Ridder RIAAN SCHREUDER

“Ek wil jou help, maar as jy my nie toelaat nie, is daar nie veel wat ek aan die saak kan doen nie. Jy is jou eie baas.” Riaan vee moedeloos deur sy grys hare.

Sy haal diep asem. Die man wil haar raad gee, dit is al. Hy wil haar nie voorskryf nie, hy wil nie haar lewe oorneem nie, hy wil haar nie na sy hand grootmaak en vir die wolwe gooi nie. Ja, bitter-bella. Hoe het haar gemoed in so ’n gemors ontaard? “Oukei. Wat stel jy voor?”

“Jou idee is skitterend, werklik uniek, maar jy kort eerstens ’n fokus-mark. Jy moet weet wie jy wil trek. Dan moet jy die produkte wat nie by hierdie mark inpas nie, elimineer. En dan moet jy die produkte wat oorbly, verfyn sodat die fokus-mark dit nie kan weerstaan nie.”

Sy frons. “Ek gaan nie produkte elimineer nie.”

Riaan haal diep asem, tel sy tablet op en stap om die tafel. “Ek het daardie antwoord verwag. Kom kyk hier, ek het vir jou ‘n opsomming laat maak oor ’n paar maatskappye wat geherstruktureer het en nou reuse daar buite is. Kom ons begin by Apple…”

Drie ure later is haar brein voos maar haar gemoed lig. “Dankie,” sê sy skamerig. “Ek weet ek is moeilik en hardkoppig.”

“Jy is ook briljant en pragtig. En kom ons verander die harkoppig eerder na vurig,” terg hy.

Sy staan op, ineens ernstig. “Ek verstaan jou nie, Riaan. Waarom sal jy, groot kokkedoor hier in die Kaap met vrouens wat oor hul voete val vir jou Richard Gere-sjarme, jou verwerdig om ‘n geskeide vrou met te veel skuld te help?”

Hy staan op en kom staan voor haar. “Jy is soveel meer as ‘n geskeide vrou met te veel skuld, en moet asseblief nie weer so na jouself verwys nie. Jy is passievol, weet jy hoe aanloklik is dit? Ek wil die wêreld deur jou oë beleef, ek wil weet hoe Bach vir jou klink en hoe Picasso vir jou lyk, is dit so moeilik om te glo?”