Magdaleen Walters

 Magdaleen Walters is in ’n kasarm van ’n plaashuis in die goeie ou Vrystaat naby Senekal op mieliepap en stories grootgemaak. Sy het haar studentejare – BA (Tale) – op die kampus van die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat deurgebring en later deur Unisa verder studeer. Sy woon saam met haar man in ’n huis langs ’n rivier naby Bronkhorstspruit waar sy haar dae vul met stories, naaldwerk, kosmaak en haar tuin. Soms hou sy skool omdat sy van jongmense om haar hou.

Vorige titels deur Magdaleen Walters:

  1. Lank en gelukkig
  2. Amper ’n bruid
  3. Man na haar hart
  4. Van begin tot einde
  5. Om voor te begin
  6. My hart as pand
  7. Verby omdraai
  8. Bosveldsprokie
  9. Engel in die Stad
  10. Net ’n gewone man
  11. Anna Amorentia
  12. Wegkruipertjieliefde
  13. Liefde in ’n teekoppie
  14. Boendoemeisie
  15. Eugenie se Timmerman
  16. Vlindervlug
  17. Net soos jy is
  18. Niemand soos jy nie
  19. Droomman

68 thoughts on “Magdaleen Walters

  1. Magdaleen Walters says:

    Corlia, ek weet nie of jy hierdie possie gaan kry nie, want dis al so lank na jy joune geplaas het. Jammer ek reageer nou eers! Ek kom bitter min op die blog, om verskeie redes. Een daarvan is dat ek ‘n hele ent van ons internet-rekenaar af is. Nogtans, baie dankie vir jou mooi woorde! Dis regtig inspirerend.
    ‘n Pragtige dag verder vir jou!

  2. Corlia says:

    Hi Magdaleen

    Ek het pas Verby Omdraai gelees en ek was laat vir werk, want ek kon nie die boek neersit nie. Ek het die storielyn en karakters vreeslik geniet. Deesdae is my tyd so kosbaar en kry ek nie genoeg gelees nie, maar as ek die tydjie afknyp en ek lees so uitstekende boek is my dag omtrent gemaak.
    Weereens baie dankie vir die heerlike leesgenot!

    Groete
    Corlia

  3. Bets Smith says:

    Ai, hier is ek alweer! Dis vakansie en ek kry kans om te lees. Het jou “Verby Omdraai” gebere tot laaste, want ek moet eintlik werk (!). En was dit nou ‘n heerlike boek. Ai, ek wens daar was nog een van jou boeke in my hopie vir die vakansie, want dan het ek ‘n verskoning gehad om nie te werk nie. Vir die ander sien ek net nog nie kans nie. Wil hoeka nie tydmors op iets wat nie die moeite werd is nie.

  4. Bets Smith says:

    Magdaleen, ek het pas jou Droomman klaar gelees en wat ‘n heerlike ervaring was dit nie! SO die moeite werd om ‘n slag stil te sit en net te geniet. Ek sien uit na die ander wat by my ma vir my wag (ek het vir haar by die Romanza-klub ingeskryf en erf elke Desember al die geleesdes).

  5. Carolaine duPlessis says:

    Hallo! Dankie,maar ek sal te bang wees hy kom iets oor! Ons bly in Witrivier in elk geval. Sal ook kyk vir die boeke in tweede handse winkels. Dis jammer van Droomman,maar ek is lees nie alle Romanza skrywers nie. Seker maar vol fiemies! Jammer Romanza! Vandag jou nuwe boek gekoop: sien uit om hom te lees sodra ek kansie kry! Moenie jou boeke uitleen nie! Netnou raak almal so weg!

    Groetnis vanuit die warm, maar pragtige Laeveld!

    O ja,my gunsteling is seker Doodgewone man en ek het seker Net soos jy is al die meeste keer oor en oor gelees! sy gee my moed om weer te probeer met die ewige stryd teen die figuur!!

    Koebaai C

  6. Magdaleen Walters says:

    Carolaine,
    Baie dankie vir jou mooi woorde. Dis regtig lekker om te weet iemand anders geniet ook my stories soos wat ek hulle geniet. Nogal interessant dat ek ook van die twee skrywers wat jy genoem het, se werk hou.
    Jong, jy wil van bg boeke hê om te lees, maar ek is bevrees Timmerman en Vlindervlug is albei uit druk. Ek was ‘n regte dommie en het my eie eksemplare oos en wes aan almal uitgeleen en het self nie meer ‘n Vlindervlug nie. Ek loer maar gereeld in tweedehandse boekwinkels op soek na een. Ek glo ek het nog ‘n paar Timmermans. In die verlede het ek al ‘n boek vir ‘n leser gepos en dit in perfekte toestand teruggekry. Miskien kan ons so iets probeer? Miskien woon jy nie te ver van my af nie, soos bv Pretoria? Dan kan ons dalk ‘n maklike plannetjie maak. Droomman kan jy egter net kry deur by die Romanza-klub aan te sluit. Elke nuwe lid ontvang ‘n gratis Droomman.
    Ek is bevrees dis die beste wat ek vir jou kan doen.
    Hoop jy het ‘n lieflike dag,
    Magdaleen

  7. Carolaine duPlessis says:

    Hallo Magdaleen! Wil net se ek geniet jou boeke baie, Dit is van die enigstes wat ek koop en weer en weer lees.Deesdae hou ek ook baie van Bets Smith se boeke en koop Wilma Adriaanse se boeke as ek kan!Ek is opsoek na die Timmerman ene en Vlindervlug,sowel as Droomman.Het verder al almal gelees en gaan kyk altyd in boekwinkels. Hoeveel keer moet mens n boek soek om hom te laat herpubliseer! Mal oor jou skryf styl en die menslike karakters wat ook foute het,maar tog kom alles op die ou end reg,soos wat dit moet wees in storieland! Ek kyk uit vi jou nuwe boek en hoop om die ander spoedig weer op die rakke te sien! Dankie vi mooi stories!
    Groete Carolaine du Plessis

  8. magdaleen walters says:

    Hanlie, dis so lekker om van jou te hoor!
    Dankie vir jou mooi woorde. En waar het jy in jou lewe van ‘n seuntjie van 13 maande gehoor wat hom anders as besig, woelig, doenig, krapperig, klouterig, kouerig, opklimmerig, af-vallerig, stamperig en sommer net oor die algemeen dierbaar en (self)-destruktief gedra?
    Sterkte vir jou week, hoor?
    Liefde,
    Tannie Magdaleen

  9. Hanli Janse van Rensburg says:

    Tannie Magdaleen!
    (Hehe)
    My ma vertel my so van tannie se blog, toe dog ek maar ek maak ‘n draai. Ek wil se watter boek ek die meeste van hou, maar ek dink ek hou te veel van te veel! Ek het selfs nou die dag vir my kerel ene gelees (hy is nie self lief vir lees nie, so nou doen ek dit maar vir hom). Ek is trots op tannie wat so goed doen met tannie se skrywery. Sien uit na die volgende ene!
    O, en ek hoop die kleinseun gedra hom darem nog 😉
    Stuur groete aan tannie se dogter,
    Hanlie

