te sit. Twee gesellinne van ’n swierige klub vir gesellinne is vermoor en die lyke grieselrig uitgestal. Die forensiese span vind absoluut geen leidrade nie en die afleiding word gemaak dat die moordenaar gesorg het dat hy volledig – van kop tot tone bedek was toe hy gemoor het. Maar hoekom verskil die modus operandi van die twee moorde dan? Hoe het hy daarin geslaag om by die klub in te kom en hoe het hy dit reggekry om die twee meisies so maklik te oorrompel? Die veiligheidsmaatreëls by die klub was goed, maar is verder opgeskerp na die eerste moord.

Die eerste afleiding is dat dit een van die kliënte van die klub moes gewees het en die SIS en die SAPD se soektog brei wyd uit. Hulle ondervra selfs ’n pastoor wat die klub besoek het en uitgevaar het oor die sondes! Die soektogte lewer niks op nie en die moreel van die ondersoekers word by die dag laer.

Kalli voer gesprekke met die gesellinne van die klub. Hulle bly nou almal in die een huis saam om veiligheidsredes. Die polisie bewaak die plek.

In die proses word Kalli blootgesel aan die lewe van gesellinne en raak vertroud met ’n wêreld van kindermolestering en seksuele teistering. Dit ontstig haar geweldig maar die groot skok kom toe haar vier en ’n half jaar oue dogtertjie verdwyn.

 Koop Vergete leuens hier: http://bit.ly/2bxHVpU 

Springgety – Chanette Paul

springgety

Toe Lily Reynecke Maja se voetspore Kruisbaai toe volg in die hoop om haar lewe weer aanmekaargelym te kry, weet sy nie dis ’n plek waar die dood tasbaar na siele vra en die geskiedenis hom herhaal nie.

Kort na haar aankoms eis Springklip, die hoë krans waar reeds vier kruise staan, nog ’n lewe. Nog iemand wat gespring het. Of gestamp is. Dalk deur Lily self in een van haar vergeettye. Dalk groot, beneukte Ben? Of beskerm Ben vir Kassie, sy verstandelik gestremde broer?

En wat is dit aan Kruisbaai dat dese en gene hulle so verlustig in ongeoorloofde vleeslikheid? Die visvrou, Annie Niemand, se postume wraak? Gerbrand Niemand se werkinge uit die hel? Of net die eensaamheid van ’n afgesonderde plekkie waar die maan en wind massas water hierdie kant toe stoot en dan weer daardie kant toe sleep?

 Koop Springgety hier: http://bit.ly/2bxHVpU 

Die vele sye van Alta Cloete: Skrywer, Bruce Springsteen-aanhanger, Voorbrandmaker vir Afrikaans

Wat sal jy saam neem op ’n reis na Mars?

Baie boeke. En sjokolade.

As ons by jou sou kom eet, wat sou jy vir ons bedien?

Braaivleis met braaibroodjies soos ons dit in die Boland maak.

Een van jou stokperdjies is kuns:

Wie is jou gunstelingkunstenaar?

Dis ’n baie moeilike vraag!

Internasionaal: Claude Monet

Suid-Afrikaans: Tertia du Toit en Nasser N. Zadeh

 

Wat is jou gunstelingkunswerk?

Monet se Water lilies (wat in werklikheid ’n hele reeks skilderye is) is ’n groot gunsteling.

Hier is interessante feite oor Water lilies: http://mentalfloss.com/article/63929/15-things-you-might-not-know-about-monets-water-lilies

Water lilies

Vir watter kunstenaar sal jy graag ’n ‘model’?

’n Model wees?  O nee, vir niemand nie! Ek het nie daardie soort selfvertroue nie.

Jy is ’n groot Bruce Springsteen-aanhanger en het onlangs ’n konsert van hom in Noorweë bygewoon. Vertel ons daarvan.

Ek was in ’n druipnat Trondheim saam met my seun en sy verloofde by ’n vertoning.

Bruce word binnekort 67, maar op die verhoog het hy die energie van iemand die helfte van sy ouderdom. Hy sing na meer as veertig jaar steeds elke liedjie met dieselfde passie en produseer steeds nuwe werk. Sy shows duur altyd meer as drie uur, sonder ’n pouse. Die vertonings is ook nooit presies dieselfde nie. Saam met die wagtyd van die hekke wat  moes open, het dit omtrent sewe uur op ons voete in die reën beteken. Dit was alles deur en deur die moeite werd.

Wat is jou gunsteling- Bruce Springsteen-song?

The promised land gaan oor die strewe na ’n beter, meer vervullende lewe en is vir my ‘n konstante inspirasie om altyd na meer te streef.

In hoeveel lande het jy al vir Bruce Springsteen gesien?

England, Suid-Afrika en Noorweë. Dit is glad nie ongewoon dat sy fans duisende kilometers reis en baie geld uitgee om hom herhaaldelik te sien optree nie. Daar is baie van hulle wat al letterlik honderde van sy shows gesien het.

Wat was jou gunsteling- Bruce Springsteen-herinnering?

Miskien daardie oomblik toe hy op die verhoog kom by my heel eerste show en die band lostrek met Badlands (nog ’n gunsteling en die teenpool van Promised land).

Wie is Theresa en Sanet se gunstelingmusiekkunstenaar?

Ek dink Theresa luister na die ouer Afrikaanse musiek. Groep Twee, Anneli van Rooyen, Rina Hugo. Volg hierdie link om te luister na Ek lewe − Anneli van Rooyen:

Sanet is baie lief vir Kris Kristofferson, veral vir Me and Bobby McGee. Volg hierdie link om te luister:

Jy is onlangs as een van Afrikaans.com se ambassadeurs gekies. Wat was jou reaksie toe jy die nuus hoor?

Dankbaar.

Cover-image

Afrikaans.com is daarop gemik om Afrikaans in haar volheid te vier en te verken. Hier vind jy alles oor Afrikaans en kom jy alles te wete oor organisasies, feeste en projekte wat ‘n bydrae tot die Afrikaanse landskap lewer. Vir meer inligting besoek: http://www.afrikaans.com/

Wat is jou gunstelingwoord?

Kafoefel! Klink dit nie lekker nie? J

Jou Facebook-blad, Kom ons lees weer Afrikaans, het meer as 5 000 lede. Waarom het jy hierdie blad begin?

Ek het bewus geraak van hoeveel Afrikaanssprekendes uitsluitlik Engels lees. Deur ’n spesifieke vriendin het ek besef baie van hulle wil graag Afrikaans lees, maar weet nie waar om te begin nie, omdat hulle nie weet watter boeke beskikbaar is nie. Die groep se doel is dus om mense bekend te stel aan die wonderlike Afrikaanse boeke wat deesdae verskyn.

Het jy verwag dit gaan so groot word?

Ek het die groep impulsief begin toe ek nog baie nuut op Facebook was en nog nie ’n idee gehad het wat ’n magtige medium dit is nie. Dit het jare geneem voor dit so groot geword het.

Net ’n mens volg op Opdrag van oorkant. Hoe verskil die twee boeke?

Ek dink Net ’n mens is ‘n “stiller” boek as Opdrag, met minder dramatiese onthullings, meer intiem en persoonlik.

Sanet of Theresa. Watter hoofkarakter was moeiliker vir jou om te skryf? Hoekom?

Sanet was vir my die moeilikste, wat nogal vreemd is, want sy lê die naaste aan myself. Ek moes sukkel om haar nie as té sag en inskiklik uit te beeld nie. Theresa was van die begin af haar hardekwas self en maklik om te skryf.

Jou volgende Romanza, Projek ware liefde, onder die naam Marilé Cloete verskyn in November. Wat is die muse agter hierdie storie?

Die ervaring en krisisse van ons eie huisverbeterings het die storie geïnspireer. Die feit dat die heldin die projekbestuurder is wat die “manswerk” doen, het dit vir my interessant gemaak. Die huiseienaar is ’n deur-die-blare fantasieskrywer wat nie ’n praktiese haar op sy mooi kop het nie. My eie wolfhond en ’n wolhaarkat rond die prentjie af.

Projek ware liefde_Marilé Cloete_voorblad_high res

Hoe het jy aan die titel van jou Romanza gekom?

Die titel was heel logies, aangesien sy die projekbestuurder is. Dit was een van die gevalle waar die titel maklik gekom het. Dikwels is dit ’n lang en pynlike soektog na die perfekte titel.

Hierdie jaar is twee Romanzas en ’n roman van jou gepubliseer. En jy skryf ook graag kortverhale. Wat is jou skryfroetine?

Ek moet bely dat ek nie ’n watwonderse skryfroetine het nie. Ek probeer maar net om elke weeksdag ’n stukkie (meestal een toneel) te skryf. Dit gebeur soms op snaakse tye van die dag, bv. wanneer ek eintlik moet kosmaak of wasgoed was.

Wat is jou gunstelingaanhaling?

7090784f15ad414328204cda2004212d

EN

As die dokter vir my sê ek het net ses minute oor om te lewe, sal ek net ’n bietjie vinniger tik. − Isaac Asimov

Bellville Biblioteek_LAPA Uitgewers skrywergeselligheid_plakkaat_uitnodiging

Kom kuier saam met Alta en ander skrywers by Bellville!

’n Reënboog vir Mouette – Thea Holland

'n reenboog vir mouette_high res

Sy stap oor die gruis totdat sy tussen hom en die voordeur staan, hou haar handsak soos ’n skild voor haar lyf en haal nie haar sonbril af nie. “Goeiemiddag,” sê sy.

“Hallo. Con McCormack.”

Dralende manier van praat. Laggende oë.

“Mouette Ver . . . Verwey,” struikel sy oor die van waaraan sy nie meer gewoond is nie. Con se wenkbroue roer, maar dis al wat verraai dat hy nie elke liewe dag van sy lewe te make het met vroue wat hakkel as hulle vergeet wat hul van is nie.

“Hallo, Mouette. Ek en Snoep is op pad strand toe en ons wil darem net gou kennis maak.”

Klein, onopvallende litteken nét onder sy onderlip.

Sy murmel ’n paar niksseggende woorde en haal terselfdertyd die huissleutels uit haar handsak, maar as hy oplet dat sy haastig is, steur hy hom nie daaraan nie. “Ek bly in daardie geel huis,” gesels hy en beduie na ’n smal dubbelverdiepingplek ’n ent verder anderkant ’n klomp leë erwe. “Ek het die afgelope week jou motor ’n paar keer hier by Mauritz se plek gesien en toe wonder ek of jy die dogter is van wie hy gepraat het.”

Sy frons. “Ek is nie Mauritz du Plessis se dogter nie.” Dit klink so stug dat dit aan onbeskoftheid grens. “Maar hy was een . . .” Sy byt haar woorde af.

Een van die mans met wie haar ma getroud was, het sy amper gesê. “Hy was eens op ’n tyd met my ma getroud.” En dit het sy skaars ’n jaar gelede uitgevind. Sy sukkel nog om aan die gedagte gewoond te raak.

Ten spyte van haar kortaf antwoord bly sy donkergrys oë vriendelik. “Mauritz was ’n uitsonderlike man. Dit verbaas my nie dat hy sy stiefdogter as sy eie kind beskou het nie.”

Wrewel en irritasie stoot in haar op. Sy was meer as een man se stiefdogter, maar nie Mauritz du Plessis s’n nie, en om nou vir ’n vreemdeling haar familiegeskiedenis uit te lê, is net nóg een van die vele dinge wat sy nie wil doen nie. “Dit klink of jy hom goed geken het. Beter as ek, in elk geval,” sê sy kleurloos en laat klingel haar sleutels.

Hy kyk haar peinsend aan. “Nie so goed dat hy jou met my bespreek het nie, as dit is wat jou pla. Hy het net genoem dat hy ’n dogter het aan wie hy die huis wil bemaak.” Hy trek sy skouers op en glimlag. “Wel. Ek hoop ons sien mekaar weer voordat jy teruggaan stad toe.”

Dit is regtig verwarrend. Sover sy weet, sou die huis oorspronklik nie aan haar nie, maar aan haar ma nagelaat word. Waar kom hy in elk geval daaraan dat sy teruggaan stad toe? En wat bedoel hy met “sien mekaar”? Onwillekeurig kyk sy weer na sy mond, na die merkie onder die liplyn. Hy praat tog sekerlik nie van ’n afspraak nie. Instinktief trap sy ’n halwe tree terug net voordat sy onthou dis streng gesproke nie meer nodig nie. Van nou af kan sy staan waar sy wil, so ver of so naby sy wil. Sy tree verder terug. “Reënbaai is ’n klein plekkie. Ons behoort mekaar darem op die strand of iewers raak te loop wanneer dit eers somer is.” Sy glimlag asof sy dit bedoel en draai weg. “Lekker dag.”

“Wil jy my sê jy oorweeg dit om hier aan te bly?”

Die verbasing in sy stem laat haar omkyk. “Ja, natuurlik.”

