Annetjie gesels oor haar werk en lewe

1. Wat is jou gunsteling boek?

Dis nie maklik om net een boek uit te sonder nie, want ek het ’n paar gunstelinge, wat ek graag herlees.

1. Irma Joubert se Verbode Drif, wat oorspronklik as Romanza uitgegee is, is een van die gunstelinge omdat Elizabeth en Izak sulke wonderlike karakters is en die konflik juis in hulle verskille gesetel is. Dan is die oorbrugging van hulle probleme aan die einde so verrassend dat dit die boek, na my mening, uit die genrefiksie lig na die van algemene roman. Die newekarakter, Hansie wat starag is, speel ’n aangrypende rol as tussenganger tussen die held en heldin.

2. André P Brink se Bidsprinkaan, omdat Kupido Kakkerlak met soveel deernis geteken word.

3. Die volgende boeke is ook ou gunstelinge:

The  Alchemist van Paulo Coelho en East of Eden van John Steinbeck.

2. Gunsteling skrywer:

Karel Schoeman. Sy meesterlike hantering van taal en sinskonstruksie. Sy vermoë om beeldend te skryf sodat mens as’t ware verskillende lae oormekaar kry, soos ’n film waarvan die raampies oormekaar lê.

Eleanore Baker. Sy het die hart van ’n vrou verstaan.

3. Rolmodel wat jou skryfwerk betref:

Chanette Paul. Die toewyding waarmee sy skryf, haar liefde vir haar ambag en haar eerlikheid oor haar werk en lewe. Haar groothartigheid om elke ander skrywer ’n plekkie in die son te gun. Haar sagte aanslag op haar medemens.

4. Gunsteling aanhaling:

“Elkeen het ’n paadjie vol dubbeltjiedorings, maar jy is God se kalfie.” Die uur van verlange, W.A. de Klerk. Dit was my voorgeskrewe boek in Graad 11 en ek moes die aanhaling vir eksamen leer, maar dit bly my nog al die jare by.

5. Wanneer het jy begin skryf?

In Graad 4 moes ons ’n dialoog skryf en my juffrou het met myne by al die ander onderwysers gaan spog. In Graad 6 het Charlotte Koch, ook ’n skrywer, vir ’n kwartaal by ons skool kom aflos en kon ek onder haar leiding skoolgaan. My opstelle het toe natuurlik al beter geraak. Al die jare my stories in ’n laai gebêre.

In 1998 het ek ’n landswye skryfkompetisie, wat deur die Klerksdorp Rekord geloods was, gewen met die gedig Leonardo da Vinci, en kon daarmee die ATKV Skryfskool op Potchefstroom gratis bywoon. Ook in 1998 wen ek ’n kortverhaalwedstryd van die Bloemfonteinse Skywersvereniging. Die prys was ’n werkswinkel deur Jan Scholtz in draaiboekskryf.

In 1999 wen ek weer die Klerksdorp Rekord kompetisie met ’n futuristiese kortverhaal, Rooi Tulpe, kon weer die Skryfskool op Potchefstroom gratis bywoon.

Ek het verskillende genres aangepak en geniet die skryf van Romanza baie.

6. Wanneer skryf jy?

Ek is ’n afgetredene en kan gelukkig elke dag skryf. Meestal soggens en soms vir so ’n uur of meer in die middae.

7. Waar kry jy jou inspirasie?

My eie lewe en die mense rondom my. Mooi plekke waar ek kom. Foto’s, tydskrifte, koerante, mooi rolprente.

8. Watter boek is op jou bedkassie?

Op die oomblik Fees van die ongenooides, van P.G. du Plessis. Uitstekende narratief. Afstand en verbintenis, Ena Jansen, ’n Biografie oor Elizabeth Eybers.

Beskermengel vir Marlene, Irma Joubert, Romanza

9. Wat is jou gunsteling deel van skryf?

Om na al die vooraf beplanning en navorsing uiteindelik te gaan sit en skryf. Om die eerste paragraaf te skryf, asook die slot.

10. Die slegste deel van skryf?

Onderbrekings. Omstandighede, siekte en ander ernstige gebeure noodsaak soms dat ’n storie met tussenposes geskryf moet word. Dan moet ek my karakters weer van vooraf leer ken.

11. Wat is noodsaaklik op jou lessenaar (behalwe jou rekenaar) om lekker te kan skryf?

My beplanning, woordeboeke, aantekeningboek, pen, potlood en uitveër. Kort-kort ’n lekker koppie tee.

