Uittreksel uit die besonderse verhaal van Madelie Human: Terug na jou.

Terug na jou

Etienne kyk rond na die gaste wat rustig kuier oor geurige borde kos. Skielik verstar hy. By die tafel in die verste hoek van hulle sit niemand anders nie, as Mercia in die geselskap van ’n man. ’n Dolksteek van suiwer jaloesie gaan deur sy hart. Rustige aandjies tuis, nè? Die twee sit met koppe intiem bymekaar en gesels. “Wie is daar saam met jou ma?”

Gerard volg sy blik en bly verbaas stil. “Ek het nie ’n idee nie.”

“Kyk daar, hy soen haar hand en dit lyk of sy dit geniet ook nog.” Etienne sluk byna sy servet, wat hy besig is om oop te vou, in. Nie ’n sosiale vlinder nie, nè? Sy lyk dan alteveel na ’n skoenlapper met daai mooi rok wat sy aanhet en dit vir ’n ander man.

“Rustig nou, Prof,” waarsku Gerard vinger in die lug. “Reël nommer een van die dating game is dat jy nooit moet wys dat jy jaloers is nie. Maak ook eers seker van jou saak voordat jy die ander party van enigiets beskuldig. Dis dalk ’n heel onskuldige uitstappie vir al wat ons weet. Ma gaan gewoonlik slegs uiteet saam met ’n man as dit ’n sake-afspraak is.”

“Sake-afspraak my voet, mens soen nie iemand se hand terwyl jy oor besigheid onderhandel nie.”

“Jy sal jou verbaas wat gebeur in die naam van saketransaksies,” grinnik Gerard met ’n glinstering in sy oog. “Janneli, wie is daar saam met Ma?” vra hy toe Janneli terugkeer van die kombuis af.

Sy gaan sit op die stoel wat die kelner vir haar uittrek. “O, dis die Fransman.”

“Fransman?” vra Etienne met ’n suur smaak op sy tong.

“Dis die hoof van ’n Franse hotelgroep wat gekom het om wynaankope hier te kom doen. Hy en Ma het glo vanoggend ’n reuse kontrak onderteken,” verduidelik sy.

“En hy is so ingenome met die kontrak dat hy haar hande soen? Kyk, daar doen hy dit weer!” Etienne styg byna van sy stoel af op.

Janneli giggel onderlangs. “Die Franse dink mos hulle is die wêreld se beste minnaars. Hulle hou van ’n gesoenery op die hand.”

“Minnaars?” Hierdie keer styg Etienne werklik op. Hy sal die Franse haantjie ’n ding of twee gaan wys! Hy lyk buitendien of hy Mercia se seun kon gewees het. Maar dit sê niks. Is hy dan nie self ’n voorstander van ouderdom wat nie ’n verskil behoort te maak nie? Hy is einste ’n twee en sestigjarige verliefde sot.

“Sit!” sis Gerard en trek hom neer op sy stoel. “Ek sê mos, hou dit kalm. Moenie wys jy is jaloers nie. As jy jou cool verloor, het jy klaar die game verloor.”

“Dis g’n ’n speletjie nie, jong man, my lewe hang hiervan af,” kla Etienne moedeloos.

Gerard kry openlik baie lekker. “Ek het jou mos gesê die prof het die skoot hoog deur,” fluister hy vir Janneli met sy oë spottend op Etienne. “Jy moet maak of dit niks is nie, Etienne. Laat haar al die pad wonder of jy omgee. Dis hoe ’n man dit doen.”

“Luister ou seun, ek is nie meer ’n kuiken nie. Ek het min tyd oor vir die dating game, soos jy dit noem. Ek moet nou my saak beredder, of my koppie sal lankal al begin bewe het teen die tyd dat jou ma haar keuse gemaak het. Ek gaan daai Fransman nou op sy plek sit. Jou ma het net een minnaar nodig en dis ek.” Hy mik weer om op te staan.

Hierdie keer is dit Janneli wat sy baadjie se mou vasvat. “As jy nou ’n spektakel hier veroorsaak, gaan my skoonma jou nooit vergewe nie. Luister na Gerard,” fluister sy dringend.

“Kom, ons bestel liewer vir ons ’n lekker bottel wyn. Waarvoor is jy lus?” vra Gerard paaiend.

Gelate sak Etienne op sy stoel terug. “Ek dink ek het nou eerder van jou oupa se brandewyn nodig,” kla hy dikbek. Gerard en Janneli kyk met baie pret in hul oë na mekaar, maar sê niks. “Ja, kry julle maar lekker, julle hou mos nog steeds wittebrood.”

“Toemaar, Prof, een van die dae eet jy ook wit brood al die pad. Luister net wat ek vir jou sê, dan sal alles goed gaan.”

“Nou glo ek sowaar ook dat liefde dieselfde is vir ouer mense as vir die jongklomp,” Janneli klop hom simpatiek op die hand.

