Jou wenslys vir Augustus 2017

augustus 2017

Isabella se wenslys – Thea Holland

 Wat moet Isabella doen? Sy ken niemand met wie sy wil trou nie, maar hunker na ’n kind van haar eie. Dalk moet sy kandidate vir vaderskap oorweeg en liewer wegbly van Niël Zeeman en sy onweerstaanbare soene.

Liefde vir ’n woudprins – Serena Steyn

Haar grootste vrees is slange. Nou sit Maresa diep in Afrika opgeskeep met Garth Stetson – die beroemde slangkenner. Maar tog, die aantrekkingskrag tussen hulle is onmiskenbaar. Net een probleem: Maresa is verloof aan Huxley en professor Evans het haar visier op Garth.

’n Machoman leer liefdestaal – Ida Bester

Seerkry in beide Madri en Kobus se verlede maak hulle lugtig vir mekaar en vir ’n verhouding. En tog bestee hulle elke ledige minuut saam. Totdat Madri besef dat machoman Kobus kuns as tydmors beskou … en kuns is haar lewe!

Spore in die wind – Karen de Villiers

Tinki se werk op die plaas Blouberg is ’n droom totdat sy Zac, die nuwe baas, ontmoet. Hulle vryf mekaar verkeerd op, maar moet noodgedwone saam werk wanneer wildeperde in die distrik skielik verdwyn. Stadig maak wrewel plek vir liefde en Zac trap spore op haar hart.

 

ONTWAKENDE PASSIE (2DE UITGAWE) – Dina Botha

Ontwakende passie_voorblad

Celestine de Péronne is die enigste rooikop tussen haar beeldskone, blonde susters. Ook haar vader se enigste dogter wat op Lavoisier help boer.

Sy’s nie verniet haar ouma Angelique se kleindogter nie.

Van wyn maak en perde teel weet sy genoeg. Maar van mans? Bitter min.

Toe Argonne de Lattre op die plaas aankom, besef Celestine hoe min sy van vrouwees weet; hoe min sy haar tot dusver daaraan gesteur het.

En dié Fransman laat haar besef sy wil dalkies meer as net Lavoisier se meesteres wees …

Sy wil hóm wen. Maar mooimaakgoed, mooi aantrek en handwerkies verpes sy. En dis juis wat Argonne in ’n vrou wil hê.

Ontwakende passie is deel van ’n vierluik bestaande uit Angelique en die Boekanier, Ontembare bruid en Stem in die wind.

Nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://www.lapa.co.za 

Advertisements

Spoed-ontmoet se voet – Felicia Snyman

Felicia Blog 12

Mens moet altyd op die uitkyk wees vir ’n goeie storie om in ’n Romanza te gebruik. Of so het ek myself probeer motiveer nadat ek onlangs as enkellopende burger met ’n slap riem gevang is en ’n speed dating-sessie bygewoon het. Ek is ’n swakkeling vir kos en goeie wyn. My drievoudige vriendinne het my genader met die voorstel om ’n wynproe-aand by te woon wat toevallig ook dien as ’n aand waar enkellopendes mekaar ontmoet. Hulle het my natuurlik ingekatrol met die verversings. Rookie error, ek weet.

In teorie is dit ’n uitstekende idee: veilig, georganiseerd en gemaklik. In praktyk is dit ’n ander balspel. In ’n neutedop werk die aand as volg – vrouens sit in ’n ry aan die eenkant van die tafel, terwyl die mans aan die anderkant van die tafel sit. Elke sewe minute roteer die mans en die dames bly sit waar hulle is. Tussenin word kos en wyn (ook op aanvraag) per gang bedien. Aan die einde van die aand kan jy selfnommers uitruil om weer met die persoon kontak te maak, of jy kan dit neerskryf en die organiseerder kan die inligting deurgee.

Ons (ek, sussie en vriendinne) was ses van die elf vrouens wat geleentheid bygewoon het. Nodeloos om te stel dat ons die meerderheid was. Wat kan ons sê, sulke aande trotseer jy beslis nie sonder ’n weermag nie.

Die spanning was tasbaar en ons het grootoog gekyk na elke persoon wat hulle sitplekke inneem. ’n Paar veelseggende stil kyke het tussen ons beweeg. Op die oog af was daar slegs een aantreklike ridder. Die res kan meer omskryf word as rowwe diamante. Tyd sou leer dat ’n paar van die diamante interessante persoonlikhede het en goeie vriende sal maak. Maar, werklik. Ons het genoeg vriende. Ons, meisies, is ’n klomp unieke wesens en ons eerste fokus is beslis nie om na een geleentheid met ’n ring aan ons vinger weg te stap nie. Daarom het ons die gesindheid ingeneem om oopkop te bly.

Laat ek dit net nou stel, sewe minute kan die kortste of langste sewe minute van jou lewe wees. Sewe minute vlieg verby wanneer jy opgekrul op die bank sit met ’n goeie boek waarmee jy deur die wolke sweef. MAAR, sewe minute kan verby sloer wanneer die bleeksiel voor jou sy hart uitstort oor die tragiese verhaal waarin hy homself bevind. Mens kan ook net so lank na die eentonige bestaan van ’n persoon wat slegte keuse maak, luister. Dit is dan wanneer jy met ’n spoed die kelner nader wink om die glas, wat jy nou net uit die goedheid van jou hart met die slagoffer langs jou gedeel het, so vol as moontlik maak. Hoe meer die nektar vloei hoe harder praat almal om die tafel. Die voordeel daaragter is dat mens nie meer nodig het om met die nuwe persoon te probeer geselsies aanknoop nie, jy val net by die gesprek langsaan in en dit volg vanself.