  10. Magdaleen Walters says:

    Annatjie, ek was Mosselbaai toe (saam met manlief in ‘n vragmotor – twee dae op die pad soontoe en twee dae terug. Toe ek gister by die huis kom, het die boek met jou lekker briefie gewag. Nou wonder ek: waar is Leeuwfontein? Interessant, my mammie is ook 85 jr oud. (Sy en my pa was op 4 April ‘n volle 60 jaar lank in die eg verbind! Dit net terloops.) Nou kyk, as jy van oudag se stories hou, sal jy van ‘n geselsie met my ouers hou – skatryk aan die lekkerste staaltjies waarvan ek sommige al sedert my kinderjare uit die kop ken. Ek is mal oor lekker lewens’stories’, soos jou ma wat haarself in jou pa se teekoppie sien en jou pa wat opportunisties was en ‘n soen uit jou ma gemanipuleer het met die skinkbord in sy hande. Maak nie saak as ek ‘n storie al gehoor het nie. Op hierdie ouderdom waar ek nou is raak die bekende mos al hoe lekkerder. (Seker dié dat ek tien keer op ‘n dag elke dag na my bril loop en soek.) Hoop om iets lekkers van jou te kry.
    O, en dankie vir die boek. Ek voel nog steeds sleg dat ek hom nie vir jou kon gee nie, maar ek weet nie of Lapa hom weer gaan herdruk nie.
    Dankie vir jou terugvoer. Dis vir my kosbaar. Sien uit om weer te gesels. Mooi dag vir jou, hoor?
    Liefdegroete, Magdaleen.

    • Annatjie Warricker says:

      Hallo Magdaleen
      Ja dit is lekker om al die stories te hoor. Leeuwfontein is naby die Kendal kragstasie so ‘n halfuur se ry van Bronkhorstspruit af. In die ouer dae het hulle meer tyd vir mense gemaak en minder oor die aardse bekommer. Dankie vir die leen van die boek. Lekker dag vir jou

  11. Ronelle says:

    Hallo Magdaleen
    Ek het ONVOORWAARDELIK SYNE baie geniet. Jy besit die vermoë om net ietsie anders in jou storielyne te bring wat dit net vir ons lesers onmoontlik maak om jou boeke neer te sit. Baie dankie! Dit was een groot lekkerte om te lees!
    Mag daar nog sommer baie uit daai talentvolle pen van jou gebeur!

    • Magdaleen Walters says:

      Ronelle, jou briefie is soos ‘n vroeë kersgeskenkie. (Of dalk ‘n laat enetjie.) Ek is regtig bly jy het die storie geniet. Ek hoop kliphard dat ek weer ‘n storie waarvan jy hou uit my kop gepers sal kry.
      Groetnis, Magdaleen

  12. YOLANDA VAN DER MERWE says:

    Hi, Magdaleen,

    Ek is op soek na een van jou vorige publikasies “net ‘n gewone man” maar ek was op kalahari en kry hom nie. Waar kan ek hom te koop kry. Asseblief.

    Dankie

    • Annatjie Warricker says:

      Hallo Yolanda
      Probeer Loot of Lizmar boeke of Lapa – daar is ‘n omnibus met 3 stories waarvan net ‘n gewone man een is.
      Lekker lees
      Annatjie

    • Magdaleen Walters says:

      Yolanda, ek was bietjie weg en kry vandag eers jou navraag. Groot ekskuus, hoor? Annatjie is reg, Net ‘n Gewone Man is herdruk in ‘n bundel van drie verhale. As jy nie by Lapa regkom nie, is jy meer as welkom om weer met my kontak te maak. Mooi dag vir jou!
      Magdaleen.

  13. Madelie Human says:

    Magdaleen, ek het gister ‘Onvoorwaardelik syne’ gelees. Aanvanklik het ek half vies geraak (want ek soek my romantiese fieks so gou as moontlik, jy sien) oor die held en heldin tot op bladsy 65 nog nie meer as tien woorde gewissel het nie, maar die storie het my nietemin gegryp en ek kon dit nie neersit nie. Jou gewone droë humor was heerlik en die plannetjies wat die heldin gemaak het om die held weg te hou van die kompetisie af het my laat kraai van plesier. Jou navorsing het duidelik deurgeskemer, maar tog nie oorheers nie. Knapgedaan, Magdaleen. Wat ‘n lekker leesplesier!

  14. Magdaleen Walters says:

    Annatjie, die pakkie behoort jou enige oomblik te bereik. Moenie oor die posgeld kommer nie. Lekker dag vir jou!
    Groete,
    Magdaleen

    • Annatjie Warricker says:

      Baie dankie het die boek vandag gekry en al klaar begin lees – al moet ek eintlik werk. Stuur so gou moontlik weer die boek vir jou terug.

      Annatjie

  15. Annatjie Warricker says:

    Baie dankie Magdaleen ek sal die posgeld betaal.
    Posbus 83
    Kendal
    2225
    stuur asb die bankbesonderhede dan betaal ek dit vir jou in.

    • Magdaleen Walters says:

      Annatjie,
      Ek twyfel of daar nog kopieë van die boek by Lapa beskikbaar is. Hy is al ‘n bietjie lank in die tand. Ek self het so woes uitgedeel van my eie eksemplare onder almal wat gevra het, en dit alte dikwels nie teruggekry nie, dat ek net enkeles (ek dink 2) oor het vir die nageslag. Waar woon jy? As dit nie te ver is van Pta of Bronkhorstspruit af nie, kan ek vir jou een leen. (‘Skies ek bied net ‘n ‘leen’ aan, want ek weet nie of dit ooit herdruk gaan word nie.)
      Laat weet maar,
      Magdaleen

      • Annatjie Warricker says:

        HI Magdaleen
        Ek bly op Kendal – Frederik Willemse is my susterskind. Nelmari het dat jy Droom man vir my teken. Ek sal dit wardeer as jy dit vir my sal leen ek sal dit weer vir jou terugstuur. Baie dankie
        Annatjie

        • Magdaleen Walters says:

          Annatjie, gaan jy my glo as ek vir jou sê dat ek so pas vir die eerste keer weer voor hierdie rekenaar kom sit het en jou boodskap gekry het? Dis eintlik my ander helfte se werksrekenaar en so met die vakansie saam, het ek nie naby die plek gekom nie. Ek vra mooi om verskoning dat jy so lank moes wag. Jy is welkom om jou posadres vir my te stuur, dan pos ek vir jou een van my Anna Amorentias. Tensy jy ‘n ander plannetjie kan bedink. Maar ek stuur hom met liefde. Groetnis, Magdaleen

  16. Dina Botha says:

    Hi
    Ek kom vir die eerste keer in maande op die blog en sien jy is ewe stil. Password vergeet en kon dit om een of ander rede nie gereset kry nie. Hoe gaan dit? En hoe gaan dit met die oumaskap?

  17. Alma Carstens says:

    Maggies, Magdaleen, jy mag maar skryf, hoor? Ek het ‘Droomman’ en ‘Luister na jou hart’ gelees en gaan verseker weer van jou boeke lees… is mal oor jou skryfstyl en die manier hoe jy jouself uitdruk!

    • Magdaleen Walters says:

      Alma, dis vir my tog te lekker om van jou te hoor. Baie, baie dankie vir jou mooi woorde. Jy weet waarskynlik hoe só ‘n opmerking mens kan dra wanneer jy daar voor jou rekenaar sit en wonder ‘wat nou?’. Ek moet op hierdie oomblik erken dat ek nog nie iets van jou gelees het nie en ek gaan beslis my oë oophou vir een van jou skryfsels. Lieflike dag vir jou, hoor.

