Ridder ALWYN RIEKERT

“Ek is nie een van jou skoolkinders nie, Alwyn!” Stamp sy nou waaragtig haar voet op die grond soos ‘n klein dogtertjie? Dit maak haar net nóg kwater.

“Sjj,” beduie Alwyn met sy wysvinger voor sy lippe. Hy buk totdat hy hurkend agter die wag-‘n-bietjie staan en beduie dat sy dieselfde moet doen.

Die stilte is oorverdowend en sy frons. Wat is nou die probleem? Is hy besig om die gek met haar te skeer? Sy het nie op hierdie ellendige wegbreek-naweek gekom om in die middel van die bos vir dood agtergelaat te word saam met een van die stil-sterk tipes wat nie na ’n woord luister wat sy sê nie. Dit is juis die stil-sterk tipe wat haar hierheen gedryf het

“Sien jy hom?” die klank van sy stem is bloot ’n versinning, so sag praat hy.

Daardie mond sal ’n vrou tot waansin dryf. Wat? Het sy nie haar les geleer nie! Sy raak bewus daarvan dat hy saggies aan haar mou trek. Sy kyk geïrriteerd op. En toe sien sy dit: ’n Reuse grys dier wat soos ’n skim voor hulle verby beweeg. Haar hart klop in haar keel. Loop olifante nie in troppe nie?

“Hy ruik ons nie, ons is aan die regte kant van die wind,” stel Alwyn haar gerus, nie in die minste ongemaklik in die intieme omgewing wat hy met die reus van die bos deel nie.