#TBT Frenette van Wyk aan die woord

Frenette van Wyk gesels bietjie met ons!

Frenette van Wyk Oor die Bosveld …

Die Bosveld is my stukkie hemel op aarde. Die natuur, die bosveldklimaat en die wilde diere is vir my ‘n inspirasie van kalm rustigheid en ook van bruisende lewe.  Ek kyk graag krieket en sokker saam met my seuns. Ek verf graag, probeer klavier speel en ‘shop’ vir ontspanning.  Tale is vir my ‘n passie.

Oor skryf …

Ek is ‘n voltydse skrywer, en met elke nuwe storie is dit vir my heerlik om my in ‘n nuwe wêreld van karakters en intrige te bevind. Ek skryf, en wil skryf, oor dinge wat my verbeelding aangryp en my fassineer.  Soos sprokies, prinsesse en die liefde. Die hele lewe gaan oor liefde – die gebrek, die behoefte daaraan; die plesier, die vervulling daarvan.

14762-Typewriter

Oor karakters en ruimte …

My helde en heldinne moet mooi, sterk, uitsonderlike name hê.  Gewoonlik moet dit ook een of ander betekenis dra wat by die karakter pas en die karakter beskryf. En die verhaal moet op ’n bekoorlike of eksotiese plek afspeel . Dit dra by tot die sprokieselement van die storie.

Voeg ’n knippie spanning by

download

Ek hou daarvan om ‘n spanningselement in te bring vir balans en om die storie boeiender te maak. Aspoestertjie het nie haar prins ontmoet sonder die hindernis van ’n selfsugtige stiefma en -susters nie.  Sneeuwitjie het haar teenstander in die beeldskone, jaloerse stiefma gehad, en Skoonlief moes ‘n ongedierte se nukke, en terselfdertyd die onbegrip en gemene praktyke van ‘n hele dorp oorwin.

 

Advertisements

Cecilia Steyn aan die woord

Ons gesels met Cecilia Steyn, skrywer van die tienerboek Die meisie op die dak wat in Januarie 2016 verskyn.

11666227_10200690897831484_6040939339824005837_n (1)

Jy eerste boek het  pas verskyn. Vertel ons bietjie die storie: het jy ʼn oproep of ʼn e-pos gekry? Hoe het jy gevoel? Wat het jy gedoen om die geleentheid te vier?

Meisie op die dak, DieEk het die goeie nuus per e-pos ontvang en moes dit behoorlik drie maal lees om seker te maak dat ek nie verkeerd verstaan nie! Daarna het ek almal begin bel en die wonderlike nuus vertel. Ek was in die wolke en kon vir dae nie ophou glimlag nie. Ons het sommer net ‘n lekker ete saam met die kinders geniet om dit te vier. As mens sulke lekker nuus kry, is jy weer van vooraf geïnspireer om nog te skryf.

Waar sonder kan jy nie leef nie?

Ek sal nie sonder musiek, boeke, my man en kinders kan leef nie. O, ja en sjokolade!

Wie is jou drie gunstelingskrywers?

Net drie? Sjoe, dit is moeilik. As ek net drie kan kies sou ek sê, Audrey Niffenegger, J.R. Ward en Nora Roberts.

As jy drie mense na ete sou nooi (lewend of dood), wie sal dit wees?

P!nk, van rocker tot ma en deesdae ambassadeur vir Unicef, dink net aan al die stories wat sy kan vertel! Ian Somerhalder, akteur, filantroop en stigter van die organisasie ISF, omdat hy nie net ʼn mooi gesig is nie, maar ʼn poging aanwend om die wêreld ʼn beter plek te maak. Jane Austen omdat haar ses werke die basis uitmaak van elke liewe romanse wat ons vandag steeds lees.

Wat was die beste raad wat jy oor geskryf ontvang het en van wie?

Die beste raad wat ek ontvang het, was by my broer, Fanie Viljoen en dit was dat ‘n mens vir jou lesers moet wys en nie vertel nie. Jou leser moet voel hulle is die karakter se skaduwee. Hulle moet sien, ruik, hoor, voel en proe presies wat die karakter op daardie oomblik beleef en dit is wat ek met elke woord probeer doen.

Watter boeke kan jy herhaaldelike lees?

