Ida Bester

Ida Bester (Grabe) 2

Ida Bester was van kleintyd af versot op woorde en vreemde tale. Sy het onder meer by die Suid-Afrikaanse ambassade in Frankryk en die RGN gewerk, was ’n hoërskool-taalonderwyser en het vliegtuigplanne uit Frans vertaal. Terwyl haar man universiteitsdosent en koorleier was, het hulle al die kontinente op die aardbol besoek. Ida en haar man het op ’n wildplaas afgetree, waar hulle graag hul vier kinders en kleinkinders trakteer. Sy is lief vir skryf, lees, kuier saam met vriende, en fotoalbums maak.

Vorige titels deur Ida Bester:

  • Kammabruid
  • Sy hart se punt
  • Skoonma speel kupido
  • Teken van sy liefde
  • Hart oorboord

 

2 thoughts on “Ida Bester

  1. Ida Gräbe says:

    1. Hoe het jy as skrywer gedebuteer?

    Na verhale en gedigte in skooltydskrifte en Die Voorligter, het Ida vir die eerste keer soos ’n skrywer gevoel tydens die uitsending van haar radiodrama, ’n sielkundige riller oor ’n vrou wat nie die dood van haar kleuter kon verwerk nie getitel Bly weg uit sy kamer. Boonop is die drama op RSG uitgesaai terwyl sy in die kraaminrigting was na die geboorte van haar oudste seun. Haar man het die radio die aand ingesmokkel en is nadat hulle na die uitsending geluister het deur ’n dokter by ’n agterdeur uitgelaat want besoektyd was toeka al verby.

    2. Hoe het dit gekom dat jy boeke oor dwergies en feetjies gepubliseer het?

    Feetjies, kabouters, elfies en daardie soort bonatuurlike wesentjies kom in al die oudste literature van die wêreld voor, soos dié van China en Ierland. Daar is tot vandag toe nog mense wat glo dat hulle werklik bestaan, soos die lede van die Teosofiese Vereniging wat wêreldwyd takke het. Toe hy gevra is hoe ’n mens kinders se intellek ontwikkel, het Einstein op ’n keer geantwoord: Lees vir hulle feëverhale.

    3. Waarom juis ’n reeks oor die Drakensdwergies?

    Toe ek begin dink het aan verhale oor dwergies of feetjies, wou ek nie die ander kulture naboots nie en het my verhale daarom in die grotte hoog bo in die Drakensberge geplaas, wat ’n mens seker Suid-Afrika se fisiese ruggraat kan noem. Toe ek boonop ontdek dat ons na hierdie berge op hul Franse en Engelse name verwys, soos Mont aux Sources en Monk’s Cowl, het ek dit verafrikaans na Fonteinberg, Monnikskapberg, Reussekasteelberg, vir Giant’s Castle en Duiwelstandberg, vir Devil’s tooth. Ek hoop ouers wat vir hul kinders die 20 verhale in die bundel lees, sal geïnspireer word om die kleingoed na die berge toe neem om die landskap van varings en riviere en die vrye lug waarin die baard-aasvoël sweef, te ontdek. En om dwergies te soek . . .

    4. Wat was die aanloop tot die bundel kortverhale wat onder die titel Van Leed en Lief gepubliseer is?

    ’n Bekende Pretoriase uitgewer, wat self ook skryf, het een keer ’n roman wat ek in my onbesonnenheid geskryf het afgekeur met die raad dat ek kortverhale moet skryf, en watter ander geleentheid is daar nou in Afrikaans daarvoor as tydskrifverhale? Ek het ’n stuk of sewe verhale aanvaar gekry by Sarie, Huisgenoot en Finesse. In daardie stadium was ek ook lid van die Eugene Marais-skrywersvereniging in Pretoria wat maandeliks bymekaar gekom het om mekaar se kortverhale te krit. Ons het jaarliks ons verhale in ’n bundel uitgegee. Toe ek ’n advertensie sien van ’n prosakompetisie van die elektroniese uitgewerstak van Nasionale Pers, wat toe Content Solutions genoem is, het ek my liefdesverhale en die ander met ’n meer algemene strekking saamgesit en dit ingeskryf. Die bundel is toe gepubliseer.

    5. Watter eienskappe maak van ’n kortverhaal ’n treffer?
    Eerstens moet dit beantwoord aan die basiese vereiste vir alle skryfwerk wat iemand eendag opgesom het as: daar moet ’n verandering plaasvind, anders is daar nie ’n storie nie. Aangesien daar in ’n kortverhaal nie veel ruimte is vir karakterontwikkeling nie, moet die hoofkarakter, of die leser, deur die intrige tot ’n nuwe insig kom of iets verrassends omtrent die lewe of mense ontdek.
    Styl is ook baie belangrik: die skrywer moet let op perspektief, tydsverloop en taalgebruik. ’n Gestroopte styl, sonder mooiskrywery, kan ook aanbeveel word asook ’n vermoeë tot kreatiewe taalgebruik en kort eerder as langer sinne.
    Die Fransman, Guy de Maupassant, word vandag nog beskou as ’n meesterlike kortverhaalskrywer. Sy spesialiteit was die “angel in die stert” – ’n verrassing heel aan die einde van die verhaal, soos in sy bekende “Die halssnoer” waarin ’n vrou wat ’n geleende pêrelhalssnoer verloor het haar hele lewe lank gewerk het om dit vir haar vriendin te vervang, net om na al die lyding uit te vind die oorspronklike snoer was vals. (Voorbeeld: Nerine Ahlers: Die Wakis)

  2. Madelie Human says:

    Ida, ek is seker jy het met jou debuutromanse reeds vir jouself ‘n plekkie in die lesers se harte verwerf. Ek het Pasmaats terdeë geniet, veral omdat jou navorsing oor Mapungubwe (het ek dit reg?) so deeglik gedoen was. Ons sien uit na die volgende een.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s