  18. cecilia nortje says:

    Magdaleen, jy is sowaar die eerste vrou wat ek ontmoet wat regtig ‘n enigma is. Toe ek jou by die indaba ontmoet het, het ek jou onmiddellik gekategoriseer: ‘n doodgewone vrou met ‘n doodgewone lewe maar ‘n uitsonderlike skryftalent. (Ek het al voorheen van jou boeke gelees en het ‘n loud, outspoken vrou verwag. Toe lyk jy so ordentlik!) Net na die indaba gaan koop ek toe Net soos jy is, en daar word die boksie waarin ek jou gesit het, sommer binne die eerste hoofstuk heeltemal platgeslaan. Ek het nooit kon raai daar skuil soveel stuitigheid onder daardie bedrieglik “ordentlike” uiterlike nie! Sodra ek die eerste hoofstuk van ‘n boek gelees het, weet ek dadelik of dit ‘n kannie-neersit boek is of ‘n ek-sal-hom-maar-klaar-lees een is. Joune het loshande in die eerste kategorie geval. Ek het my verkneukel in die mollige heldin se stryd, en daardie toneel waar sy haar in die partytjierok insukkel, het my hardop laat lag. Ek kan my voorstel dat sy soos Fiona in Shrek gelyk het. Toe besluit ek om tog vir jou te laat weet jou boek was fantasties, en ek lees die kort beskrywing van die skrywer op jou blog. Weereens – nog ‘n boksie in sy maai in. Jy is lyk my regtig ‘n enigma. Veels geluk met jou loopbaan en jou mooi boeke. Mag daar nog vele wees.

  19. Mari Roberts says:

    Magdaleen, ek het so pas Luister na jou hart gelees en het dit soooo! geniet, dat ek dit eenvoudig nie kon neersit voor dit heeltemal klaar was nie. Gelukkig was hier geen onderbrekings nie en het toe maar boedel oorgegee en teruggesit (nee onder die kombers in geklim, want dit is bibberkoud by my) en gelees. Slegter as ‘n lui huisvrou gewees, maar nou is dit klaar en ek is nou sommer vies want ek wou nog lees. Dankie vir ‘n heerlike boek. Soos altyd!

  20. Maryke Wennick says:

    Beste-este tannie Magdaleen… Of liewer ouma, soos ek nou sien. Hoop die kleinding bring hope en hope vreugde! Maar moet nou nie so lekker pop speel dat jy glad nie by skryf uitkom nie, hoor! Ek sien vreeslik uit daarna om weer ‘n nuwe magdaleen boek op die rakke te sien. En dan te koop. ek sit vanaand alleen in die koshuis… ja, ek is voorwaar ‘n student, en luister na die ongewone stilte. dis saterdagaand en al wat ‘n mens is, het blykbaar soweto toe gegaan – die helfte om rugby te kyk, die ander helfte om wie-weet-wat te loop maak. dis skoon aardig, die onverwagte alleensaamheid. Ek sien verskriklik uit na die vakansie – gaan bietjie na my ouerhuis toe en seker darm ‘n rukkie bosveld of iewers heen. ‘n Baie goeie vriend van my kom kuier van oorsee af, so ek glo nie my vakansie gaan vervelig wees nie. ek is huidiglik besig met my eie poging tot ‘n storie – ‘n romantiese verhaal vir tiener dogters bo die ouderdom van agtien (dis wat my ma sê. Sy dink nie tieners soen nie. But then again, sy en my pa het blykbaar nog hande vasgehou onder die kussing kort voor hul trou as hulle by haar ouers kuier, so ek kan haar dit vergewe:-) ) Maar dit daar gelaat. Ek is amper klaar met die storie – nog net so vyf jaar en ek is dalk by die laaste hoofstuk. ek hou al my duime vas dat dit goed gaan. Ek sukkel vreeslik. My held wil hom nie gedra nie (tipies van ‘n sewentienjarige seun, maar toemaar.) My heldin volg bietjie haar eie kop, maar ons stap al so lang paadjie dat ek haar gedurig toelaat om te maak net wat sy wil en maar net rondom dit skryf. Is dit normal? dit voel alte veel of ek besig is om scitzofrenies te raak; my karakters is heeltemal te real vir my. en dan die PROSES. Party aande skryf ek vier hoofstukke op ‘n slag, ander dae kry ek nie tien woorde saamgeflans nie. Maar ek moet bieg, dit gaan makliker in eksamen tye en wanneer ek belangrike dinge het om te doen soos kamer skoonmaak, take en portefeuljes. Wat my natuurlik oortuig dat die karakters in my onderbewussyn woon en met alle mag en geweld protesteer wanneer ek hulle probeer onderdruk. My vriende dink natuurlik ek is van my kop af as hulle in my kamer inbars en ek sit soos daai ou in notre dam se kloktoring oor my laptop gebuk en tik met drie vingers. veral omdat ek nie wil h hulle moet dit lees nie. Maar ek is suinig met my storie. dis mýne. En ek is nog nie reg om dit met die wêreld te deel nie. My ma is ‘n ander storie. sy’s my ma. Maar nou ja, ek wil sommer weet – wanneer kom daar weer ‘n New-York Times bestseller uit die pen van Magdaleen Walters? Hopelik binnekort. Al my groete! (en my held en heldin s’n. en die anti-held. Shame, hy’s nie so bad nie.) Vlooistasie

    N.S nee, ek slaap nie onder teddiebere nie. Ek sal klaustrofobies raak.

  21. Magdaleen Walters says:

    Madelie, ek kry vanoggend eers jou skryfseltjie. Ek hoop uit my hart jy geniet die stories. Moet jou eers vertel: ek het op 19 April, 2vm die oggend, uiteindelik ouma geword. Wat ‘n vreugde! Dis die heel mooiste ou dingetjie. Stroopsoet! Hy drink sy mamma se melkies en het verder vrede met die wêreld. Ek was in Pta om so ‘n bietjie hand by te sit, maar is darem van gisteraand af terug by die huis.
    Geniet jou dag,
    Magdaleen

    • Madelie Human says:

      Askies dat ek nou eers weer kom kuier, Magdaleen. BAIE, baie geluk!!! Hoekom het jy my nie per e-pos laat weet sodat ons almal jou vreugde met jou kon deel nie? Sal jou kry, hoor!

      Wil net gou vertel: Ek bel vandag my ma in die ouetehuis om te hoor hoe dit gaan en sy antwoord: “Wonderlik!” Ek vra: “Nou wat nou van al die pyne en skete?” (sy’s baie sieklik) “Nee, Magdaleen se boek ‘Bosveldsprokie’ het my so goed laat voel, dat AL my pyne en skete vandag skoonveld is!”

      Dankie, Magdaleen. My ma het dit sooo nodig gehad. Sien jy, dis hoekom jy moet aanhou skryf!