Die ander algemene verskynsels is die teenwoordigheid van daardie spesifieke tipe individue. Elke braai, troue en groot kuier sal hierdie individue laat skitter in hulle (ongelukkig) teenwoordigheid. Die arrogante esel – daardie ou wat dink hy kan sê en doen net wat hy wil en elke vrou is bloot op hierdie aarde geplaas om sy lewe te verryk. Die kroegvlieg. Die bejaarde. En die snotsnuiter.

Al hierdie spoggerige kandidate het die gesprekke tussen my en die vrou langs my aansienlik interessanter gemaak. Ons het onsself heerlik uitgelaat oor die gebrek aan potensiaal daarbuite (aan albei kante natuurlik).

Na ’n lang, prettige en eienaardige aand, het ons huiswaarts gekeer. Ek is seker die enigste vrou wat speed dating  gaan bywoon en wegstap ’n vriendin ryker.

Ten minste het ek met iemand se nommer weggestap.

Felicia Snyman se boeke nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2ol8yml

Alles is perfek – Dina Botha

Alles is perfek voorblad_high res

Sondagoggend moet laatslaapoggend vir die Krynauws wees want sy is eerste in die eetkamer. Sy kry vir haarself van die kos in die elektriese warmbakke en dra haar bord op die terras uit. Van die vorige dag se reën is daar nou geen spoor nie. Die lug ruik egter vars en sy neem ’n paar diep asemteue voordat sy by ’n tafeltjie op die terras langs die swembad wil gaan sit. Toe trek iemand in die swembad haar aandag. Nuuskierig loop sy nader net om ’n mansfiguur onder die water te sien. ’n Paar meter verder breek sy kop deur die oppervlak en sy trek haar asem om ander redes in. Simon bereik die ander kant van die swembad, draai om en swem in haar rigting. Sy oorweeg dit om haar ontbyt elders te gaan eet, maar dis te laat. Hy het haar reeds gesien. Hy lig sy hand in ’n groet.

Simon vee sy hare behoorlik uit sy oë, en nat is dit nog langer. Die reguit hare laat hom vreemd lyk, maar nie ’n titseltjie minder aantreklik nie. Hy lig hom uit die water en tel sy handdoek op. Hy droog hom af en met sy oë op haar gerig, loop hy nader terwyl hy sy hare droogvryf.

“Môre, Emma, lekker geslaap?”

Waterstrepies vorm op sy bolyf wat hy pas afgedroog het en toe hy voor haar staan, is sy bolyf met hoendervleis oortrek. Emma sluk swaar en onthou dat hy haar ’n vraag gevra het.

“Baie lekker, dankie.”

Sy manlike tepeltjies is kliphard van die koue en sy wonder of hy daarvan bewus is. Sy borskas beweeg net liggies op en hy hyg nie juis na asem nie. Dit beteken dat hy waarskynlik fiks is. Haar oë bly op sy bors vasgenael waar hy ’n paar borshare drooggevryf het. Haartjies wat nou soos goue draadjies op sy goedgevormde bolyf blink.

“Pasop, jou kos gly van jou bord af,” waarsku hy dringend.

Emma was nie bewus dat haar hele wese in stomheid voor hom staan nie en haar wange word warm. Sy herstel dadelik haar bord na sy oorspronklike horisontale posisie. Sy spartel om haar gedagtes net weer normaal te kry.

“Ek neem aan Lente het ook lekker geslaap. Ek het haar nie een keer hoor huil nie.”

Simon se wenkbroue wip in die lug. Hy is beslis nie bewus van die feit dat sy snags vir Lente kan hoor huil nie, dink Emma. Ook nie dat sy lê en luister tot alles langsaan weer rustig raak nie. Hy weet nie dat sy agterkom hoe Lente se stem verander het nie. Van ’n pasgebore baba se skril geskree het dit in ’n veel sterker stemmetjie ontwikkel.

“Ek is jammer, ek was nie bewus daarvan nie. Moet ek Martie vra om eerder vir jou ’n ander kamer reg te maak?”

“Nee, dis nie nodig nie. Lente se wakker word in die nag pla my glad nie. Het jy vanoggend al geëet?” herinner sy hom aan ontbyt.

“Nee, maar ek wil eers gaan aantrek. As jy hier buite staan, neem ek aan die res slaap nog?”

“Ek het niemand raakgeloop nie.”

Simon kyk na die bord in haar hande. “Jou kos is koud. Hoekom sit jy dit nie iewers neer en wag vir my in die eetkamer nie? Ten minste het ons dan geselskap.”

“Nou goed, dis buitendien ’n bietjie koel buite.”

Simon draai die handdoek om sy heupe en sy nat swembroek, en Emma kyk hoe hy vinnig wegloop. Van agter lyk sy lyf net so aantreklik soos van voor. Hoekom sy ’n diep sug gee voordat sy eetkamer toe loop, weet sy nie. Dalk is dit omdat sy haar vir haar simpel irrasionele gedagtes vervies het. Sy wat nooit in kêrels belanggestel het nie, wat met die eerste man getrou het wat haar uitgevra het, tree soos ’n hormoonbelaaide tienermeisie op. Haar hart bons en haar speeksel droog op net omdat sy teen ’n kaal borskas vasgekyk het. Dis nie of die man wat soos ’n engel lyk, haar ooit interessant of mooi gaan vind nie. Mans wat so mooi is soos hy, kyk na ander mooi mense.

