’n Debat wat altyd wag om te gebeur – Felicia Snyman

Gewoonlik verwys mense na Maart as ‘Maartmaand is baardmaand’. Hierdie jaar voel dit vir my asof dit eerder benoem moet word as ‘Maartmaand is vlugvaartmaand’. Ons is tans in merktyd (ek sien sommer die simpatie van elke persoon wat al gemerk het).

Met die gedagte in my kop het ek en een van my vriende onlangs ’n kursus om beoordelaars by debatte te wees bygewoon. Dit klink nou soos die vreemdste idee op aarde, maar vir ons was dit wragtigwaar ontvlugting.

Maar, kyk, ’n debat is vir ’n prokureur soos ’n rooipen vir ’n onderwyser. Dit is ’n onvermydelike uitnodiging om iemand anders se wanpersepsie van hulle sukses vol gate te skiet. ’n Debat wat altyd wag om te gebeur maar nooit uitgepraat word nie, is om vanaf die huis te werk.

Ek hoor dikwels van mense wat vanaf die huis werk. Die ander 8-tot-5-arbeiders is dan al te ontevrede oor die stand van sake. Die persoon wat van die huis af werk is dan “so gelukkig”. Ek beleef tans beide kante van die muntstuk. Drie dae ’n week mag ons tuis merk. Twee dae van die week moet ons by die werkplek wees.

Die vraag is: wat is die beste? Om van die huis af te werk of om by ’n werkplek te werk.

Daar is natuurlik ’n teen- en vir-argument en ek gaan vertel hoe ervaar ek die twee verskillende milieu.

Kom ons begin met al die aangename dinge…

Tuiswerker: Mens kan in jou slaapklere of selfs daardie ou sweetpakbroek, met die bokknieë rondwandel – die hele dag! Niemand steur jou met hulle geneul oor die hoeveelheid werk wat hulle ook moet doen nie. Daar is rus en vrede in jou ore. Die werk gaan vinniger, siende dat daar nie onnodige onderbrekings is nie. Jy is in die gemak en veiligheid van jou eie huis. Jy kan op jou bed gaan lê, voor die televisie uitstrek of saam jou viervoete kwaliteittyd spandeer. Drink en eet wat jy wil, wanneer jy wil, hoe jy wil. Die tyd is joune om na goeddunke aan te wend. In ‘n neutedop – totale vryheid.

Perseelwerker: Daar is struktuur. Mense om mee te gesels. Indien jy vasbrand is daar iemand slegs ‘n armlengte ver om ‘n helpende hand te bied. Die ure is vas en gevolglik moet jy op jou alie sit en die werk vir die dag afhandel. Gratis wi-fi en elektrisiteit. Gratis tee en koffie (nie gratis vir die werkgewer nie, maar nou ja). O, en soms lekkernye. Goeie fasiliteite, dienste en toegang tot verskeie platforms. Jou kennis word deur ander mense se insette verbreed. En meeste van die werk bly by die werk.

Negatiewe aspekte…

Tuiswerker: Totale vryheid. Ja, ek herhaal die aangename punt. Totale vryheid is soos ‘n meulsteen om jou nek. Hoe so? Selfbeheersing sit en staar vir jou by die huis soos ‘n kwaai toesighouer tydens ‘n eksamen. Jou bure besluit opeens dat hulle ‘n splinternuwe huis ryker moet word en kap elke teël in die huis af. Jy isoleer jouself. As jy nie werk nie, kry jy nie geld nie. Jy het nêrens om heen te gaan as die werk jou onderkry nie. En almal skakel skielik met ‘n takie waarmee jy jouself kan besig hou, want “jy is dan by die huis”. En het ek al genoem dat my hond dit as ‘n absolute straf sien om my heeldag onder sy voete te hê? Ek onderbreek immers sy welverdiende slaaptyd.

dav

Perseelwerker: Strukture. Mense wat jou wil beheer, in plaas van lei. Eindelose prosesse en verwagtinge. Onderbrekings, vergaderings, tuindienste en stofsuiers. Jy spandeer meer tyd by die werkplek as op enige ander plek en indien dit ‘n negatiewe omgewing is, vloei dit oor in alle aspekte van jou lewe. Maandae voel soos die oordeelsdag wat te vroeg gekom het. Vrydae is te ver en naweke is te kort.

Onthou net een ding: as jy by die huis werk is jy jou eie baas en kan nooit van daardie onaangename skepsel af wegkom nie. As jy by ‘n werkplek werk kan jy daardie persoon waarvan jy nie so verskriklik baie hou nie, by die werk los.

Felicia se jongste twee Romanzas, Bosveldliefde en Leila se leeuman is nou beskikbaar: http://bit.ly/2ol8yml

Advertisements

Held in ’n Oorpak – Madelie Human

held-in-n-oorpak_voorblad_high-res

“Hei, Zack. Van wanneer af koop jy pienk sticky notes en gekleurde paper clips? Ek dog dan jy werk met hamers en beitels?” Hanno kom met ’n inkoopmandjie oor die arm om die winkelrak en loer nuuskierig in Zack se trollie.

Zack verkyk hom aan sy vriend wat uitgevat is of hy na ’n modefunksie op pad is. Hanno is soos ’n vroumens oor mooi klere, maar hy aanvaar hom so. Hy weet wat hy aan hom het. “Moenie jy nog vra nie. Die bekwame galerybestuurder wat jy so gaaf was om vir my aan te dra, het my op hierdie missie gestuur – skryfbehoeftes vir haar kantoor. Jy moet dit sien. Sy het antieke kantoormeubels wat die laaste ambassadeur glo uitgegooi het in die buitekamers uitgekrap, dit skoon geskrop en vir haar ’n spoggerige kantoor ingerig met kunswerke teen die mure op die koop toe.”

“Dit klink soos onse Emma. En hoe gaan dit tussen julle tweetjies daar in jou mansion? Kom julle darem oor die weg?”

“Haar bekwaamheid verbaas my nogal, maar sy self is vir my ’n raaisel.”

Hanno rol sy oë. “Don’t even try, my friend. Hulle sê mos die boek oor hoe om vroumense te verstaan, is so dik soos ’n baksteen. Sy is eintlik ’n engel, maar die manual vir daai ene bestaan nie.”

“Hoe lank ken jy haar al?”

