RIDDER JAUN SCHäFER

’n Sagte klop aan die deur verraai dat Jaun hier is. Hy moet ook so saggies klop want geen ander bewoner van haar woonstelblok is hierdie tyd van die oggend al wakker nie. Flippen mansmense en hulle ekstreme sportsoorte. Sy haal diep asem. Die oomblik het aangebreek en ná vandag sal sy nooit weer maak asof sy in iets belangstel om ’n man se aandag te trek nie. Sy, ’n bergfietsryer? Bid jou aan… Nou ja, as jy wil dom wees, moet jy maar swaarkry pops. n Laaste draai in die spieël se rigting bevestig dat sy soos ’n fietsryer lyk – stywe pienk en wit rekbroekie, bypassende hempie en die pienk helm onder haar arm. Sy skuifel klik-klik oor die teëls met die vreemde inklik skoene tot by die voordeur en maak dit vinnig oop voordat sy van plan kan verander.

“Hi, ek sien jy is darem wakker,” sê hy met sy nou-al-bekende skewe glimlag.

My hart is letterlik besig om te smelt, weet sy, maar sy knel net die pienk helm stywer onder haar arm vas en beduie dat hulle moet aanstaltes maak. “Die bergpad wag vir niemand nie, Schäfer, nie eens vir die langste, vriendelikste man op aarde nie.”