Dirna Ackerman

Dirna Ackermann is sedert haar tienerjare versot op liefdesverhale en het groot geword met skrywers soos Nan Henning en Tryna du Toit. Dis steeds al te heerlik om saam met die heldin verlief te raak op die held en te sien hoe sy haarself uit moeilike situasie ontknoop. Aangesien sy eintlik maar so half agter haar neus aan skryf, weet sy nooit werklik wat volgende kom nie en dit maak die skrywery opwindend. Dirna hou van kuier oor ‘n koppie koffie, die winter, krakerige neutsjokolade en is uitverkoop mal oor haar kleinkinders.

Dirna se Boeke:

Trilogie.

1 Branders in ‘n Visdam. Die kunssinnige Bertie du Preez spartel na haar man se dood om haar ewewig te behou tussen haar eie ontreddering en haar vier kinders se opstandige hartseer deur. Veral die agtienjarige tweeling, Drikus en Ansa, laat haar besef dat haar geborge, beskermde lewe op hulle kleinhoewe in die Boland, vir ewig verby is. Toe die internasionaal bekende bariton, professor Alexander Schering, wat eenvoudig darem net te mooi is vir ‘n man, Bertie se lewe binnestap, is haar bestaan éérs op sy kop gekeer. Die grootste ontnugtering is egter nie dat hy Bertie se knieë lam maak nie, maar dat hy dieselfde uitwerking het op Ansa – en Bertie kom voor die moeilikste keuse van haar lewe, te staan.

2 Brose Blomskulp. Melandie Verbeeck is verstrooid, sy kan nie kos maak nie en klere is nie vir haar belangrik nie, maar sy hou van kleur. Hoe bonter, hoe beter. Tot hulle huishoudster, die liewe tant Arabella, se misnoeë lyk sy lyk meestal soos ‘n mode-ongeluk wat plek soek om plaas te vind. Maar Melandie is dolgelukkig met haar lewe – of so lyk dit. In werklikheid dra sy egter nog die letsels van ‘n onbesonne daad in haar jeug en die gevolg daarvan was ‘n eed om nooi te trou nie. Toe ontmoet sy vir Drikus du Preez. ‘n Beeld van ‘n man en alles waarvan ‘n vrou kan droom: gesofistikeerd, bedagsaam, welaf, belese en berese – en hy maak heerlik kos! Hulle vriendskap is bittersoet, want sy besef gou dat haar skanse teen liefkry aan die verkrummel is – en sy durf nie liefhê nie.

3 Onvervulde Passie. Coe Stern laat vroue stotter en stamel met sy onmiskenbare manlikheid en sy seunsagtige moedswilligheid. Maar tussen hom en Ansa bewaar hy die afstand met ‘n koel ondeurdringbaarheid. Op Swakopmund word die ooreiste operadiva Anshua Pré, weer Ansa du Preez, vlug sy van wêreldroem, die verhoog en die paparazzi. Fisiek en emosioneel. Maar haar vrede is daarmee heen toe sy agterkom haar huisbaas, Coe Stern, is ‘n fotojoernalis. Sy haat die pers… te lank het hulle stories oor haar opgedis. Sy vertrou hom glad nie, maar hy pluk haar maskers af, en mettertyd besef sy dat sy dié man liefhet – al is hy die vyand.

‘n Tweeluik

1 Hoor My Lied My Beminde. Talitha Schoombee, suksesvolle aanbieder van voel-goed-seminare en motiveringspreker by uitstek, het net een antwoord vir haar eie lewe – maak ‘n einde daaraan. En sy het net die regte plek gevind. Hoog bo teen die berg. Bekrans. Bebos. Afgesonderd. Maar sy het een faktor buite rekening gelaat – Reuben Jordaan, eienaar van die Hephzibah-helingsoord. Groot, aantreklik en arrogant genoeg om te dink hy praat namens God. Maar onder die sterk leiding van die man wat goed deur die lewe gebrei is, en die liefdevolle sorg van sy ouers, ontdek Talitha dat alle mans nie daarop uit is om net te neem en verguis nie. Daar is ook die wat onvoorwaardelik gee.