Hanno verskuif sy mandjie na sy ander arm. “H’m, seker so sewe of agt jaar. Sy het eendag daar by die restaurant kom werk soek toe sy nog ’n student was. Brandarm en doodhonger. Maar sy kan werk soos ’n esel. Sy het haarself deur die universiteit gekry sonder enige hulp van haar ouers. Maar oor hulle praat sy nie juis nie. Haar pa is glo ’n kwaai drinker en die ma heel afwesig, maar dis al wat ek weet. Emma het ná matriek letterlik weggeloop van die huis af om kuns te kom swot en nooit weer teruggegaan nie. Daar is glo nog ’n sussie by die huis, maar van haar weet ek nie veel nie. Solank jy nie persoonlike vrae vra nie, is als oukei. Ask no questions and hear no lies.”

“Ek wonder maar net.”

“Gedink sy sal jou tickle. Die oomblik wat ’n mens uitvra, kom haar dorings uit. Prickly pears kan maar laat staan teen haar.”

“Jip. Sannetjie-raak-my-tog-nie-aan-nie. Miskien kan ek tog . . .”

Hanno keer vinnig. “Los uit. Laat staan gerus maar. Jy sal nie naby haar kom nie, al probeer jy. Ek het lankal moed opgegee met daai ene.”

“Oukei, as jy so sê. Kom jy ’n bietjie oefen vanaand? Ek is skoon styf van op lere klim. Ek moet eenvoudig ’n slag die handskoene aansit en litte losmaak. Ek het vir ons ’n lekker oefenvertrek in een van die buitekamers ingerig, kompleet met slaansak en als.”

Hanno lek sy lippe af, vee denkbeeldige nattigheid uit sy mondhoeke uit en bestudeer sy goedversorgde naels dan krities. “Dit klink soos ’n definitiewe date, maar dit sal laterig moet wees, want ons het baie bookings vir aandete. Nie voor elfuur nie.”

Zack wonder hoeveel duisende kere hy al hierdie kenmerkende gebaar van sy vriend gesien het. Nadat hulle mekaar op skool leer ken het daardie dag toe hy die boelies opgeneuk het oor hulle Hanno ’n moffie genoem het, het hy vir Hanno leer boks om homself te kan verdedig en al stel Hanno nie in die sport belang nie, oefen hulle gereeld saam om fiks te bly. “Dis oukei, ek sal maar daar wees. My nuwe assistent het vir my kantoorwerk uitgedink wat my tot ounag besig sal hou.”

Hanno lag. “Kantoorwerk? Jy?”

“Jip. Ek moet ’n begroting vir die galery opstel en jy weet ek en boekwerk is nie maters nie.”

“Miskien kan ek jou help.”

“Nee wat, ek sal seker maar moet regkom, dankie. Ek het ’n kwaai genoeg baas.”

“H’m. Dit lyk of onse Emma jou sal kan hanteer. Sy kan ’n regte bossy boots wees.”

Zack frons. “En wie se skuld is dit dat ek nou na ’n vroumens se pype moet dans?”

“Komaan, ou grote, jy doen niks wat jy nie wil doen nie en jy weet dit. Jy kon dit nie weerstaan om die damsel in distress te help nie. Die oomblik toe jy hoor sy gaan uit haar woonstel geskop word, toe val jy daarvoor.” Zack kan sommer sien Hanno kry baie lekker.

“Sy is allesbehalwe hulpbehoewend as sy van agter haar groot lessenaar instruksies uitdeel asof dit eintlik ek is wat vir haar werk, hoor jy vir my.”

“Ha-ha. Ek kan haar dit sien doen. Have fun, my maat van yster en plaat. Sien jou vanaand.” Met ’n wuif van sy vingers stap Hanno na die ry kasregisters toe.

Zack sug en bestudeer sy inkopielysie beswaard. Volgende keer kan sy haar eie inkopies doen. Genade, hier is hy in die middel van die week in die winkels soos ’n wafferse huisvroutjie met ’n inkopietrollie op sleeptou. Dit kan nie so werk nie. Hy het baie beter dinge om te doen. Jip. Hy sal sommer vandag nog by die bank gaan reël dat sy ’n debietkaart van die galery se rekening kry. Die inkopies is van nou af haar werk. Sy soek mos gedurig iets om te doen.

Held in ’n oorpak nou beskikbaar: http://bit.ly/2n0SDIV

 

Zack: Held in ’n Oorpak – Madelie Human

’n Man wat in ’n oorpak werk, is nie noodwendig ’n motorwerktuigkundige of ’n arbeider van die een of ander aard nie. Zack Bouwer is ’n beeldhouer van formaat.

Wat was jou inspirasie vir Zack?

Ek het ’n groot bewondering vir die werk van ’n beeldhouer van South Dakota, John Lopez.

Hy gebruik ou plaasimplemente om beelde van te bou. Hy maak die ongelooflikste beelde van diere met die fynste detail. Lesers kan gerus gaan kyk na sy werke:  http://www.wideopencountry.com/extraordinary-sculptures-made-farm-tools-will-blow-mind-pics/

Wat het Zack laat besluit om sulke beelde te maak?

Hy moes ’n werkstuk doen vir kuns vir sy matriekeksamen en toe besluit hy om van die ou plaasimplemente op sy pa se plaas te gebruik daarvoor. Dit was ’n reuse sukses en Zack was hooked. Dis wat hy met sy lewe wou doen.

Zack se pa wou gehad het hy moes gaan boer. Hoekom het hy nie?

Zack is net so koppig soos sy pa. Hy wou liewer kuns gaan swot en hy moes sy ma se hulp inroep om sy pa uiteindelik te oortuig.

Hoekom begin Zack ’n kunsgalery?

Toe hy ’n jong kunstenaar was, moes hy baie hard werk en sukkel om naam te maak vir homself. Hy wil graag jong kunstenaars help, daarom hou hy uitstallings vir jong, onbekende kunstenaars.

Hoe het dit gekom dat Emma hom met sy kunsgalery help?

Sy vriend Hanno het ’n baie sagte hart en dra alewig af-vlerk voëls en weggooibrakke aan wat Zack dan moet versorg. Hierdie keer is dit Emma wat werkloos en haweloos is en Zack is nie beïndruk nie!

Hoe het jy vir Zack en Emma gevisualiseer terwyl jy hul storie geskryf het?