Ek probeer om nie dieselfde boeke oor en oor te lees nie, maar soms as die gier my pak, enige boeke uit Black Dagger Brotherhood-reeks deur J.R. Ward (van die beste helde wat ek al in boeke teëgekom het al het hulle slagtande!) en as ek niks nuut het nie, enige Nora Roberts boeke.

332420-5003d63dece44056a8b1901334ea1303

Werk jy tans aan ’n boek?

Ja, ek werk tans aan die derde boek in die Tienerharte-reeks, waarvan Hartklop, die eertse boek in Maart 2016 verskyn.

Watter boek/e is op die oomblik op jou bedkassie?

The Bourbon Kings deur J.R. Ward. Dit is so ʼn mengsel tussen Downton Abbey en Dallas. Ook Panic deur Lauren Oliver.

As jy nie ’n skrywer was nie, sou jy … wees?

ʼn Modeontwerper

In jou volgende lewe sal jy graag ’n … wil wees?

ʼn Kat

Enige wyse woorde of skrywersgeheime vir voornemende skrywers?

Skryf, skryf en skryf. Elke dag al is dit net honderd woorde.

VAN WAAR DIE INSPIRASIE:Wintersprokie

Frenette van Wyk vertel wie die muse agter  Wintersprokie is.

 

Wintersprokie gaan oor die liefde, Kerstyd en Kersvader, en ’n sneeu-Switserland. ’n Sprokie wat afspeel teen ’n sprokiesagtige agtergrond.

Ek is nou maar eenmaal ’n dromer en romantikus en vir my sal Kersvader altyd leef. Hy is ’n legendariese sprokiesfiguur, een van die mooistes waarin ek glo. Sy lewe is ’n avontuur van weldade en liefdebetoning. Hy is goedhartig, vrygewig en vredeliewend, en laat ’n mens nog in die goeie en die mooi, selfs die onmoontlike van die lewe glo.

Dis dié soort ideale, fantasties mooi dinge waarvan romanse lesers wil lees en dit was vir my so lekker om ‘hom’ in my storie te hê.

Wintersprokie – Frenette van Wyk

wintersprokie_voorblad_high res

Andrea bekyk die affêre met lewendige oë. Toe wil hy weer buite gaan speel en Kristien laat hom begaan. Dis vir haar ook meer pret buite as om in die huis te sit. Sy tel ’n hopie sneeu op en druk dit in ’n ronde ysbal en gooi dit ver. Sy maak een vir Andrea ook.

Hy gil van opwinding toe hy die koue speelding tussen sy vingertjies hou. Hy gooi nie ver nie, maar ’n uitbundige lag breek uit sy keel toe die bal die sneeu tref en uitmekaarspat.

“Dis lekker om goed te gooi,” lag hy. “Maar Pappa raas net altyd as ek wil speel!”

Sy kan die versugting in sy stemmetjie onderskei, die onuitgesproke gemis aan sy pa se goedkeurende deelname in sy lewe daarin hoor.

“Dis omdat ’n mens nie sommer enige tyd enigiemand met enigiets kan gooi nie. Grootmense verstaan dit nie altyd nie. Vir hulle is dit nie altyd ’n speletjie nie.”

“Pappa sê dis stout.”

“Partykeer is dit.” En partykeer is dit nie, wil sy byvoeg.

Vir Andrea is dit ’n lekker speletjie, waarskynlik ’n manier om van sy frustrasies ontslae te raak. Sy wil dalk ook van haar frustrasies, die onvervulling wat sy deesdae weer beleef, ontslae raak, daarom dat sy deesdae self soos ’n kind tekere gaan.

“Maar as ’n mens die regte goed op die regte plek en tyd gooi, soos hierdie speletjie hier buite, dan kry ’n mens nie raas nie.”

Sy wil Andrea egter nie in enige kwaad sterk nie. Netnou dink Derek sy moedig hom aan om allerhande streke uit te haal.

Dit verhoed haar egter nie om dieselfde streek uit te haal toe Derek en Julia net ’n rukkie later teen die heuwel op aangestap kom.

Hy wuif vir haar en sy wuif terug. Sy wag egter net totdat hy Andrea wat na hom toe gehardloop het, klaar gegroet het en Andrea en Julia buite trefafstand is, toe mik sy sekuur en gooi hom met ’n sneeubal.

Die sneeubal spat uitmekaar toe dit sy arm skuinsweg tref, maar nie sonder om ’n donker, nat kol op sy baadjie te maak nie.