Emma wag langs die tafel vir Simon en toe hy minute later oorkant haar sit, is sy hare droog en ruik hy vars. Sy bruin T-hemp weerkaats in sy oë en sy is weer daarvan oortuig dat daar geen naam vir sy spesifieke kleur irisse is nie.

“Jy het genoem jy hou nie veel van sport nie, maar wat van swem?”

“As jy wil weet of ek darem kan swem, is die antwoord ja. Hoekom vra jy?”

“Kom swem soggens saam met my terwyl die somerweer nog hou.”

“Ek het nie swemklere hier nie. Ek sal moet ry en gaan koop.”

“Dan doen ons dit. Sommer ná ontbyt.”

Emma kan nie onthou dat sy hom by haar stelling ingesluit het nie, maar roer net haar skouers. “Goed, ons kan dit maar doen.”

Augustus: ’n Man vir altyd en ’n Paaiboelie

’N MAN VIR ALTYD – Marilé Cloete

'n man vir altyd_voorblad_high res

Hierdie omnibus is ’n samestelling van drie van Marilé Cloete se vorige Romanzas, Man van min woorde, Man met ’n missie en Man van sy woord.

 Man van min woorde:

Francesca begeer ’n Duitse herdershond, maar Henri van der Merwe dink nie sy’s ’n geskikte baas nie. Sy sál ’n hond kry, besluit sy, maar sy moet verbete keer dat Henri agterkom sy wil hom ook hê.

 Man met ’n missie:

Hy gaan haar nader trek, syne maak. Suutjies, sonder dat sy dit weet. Al is hy ’n haastige man. Maar selfbeheersing, ontdek Lukas Bezuidenhout, is ’n moeilike ding. En ’n harder hardekwas as Mignon kry jy nie.

Man van sy woord:

Ná twintig jaar is Lourens terug om sy regmatige plek in sy dogter se lewe in te neem. Maar wat van Bianca? Kan hy verwag dat sy die seer van die verlede vergeet en nuut begin?

PAAIBOELIE – Chanette Paul

 

Paaiboelie_Highres_voorblad

Skatryk Eduard Swiegelaar is sewe jaar gelede in die teenwoordigheid van sy sexy trofeevrou doodgeskiet. Jojo Richter moet uitvind wat werklik gebeur het.

Die moord op ’n gesiene ou bok, en sy jong blaar se moontlike aandeel daaraan, fassineer Jojo egter minder as die stories oor die weduwee se nuwe blyplek. Soos die storie van die haaslipseuntjie wat op ’n stormnag verdrink het, en sedertdien aan mense verskyn voor hulle sterf of verdwyn.

Wat op Crystal Crags gebeur, bly egter op Crystal Crags en so is dit al die afgelope eeu.

White trash gebore, is Zaan Mentz nou welaf ná haar man se moord. Sy voel uiteindelik veilig toe sy haar droomhuis aan die rand van ʼn misterieuse strandmeer koop – ver weg van haar stiefkinders se giftige dampkring.

Op die Crystal Crags-landgoed het verandering egter nog altyd die ongeluksvoël se ongebore kuikens aan die eiers laat pik en die Duiwelsdriehoek se gramskap gewek.

Terwyl Jojo die gebeure van ʼn enkele oggend ontrafel, dobber die geheime wat vir langer as ʼn honderd jaar verswyg is boontoe en in albei gevalle staan Zaan in die brandpunt.

Wilna Adriaanse: “Chanette beskik oor die vermoë om met baie drade te weef en aan elkeen van haar karakters ʼn unieke stem te gee.”

Ander boeke in die Jojo Richter-reeks … Nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2ux4WTw 

Hendrik Streicher: ’n Enigmatiese man – Dibi Breytenbach

Blank white book w/path

Ons onderhoud vind plaas op ’n snerpende wintersoggend. Ons sit in Hendrik se pynlik netjiese binneshuise skietbaan terwyl terwyl sneeuwolke op die lae koppe rondom Witteberg saampak. Die lang man voor my met sy duur Polartec- baadjie aan se grys oë is gesluierd; sy houding een van beheerste aksie. Hy kies sy woorde met oorleg, asof gesels ’n mynveld is en sy lewe van sy antwoorde afhanklik is. Om inligting uit hom te kry is nie maklik nie.

Hendrik, jy is ’n oud-soldaat…

Eks-burgerlike.

Goed, eks-burgerlike. Kan jy ons vertel van jou militêre agtergrond?

Nee.

Jy was lid van die Spesiale Magte wat destyds deelgeneem het aan oorgrens-operasies … Jy het, om die waarheid te sê, eervolle vermeldings ontvang toe jy ’n kameraad wat deur die Kubane gevange geneem is te voet in Angola gaan red het.

(Sy mondhoek trek-trek effens en ek kan nogal sien wat Amalia in hom sien, want hy is ’n baie aantreklike man.) Sê wie?

Regtig? Ek sê dit nie, maar my gesig moet boekdele spreek. Hendrik besluit my tegemoet te kom.

Ek was ‘’ infanteris wat uiteindelik deel van die Verkennerskorps geraak het. Dis hoe ek in Angola beland het. Na die oorlog het ek maar deel van die militêre kontrakteurswêreld geraak, want dis die wêreld wat ek die beste ken.

 Jou kinderjare?