Ek kies altyd foto’s van filmsterre of ander mense op die internet wat lyk soos ek die karakters vir myself voorstel:

 

 

Hoe sal Zack vir Emma beskryf?

’n Weird enetjie wat ek nie op straat twee maal na sou kyk nie, maar toe ek eers dieper kyk, sien ek haar unieke skoonheid raak. Sy doen dinge aan my. Ek wil nie trou nie, maar nou begin ek wonder …

Hoe sal Emma vir Zack beskryf?

’n Brombeer wat my duidelik nie onder sy dak wil hê nie. Maar toe kom ek agter hy kyk na my. Ek bedoel nou – regtig kyk! Dit maak my knieë lam. Ek vertrou mans nie maklik nie, maar Zack is miskien anders …

Hoe visualiseer jy die galery waar hulle woon en hoekom het jy dit gekies?  

Dis ’n ou ambassadeurswoning in Arcadia, Pretoria. Daardie ou ambassades in Arcadia is vir my pragtig.

ampa

Held in ’n oorpak nou beskikbaar: http://bit.ly/2n0SDIV

Angelique en die boekanier – Dina Botha

angelique-en-die-boekanier

“Ek het gedink dat Juffrou dalk vanoggend sal wil ry.”

Angelique lag. Soms dink sy Gaston ken haar beter as haar eie huismense. Hy is die enigste een wat verstaan as sy skielik ’n gier kry om Rosie uit die nedersetting te neem en met haar op die vlakte net agter die Kasteel te gaan ry. Dan onthou sy skielik iets anders – iets wat sy geruime tyd al wil doen.

“Saal haar solank op, ek wil net iets in my kamer gaan haal.”

Dit duur nie lank om te kry waarna sy soek nie. Sy haal twee rokke uit haar kas – ’n ligbloue en ’n grys katoenrok. Sy bondel hulle ineen en stap daarmee by ’n verbaasde Graatjie verby.

Gaston lyk ook nuuskierig, maar sy weet hy sal nie uitvra nie. Hy help haar in die saal.

“In watter rigting gaan Juffrou ry?” vra hy doodluiters, maar Angelique weet dat haar antwoord vir hom belangrik is.

“Na Voetheuwel se kant. Ek . . . ek het iets om in die see te gooi,” lag sy voordat sy Rosie in die rigting van die straat stuur. Toe sy omkyk, het Gaston reeds weggestap. Sy weet egter dat hy nou ’n perd gaan opsaal en haar op ’n veilige afstand gaan volg. Dis al jare sy gewoonte om haar op te pas. Dit het begin die dag toe sy en Christina by die Van Olgens ingetrek het. Hy het met haar bagasie by die huis opgedaag en vir Jan van Olgen gesê dat hy in opdrag van haar pa vir Angelique werk. Hy was so beslis dat Jan hom in beheer van die stalle aangestel het. Waar hy aanvanklik net tot die einde van daardie jaar sou aanbly, is hy nou al drie jaar in hul diens. Met verloop van tyd het hulle egter tot ’n kompromie gekom – sy gee voor dat sy hom nie sien nie en hy sweer hoog en laag dat hy nie naby haar was nie.

Toe sy die laaste huise van die nedersetting bereik, gee sy Rosie vrye teuels. Die kragtige perd skiet dadelik vorentoe en Angelique lag uitbundig toe die wind haar haarnaalde een vir een uitpluk en wegsmyt. Sy stuur Rosie in die rigting van die see, en op die kruin van Voetheuwel bring sy haar tot stilstand. Sy gly van haar rug af en haak die leisels aan ’n tak vas. Dan haal sy die rokke van die perd se rug af en begin versigtig in die voetpaadjie al langs ’n afgrond afstap.

Die see is effens onstuimig. Sy kan van die sproei teen haar gesig voel. Die branders wat met onbeskryflike krag teen die rotse breek, doof enige ander geluide uit. Die wind pluk-pluk aan haar rok en ’n oomblik wil sy omdraai, maar dan druk sy deur. Wat sy wil doen, is belangrik.

Sy laat haar blik oor die landskap gly. Alles lyk vanoggend vir haar anders, helderder. Die see is blouer, die lug lyk skoner en die gras is groener. Selfs die stukkie wit strand wat onder haar tussen die rotse uitsteek, is verblindend wit. Miskien het dit te doen met die wete dat sy nou amptelik volwasse is, of . . . moontlik het dit iets te doen met die soen wat sy gisteraand van die vreemdeling ontvang het – sy weet nie. Aan dié man wil sy eerder nie dink nie. Sy het amper die hele nag nie geslaap nie. Kort-kort het sy gevoel hoe haar gesig warm van verleentheid word, maar terselfdertyd het sy haar ekstase

in sy arms onthou. Wat haar nog meer hinder, is dat sy amper glad nie aan Adriaan gedink het nie.

Angelique skud haar kop en probeer die muisneste wegkry. Sy stap verder af in die paadjie, hoewel sy weet dat dit gevaarlik raak. ’n Fratsgolf kan haar baie maklik van die lysie afslaan.

Sy vat die eerste rok en bondel dit op. Sy onthou die belofte wat sy aan haarself gemaak het die aand toe Christina vir Willem ontmoet het. Sy het gesweer dat sy eendag elke grys en blou rok in haar besit persoonlik in die see sal gooi. Sy weet sy gaan dalk ’n bietjie oorboord, maar sy ervaar intense bevrediging toe die eerste rok al fladderend in die see beland. Sy lag vir haar eie verspottigheid en die grys rok volg die bloue. Die wit skuim verswelg die rokke amper onmiddellik.

Sy sien ’n skip wat net-net op die horison verskyn en skielik onthou sy iets anders uit daardie tydperk in haar lewe. Haar hand gaan na die kettinkie wat sy soms nog om haar nek dra, hoewel dit jare al nie meer vir haar sentimentele waarde het nie. Sy het lankal aanvaar dat sy hom nooit weer gaan sien nie. Vandag is die eerste keer in ’n lang ruk dat sy selfs sy bestaan onthou. Miskien is dit tyd om ook van daardie verspotte kinder- droom afstand te doen. Ná drie jaar kan sy in elk geval nie eens meer onthou hoe hy gelyk het nie.