  22. Magdaleen Walters says:

    Annetjie,
    So jammer ek reageer nou eers! Ons internet is baie wispelturig.
    Dis vir my heerlik dat jy my storie gelees het, en veral dat jy van my held hou. Dis eintlik my seun, daai einste held – geskryf nes ek my seunskind ken, sy manier van praat, lyftaal, beroep, manier van dinge doen, alles. (Soos alle ander moeders, het ek natuurlik die pragtigste van manne vir ‘n seun, oor die ses voet en so aantreklik soos kome kan!) Ek het hom die heeltyd in my gedagtes gehad terwyl ek met die storie besig was. Hy is glad nie ‘n leser nie, maar wanneer ‘n boek hom die slag boei, kan hy dit net nie weer neersit nie. Ek het destyds vir hom ‘n kopie gegee en hom vertel hy’s eintlik die held van die storie. Hy en sy pa was op daardie stadium op pad Kaap toe met ‘n vragmotor. My man het my agterna vertel dat ons seun die boek ewe pligsgetrou oopgemaak het toe hulle op die teerpad gekom het en dat hy nie ‘n woord gesels het nie. Toe hulle teen donker daar in die verre Karoo aftrek vir die nag, het hy na die karavaanpark se kleedkamers verkas en daar by die elektriese lig gesit tot hy klaar was met die storie. Jy kan jou indink hoe lekker dit vir my was om dit te hoor. (Dis hierdie einste seun van my wat in hierdie dae, enige oomblik, om die waarheid te sê, gaan pa word. Wat ‘n onwerklike gedagte!)
    Van jou het ek al meer boeke gelees as wat ek kan onthou. Dankie vir al jou lekker stories!

  23. Magdaleen Walters says:

    Vlooistasie,
    (Wonder nog steeds hoekom jy jouself só noem. Laat jou klink na een van daardie mense wat tussen massas wolbeertjies en goed slaap. Net ‘n gedagte… is jy dalk ‘n student?) Ewentwel, jy vra oor helde. Weet jy wat is die heel lekkerste deel van liefdesverhale skryf? Om te kyk wat hierdie man alles sal doen vir die liefde, wanneer dit hom eers vasgevat het. Ek raak net so verlief op die held. Ek vermoed ek ‘piek en choes’ uit al die goeie eienskappe wat ek sommerso in die gang van sake en in die loop van baie dae in mans raaksien wat vir my mooi is, of wat ek bewonder, en dan drup ek dit in my ‘brou-‘n-man-swartpot’ en siedaar. ‘n Man. Voorspelbaar, gerusstellend betroubaar, onvoorspelbaar as dit by die liefde kom. Vir die heldin, altans. Klink my jy is op soek na so ‘n man? Ek hoop jy kry hom, hoor?

  24. Dina Botha says:

    Hi Magdaleen.
    Hoop dit gaan goed. My tyd is net geweldg min, maar ons moet een of ander tyd weer ‘n kuiertjie inwerk. Groete. Dina

  25. Maryke Wenncik says:

    Beste Magdaleen

    Dankie vir die terugskryf! Ja-nee, hierdie Vlooistasie is nogal vol wolletjies en stoffies en my kop is die ene dust-bunnies nou in die eksamentyd. net ‘n vragie wat ek seker is menige vrouens en lesers deel met my: waar kom die to-die-for helde vandaan? Kry mens ooit sulke mans? want as mens doen, kan ek sommer drie kry, take-away asseblief. Met tjips en koeldrank en ‘n side-serving uie-ringe. So oud as wat ek blykbaar is laat hulle nog steeds my hart in ‘n tiener-malsheid ontpop in elke boek. Net ‘n klein versoekie… sit bietjie meer woema in die liefdestonele! Monie bang wees vir wat die ‘gryse ou moeder’ sê nie. Almal soen mos voor hulle trou. persoonlik geniet ek ‘n lekker liefdestoneel solank dit smaakvol en keurig aangebied word (klink soos ‘n buffet-ete as mens dit so stel) maar eerlikwaar, daar is min goed so terleurstellend as ‘n boek waar die leser agterna voel sy is uit iets uit gecheat – mens spandeer die hele boek deur saam met die heldin, klim in haar kop, haar skoene en hart, en wanneer sy die vreugde van fisiese liefde ervaar, wil mens dit ook beleef.Ek sê nie raak wild en ongetem nie, maar moenie bang wees nie. soos wat jy dit doen is lieflik: doe zoo voort. Mens wil mos emosioneel bevredig voel wanneer mens ‘n boek neersit, nie voel asof jy nou skielik die laaste toneel van ‘n romantiese fliek gemis het nie. Liefde bestaan mos uit vele aspekte – emosioneel, sosiaal, fisies, kognitief… moenie bang wees om elkeen te ondersoek nie. Op hierdie noot moet gaan… heerlike daggie verder!
    Vlooistasie

  26. Magdaleen Walters says:

    Beste Maryke,
    (Vlooistasie? Nou wie het nou só ‘n naam? Klink soos iemand vol wol en stoffies.)
    Baie, baie dankie dat jy so baie van my heldinne hou. Ek moet bely dat ek nie juis weet wat ek gaan kry wanneer ek die dag ‘n draadjie uit die vrou se lewe vasgevat kry sodat ek ‘n stukkie van haar lewensverhaal vir ‘n storie kan uitryg nie. Daai einste heldin (Eleonore, as ek dit nie mis het nie) van Vlindervlug het my ‘n paar keer skoon verbaas gehad met als wat sy aanvang, (en nogal ‘n humeurtjie aan haar, hoor?) maar ek stem saam met jou, so tussen die belly-dancing passies deur is sy nogtans ‘n vrou van inbors en die humeurtjie was waarskynlik maar ‘n poging tot selfverdediging.
    Weer eens my waardering en my mooiste wense.
    Liefdegroete,
    Magdaleen

  27. marykewennick says:

    Beste magdaleen… Net ‘n briefie om te sê dankie vir al die heerlike boeke! My gunsteling bly nou maar eenmaal Vlindervlug. Ek is mal oor die feit die heldin ‘n mens uit eie reg is en nie ‘n produk van haar opvoeding en agtergrond is nie. Sy kry haarself nie jammer nie en bly staande in haar geloof. Nie in haar pa se verwagtinge nie. Haar oë is op die ‘big guy upstairs’ gerig, waar dit hoort. Ek is veral mal oor jou heldinne wat elkeen so uniek is, maar tog soveel eenderse eienskappe deel. Ek dink dikwels ‘n skrywer probeer bewustelik of onbewustelik iets van haarself in al haar heldinne sit net om beter met hulle te kan assosieer vir die skryfproses. Maar dankie dat jou boeke so lieflik verfrissend is – ek het elke een oor en oor en oor en oor en oor gelees en ek word net nie moeg daarvoor nie! Dis heerlik om te weet ek chat nou wraggies met my gunsteling skrywer… Moet gaan, dis etenstyd hier in Pretoria. Vlooistasie stuur groete!