“Hier in Mauritz se huis? In Reënbaai?” Asof dit geheel en al ongehoord is.

Die bitter waarheid lig op in haar soos ’n slang wat regmaak om te pik: Wat maak dit saak waar sy bly? Al wat tel, is dat haar man se kantoor en sy minnares se maatskappy nie in dieselfde blok is as die plek waar sy werk nie.

Sy kyk hom waterpas aan. “Ek oorweeg dit nie net nie, ek het werk gekry hier. En waar ons nou staan, voor hierdie huis wat Mauritz du Plessis aan my bemaak het, is ons by my nuwe adres.” Sy weet sy praat te afgemete en kan maar net hoop hy hoor nie die bewing in haar stem nie.

“Jy sê jy het werk gekry? Hier op dié klein plekkie?” vra hy met ’n ongelowige grinnik.

Sy het, maar ook net omdat ’n vriend van een van haar ma se eksmans ’n paar toutjies getrek het.

Dit sal Con McCormack egter nie uit haar mond hoor nie. “Dis reg,” sê sy styf. “En nou moet jy my werklik verskoon.”

Hulle het gelyk gepraat. “Jy moet maar laat weet as ek . . .” hoor sy hom sê, maar sy draai alreeds om, só haastig om in die huis te kom dat sy nie rekening hou met die lae trappie voor die deur nie. Met ’n verskrikte uitroep struikel sy oor die trap se rand. Sy herwin haar ewewig, maar die handsak val. Die knip spring oop, die inhoud saai oor die gruis en haar sonbril klap op die sement. Sy byt hard op haar onderlip, maar dit help nie.

“. . . as ek jou kan help,” maak Con sy sin klaar. Daar is ’n glimlag in sy stem. Sy buk haastig om die sonbril te gryp en weer op te sit. Kop onderstebo vee sy die nattigheid op haar wang af voordat sy die huissleutels opraap.

Con sit reeds alles wat hy kry terug in haar handsak, maar hy moes gesien het sy is in trane want hy praat nie weer nie. Sy vee nog ’n slag oor haar wange en gewaar haar selfoon waar dit half onder ’n digte bos ingeskuif het. Dis so ’n gesukkel om dit daar uit te kry dat sy nie dadelik bewus word van die stilte agter haar nie.

Sy kyk om en sien wat hy gaan optel.

Die ring. Dit het ook uit die handsak geval.

Hy frons en hou dit tussen sy duim en wysvinger vas. “Joune?” vra hy.

Selfs voordat sy haar hand uitsteek, weet sy reeds dat daar op hierdie eindelose dag nog ’n laaste flater is wat sy kan begaan. “Dankie,” sê sy verbouereerd en skuif haar trouring weer oor die wit sirkel om die ringvinger van haar linkerhand.

’n wonderlike verbasende bonus – Thea Holland

 

Ek sal die gelukkigste persoon in die wêreld wees as …

Alles doodstil is wanneer ek wil skryf.

Liefde is soos …

Tabak, volgens Engelse liedjieskrywers in die 16de eeu.

As ek verveeld is …

Is daar fout met my.

Vrede omring my as …

My buurman op reis is en ek skelm op sy hoë stoep kan staan en na die vlei kyk.

Waar wil jy op vakansie gaan?

Ek hoef nie – ek woon naby die see op een van die mooiste plekke onder die son – maar dit sou lekker wees om nou en dan oorsee te gaan en by my kind en sy gesinnetjie te kuier.

Watse verrassings is in jou beursie?

Geen verrassings nie, helaas. Ek weet presies wat ek nie daarin gaan aantref nie.

Ek kan regtig leef sonder …

TV

Niks, ek herhaal niks, kom tussen my en my …

Um. Destyds was dit my sigarette.

Wat is jou gunstelingwoord?

Al die ou vergete en halfvergete woorde uit my kontrei – soos perkate, en tobboets, en verdomp wat jy as ’n werkwoord gebruik, en ressewôr, en serieus. Serieus is op die oomblik my gunsteling, want ek het onlangs geleer dit klink en lyk soos die Franse serieux. Is dit nou nie ’n ontdekking nie!

My trooskos is …

Waatlemoen

Harsha-K-R

Wie is jou gunstelingskrywer?

’n Moeilike vraag. Marilynne Robinson? Terry Pratchett? Shakespeare? (Sug …)

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

JS Bach, George Weideman en Johnny Depp. En aangesien ek en Johnny dus die enigste lewende wesens aan my tafel gaan wees … wel, wie weet?

This slideshow requires JavaScript.

Wat is die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Ek haal aan: “Nou maar hoekom skryf jy nie ’n liefdesverhaal nie?” Dis nou al my ou vriendinne se goeie raad toe ek op ’n stadium nie meer geweet het hoe ek met my lewe moet maak nie!

Hoeveel beplanning en navorsing doen jy voordat jy begin skryf?

Baie navorsing, gedurig. Met voorafbeplanning doen ek my bes, maar dan verander ek honderd keer van plan.

Het jy altyd geweet dat jy ’n skrywer wou word?

Ek het dit nie beplan of daaroor gedroom nie; ek het net van altyd af stories en avonture uitgedink en dit nou en dan neergeskryf. As daar mense is wat dit lees, is dit ’n wonderlike, verbasende bonus.

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees.

Iemand wat kan sing. Sou dit nou nie lekker wees nie?

images

Wat beïnvloed jou skryfstyl?

Die eise van die storie waaraan jy werk.

Waar kry jy inspirasie vandaan?

Oral. ’n Mens hou maar net jou oë en jou ore oop.

Watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Ek het altyd daarvan gehou om snags te skryf, maar dis deesdae baie moeilik om onder kunsmatige lig te werk. Nou skryf ek soggens wanneer my suster nie TV kyk nie.

Wat is jou skryfproses? Het jy ’n vaste roetine of skryf jy organies?

Ek is nie goed met roetine nie. Wanneer ek met ’n manuskrip begin, probeer ek bloot om elke dag te skryf.

 

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Moet jou nie te veel aan kritiek en/of raad steur nie. Doen wat reg voel.

Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Dis elke keer ’n hoogtepunt wanneer lesers vir my sê hulle het van ’n storie gehou.

Koop nou vir ’n Reënboog vir Mouette hier: http://bit.ly/2beO7BR Onthou Romanza-klublede kry 30% afslag. 

 

Onder dieselfde sterre – Anna Penzhorn

Onder die sterre_high res

Jacolien stap deur die tuin en om Skuilkrans se opstal. Dis ’n warm, windstil dag. Die enigste teken van lewe is ’n swerm spreeus in ’n maroelaboom. In die oop deur van die grasdakrondawel gaan sy staan en haar voete groei aan die sementvloer vas. Sekondes gaan soos minute verby.

’n Man sit uitgestrek op haar oorlede pa se uitskopstoel. ’n Stetson bedek die boonste helfte van sy gesig. Haar oë gly oor die prominente kakebeen, bene wat lyk of hulle vir ewig aanhou en gepunte stewels. Die vreemdeling laat haar soos ’n indringer voel, selfs al is hy salig onbewus van haar teenwoordigheid.

Die stoel het seker agtergebly toe haar ma en haar nuwe man drie maande gelede van Skuilkrans af see toe getrek het. Volgens haar ma bly pa Jan se enigste seun nou op die Bosveldplaas. Die cowboy kan dus niemand anders as haar stiefbroer, Stiaan van Dijk, wees nie.

Opgekrul by Stiaan se voete lê ’n foksterriër wat lyk of hy eweneens, gesus deur die suising van duisende sonbesies, in ’n diep slaap verkeer. Dis erg genoeg dat sy onaangekondig op Skuilkrans opdaag; nou lyk dit boonop asof sy Stiaan van Dijk uit sy middagslapie gaan wakker maak. Die foksterriër doen dit vir haar, vlieg op en gaan aan die blaf asof sy ’n gevaarlike virus is wat die mensdom se voortbestaan bedreig. Maar die lawaai is nie genoeg vir Stiaan om die hoed van sy gesig te verwyder nie.

“Bedaar nou, Jakkals.” Hy streel met ’n skoenpunt oor die foksterriër se rug. “Oom Kerneels, sê vir die werksmense hulle moet opskud, die vendusie begin oor ’n uur. Ek het nie heeldag tyd nie.”

“Ek ook nie.” Jacolien se stem is sekerder as wat sy voel.

Stiaan lig die hoed in ’n stadige beweging van sy gesig af, en sy kop van die stoelleuning. Hy moes pas gestort het, want sy hare is krullerig klam. Asof die daglig te skerp is, kyk hy na haar met oë op skrefies getrek.

“Juffrou, ek weet nie wie jy is nie. Ek wil ook nie weet nie.” Hy sit regop, tel ’n opgefrommelde papier van die tafeltjie langs hom op en gooi dit met ’n goedgemikte hou in ’n vullismandjie. “Jy het verby die afdraai na die 4×4-roete gery. Draai in jou spore om, die plaaspad loop op Skuilkrans dood. Julle avontuursoekers maak ’n gewoonte daarvan om te verdwaal.”

Haar hart klop voelbaar, die eerste teken dat sy haar bloedig gaan vererg. Maar nou is nie ’n goeie tyd nie. Sy sal haar sending om vas te stel of haar ma se erfstukke in haar meenthuis gaan pas, in die wiele ry. ’n Geïrriteerde frons is nie die reaksie wat sy gewoonlik van ’n man ontlok nie. Wie dink hy is hy? En wie dink hy is sy? Ooglopend verwelkom hy nie vreemdelinge in sy persoonlike ruimte nie. Maar sy is streng gesproke nie ’n vreemdeling nie. Dalk hou hy in die algemeen nie van meisies nie, beslis nie van dié wat op sy grondgebied oortree nie.

“Ek is Jacolien Maree, ek neem aan jy is Stiaan van Dijk. En ek is nie op soek na avontuur van enige aard nie.” Al die selfvertroue waaroor sy beskik, is in haar stemtoon vasgevang.

Jakkals besnuffel haar asof die kat, wat haar stert in die lug op die werf verwelkom het, haar tot in die rondawel gesleep het. Terselfdertyd bekyk Stiaan haar soos iets wat op ’n skou beoordeel word en ’n twyfelagtige kans staan om ’n prys te wen. Sy sal die pêrels wat sy van ouma Lien geërf het, verwed dat hy meisies wat nie staal in hulle pype en hare op hulle tande het nie, vir ontbyt eet.

“Ek sien.” Die twee woorde kom elkeen afsonderlik by sy mond uit. ’n Vol mond gedefinieer deur ’n opvallende kurwe, merk sy teen haar sin op. Die stoppelbaard op sy ken is ook ’n verskynsel waaraan sy nie gewoond is nie. Die mans in haar binnekring is skoongeskeer, dra dasse en lê nie agteroor in stoele nie. Ruaan de Jongh, die liefde van haar lewe, is ’n voorbeeld van so ’n man en kan nie in een asem met iemand soos Stiaan genoem word nie.

“Dan is my pa met jou ma getroud,” praat hy weer. “En net terloops, vir my vriende en familie is ek Stiaan. Vir die ander Sebastiaan.” Die teregwysing maak die situasie nie minder ongemaklik nie, want vriende is hulle nie en deel ook geen bloedband nie. Vir haar is hy dus Sebastiaan. “En waaraan het ek die eer te danke, Jacolien? Of is dit nou Lientjie?”

“Jacolien vir mense wat my nie ken nie,” troef sy hom, maar haar ongemak styg ’n graad. Sy oë hou die moontlikheid in om te terg, maar seker nie nadat hy in sy middagslapie gesteur is nie.

“Jou ma en my pa bly die afgelope drie maande nie meer op Skuilkrans nie.” Hy praat met haar asof hy in graad twaalf en sy in die laerskool is.

“Vanselfsprekend weet ek.” Sy sluk swaar. “Ek bedoel waar my ma is.”

“Ek aanvaar jy is hier omdat jy nog altyd ’n brandende begeerte gehad het om jou stiefbroer te ontmoet.”

Die kyk wat sy hom gee, kan die grasdak aan die brand steek, maar keer nie dat sy oë soos voelers oor haar gly nie. Is haar romp nie te kort nie? Of het sy dalk toe sy lipstiffie in die kar aangesit het, haar liplyn misgetas?

“Om ’n stiefbroer te hê was nog nooit boaan my wenslys nie.” Sy praat sonder om te dink. “Vra my ma as jy my nie wil glo nie.”

“Die twee verliefde ou siele is behoorlik die kluts kwyt.” Hy staan op en vou sy hande om sy biseps. Sy wens hy het nie, want dit maak hom selfs meer intimiderend.

“Ek stem nie saam nie. Om verlief te wees is so natuurlik soos asemhaal.”

“Meesal is dit verbeelde emosies. ’n Mors van tyd en energie.” Hy snork deur sy neus. “Hulle koer vir mekaar en hou soos tieners hande vas.”