Sy trek die kettinkie onder haar klere uit en kyk na die medaljon. Dit het haar nog altyd gefassineer dat daar twee embleme, een aan elke kant, van die medaljon gedruk is. Sy ken egter nie een van die families nie en weet dus nie aan wie dit oorspronklik behoort het nie. Sy haal die kettinkie van haar nek af en kyk vir oulaas daarna. Sy voel effens hartseer om daarvan ontslae te raak, maar vou dit nogtans vasbeslote in haar handpalm toe. Sy trek haar arm ver terug om dit diep in die see te gooi.

Dan stok haar asem in haar keel. ’n Staalband sluit om haar pols en sy swaai geskok om. Sy verloor amper haar ewewig en haar voete gly op die los klippe. Klein klippies skiet van die voetpaadjie af en val onder haar in die water. Die sterk hand hou haar egter veilig vas.

Angelique is nie seker wie sy verwag het om te sien nie, maar dis definitief nie die vreemdeling van die bal nie. Sy staar hom geskok aan en sukkel om ’n sin te formuleer. Toe kry sy haar stem terug, hoewel dit skaars hoorbaar bo die branders se geraas is.

“Wat soek jy hier?”

Sy voel hoe hy die kettinkie tussen haar vingers uittrek en dit in sy sak druk. Dan neem hy haar arm en dwing haar om die paadjie terug na die kruin te stap. Toe hulle uiteindelik bo is en die geraas minder, praat hy vir die eerste keer.

“Ek moet jou eerder vra wat jy daar onder doen, mejuffrou Van Olgen? Beplan jy om selfmoord te pleeg, of voer jy maar net een of ander onbekende of heidense ritueel uit?”

Sy verstaan nie dadelik wat hy bedoel nie, maar toe bloos sy onder sy donker blik. Sy kan hom tog nie van haar kinderagtige belofte vertel nie. Sy skud sy hand van haar arm af en sê met al die waardigheid wat sy kan bymekaarskraap: “Dis nie ’n heidense ritueel nie. Dis … iets wat al die Van Olgen-vroue doen as hulle … um …. volwassenheid bereik.”

“Gooi hul klere in die see?” vra hy skepties.

Sy weet dat hy nou met haar spot en haar hart klop vinniger. Gisteraand was hy vir haar aantreklik, maar in die helder daglig is sy oë nog blouer en sy vel nog blasser. Sy kan ook nie help om na sy verleidelike mond te kyk nie. Sy sluk en kyk vinnig weg voordat hy dalk iets in haar oë lees.

Sy stap na Rosie en sien dat hy sy perd aan dieselfde boom vasgemaak het. Haar oë rek. Hoewel sy baie lief vir Rosie is, sal sy beslis nie ’n eerste prys op ’n skou wen nie. Die graaf se perd, aan die ander kant, is ’n lieflike dier – pikswart, en sy spiere goed gedefinieer. Haar hand gaan werktuiglik na die perd uit, maar vir ’n tweede keer gryp Dante haar pols.

“Moenie! Monsieur is baie wild!”

Angelique huiwer ’n oomblik en trek haar hand weg. Sy gaan naby hom staan en druk haar hand in haar roksak. Sy hou altyd ’n suikerklontjie of twee in haar sak vir Rosie. Die perd beweeg weer senuagtig toe sy haar hand uitsteek, maar sy praat saggies met hom sodat Dante nie kan hoor nie.

Dante kyk verbaas toe hoe sy perd die suikerklontjie uit haar hand eet. Sy sit haar hand onder sy nek en klop hom saggies teen die blad. Die wilde trek verdwyn uit Monsieur se oë en Dante ontspan.

“Dis indrukwekkend, Mejuffrou. Jou skoonheid betower nie net man nie, maar ook dier,” sê hy lakoniek.

superromanza

Ou liefde roes nie − Dina Botha

ou-liefde-roes-nie_voorblad_high-res

Die reling is koud onder haar handpalms, maar sy is nouliks bewus daarvan. Waarvan sy wel akuut bewus is, is die subtiele geur wat Marco omhul. Nie net naskeermiddel nie, maar ook die reuk van man. Sterk, standvastig en manlik. En sonder die geur van sigaretrook, soos destyds.

“Rook jy nie meer nie?”

“Nee, die slegte gewoonte lankal afgeleer.”

“Ek sien, wyse besluit gewees.”

Die wolke beweeg weg voor die maan en sy kyk werktuiglik op. Die maan hang amper vol bokant hulle koppe en tower alles silwerwit. Net so vinnig is die betowering weer weg toe ’n wolk voor die maan inskuif. Maar dit bly ’n magiese nag met die maan en wolke wat speletjies speel, die geur van blomme wat in die lug hang en ’n kriek wat so hardnekkig van hom laat hoor.

Marco leun onverwags nader en sy gesig is sentimeters van hare af. “Jy is steeds een van die mooiste mense wat ek ken.”

Sy asem vee warm oor haar gesig en daar is iets betowerends in die effense grofheid in sy stem. Sy teenwoordigheid het haar so ingetrek dat sy die vibrasies teen haar lippe kan voel. Haar mond word droog en haar ooglede swaar. Haar hele wese reik uit na hom. Alles in haar hunker polsend na fisieke kontak. Sy arms om haar lyf, sy vingerpunte op haar vel en sy mond op hare.

Vir ’n tydlose oomblik wag sy dat haar droom gestalte kry, maar toe tree koue realiteit in. Sy onthou waar sy is. Waar húlle is. Sy ruk haar kop weg en beweeg terselfdertyd weg.

“Wat dink jy doen jy, Marco? Wil jy my sosiaal vermoor? As enigeen ons so betrap, is dit môre ’n skinderstorie op elke tong in die stad.”

Marco lag ongesteurd. “Nie op elke tong nie.”

“Jy weet goed wat ek bedoel. Moenie maak of ek ’n moroon is nie.”

“Jy het geen idee hoe onweerstaanbaar jy vanaand lyk nie, Milea. Min mans sal die versoeking kan weerstaan om jou te soen. Maar ek is bereid om jou om verskoning te vra. Jou reputasie is gelukkig nog ongeskonde.”

“Ek gaan terug. Alleen,” sê sy vinnig toe hy haar dadelik wil volg.

Marco lag geamuseerd. “Goed, dan doen ons dit so. Ek sal jou oor ’n minuut of twee volg.”