Ek het op ’n plaas in die Vrystaat saam met my broers grootgeword.

Hoe beland jy toe hier op Witteberg?

(Hy dink diep na.) Ek dink ek het uiteindelik maar genoeg oorlog gemaak, weet jy. Oorlog is ’n jong man se speletjie. Ek het van Irak af teruggekom toe ek eendag hier deurry op ’n road-trip. Dit was in die middel van die somer. Witteberg was so groen dat dit gevoel het dit maak my oë seer.

En toe?

Toe bly ek.

Vertel vir my van Amalia. Waar en hoe het jy haar ontmoet?

In die hof. Ek was ’n ekspert-getuie in ’n roofsaak – ek moes getuig oor antieke vuurwapens wat teruggevind is en sy was die aanklaer.

Amalia is nie popmooi en rietskraal nie.Wat het jou na haar toe aangetrek?

(Die sluiers daal weer oor sy oë) Hê respek. Dis iets tussen my en haar.

Ekskuus, Hendrik. Geen disrespek bedoel nie. Die lesers stel belang.

Haar lag en haar intellek.

Ekskuus?

Amalia kan vreeslik lekker lag, vir goeie dinge en slegte dinge. En sy’s verskriklik slim. Sy’s sekerlik die slimste mens wat ek ken. Daarby is sy geen hulpelose muurblommetjie nie. Sy is vreesloos. Ek dink nie ek sou kon uithou met iemand wat nie na haar self kan omsien nie.

Jy is tog besorg oor haar welstand?

Dit is waar. Amalia se vreesloosheid laat haar in die moeilikheid beland want sy stuit vir geen duiwel nie.

Sy is twee keer met ’n mes gesteek; die eerste keer deur ’n sluipjagter en die tweede keer toe sy beroof is. Hoe het dit jou geaffekteer?

Sluipjagter?

Stalker.

(Hendrik vryf oor sy oë. Hy is ooglopend geroer.)  Ek…ek het elke keer doodgegaan, as ek heeltemal eerlik moet wees. En elke keer weer lewendig geword ook. Ek kan my die lewe sonder Amalia nie indink nie. Die Grieke het mos geglo dat mense eers twee koppe en vier arms en vier bene gehad het en toe deur die Gode in die helfte verdeel en oor die wêreld versprei is. Vir altyd soek jy na jou verlore helfte en jy’s gelukkig as jy dit  kry. Amalia is my ander helfte en ek tel my seëninge elke dag dat ek haar hier op Witteberg gekry het.

Ons sluit ons onderhoud op hierdie noot af. Daar is baie meer wat ek hierdie enigmatiese man wil vra, maar iets sê vir my dat Hendrik nou klaar gepraat het.

Heiliger

Hendrik en Amalia se verhaal begin in Saliger. Koop nou Saliger en Heiliger by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2vBhNls 

Die dokter se rare fobie – Trudy Reinhardt

die dokter se rare fobie voorblad_high res

Voor hulle egter hul bestellings kan plaas, verskyn ’n man met ’n mikrofoon op die verhogie.

“Vanaand het ons ’n verrassing vir ons gaste. Een van ons pas ontdekte plaaslike sangers, ons eie dokter Sean Byrne, het ingestem om ons met ’n paar Ierse liedjies te vermaak.”

Roseanne gaap die man oopmond aan. Sy kan haar ore nie glo nie. “Het jy geweet hy kan sing?” fluister sy in Martie se rigting terwyl Sean Byrne met die gemak van ’n gesoute sanger, kitaar in die hand, van agter die gordyn verskyn.

“Ja,” lag Martie sigbaar ingenome, “ek het hom al by ’n braaigeleentheid gehoor, maar dit was so lank gelede dat ek eintlik al daarvan vergeet het. Dis wonderlik dat hy ingestem het om hier in die openbaar te kom sing en beslis ’n teken dat hy uiteindelik begin regkom.”

“Regkom van wat?” vra Roseanne nuuskierig.

“Sjt,” reageer Martie met ’n wysvinger teen haar mond toe die Ierse dokter met die bekende Strangers in the Night lostrek. Hy het ’n welluidende sexy sangstem wat voel asof dit haar soos sagte swart fluweel omvou.

 

 

Hy kyk telkens met ’n glimlag na die blosende Roseanne wat probeer wegkyk, maar glad nie daarin slaag nie. Haar ore gloei, haar hele liggaam vibreer, sy haal vinnig en vlak asem en op daardie oomblik tref die waarheid haar soos ’n vuishou in die maag:

Sy is besig om verlief te raak op haar tydelike kollega.

Vaagweg is sy daarvan bewus dat Sean nog ’n halfdosyn bekende liedjies sing, maar al wat in haar kop maal, is die lirieke van “Rose of Tralee”. Het hy dit spesiaal vir haar gesing of is dit bloot haar verbeelding? Sou hy dit in elk geval vanaand gesing het, of het hy daarop besluit toe hy haar hier sien? Nee, liewe hemel, Roseanne, betig sy haarself, natuurlik het hy dit nie aan jou opgedra nie. Waarom sou hy? Maar hoekom het hy dan kort-kort so openlik na haar gekyk terwyl hy dit gesing het?

Sy sien hoe hy met ’n glimlag erkenning aan die gehoor se applous gee voor hy die verhogie verlaat.

“Nou ja toe,” sug Martie dramaties, “wat maak ons daarvan?” en kyk met geligte wenkbroue na Roseanne.