  28. Magdaleen Walters says:

    Liana,
    Dankie vir jou mooi woorde. Jy maak sommer my hart lekker warm. Ek gaan jou naam iewers neerskryf en op die uitkyk bly vir jou eerste boek. En dan gaan ek vir jou ook ‘n briefie skryf. Sterkte!
    Groetnis,
    Magdaleen

  29. inlia says:

    Hallo Magdaleen,

    Ek wil graag dankie sê vir ‘n wonderlike boek, Droomman. Ek lees al jare lank Romanza, en hierdie was werklik een van die bestes. Ek skryf ook self, maar het ek nog nie gepubliseer nie. Dit sal nog kom, ek toets nog die water.
    Nogmaals dankie!
    Liana Bosman

  30. Magdaleen Walters says:

    Sonelle,
    Ek is nie heeltemal seker hoe die biblioteke werk nie. Ek weet wel dat daar skrywers is wat van hul boeke neem om opgeneem te word in die voorraad. Vir my lyk dit of die bib op ons dorp maar selde nuwer publikasies ryker word. Maar ek dink tog dat as mens ‘n naam en ‘n uitgewer kan gee, die biblioteke bereid sal wees om vir jou te bestel of aan te vra wat jy graag wil lees. Weer eens, ek is nie seker nie.
    Wat jou vraag oor die beplanning betref – dis iets waaroor die skrywers nogal onder mekaar praat. Elkeen het maar haar eie manier van doen, lyk dit my. Dit is wel so dat mens iets baie deeglik kan beplan, en dan kry die karakters ‘n heel ander koers met die verhaal. Ek het op skool geweier om daai diagramme te maak. Ek was glad nie van plan om my denke so te laat inhibeer nie, of so het ek daardie tyd geredeneer. In my dae as tale-juffrou het ek ook maar probeer om die kinders te leer om daarvan gebruik te maak, hoewel ek dit nooit afgedwing het nie.
    Deesdae moet ek soms ‘n uiteensetting/diagram doen net om my kop bymekaar te probeer hou, gewoonlik eers halfpad deur die storie. Mens se gedagtes orden hulself gewoonlik terwyl jy daarmee besig is. Eintlik het elke storie maar sy eie geboorte en groeiproses. Daar’s nie ‘n resep nie. Nie vir my nie, in elk geval.

    Lekker lees, hoor? En groete vir daardie ver wêreld waar jy woon.
    Magdaleen

  31. Sonelle Devenier says:

    Ek weet jou lewe is ook bedrywig (ek is redelik seker dit is, want ons lewe in ‘n bedrywige samelewing), maar as jy ‘n kansie het om dit te beantwoord, sal ek graag vir jou die volgende vrae wil vra:

    1. As jy ‘n storie skryf, weet jy vooruit presies wat jou storie-lyn gaan wees (doen jy deeglike beplanning), of begin jy sommer net skryf? Dit rede hoekom ek vra, is omdat hulle altyd vir ons in die skool geleer het om eers ‘n “spinnekop diagram” te maak waarin ons ons beplanning deeglik uiteensit, voordat ons begin skryf aan ‘n opstel. Ek het dit egter nooit so gedoen nie. Ek het sommer weggeval en gou na die tyd die diagram opgestel. Gebeur dit nie soms dat jy beplan om in ‘n sekere rigting te skryf, en dan neem die storie jou in ‘n heel ander rigting nie?

    2. Ek wil graag weet of die biblioteke na willekeur besluit wie se boeke wil hulle aankoop, of skenk die skrywers of uitgewers die boeke aan hulle? Ons biblioteek is regtig vir my baie swak toegerus (ons het in ‘n baie kleiner dorpie gebly en daar was ‘n baie groter verskeidenheid was as hier in Upington waar ons nou bly).

    Verder wil ek net dankie sê vir jou aandag en tyd. Dis ‘n voorreg om met ‘n bekende skryfster te kan gesels. Julle stel julself nogal bloot deur hierdie “blog”, want kritiek is vir geen mens lekker nie. Jammer as ek ook krities voorgekom het, maar ek kan ook nou met ‘n bietjie veranderde uitkyk na dinge kyk.

    Wil ook net byvoeg, ek lees nie altyd alle boeke met dieselfde verwagting nie. Ek lees so 3 of vier lekkerlees stories, en dan lees ek ‘n geestelike boek tussen-in. Wanneer ek ‘n geestelike boek lees (of die Bybel), lees ek dit glad nie met die verwagting dat alles lekker en maklik en goed sal wees nie. Dit spreek jou soms aan, dit daag jou uit, dit wys jou baie keer die minder mooi in die lewe. Die Bybel wys mense se oorwinnings en hul neerlae; beslis nie net die mooi nie. En die Bybel kan iets soms baie in detail sê; iets wat vir my in ‘n ander boek taboe sou wees. Maar die Here weet dat daar in dit alles vir ons ‘n les is. So ek sou nie sê as dit die skrywer van ‘n boek, se motief is om te wys dat die hoofkarakter ‘n kentering ondergaan, dit verkeerd is nie.

    Dan lees ek ook baie graag autobiografiee. Dit is seker hoekom, wanneer ek ‘n liefdesverhaal lees, ek regtig net wil onspan, en jy slaan die spyker presies op die kop: graag ‘n “they lived happily ever after” einde wil sien.

    Nou ja, mooi aand verder.

    Groete!

  32. Magdaleen Walters says:

    Dankie, Sonelle.
    Ek is bly jy het van my Engel-storie gehou.
    Ek moet dit tog vir jou noem dat ek ‘n storie met ‘n heldin begin. Sy is eerste daar, dan kom die res. En weet jy, so perfek en pragtig soos wat hulle is, het heldinne maar hulle dingetjies. Hulle laat hulle nie ALTYD deur ‘n skrywer voorsê nie. Almal is weliswaar goed grootgemaak, maar party neig om in modepoppies te ontaard en ander is vreeslik vol nonsens oor die held. Die arme man kan ook niks reg doen nie. En so het elkeen haar persoonlikheid waaraan ek nie veel kan verander nie.
    Klink dit vir jou soos ‘n bogstorie? Ek verseker jou dit is die waarheid.
    Sterkte met jou ‘normale lewe’ en mag jou lewenspaadjie besaai wees met lekker storie-boeke.
    Groete,
    Magdaleen

  33. Sonelle Devenier says:

    Dankie vir die terugskryf.

    Ja, ons kan maar net sê: ons wêreld bestaan uit ‘n BAIE groot verskeidenheid van mense.

    Dit is sekerlik moeilik om vir ‘n wye gehoor te skryf. Ek dink net ek het Bosveldsprokie, Engel in die stad en selfs Mathilda se wenakker so baie geniet, dat die ander boeke (eintlik net Meisie uit die Boendoe, Wegkruipertjie liefde en Liefde in ‘n teekoppie), vir my nogal ‘n teleurstelling was.

    Ek dink dit is omdat mens nogal gewoond is skrywers skryf baie keer dieselfde. ‘n Sarah du Pisanie boek is so voorspelbaar as kan kom; die meisie het omtrent altyd dieselfde soort persoonlikheid, sowel as die man.

    Vroeer jare het ek Susanna M Lingua se boeke gelees. Daar is weer altyd die aspek van een of ander oorsese reis of edelman betrokke.

    Nita Griessel se boeke is altyd in so oordrewe afrikaans geskryf, met soveel onbekende sêgoed, dat dit jou amper naderhand mal dryf. Tog het ‘n baie van haar boeke nogal geniet.

    So ek bedoel maar net dat ‘n mense ‘n sekere soort karakter, sekere storielyn en skryf-styl met ‘n skrywer assossieer.

    In elk geval: jy is ‘n skryfster in eie reg en, soos ek gesê het, ek dink dit is veel moeiliker om ‘n verskeidenheid te skryf as om altyd op dieselfde manier, vanuit dieselfde uitkyk, te skryf.

    Ek hoop daar gaan nog baie mooi boeke uit jou pen (of sê mens vandag, uit jou rekenaar?) na vore kom.