Milea loop weg, maar nie voordat sy hom hoor sê: “Ek het gejok, jy is die mooiste vrou wat ek ken.”

Dalk is dit te wyte aan die heelwat warmer vertrek wat sy binneloop, maar hoendervleis vorm op haar arm. Marco het hoegenaamd niks van sy sjarme verloor nie. Dis net nou verfyn tot ’n dodeliker variasie. Van haar voorneme dat hy nie haar aand gaan bederf nie, is niks oor nie. Sy voel kwetsbaar.

Milea knoop dadelik ’n gesprek met die vrou oorkant haar aan. Dit terwyl sy nou gespanne bewus bly van die oop sitplek langs haar. Die stoel word uitgetrek en haar lyf ruk toe Marco se ander hand liggies teen haar naakte skouer druk en vir ’n paar sekondes daar talm. Toe hy sit, skuur die growwigheid van sy baadjie teen haar skouer. Met haar senuwees nou aan flarde het dit dieselfde effek as skuurpapier op haar vel. Tot haar verdere marteling skuif hy sy stoel so langs hare in dat die sitplekke aan mekaar raak. Tensy sy op die persoon aan haar ander kant se skoot wil sit, is daar geen beweegruimte nie. Toe Marco langs haar ontspan, voel sy sy knie onder die tafel teen hare druk. Dis onmoontlik, sy weet, maar dit voel of haar knie en been dadelik warmer word. Dis met moeite wat sy weer op die vrou voor haar kan konsentreer. Toe besef sy dat die vrou haar iets gevra het en dat sy skoon vergeet het om te luister.

“E . . . ja,” gryp sy na die eerste die beste generiese antwoord in haar kop.

Dis nie die regte antwoord nie, besef sy toe die vrou frons en verward glimlag. Sy draai haar kop en begin ’n gesprek met die man langs haar. Milea voel hoe die bloed teen haar wange opstoot. Sy het Marco nie nodig om haar sosiaal te ruïneer nie, dit wil voorkom of sy dit op haar eie baie goed regkry.

Die nagereg word bedien, maar Milea se gedagtes bly op die stoep vasgevang. Het sy lippe aan hare geraak of het dit nie? Vervlaks, hoekom het sy nie maar toegelaat dat hy haar soen nie? Vir soveel jare het sy daaroor gedroom en toe laat sy die geleentheid ter wille van sosiale protokol verbygaan.

Marco stamp liggies aan haar en het dadelik haar aandag.

“Hoekom is jy so stil?”

“Want ek het maniere, ek praat nie met ’n mond vol kos nie.”

Marco kyk na haar nageregbordjie en terug na haar. Sy oë terg.

“Wat eet jy, jou poeding is dan klaar?”

Milea sit haar vurkie neer en gee hom ’n vernietigende kyk.

“Wel?” dring hy ten spyte daarvan steeds op ’n antwoord aan.

“Dis jy wat my so kwaad maak, Marco. Watse tipe man lê by ’n getroude vrou aan?” sis sy deur haar tande en maak seker net hy hoor dit. Sy wenkbroue wip op.

“’n Man wat oor ’n klomp goed wonder, Milea. Soos waar jou man is. Hoekom is hy nie juis nou, in hierdie aaklige tyd, aan jou sy nie? As jy myne was, was ek saam met jou op jou pa se begrafnis, ek sou jou nie halfpad om die aarde alleen laat vlieg het nie.”

“Maar nou is ek nie jou vrou nie.”

“Nee, jy is nie.”

Marco tel sy glas op en kyk voor hom. Hy proe liggies aan sy wyn, sy gedagtes duidelik elders.

“Nog wyn vir jou, Milea?” vra die ouerige man aan haar linkerkant en sy knik dankbaar. Toe hy ’n gesprek met haar aanknoop, is sy maar te verlig.

Ná ete beweeg die gaste terug na die sitkamer waar nog sjampanje op skinkborde aangebied word. Die musiek verander en ’n bekende liedjie van die sewentigerjare speel. Die gaste vorm ’n sirkel om die Van der Walts en Koot neem sy vrou in sy arms. Milea neem aan dis die lied waarmee hulle die dansvloer op hulle troudag geopen het. Dis stadig en die woorde van die liedjie is diep en gevoelvol. Of sy dit nou wil toelaat of nie, dit maak ’n hunkering in haar los. ’n Diep begeerte om deur iemand bemin te word, skop in haar nes. Sy waag dit nie om in Marco se rigting te kyk nie. Sy is bang hy lees wat sy op daardie oomblik voel dalk in haar oë.

Haar lyf ruk toe Marco sy hand liggies teen haar rug druk en sy nek buig om naby haar oor te praat.

“Wil jy dans, Milea?”

Ou liefde roes nie nou beskikbaar: http://bit.ly/2mzCGbM  

Milea McGregor: heldin van Ou liefde roes nie

Milea McGregor stap in by Coffee Explosion (haar keuse) vir ons onderhoud. Afgerond soos ons haar in Ou liefde roes nie leer ken het en so koelkommer dat ek wonder hoe die gesprek sal verloop. Sal sy ons toelaat om haar lewe na bladsy 205 ’n bietjie onder die loep te plaas?

 ou-liefde-roes-nie_voorblad_high-res

Beskryf Marco in een woord.

Vrygewig.

 Hoe verskil Marco die man wat jy nou ken van die seun wat jy as 18-jarige leer ken het?

Buiten dat hy meer volwasse en verantwoordelik is, nie veel nie. Soms dink ek dis onmoontlik om sy bad boy beeld heeltemal af te skud. Maar dit dien seker sy doel. Hy slaan steeds my asem weg.  Laat my hart onbedaarlik vinnig klop – élke keer as hy na my kyk.

Hoe gaan dit met jou binnehuisversieringbesigheid?

Baie goed, dankie. Marco se huise was net die regte platform om my besigheid suksesvol  in Suid-Afrika te vestig.

Wat mis jy die meeste van Engeland?

Om die waarheid te sê nie veel nie. Noudat ek tussen my eie mense is en weer my eie taal praat is Engeland net ’n vae herinnering. Maar ek praat nog gereeld met Charles. Hy sal seker altyd my beste herinnering aan Engeland wees.

Marco, beskryf jul liefde as tydloos. Hoe sou jy julle liefde beskryf? 