“Hy sing mooi,” mompel Roseanne.

“Mooi? Hy het ’n ongelooflike stem. En oë net vir jou,” grinnik sy. “Die roos van Tralee. Oe, dis so romanties. Ek sal wat wou gee dat so ’n aantreklike man in die openbaar vir my sing.”

“Hy het nie vir my gesing nie,” stamel Roseanne. Sy het haar dus nie verbeel nie. “Dis ’n volksliedjie vir die Rose of Tralee-fees. Hy het dit mos verduidelik.”

“Ag, komaan, Roseanne, jy is nou regtig stompsinnig. Hy kon sy oë nie van jou afhou nie. As jy my nie glo nie, kom ek vra die mense by die tafels langsaan wat hulle dink.”

“Moenie laf wees nie!” keer Roseanne verskrik en voel hoe haar gesig nog warmer raak.

“Oukei, oukei,” lag Martie tergend. “Jy kan my maar glo, dokter Marnitz. Ek is bly vir jou onthalwe. En vir Sean. Hy het baie swaar gekry ná Bianca.”

“Bianca? Wie is Bianca?” kan Roseanne nie haar nuuskierigheid langer beteuel nie.

“Sy was . . .” begin Martie toe die kelner langs hulle tafel verskyn.

“My honger het verdwyn,” erken Roseanne. Moes die verdekselse man nou juis op hierdie oomblik met sy pen en notaboekie hier aanmeld om bestellings te neem?

“Wat van ’n klein porsie nachos?” doen die kelner vriendelik aan die hand.

“Ja, goed,” knik Roseanne sonder om te dink wat sy sê. Enigiets solank hy net wegloop sodat Martie haar van Bianca kan vertel. Sy hoef nie nachos of enigiets te eet nie. Haar maag is in elk geval steeds op so ’n knop getrek, sy sal niks by haar mond kan inkry nie.

“Maak dit twee,” voeg Martie by. “Of dalk drie. Laat ons net eers hoor,” sê sy en rol haar oë in die rigting van Sean Byrne wat na hulle tafel aangestap kom. Sy tik uitnodigend op die stoel naaste aan hare. “Wat van iets te ete vir die singende dokter?” vra sy tergend. “Ons het pas nachos bestel.”

“Klink goed, dankie,” antwoord hy terwyl hy langs Martie plaasneem. “Hallo, Roseanne,” groet hy.

Die dokter se rare fobie is nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2vhOlBy

Dans met ’n stiervegter – Trudy Reinhardt

dans-met-n-stiervegter_voorblad-high-res

“Kan ek vir ons kaartjies kry vir Carmen môreaand? Dis ’n heropvoering van Francesca Zambello se oorspronklike stuk met Tanya McCallin se ryk en kleurvolle ontwerpe. Volgens die resensies is dit ’n uitstekende uitbeelding van Spaanse warmbloedigheid en sigeunerpassie,” het hy dubbelsinnig laat hoor. “Ek dink jy sal dit geniet.”

Tahlia moes keer dat haar mond oophang. Waarvan praat hierdie man? Hy rits gereeld name en inligting oor alles en nog wat af asof dit allemanskennis is. Nou word opera boonop by sy oënskynlik wye kennis gevoeg. Natuurlik het sy darem al van Carmen gehoor, maar sy het nog nooit haar voete by enige opera gesit nie. Dit behoort ’n wonderlike ervaring te wees. Ja, sy wil graag gaan.

Die verwysing na Spaanse warmbloedigheid en sigeunerpassie het wel ’n rooi lig iewers dofweg in haar kop laat flikker. Veral oor die stemtoon waarin hy dit kwytgeraak het. Maar dit was ’n liggie wat sy blitsig gedoof het.

Sy weet immers hoe om na haarself te kyk. Sy sal nie in enigiets beland wat sy voor haar siel weet geen kans staan om te oorleef nie. Dis nog steeds bloot vriendskap, behalwe vir dan en wan wat hy op ’n soort van terloopse manier aan haar hand of arm raak.

“Dit klink fantasties,” het sy ingestem. “Ek gaan graag.”

“Jy doen my ’n eer aan, querida.”

Dit het haar weer eens laat wonder waar die prentjie in haar agterkop vandaan gekom het dat stiervegters ru en onafgeronde mansmense is. Is dit oor hulle kragte met bulle meet dat sy bloot aanvaar het hulle is self ook soos ’n bul in ’n glashuis? Nie dat sy ooit voorheen veel oor toreadors gedink het nie, besef sy. Dit was kwalik deel van haar verwysingsraamwerk. Hoe dit ook al sy, enige vorige menings wat sy oor stiervegters gehad het, het Alejandro lankal die nekslag toegedien.

 

“Hallo! Planeet Aarde na mejuffrou O-pe-ra. Ontvang jy my?” ruk Anna-Marie haar terug na die hede. “Ek vra wat gaan jy aantrek?”

“Ek het ook my blou rok in gedagte gehad,” glimlag Tahlia ingenome met Anna-Marie se voorstel oor haar uitrusting vir die aand.

“Alejandro lyk vir my na die tipe wat waarskynlik ’n tuxedo na so ’n okkasie sal dra,” lig Madeleine haar mening. “Dra die blou nommer, dan sal jy nie afsteek nie. My ouma het altyd gesê ‘rather be overdressed than underdressed’.”

“Goed, dan is dit ’n eenparige besluit,” knik Tahlia tevrede.

