Rykie Roux

Rykie Roux het nog altyd geskryf. Eers opstelle op skool, toe artikels vir die tydskrifte waarvoor sy gewerk het en — na die geboorte van haar twee kinders — kortverhale en uiteindelik romanses. Sy het al meer as twintig romanses op haar kerfstok. Sy doen baie navorsing met haar stories, want sy sê as sy die wêreld van haar karakters beter ken, sy makliker skryf. Romanses, sê Rykie, gaan oor mense se diepste behoefte om ten minste een ander mens in die wêreld te hê wat hulle regtig verstaan.

Twee van Rykie se beste boeke is onlangs heruitgegee. Dit is Die Flerrie en die advokaat en Lieflike leuenaar.

Haar nuutste boek, Trofeevrou, is nou beskikbaar. Dit gaan oor ‘n ietwat bedorwe rykmansdogter en kampioen perderuiter, Inez, wat die aantreklike kelner by haar verjaardagpartytjie vir ‘n gas aansien en met hom dans. En hom dan afjak. Maar haar paadjie kruis weer met Wim Meintjies. En dan is die bordjies verhang, want sy is nou die een wat kerkmuisarm is en hy hou haar toekoms in die holte van sy hande.

Naweekbruid, Rykie se boek oor die begaafde en baie sexy argitekstudent, Andreas Steyn, en sy vinnige, geheime troue met sy professor se dogter, Marguerite, is ook nog te koop. Andreas het ‘n verlede en dinge loop lelik skeef as Marguerite al die skinderstories oor haar nuwe bruidegom glo.

Advertisements

30 thoughts on “Rykie Roux

  1. Karin Bosch says:

    Baie Baie dankie vir jou wonderlike skryftalent. So ongelooflik verheug dat ek jou boeke ontdek het. Hoop jy skryf nog jare en jare. Baie groete. Karin Bosch

  2. cecilianortje123 says:

    Rykie

    Jy het ‘n tyd gelede melding gemaak van ‘n vraelys waarop jy afgekom het wat ‘n mens kan help om ‘n karakter te bou. Wil jy hom nie asb op die blog sit of vir my stuur nie? Dankie!

  3. Suzie Combrinck says:

    Dankie vir Onweerstaanbare vreemdeling, ek het dit besonder baie geniet. Ek het ‘n tyd gelede ‘n Mills en Boon-boek gelees wat ook handel oor ‘n vrou wat disleksies is en toe ek van die vreemdeling lees, en dat hy so min van homself dink, het ek daardie ander boek onthou. Jy het baie moed aan die dag gele om so ‘n onderwerp aan te raak en so sensitief daaroor te skryf, dankie daarvoor. Ek sien baie uit na ‘n volgende boek van jou.

    • rykieroux says:

      Dankie, Suzie! Ek sien nou eers jou opmerking. As so ’n super romanse-kenner soos jy van ’n boek hou, is ’n skryfster altyd gevlei!

  4. Gretha Colyn says:

    Rykie… Rykie… – die trofeevrou van “Trofeevrou”

    Soos goeie perderuiters wat wentrofees versamel, versamel jy ook trofees – elke boek wat gepubliseer word, is jou trofee, maar nie net vir jou om bymekaar te maak en ‘uit te stal’ nie, maar ook vir ons om te lees en te geniet. Baie dankie, mag jy nog baie ‘trofees’ versamel. Ek het “Trofeevrou” geniet, dit is ‘n uitstekende verhaal. ‘n Voorblad van die heldin met haar spogperd en/of die held in die agtergrond, sou nogal mooi gewees het.

    Ek het intussen ook “Naweekbruid” gelees. Ek kan jou na dese beskryf as die veelsydige, meesterlike, sensuele, romantiese rooikop Rykie Roux!! Die titel maak dat ek die boek eerste tussen baie sal uitkies – dit klink soos ‘n tipiese Mills en Boon verhaal waarvan ek graag lees, maar dis veel beter. Daar is lekker moderne sensuele(seksuele) opwinding in sonder goedkoop gehyg! WOW!!