Ons liefde het seker die toets van tyd deurstaan, maar ek sien dit eerder as een van daardie bestemde, onafwendbare soort liefde. Maak nie saak wat ons doen of waar ons ons bevind nie, ons sou mekaar uiteindelik vind. 

Hoe gaan dit met jul verhouding? Is jy en Marco al besig met trouplanne?

Ons is meer verlief as ooit, veral noudat ons weet waar ons met mekaar staan. Trouplanne is daar definitief.  

Watter soort troue sal julle hê? Groot of klein? Somer, lente of winter?

Die keer gaan ons groot. Wel, eerder my ma. Dit sal beslis in die lente wees. Hopelik reën dit daardie dag. Ja, ek weet ek klink verspot, maar vir my is daar net iets betowerend aan reën op ’n meisie se troudag. Dit simboliseer iets van ’n skoon en nuwe begin.

 rain_no_umbrella_4

Sal julle in Kortstraat bly of soek julle ’n huis in ’n ander deel van die stad?

Ons wik en weeg nog. Marco wil ’n entjie weg van die familie gaan bly, maar ek gee regtig nie om nie. Ek hou van sy familie en ek is seker daar gaan na ons troue baie oor en weer gekuier word. Straataf kan dalk net lekker en gerieflik wees.

 Hoe gaan dit met Cassandra?

Ongetroud. Steeds soekend na ’n plaasvervanger vir my pa.

Het jy nog kontak met Johnny?

Ja, meer as waarop ek ooit gehoop het en dis net aan my wyse ou moeder te danke. Sy en Casandra het een van daardie lang en openlike geselsies gehad. Sy het Casandra daarop gewys dat nie alle mans daarvan hou om ’n mooi vrou én haar baba uit te neem nie. Toe bied sy aan om babaoppasser vir Casandra te speel. Verlede naweek het hy die hele naweek by my ma gebly, terwyl Casandra en haar nuutste kêrel Drakensberge toe is. Ek en Marco het natuurlik lekker saamgespeel.

Het die ander Mendez-mans al liefde gevind?

Ek weet net van een – José. Hy vra my ma omtrent elke dag om met hom te trou, maar sy sê dis nou eers my tyd om te skitter.

 Kan jy ons aan een van hierdie Mendez-mans voorstel?

Laat ek raai, jy wil een van die dokters ontmoet? Theo of Christo? Wel, ek belowe niks nie, maar ek sal kyk wat ek kan reël. Aan die ander kant … Antonio is nogal baie soos Marco. Koel en kalm en soms … onpeilbaar. Maar baie vrygewig. Met sy tyd en sy aandag. Nes Marco.

 Dina Botha se Ou liefde roes nie is nou beskikbaar: http://bit.ly/2mzCGbM

 

’n Pa vir Alexa – Alma Carstens

Jessica bly soos ’n standbeeld in die middel van die kamer staan toe Marcello die deur sag agter hom toetrek. Dis presies dieselfde kamer waarin sy jare gelede geslaap het elke keer wanneer hy haar hierheen gebring het. Sofia het toe nog in die villa koning gekraai en hulle bewegings met valkoë dopgehou. Haar weersin in Jessica was ooglopend en sy sou enigiets doen om haar oudste seun teen die uitlander uit die Suide te beskerm. Sy sou waarskynlik dieselfde gedoen het vir haar jongste seun as sy geweet het sy hart is ook in gevaar, maar haar aandag was so intens op Marcello gerig dat sy in die proses van Lorenzo vergeet het. ’n Fout wat haar later baie duur te staan gekom het.

Jessica sluk toe sy opeens aan Sofia se waaksaamheid en streng reëls van destyds dink. Sy onthou nog goed hoe vindingryk sy en Marcello soms moes wees om mekaar in privaatheid te sien sonder die ou vrou se laserkyke wat hulle oral gevolg het.

Haar oë toer oor die breë dubbelbed se koperkopstuk, rus vlugtig op die blou-en-wit porseleinballetjies om die geelkoperpypies tussen die sierlike raam en kom tot rus op die sagte matras waaroor daar nou ’n veelkleurige lappieskombers gedrapeer is.

Jessica sluit haar oë toe die herinneringe aan haar destydse kuiers op die landgoed haar sonder waarskuwing soos ’n vloedgolf tref. Hier, in hierdie kamer waarin dieselfde bed steeds op dieselfde plek staan, hoor sy meteens weer die vloerplanke kraak as Marcello laatnag by haar kamer inglip en op sy tone na die bed toe sluip, kan sy die duik in die matras voel wanneer hy langs haar inskuif, beleef sy weer eens die opwinding wat in haar opwel wanneer sy hande soekend oor haar lyf beweeg en ervaar sy opnuut die afwagting waarmee haar mond na syne gesoek het in die donker.

Haar oë vlieg oop en sy sluk droog. Hoekom het Marcello haar hierheen gebring? Is daar dan geen ander kamer beskikbaar waarin sy kon bly nie? Waarom het hy haar nie eerder na Alexa se kamer toe geneem nie? Hy moet mos weet wat dit aan haar sal doen om weer in hierdie kamer te bly. Op dieselfde bed te moet slaap as voorheen.

Haar bors dein op en neer en haar asemhaling is vlak. Die herinneringe is so sterk, dit voel kompleet asof sy hulle passievolle nagte so pas weer beleef het. Met yskoue vingers vryf sy oor haar arms en voel die hoendervleis wat oor haar vel opgespring het. Sy moet haar regruk en nie toelaat dat die verlede steeds by haar spook nie. Dis tog lank gelede en het geen betekenis meer nie. Hulle is nou ouer. En wyser. Dis net ’n kamer en net ’n bed. En sy is net ’n gas wat vir ’n paar dae in hierdie kamer gaan bly. Dis al. Dis waarskynlik wat Marcello ook dink en waarom hy haar hierheen gebring het. Dit is uiteraard die grootste en beste gastekamer in die villa.

Jessica sit haar tas op ’n lae tafeltjie neer en maak dit oop. Nadat sy haar klere sorgvuldig oor die leë hangers in die kas gehang het, pak sy die tas bo in die kas weg. Dis toe sy van die kas af wegdraai, dat sy vaskyk in die groot spieël van die outydse spieëltafel teen die muur oorkant die venster. Haar voete beweeg stadig nader na die beeld tot sy reg voor die spieëlkas staan.