Hy gaan staan. Toe draai hy stadig om en kyk weer vir haar. Selfs van waar sy ’n hele paar meter van hom af staan, kan sy die vlammetjies in sy oë sien terwyl hy haar ’n paar sekondes lank net nadenkend staan en betrag.

Sy staan versteen.

Het hy hom vererg vir haar lawwigheid?

Toe trek sy haar skouers ongeërg op.

Maar hy buk reeds af en begin ’n klomp sneeu tussen sy vingers saampers. Hy vorm ’n koeëlronde bal, sien sy. Om haar daarmee terug te gooi, besef sy betyds.

Haar tone is ysblokkies in haar stewels en sy sukkel om in die koue sneeu vinnig tot beweging te kom, maar sy kies dadelik weers koers na die dennebome agter die huis vir beskerming.

Maar sy het nog nie die eerste bome van die woud bereik nie, toe tref Derek se koeël sy teiken.

“Eina!” skree sy toe sy uitasem in haar spore vassteek en haar hand oor haar linkerkantse agterstewe vou.

Haar asem jaag van die hardloop, maar ook omdat Derek laggend na haar toe aangedraf kom. Te lam om verder te hardloop buig sy vooroor om haar asem behoorlik terug te kry.

“Het jou!” Hy kom sit sy hand op hare wat nog op haar agterstewe is en sy vlieg weer orent.

“Gehoop prins Charming gaan jou kom red, nê!” Wit wasemwolkies dans spottend uit sy mond, maar die lig in sy oë flikker saggroen op haar.

Haar hart tamboer al wilder in haar.

“Natuurlik!” daag sy hom in ’n krakerige stem uit. Hy hoef nie te weet sy wens hy is prins Charming nie, hy kan maar dink dis van die koue wat haar stem so bewe. “Kyk, daar staan sy wit perd!” spot sy en wys na ’n boomstam wat skuins onder die sneeu toegeval lê.

Sy pomp hom net baie effentjies in die ribbes met haar elmboog, maar duik weg toe hy na haar arm gryp, en hardloop weer ’n entjie weg.

“Verniet gedink ek kan nie sonder prins Charming regkom nie, nê!” roep sy weer uitdagend en laggend oor haar skouer.

Die volgende oomblik struikel sy en val in die los sneeu. Sy knyp haar oë toe en keer met haar arms, maar skielik deurdrenk ’n nat, koue haar. Haar hare en haar klere is sopnat in die paar sekondes wat sy daar lê en spartel om weer regop te kom.

Derek se arms sluit om haar middel en skouers. In ’n kragtige greep lig hy haar op haar voete, styf teen hom vas. ’n Soliede massa spiere en krag, troon hy oor haar.

 

Die held van Bruid in blou gesels

Gideon, die held van Bruid in blou, praat met ons oor getroude lewe en  Jess!

Bruid in blou (hoëres)

Jy en Jessie is nou ses maande getroud. Hoe vind jy die getroude lewe?

Beste idee wat ek al gehad het.
Het jy regtig jou smeulende kyk voor die spieël geoefen?

Daardie Jess. Het jy met haar gepraat voor die onderhoud? Jy het? So gedink, ja.

gideon
Watter soort bier verkies jy?

Bier uit ’n vat soos Wilhelmina hom in haar restaurant op Reënbaai tap, maar in ’n krisis sal ek tevrede wees met wat daar ook al in iemand se yskas is.

images (1)

Lewe Jessie se roos nog?

Watter een? Die een voor of ná verlede week se voorval met die ystervark? Die ergste van alles is dat ek aan die ystervark se kant is. Hoe moet hy nou geweet het daar is rooswortels net mooi op die plek waar hy die gat wou grawe. Maar nou ja. Rose laat Jessie aan haar bruidsruiker dink. Jy weet hoe dit is. Ek sal maar die nuwe roos omhein.
Gaan kruip Jessie steeds weg as dinge te veel vir haar raak?

In die bed, ja. Handig. Maar deesdae gebeur dit net wanneer ’n ramp soos die ystervark ons tref.
Hoeveel keer het jy en Jessie trou-trou gespeel toe julle klein was?

Ek raak nou nog skrikkerig as ek skielik op iemand afkom met ’n kantgordyn of ’n wit tafeldoek in die hand. Jess het my getroumatiseer. Dis hoekom ek tot vandag toe nie gemaklik is in ’n hemp met ’n boordjie nie.

