Jeanette Stals

Jeanette Stals 2 (Katoog)

Aanvanklik skryf Jeanette Stals kortverhale en in 1981 skryf sy in vir JP van der Walt en Seun se landswye romansewedstryd. As wenner van die tweede prys word Verlief, Verloof, Verdwyn gepubliseer. Die liefdesverhaal Om die Berg Te Klim verskyn heelwat later by Human en Rosseau en in 2002 ook in groot druk.

Afgetree uit die onderwys, en werksaam as toergids en gastehuis-eienaar, kan sy meer op skryf konsentreer en omdat sy graag misdaadfiksie lees, begin sy haar toespits op die spanningsgenre. Haar eerste boek in die reeks met Luna as hoofkarakter, Katoog, verskyn in 2016. Vermis is die tweede boek met Luna as hoofkarakter. Sy werk tans aan ’n lywige historiese roman.

Chanette Paul sê: “Jeanette skryf uitstekend en baie atmosferies.” Jeanette Stals het ook ’n boek selfgepubliseer, Ter  wille van beeste, wat op amazon verkoop. Kommentaar van ’n leser: “Die skryfstyl is besonder goed, subtiel en sensitief, die verhaal verveel nie vir ’n oomblik nie en jy word teruggevoer na ’n Suid-Afrika van die verlede.”