Wat sou Marcello gedink het toe hy haar vandag ná so ’n lang tyd weer sien? Hy het tog sekerlik nie die jong blondekopmeisie met die vleklose vel en uurglaslyfie verwag wat destyds so holderstebolder hier weg is nie, het hy?

Sy trek haar vingers liggies deur die donkerblonde lokke wat oor haar skouers tuimel. Haar hare is nog net so lank soos destyds, maar die kleur het ná Alexa se geboorte donkerder geraak. Haar vel kan seker, weens die goeie velsorgprodukte wat sy gebruik, steeds as vlekloos beskryf word, maar die verouderingsproses is opsigtelik reeds aan die gang, veral om haar oë waar fyn plooitjies verskyn wanneer sy lag. En haar lyf . . . Jessica sug en draai ietwat skuins voor die spieël. Dit het nou sowaar nie meer die uurglasvorm van twintig jaar gelede nie, maar volgens Alexa kan sy darem steeds met ’n bikini in die openbaar verskyn.

Moedeloos gooi sy haar hande in die lug en draai weg van die spieël af. Wat maak dit saak hoe sy lyk? En wat maak dit saak wat Marcello gedink het toe hy haar weer sien? Liewe genade, waarom kan sy nie die verlede in ’n trommel indruk en met ’n slot toesluit nie? Marcello treur waarskynlik steeds oor sy vrou. Waarom anders het hy nooit weer getrou nie? Buitendien gee sy nie ’n duit om wat hy van haar voorkoms dink nie. Nie meer nie.

Kristel se bosbewoner −Rika du Plessis

“Waarheen gaan jy?” vra hy, en nou is daar geen tekens meer van snorkgeluidjies nie.

“Verdomp, Zac, hoekom het jy my nie wakker gemaak nie?” vra sy sommer vererg. Haar oë het nou aan die halflig gewoond geraak en sy kan uitmaak hy lê kaal bolyf met net ’n kortbroek aan na haar en kyk.

“Jy het so lekker geslaap, en nou ja, ek was ook vaak. Dis darem my bed, jy weet, ek mag hier slaap, en jy nie,” tart hy haar. Dis doelbewus, met opset, want sy hoor die uitdaging in sy stem.

“Ek weet, maar ek het vir jou gewag en toe jy so lank wegbly, het ek ook vaak geraak. Hoe moes ek weet jy gaan donkernag terugkom?” vra sy terwyl sy kaal bobene se hitte teen haar lyf brand.

“Eintlik was die toneel baie suggestief, uitlokkend, en ek kon dit nie weerstaan om maar langs jou te kom lê nie,” spot hy egter voort.

“Kry end, Zac. Jy weet net so goed soos ek dat dit nie is wat ek daarmee bedoel het indien dit vir jou so gelyk het nie, ” raas sy nou om haar skielike verleentheid weg te steek.

“En ek moet sê daai aanloklike, warm lyf hier teen my het skielik al my vaak laat verdwyn,” sê hy asof hy geen woord gehoor het wat sy gesê het nie.

“Jy jok. Ek het van jou gesnork wakker geword.”

“Ek snork nie, ek het gemaak of ek snork toe jy begin beweeg.”

“Los my arm, ek wil opstaan,” antwoord sy kortaf.

“En waarheen wil jy dié tyd van die nag gaan? Besef jy dis halftwee in die oggend?”

“Ek wil huis toe gaan, maar jy sal my jou sleutel moet leen. Myne lê in my handsak in die huis.”

“Is dit hoekom jy hier is? Vir ’n sleutel?”

“Ja, wat anders het jy gedink?” vra sy nou spottend.

“Gedink jy het na my verlang,” spot hy terug.

“Moenie laf wees nie. Gee my asseblief jou sleutel.”

“Ek is jammer, maar ek kan nie.”

“Vir wat nie? Moenie kinderagtig wees nie.”

“Jy verstaan nie. My sleutel hang agter die kombuisdeur aan ’n hakie. Die kombuisdeur was gesluit en ek het die voordeur net toegetrek. Die slot se kleppie was in posisie om die deur te sluit as iemand hom toetrek.”

Sy woorde dring tot haar deur, en sy antwoord nie dadelik nie.

“En nou? Wat nou?” vra sy ineens amper verslae.

“Daar is niks wat ek in die donker daaraan kan doen nie. Jy sal maar hier moet bly tot ligdag, en daarna kan ons gaan kyk,” kom sy antwoord reguit.

“Jy maak seker ’n grap. Moet ek nou vir die res van die nag hier iewers orent sit en luister hoe jy snork?” vra sy byterig.

“Wel, jy het oomblikke gelede heel rustig saam met my op die bed gelê. Niks keer jou om dit weer te doen nie,” kom sy stem tergend. “Dis jou besluit. Ek gaan nou slaap, want ek het môre baie om te doen. Dis waarom ek gaan swem het – om direk daarna te kom slaap.”

Terwyl hy praat, het hy haar arm gelos, hom op sy sy geskuif, en lê nou bewegingloos.

Kristel voel moeg. Die bietjie slaap was net genoeg om haar na nog te laat smag, en kyk nou. Sy sit nog gedeeltelik op die bed. In die voorste tentgedeelte het sy seilstoele gesien. Dalk moet sy maar daar gaan sit en wag tot ligdag, want regop kon sy nog nooit sit en slaap nie. Haar lyf protesteer, want slaap is waarna sy nou smag.

“Ag, te hel met jou,” fluister sy deur haar tande, skuif terug in haar ou posisie, gaan lê met haar rug teen sy rug en sluit haar oë. In ’n blitsige beweging het hy omgerol, sy arm om haar lyf gegooi en lag sag, maar sê nie ’n woord nie.

Dis seker soos ’n stokmannetjie moet voel, skiet die verspotte gedagte deur haar toe haar hele lyf verstyf. Hy lê téén haar rug met die volle lengte van sy lyf. Alles in haar liggaam is besig om verraderlike seine na haar brein toe te flits, en sy kners sag op haar tande. Sy moet net eenvoudig ontspan voor die mansmens iets agterkom.

“Ontspan, en slaap. Ek is nie van plan om jou te oorrompel en iets van jou teen jou sin vir my te vat nie,” prewel hy teen haar nek, en vroetel dan sy kop in die holte in.