“Maar voor jy nou gaan opdollie, sê ons tog net, soen hy so lekker as wat ’n mens van daardie yummy lippe sou verwag?” wil Anna-Marie weet.

“Ek . . . ons soen nie.”

“Wát?” gil al twee gelyk.

“Nou wat doen julle? Ek glo jou nie,” skud Madeleine haar kop in ongeloof.

“Nee, rêrig,” bevestig Tahlia blosend, “ons is net vriende. Niks meer nie.”

“Hoe absoluut vervelig,” laat Anna-Marie met ’n suur gesig hoor. “Dis seker jy wat so ’n reël gemaak het. Alejandro lyk beslis nie vir my na die soort man wat platoniese vriendinne nodig het nie. Jy is eintlik so simpel, weet jy dit?”

“Los my uit,” reageer Tahlia voor sy verdwyn om te gaan regmaak vir haar groot aand uit. Ja, erken sy teenoor haarself, sy is simpel. Die hele platoniese gedagte was ’n sotlike voorstel. Wat sou haar besiel het, wonder sy elke keer meer en meer wanneer sy en Alejandro saam is en haar hele wese na aanraking hunker. Sy is die meeste van die tyd in sy teenwoordigheid kompleet soos ’n kat op die spreekwoordelike warm sinkplaat wat dan diékant toe en dan daardie kant toe trap. Hoeveel keer het sy nie reeds haar stoel nader aan syne geskuif en dit dan weer wegbeweeg nie? Of haar hand kamstig terloops op syne gesit om iets te benadruk of aan hom uit te wys? En wat doen hy? Niks. Absoluut niks. Dis besig om haar gek te maak.

Daar is slegs 200 kopieë van Dans met ’n stiervegter oor! Kry nou jou kopie by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2uxCPnA

 

 

Inspirasie: Mense, plekke en langpad ry – Trudy Reinhardt

Liefde is soos  in …

Romantiese fiksie waar twee mense werklik omgee en in mekaar belangstel.

Ek’s niks as dit nie was vir…

Skryf nie. Ek voel ietwat nutteloos en rigtingloos as ek nie met ’n boek of kortverhaal besig is nie.

As ek verveeld is …

Teken ek zentangles of speel rekenaarspeletjies, maar dan moet ek uiters verveeld wees. Gelukkig gebeur dit selde.

Vrede omring my as…

Ek in die Kalahari- of Namibwoestyn is. Die eindelose ruimte en stilte trek in my in en ek wens ek kon daardie gevoel bottel en behou.

desert-1628420_640

Waar wil jy op vakansie gaan?

As Rusland my volgende bestemming kon wees, pak ek vinnig my pers soetkys.

Niks, ek herhaal niks …

Kom tussen my en my oggendkoffie nie. ’n Hele ritueel …

coffee-2306471_640

Wat’s jou gunstelingwoord?

Kardoesie. Nou die dag by ’n tuisnywerheid het ek  tamboesies  gekoop. Is dit nie ’n oulike woord nie? Ek het ook nog ’n paar ander wat ek hard probeer afleer . . .

My trooskos is…

’n Bord vol tuisgebakte tjips wat ek kraakhard in olie braai en met tamatiesous eet. Banting is beslis nie vir my nie.

fast-food-1839052_640

Wie is Trudy Reinhardt as sy van haar skrywerstoel af opstaan?

’n Geselser en uitvraer. Ek hou van mense, van kuier en veral van lag.

Wie is jou gunstelingskrywer?

Ek sal veiligheidshalwe liewer van Afrikaanse skrywers wegbly, hoewel daar werklik uitstekendes is. Tans boei CW Gortner se fiktiewe historiese romans my. So ook die vertaalde boeke van die Spaanse skrywer Carlos Ruiz Zafón – ek het nou twee van Lucia Graves – sy vertaler – se eie boeke bestel.

Wat is die beste raad wat jy oor skryf ontvang het en van wie?

‘Dra altyd ’n notaboek, maak aantekeninge’ – Adri Pillans, destydse fiksieredakteur by rooi rose.

‘Vra uit, luister fyn, mense praat graag’ – Pikkie Wolmarans, my eerste koerantredakteur.

Het jy altyd geweet dat jy ’n skrywer wou word?

Vanaf my 14de lewensjaar toe Morkel van Tonder my eerste verhaaltjie, Die Briefiedraer, oor die radio voorgelees het.

Waarom skryf jy romantiese fiksie?

In Suid-Afrika, soos in vele ander lande, is genoeg aaklighede. Ek wil nie oor moord en geweld skryf nie. Met romantiese fiksie hoop ek dit inspireer lesers om hulle eie verhoudings mooier te maak.

hearts-2384114_640

Wat is jou skryfproses? Het jy ’n vaste roetine of skryf jy organies?

Ek skryf elke dag, dikwels ook ’n paar uur oor naweke, want ek kry skeidingsangs, as ek nie iets op my rekenaar aan die gang het nie.

Waar kry jy inspirasie vandaan?

Mense, plekke en langpad ry.

Watter tyd van die dag skryf jy op jou beste?

Vroegoggend nog voor die hadedas oor die dak is.

Wie is die inspirasie agter Die dokter se rare fobie?

’n Sexy jong hospitaaldokter het my oog gevang toe ek ’n siek familielid gaan besoek het.

Sean is ’n interessante held. Was daar ’n spesifieke persoon of gebeurtenis wat Sean geïnspireer het?

’n Oulike donkerkop man wat op St Francis se kanale verbygeroei en vir my gewaai het.