    Vanoggend het ek van jou meermin gelees. Dit was weer eens meesterlik, veral die laaste spanningsdeel – uitstekend!! Weet nou hoekom dit “Meermin vir Zander” moet heet. Ek was net so meegevoer met die karakters in die hospitaaldrama, dit het so werklik geraak en deel geword van my dat dit nie soos ‘n storie gevoel het nie. Die einde het ek geweet gaan in daardie rigting draai, maar tog het jy verassende laaste hoofstukke geskryf met ‘n uitstekende storielyn en klimaks, met ‘n einde wat baie empatie en ja, ook trane van meelewing by my gewek het. Jy maak in jou voorwoord melding dat jy die verhaal gebaseer het op ‘n idee wat jy van iemand ontvang het – jy het baie met die idee gedoen! Jou navorsing en al die bykomende inligting waar jou verhaal gebeur, jou karakters se doen en late, waar hul vandaan kom, hoe hul lyk en is, maak jou verhale uniek! Jy verdien ‘n sterretjie, dit was uitstekend!!

    Eilandgroete, Gretha Colyn

  5. cecilia nortje says:

    Rykie!!!!!
    Ek het gisteraand jou Trofeevrou gelees, en vrou, jy verdien ‘n trofee vir daai slaapkamertoneel! Ek het nou nog asma! Fantasties! Jy het dit reggekry om my hormone op hol te jaag by die blote lees daarvan. Jy mág maar.

    PS: Goeie storie ook darem, hoor.

  6. Gretha Colyn says:

    Rykie… Rykie…

    Bitterlik ontsteld is ek nou
    Rykie Roux, ‘n rooikopvrou!
    O wee, is nie Rykie Louw
    wonder ek, waar’s jy nou?

    Rykie, ek soek na jou,
    kan jy my nog onthou –
    Syfers was vir jou;
    Letters vir die trofeevrou!

    Die storie ontvou,
    ek’s vas vir nou.
    Later weer soek ek na jou…
    nou’s dit ek en dié vrou –

    “Trofeevrou…”

    Tot weersiens, Gretha Colyn

  7. Barbara says:

    Hi Rykie, ek het ‘n paar van jou boeke gelees, en ek moet se ek hou van ‘n warm boek, ek kan nie wag vir jou volgende boeke nie.

    Ek het van jou ouer boeke gelees maar stel belang om van jou eerste boeke in die hande te kry, hoe gaan ek te werk?

    • rykieroux says:

      Hallo Barbara! Ek is bly om te hoor dat jy my boeke geniet en ek hoop van harte dat jy sal aanhou om dit te lees. As jy na loot.co.za gaan en my naam intik, sal jy kan sien watter van my ouer boeke nog by hulle beskikbaar is en wat hulle dan vir jou sal kan pos. Sover ek weet het die meeste biblioteke ook van my eerste boeke.

  8. Gretha Colyn says:

    Ek wil graag weet: WIE IS RYKIE ROUX ?

    Ek is geneig om Ena Murruy, Schalkie van Wyk, Chanette Paul, Helene de Kock, Susanna M Lingua, Sarah du Pisani ens. te lees asook Danielle Steele, Sandra Brown en …. wel dan ook Mills en Boons – duidelik meer romanses! Ek soek ook gewoonlik by die biblioteek eerste van die boeke uit wat nog op die rak is om weggepak te word na vorige uitleensessies, die meer gewilde boeke…? Rykie Roux se naam het ‘n klokkie gelui en het ek “Mia se missie” uitgeneem. Heeltyd het ek oor die ‘skrywer/skryfster’ gewonder terwyl ek gelees het, toe onthou dat ek báie lank terug saam met ‘n Rykie Louw gewerk het – sy was uit en uit ‘n syferkundige, kan dit sy wees? Wonder maar.

    Die boek se storielyn het ‘n positiewe indruk op my gemaak, nie net ‘n inleidingshoofstuk met daaropvolgende alledaagse intriges/konflikte/romanses/humor en ‘n redelike voorspelbare slothoofstuk nie – geensins nie! Daarna het ek nog so vier boeke van die persoon gelees en kon ek ‘n kenmerkende skryfstyl opmerk wat my baie beïndruk het. Ek wil die, ek dink ‘skryfster’, graag aanbeveel en sou meer inligting oor vorige en verdere skrywes van ‘haar’ wou nalees om ander boeke ook te kan uitneem/aankoop. Is daar ‘n webwerf waar sodanige inligting verskyn?