“Ek het nie geweet daar is ’n ouderdomsbeperking op verlief raak nie,” gaan sy hom moedswillig teë. As sy nie so verleë was om in die ou plaashuis te kom nie, het sy sy raad gevolg en omgedraai. Pleks daarvan maak sy haar rug reguit, haar longe vol lug en kyk na Sebastiaan soos na ’n kind wat nie sy huiswerk gedoen het nie. “Vir my is dit nogal oulik as ouer mense mekaar liefdevol aanraak.”

“Om verlief te raak, is ’n streep wat die lewe ons trek. As jy dit nie weet nie, gaan jy die een of ander tyd jou kop stamp.”

“Om lief te hê is om te waag,” sê sy koppig.

Sebastiaan is so deursigtig soos glas, dink sy. Hy is ontnugter en nou pantser hy hom teen die seerkry van die lewe. Saam met die gedagte wat deur haar kop flits, val haar maag tien vloere in ’n stukkende hysbak. Sy irisse is ’n ryk, diep bruin – molasse en sjokolade en espresso en elke ander dekadente geur. ’n Meisie kan in sy oë verdrink, vrywilliglik.

As die bank nie met tydskrifte besaai was nie, sou sy gaan sit het. Die man se nabyheid is soos ’n spinnekopbyt wat haar stadig verlam, want haar bene voel of sy al die pad van Polokwane geloop het. Aan die ander kant wil sy so gou moontlik wegkom van die bruin van sy oë en daardie trek om sy mond wat haar laat vermoed daar was ’n tyd toe hy maklik geglimlag het.

“Jacolien.” Hy proe aan elke lettergreep van haar naam. Mans kyk dikwels na haar met oë soos dié van ’n verleë brak wat dae laas ’n been gekry het. Maar dis nie hoe Sebastiaan van Dijk na haar kyk nie, hy laat haar eerder voel sy is ’n vreemdsoortige spesie wat sy wêreld binnedring. “Jy lyk na ’n dapper muis en nie na die sagte katjie wat jou ma Lientjie noem nie.”

“Niemand het my nog ooit met ’n muis vergelyk nie. Ek vertrou dis nie jou idee van ’n kompliment nie.” Haar hand vou stywer om die band van haar handsak wat oor haar skouer hang. Van ’n man met soveel arrogansie kan sy enigiets verwag.

My boeke is my kinders − Anna Penzhorn

As ek verveeld is…

Wat is verveeld? Maar soms speel ek tydrowende speletjies op my tablet.

Vrede omring my as …

Ek goeie kos eet en verouderde wyn drink saam met ou vriende voor ’n kaggelvuur.

Ek droom van ’n vakansie in …

Kroasië. Drome is gratis.

kroasie1

Watse verrassings is in jou beursie?

Die blou note in my beurs verras my telkens as ek agterkom hulle verdwyn soos water deur ’n sif.

Ek kan regtig lewe sonder …

Onopregte mense, opgewarmde kos en slaggate in my straat.

Niks, ek herhaal niks, kom tussen my en …

Die man in my lewe nie. Sy naam is Charles en hy is ’n opregte hond met hier en daar Jack Russell voorouers.

My gunsteling woord is

Troetel. Wie wil nie vertroetel word nie?

My trooskos is …

Warm, tuisgebakte brood met regte botter en afval soos my ma dit gemaak het.

Wie is jou gunstelingskrywer?

Etienne van Heerden en Isabel Allende.

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

My ouma, want ek is hier omdat sy die konsentrasiekamp oorleef het; Albert Einstein, want ek hou van intelligente geselskap en Audrey Blignault, want sy kon die gewone buitengewoon maak.

Wat was die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

Chris Roerden se boek, Don’t murder your mystery, is my skryfbybel. Niemand het my nog ooit soveel goeie raad gegee nie.

51W1yZbedRL._SX331_BO1,204,203,200_

Hoeveel beplanning en navorsing doen jy voordat jy begin skryf?

My beplanning vir ’n verhaal is nie langer as ’n bladsy nie. Ek hou byna nooit daarby nie, die karakters neem oor. Hulle laat my lag en maak my kwaad, maar as ek van hulle afskeid neem, huil ek. Indien ’n tema vreemd is, sal ek begin deur navorsing te doen of met ’n kenner te gesels. Andersins kom Google tot my redding.

Het jy altyd weet dat jy ’n skrywer wou word?

Nee, dit was eers na my eerste verhaal gepubliseer is, wat ek verslaaf geraak het aan die bevrediging om met woorde te speel.

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees?

Ek sal ’n regisseur wil wees. Dan kan ek ‘speel’ met regte mense en nie karakters op die rekenaarskerm nie.

Wat beïnvloed jou skryfstyl?

Dit wat ek lees. Ek sal graag soos Susan Howatch wil skryf, ek bewonder haar styl.

Watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Ek skryf op my beste tussen vieruur en sesuur in die oggend − met baie koffie.

Wat is jou skryfproses? Het jy ’n vaste roetine of skryf jy organies?

Ek hou van roetine en probeer kantoorure werk. Natuurlik kry ek dit nie altyd reg nie.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Skryf is soos enige ander uitdaging: hoe harder jy werk, hoe gelukkiger word jy.

Wat is die inspirasie agter Onder dieselfde sterre?

My vrees vir knaagdiere. Ek het gewonder wat sal gebeur as my heldin haar vrees vir ’n rot moet te bowe kom ter wille van die liefde.

Onder die sterre_high res

Wat is die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan tot dusver?

Elke keer as ek ’n manuskrip voltooi, of beter nog, die eindproduk in my hand hou, is dit ’n hoogtepunt. My boeke is my kinders. Ek skryf vir my lesers en daarom is erkenning deur ’n leser vir my elke keer ’n hoogtepunt. Dit laat my voel alles is die moeite werd.

 

Meer as ooit – Felicia Snyman

Meer as ooit_high res

Alles is net te veel vir haar. Sy kan nie teen sulke mense opstaan nie. Die hele doel hoekom sy hierheen gekom het, was om vrede en geluk te vind. Nou is sy stoksielalleen in ’n vreemde plek, en mense beskuldig haar van die een ding waarvan sy probeer wegkom het. Ontrouheid.

Sy sak agter haar tafel neer en huil asof die einde van die wêreld aangebreek het. Sy sit ’n hele rukkie in ’n klein bondeltjie op die vloer.

“Rinamari . . .”

Sy hoor vaagweg ’n sagte stem, maar sy is net eenvoudig nie daartoe in staat om haar reg te ruk nie. Iemand raak liggies aan haar skouer en sy lig haar gesig op.

Deur ’n gordyn van trane sien sy die geelgroen oë bekommerd na haar kyk. Hy het op sy hurke langs haar neergesak en sy hand bly sag op haar skouer.

“Wat het gebeur? Het iemand iets oorgekom?”

Hy vra ’n string vrae en soek vir enige verduideliking in haar oë.

Sy skud net haar kop en probeer die woorde uitkry. Sy lyk seker vir hom totaal en al pateties, want pateties is presies soos sy voel.

Hy lig haar ken op en vee ’n traan liggies van haar wang af.

“Asseblief, praat met my.”

Sy woorde is so teer dat dit ’n hele nuwe stortvloed trane veroorsaak en sy ruk soos sy snik.

Sy manlike instink om te beskerm skop in en hy vou haar sonder enige skroom in sy arms toe. Die hitte van sy lyf en sy sterk arms wat haar omvou, laat haar veilig voel. Sy begin snik vir snik vertel wat vandag gebeur het.

“En hy het gesê ek is ’n vermetele slang. Ek sal nooit so iets doen nie. Ek ken nie eens die mense nie. Hy was so lelik met my. En die tafel het my been getref.”

Sy weet nie waarom sy die laaste deel byvoeg nie, maar dit voel asof hy alles sou wou weet.

“Wie is hierdie mense?”

Hy klink gevaarlik kwaad en sy kyk effens verras na hom. Is hy regtig nou vies oor die hele ding?

“Mulder.”

Sy kry die naam net-net uit en voel hoe haar lip weer bewe. Sy kan nie glo dit ontstel haar so nie. Hy vee sag oor haar mond. ’n Warm sensasie skiet deur haar en sy trek effens weg.

“Frank Mulder?”

Sy knik. Sy arms verstyf effens. Sy wonder of hy die mense ken. Sy kyk op na hom.

’n Breukdeel van ’n sekonde sien sy weer hoe aantreklik hierdie man is; dan raak sy oorbewus van hoe sy op hierdie oomblik moet lyk. Daar is seker maskarastrepe oor haar gesig en sy lyk waarskynlik verskriklik. Sy vryf oor haar wange.

“Ek’s jammer. Dit klink eintlik baie pateties. Ek is nie gewoonlik so ’n groot baba nie. Net vir die rekord, ek kon dalk een of twee dinge teruggesê het wat in retrospek nie so professioneel was soos wat ek behoort te wees nie.”

Sy voel skaam en weerloos. Haar hart is regtig seer oor die woorde wat die man haar toegesnou het.

Alexander glimlag en vee weer oor haar wang.

“Dit is allesbehalwe pateties. Ek is baie bly jy het darem ten minste probeer om vir jouself op te kom. Niemand het die reg om so met jou te praat nie. Jy kan maar huil as jou hart seer is. En jou oë is op hierdie oomblik asemrowend mooi.”

Sy soek vir enige spot in sy oë of stem. Dalk sê hy dit net om haar te laat beter voel. Hy kyk egter steeds net na haar en sy kan sien hy bedoel dit.

“Dankie.”

Hy staan op en trek haar sag saam met hom op. Sy voel seer en moeg van die huil. Wie ook al gesê het ’n mens voel beter as jy gehuil het, jok. Jy voel inderdaad nog erger.

“Miskien moet jy iets kry om te eet of te drink en dan huis toe gaan en ’n lekker warm bad gaan vat.”

Sy verwelkom sy voorstel en bewonder sy insig terselfdertyd. Hierdie man is vol verrassings.

“Dit klink soos ’n baie goeie idee. Ek wil net eers badkamer toe gaan en dan die laaste papierwerk vir môre afhandel.”

Sy begin skarrel, deels omdat sy teenwoordigheid haar nou begin teister. Haar hart klop heel-

temal onreëlmatig wanneer hy so naby aan haar staan.

“Gaan jy oukei wees?” Hy bly naby haar staan en kyk besorg af na haar.

“Jip. Vir seker. Baie dankie dat jy my getroos en geluister het na my tranedal. Dit het baie gehelp. Ek sal môre weer kans sien vir die volgende uitdaging of beproewing.”

Sy glimlag stram. Dit voel baie soos ’n leuen. Sy sal eerder weer in sy arms wil inloop en net daar bly. Veilig. Warm. Droomverlore.

Rinamari skrik vir haar eie gedagtes en draai vinnig weg. Sy moes nooit gehuil het nie.

“Ek moet gou iets gaan afhandel. Ek gaan jou bel sodra ek klaar is. Ry asseblief versigtig.”

Iets in sy stem laat haar voel dat sy dankbaar moet wees sy is nie die taak wat afgehandel moet word nie. Sy probeer opreg glimlag.

“Dankie, maar dis nie nodig nie.”

“Ek weet dis nie nodig nie. Ek wil.”

Alexander draai om en begin by die deur uitstap. Sy kyk hom ’n oomblik agterna. Hy draai skielik om en stap weer reguit na haar toe.

Sy frons vraend.

“Wag. Daar is iets wat ek eers moet doen.”

Hy praat baie naby aan haar terwyl hy met sy hand aan haar gesig raak. Sy staan verstar en deurmekaar.

Skielik raak sy lippe ongelooflik sag aan hare. Dit voel asof iets net liggies oor haar mond gevee het, maar dit stuur elektriese strome deur haar hele lyf. Hy soen haar ’n tweede keer, effens harder, maar steeds asof sy kan breek. Sy mond huiwer ’n oomblik teen hare, dan draai hy om en stap doelgerig uit die vertrek uit.

Rinamari weet nie wat nou net gebeur het nie. Sy staan soos ’n soutpilaar. Haar vingers raak sag aan haar lippe. Die sensasie van die soen van ’n oomblik gelede is steeds tasbaar.

Sy probeer haar helderheid herwin, maar al waaraan sy kan dink, is hoe graag sy meer van hom wil hê.

Skrywersbrief: Martin Steyn

Claire se storie was nie altyd maklik om te skryf nie. Dis baie anders om saam met Mags die outopsie in Donker spoor by te woon en te sien wat aan die tienermeisie ge­doen is as om saam met Claire ontvoer en aangehou te word.

Ek het waremisdaadboeke begin lees omdat reeksmoordenaars en -verkragters my interesseer, omdat ek wou weet hoekom hulle só word. In die meeste geval­le is die slagoffers vroue en ek het in die proses ook iets omtrent die sogenaamde “swakker” geslag geleer: hulle besonderse innerlike krag. Iemand soos Alison, wat letterlik haar derms met die een hand opgetel en haar kop met die ander regop gehou het om by die pad te kom waar iemand haar kon sien.

