Chanette Paul se nuutste: uittreksel uit Raaiselspieël

Raaiselspieël Proloog

 

Vooraf

 

“Verdomme!” Nils kyk misnoeg na die fynpuntkwassie. Nie dat dit dié se skuld is dat daar nou ‘n vermiljoenblerts op die doek sit waar daar ‘n fyn lyntjie moes wees nie. Dis sy hand wat aan die bewe geraak het.

Gegrief smyt hy die kwas neer en wikkel die palet van sy knoetserige duim af los. Vee sy hande aan die verfbesmeerde handdoekie af. Hy hoes diep en slymerig voor hy die voorlaaste sigaret uit die pakkie haal en met sy Zippo aansteek. Hy trek die rook diep in, hoes weer en staar na sy wys- en middelvinger waarin die sigaret vasgeknyp sit asof hy daarmee gebore is. Of sedertdien daaraan vasgegroei het. Die twee vingers het ook al verknokkel en lyk selfs meer grotesk as die ander. Mosterdgeel van die nikotien, die geriffelde naels bruin gerook.

Hy druk die sigaret dood in die oorvol asbak. ‘n Skeutjie Oue Klara sal dalk help. Hy laat sak die toonbankie van die jonkmanskas wat in ‘n drankkabinet omskep is, kry die erdebottel beet en ruk die prop af. Die jenewer mors op die spieëlblad toe hy daarvan in die glasie skink.

Ergerlik stamp hy die prop terug en plak die bottel langs die konjak neer. In die spieëlwand agter sy versameling likeurs sien hy brokstukke van homself.

Hy druk sy vingers deur die digte boskaas van sy hare, kam dit na agter. Silwer nou waar daar eers goud was, nes die bewerasie in sy hande waar daar eers sekuurheid was. Diep geëtste rimpels pleks van die gladde vel jare terug. Selfs die kuiltjie in sy ken lyk nou soos ‘n plooi waarin vuil opgaar. Weerbarstige grys wenkbroue staan ruig weerskante van die diep gleuf in sy voorkop. Agter brilglase, fletsblou oë wat deesdae lyk asof daar fyn rooi haarwortels uitgroei en die wit van sy oë toerank.

Met ‘n knak van sy pols sluk hy die jenewer af. Miskien is dit maar goed Mirella is nie meer daar om te sien hoe hy nou lyk nie. Selfs vir Stella kan hy nie meer verlei nie. Nie dat hy regtig wil nie, maar selfs ‘n ou man het sy behoeftes en hy en Stella kom ‘n lang pad saam.

Sy hand is op pad om die glasie neer te sit toe hy tussen die bottels deur die beweging agter hom sien.

Iets ruk deur sy lyf en die volgende oomblik ontplof sy ore. Vermiljoen spat teen die bottels aan, verf die versplinterende spieël daaragter toe. Sy rumatiekknieë gee stadig bes. Hy gryp na die blad. Dit hou hom ‘n oomblik lank regop voor die kettinkie meegee onder sy gewig. Nie verf nie, besef hy terwyl hy val. Bloed. Sy bloed.

Mirella …

 

Die pyn wat deur Frieda skiet, is verlammend. Die tuinvurkie vlieg uit haar hand. Sy snak na haar asem, gryp na haar hart asof sy die pyn kan vasvang. Haar bene gee mee en sy sak lomp op die gietysterstoel neer. Die glas bessiesap spat van die tuintafel af. Deur ‘n rooi waas sien sy die kristal versplinter, maar hoor nie die breekklanke nie.

“Mevrou?” Dis wat die tuinman se lippe sê, maar sy hoor nie die woord nie.

Die donkerte wat oor haar sak, is ‘n diep rooi kleur.

Toe sy bykom, lê sy op haar rug op die grasperk. Die kikoejoe prik deur die dun lap van haar hemp en teen haar kaal arms asof sy op ‘n stekelbed lê.

“O, jirretjie. O jirretjie, jirretjie,” kerm Amos.

“Hou jou bek, my magtag! Die Jirre se naam so ydelik staan en gebruik en dit hier waar ons dalk aanstons met ‘n sterfte op hande sit!” Edie se stem is skril van paniek. “Gaan foun die amblans! Mevrou?” Edie kniel by haar. “Ai, Mevroutjie, tog. Ag, dank die liewe Jirre. Sy’s by, Amos.”

Frieda skud haar kop. “Los die ambulans. Ek is oukei.” Haar stem kom skor.

“Maar hoe kan Mevrou dan nou oukei wees?”

“Net water. Asseblief.” Die dors is versengend.

