Sanet se ou probleem

“Ai, my vrou, môre huil jy weer oor jou gewig.” Willem trek die band van sy netjiese donkerblou kamerjas vererg stywer en draai om, terug kamer toe, die oorgewig labrador op sy hakke en die erg oorgewig gemmerkat op dié se hakke.

Sanet kyk hulle ’n oomblik agterna. Willem is die soort man wat elke vrou begeer en dan op die ou end vervelig vind: gelykmatig en betroubaar, tot sterwens toe. Soozie is die soort hond wat sy nooit wou hê nie: ongedissiplineerd, vraatsugtig en lui, maar liefdevol tot versmorens toe. Patti is ’n kat uit die poorte van die warmplek: selfgenoegsaam, verwaand en humeurig by uitstek. En net liefdevol as sy hoop om ’n lekkernytjie los te slaan. Willem en die diere is onlosmaaklik aan mekaar verbonde. As hy die slag tuis is, bly die twee op sy hakke, trap waar hy trap, sit waar hy sit. Aan al drie van hulle is sy onlosmaaklik verbonde, soms teen haar sin, soms met wrewel, maar altyd verbonde.

“Ek huil lankal nie meer by jou oor enigiets nie!” roep sy agter die drie verdwynende rûe aan. Sy behoort môreoggend ’n lekker ent te gaan stap en vir die dag op vloeistof, rou groente en vrugte te leef. Dit sal die skade van die bose haas minstens in haar kop uitkanselleer. Tot op ’n punt het dié tegniek vir haar gewerk, die perfekte kombinasie van boetedoening en ontgiftiging ná ’n dwaling van die smalle weg af tot in die poorte van haar persoonlike swakheid.

Dis net dat sy nie vir stap lus is nie. Stap is nie meer lekker nie. Te veel bewegende dele, te min selfvertroue. En buitendien vas mens nie op jou vyftigste verjaardag nie, veral nie as jy met vriendinne op ’n mooi plek onder eikebome gaan vier nie. Sy is ook nie lus om te verjaar of om haar oor haar huwelik te bekommer of om van hierdie stoel af op te staan en verder te probeer slaap nie. Sy is net lus vir nog ’n Paashaas, dis al.

“Sanet.”

Sy wip soos sy skrik, sy het hom nie hoor terugkom nie. Onvermydelik wag die kat en die hond geduldig in die agterhoede. Deesdae voel dit permanent of daar ses oë op haar gerig is, ses oë wat al haar swak plekke raaksien. Dis nou wanneer Willem hom die slag verwerdig om huis toe te kom, wanneer hy nie by die werk is of by die meisiekind met die kleintjie nie. Soms wonder sy of die kind ooit die grote Coenraad Beyers s’n is en nie dalk dié van sy getroue prokureur nie.

Ouer vriendinne gee so hoog op oor die toenemende gevoel van bevryding wat elke dekade veronderstel is om te bring. Jy is veronderstel om vrede met jouself te hê, minder om te gee wat ander dink, sterker in jouself te word. Aangesien die veertigs haar helaas nie van ’n enkele van haar inhibisies bevry het nie, moet sy dalk maar begin oefen vir die vyftigs. Sy sal sommer begin deur vir ’n verandering van die heup af te skiet. “Is jy seker die kind is nie dalk joune nie, Willem?” Sy skuif die stoel agteruit en lig haar lyf met moeite uit die vertroude warmte. Dit het vroeg begin koud word vanjaar, die kilte slaan op uit die teëls. Of dalk is die koue meer in haar kop en hart as in haar lyf.

Vir haar bring woorde warmte, sy is ’n ongeneeslike prater. As sy met haar man baklei, praat hy ten minste met haar. Nie dat dit ooit ’n maklike taak was om Willem Smit aan die praat of aan die baklei te kry nie. Deesdae is dit egter ’n onbegonne taak. Die laaste tyd is dit asof hy finaal in sy eie kop in verdwyn het. Net die lyf bly nog by haar, die mooi, sportiewe lyf waaraan hy meer aandag gee as aan sy vrou.

Koop nou Net ’n mens hier (Onthou Romanza-klublede kry 30% afslag!): http://bit.ly/2bBxe5k

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s