Maar oorleef is net die eerste deel. Daarna kom die stukke optel om weer heel te word, ’n stryd wat selfs meer van daardie innerlike krag verg. Dis ook ’n stryd wat baie beter met hulp geveg word, veral dié van ’n organisasie soos Rape Crisis. Rape Crisis se dienste is gratis beskikbaar, maar nie gratis om aan te bied nie.

Vir elke kopie van Swartval wat verkoop word, gaan ’n persentasie aan Rape Crisis Helderberg, die sen­trum naaste aan my.

Help asseblief ’n verskil in vroue se lewe maak wan­neer hulle dit regtig nodig het en oorweeg ’n donasie aan Rape Crisis: www.rapecrisis.org.za en  www.crisiscentre.org.za

SWARTVAL: Claire se storie

Ons gesels met Martin Steyn oor sy hoofkarakter, die titel van sy nuwe boek, Swartval, en sy skryffiemies …

This slideshow requires JavaScript.

Hoe ontspan jy?

Met ’n glas goeie rooiwyn😉

Wat lees jy op die oomblik?

Rudie van Rensburg se Pirana. En ek lees baie lekker.

download

Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Enigiets van lees, saam met vriende kuier en boekbekendstellings bywoon tot rondry en plekke soek om liggame te “dump”.

11077223_684564891655141_3451757181127917511_n

Wat is jou grootste vrees?

Om my tweede grootste vrees bekend te maak waarna dit teen my gebruik word.

Watter boeke lê op jou bedkassie?

Behalwe vir Pirana, The Shining Girls (Lauren Beukes) en Broken Harbour (Tana French). Dis ongelukkig nie te sê dis die boeke wat wel volgende gelees gaan word nie. Die Om-te-lees-stapel is ’n oorweldigende entiteit wat ook op my boekrak en in my kas leef. En Karin Brynard se Tuisland is nou beskikbaar . . .

Aan watter skryfgewoonte (van jouself of ander skrywers) het jy ’n broertjie dood?

Fiksieskrywers wat spookskrywers gebruik om boeke vir hulle te skryf.

Wat is jou grootste kopseer in verband met publisering?

Ek geniet die hele proses. Dis al van hoërskooldae af my droom om ’n publiserende skrywer te wees en alles daaromtrent maak my opgewonde. Daar is natuurlik ook uitdagings en kopkrap betrokke, dis nie altyd maklik nie, maar dis vir my wonderlik om deel van die proses te kan wees.

Wat het die storielyn van Swartval geïnspireer?

Dit was eintlik ’n subplot wat in Skuldig ontwikkel het. Die hoofkarakter, Menck, het ’n nuwe, jonger kollega en dié se suster word deur iemand bekruip wat blomme onder haar motor se ruitveër los. Uiteindelik is die man nie meer tevrede daarmee nie en hy ontvoer haar. Swartval vertel hierdie storie. Daar was nie iets spesifieks wat dit geïnspireer het nie, dit het maar net gebeur terwyl ek Skuldig geskryf het. Ek het toe ek destyds navorsing oor profielsamestelling gedoen het, ook oor bekruipers (stalkers) gelees en al hierdie inligting gaan sit maar in die onderbewussyn.

Wat is die lekkerste van skryf?

Om daardie eerste boek uit die boks te haal en in jou hande vas te hou. Daardie oomblik is die kulminasie van alles wat in die storie gegaan het: die idee, die navorsing, die karakters, die tonele, die beskrywings en dialoog, die wag vir jou uitgewer se oordeel, die herskryf, die redigering, die omslagontwerp.

Hoe het jy aan die titel van jou roman gekom?

Swartval

Dit het nogal lank gevat. Niks het gekom nie. Later het ek na die titels van liedjies gekyk. Woorde in die Oxford Thesaurus opgesoek. Uiteindelik het niks hiervan gehelp nie. Ek het met ’n paar woorde gesit en nie een het my geïnspireer nie. Toe dink ek iets met “swart” sal gepas wees, om verskeie redes. Die storie speel hoofsaaklik in Maart af. Dis herfs. Toe dink ek, “Swart herfs”. Ek het nogal daarvan gehou, maar dit het nie heeltemal die trefkrag van Skuldig nie. Die Engels sou wonderlik wees, “Black Fall”. En sommer een woord, “Blackfall”. Soos Donker spoor is dit ook ’n titel wat in die konteks van die storie op meer as een manier geïnterpreteer kan word. En toe dink ek, wat van Swartval? Die Afrikaanse “val” het nog meer betekenisse wat gepas is.

 

Wat was die kosbaarste les wat jy by ander skrywers geleer het?

My gunsteling skryf-verwante aanhaling is iets wat Stephen King gesê het: “It is the tale, not he who tells it.” Dis wonderlik om daardie boek op ’n winkelrak te sien, met jou naam voorop, maar die storie is die belangrikste ding, dit is waaroor dit gaan. Nie oor jou, die skrywer, nie. ’n Skrywer moet nooit dink hy is groter as die storie nie.

Wat wens jy, jy het geweet toe jy begin skryf het?

Ek wil nie regtig aan enigiets peuter nie, want alles wat gebeur het, goed, sleg, hoe lank dit ook al geneem het, het my presies gebring waar ek nog altyd wou wees. Die ding van skryf is, enige ervaring wat jy het, is waardevol, want dis nog iets wat jy beter verstaan omdat jy dit beleef het. Dit beteken natuurlik nie daar is nie baie ruimte vir verbetering nie, maar ek dink alles het uitgewerk presies soos dit moes. En die ontdekkingsreis, die leerproses, is deel van die pret.

15-04-11-skuldig_044

Wie is jou skryfrolmodelle?

Stephen King. Dis waar ek eers die magic van lees ontdek het en toe die magic van skryf. Hy het die hele ek-wil-’n-skrywer-wees-droom aan my verkoop.

Wat is noodsaaklik op jou lessenaar (behalwe jou rekenaar) om lekker te kan skryf?

Niks is noodsaaklik nie, maar Pharos se Sinonieme en die tweetalige woordeboek is nogal belangrik. En ’n glasie rooiwyn in die aand is besonder aangenaam.

images

Wat is die belangrikste les oor skryfkuns wat jy geleer het?

Moenie opgee nie.

Wat is jou grootste skryffiemies?

Ek kan Microsoft Word nie verdra nie en weier om daarop te skryf. My hart behoort aan Corel se WordPerfect, nou en vir altyd.

Wat het jy voorberei om in Claire Winters se kop te klim?

Ja, dit was natuurlik die grootste uitdaging. Ek dink om uit die teenoorgestelde geslag se perspektief te skryf, is een van die moeilikste dinge vir ’n skrywer. Want ons dink anders, ons kyk anders, ons voel anders. En Swartval is Claire se storie. Sy is die enigste perspektiefkarakter en sy gaan boonop deur ’n intense traumatiese ervaring. Ek het ernstige bedenkinge oor die wysheid van hierdie onderneming gehad. Maar dis Claire se storie, sy moes die een wees om dit te vertel. Ek het natuurlik al ’n paar ware-misdaadboeke gelees wat deur vroue geskryf is ná hulle deur traumatiese ervarings is. Dit het gehelp. Maar dit was vir my baie belangrik dat Claire ’n regte vrou is, dit moenie voel asof sy ’n vroulike karakter is wat deur ’n man geskryf is nie. En toe dink ek, maar dis net soos die navorsing wat ek oor die polisie doen. Toe ek wou uitvind oor die slagoffers wat geskiet word in Skuldig, het ek na die Ballistiekafdeling toe gegaan. Nou wil ek weet oor ’n jong vrou. Ek vra dus vir Tanya van Buuren of daar ’n manier is wat ek haar kan oorreed om die hoofstukke te lees soos wat ek dit skryf en terugvoer te gee oor wat werk, wat werk nie, wat voel verkeerd, waaraan dink ek nie. Nie net was Tanya so oulik om in te stem nie, maar sy het ook verskeie indringende vrae oor vrouwees met eerlikheid en humor beantwoord. Dit was vir my ’n baie lekker ervaring.

Hoe verskil Swartval van Skuldig?

Skuldig is ’n police procedural. Die storie volg adjudant Colin Menck terwyl hy die moord op ’n middeljarige tandarts ondersoek. Jy volg saam met Menck die leidrade soos wat hy probeer uitvind wat gebeur het, hoekom dit gebeur het en wie daarvoor verantwoordelik is. Jy staan binne die polisie-ondersoek, maar kyk van buite af na die misdaad. Jy probeer as ’t ware inkom.

Swartval is ’n sielkundige riller en dis Claire se storie, hoe sy ontvoer word, hoe sy probeer om te oorleef en te ontsnap. Hier is jy binne-in die misdaad en jy probeer eintlik uitkom.

Jou debuutroman, Donker spoor, het die 2015 ATKV Woordveertjie vir Spanningslektuur ontvang. Wat het jy gedink toe jou naam aangekondig is?

Ek kan nie onthou presies wat ek gedink het nie, maar ek weet ek was baie bly. En dit was vir my baie lekker dat al die mense wat in Donker spoor geglo het, beloon is. Wilna Adriaanse, onder wie se tutorskap ek die manuskrip begin skryf het. Ná die Skryf ’n roman-kursus het sy nog steeds in ou Mags se storie geglo, en my oortuig om dit tog weer aan ’n uitgewer te stuur ná dit die derde keer afgekeur is. Cecilia Britz en LAPA Uitgewers wat ’n kans op Donker spoor gevat het. My ouers wat nooit vir my gesê het ek moet miskien maar vergeet van die skryfdroom nie.

Ek onthou wel toe ek na die verhoog toe loop, het ek gedink ek moet tog net nie daar voor Sandra Prinsloo op die trappe neerslaan nie.

Donker Spoor Hoëres

Die vrou wat ons almal graag wil haat

Sy is die vrou wat ons almal graag wil haat. Die ander vrou − die een waarvoor geen Romanza-leser haar pom-poms wil waai nie. Ja, ons praat hier van die decoy-karakter oftewel die feeks. Dis die vrou wat die leser laat wonder by wie die held uiteindelik gaan uitkom. Sy is die kompetisie en gooi so hier en daar ’n spanner in die works.

spanner

Ons gesels met drie skrywers, Malene Breytenbach (Lorna en die professor), Annetjie van Tonder (Altyd somer) en Rika du Plessis (Moedswillige vreemdeling) oor die vroue in hul wat elke leser rooi laat sien.

Wie is die inspirasie agter die feeks in jou Romanza?

Malene: Daar is meer as een feeks in Lorna en die professor. Geen spesifieke persone is die inspirasie agter Glenda, Maria en Estie nie. Hulle is produkte van my verbeelding.

Waarom is hulle feekse? Ek veronderstel dat as ’n man ’n aantreklike hunk is en boonop ongetroud, gaan vroumense vir hom val, hom wil hê en hom jag/najaag.

Rika: Baie jare gelede, nog voor ek getrou het, het ek ’n goeie vriend gehad wat met ’n baie mooi meisie ’n verhouding gehad het. Alles het altyd vir my soos regte maanskyn en rose tussen hulle gelyk.

Tot die dag toe hy vir my sê sy het hom die trekpas gegee om met ’n ryk boer – wat heelwat ouer as sy is – te gaan trou.

Die jare het aangestap, en die dag toe hy my troue bywoon, het hy my vertel die boer is oorlede, en het haar geldloos nagelaat – al sy goed is aan sy kinders by sy eerste vrou nagelaat. Sy het teruggekom na my vriend toe, wou hul verhouding hervat asof sy niks lelik gedoen het nie. Sy het aanvaar hy sal haar vergewe en weer aan haar toegee. Hy het geweier, want hy het geglo sy is nie tot werklike liefde in staat as sy hom so maklik vir rykdom kon los nie.

Annetjie: Silvana is absoluut ’n fiktiewe karakter. Ek het wel my Italiaanse skoonsuster se naam gebruik en verder maar my eie verbeelding.

moedswillige vreemdeling_high res

 Is dit makliker of moeiliker om in die feeks se kop te klim?

Malene: Dis net so maklik om in ’n feeks se kop te kom as in die goeie heldin s’n.

Rika: In sommige opsigte is dit vir my makliker om die feeks te skryf as die heldin. ’n Mens is redelik beperk tot sekere dinge wanneer jy die heldin moet speel, maar by die feeks is baie dinge toelaatbaar.

Annetjie:  Ek het die verhaal deurgaans vanuit Philna se perspektief vertel, m.a.w. ek was heeltyd in haar kop. Ek kon Silvana slegs van buite teken. Ek slegs haar uiterlike handelinge (optrede) weergee.

Lorna en die professor_high res

 Hoekom het die feeks ’n feeks geword?