“Ai, Mevrou is dan yskoud. En dit hier op ‘n dag wanneer mens die kraaie se kleintongetjies kan sien.” Edie vryf Frieda se hand. “Sie jy die water gaan haal, Amos!” skel sy oor haar skouer en vryf die ander hand ook. “Maar wat het dan gebeure, Mevrou?”

“My pa is dood.” Sy het dit nie besef totdat sy dit gesê het nie.

“Meneer Nils? Maar hoe weet Mevrou? Die selfoon lê dan in die sitkamer.”

“Hy is geskiet.”

“Maar wie …? Hoe?” Edie se oë rek. Sy sit terug van Frieda af, laat val haar hand. “Mevrou?”

Frieda probeer regop kom, maar die duiseligheid oorval haar weer. “Dit het nou net gebeur. Ag hemel, Edie, ek wou nog probeer vrede maak ná …” Hulle laaste uitval was nog meer verwoestend as vantevore.

“Mevrou? Is Mevrou altemit met die helmet gebore?”

Frieda maak haar oë toe teen die verblindende hoofpyn.Raaiselspieël

Lekker proeseltjie uit Trudy Reinhardt se “Dokter in Caprivi”

DOKTER IN DIE CAPRIVI : TRUDY REINHARDT

Hy plak sy tas sonder seremonie neer en steek sy hand uit.

“Goeiemiddag. Is jy dalk hier om my hospitaal toe te neem?” vra hy.

Andrea kan haar ore nie glo nie. Dis nie ‘n toeris nie. Dis sowaar dokter Blake Curlewis. Hy lyk beslis beter in lewende lywe as op ‘n foto. Baie beter. En, beste van alles, hy het sowaar opgedaag. Sy is so oorstelp haar woorde borrel sommer uit.

“Hoekom?” vra sy met ‘n glimlag. “Is jy siek?”

Nie ‘n sweempie humor flits oor sy gesig nie.

“As jy dokter Blake Curlewis is, ja, dan is ek hier om jou hospitaal toe te neem,” bevestig sy ietwat afgehaal toe sy besef haar grappie het platgeval. Sy skud die hand wat steeds na haar uitgehou word terwyl speldeprikkies deur haar arm skiet. Ongetwyfeld van blydskap oor haar redding en uitkoms hier is.

“Gaaf,” antwoord hy en los haar hand om sy tas op te tel.

“Welkom in die Caprivi, Dokter,” gaan Andrea deur haar roetine. “Ek hoop jy sal die tyd by ons hospitaal interessant vind.” Jy hoef dit nie interessant te vind nie, help net om die werk gedoen te kry, voeg sy in haar gedagtes by.

“Ekskuus, maar jou naam is…? Sy stemtoon verklap dis nie juis vir hom van veel belang nie.

*****

Die donkerbruin oë kyk tergend na haar en haar hart mis ‘n slag toe sy die fyn lagplooitjies langs sy ooghoeke sien. Haar blik dwaal spontaan na die aanloklike opwaartse krul van sy mondhoeke. Hy is heeltemal te aantreklik met die loshangende groen hospitaaljas wat ongeërg oop oor sy kakieklere hang. Geen wonder Ursula en Monica is so behep met die man nie. Wel, sy gaan beslis nie blou oogskadu, pienk lipstif of ‘n drukkoker aanskaf nie.

*****

Sy laat hom willoos begaan toe sy arms vertroostend om haar gaan en hy haar kop teen sy bors aandruk. Ná ‘n ruk begin hy versigtig en sag oor haar hare streel. Dit laat haar nog harder huil. Sy is nie ‘n dogtertjie wat simpatie nodig het nie maar ‘n volwasse beroepsvrou wat ten alle tye in beheer behoort te wees.

*****

Haar maag dop sonder waarskuwing ‘n slag om toe hy langs haar inskuif. Die man ruik nie net na eksotiese speserye nie, sy naskeermiddel het ook ‘n vae ondertoon van lemoene wat haar aan die intieme oomblikke van gister herinner. Iets waaraan sy nie wil dink nie.

Boonop het die verdekselse mansmens nie eens die moeite gedoen om die prop af te haal van die skeerroom wat hy die vorige dag gekoop het nie. Sy baardstoppels glinster blouswart in die vroeë oggendlig en skep die illusie van ‘n ruwe grootwildjagter wat op ‘n safari in die wildernis vertrek.