    Ek wil net hê jy moet weet, in die 20 jaar wat ek al liefdesverhale lees, is Engel in die Stad my totale gunsteling boek, wat ek sommer ‘n 10/10 punte telling gee. Dit beteken: daar is absoluut niks in die boek wat ek sou wou uitlaat, of sou wou insit nie. Die boek is perfek en vir my sommer baie mooi.

    Nou ja, ek moet na my normale lewe terugkeer, wat vandag sommer baie besig is.

    Vriendelike groete en mag die inspirasie geil in jou tuin groei (soos Nita Griessel sou sê)

    Sonelle

  34. Magdaleen Walters says:

    Sonelle, ek wens jy kon weet hoe ek hierdie brief waardeer. Lapa druk ons dit gereeld op die hart dat ons nooit ons lesers moet onderskat nie en met hierdie terugvoer het jy dit weer eens bewys.
    Vir jou moet ‘n boek nie ‘n greep uit die werklikheid wees nie, maar eerder ‘n uitbeelding van hoe jy graag die werklikheid sou wou gehad het. Soos wat ek kon wys word uit die enkele skryfkunskursusse wat ek al bygewoon het, sowel as uit boeke wat ek oor die skryfkuns gelees het én uit die standpunte van ons uitgewers, is presies dít soos die klassieke liefdesverhaal-leser oor ‘n liefdesverhaal voel. Sy wil nie gekonfronteer word met dieselfde ontstellende dinge waarmee die lewe haar in elk geval konfronteer nie. Sy wil juis van hierdie dinge ontvlug en wat bied beter en veiliger ontvlugting as ‘n heerlike, outydse romanse waar jy rustig kan voortlees in die wete dat die heldin (oftewel jyself) nie dinge gaan doen of oorkom wat jou teen die bors gaan stuit nie en dat sy op die ou einde ‘n ‘happily-ever-after’ gaan hê, ongeag die struikelblokke op haar pad. Dis ‘n ‘veilige’ plek om te wees, in só ‘n storie.
    Hoe nodig het ons nie hierdie veilige ontsnappings nie!
    Miskien kom die probleem daarby dat verskillende lesers bekend is met verskillende situasies en dat elke leser ‘n storie lees met ‘n ander, unieke leefwêreld as agtergrond. Wat die een leser gaan skok of ontstel, is dalk iets waarmee ‘n volgende heeltemal vrede het. As voorbeeld kan ek noem dat ‘n vrou wat al met iemand (of dalk meer as een iemand) saamgewoon het, waarskynlik met ‘n ander stel reëls na die lewe (en na storie-boeke) kyk as iemand wat besliste vooropgestelde idees oor ‘n saamwonery het en dit in beginsel afkeur. Kortom, ons kyk deur verskillende brille na die wêreld om ons.
    En dan, soos jy ook na verwys het, maak die manier waarop ‘n skrywer met ‘n saak omgaan ‘n groot verskil. Ek onthou ‘n storie van Francine Rivers, waar die heldin ‘n prostituut was wat onder leiding van die gelowige held omgedraai het en ‘n vroom, godsvrugtige lewe begin leef het – meer opreg as vele ander mense om haar wat nog geen onsedelikhede in hul lewens gepleeg het nie, maar wat liefdeloos is. Die hele verhaal is deur die knap hantering van die skryfster só aangebied, dat dit veel eerder tot stigting en inspirasie is as wat dit skok. Maar nou ja, Francine Rivers val natuurlik in ‘n klas van haar eie.)
    Ek dink juis ons verskille maak die lewe vol verrassings. Ons hoef gelukkig nie almal eenders te wees en van dieselfde dinge te hou nie. In my man se familie was daar vroeër jare ‘n vaste gesegde, nl. As ons almal eenders was sou ons almal strooihoedens gedra het en volksies gery het. (Ek het eintlik al hiervan vergeet, onthou dit sommer nou so skielik.) Ek dink dat dit wat hul met daardie gesegde vir mekaar wou sê, is dat almal moet ruimte laat vir mekaar se verskillende standpunte, smake en benaderingswyses.
    Wees gerus dat daar derduisende lesers is wat jou standunt, wat jy so mooi uiteengesit het, deel. Dit sal dom wees van die storie-skrywers om sulke lesers se sentimente te geringskat en te ignoreer.
    Ek neem kennis van hoe jy voel en ek respekteer dit. Ek weet dat my gryse ou moeder jou sal toejuig as sy jou brief lees.
    Dankie weer eens vir jou kommentaar en jou moeite. Ek hoop om weer van jou te hoor.
    Mooi wense vir jou,
    Magdaleen

  35. Sonelle Devenier says:

    Hi Magdaleen.

    Ja dis seker ‘n moeilike klomp vrae.

    Wel, kom ek stel dit so: as mens ‘n boek lees waarin die meisie heeltemal onskuldig en “skoon” is, kan ons elkeen seker vir onsself dink dat dit nie werklik in die lewe so is nie.

    Om te glo daar is ‘n meisie wat nog ‘n maagd is, wat skoon en rein lewe en wat nie eens onder die swaarste druk sal toegee nie (gestel sy is werklik lief vir die man en hy vir haar ens ens), is nie altyd heeltemal geloofwaardig nie, want ons lewe in ‘n tyd waar die morele standaard maar baie laag is (volgens my).

    MAAR vir my ‘n boek net ‘n storie. Dit moet vir my, baie keer ‘n verhaal wees – nie oor hoe die wereld is nie, maar oor hoe ek wens dit was. Dit gaan seker baie keer ook vir my oor hoe ek wens ek was.

    Vir my is lees altyd ‘n ontvlugting. Tans lees ons Laura Ingalls Wilder se lewensverhaal (die “little house on the prairie” reeks). Nou ja, ons sal nooit ooit soos daardie mense kan leef nie, want die wereld het te veel verander. Maar ek begeer om so te leef. Hoewel dit gebaseer is op die waarheid (en dus nie ongeloofwaardig kan wees nie), is dit tog ongeloofwaardig want mens kan nie glo mense het so eenvoudig en opreg gelewe nie. Maar dit beteken nie dat ons dit nie ontsettend baie geniet om dit te lees nie.

    Vir my hoef ‘n boek glad nie geloofwaardig te wees nie; dit moet net mooi wees. Mooi en skoon van inbors.

    Ja, ek dink dit het baie te doen met hoe ‘n ding voorgehou word. Die insinuarie van iets wat gebeur het, is nie altyd vir my onaanvaarbaar nie, maar wel hoe ver dit met detail ingevul word. Ek het byvoorbeeld ‘n boek gelees van ‘n meisie wat voor die huwelik swanger geraak het, maar niks word in detail gegee nie. Dit gaan maar oor hoe dit haar lewe beinvloed het en so meer.

    Maar eerlikwaar, so boek geniet ek nie. Ek geniet ook nie die tema van ‘n mooi onskuldige meisie wat skielik wereldwys word en haar kleredrag en so meer dan drasties verander nie. Vir my dui dit op ‘n swak karakter wat nie by beginsels kan bly nie. Of dat die meisie nooit regtig dinge gedoen het uit oortuiging nie, maar sommer maar net (weereens vir my ‘n swak karakter)

    Ek geniet eerder ‘n boek (veral wanneer ek ‘n liefdesverhaal lees), wat net suiwer leesgenot is met min “diep” dinge waaroor ek eers moet dink, of wat my kan ontstel.