Malene: Die held in my verhaal, professor Arno Retief, sou vir enige vrou aantreklik wees. (Vir my ook!) Daarom is die vroue wat hom jaag katterig en jaloers as hulle sien dat hy in die jong, mooi Lorna belangstel. Sy raap hom mos as’t ware voor hulle begerende neuse weg.

Rika: Hierdie spesifieke meisie was heel gelukkig saam met my vriend totdat die glans van rykdom velle oor haar oë getrek het. Die dag toe sy met niks nagelaat word na sy die mooi jong jare van haar lewe aan ’n ouer man toegewy het om in sy rykdom te deel, het sy sinies en bitter geword. In haar agterkop was daar net een oplossing:  my vriend sou haar terugvat as sy haar kaarte mooi speel, en sy het haar voorgeneem om te lieg en bedrieg om haar sin te kry. Gelukkig was my vriend oopkop genoeg om deur haar planne te sien.

Annetjie: Silvana het die feeks geword, omdat sy besitlik was oor Ricardo. Sy wou hom vir haarself hê en wou hom bind aan sy belofte teenoor sy vriend.

altyd somer_high res

 Sal jy ooit die feeks se verhaal in ’n Romanza vertel?

Malene: Ek het nog nie die feeks se verhaal in Romanza vertel nie, omdat die heldin mos fokaliseer. Dit sou maklik gedoen kon word. Die arme feeks. Dis swaar om te verloor en die liefde kan seermaak. Ek kry haar jammer.

Rika: Soos jy sien, is Marina se karakter gebaseer op iemand wat ek donkiejare gelede persoonlik geken het. Ek glo nie as ek ’n verhaal oor haar moet skryf kan dit ’n Romanza wees nie. Dalk kan dit in ’n ander genre gebeur waar die heldin in die verhaal eers deur vele “issues” moet gaan voor sy eindelike geluk vind.

Annetjie: Ja, ek sal die feeks se verhaal in ’n Romanza kan vertel, want dan sal ek in haar kop klim. Ek sal haar laat groei tot ’n volronde mens – haar mensliker maak, sterk, maar ook sag. Ek sal ander soort intriges in haar storie inweef.

 

 

 

Moeilikheid met ’n meermin – Sophia Kapp

Moeilikheid met 'n meermin_high res

Kate haak die band van haar sak oor haar skouer en tel die laaste krat met die mediese toerusting op wat sy gewoonlik saans in die kantoor toesluit. Miskien, as sy maak asof sy hom nie sien nie en net eenvoudig ook wegstap, sal hy opspring en agter haar aankom, en kan sy hom van die boot afkry sonder ’n konfrontasie. Want sy kan sien hy brand om een af te dwing. Die hele dag nou al hang hy om haar rond, nie in haar pad nie, maar só dat sy nie van hom kan vergeet nie.

Nie dat sy sou kon nie, al het hy hom in die romp toegesluit – daarvoor is hy net te . . . te dáár. Dis die statuur van die man, die aura van selfvertroue wat hy soos ’n harnas dra, die helder bruin blik wat haar vashou al wil sy nie vasgehou wees nie, wat hom onvergeetlik maak. Die lyf en die gelaatstrekke, hoe strelend op die oog ook al, is niks in vergelyking met sy syn nie.

Sy sug ongeduldig. Dit maak nou nie saak hóé aantreklik of indrukwekkend Gerrit Ebersohn of sy werk is nie, sy wil hom nie in haar lewe hê nie. Nie in enige hoedanigheid nie. Hou gouer hy – en sy – dit begryp, hoe beter vir hulle al twee.

Maar nou sit hy waar hy sit en sy kan nie die boot verlaat voordat hy af is nie. Maatskappybeleid.

“Meneer Ebersohn, die rit is verby, jy moet asseblief nou afklim.”

Hy roer nie.

Sy byt op haar tande, plak die krat neer en stap uit tot in die boeg waar hy sit. “Het jy my gehoor?”

Die bruin oë glinster. “Ja, ek het.”

“Gaan jy reageer?”

’n Grinnik pluk aan die mooi mond, en dan rank hy uit sy sitplek uit. Haak die toiingrige sak oor sy skouer. “Ek sal afklim sodra jy my die geleentheid gegee het om met jou te praat.”

“Ekskuus?” Hierdie man gaan haar voor ’n ultimatum stel? Dink hy nou wraggies hy gaan haar manipuleer sodat hy sy sin kan kry nadat sy dit duidelik gemaak het dat dit nie ’n opsie is nie? Wie dink hy is hy? En belangriker nog, wat dink hy is sy?

“Komaan, Kate,” paai hy saggies, sy oë intens en donker. “Jy wil tog nie vir my sê jy voel dit nie ook nie? Daar is iets aan die gang tussen ons en dis dalk net die moeite werd om uit te vind wat dit is.”

In haar bruis die paniek. Ja, daar is iets tussen hulle. Ten spyte van alles, teen al die waarskuwings wat haar gesonde verstand uitstuur, teen alle ervaring in, is daar ’n bewustheid. Sy kan daarteen baklei, maar sy kan dit nie ontken nie.

Vir hom is dit natuurlik om dit verder te wil ontdek. Vir haar is dit waansin. Heerlike waansin, maar waansin nietemin.

Al wat oorbly, is aanval. Met alles wat sy het.

Sy kyk hom op en af. “Iets aan die gang, sê jy? Watse ‘iets’?”

“Dis wat ons moet uitvind,” antwoord hy glad. Met net die regte tikkie rasper in die stem.

Gee hom wat hom toekom, dink sy: Hy is ’n uitstekende toneelspeler. As sy nie geweet het hoe maklik dit vir ’n man is om met ’n vroumens se kop te smokkel nie, sou sy kon dink daardie donker blitse in die oë en die manier waarop die borskas styg en val, is opreg.

Sy knik asof sy saamstem. “Ek dink jy’s reg. Ons behoort uit te vind presies wat jou ‘iets’ is.”

Die blyheid wat deur die bruin skiet, beroof haar amper van haar fokus. Amper. Hemel, die man hoort op Broadway, so goed is hy. ’n Oomblik lank wou-wou sy glo dat die ongebreidelde vreugde opreg is.

Voordat dit haar ontspoor, tree sy vorentoe, kry hom aan die nek beet en trek sy kop nader. Haar mond gryp syne, vol en warm, en sy soen hom, behoorlik, volledig, met lippe en tong en baie beweging, totdat sy mond van pure skok oopval.

Sy weet presies waar sy hom het, weet presies hoe lank om hom daar te hou, presies wanneer om die soen af te breek en hoe ver om terug te tree. En sy weet presies hoe om haar mond te roer, haar lippe baie effentjies te smak soos wat ’n mens maak as jy aan ’n glas bedenklike wyn geproe het, en hom dan takserend te staan en aankyk.

“Mmm,” sê sy onentoesiasties, “so drie, vier, sou ek sê. Daar is potensiaal, maar dit gaan nooit beter word as ’n vyf nie.” Sy gee hom ’n breë, onopregte glimlag, skud haar kop en kreukel haar neus. “Jammer, dit doen dit nie vir my nie. Maar moenie sleg voel nie, daar is ’n hele eiland vol girls wat dit as ’n groot kompliment sal beskou om in jou skoot te kan val. Probeer een van hulle. Maar ek gaan nou huis toe, want my dag was lank en ek is te moeg om verder met jou speletjies te speel. Totsiens, goeienag, oor en uit.”

En daarmee tree sy terug, sluit al twee die deure van die kajuit, tel die krat op en stap met lang treë al met die kaai tot by die kantoor. Waar sy net so vinnig sluit, in haar kar klim en ry.

Die enigste manier waarop Gerrit Ebersohn van daardie boot gaan kan afkom, is om op die reling te balanseer tot by die agterstewe waarvandaan hy op die kaai sal kan klim, en dit gaan hom ’n paar minute neem as hy nie met kamerasak en al in die water wil beland nie. Sy het ’n voorsprong, dis nie nodig om te jaag nie.

Maar die feit dat sy fisiek van hom af kan wegkom, beteken nie haar kop het hom laat los nie. En sy kan vir hom lieg oor haar reaksie, maar vir haarself kan sy nie om die bos lei nie. Alles aan haar – hartklop, asem, ingewande – is aan die ruk en bewe. Alles aan haar wat vrou is, het wakker geword die oomblik toe sy daardie mond onder hare geproe het. Alles wat lyflik is, alles wat nodig het, is skielik skreeuend en klouend, pleitend vir ontlading.

Soos weerlig, dink sy. Dis soos om weerlig in jou hande te probeer hou.

Kate haal diep asem en hou dit vir ’n paar tellings in haar longe totdat die bewing in haar begin bedaar. As sy weet wat goed is vir haar, sorg sy dat haar en Gerrit Ebersohn se paaie nie weer kruis nie. Niemand se hart, nie eens haar hardgebakte een, kan twee keer deur weerlig getref word en daarna ooit weer normaal klop nie.

 

Wanneer die werklikheid vreemder as fiksie is …

 

Bok dreams

As uitgewer is een van my hooftake om manuskripte te keur en een van die belangrikste kenmerke waarvoor ek veral op die uitkyk in ’n verhaal is, is geloofwaardigheid. Dis dié dat ek onlangs met die lees van die Romanza-skrywer Karen de Villiers se manuskrip ’n sirkel om die beskrywing op die bladsy trek. Toe sy beskryf hoe ’n hond stappers na ’n waterval in ’n kloof begelei, dink ek, wag ’n bietjie, dis mos nie geloofwaardig nie?

Een van die kenmerke van ’n romanse is dat beide die verhaal sowel as die karakters geloofwaardig moet wees. Alhoewel die leser met die lees van die romanse na ’n soort sprokieswêreld wil ontvlug, moet die liefde en verhaalgegewens steeds tasbaar wees en kan die ridder nie sommerso uit die lug op die heldin se skoot val nie. Die leser wil glo dat hierdie liefdesverhaal háár liefdesverhaal kan wees en dat hierdie liefdesprokie in der waarheid ook in die regte lewe drie-dimensionele (werklike) vorm kan aanneem.

Dis egter nie lank nadat ek haar manuskrip vir haar teruggestuur het nie, dat Karen my kontak. Ons gesels land en sand en toe sê sy ferm dog vriendelik, “Hoor hier, ek wil net vir jou sê, daai storie van die hond is waar …” En ek hoor haar. En ek wil haar glo, maar steeds voel dit vir my dit kan mos nie wees nie. Maar Karen hou vol die hond bestaan en dis daar iewers in Pelgrimsrus en al sluk ek swaar aan die storie, begin ek al dink hoe ons die hond-verhaal op ’n meer geloofwaardige wyse deel van haar romanse kan maak.

Sowat twee weke later, liewe leser, kom kuier my skoonouers by ons. Ons het verlede jaar probeer om in een dag deur die Baviaanskloof in die Oos-Kaap te ry, maar moes noodgedwonge moed opgee toe ons teenspoed met die kar optel. Terloops, daardie pad, as mens dit kan waag om dit ’n pad te noem, skud jou skelet uitmekaar en indien jy gelukkig is, ruk dit jou rug weer in lit … gewoonlik gebeur presies die teenoorgestelde egter – jou rug ruk uit lit uit en jou spiere word spasmaknoppe. Skoonpa is nietemin vol moed en ywer om weer die kloof aan te pak – “dié keer sal ons dit oor twee dae doen”, sê hy. Hy het reeds verblyf in die kloof op die Bokloof-gasteplaas bespreek en vertel opgewonde van die hond wat ons deur die kloof sal lei …

“Wat?” vra ek oorbluf. “Pa speel seker?” Ek vertel hom hoe ek vir Karen laat weet het die deel in haar verhaal oor die hond wat toergids speel, is net te ongeloofwaardig. Skoonpa pluk al laggende die opgevoude koerantuitknipsel uit die Oos-Kaapse Burger uit sy rugsak en sowaar. Ek lees die berig “Skollie, jy hét my onthou, of hoe?” (Die Burger, 2016-06-13)  waar Monique Basson vertel hoe sy vyf jaar gelede tydens haar wittebrood die eerste keer met die Bezuidenhout’s van Bokloof se toergidshond Skollie kennis gemaak het en hom toe vanjaar weer gaan groet het.

Nouja, so liewe leser, is ons toe 22-24 Julie Oos-Kaap toe en ek het die geskud en die rit teen al die passe op en af oorleef. Ons het heelhuids by Bokloof in die Baviaanskloof arriveer en is daar deur die gasvrou Anina Bezuidenhout verwelkom. Aangesien sy toe sê dat die Waterkloof staproete ’n absolute móét is en ons reeds die volgende oggend vroegoggend weer in die pad sou moes val vir deel 2 van die Baviaanskloof, besluit ons toe om die laaste bietjie lig voor skemer te benut.