Wat het deur jou gedagtes gegaan toe jy Jessie se troureëlings moes kanselleer?

Daar was nie tyd vir dink nie. Ek sal egter nie ontken dat ek ’n paar planne met Jess gehad het nie.
Voel jy steeds dat tydsberekening die probleem met huwelike is?

Vir ’n getroude man is min dinge belangriker as goeie tydsberekening. Jy moet byvoorbeeld weet presies wanneer jy jou formele T-hemde uit jou aktetas moet haal. As jy te lank wag en hulle hoop ’n bietjie op, maak jou vrou onverwags die tas oop en raak snedig.
Waar sien jy vir jou en Jessie oor twintig jaar?

By mekaar. Mooi naby mekaar. Ek en Jessie en net soveel kinders as waarvoor sy kans sien. Behalwe dogtertjies. In my huis gaan niemand dogtertjies hê nie, want hulle word tieners, en as meisiekinders eers tieners is, is dit ’n ewige gesukkel met rugbykapteins.

VAN WAAR DIE INSPIRASIE: Ryk en roekeloos

Dina Botha vertel watter beroep Ryk en roekeloos geïnspireer het.

ryk en roekeloos_voorblad_high res

’n Foto in n koerant het onlangs my oog gevang. ’n Man wat sy mikrolenings besigheid met sy eie gesig in die advertensieblok adverteer. Toe ek die spesifieke advertensie ’n tweede keer raakloop het dit my verbeelding begin prikkel. Geldvoorskieters word gewoonlik voorgestel as harde en gewetenlose mense met wie jy nie speletjies speel nie. Dis gewoonlik desperate mense wat die terme en voorwaardes, wat dit ook al mag wees, gelate aanvaar en ek wil selfs sê trotseer. Want kom jy dit nie na nie sien jy ’n ander sy van die geldskieter.

Maar ’n geldskieter is ook net ’n mens. ’n Man wat, al kom hy op die oog af hard en genadeloos voor, ’n menslike hart besit.  En as die regte knoppies gedruk word kan daardie hart sag, buigsaam en toeganklik word.

En dis waar my held Liam Jameson toe gestalte kry. Aantreklik, arrogant en met die onaantasbaarheid wat sy rykdom hom bring. En wie beter as ’n damsel in distress en haar sieklike broertjie om so ’n man tot ander insigte te bring, die belangrike selfgesentreerde sakeman te laat verdwyn en die ware mens  na vore bring. Die man wat weet geld koop kosbare geskenke, nie kosbare harte of geluk nie.

Ryk en roekeloos – Dina Botha

 

ryk en roekeloos_voorblad_high res

Dit lyk of Liam hom wil vererg, want die wonderlike ryk meneer Jameson is seker nie gewoond daaraan dat iemand hom as ’n ongenooide gas beskou nie. Mense gooi seker hulle voordeure oop die oomblik wanneer hulle hom in sy Ferrari in die straat sien aankom. Hardloop dalk nog vir ’n rooi tapyt of twee. Maar nou is seker nie die tyd vir haar gedagtes om op ’n verspotte verbeeldingsvlug te gaan nie.

“Uit daarmee, meneer Jameson, hoekom is jy hier?”

“Wanneer gaan jy my Liam begin noem? Ons is mos nie meer vreemdelinge vir mekaar nie.”

“Meneer Jameson is goed genoeg vir my.”

Liam lig sy hande in ’n oorwonne gebaar op. “Nou goed, ek wil jou na ’n informele ete by my huis nooi. Vanaand. Kom so seweuur se kant. Hier is my visitekaartjie. Jy behoort my huis baie maklik te kry,” sê hy en haal ’n wit kaartjie met goue letters uit sy baadjie se binnesak.

Sy sit haar hand agter haar rug en duideliker kan sy dit nie maak nie. Sy gaan nie eens aan sy kaartjie raak nie, laat staan by hom vat. Iewers in haar kop registreer dit dat hy nie regtig gevrá het nie, hy het gesê hy nooi haar en het sommer aanvaar die antwoord is ja. Dis alles behalwe ’n proposisie. Hoe arrogant kan een man wees?

“Baie dankie vir die uitnodiging, ek is seker dit is veronderstel om ’n groot eer te wees, maar ek het reeds ander planne. Die antwoord is nee.”

“Watse planne?”