    Die een boek se rugkantbeskrywing, dink dit was “Web van betowering”, se heel laaste woorde was “….. soos geskryf deur die meesterlike Rykie Roux….” Min boekbeskrywings haal die skrywer/skryfster aan as meesterlik – dus moet dit ‘n wyse persoon wees wat oor genoegsame lewenservarings en -jare beskik? Die persoon se skryfwyse, soos ek die verhale ervaar het, het my telkens verras. Hiernaas is my beskeie mening, op eie risiko:

    Daar word met ‘n plan geskryf – ‘n slim plan, nie net is die storielyn slim nie, ek word ook slim…

    Ek het al twee ‘mediese verhale’ gelees; nou onlangs “Aarbeie vir Aliz” – wat ‘n titel het ek gedink? Tot vandag sal ek nie weer ‘n aarbei vir ‘n aarbei aansien nie, wat nog te sê van aarbeie proe. Aliz/Alice sal my bybly en bring die hele storielyn bymekaar met heerlike humor en konflikte. Mediese termes en ander aspekte waarvan ek nog nooit gehoor het nie, word in “sleutelposisies” gebruik, inligting daaromtrent is so slim in die storielyn ingeweef dat ek nie eers agterkom ek word ingelig nie. Sou graag skoolhandleidings op so ‘n trant wou hê…. Die storielyn word goed beplan met hoofstukke wat mekaar komplimenteer en saamvoeg waartydens die verhaalinhoud telkens verhef word.

    In die “tango-storie” sou ek sê die ‘skryfster’ kan ook tango, in die mediese stories sou ek sê die ‘skryfster’ ken van medies. “Advokaat en die flerrie” het simpatie, empatie, inlewing, meelewing en selfs ‘n paar trane vir my as leser tot gevolg gehad. “Dis gedoriewaar uit die boonste gestoeltes”, soos oom Oubaas sal sê! Dié advokaat/flerrie-verhaal en ‘n verhaal oor ‘n juwelier “Lieflike Leuenaar” is in een boek gebind met die titel “Net jy” – het dit vreeslik geniet! Sou net wou hê die verhale moes langer aanhou. Wat ek van die skryfster waardeer is die verskeidenheid idees waarop die verkillende manuskripte gebaseer is – sal geniet om die hele reeks tot dusver te kan lees. Vergelykings, metafore en uitdrukkings word baie fyn en skerp gebruik, geniet nou nog die knolletjies in plaas van ….

    Ek kry gewoonlik so ‘n lekkerkry-gevoel wanneer ek lees (sjokolade ingesluit), wens net daar is meer tyd vir hierdie soort lekkerkry van die lewe.

    Rykie Roux, jy kán en jy mag maar! Alle voorspoed vir jou skrywersloopbaan. Na my beskeie mening is jy wél meesterlik en gaan nog groot hoogtepiekes bereik. Welgedaan!

    Gretha Colyn

  9. Mari Roberts says:

    Het lank gewag vir Trofeevrou en regtig bekommerd geraak dat Lapa my boeke vergeet het, maar nou is dit hier en ek lees so lekker daaraan dat ek dit regtig nie wil neersit nie, maar ook bang is dat dit sal end. Jou karakters is eg en die emosie dwing my om saam met hulle te leef. Ek voel en dit is wat ek so geniet van jou boeke! Skryf nog! Asseblief.

  10. Madelie Human says:

    Rykie is ‘n begaafde skrywer wat altyd daarin slaag om my aandag te trek en te hou met haar vindingryke stories. Naweekbruid was een van haar bestes en het behoorlik my tone laat krul. Die seksuele spanning tussen held en heldin hou die leser aan die wonder tot reg aan die einde. Ek sien daarna uit om Rykie se nuwe boek te lees. Hoop my boekpakkie kom sommer gou hierdie maand …

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s