En so word Karen se verhaal werklikheid: Die ou bruin-swart Skollie-hond wat voor die staproete se bordjie lê en dut het, vlieg op en wys vir ons die pad aan. Kort-kort draf Skollie ’n ent vooruit en verdwyn dan in die bos tussen die malvaplante op soek na ’n muis of insek. Sodra ons hom egter durf verbysteek, skiet hy in die paadjie by ons verby – so asof hy wil sê: “Ek sal hierdie stappie lei, volg vir my!” My kop is vol verwondering, Romanza, romanse, die Liefde en die mag van stories. Ek kan nie glo dat ek skaars twee weke gelede ’n manuskrip aan ’n skrywer teruggestuur het met die boodskap dat die verhaal oor die toergidshond net te goed is om waar te wees nie en hier stap ek deur die stilte van ’n kloof diep in die Baviaanskoof met ’n toergids wat my lei.

Dis vinnig besig om sterk skemer te word en ons besluit om eers om te draai sodat ons met die paadjie terug nog genoeg lig het om te sien waar ons ons voete neersit. Vir oulaas kyk ek om na die al nouer-wordende kloof en dis toe dat ek die vinnige flits rooi van die Knysna-loerie se vlerk sien. Dis ’n magiese plek, dié, dink ek – die werklikheid is werklik vreemder as fiksie.

Knysna loerie

©Marlies Haupt

Lees hier meer oor die toergidshond Skollie van die Baviaanskloof, asook Bokloof:

http://www.netwerk24.com/Ontspan/Buite/Skollie-steeds-bobaas-van-Baviaans-20150331

http://www.netwerk24.com/Ontspan/Buite/skollie-jy-het-my-onthou-of-hoe-20160613

http://www.bokloof.co.za/activities

Foto van karre in die Baviaanskloofpas: http://www.kougadaytrip.co.za

Foto van Knysna-loerie: http://www.gardenroutetrip.co.za

Foto van die boek en verbeeldingsvlug: http://www.threebgagsofsugar.com

Ander foto’s geneem deur M Haupt en EJ Marais.

 

 

FYN PORSELEIN – HELENA HUGO

Fyn porselein

’n Ouma, ’n ma en ’n kleindogter neem bestek op van hulle lewe. Elkeen meen dat haar lewe, soos die stand van teeblare onderin ’n koppie, so heel anders as die ander twee s’n verloop het. Maar wie kan weet? Elke lewe, fyn soos ’n porseleinteekoppie, kan so maklik breek.

Met diepgaande insig en ’n sterk sin vir die ironiese verken Hugo in hierdie roman jeug en ouderdom, voorkennis en nakennis en onbegrip tussen die generasies, en laat die leser met verwonderde ontroering. Uit die heel gewoonste gegewe verken sy met hierdie roman ’n vraagstuk so oud soos die mensdom: Kan ’n ander mens – selfs dié naaste aan jou – ooit ten volle geken word?

Jy kan boeke lees en argiewe omdolwe, jy kan met mense praat en hulle uitvra, jy kan briewe lees en kaste omkeer. Jy kan hoe ver in die verlede terugdelf en hoeveel kruisverwysings maak, daar is altyd die onverklaarbare, die dubbelsinnige wat jy nie kan ken of kan verklaar nie.

Lees hierdie lekker lusmakertjie uit Fyn porselein: 

1

Hanna

Aunty Joan skud haar kop tot haar oorbelle rinkel. Vandag dra sy trosse silwer met rooi steentjies wat pas by haar swart satynrok met die rooi rose en die silwer blare. Om haar skouers hang haar Chinese sjaal, die bloue met die goue krisante. Haar wange is roospienk gepoeier en haar lippe blinkrooi geverf. Alles aan aunty Joan blink, haar neus ook. Sy sê dis hooikoors, maar Hanna se pa sê dis die rook, ’n vieslike, onvroulike gewoonte.

“Jy rook nie in my huis voor my vrou en dogter nie,” sê hy elke keer as sy haar silwer sigaretkoker uithaal en hy sy pyp stop en aansteek.

“Dis ’n skande,” kla aunty Joan, “hoe familie jou kan uitbuit as jy vroualleen is.”

Daar is krummels om haar mond en room op haar bolip. Sy stut haar elmboë op die tafel. Die koekvurkie hang skuins in haar regterhand. “Jy wat gebak het, Hannatjie?”

“Ja, aunty Joan.”

“Maar dan is jy mos reg om te trou en huis op te sit.”

“Nee, Aunty.”

“Joan, jy moenie die kind se kop vol muisneste prent nie.”

Hanna is sestien en sy kook en bak beter as menige jong getroude vrou. Sy maak haar eie klere, borduur die mooiste kussingslope en teelappe en menstrueer al vandat sy twaalf jaar oud is. Maar ma Felicia noem haar steeds “die kind”.

“Sny vir my nog ’n stukkie, asseblief.” Aunty Joan hou haar bordjie uit.

Die fraiings van haar sjaal sleep deur die room. Die skoolhoof se vrou rek haar oë.

Ma Felicia hou haar gesig uitdrukkingloos.

“Jou fraiings!” sê mevrou Wandrag, die musiekjuffrou.

“O, gatta!”

Aunty Joan gryp die fraiings in haar linkerhand vas en lek die room af.

Hanna onderdruk ’n giggel. Dis net aunty Joan wat so iets sal waag. En sy mag maar, want sy was op haar dag ’n rondreisende aktrise en getroud met ’n Portugese matroos wat sy net een dag geken het en wat nie op land kon aard nie.

“Alfredo het die see gekies en ek weet nie of hy nog leef nie,” sê sy altyd met ’n traan in haar oog.

“Miskien is ek ’n weduwee, miskien nie . . .” Aunty Joan snik ’n slag en snuif onmanierlik. “Ek is seker ek is . . . Leer die Bybel nie dat die weduwee en wese versorg moet word nie? Maar klipchristene . . .”

Sy steek haar vurk in die nuwe sny koek en eet terwyl almal om die tafel vir haar wag om haar sin klaar te maak. Die laaste jare werk sy as geselskapsdame en sterwensbegeleidster. Maar dié soort werk raak skaars en die werkgewers is merendeels uitbuiters.

“Ek het Bessie opgepas tot die dag van haar dood, dag en nag langs haar bed gesit vir ’n dak oor my kop en ’n bord kos wat ek self moet kook. Wat kry ek? Nie ’n pennie vir my moeite nie.” Sy skraap die krummels op haar koekbordjie bymekaar en sidder.

“Sal Jasper Losper dink hy doen my ’n eer aan om my snags in my kamer te besoek!”

Die skoolhoof se vrou se oë rek. Mevrou Wandrag gryp nog ’n jamtertjie.

“Hannie, jy kan nou vir ons die tee gaan maak,” sê ma Felicia.

Sy stuur haar kombuis toe voor aunty Joan met die besonderhede van oom Jasper se nagtelike besoeke uitkom – om seker te maak dat haar jong gemoed nie besoedel word nie. Dis nie of Hanna niks weet nie, aunty Joan het haar al deeglik ingelig, op

Engels, die taal wat sy vir sulke intieme sake bêre.

“You are such an innocent child, my dear, and you are going to grow into a beautiful young woman, but beware, don’t let them use you.”

“Wie, aunty Joan?”

“Mans!”

 

 

’n Diva en ’n meermin: Sophia Kapp gesels

Hoe ontspan jy?

Ek hekel, kuier by vriendinne of kyk ou episodes van The A-Team of ander bloeddorstige TV-reekse. Lees is werk.

Wat lees jy op die oomblik?

The color purple en All the light we cannot see

Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Ek sulk tot ek weer kan skryf.

Wat is jou grootste vrees?

 

Oor skryfwerk: Dat ek op ’n dag gaan wakker word sonder ’n enkele storie in my kop. (Dit het al gebeur, dis angswekkend.)

Oor die res van my lewe: Dat my kind iets sal oorkom.

Aan watter skryfgewoonte (van jouself of ander skrywers) het jy ’n broertjie dood?

Mooiskrywery. ’n Skrywer wat woorde goed kan inspan, kan my meesleur sonder om fraai te raak. As iemand byvoorbeeld ’n natuurtoneel beskryf, wil ek ná die tyd dink hoe mooi die plek was, nie hoe mooi die taal was nie. Daar is baie skrywers, groot, internasionale skrywers, wat nie dié verskil lekker begryp nie. Een van my gunstelingskrywers wat dit kon regkry om met gestroopte taal die wonderlikste beskrywings te gee, was Rosamunde Pilcher. Sy was ’n absolute meester om vir jou visueel op ’n plek te plaas op so ’n manier dat jy dáár is, sonder dat jy voel dit het jou moeg gemaak om daar aan te kom.

Wat is jou grootste kopseer in verband met publisering?

Ek weet van die publikasieproses net mooi niks, en ek hou my daaruit. Ek stuur my manuskrip vir my uitgewer, sy doen wat sy moet doen en ek sit by die huis en dink my volgende storie uit. Ek wil regtig nie by die publikasiedeel betrokke wees nie. LAPA Uitgewers vra my altyd wat ek van die voorblad dink, maar daarmee is ek ook onnosel. Gelukkig is daar mense met kennis, ervaring en goeie smaak wat dié saak ook beredder.

Wat is die lekkerste van skryf?

Dieselfde ontvlugting en vreugdes wat lesers met my romans kry, kry ek as ek dit skryf. My vreugde duur net langer, want ek is vir ’n jaar lank met die storie besig. Teen die tyd dat ek met die boek klaarmaak, is ek skoon dwalend omdat die karakters skielik uit my lewe is.

Moeilikheid met ’n meermin is jou eerste Romanza. Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Die grootste uitdaging was die “beperkings” van die genre. Ek is gewoond daaraan om ’n storie te dink en te skryf soos wat ek wil, met karakters wat is soos wat hulle is en praat soos wat ek hulle hoor praat. Skielik moes ek afskaal aan die emosie, aan die hoeveelheid karakters, aan die dialoog, aan die storielyn, aan die beskrywings … Dit het geweldige dissipline gekos om binne dié publikasieraamwerk te bly.

sean-meermin

Wat was die kosbaarste les wat jy by ander skrywers geleer het?

Mmm, daar is so baie … Ek het waarskynlik van skryfwerk self die meeste by Chanette Paul geleer, omdat sy my werk gekeur het. Daardie verslae is van die moeilikste goed om te absorbeer, maar dis ook ’n ontsaglike goeie leerskool. Sy kyk helder en sit haar vinger presies op al die tekortkominge, wat maak dat ’n mens kan skaaf aan jou produk.

Wat wens jy, jy het geweet toe jy begin skryf het?

Ek wens ek het toe die lewenservaring gehad wat ek nou het, maar dis ook nie eintlik vir my ’n vreeslike kwessie nie. Ek het lekker geskryf aan al my boeke en elkeen het op haar tyd vir my baie vreugde verskaf.

Wie is jou skryfrolmodelle?

Nora Roberts, LaVyrle Spencer, Rosamunde Pilcher, Tryna du Toit

Wat is noodsaaklik op jou lessenaar (behalwe jou rekenaar) om lekker te kan skryf?

My luidsprekers. ’n Mens pak nie skryfwerk aan sonder Bach nie.

Wat is die belangrikste les oor skryfkuns wat jy geleer het?

Moenie met jou eie skryfwerk trou nie. Ja, dit is ’n produk wat uit die weerloosste dieptes van jou siel kom, maar dit is steeds ’n produk. As jou instink sê skrap, skrap. As die keurder en uitgewer sê skrap, skrap. Jy is in diens van jou leser en sy betaal jou. Jy is onder ’n verpligting om vir haar die beste moontlike produk te lewer.

Wat is jou grootste skryffiemies?

Fiemies? Ek??! Mmm, ek hou van realisme. Ek lees baie swaar aan enige vorm van fantasie − ek kon byvoorbeeld geen van die Harry Potter-boeke klaar lees nie (ja, ek weet). En enige erotika sonder ’n behoorlike storielyn walg my.

As jy vir ’n dag as ’n ander bekende skrywer kan leef, watter skrywer sal dit wees? En hoekom?

Paulus. Sodat ek ’n paar van daardie seksistiese uitsprake van hom wat hy met soveel selfvertroue gemaak het, kan herskryf.

Werk jy tans aan ’n boek? Kan ons dalk ’n preview kry?

Ek is besig met ’n swaarder storie, maar ek dink nog aan hom. Daar is nog min op papier. En soos Hans du Plessis sê, ’n mens praat nie oor ’n storie waaraan jy werk nie, want dan is hy uit jou lyf uit.

Wat het die storielyn vir Moeilikheid met ’n meermin geïnspireer?

Ek het iewers gelees dat romanses gewoonlik op ’n idilliese plek afspeel. Die enigste tipiese ‘idilliese’ plek waar ek al was, was Phuket. (Ek was al op interessanter plekke, maar ek weet nou nie of ’n mens ’n romanse in Alaska of op Kilimandjaro laat afspeel nie!)