12. Wat is jou gunsteling woord?

Terloops

13. Wat is die belangrikste les oor skryfkuns wat jy geleer het?

Afgeval en seergekry, opgeklim en weer gery. Sit op jou  asjas en hou aan skryf. Daar is altyd ruimte vir verbetering.

14. Waar skryf jy?

Ek is ’n nomadiese skrywer. Soms in die studeerkamer, ander kere in my slaapkamer.

15. Wie is jou gunsteling van al jou karakters?

Lisa in Liefdesgety, destydse President-Boekklub. Haar klein Erik is deur ’n fratsgolf van ’n rots afgeslaan toe hy saam met sy pa, Herman, gaan hengel het. Hy het verdrink. Sy het Herman beskuldig dat hy nie behoorlik na die kind gekyk het nie en hulle is geskei. Dit het haar verbitterd teen die kerk en godsdiens gelaat. Haar terugreis na genesing, uiteindelike terugvind van haar geloof en ook versoening met Herman toe sy hom eindelik kon vergewe, laat haar sterker aan die einde van die boek. Sy het as karakter baie ontwikkel.

16. Wat is daardie een spesifieke faktor wat ’n held moet hê om jou hart te steel?

Integriteit.

17. Watter eienskappe het jou ideale heldin?

Sy moet haarself baie ferm, dog vroulik, in moeilike situasies kan handhaaf. Sy moet toegewyd wees in haar beroep, maar nogtans tyd maak vir die mense vir wie sy omgee. Sy hoef nie volmaak te wees nie.

Algemene vrae:

1. Wat is die heel lekkerste lekker in jou lewe?

Om al my kinders en kleinkinders aan my etenstafel te hê. Ek het ’n reuse tafel.

2. En die heel slegste?

As ek en my man oor Kersfees alleen is. Dit het al gebeur.

3. Gunsteling plek om te besoek?

Enige kunsgalery of boekwinkel.

4.Wat haat jy?

Die skok as die warmwater opraak terwyl ek stort en ’n straal koue water my tref. Veral in die winter.

5. Heel lekkerste kos?

Pannekoek op ’n reëndag.

6. Jou grootste fiemies:

Wonder altyd of die kelners in die restaurante hul hande gewas het. Eet nie graag uit nie.

7. Waarvoor is jy bang?

Hoogtes en engtes.

8. Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Lees, kyk ’n mooi film, skilder of skets, kuier in die tuin.

9. Gunsteling fliek:

As it is in Heaven.

10. Speel jy enige musiekinstrumente?

Speel klavier vir my eie genot. Kan darem bladlees.

11. Daar is vrede in my siel wanneer …

My siel sing gewoonlik by die aanskoue van ’n asemrowende natuurtoneel.

12. Hoeveel keer het jy al jou selfoon gebreek of verloor?

Nog nooit.

13. Waarheen gaan jy as jy alleen wil wees?

Stap in die tuin, veral teen sononder. Ons kompleks het ’n pragtige groot tuin.

14. Mense terg my altyd oor …

ek gedurig dagdroom en dan nie altyd hoor wat mense vir my sê nie.

15. Wat eet jy as jy trooskos nodig het?

’n Lekker koppie tee troos altoos.

16. As jy enige plek op aarde kon kies, waar sou jy graag wou woon?

Iewers in die Boland waar daar mooi berge is, of by die see.

17. Enige rolmodelle?

My oorlede ma was en is steeds ’n rolmodel. Haar leuse was altyd ‘wat jou hand vind om te doen, doen dit met haas.’

Oorlede prof. Elize Botha was ook een oor haar sterk persoonlikheid en liefde vir die Afrikaanse taal. Sy kon dit regkry om haar persoonlike lewe uit die kalklig te hou.

Riana Scheepers, wat haar talente so onder die minderbevoorregtes inploeg.

18. Geheime ambisie?

Seker nie ’n geheim nie. Ek dink elke skrywer droom daarvan om ’n groot treffer te kan skryf.

19. Jou leuse in die lewe:

Aanhouer wen.

20. Hou jy van kook?

Nee. Ek doen dit al vir 45 jaar elke dag. Dis ’n werk, nie ’n passie nie.

21. Gunsteling gereg?

Blomkool met witsous.

22. Enige (publiseerbare!) geheime fantasie?

Om my man te kan kloon. Dan kan die een ‘hy’ maar lekker slaap terwyl die ander een my rug krap waar ek nie die jeukplekke kan bykom nie J

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s