Geur van vergifnis

Geur van vergifnis is ‘n opvolg van Geur van genade en vertel die onwaarskynlike liefdesverhaal van twee van die newekarakters daaruit. Die boek verskyn as alles goed verloop, in April 2011.
En nee, ek gaan nie sê watter twee karakters se storie dit is nie! Ek kan wel sê dat hul eg-menslik is met volop foute en flaters – en dat hul leer om hulself en mekaar daardie foute en flaters te vergeef.

4 thoughts on “Geur van vergifnis

  1. Madelie Human says:

    Alta het gevra dat ek vir haar ‘n regte, egte resensie skryf. Hier is dit:

    Geur van Vergifnis:

    Vanaf die eerste paragraaf is die leser op ‘n reis saam met die hoofkarakters in hierdie verhaal waarmee die skrywer duidelik weet waarheen sy op pad is.
    Mariaan, die een met die groen vingers, steek haar onbeantwoorde liefde vir die gladdebek rokjagter al so lank onder ’n growwe uiterlike en kru taalgebruik weg, dat sy self soms wonder of dit nog daar is.
    ’n Jaar na sy ongeluk, wat hom in ‘n verbitterde parapleeg verander het, het Marius F. Jansen, eens aantreklike, dinamiese Afrikaanse dosent en skrywer van letterkundige werke, al wat ’n mens is soos los blare in die wind van hom af weggedryf. Net Mariaan bly oor – Mariaan met haar mannetjiesagtige klere en houding, haar sigarette, haar katte en haar bier – die een wat geen genade vir hom het nie, wat hom boelie en uiteindelik ook uit die nes skop om self te sien kom klaar. Hom dwing om selfversorgend te word, al die dinge toe te pas wat hy so onwillig by die rehabilitasiesentrum geleer het.
    In die verlede het hy vroue gebruik, hulle sagtheid en oorgawe uit hulle uitgesuig en hulle dan weggesmyt. Agter hom lê vroueharte en verwoeste lewens letterlik gesaai en nou kyk mense na hom met bejammering – die laaste ding wat hy soek. Op haar reguit manier vertel Mariaan hom sy’s klaar gesukkel met hom, dis tyd dat hy sy gat in rat kry. Sy versaak hom egter nie heeltemal nie, waak op ’n afstand oor hom d.m.v. Katie, wat drie dae per week sy huis aan kant maak.
    By hul vriendin, Lana, se troue waar hulle noodgedwonge saamgegooi word, word Marius bewus van Mariaan as vrou. Sien hy vir die eerste keer haar sagtheid raak. Uiters bewus van die weerloosheid en die onvermoë van sy geknakte liggaam, dink hy vir die heel eerste maal in sy lewe aan die behoeftes van die vrou in sy arms toe hy haar byna smeek om by hom te kom lê.
    Amanda, jonk en pragtig, een van Marius se vorige slagoffers, besluit dat haar seuntjie deel van sy pa se lewe moet wees en sy en Mariaan bewimpel dit so dat klein Herman drie dae per week saam met die moederlike Katie by Marius se huis deurbring. Wonder bo wonder kruip die seuntjie in sy gekneusde hart en ontwikkel daar ’n mooi verhouding tussen pa en seun. Marius gee sy eerste wankelende treë op die pad na werklike herstel.
    Mariaan kan egter nie die man, wat sy al so lank liefhet, se toenadering heeltemal vertrou nie. Daarvoor ken sy hom te goed en is sy nog te kwaad vir hom oor alles wat hy haar enigste en beste vriendin alles aangedoen het. Hy neem haar uit en koop vir haar ’n pragtige geskenk, maar sy verhard haar hart en weier om te glo dat hy so totaal kon verander.
    Op meesterlike wyse neem die skrywer haar lesers saam met die karakters deur ’n proses van leer om hulleself en mekaar te vergewe en te aanvaar soos hulle is. Die tema van vergifnis duik telkens op en koers soos ’n goue draadjie deur die hele verhaal. Die reuk van ’n gekneusde suurlemoenblaartjie word die geur van vergifnis wat die karakters lei om hulleself en ware liefde te vind. ’n Gesonde, jong suurlemoenboompie, word die simbool daarvan.
    Dis moontlik dat die voortdurende opduik van die suurlemoene, suurlemoentee, suurlemoenblare, suurlemoenboompies en die verwysing daarna vir die lesers net ’n tikkie oordoen kan raak. Net ’n klein bietjie minder daarvan sou dalk meer effektief gewees het.
    Die meer sentimentele lesers sou miskien ook graag wou sien dat Mariaan ’n hegter band moes smee met die kleine Herman, veral aangesien sy na haar histerektomie en die kom en gaan van haar veertigste verjaardag moes afsien van die moontlikheid om haar eie kinders te kon hê.
    As geheel is die tema met diepe insig en opregte deernis gehanteer. Op haar kenmerkende pront Afrikaans, deurspek met genoeg Engelse woorde en uitdrukkings, skryf Alta ons taal soos ons dit praat, soos ons dit ken, oor mense en hulle geite wat die lewe so interessant maak. Hierdie boek sal ’n ereplek op my boekrak langs Alta se ander werk kry en ek sien uit na die opvolg!

  2. Magdaleen Walters says:

    Ek het Geur van Genade gelees en veral jou beskrywings van die natuuragtergrond van daardie uitsonderlike deel van ons land waardeer. Ek het gedink dis meesterlik gedoen. Ek wag op Geur van Vergifnes. Het natuurlik ‘n sterk spesmaas watter twee karakters jy gaan gebruik, of dalk moet ek sê dat ek weet watter twee karakters ék sou gebruik het as ek ‘n opvolg moes skryf, maar ek sal geduldig tot Maart-maand wag om te sien of ek toe reg was. As ek reg is met my raaiskoot, gaan die verhaal weer in daardie mooie wêreld afspeel…
    Groetnis, Magdaleen Walters

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s