Moeilikheid met ’n meermin het ons pratige Romanza Ridder, sean Tucker op die voorblad. Koop hierdie Romanza hier:  https://www.lapa.co.za/Winkel/Besonderhede/productId/6912

Sophia se Joernaal vir ’n bedonnerde diva het pas verskyn, dit is  ’n geskenk wat enige vrou sal waardeer. Koop hier een: 

https://www.lapa.co.za/Winkel/Besonderhede/productId/6924

 

 

Met liefde gedruk

Moelikheid met ’n meermin − Sophia Kapp

Gerrit geniet toeriste-uitstappies in Thailand. Hy wag dat die sakeman, wat hy moet fotografeer, hom kontak. Dis op ’n toeristeboot waar hy háár egter die eerste keer gewaar: Die meermin met die onmoontlike mooi groen oë.

’n Reënboog vir Mouette − Thea Holland

'n reenboog vir mouette_high res

Mouette wil nooit weer trou nie, want verhoudings werk eenvoudig nie uit nie of hou nie. En Con sal dit eers oorweeg om te trou wanneer hy veertig word … Maar die liefde laat hom nie voorskryf nie, of hoe?

Onder dieselfde sterre − Anna Penzhorn

Onder die sterre_high res

Jacolien het reeds haar droomman, die geleerde en gesofistikeerde Ruaan de Jongh, ontmoet. Hulle is perfek vir mekaar. Maar waarom kan sy nie die aantreklike Sebastiaan, ’n beesboer en terggees met verskuilde diepte, uit haar gestel kry nie?

Meer as ooit  − Felicia Snyman

Meer as ooit_high res

Sedert haar ontroue eks haar verraai het, is ’n aantreklike man nie op Rinamari se prioriteitslys nie. Maar Alexander maak gevoelens in haar wakker wat haar laat besef dat Matthew nooit die regte man vir haar was nie.

Joernaal vir ’n bedonnerde diva − Sophia Kapp   

 

Hierdie kreatiewe joernaal is ’n uitvloeisel van die Oorlewingsgids vir ’n bedonnerde diva en is op versoek van lesers. Die joernaal bestaan uit twaalf sketse oor hedendaagse ervaringe wat vroue beleef, maklike resepte, uittreksels uit die divagids asook gedeeltes waar lesers joernaal-inskrywings kan doen en teken of foto’s of prente kan inplak.

Net ’n mens − Alta Cloete

Op Sanet Smit se vyftigste verjaardag kry die verwydering tussen haar en haar man ’n naam. En dis nie ’n vrouenaam nie. Boonop is Anthonie Binedell alreeds geruime tyd oorlede en sy het geen idee gehad van Willem se smart nie.

Deur haar onbegrip, woede en hartseer sypel ook die behoefte om te verstaan. In haar poging tot groter begrip word sy deel van Willem se vriendekring waarin sy voorheen nie betrokke wou raak nie. Onverwagse uitdagings in die vorm van ‘n ouerlose dogtertjie en ’n woedende tienerseun toets haar empatie en vermoë om aan te pas. En dan laat Willem haar finaal in die steek. Sy moet alleen haar pad vorentoe vind.

 

 Hierdie opvolg van Opdrag van oorkant stel verskeie vrae aan die leser: Hoe verwerk ’n vrou die ontdekking dat haar man gay is? Is dit noodwendig die beste keuse dat hy uit die kas moet kom? Moet sy hom dwing as hy nie kans sien nie?

Maar ook: Kan van ‘n vrou verwag word om die getraumatiseerde kind van vreemdelinge in haar huis en in haar hart te neem?

Swartval − Martin Steyn

Swartval

Haar brein jaag net so vinnig soos haar hart. Dis hy. Die een wat die blomme op haar kar gelos het. Hy het teruggekom. En hierdie keer het hy nie gekom om iets te bring nie, hy het gekom om iets te vat.

Vir haar.

Dit het begin met ’n blom onder haar motor se ruitveër. Maar die tweede een was dood en toe kom die swart blomme. En nou word sy iewers in ’n sel van sement gevange gehou.

Claire Winters plaas eers haar hoop op haar speurder-broer om haar te kom red. Want hy weet wie die man is wat haar ontvoer het. Maar nog ’n lang, donker dag eindig met ’n toebroodjie en ’n glas water en Derek kom nie. En Claire besef hierdie keer sal sy haarself moet red. Voor haar brein heeltemal in die swart van die kelder oplos.

Die enigste manier uit is deur haar ontvoerder. Net hy kan die kelder se deur oopmaak. Maar net toe sy dink sy begin vordering maak, vind Claire uit waarvoor sy regtig aangehou word.

Wil jy geld spaar op jou maandelikse boeke? Sluit nou aan by Romanza-Klub en kry 30% afslag op alla LAPA-boeke: https://www.lapa.co.za/Romanza/Romanza-klub

 

 

’n Stukkie genade – Dianne van Eeden

'n stukkie genade low res

“Anjenette! Anjenette!” Brad skud haar ferm aan die skouers.

Die gil stol op haar lippe en hy kan haar oë, groot en vreesbevange, op hom voel. “Anjenette, dis ek, Brad,” sê hy dringend.

Sy begin saggies te skud en hy besef ontstemd dat sy huil. Hy sak op die rand van die bed neer en tel haar in sy arms op. Sy voel so klein en broos toe hy haar teen hom vasdruk. Die snikke skeur rou oor haar lippe en hy druk haar nog stywer teen hom vas. “Toemaar, dis verby, dit was net ’n droom,” fluister hy terwyl hy oor haar rug en hare streel.

Uiteindelik kry sy weer beheer oor haar emosies en sy sit verleë van hom af weg.

Hy lig haar ken en vee haar traannat wange met sy duime weg. “Is jy oukei?”

Sy knik want haar stem is weg.

Hy leun impulsief nader en raak haar mond teer met syne aan. Haar lippe gee sag onder syne mee en hy voel hoe lang vergete gevoelens diep binne-in hom roer. Met ’n kreun trek hy haar in sy arms in en soen haar, dié keer driftig.

Haar hande kruip op en sluit agter in sy nek. Die bruisende sensasie wat haar warm, vroulike liggaam in hom ontlok, laat sy sintuie tol. Hy vou sy arms krampagtig om haar skraal skouers asof sy lewe daarvan afhang. Meteens verstaan hy wat dit is wat hom nog heeltyd pla. Hy het hierdie meisie lief!

Die gedagte is gelyk bevrydend en ontnugterend en hy beëindig die soen teësinnig. Wat is hy besig om te doen? Skaars ’n uur gelede het sy dit duidelik gemaak dat sy in geen verhouding belangstel nie.

Toe hy haar arms versigtig om sy nek losmaak en wil opstaan, keer sy hom. “Asseblief, moenie gaan nie,” fluister sy hees.

Hy aarsel. Hy wil nie haar kwetsbaarheid misbruik nie. Sy vat sy gesig in albei haar hande en trek sy kop laer na haar. Sy weerstand verkrummel en hy druk haar teen die kussings terug terwyl sy mond honger oor hare skuif.

Sy japon skuif van sy skouers af en sy voel hoe die spiere onder haar hande roer toe sy oor sy naakte rug streel. Sy hand gly onder haar naghemp in en sy trek haar asem genotvol in toe hy die ronding van een bors in sy handpalm neem. Sy liefkosings stuur ’n golf van ekstase deur haar en dit verstom haar dat haar liggaam in ’n oogwink op sy hitte en nabyheid reageer. Haar rug krom in afwagting toe sy hand ferm oor haar ribbekas gly, om haar naeltjie en oor die effense swelsel van haar buik. Sy skeur haar mond van syne weg en soen hom koorsig al langs die sterk lyn van sy kakebeen tot by sy skouer. Sy kan die seep aan sy vel ruik en sy adem sy reuk diep in. Sy wang skuur sensueel teen haar vel en sy kan sy hartklop teen haar lippe voel pols toe sy hom in die warm holte van sy nek soen.

Brad kreun saggies, dan verstil hy en verberg sy gesig in haar hare. Sy is nie haarself nie. Hy durf nie haar verlange na haar man uitbuit nie.

“Dis nie reg nie. Ek kan dit nie doen nie.” Hy lig sy kop en soen haar sag op haar lippe. “Ek kan dit nie doen nie,” herhaal hy skor. Hy staan beslis op en voel na sy kamerjas.

Sy lê stom in die maanverligte vertrek na hom en kyk. Hy is ’n adonis van ’n man. Toe hy uitstap en die deur agter hom toetrek, bly sy roerloos lê. Sy wil haarself om nie te dink nie.

Gesellig met Dianne van Eeden

Hoe ontspan jy?

Klavierspeel en tuinwerk is vir my heerlik ontspannend.

Wat lees jy op die oomblik?

The Prodigal Daughter van Jeffrey Archer.

Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

As ek nie skryf nie, speel of oefen ek viool. Ek doen ook my eie huiswerk, wat my taamlik besig hou!

Aan watter skryfgewoonte (van jouself of ander skrywers) het jy ’n broertjie dood?

Ek hou nie van krutaal in ’n boek nie. Een of twee keer sal ek dit oorsien en daarna sal ek die boek toemaak en daardie skrywer se werk vermy.

Wat was die kosbaarste les wat jy by ander skrywers geleer het?

Ek het geleer NEE beteken nie jy moet gaan lê nie. As jy glo in jou werk, veg daarvoor.

nee-zeggen

Wat wens jy, jy het geweet toe jy begin skryf het?

Die belangrikheid van navorsing. ’n Verhaal moet feitelik korrek wees al is dit fiksie.

Wie is jou skryfrolmodelle?

Francine Rivers is beslis bo aan my lys van skryfmodelle.

Wat is noodsaaklik op jou lessenaar (behalwe jou rekenaar) om lekker te kan skryf?

My lessenaar moet leeg wees van enige ‘clutter’ as ek skryf. Ek ly in ’n mate aan OCD (Obsessive Compulsive Disorder). Net die nodigste is op my lessenaar: my drukker, dagboek en skryfbehoeftes.

Wat is die belangrikste les oor skryfkuns wat jy geleer het?

Hê baie geduld. Dis ’n tydsame proses.

Wat is jou grootste skryffiemies?

Skryffiemies is definitief dat ek net kan skryf in doodse stilte. Geen musiek of lawaai of stemme nie. Ek is te lief vir musiek en dit en radio trek my aandag af. Dit was frustrerend vir my kinders toe hulle tieners was. Ek het aangepas en net snags geskryf of as die huismense uithuisig is.

Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Hoogtepunte is die Ela Spence-toekenning in 1997, die ATKV-toekenning in 2005 en Crazy Store se besluit om Afrikaanse verhale te versprei.

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Volg jou instink. Nie almal kan bv. werk volgens ’n raamwerk nie. Net omdat dit vir die meeste skrywers werk, beteken dit nie noodwendig dit moet vir jou werk nie. ‘Just let it happen.’

Hierdie is jou eerste romanse in nege jaar? Was dit moeilik om weereens ’n romanse te skryf?

Nege jaar is ’n lang tyd.  A.g.v vereistes deur die keurders is my manuskrip jaar in en uit afgekeur, onder andere my taal wat bv. te formeel op die oor val (ek hou van goeie Afrikaans en voel dat dit behoue moet bly in ’n era wat Afrikaans verengels het.) Nog ’n struikelblok was fokalisering. Ek is lief om ander karakters se gedagtes te wil deel met die leser en dit het ’n groot ‘No-No’ geword. Waarom verstaan ek nou nog nie… Ek moet my skryfwerk kort-kort onderbreek om seker te maak ek voldoen nog aan vereistes. Dit kniehalter nogal die natuurlike vloei van ’n verhaal.

Wat het jy in die tussentyd geskryf?

Ek het aan ’n volgende verhaal begin werk terwyl die verhaal gesweef het.

Drie items waar sonder jy nie kan leef nie.

My Bybel, my foon en vogroom.

Wie is jou drie gunstelingskrywers?

Francine Rivers, John Grisham en Karen Kinsbury in dié volgorde.

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

Dalai Lama, Moeder Teresa en my geestelike mentor en vriendin Esther Hennig.

Vertel ons 5 dinge wat nie in jou bio is nie.

  • Ek is ’n omgee-mens.
  • Ek het ’n sterk persoonlikheid en aanvaar nie ’n onredelike NEE nie.
  • Ek hou nie van konflik nie, maar deins nie terug om standpunt in te neem as ander te na gekom word nie.
  • Ten spyte van die algemene siening dat skrywers deurmekaar emosionele wesens is, is ek baie georden en hou van roetine.
  • Koeksisters en roomys is my groot swakte.

Werk jy tans aan ’n boek?

Ek werk aan my 14de romanse Sewentig Maal Sewe.

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

As ek nie ’n skrywer was nie, sou ek wou sing. (Ek het op skool besluit skryf is beter, want dit hoef mens nie voor ’n gehoor te doen nie.)