“Nie dat jy mag vra nie, maar ek moet vanaand my … toilette skrop. Ja, dis wat ek vanaand moet doen,” sê sy selfvoldaan met die uiters flou verskoning wat sy so vinnig uitgedink het.

“Toilette? Kan dit nie oorstaan tot ’n ander aand nie?”

Hy snap nie dat sy dit eintlik as ’n klap in sy gesig bedoel het nie. Die man is seker so gewoond dat meisies doen wat hy sê dat hy nie ’n nee herken as hy dit hoor nie. Dalk moet sy meer direk wees. “Wat ek eintlik wil sê, meneer Jameson, is dat ek geen begeerte het om vanaand of enige ander aand by jou te gaan eet nie. Hoekom sal ek wou?”

Liam lyk werklik verras deur haar effense tirade. Toe kry hy weer beheer. “Jy sal dalk wou, as ek dit finansieel die moeite werd vir jou maak?”

Vir sy gesondheid se onthalwe hoop sy nie hy bedoel iets onsedeliks nie, maar sy moet vra. “En hoe gaan jy dit doen, my betaal om vir jou te kuier? Of gaan jy weer aanbied om my brandstof te betaal?”

“Ek kan dit ook doen as dit ’n vereiste is. Wag, laat ek eerder tot die punt kom. My pa en my oupa eet vanaand by my en ek het hulle soort van laat verstaan dat ek ’n baie oulike ongekunstelde meisie in my lewe het. Vanaand wil hulle haar ontmoet.”

Sy moet die man verkeerd verstaan. Hy vertel skynbaar ’n leuen en nou wil hy haar gebruik om dit toe te smeer. “En jy het nie in jou swart dagboekie ’n nimmereindigende lysie van meisies wat jy kan nader nie?”

Haar sarkasme rol van sy skouers af. “Nie een wat daardie profiel pas nie, nee.”

“En dis belangrik dat sy ongekunsteld moet wees? Ek kan nie dink hoekom nie.”

“Jy ken nie my mense nie, maar as jy instem om vanaand vir my te kom kuier, kan jy hulle ontmoet en jou eie afleidings maak.”

“Die antwoord is steeds nee. Ek en jy het niks in gemeen nie, meneer Jameson, en ons gaan ook nooit hê nie,” sê sy beslis.

“Ek wou dit nie doen nie, maar jy laat my geen keuse nie. Ek weet jy sukkel finansieel en jy trek maar noustrop met al die goed wat betaal moet word. As jy instem om vanaand my pa en oupa te ontmoet is ek bereid om jou tweede maand se paaiement af te skryf. Totaal en al. Ja, jy hoef my nie ’n sent terug te betaal nie. Voordat jou oë uitspring van verontwaardiging, wil ek die voordeel vir jou uitspel. Jy het dan ’n volle ses weke tyd om die derde en finale paaiement bymekaar te maak. Dit gee jou tyd om dalk ’n pos iewers te kry. Jy hoef nie jou kar onmiddellik te verkoop nie. Dalk kry jy intussen ’n koper vir jou huis. Ja, ek het die te-koop-bordjie hier buite gesien. As ek om my kyk, sien ek net ’n meisie wat regtig sukkel om kop bo water te hou en wat kan doen met ’n reddingsboei.”

Natuurlik hoor sy wat hy sê, maar as sy dit opsom, kom sy net tot een gevolgtrekking. “Jy pers my af. Dis wat dit is, blatante afpersing.”

Ongeërg roer hy sy skouers. “Jy kan so daarna kyk as jy wil, maar ek sien dit as ’n wen-wen situasie. Jy sal nooit weer so ’n aanloklike aanbod kry nie, stry?”

“Ek stry nie, maar jou versoek … aanbod … of wat dit ook al was, grens aan die bisarre. Iewers moet jy iemand ken wat aan jou vereistes voldoen anders … anders raak jy regtig ’n weird ou,” sê sy presies wat sy dink.

Hy glimlag, glad nie geaffronteerd deur haar beskrywing van hom nie. “Ek is nie weird nie, Bianka, ook nie eksentriek nie. Wat ek wel is, is iemand wat van ’n sekere tipe meisie hou, en ongekunsteld is hulle nie juis nie. Hulle is meer … ”

“Los en gewillig?” spoeg sy dit amper uit.