2 Kom Dans met My, My beminde. As ‘n beeldskone en gesogte supermodel kan Rhianna Rheeder op materiële vlak alles kry wat sy begeer, maar niks daarvan kon tot dusver haar leë hart vul nie. Twee maal het sy liefgehad, Reuben en sy ouboet, en twee maal is hulle van haar gesteel, deur twee susters. Haar vertroue in haar medemens in die algemeen en mans in die besonder, het ‘n ernstige knou weg, en haar vertroue in God is aan flarde. Dan ontmoet sy haar pa se nuwe plaasbestuurder, Kieran Calder. Die boerseun met die uitheemse name en die mosgroen oë. ‘n Man met ‘n rotsvaste geloof in die Skepper, harde werk en die nutteloosheid van rykmansdogters. En die vonke spat. So kwaai dat Rhianna se pa dreig om haar haar erfplaas te belet.

Enkeltitels

‘n Jubelkleed vir Ariana. Ariana en Petrus was die volmaakte paartjie: sy die suksesvolle kinderboekillustreerder, hy die gewilde skrywer. Maar toe Petrus en hul seuntjie sterf, laat Ariana alles agter en vlug na die koue, grou Wallis. ‘n Belofte aan haar ma dring haar drie jaar later terug na haar geboorteland waar haar pad kruis met die aantreklike Brandt Fouché en sy dogtertjie Engelie. Gou is haar skanse aan die verbrokkel en haar hart op die spel. Maar waarom word Brandt so dikwels gesien in die geselskap van Welma Stanton, die vrou wat Ariana se huwelik laat verbrokkel, en haar ganse bestaan in die dieptes laat stort het?

Ongewenste Buurman. Kean McFadden is nie net grootbaas van multimiljoenkorporasies nie, hy’s ook die grootbaas van Johandi se hart. Die alleenheerser. Haar eerste liefde. Haar énigste liefde. Dis net, dat nes haar pa en Jan Venter, het Kean ook gesê sy sal nie ‘n man kry nie. En sy glo hulle! Tintinkieklein, wil sy die beste boukontrakteur word. Sy hét mos dagha in haar are, boustof in haar hare… En onbewus van haar bekoring vir Kean, bou sy vir hom ‘n praghuis, op haar familie-erf wat sy tog so bitter graag wou terughê. Breek sy sy skanse bietjie-bietjie af. Hý weet sy’s volbloedvrou. Maar sý glo dit nie.

Onwaarskynlike Minnaar. Vyf jaar gelede is Henk Beaumann, landuit. Kwaad vir haar. En nou is hy terug met die vreemdste troureëlings waarvan Bianca Malan nog gehoor het. Al die jare was hy haar ouboet, haar ouers se grootmaakkind in wie se warmte sy haar kom koester, veilig kon voel. Maar die Henk wat terugkom, is ‘n vreemdeling: daar is staal in sy oë , hy is ontoeganklik met granietmondhoeke en ‘n hele poolstreek se koue in sy oë. Bianca se besluit dat hy haar nie weer gaan ontwrig nie, is egter vergeefs, want hy dol haar lewe om. Hy is die oorsaak dat sy in gevaar verkeer, maar ook die enigste wat haar kan red.

Stormpad na Vadersrust. Toe Michaela Beekman as groentjiejoernalis agter ‘n storie aan gestuur word, sou sy nooit kon dink dat sý die storie sou word nie. Haar hele lewe lank het sy die gemis aan ‘n pa ervaar, maar dit probeer wegsteek. Nou vind sy daar is ‘n spontane, intuïtiewe rapport tussen haar en Darius Jordaan, die beroemde gholfspeler en die onderwerp van haar storie. Wat haar egter dwars in die krop steek, is die houding van die gevaarlik aantreklike Kayne Richardson, Darius se stiefseun. Boonop is hy haar beste vriendin se amperse verloofde. Maar voor al die drade ontrafel kan word, word die geskiedenis byna herhaal, en Kayne is die man wat sentraal staan in al die gebeure.

Vrugte van Gister. Jenny Marshall en haar ses maande oue baba Monique, kom uit Engeland in Suid Afrika aan om Anton de Waerdt te konfronteer met die feit dat hy ‘n dogter het. Op Anton en sy ma se gasteplaas ontdek sy dat dit wat hy werk noem, haar met afgryse vervul. Pynlike herinneringe en ‘n eng Britse opvoeding, maak dat Jenny avontuurlikheid as sotheid beskou. En Anton se lewe bestaan uit die soort aktiwiteite wat haar keel laat toetrek. Avontuurlus is in sy bloed. Gou vind Jenny sy is steeds aangetrokke tot die man wat sy in die Skotse Hoogland ontmoet het. ‘n Man wat terg en flankeer tot ‘n verleidelike mengsel vervolmaak het. Maar Anton se jeug eed is die één ding waaraan hy getrou gebly het. Hy moet eers die drake uit sy verlede verslaan voor hy kan aanvaar dat daar plek in sy lewe is vir ‘n vrou en dogter.