    In Bosveldsprokie, was daar sprake van die meisie wat amper verkrag is. Dit was nie vir my onaanvaarbaar nie, want dit het nie oor haar swak karakter gegaan nie. My sussie (wat nog meer konserwatief as ek is), het egter nie gevoel dit was gepas nie. Daar is ook die toneel waar sy kaal uit die stort storm, wat ook nie vir my onaanvaarbaar was nie. Die manier hoe jy dit geskryf het, het juis die meisie se onskuld bewys, in die manier hoe sy hierop gereageer het.

    Basies is my riglyn, dat as ‘n boek op my rak is, moet my kind dit kan lees wanneer sy ‘n tiener is. En ek besef maar net al meer dat daar maar min boeke (liefdesverhale) is wat daaraan voldoen.

    Natuurlik assosieer mens met die hoofkarakter, en as ek ‘n boek vir my kind gee om te lees, moet die hoofkarakter ‘n rolmodel van formaat wees. (Selfs al bestaan sulke mense nie werklik nie). Ek weet nie of ooit die Krugerboslaan reeks gelees het nie, maar dit ‘n goeie voorbeeld. Mnr. Serfontein, die skoolhoof, is meer masjien as mens. Enige ou wat dit lees, kan sien daar bestaan nie iemand soos hy nie. Maar dit verander niks daaraan dat mens dit baie geniet nie!

    Ek besef my uitkyk is miskien baie eensydig. Maar dit is maar my standaard en dit is dit.

    Ek sal tog daardie boek bestel en jou laat weet wat ek dink. Ek kan net sê, jou boek wat vir my die heel mooiste was, was beslis “Engel in die stad”. Latere boeke was vir my ‘n teleurstelling, omdat dit nie dieselfde elemente bevat het nie. Natuurlik kan jy ook nie elke boek dieselfde skryf nie, en jy kan ook nie elke boek skryf om my tevrede te stel nie (dit besef ek al te goed!)

    Ek dink ‘n boek wat ek geniet en wat vir my nie net ontspanning is nie, maar ook inspirasie, is waar die hoofkarakter iemand is na wie ek kan opkyk en soos wie ek graag sal wil wees (al is ek nie nou so nie). Hoop jy verstaan wat ek probeer sê.

    Maar sterkte daarmee. Om ‘n boek uit te gee is ‘n groot stap, want al is dit net vir ontspanning, kan mens iemand se denkwyse daardeur bepaal. Ek het begin om liefdes verhale te lees toe ek omtrent 10 jaar oud was. En dit is nie vreemd dat kinders wat lief is vir lees, dit doen nie. Ons is volwasse en ons denk patrone is reeds vasgelê, maar hulle ontwikkel nog. Daarom sê ek, wat mens skryf kan nogal ‘n groot impak op iemand se lewe hê.

    Hoop ek beantwoord jou vraag. Sal jou laat weet wat ek van die boek gedink het.

    Ons bib is ongelukkig so swak toegerus, dat ek dit nie daar sal kry nie. Maar sal laat weet as ek dit gelees het.

    Mooi dag verder!

  36. Magdaleen Walters says:

    Sonelle,
    Bly om weer van jou te hoor. Ek het gisteraand nogal gesit en dink oor my voorstel dat jy daardie ‘ou’ verhaal van my lees en toe onthou ek ‘n toneel in die verhaal wat jou dalk gaan hinder. Om die waarheid te sê, is dit my mees gewaagde toneel ooit. Nogtans wonder ek of jy nie daarvoor kans sien nie en ek wil verduidelik. Eerstens, die karakters is beslis edel van inbors. Tweedens, die klere waai nie. Dis nie ‘n bedtoneel of ‘n vuurwarm spulletjie nie. Derdens, die twee jongmense is in ‘vreemde’ omstandighede saamgegooi. Nie een van hulle het op daardie tydstip verwag om daar saam te wees nie, hul is emosioneel, sy is bitter jonk, bitter eensaam en bitter ver van haar ouerhuis af en hul is lief vir mekaar, al het hul dit nog nooit vir mekaar gesê nie. Gesien in die konteks van die gegewe, kan jy dalk ‘verskoning’ vind vir hul gedrag. Die heldin is beslis onskuldig van aard. Waarskynlik meer as enige van my vorige heldinne. Maar vreemde omstandighede laat mense (veral verliefde jongmense) soms vreemde dinge doen, dinge wat hul agterna nie kan glo hul het gedoen nie, soos in die geval van hierdie heldin.
    Ek sou bitter graag jou terugvoer hierop wou kry, ek wil mos weet hoe ons lesers dinge ervaar. My vraag is dus: dink jy dat daar soms regverdiging is vir ‘onskuldige’ karakters van goeie inbors om die pad tydelik byster te raak? (Ons almal weet dit gebeur dikwels in die werklike lewe.) Sal jy jou met so ‘n heldin kan vereenselwig en haar haar swakheid kan ‘vergewe’? (Daar kan natuurlik baie in ‘n storie gebeur sonder dat dit in detail uitgebeeld hoef te word.) Ek sou ook graag wou weet presies wat dit is wat jou hinder – of dit die blote feit is dat dinge waarmee jy nie saamstem nie in die verhaal gebeur, en of dit die MANIER is waarop die skrywer dit aan jou voorhou.
    Ek hoop nie ek vra te veel nie? Maar jy kan op die manier vir my ‘n kykie in ‘n leser se kop gee sodat ek haar ook beter kan verstaan.
    Alles van die mooiste vir jou en ek hoop om weer van jou te hoor.
    Groetnis,
    Magdaleen

  37. Magdaleen Walters says:

    My sussie, tog te lekker om jou hier op die skerm te kry! Wat ‘n bonus. Dankie vir jou mooi woorde. Eendag, as ons baie tyd het, gaan jy ook stories skryf en dan gaan ek sulke mooi prente soos jy skilder. Ons is juis op pad bos toe, my man moet ‘n vergadering bywoon. Ek vat vir my so ‘n lekker dik whodunnit saam. Sterkte met jou werk! Hou duim vas dat ons mekaar dalk met mamma se verjaardag gaan sien. O, ja, die blou kombersie is klaar gehekel!

  38. Dalene Janse van Rensburg says:

    Hi my sussie,…Ek het nog nooit “geblog” nie, maar hierdie een is die moeite werd. So lekker om jou gesiggie op die rekenaarskerm te sien.
    Ek kan nie wag vir April (of iewers die jaar?) tot jou volgende…en volgende boek verskyn nie. Dan vat ek sommer ‘n dag af by hierdie voldagwerk van my en pak ‘n piekniekmandjie en gaan sit iewers waar niemand my kan opspoor nie. – Ek dink ek moet liewer saam bos toe gaan en die splinternuwe pak boeke onder in jou bedkassie gaps en verslind. Ek verlang na jou. Jy moet mooi leef en lekker skryf….en blou kombersies hekel. Dalene

  39. Sonelle Devenier says:

    Dankie Magdaleen vir die terugvoer. Ek het so spesmaas gehad die meeste druk om boeke minder “onskuldig” te maak, kom van buite en nie van jouself nie.

    Dit is baie jammer. Ek het eenmaal gelees dat die eindproduk van ‘n boek, selfde presies dit is wat die skrywer ingedagte gehad het, en dikwels meer dit is wat die uitgewers in gedagte het.