Louwarm strale skiet deur haar are slegs by die gedagte aan waarop hy sinspeel. Sy antwoord nie, maar ontspan tog geleidelik. Dis sy laaste woorde wat haar bybly tot sy tog later weer aan die slaap raak.

Koop nou Kristel se bosbewoner: http://bit.ly/2mZka0H

 

My reis as skrywer − Rika du Plessis

Vanaf ’n jong ouderdom  is ek verslaaf aan lees. Ek het een na die ander mooi liefdesverhaal verslind en gedroom daarvan om self eendag te skryf. Kort na ek getroud is, het ek ’n kursus in skryfkuns gedoen, maar het eers baie jare later daarvan gebruik gemaak. Kinders grootmaak en werk het voorkeur geniet.

My suster, José Esterhuysen, het uit die bloute ’n boek by LAPA Uitgewers – toe nog JP van der Walt – gepubliseer. Net daar het ek besluit, as my sus dit kan doen, kan ek ook. Ek het my storie geskryf en vir LAPA Uitgewers gestuur. Ek moes dit nog op ’n tikmasjien doen, want ek het nie ’n rekenaar besit nie.

Toe ek een dag die manuskrip in die pos terugkry, het ek gedink: ‘Wel, ek hét probeer’, en die pakkie oopgemaak om die bladsye op te skeur en weg te gooi.

Dit het nie gebeur nie. Saam met die manuskrip was daar ’n brief. Die uitgewers het van my storie gehou, maar die verhaal was hopeloos te lank, verkeerd aangebied en nog ander, kleiner struikelblokke. Ek moes die verhaal verkort en oorskryf.

Nou ja, met die tikmasjien moet jy alles oordoen.

Ek het my verhaal drie keer oorgeskryf, maar ek het sulke wonderlike bystand van die uitgewers ontvang dat dit nie saak gemaak het nie. Die manuskrip is aanvaar en Wewersvlei se mense het die lig gesien.

Daarna was daar geen keer aan my nie, die stories het mekaar verdring in my kop. Vir die tikmasjien het ek egter nie meer kans gesien nie, maar moes eers ’n rekenaar bemeester.

mark-peters-sad-writing

Sedertdien het 63 boeke die lig by LAPA Uitgewers gesien, en daar is nog drie op pad. Ek het ook vir Hartbees Uitgewers sewe boeke met ’n bietjie speur- en spanningselemente  geskryf.

Rika se volgende twee Romanzas, Ridder van die branders en Liefde in die Karoo, verskyn in Mei en Junie 2017!

Gedurende die hele tydperk het ek geleer dat ’n mens nooit te oud is om iets nuut te leer nie. My uitgewers is die mense wat die grootste bydrae tot my skryfloopbaan gelewer het, want hulle het my stap-vir-stap touwys gemaak – vir ’n beginnerskrywer beteken dit die wêreld. Elke keer wanneer ek met ’n varsgedrukte boek in my hand staan, dink ek terug aan die eerste een!

Koop nou Kristel se bosbewoner: http://bit.ly/2mZka0H

“Ek moet net die storie uittrek: woord vir woord” – Madelein Stoltz

Ek verslind boeke. Vandat ek as ʼn jong kind my ma se liefdesverhale skelm gelees het. Ek swyg eerder oor hoe jonk ek was, want enige verantwoordelike ouer sal die piep kry. Op laerskool het ek besluit skryf is vir my. Ek het my hart op papier uitgestort en vir almal gelees wat wou luister. My ma het vir my gelag. Ek kon sien sy dink die kind is mal. Die buurtannie was meer beleef. Sy het na elke woord geluister, vir my tee en koek bedien, en my aangespoor. My niggie was ook beïndruk. Dit was egter ook die laaste keer wat ek haar gesien het. Ha, ha. Ek dink darem nie sy was met afgryse gevul en het daarom weggebly nie. Ons het in verskillende provinsies grootgeword.

Ek sit onder ons lapa en skryf hierdie stuk. Pen in die hand. My skootrekenaar laai in die huis. Dit is lekker vroeg, half sewe, en ek het nog nagklere aan. Dis mos hierdie huisvrou-skrywer se voorreg, want haar kinders is al klaar met skool. Ek lyk respektabel al het ek 99% van die tyd  wanneer ek dit by ons erf uitwaag, nie eens lipstiffie op my gesig nie. Darem aangetrek, maar geen hoë hakke nie tensy dit ʼn spesiale geleentheid is nie. Ek het nie nou mooi klere wat pas nie, want dit was Desember-vakansie en die familie het kom kuier. My familie eet heeldag en ek het my vergryp. Tot my spyt. Dieet is my voorland! As ek net die inspirasie kan kry.

Ek het ook inspirasie nodig vir wanneer ek moet skryf.

IMG-20170308-WA0009

Ek geniet die skryf van romantiese fiksie, want ek is nie skaam om te erken dat ek dit graag lees nie. Ek het jonk-jonk al versot geraak op romantiese boeke. Lekker skryf gee my dieselfde bevrediging as sjokolade. Ek kan hopelik met die eindproduk iemand se lewe vir ‘n rukkie ophelder. Ek kort net eers die inspirasie en dan is dit ure op my agterstewe.

Maar waar sal ek die inspirasie kry?

ʼn Lekker naweek weg sorg altyd dat inspirasie by my inskop. Maar helaas, gebeur dit nie genoeg nie!

Dikwels begin ek net skryf. Ek het ʼn vae idee in my agterkop. Ek weet hoe my heldin en held lyk en gooi hulle saam in ʼn situasie. Hoe ongemakliker die situasie vir die heldin hoe beter en dan kyk ek hoe sy optree. Sy lewe mos nou en neem my saam op haar reis. Ek glo haar romantiese avontuur is reeds in my brein weggebêre. Ek moet dit net uittrek, woord vir woord.

Dit is ʼn wonderlike voorreg om my eie boeke vas te hou. Dis ʼn oomblik van groot dankbaarheid. Eerstens teenoor God wat die talent vir my gegee het, dan vir my uitgewer en my man wat met my moet saamleef as daar ’n storie broei.

Pierewaaier op haar erf verskyn in April. Baie dankie aan al my lesers wat my ondersteun en ʼn boek koop. Sonder julle sal my arme kleindogter my volgende slagoffer word, want sy is nog te klein om van beter te weet.