Ridder SEAN TUCKER

A! Nog ‘n bedonnerde, egoïstiese baie belangrike persoon om af te neem, sy kan nie wag nie. Sy hang haar kamera om haar nek en mik om die swaar sak met haar toerusting op te tel, toe hy skielik langs haar buk. “Ek help jou gou.”

“Dit is regtig oukei, ek dra hierdie sak elke dag.” Sy glimlag stram en wens hy wil nou by die ander celebs gaan staan, maar hy steur hom nie aan haar nie en tel die sak op. “Ek wil skote van julle baie belangrike persone op die rooi tapyt neem, so jy kan die sak sommer net hier naby neersit.”

Hy knik. “Die baie belangrike persone sal niks minder verwag nie.”

Sy enigmatiese stelling laat haar frons. “Jy is mos een van die baie belangrikes, waarom sluit jy jouself by hulle uit?”

Hy lyk ietwat verbaas. “Ek? Baie belangrik? Jy verwar my seker met iemand anders, ek is die platejoggie vanaand, net nog ’n DJ.”

Net nog ’n DJ se voet. Hierdie is soos wat mans in die outyd gelyk het toe Sean Connery langs die beskrywing van aantreklik in die HAT verskyn het. En dan het hy nog goeie maniere ook! Dalk is hy ’n dief? Die toerusting in daardie sak het byna al haar erfgeld gevreet. “Wil jy nie die goed sommer hier neersit nie? Ek, e, ek wil nog uitwerk waar ek gaan staan.”

“Jy bedoel seker waar óns gaan staan. Kyk, ek gaan eerlik met jou wees, ek hou jou al ‘n rukkie dop en vandag is die eerste dag wat ek genoeg moed bymekaar geskraap het om met jou te gesels. Ek moet eers oor ’n uur op my pos wees en jy kan doen met die dienste van ‘n lyfwag, hierdie baie belangrikes kan aggressief raak.”

Sy is vir ’n oomblik nie in staat daartoe om te praat nie. “E, dophou? Jy vir mý?”

Hy knik halfverleë. “Ek was nou al die platejoggie by twee troues waar jy die foto’s geneem het. Elke keer hoop ek dat jy die seremonie sal bywoon, maar dan verdwyn jy net soos ’n skim.”

Haar hartklop neem ’n vreemde tempo aan. “O. Wel, ek, e, ek doen nie regtig troues nie. Foto’s is net prentjies, die perfekte illusie van iets wat kan wees. Maar die formaliteite en die kousband en die blomme… dit is dan wanneer mens agterkom dat alles net oor show gaan. Ek hou nie daarvan nie.”

Hy beduie na ‘n gepaste plek om haar toerusting op te slaan ’n entjie voor hulle en word skielik ernstig toe hy praat. “Ons stem al oor een ding saam, die troue gaan klein wees. Dit is ’n goeie begin, foto-meisie, en ’n goeie begin is half gewin.”