Elsa Winckler: Perfekte formule

Perfekte formule

Hy hou vinnig stil en spring uit die bakkie. Toe hy hom kom kry, hamer hy teen die voordeur. Sy pluk die deur so vinnig oop dat hy amper inval. Hy keer homself deur aan weerskante van die kosyn vas te hou. Sy’s kaalvoet en het ’n kort, wit rokkie aan met bandjies. Sy slaan eenvoudig sy asem weg.

“Moenie so raas nie, my woonstelmaats slaap al. Wat soek jy hier?” vra Elena in ’n harde fluisterstem.

“Wat soek die vent hier?” kners hy deur sy tande.

Elena kyk verslae na Alex. Haar emosies is in so ’n warboel. Sy wou die aand saam met Henk geniet, sy wou hê daar moet iewers net ’n flikkering wees al is dit dan nou nie ’n volbloed vonk nie. Maar nee, sy moes die gawe ou huis toe stuur net omdat sy die man hier voor haar, nie uit haar gedagtes kon kry nie.

“Ek … ons …” Sy trek haar asem diep in en vou haar arms voor haar. “Ons het gaan uiteet.”

“En?” Alex pers die woord deur stywe lippe. Sy oë … sy oë is donker, vol … Haar asem steek agter in haar keel vas. Vol begeerte. Dieselfde passie wat dreig om haar te oorweldig, lees sy in sy oë.

Elena draai haar rug op hom en stap in die woonstel in. Sy hoor hoe hy die deur toemaak en agter haar aankom. “Dit was lekker. Hy het my huis toe gebring en toe …”

“Ja, en toe?” Alex se mond is op ’n dun strepie getrek.

“Toe soen hy my.”

Alex trek sy asem hoorbaar in. “En?” byt hy uit.

Sy draai terug na hom en gooi haar arms in die lug. “En niks nie. Net mooi niks nie. Is dit wat jy wil hoor? Dat ek met ’n nice, aantreklike ou uit was en ek voel … net mooi niks vir hom nie. Hy het my gesoen …” Haar asem raak vir ’n oomblik weg as sy die skielike woede in Alex oë sien, “maar, dit … ek … voel niks nie. Ek wou … maar hy is … hy is nie jy nie. ” Haar stem breek op ’n snik.

En dan is sy hand in haar hare voordat hy homself kan keer en sy beweeg tot binne in die sirkel van sy arms voordat sy kan wonder daaroor. Dis so maklik, dink sy verwonderd en vou haar arms om sy lyf. Sy pas so maklik in op hierdie presiese plek van sy lyf.

 

Leave a comment