Jy skryf ook graag kortverhale. Watter genre vind jy die moeilikste?

Ek geniet albei, maar Romanzas is dalk bietjie moeiliker.

Skryf jy baie romantiese kortverhale of beweeg jy weg van die liefde as jy kortverhale skryf?

My kortverhale is selde romanties. Ek verkies om met ander temas te eksperimenteer.

Watter eienskappe is noodsaaklik vir ’n skrywer?

Nuuskierigheid, oftewel belangstelling, in mense en gebeure. En, natuurlik, om te begin, aan te hou en klaar te maak.

Wat was die hoogtepunt in jou skrywersloopbaan so ver?

Elke Romanza wat die lig sien, elke kortverhaal wat in ’n tydskrif verskyn, bly ’n groot lekkerte, maar ek hoop die hoogtepunt lê nog voor.

Die dokter se rare fobie en Dans met ’n stiervegter is nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2u0XDli

Bernadine en die babawagter – Arien Lubbe

Bernadine en die babawagter voorblad_high res

“Jy is belaglik, Bernadine Wolmarans,” raas sy hardop met haarself waar sy in haar motor sit wat in haar oprit geparkeer is. Haar aankope op die sitplek langs haar treiter haar. ’n Bos blomme, biltong en ’n verskeidenheid sjokolades lê en loer vir haar. Eerstens weet sy nie eens van watter sjokolade hy hou nie. Eintlik weet sy nie of hy enigsins van sjokolade hou nie, en toe koop sy maar die biltong. Om vir ’n man blomme te koop voel simpel. Nou sit sy in haar motor en wonder of sy dit vir hom moet gee of nie.

Wel, besluit sy, as hy ’n vrou se werk kan doen, kan hy seker so ’n tipe geskenk ook waardeer. Sy druk twee sjokolades en die biltong in die geskenksak wat sy gekoop het en sit die res in haar handsak. Met die blomme in haar arms haal sy ’n slag diep asem en stap doelgerig die huis binne.

Ben en Michael se stemme kom vanuit die gang en sy stap verbaas soontoe. Sy het eintlik verwag om die twee weer in die tuin aan te tref, maar dit is seker te nat ná die dag se reën. Die twee manne sit plat op die vloer, elkeen met ’n pen in die hand, en besig om op die mure te teken. Dit neem al haar selfbeheersing om Michael nie met die blomme oor die kop te moker nie. Het die man dan nou heeltemal die kluts kwytgeraak?

“Goeiemiddag,” groet sy met stywe lippe.

“Mamma,” glimlag Ben bly en kom gee haar ’n drukkie wat sy liefdevol beantwoord. “Ons teken,” kondig hy tevrede aan.

“O, dit kan Mamma sien,” antwoord sy en boor vir Michael met haar oë. “’n Woord, asseblief,” gebied sy en stap kombuis toe sonder om te kyk of hy haar volg.

In die kombuis moet sy ’n paar keer diep asemhaal om haar humeur in toom te hou, maar dit help nie veel nie. Sy het met goeie voornemens huis toe gekom om verskoning te vra en nou is sy weer soos ’n bul wat rooi gesien het.

“Dankie vir die boodskap,” sê Michael droog toe hy in die kombuis kom.

“En is dit nou ’n manier om my te straf vir my tirade van vanoggend?” vra sy bitsig.

“Waarvan praat jy tog?” vra Michael, duidelik moedeloos.

“Die geteken op die mure, wat anders?” vra sy en gooi haar arms wanhopig in die lug. Om dom te speel gaan hom nie uit hierdie een help nie.

“Dis spesiale penne waarvan die ink afwas. Dis spesiaal gemaak hiervoor,” praat Michael kwaai en staan op om ’n boksie van die toonbank af te tel. “Kyk,” sê hy en druk dit onder haar neus.

“Ek is nie ’n idioot nie, Michael,” antwoord sy sonder om na die verpakking te kyk. “Ek weet wat dit is en waarvoor dit gemaak is. Maar dink ’n bietjie mooi vir jouself, jy leer vir Ben dat dit reg is om op mure te teken. Hy ken nie die verskil tussen ’n afwasbare of permanente pen nie. Oor ’n week kry hy enige pen in die hande en dan kan ek hom nie dissiplineer as hy dwarsdeur die huis daarmee op mure teken nie.”

“Dis seker ook nou nie nodig om so tekere te gaan nie. Ek sal hom die verskil leer,” antwoord Michael geïrriteerd. “Ek sal self die koste dek om die mure oor te verf indien dit ooit sou gebeur.”

“Dis gaan nie oor geld of ongerief nie, dit gaan oor Ben wat moet leer wat reg en verkeerd is.”

“Jy onderdruk sy kreatiwiteit, Bernadine. Kinders moet leer om buite die lyne te leef en te dink,” redeneer hy.

“My heiden, Michael. Ek sê nie my kind mag nie ’n pen in sy hand vashou of mag net die kleur blou gebruik nie. Selfs in die kreatiefste wêrelde is daar riglyne. Om nie op ’n huis se mure te teken nie, is een van die basiese riglyne vir ’n driejarige kind. Plak groot papiere teen die muur en leer hom om op die papier te teken. Moenie woorde in my mond lê en sê ek beperk sy kreatiwiteit nie, maar Ben moet leer dat alles in die lewe riglyne en grense het. Selfs kreatiwiteit,” eindig sy tam. Sy is al so moeg baklei. Baklei vir oorlewing, baklei met Michael, baklei met haarself. “Asseblief, ek wil nie heeltyd baklei nie en ek weet jou bedoelings is goed.”