Vrydagmeisie. Chiara, enigste kind van stinkryk, oorlede Harold Achesson, land platsak op die Klein-Karoo-wildreservaat. Incognito en sommer self aangestel. Net vir tien dae darem. Om vir haar en Ewald, kunstenaarsiel en ewe platsak, ‘n geldjie te verdien. Maar sy beland binne-in die leeukuil. Darian O’Connor, eienaar van die wildplaas, is toe al die tyd Ewald se stiefouboeta. Patriarg van die familie. Die ou wat sê, spring en die beursie beheer. Attila die Hun. Hy weet wie Chiara is, want die maskerbal onhou hy goed. Sy’s nou nie juis nie ‘n kweekhuisblommetjie nie, maar al probeer sy Darian ‘n trippelpassie of twee leer, sit Chiara uiteindelik met ‘n verstuite pols, seer kop en ‘n hart waarvan Attila die Hun elke beskikbare millimeter verower het.

Wederomliefde. Sianka het skaars haar voete op Bosbaai gesit, of haar lewe word op sy kop gekeer. Nie net die ingewikkelde familievete nie, maar veral Hugo Durandt, kalwe aan haar netjies beplande bestaan. Met mening. Alles wat sy tot dusver geglo het, tuimel ineen. Gou besef sy sy’s lankal nie meer in beheer nie. Beredeneerdheid het in vlamme opgegaan. Passie het oorgeneem. Dis Hugo Durandt wat die sensuele vrou in haar laat ontwaak. Haar laat besef sy’s eerder ‘n tjoklitmaker as ‘n advokaat. Sy wil nie deel wees van die liefdesage wat reeds oor drie geslagte die mense van die baaitjie uit mekaar se huise en in mekaar se hare, hou nie, maar hulle twee is die jongste slagoffers in ‘n geskiedenis vol intrige en verwerping

Lesers kan uitsien na Dirna se nuwe tweeluik in Maart:

Liefdespalet

Onwaarskynlike minnaar

en

Onvervulde passie

Die ander erfgenaam

As julle hierdie pennevrug van Dirna nog nie onder oë gehad het nie, kry dit gerus. Dis romanse uit die boonste rakke op Dirna se tipiese, raak-sê manier.

Liefdestango:

Dané se jeugliefde het agtien jaar gelede net padgegee nadat haar ma hulle verhouding verbied het. Nou is hy terug en hy en Dané móét weet wat die beletsel op hulle liefde dan is.

37 thoughts on “Dirna Ackerman

  1. Zelna Swart says:

    Hallo Dirna,

    Ek is tans besig om ‘Hoor my lied my beminde’ vir die 3de keer te lees. Ek glo dit is die diep geestlike inslag van die boek wat my so aangryp. Tog laat die boek my met baie vrae. Ek weet nie of dit vir jou moontlik sal wees om my per e-pos te antwoord nie.

    Groete.
    Zelna

    • dirnaackermann says:

      Hallo, Zelna. Dit sal heerlik wees om te gesels! Sien jy kans om jou e-pos adres hier vir my te los? Dan kontak ek jou sodra ek dit ontvang het. Indien nie, dan maak ek n plan dat jy my d,m.v. die uitgewer kan kontak. Laat weet net. n Pragtige dag. Seën en vrede, Dirna

  2. dirnaackermann says:

    Sjoe, Anneke, wat ‘n heerlike briefie om te kry! Dit is die allergrootste kompliment en lekkerte om te weet my lesers is tevrede. Ongelukkig is van die ouer boeke reeds uit druk, maar daar is die vooruitsig dat hulle een of ander tyd elektronies beskikbaar gaan wees. Lekker om te weet jy is ook ‘n Kapenaar. Dalk sien ons mekaar êrens en drink ‘n koppie koffie. Alles wat mooi is vir jou!