Etienne draai doelbewus sy stoel sodat hy nie vir Mercia en haar vryerige metgesel hoef te kyk nie. Netnou veroorsaak hy werklik ’n spektakel en sy lys van sondes teenoor sy Mia is alreeds so lank.

Advertisements

Splinternuwe Romanzas!

Ek droom van ‘n lewe waar ek boeke kan lees teen betaling!

 

As ek nou weer bv. kyk na hierdie maand se Romanzas, sien ek so in my geestesoog: ek, opgekrul in ‘n stoel iewers langs die venster aan’t lees aan die heerlikste liefdesstories, terwyl Tafelberg waghou. Lekkerrrrrrr! ‘n Meisie mag mos maar droom. 🙂

 

En dit is presies wat die meisies in hierdie nuutste Romanzas doen: hulle droom. En hoe wonderlik, hul drome word elke slag bewaarheid!

1. Temmer van haar hart – Marie-Louise Cronjè:

Suster Willda se streke in die hospitaal het haar al in die moeilikheid gehad, veral by een dokter wat sy net nie kan veel nie. Sy word egter van ’n wandaad beskuldig wat haar lewe verander.

Temmer van haar hart

 

2.Ridder vir Jenny – Vera Wolmarans

Jenny kies ’n houthuisie op Seehondbaai om haar eerste roman te gaan skryf. Sy vorder egter nie juis nadat sy en ’n te aantreklike man se paaie gekruis het nie. Is hy regtig getroud?

Ridder vir Jenny

 

3.Son in die suide – Alexa Steyn

Misha vlug Skotland toe ná ‘n traumatiese voorval. Toe sy uiteindelik terugkeer, is daar baie gou twee mans in haar lewe, een daarvan haar eksverloofde. En ’n plaasaanval verander haar lewe.Son in die suide

 

En dan, ‘n spesiale verhaal wat my regtig aangeraak het:

Terug na jou – Madelie Human

Jare gelede het Mercia haar liefde vrygelaat, soos mens ’n boemerang van jou af weggooi. Nes die boemerang het haar liefde nou na haar toe teruggekeer. Sal sy hierdie keer daarin slaag om dit vas te hou en vir altyd te koester?

 

Kyk net na hierdie pragtige voorblad en lees ook in die volgende blog-inskrywing die uittreksel uit hierdie spesiale verhaal wat Madelie so meesterlik geskryf het.

Terug na jou

 

‘n Mens kan net nie misvat met enige van hierdie Romanzas nie.

Lekker lees!

 

Monique

Passie en ‘n bittermooie liefdesverhaal in Die Ooreenkoms

Ek is vies vir Sophia Kapp. Sommer baie.

 

Maar, helaas, dit is ‘n lekker-vieswees. Die heruitgawe van Die Ooreenkoms, wat in Junie weer by LAPA verskyn het, het my kom oorrompel en wil my geensins met vrede laat nie. Het jy al iemand sien kosmaak met ‘n boek in hand? Sedert Vrydagaand is ek daai iemand.

 

Petronel Cilliers, die heldin in Die Ooreenkoms, is besig om een van my mees gunsteling heldinne te word wat Kapp nog geskep het. Sy is ‘n mens, gevul met swakhede en passie, maar dat sy stylvol is en haar man kan staan, is baie duidelik. Ek geniet haar vreeslik. En dan natuurlik is daar Adam Rossouw, aantreklik, manlik, sterk. Net een swakplek: Petronel.

 

Hulle is pole uitmekaar, tog word Adam Rossouw, lid van Kaapstad se sosiale elite, en Petronel Cilliers, sanger in ’n grot van ’n kroeg, ná ’n nag van passie onherroeplik aan mekaar verbind.

 

Kapp is bekend vir haar menslike stories: haar heldinne is nie perfek nie en haar helde is realisties. En skryf, die mag sy maar. Haar stories takel werklike issues en haar humor keer dat die stories ooit sentimenteel raak.

 

Ek is nou eers halfpad klaargelees, maar ek kan sien dat my bedliggie vannag nog laat gaan bly brand… (Adam. Ek was lanklaas so verlief op ‘n man. Sug.)

 

Kry die boek. Glo my, jy sal net so lekker-vies vir Sophia Kapp wees.

 

Die Ooreenkoms

Thys Krige is terug!

As daar nou een skrywer is wat my daai regte moet-blaai gevoel gee, dan is dit Peet Venter met sy rillers! En hy is terug met die derde aflewering in die Thys Krige reeks, Waar Boosheid Broei.

Dit is die derde spanningsroman in die Thys Krige-reeks, waarmee Venter naam gemaak het en hierdie keer lei Krige se speurinstink hom na Zimbabwe, waar ’n joernalis iets aanskou het wat hom sy lewe kan kos.

Kyk uit vir hierdie enkeltitel wat pas by LAPA verskyn het.