“Goed, ek sal in die toekoms meer bedag op sulke dinge wees,” antwoord hy.

“Dankie,” sê sy.

“Ek het regtig nie gedink jy sal omgee nie,” verduidelik hy boetvaardig.

“Dis oukei, Michael,” verseker sy hom met ’n flou glimlag. “En jy is reg, ek het seker ook nie nodig om elke keer ’n bohaai oor alles op te skop nie.”

Met ’n sug tel sy die blomme en pakkie op en stoot dit oor die toonbank na hom.

“Hierdie is vir jou om jammer te sê vir my uitbarsting vanoggend.” Sy grawe in haar handsak en haal nog ’n sjokolade uit. “En hierdie een is om jammer te sê vir my vars uitbarsting. Ek weet nie of dit gepas is nie en my tydsberekening is seker heeltemal onvanpas aangesien ons so pas ’n meningsverskil gehad het,” sê sy verleë en voel skielik soos ’n onbeholpe tiener.

“My eerste blomme,” spot hy, maar Bernadine kan sien dat hy net so verleë is soos sy.

“Kom ons hoop dis jou laaste,” spot sy saam om die atmosfeer te suiwer.

“Dankie, en ek aanvaar jou verskoning,” antwoord hy plegtig met ’n lawwe buiging in haar rigting.

“Jy is verspot,” lag sy saggies. “Gaan sit jou blomme in ’n pot, dan maak ek ’n slag kos. Ek dink dis nodig dat ons die rolle so ’n bietjie moet ruil.”

“Beteken dit dat ek met ’n bier voor die televisie mag sit?” vra hy ondeund.

“Dit hang af of jy ’n hemp gaan dra of nie.”

“Net in ’n onderbroek,” lag hy bulderend en stap uit.

 Bernadine en die babawagter beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2u3WV8Y

As jy vir Romanza wil skryf, moet jy sterk wees – Arien Lubbe

Ek onthou die eerste keer wat ek besluit het om ’n Romanza te skryf. My man het vir my ’n laptop gekoop en ek wou al die knoppies druk, toe besluit ek dat ek een gaan skryf. Hoe moeilik kan dit wees, reg?

Soos wat elke ma dink haar kind is die mooiste en oulikste, dink jy jou storie is die beste. Tot jy jou keuringsverslag kry. Daar is fokalisering en anglisismes en riglyne. Jy moet buite die boks dink, maar binne die boks bly. Dit is die eerste knak in jou ego, maar jy trek jou grootmeisie pantie aan en probeer weer … en weer tot jy dit regkry.

Dan kom daardie oproep dat jou manuskrip aanvaar is en die vreugde is so groot dat jy jou oudste kind na LAPA Uitgewers wil vernoem. Wat ’n ongelooflike gevoel. Jy vertel vir almal wat wil hoor en ook nie wil hoor nie. Die dag wat jy jou eerste eksemplaar vashou, is soos om geboorte te skenk. Jy loop oor van dankbaarheid.

Wat jy natuurlik nie verwag nie, is om geboelie te word daaroor. Snedige aanmerkings oor hygromans en liefdesverhale van oral – veral van mense wat nog nooit die moeite gedoen het om een te lees nie. Onmiddellik is jy vies. Daar is ure en nagte se werk in daardie bladsye vasgebind net sodat ’n oningeligte, onsensitiewe siel dit kan afkraak. Dis dan wanneer jy jou rug styf trek en vir hulle ’n vinger wys – dis jou keuse watter vinger jy kies. Wat daarvan as hulle dink dis simpel? Jy weet wat jy ingesit het om daardie boek in jou hande te hê en jy is die een wat die tantième ontvang. Jy het sopas ’n sterker mens geword.

Om alles te kroon, staan die lewe nie stil nie. In my geval het daar ’n laatlam opgedaag. Laat nagte se skryf is vervang deur bottels en doeke. Jou oudste het ’n hokkiewedstryd, daar gaan ’n paar skryfure. Die kerkbasaar soek koeke, daar gaan ’n hele naweek se skryf. Die werk het ’n afsnypunt, jy word siek, die hond eet die kat, jou man verjaar. Alles dinge wat jou skryfure vreet. Tog word jy sterker. Jy slaap minder – of glad nie – om tog net ’n manuskrip te voltooi. Soms is daar tragedie, soos twee maande gelede wat ek ’n voltooide manuskrip verloor het toe my laptop net gebreek het. Dit was trane en ek moes deur die volle rouproses gaan oor die verlore manuskrip wat niemand kon herwin nie. Nie eens die gedagte aan ’n nuwe laptop het my opgebeur nie.

Maar jy is al deur die meule, jy het gegroei en sterk geword. Opgee is nie ’n opsie nie, jy het gepubliseerde boeke as bewys daarvoor. So jy vat jou nuwe laptop en begin oor.

Om ’n Romanza te skryf, is nie vir sussies nie. Is dit dan die moeite werd? Ja, ja en nogmaals ja. Vir al die drama en vasbyt word jy beloon met jou eie boek. Dis nie iets wat elke persoon kan sê nie – veral nie die boelies nie.

 Arien Lubbe se jongste Romanza, Bernadine en die babawagter, is nou beskikbaar by LAPA Uitgewers: http://bit.ly/2u3WV8Y