Geur van genade

Hierdie verhaal het ‘n goeie vyftien jaar gelede begin as ‘n poging tot ‘n roman met depressie as tema, op aanvraag van ‘n Christelike uitgewer.  Met die basiese uitleg gedoen en ‘n paar hoofstukke geskryf, het dit vir ‘n lang tyd onder in ‘n laai beland. Maar stories het ‘n lewe van hul eie en ook hierdie een het hardnekkig sy eie pad bly loop met my.
Toe ek in 2004 voltyds begin skryf en stadig weer aan die gang kom met tydskrifverhale, staan hy eenvoudig op. Ek skryf oor en begin die soektog na uitgewers. Na baie maande se wag kry ek die gevreesde nee-briefie. Weer eens laai toe met die manuskrip.
Maande later praat ek met Elize Parker van Lééf-tydskrif oor hulle plasing van kortverhale. Ek noem die manuskrip in die laai en sy raai my aan om Lapa te te kontak. Ek maak so, stuur die manuskrip, wag ‘n korter tyd – en kry weer die gevreesde nee-briefie. Maar daar is ligpunte. Eerstens is baie van hul redes presies dieselfde as wat Tafelberg gegee het, wat vir my ‘n bevestiging is dat ek met kenners te doen het wat weet waarvan hulle praat. En tweedens hou hulle wel van die verhaal, maar nie van die struktuur nie. En derdens is hulle op soek na romanseskrywers vir die nuwe reeks, Romanza.
Ek besluit om die sprong te waag na die romanse. Vandag kan ek sê dit was ‘n baie geseënde besluit. By die Potch skryfskool vir liefdesverhale het ek die geleentheid gehad om meer te leer oor die genre. Vandag het ek tien romanses voltooi, waarvan ag al verskyn het.
Maar Geur van genade wou nie bly lê nie. Ek skryf dus weer oor en stuur dit weer Lapa toe. Hulle hou steeds daarvan, maar voel dit moet heeltemal anders aangebied word. Ek dink en wroeg en steek uiteindelik viervoet vas. Terug laai toe …
Maar nee, ta staan weer op! En hierdie keer wérk dit – almal is tevrede en my droom is in sig.
Die groei wat die manuskrip ondergaan het, is beslis toe te skryf aan die groei wat ek as skrywer en as mens ervaar het met die skryf van romanses. Sonder daardie leerskool sou ek waarskynlik nooit tot by die publikasie van ‘n liefdesroman gevorder het nie.
Geur van genade het in Junie 2010 by Lapa verskyn en is te kry by CNA, Exclusive by al die gewone internetwinkels. Geur van vergifnis handel oor twee van die newekarakters van Geur van genade en verskyn (DV) in April 2011. Geur van vervulling verskyn hopelik in Nov. 2011 en handel oor nog twee karakters wat alreeds in die eerste twee boeke voorkom.
Al ses hierdie karakters is volwasse mense met heelwat gebreke en tekortkominge (geensins volmaakte, beeldskone karakters nie – en ook nie meer so bloedjonk nie). Almal van hulle ontmoet nie net die liefde van hulle lewe nie, maar groei tot groter volwassenheid en innerlike geluk deur die loop van die verhaal.
In my kop broei alreeds die die verhale van ses jongmense wat ook in die Geur-boeke voorkom. Maar die tyd sal moet leer …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s