“Nee, kommervry en ongekompliseerd. Iemand wat pret wil hê maar nie noodwendig ’n trouring in die oog het nie.”

“Verkieslik moet sy lang bene en ook lang los hare hê?”

“Dit ook, ja,” sê hy en glimlag tergerig.

“Met ander woorde, iemand wat mooi is maar nie ’n verbintenis van jou af verlang nie?”

“Ja, juis daardie tipe meisies, want ek is nie van plan om gou my alleenloperstatus vir enige iets meer te verruil nie.”

Bia onthou skielik van die bruingebrande swartkopmeisie wat hom hospitaal toe vergesel het. ’n Vlaag katterigheid spoel deur haar. “Hoekom vra jy nie een van jou vriendinne om die rol van plein en simpel Pocahontas te vertolk nie? Dit kan nie so moeilik wees nie. Was net die grimering af, trek vir haar ’n goiingsak aan en vleg haar hare. Koop vir haar ’n paar plat plakkies en daar het jy ongekunsteld. My voorstel het ’n paar byvoordele, jy gaan nie ’n klomp geld verloor deur iemand se skuld af te skryf nie.”

“Ek kan nie, want my pa herken daai tipe op ’n afstand. Dis hoe hy ook van sy meisies hou. En my oupa, wel hy kyk lankal verby die grimering en klere en sal dadelik weet as ek hom probeer flous.”

Liam lag haar uit. Om die waarheid te sê, sy dink hy geniet elke oomblik van hulle gesprek. Of dan ten minste haar tirade. Voordat hy nog iets kan sê, lui sy foon in sy sak. Sy oë versomber dadelik. “Verskoon my, dis belangrik. Middag, Oupa, gaan dit goed?”

Hy luister aandagtig en iets aan sy mooi lippe verklap dat hy nie gelukkig is nie. Toe kyk hy haar reguit in die oë en sy lees die onverbloemde uitdaging daarin. “Ja, Oupa, my vriendin sal daar wees. Wat is haar naam? O, dis Bianka Erwee, maar sy verkies om Bia genoem te word. Oupa sal van haar hou. Sy is regtig ’n oulike meisiekind.”

Liam groet en sy staar hom sprakeloos aan. “Hoekom het jy dit nou gaan staan en doen? Besef jy nie jy kompliseer net jou eie lewe verder nie?”

Liam skud sy kop. Hy het reeds al sy selfvertroue herwin en hy weet hy is in volle beheer van die situasie. Sy lees dit in sy koel kykers. “As ek hier uitstap, gaan jy mooi en helder oor my aanbod nadink en jy gaan besef dat jy nie kan bekostig om dit te weier nie. Moenie laat wees nie, my pa hou nie daarvan nie.” Liam sit sy visitekaartjie op die tafeltjie neer. “Sien jou later.”

Natuurlik is hy reg, sy gaan beslis daaroor nadink en heimlik weet sy dat dit die wonderwerk is waarvoor sy so naarstig gebid het. Sy sal dom wees om dit nie te gebruik nie. “Wag!” roep sy voor hy die deur kan bereik. Liam lig vraend sy wenkbroue.

“Daar is nie ander strings attached nie, is daar? Dis net ete en jou familie ontmoet en dan kan ek huis toe kom?” maak sy net doodseker oor die voorwaardes.

“Net dit.”

“Daar is ook nie ’n gedruk en ’n gesoenery nie?”

“Net as jy wil,” sê hy en sy oë is skielik weer vol tergliggies.

“Ek gaan dit ignoreer. Wat trek ek aan?”

“Enige iets in jou kas. Ek wil jou juis nie opgedollie hê nie.”

Onseker of sy die regte besluit neem, byt Bia haar onderlip vas. “Nou goed, ek sal daar wees.”

Jessie Jansen van Sjokoladesoene

Jessie Jansen vertel oor Bruno, sjokolade en  gee raad vir daardie soettand.

Sjokoladesoene (2de Uitgawe)

  1. Jy en Bruno is nou saam. Hoe gaan dit met jul verhouding?

Jong, ek hou hom maar dop met ’n arendsoog. Jy weet die ouens daar by Love Incorporated glo nog steeds daaraan om vroue van alle vorms en fatsoene vir advertensies te gebruik, maar daar sluip tog ook poppies met lyfies by die voordeur in. Die produkte wat Bruno-hulle vervaardig is vir almal bedoel, ook vir hulle. Nie dat dit lyk asof Bruno hulle raaksien nie. Ek weet nie, miskien is die ou se oë ook nie meer wat dit was nie, want hy kyk nog steeds na my asof hy nie genoeg van my kan sien nie. En ek … wel, ek is mal oor my man.

