Troue in ’n towerbos – Rosita Oberholster

troue-in-n-towerbos-voorblad_high-res

Hannah druk vir die hoeveelste maal die silent-knoppie op haar foon. As Malan Fouché haar nog een maal bel, gaan sy skree. Dit was seker die vyftiende keer in een week dat sy nommer op haar selfoonskerm verskyn het. En natuurlik los hy nie boodskappe nie. Seker benede sy stand, maar sy sal hom wys. Hy kan bel tot sy aantrek­like bakkies alle skakerings van blou is, sy sal nie haar foon antwoord nie.

Is jy nie nou baie kinderagtig nie, kla haar gewete haar aan. Nee, nie kinderagtig nie. Dalk ’n bietjie vermakerig, kap sy terug. Jy gee hom nie kans om homself te verdedig nie. Hy is nie eens bewus van die ware rede vir jou bedanking nie, hou haar binnestem hardkoppig vol. Sy skud haar kop. Dan is dit maar tot daarna toe.

Hannah gaan sit by haar kombuistafel en slaan die koerant oop. Monty lê opgekrul op ’n stoel langs haar en sy streel ingedagte oor hom. Operasie werksoek, heel van voor af. Sy kyk gesteurd op toe sy ’n klop aan die deur hoor. ’n Vin­nige blik na die kombuishorlosie bevestig haar vermoede. Dis net mooi tienuur. Gewoonlik die tyd van die oggend wat tannie Marie langsaan lewe kry en ontdek sy het nie genoeg suiker of melk vir haar oggendkoffie nie. Dan klop sy aan almal se deure.

“Ek kom,” roep sy ongeduldig toe ’n tweede klop deur die woonstel dawer.

Sy haal die veiligheidsketting af en sluit die deur oop. ’n Diep sug ontsnap oor haar lippe. Iewers moes ’n paar drade in die heelal gekruis het. Of geknoop het. Of sommer net morsaf gebreek het. Hoe is dit moontlik dat sy haar nie kan draai of sy moet hard sluk aan die een of ander vernedering voor Malan Fouché nie? Hier staan sy al weer in ’n gehawende pienk kamerjas, met ’n kop wat soos ’n kraaines lyk, en nie ’n strepie grimering op haar gesig nie. Sy kyk af na haar voete en wens ’n tornado of iets dergliks wil die stad tref. Haar ou skaapvelpantoffels lyk asof Stanley hulle beetge­had het.

Kon sy nie maar vroeër die res van die kar­tondose uitgepak het nie? Daarin is splinternuwe slaapklere. Dit het sy nou van uitstel. Sy kyk op en wens dit was moontlik om haarself te skop. Malan, aan die ander kant, lyk asof hy opgetooi is vir ’n fotosessie vir ’n produk van Hugo Boss of dalk Calvin Klein. Sy sug weer. Haar ouma sou gesê het, dis nie ferplie nie.

Hy kyk fronsend na haar. “Gaan jy heeldag staan en sug, of gaan jy my innooi? Dis ysig koud hier in die portaal.”

Hannah tree terug en hou sonder ’n woord die deur groter oop. Sy maak ’n gebaar met haar hand om hom binne te nooi. “Wat maak jy hier, Malan?” Sy beduie na ’n stoel. “Wil jy sit?”

“Ek wil koffie hê, asseblief. Sterk en sonder sui­ker.”

Sy wil weer sug, maar maak net betyds haar mond toe. “Aangesien jy so voorbarig is, kan jy maar vir ons die ketel aanskakel. Ek wil gou gaan aantrek.”

“Asseblief, ja. Jy lyk maar redelik oes. Ek kon nog nooit verstaan hoekom daar na vroue as die skoner geslag verwys word nie.” Hy gaan sit op haar stoel en begin doodluiters deur die koerant blaai.

Hannah vererg haar. “Jammer om jou bubble vir jou te bars, pel, maar geen vrou lyk op haar beste as sy pas opgestaan het nie.”

“Dis al amper middag.”

“Wel, ek het nie werk nie, so ek kan opstaan wanneer ek wil. En vir jou inligting, ek staan nooit so laat op nie; dit is omdat ek eers in die vroeë oggendure aan die slaap geraak het.”

“En wie se skuld is dit? Seker jou gewete wat jou uit die slaap gehou het.”