 

Waar boosheid broei

Lees ook gerus my resensie op Peet Venter se vorige Thys Krige-spanningsroman, Ou Bloed:

Onrusbarend, ontstellend, realisties – ‘n maalkolk van emosies met die lees van hierdie boek.

 

Min sal ‘n boek jou so aangegryp en vasgenael hou, vanaf die heel eerste paragraaf van die boek tot aan die einde, soos Peet Venter se Ou Bloed. Die eerste hoofstuk is ‘n absolute kunswerk! Die beskrywing van die karakter se bewings, sy rituele, sy gedagtes. Dit suig jou in, bladsy vir bladsy, sin vir sin, woord vir woord. Elke woord noukeurig uitgesoek tussen ander woorde en versigtig op die regte plek geplaas, sodat die leser nie kan wegkom nie. Al wil jy ook. Want die tema is nié gemaklik nie…

 

Ou Bloed is die opvolg van Peet Venter se Dieper as Bloed wat verlede jaar verskyn het.

Die boek vertel die verhaal van ‘n speurder, Kaptein Thys Krige, wat ná sy pa se moord onverpoos na die moordenaar bly soek. Terwyl hy op die spoor van die moordenaar is, krap hy onwetend die sweer van ‘n sindikaat oop waarvan die bose tentakels wyer en dieper strek as wat Krige ooit kon raai.

Wat Venter goed regkry, is om die storie te weef tot ‘n ingewikkelde, taai, multi-dimensionele storielyn met oorsrponklike temas en karakters. Van ‘n vigilante-moordenaar wat sy moorde slegs op pedofiele mik en wat die storie tot ‘n morele tweespalt dryf, tot ‘n menseroof-sindikaat wat kinders ontvoer en verkwansel, wat die donkerste vlek van die mensdom blootlê.

 

‘n Uiters spanningsvolle verhaal waarby die leser hart-en-siel betrokke raak. Die temas word rou senuweepunte wat sonder genade of verdowingsmiddels geknyp word en jy as leser móét ‘n opinie vorm: wanneer is reg en geregtigheid genoeg? Wanneer word ‘n onvergeeflike daad geregverdig?

 

Howel die temas universeel is, spreek dit dalk selfs duideliker tot die Suid-Afrikaanse gehoor vanweë die bekendheid van ‘n korrupte samelewing, asook sekere unieke kenmerke wat (trots?) Suid-Afrikaans is. Die leser kan daarom vereenselwig met die magteloosheid van die protagonis wat nie alleenlik moet stry teen die drek van die samelewing nie, maar ook teen die regsdienaars wat veronderstel is om beskerming te bied teen hierdie booswigte.

Venter skets ‘n onrusbarende, ontstellende verhaallyn wat wys hoe diep die verval van die mensdom lê. Hoe skynbaar onverwante misdade deel vorm van ‘n ingewikkelde netwerk van boosheid wat die mens op elke vlak in die samelewing raak. As leser raak jy ongemaklik wanneer jy besef hoe na aan die waarheid hierdie storie werklik is.

 

Ek het ‘n bad gaan tap om hierdie boek te begin lees: my intensie, om te ontspan vir ‘n uur of wat. Twee geysers en ‘n hele Sondagmiddag later, in ‘n yskoue bad, het ek die laaste hoofstuk klaargelees. Hierdie boek het my nie toegelaat om hom neer te sit nie!

 

Sterk aanbeveel. Vir albei geslagte ‘n móét lees.

 

 

Hitte teen die koue: ‘n lekker winterlees

Al die Romanzalesers, na ‘n rukkie stilte (en ‘n chaotiese tyd by die werk!) is ek reg om af te skop met al die heerlike Romanzas wat in Junie by LAPA verskyn het.

 

Uit die pen van Dina Botha:

Meer as ’n speletjie – Dina Botha

Zialee bevind haar as ’t ware onder een dak met die man uit haar verlede en die een

wat sy nou liefkry. Sy moet teen wil en dank meedoen aan die speletjie. En dit maak

seer.

 

Meer as 'n Speletjie

Van Begin tot Einde –  Magdaleen Walters
Madri verag die plaas se nuwe eienaar en veral sy gesofistikeerde seun. Maar die

volgende keer toe sy hom sien, is hy in ’n gesagsposisie oor haar aangestel. En sy

raak onseker oor veragting …

Van Begin tot Einde

Derde keer gelukkig – Frieda van der Westhuizen
Mienkie aanvaar die eerste die beste pos nadat haar verloofde haar ontnugter het.

Haar nuwe werkgewer in Namibië is ’n droomman. Maar daar is reeds ’n vrou in sy

lewe …

 

Derde keer gelukkig

Kersiebruid – Elsa Drotsky
Die man wat Reanie liefhet, het ’n verhouding met iemand anders. En anders as

Reanie, het daardie vrou nie erg aan sy tweeling nie. Gaan die man dit nooit insien

nie?

 

Kersiebruid

 

Lekker lees!

 

Kyk ook uit vir heerlike proe-stukkies.

 

Monique