*****

Sy sien al die koerantberigte oor ‘n mediese span wat deur olifante uitgewis is…

Die volgende oomblik pluk Blake haar van die sitplek af en dwing haar langs hom tot op die vloer tussen die sitplekke. Sy wil histeries gil toe sy besef Gunther het die enjin afgeskakel. Hulle enigste kans om weg te kom, indien daar ooit so ‘n kans was, is daarmee heen. Dis nie hoe sy haar haar einde voorgestel het nie.

Sy voel ‘n sagte streling oor haar hand en toe sy versigtig loer, sien sy hoe Blake haar woordeloos probeer troos. Met veersagte, ligte beweginkies vee sy wysvinger oor haar hand. Vreemd genoeg laat dit haar effens bedaar. Sy is nie alleen in hierdie angswekkende situasie nie.

Sy het nog nooit ‘n gesprek met oë gevoer nie, maar besef dis wat nou tussen haar en Blake gebeur. Sy oë praat met haar, kalmeer haar.

Asof gehipnotiseerd kyk sy hoe Blake sy hand baie stadig tot teen haar lippe lig asof hy weet. Liggies hou hy sy vinger teen haar lippe en swaai sy kop met byna onsigbare beweging van kant tot kant om ‘n “nee” na te maak. Sy sluit haar oë en wag geluidloos op haar knieë vir die eerste slag.

*****

Sy het nooit voorheen so iets ervaar nie. Nie gedink haar lyf kan so verraderlik raak nie. Haar in so ‘n verstandelose toestand laat verval nie. Toe sy arms glad om haar gegly het in die diep kant van die swembad het sy haar beslis nie teëgesit nie. Nee, soos ‘n bakvissie in sy oë gekyk.

Die oomblik toe sy lippe, nat van die swembadwater, hare met brandende begeerte opgeëis het, was sy verlore. Sy het hom nie net laat begaan nie, maar met oorgawe meegedoen. Nie eens naastenby haar passie probeer onderdruk nie.

*****

Dit voel asof sy maande lank weg was en sy wil liewer nie eens dink hoe aaklig die aanpassing gaan wees waar daar nou geen Blake Curlewis meer is nie.

Boeiende proe-stukkie uit Frenette van Wyk: Twee maal so lief

Onwillekeurig bespied sy die omgewing vir ’n bekende gesig. Toe bekyk sy die grasdak hier voor haar met gespanne nuuskierigheid.

Sy groot vensters weerkaats net son en veld. Daarbinne lyk alles donker en stil.

Kruip die mense hier dan deesdae weg vir die hitte? Of is die gedagte aan ’n weersiens met haar vir die Welthagens iets wat hulle tog nog wil uitstel solank hulle kan?

Selfs die houtdeur waarop ‘Ontvangs’ staan, lyk opeens onvriendelik toegestoot.

’n Angstigheid roer liggies in haar toe sy die nuwe, vreemde sementpaadjie betree. Maar sy durf die ent daarheen met selfversekerde treë en regop skouers aan.

Haar vingers klop met dieselfde onreëlmatige ritme van haar hart aan die deur voordat haar handpalms klam om die koperhandvatsel gly.

Die oomblik waarop sy haar so lank voorberei het, het aangebreek. Binne oomblikke gaan sy weer vir Roos sien …

Die deur bly dig toe. Met effens swaarder hartslae trap sy ’n treetjie terug en loer dan versigtig deur die venster. Dit staar stom en geheimsinnig na haar terug en sy draai onseker om.

Sefanja is nog besig om haar bagasie uit die Landrover te laai en beduie dat sy om die hoek moet gaan.

Sy stap weer flink met die sementpaadjie aan, om die hoek tot by die naaste deur. Dit staan gelukkig oop. Haar hart bons al meer ontembaar terwyl sy haar blik versigtig deur die donker koelte van die vertrek stuur.

Die volgende oomblik ontplof haar binneste in ’n chaos van emosies. Dis Roos hier voor haar, in ’n rolstoel.

Haar hand vlieg onwillekeurig na haar mond en smoor ’n uitroep. Skok en ontsteltenis golf deur haar wese terwyl sy verskrik toekyk hoe hy uit die rolstoel probeer orentbeur.

Skakerings blonde kuif hang in verstrooide halms oor sy voorkop. Sy lippe pers vergeefs op mekaar en sy hele gesig verraai ’n moedelose stryd. Want sy voete roer nie. En sy bene wil hom nie dra nie. Sy bolyf beur met gekreun orent en die are in sy arms en hande bult tot barstens toe. Maar dis net die krag in sy arms wat hom halfpad lig, voor hy weer in die rolstoel terugval.