  1. Waar woon julle nou? By jou huis of sy woonstel?

Nooit gesien nie. Jy moet weet die man is skatryk. Kyk, ek het hom nie vir sy geld getrou nie, maar dis beslis ’n bonus. Bruno het vir ons ’n plekkie in Bishop’s Court aangeskaf. Ons bly rustig hier tussen al die hoë bome.

  1. Beskryf jul verhouding in een woord?

Vetpret.

  1. Hoe gaan dit met jou suster, Debbie, se verhouding?

So gelukkig soos twee tortelduifies in die Tuin van Eden. Dis net ’n gekoer van vroeg tot laat.

  1. Wat het jy geleer tydens die Love Incorporated-veldtog?

Dat ’n man ’n visuele wese is, dis waar, maar dat geen mens kan voorspel waarvan hulle sal hou nie. Ook is ’n mooi prentjie nie naastenby so belangrik soos hoe ’n vrou in hul arms voel nie. Veral nadat die ligte afgeskakel is, jy weet … ’n Soet, sagte sjokolade-malvalekker voel mos heeltemal anders in die mond as ’n suurklontjie.

  1. Jy is mal oor sjokolade. Het jy verskillende soorte sjokolade vir verskillende emosies?

A ja a! Selfs in die land van die liefde kom mans nog steeds van Mars en is hulle soms moeilik om te verstaan. As jy jou die dag vererg is dit nodig om lank en lustig aan ’n taai sjokolade-toffie te kou totdat jy bedaar het. Verkieslik een wat jou hele mond besig hou sodat jy nie kan praat nie, al brand jy ook om iets te sê.

caramel-toffee

  1. Is jy nog vriende met die ander vroue wat saam met jou in die advertensie was?

Nie juis nie. Ek wil nie graag aan daardie tyd herinner word nie, ek bloos te veel.

  1. Op watter plek tydens die veldtog het jy op jou ongemaklikste gevoel om in jou onderklere te verskyn? In die biblioteek? Op die strand? Die supermark?

Die biblioteek! Tussen al daardie bloukouse en bleeksiele en baie boeke, geskryf deur groot geeste waarvan die meeste al saliger is en versteekte vretende vismotte. Ek meen nou maar, dis ’n akademiese omgewing, geskik vir die inwin van kennis van goed en kwaad. Uiters onvanpas en verwarrend om in jou ondergoedjies daar rond te hang.

library2

  1. Voel jy na die veldtog meer gemaklik in jou lyf?

Jong, die ding van my lyf bly maar ’n teer saak. Ek is nog steeds nie maer nie, jy weet? Sal seker nooit wees nie. Ek is … e… wel, rond en gesond. En Bruno peusel deesdae saam as daar sjokoladetjies in die huis rondlê. Ek sien hy maak so ongemerk as moontlik saans sy broek se boonste knopie los as ons sit en televisie kyk. Maar ai, die man se soene is nog steeds so soet soos sjokolade.

  1. Hoe gaan dit met jou en jou dogter, Yvonne, se verhouding?

Ag, die arme kind gaan deur ’n ding. Maar dis ’n storie vir ’n ander dag, een wat dalk nog vertel kan word.

  1. Watter raad sou jy aan vroue gee wat met ’n soettand sukkel?

As jy skuldig voel terwyl jy sjokolade eet, maak dit nie die kalorieë minder nie. Jy kan dit netsowel geniet. En die gevolge dra …

 

VAN WAAR DIE INSPIRASIE: Amper ’n bruid

Wie of wat inspireer vir Magdaleen Walters? Sy vertel …

amper 'n bruid_voorblad_high res

Inspirasie is iets wat maar selde my stories laat gebeur. Gewoonlik skryf ek net die eerste sin en dan ontdek ek ’n heldin, ’n splinternuwe mens wat ek nog nooit voorheen gesien het nie.  Ek kyk wat sy alles aanvang en oorkom en ek skryf dit neer en dan kry ek ’n storie.