 

 

Winterliefde – Mari Roberts

winterliefde high res

Sy moet hom dit ter ere na gee. Hy het nooit vir tannie Gerda of oom Jans vertel waar hy hulle oral moes uithaal nie. Sy stiltes het Sam al hoe opstandiger gemaak en sy was daarop uit om hom te tart. Tot die aand, seker so agt maande ná haar sewentiende verjaarsdag, toe hy haar in ’n gewaagde skepping by die trap sien afkom het.

“Gaan trek vir jou ander klere aan,” het hy kortaf geblaf. Tannie Gerda-hulle was vir ’n funksie by die skool en hy, terug van die Kongo vir ’n kort vakansietjie, het in die televisiekamer gesit. Agter haar het Frikjan in sy spore gestol en stadig retireer sodat hy die konflik wat soos donderwolke opgesteek het, kon systap. Teen daardie tyd was hy net so versigtig vir Rufus, maar anders as sy, het hy verkies om nie ’n oorlog te begin nie.

“Ek sal nie,” het sy Rufus ken in die lug uitgedaag met ’n wildheid in haar wat deur haar lyf gebrand het. Wie is hy in elk geval om vir haar te kom sê wat sy mag of nie mag dra nie?

Die maskeragtige uitdrukking op sy gesig moes haar gewaarsku het, ook toe Rufus stadig opstaan van waar hy in die diep leunstoel gesit het. Sy mond het in ’n dun lyn saamgepers voordat hy skaars hoorbaar gesê het: “Ek verbied jou om met daardie stukkie lap wat jy ’n rok noem, uit te gaan.”

“Ek sal maak soos ek wil; jy is niks van my nie,” het sy verwoed gebits. Sy het hom uitdagend aangegluur, heeltemal teenstrydig met die onrustigheid in haar binneste.

“Dit is reg, ek is niks van jou nie.” Sy stem was emosieloos en sy het onwillekeurig ’n tree agteruit gegee. Dit het gevoel of ’n bom iewers dreig om te ontplof. “Maar Ma en Pa het my gevra om ’n ogie oor jou te hou en daarom sal jy maak soos ek sê of . . .” Hy het dralend stilgebly en haar toegelaat om verskeie opsies vir haarself uit te spel.

Die spanning in die vertrek het selfs die kat laat spaander. Sam het gesluk, gevoel hoe haar nekspiere styftrek, terwyl sy die moontlikheid van sy erns oorweeg het. Rufus het dit klaarblyklik as astrantheid geïnterpreteer, want toe sy te lank talm, het hy skielik gebuk, haar opgetel en oor sy skouer gegooi.

Sam het histeries met haar vuiste teen sy rug gehamer, maar dit het geen indruk op hom gemaak nie. Niemand het nog ooit so met haar gewerk nie. Met afgemete treë het hy teen die trap op geloop en haar in haar kamer soos ’n sak aartappels op die bed laat val. Van die sagmoedige mens wat sy leer ken het, was daar geen teken nie. Sy gesig was graniethard en selfs vir Sam, wat Rufus nog altyd met gemak om haar pinkie kon draai, was die boodskap duidelik: Hy het genoeg gehad.

“As jy soos ’n straatvrou wil aantrek en leef, is dit jou saak, maar nie terwyl jy onder hierdie dak woon nie. As jy geen respek vir jouself het nie, sal jy dit vir my ouers hê wat vir jou lief is. Bly hier totdat jy afgekoel het. Was dan daardie gemors van jou gesig af en dan kan ons praat soos volwassenes, wat ek hoop jy al is,” het hy gekners, toe omgedraai en uitgestap sonder om die deur agter hom toe te trek.

Daardie woorde van hom, meer as enigiets anders, het Sam aan die bed vasgespyker sodat sy haarself nie sover kon kry om te beweeg nie. Die pyn wat dit veroorsaak het, het haar stukkie vir stukkie uitmekaargekerf.

Oomblikke later het Frikjan met koeëlronde oë om haar deur geloer. “Leef jy nog?”

“Natuurlik,” het Sam kop omhoog laat hoor. Gelukkig het die woede wat in haar gesmeul het, haar die krag gegee om met minder waardigheid as wat sy wou, orent te sukkel. “Dankie dat jy my gelos en weggehardloop het.” Skielik ongemaklik het sy aan die kort rompie gerem.

Frikjan het verleë weggekyk. “Ek soek nie moeilikheid met Rufus nie.”

“Dit het ek deeglik besef,” het Sam gesmaal.

“Ek’s jammer, Sam.” Hy het sleepvoet nader gekom. “Ek sal enigiets doen om op te maak daarvoor.”

Sam het gemaak of sy diep dink en hom toe uitgedaag: “Jy gaan saam met my na Cheryl toe. Ons gaan steeds party toe.”

“Is jy mal!” Frikjan kon amper nie die woorde uitspreek nie, so geskok was hy. “Wil jy nou regtig die derde wêreldoorlog begin? Rufus gaan ballisties raak as ons sy bevele nie gehoorsaam nie.”

“Hy hoef nie te weet nie,” het Sam vrolik gesê. Of sy haarself geglo het, sou sy nooit met sekerheid kon sê nie. Al wat sy geweet het, was dat die aand nie meer so donker was nie. Miskien is sy net soos haar ma. As hy dan dink sy wil soos ’n prostituut lewe, gaan sy dit nou regtig begin doen. En dit gaan mos nie onder tannie Gerda se dak wees nie, het sy haarself oortuig.

“En hoe gaan jy dit regkry sonder dat meneer Perfek jou sien? Hy waak soos ’n gerub oor die voordeur.” Frikjan was nou nie meer onderdanig nie, maar sy argwaan met haar het sy stemtoon gekleur.

Sam het haar nie aan hom gesteur nie. Sy het na die venster geloop, dit oopgeskuif en oorwinnend geglimlag. “Ons klim deur die venster, loop dan met die dak tot by die agterste balkon en klim met die boom af. Maak toe die deur. Sluit dit sommer. Dan kan Rufus nie inkom en sien ek is weg nie,” het Sam triomfantlik beduie en gewag dat Frikjan haar gehoorsaam.

“Dit is amptelik,” het Frikjan gemor, terwyl hy haar halfhartig gevolg het. “Jy is verby mal.”

Die gevoel van oorwinning was van korte duur. Skaars ’n uur later het Sam met wydgerekte oë toegekyk toe die jong man wat op die punt was om haar te soen, soos ’n vrot vel eenkant toe geslinger is. Sy het Rufus nog nooit só gesien nie. Sy oë het swart in sy wit marmergesig gegloei. Sam kon nie ’n woord uitkry nie en vrees het haar keel toegedruk. Toe hy haar aan haar elmboog vorentoe du, het sy oom Jans deur ’n rookgordyn herken. Die uitdrukking op sy gesig was moorddadig, alhoewel hy niks gesê het nie. Sam sou later nie kon sê vir wie sy die bangste was nie. Albei was ewe intimiderend.

“Kom.” Die ys in sy stem het haar en Frikjan onmiddellik laat reageer. Die verwytende kyke van die kinders, omdat ’n onderwyser dit durf waag om hier te oortree, het skaars by Sam geregistreer. Hulle het huis toe geloop teen ’n pas wat Sam gedwing het om op haar hemelhoë hakke te draf, anders sou sy nie bygebly het nie. Sy het een keer amper geval, maar toe het ’n staalhand op haar elmboog die tuimel grond toe verhoed. Sy het agter die vag rooiblonde hare geskuil, versigtig om nie in Rufus se rigting te kyk nie. Sy was intens bewus van sy arm waar dit om hare geklem het.

Asof die aand nie sleg genoeg uitgedraai het nie, het tannie Gerda boonop met rooigehuilde oë by die huis gewag. Die ergste was dat sy wat altyd die raaswerk doen, hulle net in haar arms toegevou het. In die beskerming van die vrou se arms het Sam haarself verag.

Dit het haar bygebly toe sy later in haar bed rondgerol het. Die aand se gebeure het oor en oor soos ’n film in haar kop afgespeel. Sy wou Rufus vermaak, maar toe maak sy tannie Gerda seer en dit wil sy nooit weer doen nie. Oor ’n paar maande sou sy agtien wees en Rufus was reg, sy is kinderagtig. Sy sou haarself moes regruk en om dit te doen, moes sy almal om verskoning vra. By oom Jans en tannie Gerda pleit om haar te vergewe want sy was ’n onmoontlike mens. Of hulle haar sou vergewe, het Sam nie geweet nie, maar sy kon net hoop. Dit was asof ’n groot las van haar skouers afgeval het. Sam het opgestaan om vir haar ’n glas water in die kombuis te gaan haal.

Sy het sonder om twee keer te dink teen die trappe afgedraf, en nie eens daaraan gedink dat sy iets bo-oor haar nagrok moes aantrek nie. Toe sy onder kom, het sy gesien die lig brand nog in die televisiekamer. Rufus, geklee in ’n slaapbroek, het op die bank gelê, sy arm oor sy oë. Sy het hom al baie sonder ’n hemp gesien, maar skielik het sy naaktheid haar soos ’n vuishou in die maag getref. Sy kon nie beweeg nie, maar het hom openlik met haar oë verslind terwyl ’n ongekende tinteling deur haar liggaam getrek het. Toe hy kreun, het daar weer lewe in haar verstarde liggaam gekom. Met een tree was Sam by hom.

Toe sy saggies aan sy skouer vat, het sy oë oopgevlieg en die volgende oomblik het sy onder hom vasgepen gelê.

“Wat maak jy?” het hy rou gefluister. “Het jy nie vanaand gekry waarna jy gesoek het nie?”

Sam het verskrik na hom opgekyk. Sy woede en woorde was vir haar onverstaanbaar.

“Ek is nie een van daardie sawwe seuntjies waarmee jy jou vermaak nie.”

“Ja,” het sy in ’n waas geknik. Dit was ’n retoriese beweging, want sy het steeds nie kop of stert van alles uitgemaak nie. Al wat regtig sin gemaak het, was dat elke vesel in haar lyf van hom as man bewus was. Die hitte van sy liggaam het haar deur die dun materiaal van die nagrok geskroei. Haar oë was swaar toe sy in sy bruin oë opgekyk het. Wat sy daarin gelees het, het alle nugter denke verwoes. Sam kon haarself nie help nie. Haar hand was skielik vry, en gedagteloos het sy met verdwaasde teerheid oor sy wang gestreel. Gevoel hoe die spiere onder haar vingerpunte saamknoop.

Rufus se reaksie het haar verbaas. Hy het sy oë toegeknyp asof die aanraking hom tegelyk pynig en genot verskaf.

“Moenie.” Sy stem was onherkenbaar, maar Sam het nie geluister nie. Die klopping van haar hart het haar doof gemaak vir die waarskuwing.

Vir lang, ontelbare oomblikke het hulle in mekaar se oë gestaar en toe het hy sy kop met ’n kreun laat sak en haar mond amper ru in besit geneem. Die soen was hopeloos te vinnig verby. Die volgende oomblik het hy met ’n dierlike grom van haar losgebreek en die breedte van die televisiekamer tussen hulle gesit. Hy het heen en weer geloop terwyl hy sy kop vasgegryp het. Die afgryse op sy gesig het stadig tot haar deurgedring.

“Jimmel, Samantha, jy soek vir moeilikheid,” het hy rou gefluister. “Jy gaan nie by my kry wat jy vanaand nie by daardie seuntjie kon kry nie. Gaan!” het hy kras beveel en toe sy nie reageer nie, het hy omgevlieg en sekondes later het sy die sydeur wat na die trap van die woonstel lei, hoor toeklap.

Sy het soos ’n standbeeld bly sit terwyl sy probeer sin maak het uit wat so pas gebeur het. En namate die mis in haar kop verdamp het, het sy begin verstaan wat hy gesuggereer het en daarmee saam het sy vuurwarm van vernedering geword. Sy het krampagtig gesluk aan die bitterheid wat in haar keel opgestoot het. Haar bene het soos riete in die wind gevoel toe sy stadig teen die trap opklim. Sy het soos ’n klein hondjie wat ’n allemintige skop van sy baas gekry het in haar bed opgekrul en die kombers oor haar kop getrek.

Die volgende dag het sy hom nie gesien nie en toe sy die Maandagmiddag van die skool af kom, moes sy hoor hy is terug Kongo toe. Sy was oneindig verlig.

Vir sewe jaar het hy weggebly en nou kom hy terug. Dit voel vir Sam of sy gaan versmoor van paniek. Sy is seker hy bring iemand saam, want hoekom anders het Frikjan gesê volgens Rufus wag daar ’n verrassing vir die familie?

Wonder jy wat gaan gebeur? Koop Winterliefde hier: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/winterliefde/sagteband of Mari Roberts se Jy is my engel: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/jy-is-my-engel/sagteband