Toe hy onverwags opkyk, staar sy vas in die onvergeetlike leeubruin oë waarvan sy vir baie nagte gedroom het. Maar nou brand ’n onbekende vuur in sy blik.

“Hallo, Roos.” Haar stem kraak onnatuurlik. “Mag ek binnekom?” Maar haar bene bewe nog te veel om ’n tree vorentoe te waag.

Hy antwoord nie, vee net die sweet met die rugkant van sy hand van sy voorkop af en kyk nie langer vir haar nie.

Bedagsaam bedwing sy haar emosies en trap versigtig oor die drumpel. Stadig stap sy die kantoor binne. Ten spyte van die rolstoel drink haar oë die meesleurende lyne van sy gesig dorstig in: die hoekige kaaklyn, die skoon, sterk kontoere van sy ingekeepte wange en prominente wangbene, determinasie en intelligensie in suiwer lyne uitgebeitel oor sy voorkop. Sy aantrekkingskrag het vir haar nog altyd in die onwrikbaarheid van sy voorkoms en sy karakter gelê.

Maar die fierheid en trots in sy houding wat haar eerste na hom aangetrek het, ontbreek op hierdie oomblik geheel en al. Hy lyk … broos.

So broos en stukkend soos sy was. Hoeveel maande het sy nie gehuil, getreur, hom gehaat vir sy liefdesverraad nie!

Maar maande se verwyte en al haar goeie voornemens om haar teen hom te verhard smelt in hierdie een oomblik weg.

Wat het veroorsaak dat hy so swaarkry?

Sy wil hom nie dadelik daarmee konfronteer nie. Sy wil hom tyd gee om eers weer  homself te vind en wag totdat sy skouers weer orentskiet en hy haar vol in die gesig kyk.

Sy soek weer die sagtheid in sy oë wat sy voorheen geken het, maar dit is ook spoorloos weg. Net die desperate, byna verwilderde hulproep skyn steeds uit sy blik.

“Verwag jy my dan nie?” vra sy onbeholpe.

“Ek kan ongelukkig nie opstaan om jou behoorlik welkom te heet nie.”

Dis wonderlik én aaklig om sy diep stem weer te hoor. Dit vibreer met troebel nuanses in haar ore, nes sy oë en die res van hom, so bekend en tog so vreemd vir haar.

“Dis nie … nodig nie,” probeer sy hom, miskien meer haarself, gerusstel.

“Natuurlik nie. Niemand het ’n invalide nodig nie. Jy beslis ook nie.”

Sy skud haar kop.

Sy was gereed om hom te wys sy het hom nie meer nodig nie. Sy was gereed om haarself te handhaaf teen ’n sterk, selfversekerde, onwrikbare, verraderlike man wanneer sy terugkom. Dis egter ’n totaal ander, stukkende Roos wat hier voor haar sit.

“Ek is jammer …” mompel sy.

“Jammer?” grinnik hy. “Het jy regtig teruggekom net om jammer te kom sê? Of om jou in my ellende te kom verlustig!”

Sy wil haar verdedig teen sy verbitterde uitbarsting, maar sy wysvinger mik dreigend na haar toe.

Kan sy nie maar om die lessenaar storm en die pyn in sy oë met troossoene stil nie? Haar vingers deur sy deurmekaar goue hare kam en sy bitter mond met haar lippe sagmaak nie?

Hierdie buitensporige houding van hom teenoor haar verwar haar nog meer.

“Hallo, Beaudine!”

Sy swaai om, verlig dat iemand opgedaag het om haar te kom bevry uit ’n nagmerrie waarin sy onverhoeds verstrengel geraak het.

“Sukkel hy al klaar met jou?” Dis Jefferson, Roos se jonger broer, wat ingestap het en met ’n ontevrede blik na sy broer beduie. Maar toe hy weer vir haar kyk, glimlag hy waarderend. “Nog net so mooi soos altyd. Dis so goed om jou weer …”

“En net so naïef ook,” werp Roos tussenin toe sy onverwags bloos. Sy mondhoeke trek misnoeg afwaarts en sy oë priem onsag in hare toe sy weer vir hom kyk.

“Hallo, Jeff,” groet sy verleë, maar hy gluur reeds weer sy broer kwaai aan.

“Roosevelt, wil jy nie maar net vir vandag probeer om nié die atmosfeer te verongeluk nie?” Jeff wag nie vir ’n antwoord van sy broer nie. Hy vat Beaudine se hand en sleep haar behoorlik agter hom aan in die rigting van die deur.

Sy volg hom met ’n hart wat wild en teësinnig klop.Twee maal so lief