  3. pansegrouw says:

    Liefste Tannie Dirna. Ek dink verseker ek is u GROOTSTE GROOTSTE bewonderaar!! Ek het onlangs eers Tannie se boeke begin lees en ek is verslaaf daaraan. Ek het nie gedink ek sal ooit ‘n skrywer kry wat soos my ander gunsteling skrywer, Sarah du Pisanie, my kan boei boek na boek nie. Ek sit nou net met een probleem. Ek sukkel vreeslik om Tannie se boeke in die hande te kry. Ek soek ieder en elk in my boekrak. Maar ek sal nie moed opgee nie. Ek bly in dieselfde omgewing as Tannie en ek hoop van harte ek loop eendag vir Tannie raak net om die voorreg te kan he om ‘n skrywer met soveel talent ‘n stywe drukkie te geen en dankie te se vir dit wat Tannie vir ons gee uit u skrywerspen. Vriendelike groete Anneke Pansegrouw

  4. Dirna Ackermann says:

    Dankie, Corlia!! Dit is seker die grootste kompliment wat jy my kan gee! Ek weet nie of jy daarvan bewus is nie, maar daar is nog twee stories wat saam met Blomskulp gaan. Branders in ‘n visdam, waar Drikus nog ‘n tiener is, en Onvervulde passie, sy tweeling, Ansa, se storie.
    Alles wat mooi is en seëngroete

  5. Corlia Grove says:

    Hallo Dirna
    Ek het brose blomskulp baie lank terug gelees maar ek neem hom nog so elke 4 maande uit dis vir my so mooi boek. Ek kan nie wag om die nuwe boek te lees nie.

  6. Dirna Ackermann says:

    Madelie, wetie waar my gedagtes was nie, ek word seker oud! Dis een van daai senior oomblikke wat my al meer oorval. Jy praat van die Ander erfgenaam, ek antwoord oor Beenaf bokkie. Jammer.

  7. Dirna Ackermann says:

    Madelie, komende van jou is die kompliment net soveel groter!! Dankie! Die storie is gebore nadat ek my linker enkel se ligamente op vyf plekke geskeur het en op krukke moes rondhop. ‘n Vriendin noem my toe ‘n afbeen-bokkie, en siedaar… ‘n storie.

  8. Madelie Human says:

    Dirna, ek is ‘n fan van jou. Ek het ‘Die ander erfgenaam’ verslind. Ek is mal oor jou eiesoortige sê-goed wat ons taal so lekker raakvat. Heerlike uitgestelde begeerte het my laat omblaai en omblaai …

  9. Ronelle says:

    Dirna, ek het net gisteraand klaar gelees aan Die ander Erfgenaam en het Anselie se storie baie geniet, so ‘n lekker hartstorie! Ai, ek het nou die dag vir Chanette gesê nadat ek Meetsnoer klaar gelees het, dat ek wens daar was sommer nog baie bladsye van lekker lees oor, ek wens dieselfde met Die ander Erfgenaam. Sterkte met jou volgende romanse, ek kyk uit daarvoor!
    Groete!
    Ronelle

    • Dirna Ackermann says:

      Ronelle, baie dankie!! Toe ek die storie geskryf het, het ek gedink – nee, suster, hierdie keer sit jy die stoel mis. Dus … nog ‘n dankie!! Dis wonderlik om te hoor dat jy dit geniet het. Alles wat mooi is ek wens jou en jou geliefdes ‘n wonderlike geseënde feestyd. Groete

  10. Dirna Ackermann says:

    Cynthia, jammer ek reageer nou eers, maar was bietjie weg. Dankie!! Dit was een van daardie stories waar die titel net in my kop ingeval het en ek die storie moes gaan soek om daarby te pas.

  11. Cynthia Robertson says:

    Dirna, ej het gisteraand jou “Kampvuur Konfetti ” klaargemaak. Die titel het my klaar nuuskierig gehad, ek het ook gewonder wat dit is. Baie dankie vir ‘n pragtige verhaal, ek het dit werklik geniet.

  12. Dirna Ackermann says:

    Mari
    Dis nou met ‘n sug van genoegdoening wat ek jou kommentaar lees en so effens ontspan, want dan het ek geslaag in my missie. Die leser is tevrede!! Baie dankie! Dis ‘n aanmoediging vir die volgende een.

  13. Mari Roberts says:

    Dirna, jy het dit weer gedoen. Ek het lank gewag, maar dit was die moeite werd. Lienka en Rudolf het my vasgenael gehou en ek het met daardie euforie wat ek altyd ervaar, die boek neergesit. Teleurgesteld dat die storie verby is. Dankie man, ek het die boek werklik geniet. Kan nie wag vir jou volgende boek nie.