Hannah het lus en vlieg hom sommer behoor­lik in, maar sy byt die woorde terug. “Jy’s besig om ’n argument uit te lok, en ek gaan nie daarvoor val nie. Ek gaan nou aantrek, verskoon my.”

Sy pluk ’n jean en ’n trui uit haar kas, en verwens vir die hoeveelste maal haar bos krulhare. Hoe nou gemaak? Hy het haar reeds op haar sleg­ste gesien. Eintlik het hy haar al ’n paar maal op haar slegste gesien, en nog nooit op haar beste nie. “So be it,” mompel sy en vang haar hare met ’n groot knip agter haar kop vas.

Hannah steek in die kombuisdeur vas. Sy lig haar wenkbroue. “Ek dog jy verpes katte?”

Malan tel Monty van sy skoot af, en sit hom weer op die stoel neer. “Ek hou van katte. Ek het maar net ’n verskoning gesoek om met jou te praat. Jou skoonheid het my onkant betrap.” Hy trek sy skouers op. “Jy het my so ’n bietjie van my ewewig beroof.”

Hy kyk baie ernstig na haar en Hannah draai vinnig weg voor hy die blos op haar wange sien. “Jy jok. Jy het my selfs daarvan beskuldig dat ek ’n man soek.”

Hy glimlag breed. “M’m. Ek onthou, ja. Ek wens jy kon jou gesig sien. Vir ’n oomblik het ek gedink jy gaan my op my skeen skop.”

Met ander woorde hy het haar geterg. Sy gee hom ’n vernietigende kyk terwyl sy koffie in die koppies afmeet. “Hoekom is jy hier, Malan?”

“Hoekom antwoord jy nie jou foon nie, Han­nah?” antwoord hy met ’n teenvraag.

“Want ek wou nie met jou praat nie.”

“Dis ’n baie volwasse antwoord.”

Sy sit die beker koffie tesame met die melkbeker voor hom neer. “Sê wat jy wil sê en kry klaar.”

“Hoekom het jy bedank?” Hy drink versigtig aan die warm koffie.

“Omdat . . .” Wat gaan sy sê? In haar bedanking het sy aangevoer dat sy om persoonlike redes be­dank. Miskien moet sy daarby hou. Dis in elk geval die waarheid. Wat haar redes alles behels, gaan hom nie aan nie. “Om persoonlike redes. Dis wat ek in my bedanking gesê het, en dis wat dit is.”

“Dis nonsens en jy weet dit.”

Sy neem oorkant hom plaas. “Ek kan dit nie met jou bespreek nie, Malan. Wat ek egter nie in my bedanking gesê het nie, is dat ek jammer is dat ek jou nou weer sonder ’n kurator los. En ek is regtig jammer, maar ek kan nie anders nie.”

Hy knik. “Is dit iets waarmee ek kan help?”

Sy skud haar kop. “Nee. Dis dinge wat ek self moet uitwerk, maar dankie vir die aanbod.”

Hy knik. “Daar het ’n nuwe restaurant in Blaauwberg oopgemaak. Ek laai jou môreaand seweuur op.” Hy staan op en tel sy motorsleutels van die tafel af op. “Dankie vir die koffie.”

“Vergeet dit, Malan. Dis nie hoe dit werk nie. As jy wil hê ’n vrou moet jou êrens heen vergesel, dan vra jy haar. Jy sê haar nie net nie.”

Hy trek sy skouers op. “Jy skuld my. Ek sit sonder ’n kurator, onthou.” Hy raak met sy kneu­kels aan haar wang. “Tot môreaand, bosnimf. Sluit die deur agter my. En moet nooit weer die veiligheidsketting afhaal voor jy gevra het wie dit is nie.”

Hannah staar oorbluf na die deur wat sag ag­ter hom toegaan. Iets het gebeur. Iets groot en on­beskryflik het pas hier in haar beskeie woonstel­letjie gebeur. Sy raak aan haar wang. Dis asof sy skielik intens bewus is van hom. Asof hy ’n stukkie van haar saam met hom by die deur uit geneem het.

Wat gaan sy doen? Sommer net maak soos hy sê sonder om daarteen te stry? Sy sal nie gaan nie. Môreaand sal hy soos ’n swaap voor haar deur staan, en sy sal nie hier wees nie. Maar diep binne haar weet sy dat sy hier sal wees, gereed om saam met hom te gaan, al is dit ook na die donker kant van die maan.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s