Rika du Plessis: Kayla se erfenis

Die volmaan gooi blink vlekke op die water so tussen die boomtakke deur en dit lyk vir haar so aanloklik dat sy nie aarsel nie. Sy stroop haar klere van haar af en duik in die water in. Die water is nog louwarm van die dag se son en omvou haar naakte liggaam strelend. Sy swem ‘n paar keer energiek heen en weer deur die water en swem dan na die trapleer om uit te klim. Dan stol haar bloed feitlik toe sy die stem bokant haar hoor.

“Die water is lekker, nè?”

“Aldo…! Kon… kon jy nie gesê het jy is hier nie!” hyg sy van skok. Sy het hom nooit hier in die donkerder kol van die nag sien sit nie.

“En die mooi vertoning daardeur mis?” vra hy tergend.

“Gee pad… ek wil uitklim… loop!” beveel sy nou eers omgekrap.

“Ek wil nie,” sê hy laggend en die volgende oomblik duik hy langs haar in die water in. Sy kop kom oomblikke later skaars ‘n halwe meter van hare af bo die water uit, en nou sien sy dat sy bolyf kaal is.

“Het jy nie gehoor wat ek sê nie? Gee pad hier dat ek kan uitklim,” sê sy bevelend, maar dan gryp hy haar ineens aan die skouers en trek haar lyf styf teen syne aan. Sy lippe kom ferm op hare neer en hy soen haar so driftig dat haar sintuie oomblikke lank tussen hemel en aarde hang. Sy snak na asem toe sy teen haar voel dat sy liggaam ook nakend is en dat sy lyf ‘n duidelike teken van begeerte teen haar uitsein.

Kayla voel hoe haar eie liggaamshunkerings haar verraai en onwillekeurig gly haar lippe ontvanklik onder syne se aandrang oop. Dit is die skril geskreeu van ‘n kat iewers in die nabyheid wat haar tot haar sinne terugruk en sy stoot hom driftig van haar af weg.

“Wat dink jy doen jy?” hyg sy kortasem.

“Komaan, Kayla… jy het dit ook geniet,” antwoord hy met ‘n terglaggie.

“Jy sal jou wat verbeel! As jy dit ooit weer waag… gee nou pad!” sis sy terwyl sy wil verstik in sy terglag.

“Vir ‘n tweede maal, nag, Kayla,” terg hy voort en klim dan sonder huiwering uit die swembad uit. Onwillekeurig volg haar oë sy naakte gespierdheid so ver sy in die maanlignag kan sien en eers dan laat sy haar asem lank en rukkerig uit. Haastig klim sy uit, gryp haar klere en draf terug huis toe.

Leave a comment