  14. Dirna Ackermann says:

    Ja, Rika, liefde seëvier tog. Dankie hoor! En moet asseblief nie maak soos die Engelse sê, selling yourself short, nie. Ek is absoluut oortuig dat jy ‘n wonderlike bydrae het om te lewer. Ons kan verseker elkeen by die ander leer en ek dink sommige dae ek het meer om te leer as ander. Lekker skryf aan waarmee jy nou besig is!

  15. Rika Du Plessis says:

    Dirna, ek het toe nie gewag tot die naweek om Kampvuur-confetti te lees nie. Ek sal dit nie waag om ‘n hamburger van enigeen van julle Romanza-skrywers se boeke te maak nie, maar ek kan wel vir jou sê dat hierdie boek van jou maar net weer bevestig het… al probeer skoonma, pa of wie ookal om die verhouding tussen twee mense wat mekaar werklik liefhet te verongeluk, maak dit nie saak hoe lank dit vat nie, maar hulle liefde bring hulle weer bymekaar uit en is dan sterker as ooit. Mooi verhaal.

  16. Dirna Ackermann says:

    Dankie, Suzie! Lienka het my nogal aan die hart gevat. Dis waarlik LEKKER om te hoor jy geniet wat ek doen en ek is altyd oop vir insette oor wat jy graag sal wil lees en wat nie. Mooi bly en seën

  17. Suzie Combrinck says:

    Dankie Dirna vir Lienka se verhaal, dit laat my in ‘n mate aan Ariana se storie dink, en tog is dit anders. Ek het tot dusver al jou verhale baie geniet en ek is trots om te erken dat ek al jou boeke het en steeds uitsien na nog baie Dirna Ackermanns op my boekrak.

  18. Dirna Ackermann says:

    Madelie, dankie dat jy vir Rita geantwoord het. Ek was ‘n rukkie nie op die blog nie. Rita, ek vertrou dat jy geholpe geraak het.

  19. Dirna Ackermann says:

    Baie dankie, hoor. Ja, daardie Du Preez’s wou my nie los voor ek ma en die tweeling se stories vertel het nie.

  20. anngert says:

    Dirna, ek het ONVERVULDE PASSIE gelees en dit geweldig geniet. Nou sien ek dis deel van ‘n Trilogie waarin daar nog Du Preez’s voorkom. Het ook lekker gelees aan VRYDAGMEISIE.

  21. Dirna Ackermann says:

    Dina, baie dankie!!! Dis nou ‘n kompliment!!! Die storie het lank saam met my geloop en is steeds een van my favourites.

  22. Dina Botha says:

    Dirna. Ek was so gelukkig om Onwaarskynlike Minnaar in ons Bib raak te loop en die fout gemaak om dit dadelik te begin lees. Die uiteinde van die storie was dat ek my twee dogtertjies by ‘n kinder partytjie afgelaai het en vir die gasvrou vertel het ek is vreeslik naar. Toe is ek reguit huis toe om dit klaar te gaan lees. Ek het dit baie geniet. Het ook een van jou voriges gelees: Branders in ‘n visdam. Net so oulik.

    • Dirna Ackermann says:

      Dankie, Mareli! Sy is een oggend sommer so in ‘n oomblik gebore en ek het lekker aan haar geskryf.

    • Jozanne De Beer says:

      Beste Dirna,

      Ek woon in die VSA en besit ‘n hele paar van jou boeke. Ek geniet jou romanse geweldig baie en dink jy weet net hoe om ‘n mens goed te laat voel. As ek eers begin lees kan ek dit nie neersit nie. Ek is ‘n gebore romantikus en leef my in die storie! Ek sou so graag nog van jou boeke wou bekom, maar weet nie waar om te begin nie. Ek het al ‘n hele paar plekke op die internet probeer, maar sonder enige suskses. Is daar ‘n moontlikheid dat jy my asb. per e-pos kan antwoord. Ek het ‘n kontak in SA wat dit vir my sal aanpos.

      Byvoorbaat dankie,
      Groete

      • dirnaackermann says:

        Jozanne, baie dankie! Dis baie lekker om te hoor jy geniet my werk. En sowaar, doer ver in Amerika. As jy bereid is om jou e-pos adres vir my hier te gee, sal ek direk met jou kontak maak en dan kan ons verder gesels. Maar kyk ook waar Madelie vir Rita Keuris hier onder geantwoord het. Dalk kry jy daar iets.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s