Die heldin van Amper ’n Bruid het my letterlik in trane gehad. Sy het baie diep in my hart gekruip. Ek het haar verskriklik jammer gekry op ’n stadium, maar gelukkig vir haar was daar ’n held in die omgewing, ’n gewone man wat ook maar net probeer om die regte ding op die regte tyd te doen en sy geliefdes na die beste van sy vermoë te versorg. Van die soort wat mens maar kan trou, dit sal nooit ’n fout wees nie.

Ek voel wel geïnspireerd wanneer ek ’n mooi Hallmark-fliek gekyk het of mooi musiek hoor, maar daardie inspirasie bring my nie ver nie. Dis daar waar “die tyre die teer strike”, soos Louis Malherbe in onvoorbeeldige Afrikaans gesê het, waar ’n storie vorm aanneem, m.a.w. op my stoel voor die rekenaar.

AMPER ’N BRUID – Magdaleen Walters

amper 'n bruid_voorblad_high res

Goeie aarde, kyk waar trek die tyd!

Die trourok ruik na lap. Gladde, peperduur, glanswit lap. Dit gly onder haar hande deur, fluister oor haar arms en haak vas nog voor dit behoorlik oor haar skouers is. Sy spook en wriemel, vorder sentimeter vir sentimer. Waar is sy? Is sy ooit in die regte gat? Daar is nou ‘n spul net voor haar gesig. Dit gaan aan die kroontjie in haar hare vashaak.. ag flippit tog, daar het dit nou vasgehaak. Dit gaan haar hare ruïneer. Sy sit in haar rok vas. Waar bly Aileen?

Iemand klop aan die deur.

Sy trap rond asof ‘n ander plek op die vloer haar uit die koekspul gaan kry. Die borduurwerk krap oor haar neus en maak seer. Daar gaan waarskynlik ‘n rooi streep sit. Ag, nee, tog! Sy gaan nies…

Iemand klop weer.

Flippit, dis nou ‘n tyd om hier aan te kom! Vir wat klop Aileen? Sy weet mos sy moes al ‘n halfuur gelede hier gewees het. Kyk net hoe ‘n drama is dit nou met die rok. Die bruid van die jaar en niemand om haar te help aantrek nie…

“Binne!” Frustrasie kook saam met die woord uit.

“O, jammer!”

‘n Manstem? Waar ís Aileen? Maak nie saak nie. Sy gaan haar rok skeur en haar hare afskryf as iemand haar nie nou hier uitkry nie.

“Help my!”

“Wat op aarde?”

Great. Dis Ben Froneman se stem. Wat de ongeluk soek haar pa se boekhouer in haar slaapkamer?

“Help my net, man!”

‘n Teenwoordigheid langs haar. Die vae reuk van naskeermiddel. Hande wat vat en trek.

“Nie op nie, af! Ek wil die rok aantrek!”

“Ek dink nie so nie…”

“Man, maak net soos ek jou sê. Ondertoe!”

Stilte. Waarvoor wag die mansmens? Paniek druk haar keel toe.

“Trek! Ek kry ‘n kramp!”

Hande wat vat en rem, oor haar kaal maag skuur in die proses. Los! wil sy hom toesnou.

En toe is die rok aan haar lyf en kan sy longe vol lug intrek.

“Genade!” snak sy soos ‘n ou mens.

Ben staan voor haar. Gewone werksklere, kakie en katoen. Hy’t nog nie ‘n pak aan nie. Of… het sy dan vergeet om sy uitnodiging vir hom te gee? Sal sy verdiende loon wees. Hy dink mos sy’s… nie sy tipe nie.

“Wat draai jy so om te help?” hoor sy haarself  baklei. “Amper kry ek ‘n angsaanval.”

“Dit was nie net amper nie,” sê hy droog.

Sy pluk en trek aan die lap, wikkel haar heupe, spring op en af tot die rok op sy plek is.  En toe bly sy so staan met die hals van die rok in haar hande vasgevang om dit bo te hou, die rugpante gapend met die satynknopies wat nog vasgemaak moet word. Sy lig haar kop en kyk in die spieël. Die rok bol glinsterwit om haar.

Sy’s ‘n prinses. ‘n Feëprinses. Die mooiste bruid wat daar nog ooit was.

Ben staan stil agter haar. Hul oë ontmoet in die spieël.

“Wat soek jy hier?” wil sy meteens verbaas weet, soos iemand wat skielik na die werklikheid terugkeer.

“Ek moet met jou praat, Michelle.”