    Jy kan gerus vir die uitgewers sê dat minstens een van jou fans, jou boeke onskuldig verkies. Ek is seker daar is baie meer wat soos ek voel. Dalk moet hulle ook van hul laat hoor. Sal beslis die boek wat jy aanbeveel, aankoop.

    Het vergeet om te sê, ek het ook Mathilda se wenakker gelees. Dit was ook ‘n baie mooi boek.

    Ek is nou dertig en ek weet nie hoeveel boeke het ek al in my lewe gelees nie (allerhande soorte), maar ek lees gemiddeld 10 boeke per maand. Toe ek jonger was, was dit heelwat meer.

    Ek het egter net twee skryfsters (van liefdesverhale) se boeke op my rak: joune, en Sarah du Pisanie s’n.

    Sterkte met die skrywery! Ek waardeer die antwoord!

    Groete
    Sonelle
    NS: My naam was nog altyd vir my ‘n kruis. Ek is bly as jy daarvan hou!

  40. Magdaleen Walters says:

    Sonelle,
    (Wat ‘n pragtig naam, gebruik hom sommer vir ‘n heldin wat vir my lyk of sy so ‘n naam moet kry.)
    Baie dankie vir jou terugvoer. Dis ‘n vars, splinternuwe insig uit ‘n splinternuwe bron en beteken vir my meer as wat jy sal besef.
    As jy maar weet hoe ek al raasgekry het oor hierdie onskuld van my heldinne, sal jy dalk heel verbaas wees. Party mense sê ek moet bykom en ander sê weer waag dit net om anders te skryf…
    Miskien hou jy van “Net soos jy is”. Dis ‘n verhaal wat afspeel in die later 1800’s, toe die mensdom nog te besig was met oorlewing om hom op te hou met allerhande twak. Wanneer die liefde gekom het, moes dit kon staande bly deur ‘n leeftyd se storms. In daardie dae het die mense nog getrou met hul eerste liefde en getrou gebly aan hierdie eerste liefde. Goeie dae, die wêreld sou heel waarskynlik ‘n beter plek gewees het as ons daarby gehou het.
    Groete,
    Magdaleen

  41. Sonelle Devenier says:

    Goeiedag Madgdaleen.

    Ek het ‘n hele paar jaar terug, Bosveld sprokie en Engel in die stad gelees (by die Bib). Sedertdien het ek dit my taak gemaak om dit in die hande te kry, Net toe ek ten einde laaste (nadat ek elke moontlike tweedehandse boekwinkel ge”raid” het), dit kry, word dit weer uitgegee!

    Daarna het ek Net ‘n gewone man en Anna Amorentia gekoop, en ook baie geniet.

    Die laaste drie boeke wat ek gekoop het, was Wegkruipertjie liefde, Liefde in ‘n teekoppie en Meisie uit die Boendoe.

    Ek moet egter sê dat ek na die laas genoemde 3, nie weer enige van jou boeke gekoop het nie. Die pragtige onskuld wat in die eerste twee en ‘n mindere mate die volgende twee, te vinde was, het soos mis voor die son verdwyn.

    In ‘n tyd waar skoon liefdesverhale so skaars soos hoendertande geword het, was jou stories vir my baie besonder, mooi, skoon en onskuldig.

    Die feit dat jou eerste twee boeke weer op die publiek se aanvraag, herdruk is, is miskien ‘n rigting wyser dat daar meer mense is wat soos ek voel.

    Vriendelike groete
    Sonelle Devenier

  42. Dina Botha says:

    Raai wat sien ek die naweek in die CNA. Daar … reg langs die nommer 2 bordjie van die CNA se beste verkopers … jou Omnibus. Ek weet nie hoe dit werk nie en of iemand jou van sulke dinge laat weet nie en of dit per ongeluk daar beland het nie. Dit maak nie regtig saak nie. Ek was trots op jou. Toe ek vir my seun se: Kyk! Dis daardie tannie wat ek ken se boek, toe se hy vir my. Ja ja Ma, jy se my elke keer as ons in die CNA kom. Nou ja, is dit nodig dat ek meer se?

    • Magdaleen Walters says:

      Lekker om van jou te hoor!
      Ai, my kinders sê ook deesdae gereeld vir my: Ons weet, mamma het ons al gesê.
      Ek is skoon verbaas oor wat jy my van die omnibus vertel. Ek gaan loer gewoonlik wat in CNA se romantiese afdeling aangaan en raak skoon opgewonde oor Lapa se boeke, maar het nog nooit my omnibus daar gewaar nie. Dalk kyk ek in die verkeerde CNA’s. Dis nou ook nie of ek elke week stad toe gaan nie.
      Ek sit nog met 3 boeke van jou wat splinternuut en ongelees in my bedkassie lê. Bêre dit vir wanneer ons weer Bos toe gaan. Hoe’t ons altyd as kind gesê? Die lekkerste vir laaste!

  43. Marile Cloete says:

    Vir daai kleinkind kan jy gerus maar eers (tydelik!) ‘n paar dinge agterwee laat bly!
    KLEIN KLIPPIE VER GOOI (my tweede boek) is nogal vrolik, hoewel my stories altyd humor het. Sonder humor is ek morsdood! Ek dink hy is die een van my romanses wat die meeste volgens die vereistes vir die genre geskryf is. Ironies was hy ook die een wat die swakste verkoop het. Ek vermoed die titel pas nie so lekker by die genre nie.

  44. Magdaleen Walters says:

    Baie dankie, Marile, vir jou mooi terugvoer. My waardering. Ek is so ver agter met my leeswerk dat ek dit nie meer kan glo nie. My bedkassie onderin loop oor van splinternuwe boeke wat wag om gelees te word – iets wat ek nog altyd gedoen het wanneer ons bosveld toe gaan (dit gebeur dikwels). In die bosse is daar nie elektrisietyd nie en kan ek nie skryf nie. Die laaste paar keer wat ons daar was, het ek egter my tyd gebruik vir ‘n babakombersie vir die nuwe kleinseun, (ons verwag hom April-maand) en nie by lees uitgekom nie. Ek weet dis bitter moeilik om op so ‘n versoek te reageer, maar kan jy miskien vir my een van jou stories aanbeveel, al weet ons albei hulle is elkeen ‘n persoonlike gunsteling van sy ma, is daar dalk enetjie wat jy dink ek moet lees. (Ek hou van humor.)

  45. Marile Cloete says:

    Ek het NIEMAND SOOS JY NIE regtig vreeslik geniet. Jy het beslis ‘n spesiale talent om in die hart van ‘n kind te kan klim en ook om die ouer tyd se atmosfeer vas te vang.

  46. Marile Cloete says:

    Magdaleen, ek het vandag vir NIEMAND SOOS JY NIE raakgevat in ons bib – kan nie wag nie! Het juis toe ek jou lys boeke sien, gedink dis so ‘n mooi titel vir my.

  47. Magdaleen Walters says:

    Dina, ek weet nie of jy my vorige kommentaar op jou boodskappie gekry het nie. Het baie ure gesit en spook met die blog die naweek, net om eindelik te besef dat die fout by ons server was! Vanoggend is alles weer reg en normaal en toeganklik. Ek gaan weer probeer om foto te laai ens, maar ek gaan die vrymoedigheid gebruik om jou te skakel as ek weer verdwaal raak in die spulletjie. Geniet jou dag!!!

Leave a comment