Juanita Aggenbach – OP DIE HORISON VER

Op die horison ver (Hoëres)“Wag, dat ek help.”

Haar liggaam span snaarstyf die oomblik wat hy agter teen haar rug kom staan.

Hy haal ’n sjerrieglas af en gee dit vir haar aan.

Sy neem dit werktuiglik by hom. Sy kan sy hartklop teen haar rug voel. Haar lyf is een brandende kool vuur. Hy gee vir haar nog een aan. Stadig. Sy vingerpunte raak aan haar en blaas nog hitte deur haar. Hy ruik verruklik. Die derde glas word op dieselfde manier aangegee. Sy gaan binnekort uitbrand. Die vierde glas hou hy vir ’n sekonde langer vas sodat sy langer só in die kom van sy lyf staan. Sy sit die laaste glas op die toonbank neer en stut albei haar arms daarop. “Dankie.” Daar is niks

meer as ’n hees fluistering wat uit haar polsende keel kom nie.

“Plesier.” Dawid se stem teen haar oor klink dieselfde as hare. Sy liggaam talm nog vir ’n paar tellings agter teen haar en toe is dit weg.

Sy staan nog vir ’n oomblik, sonder om om te draai. Sy mag nie so na aan hierdie man staan nie. Nooit weer nie. Enigiemand wat nou in haar oë kyk, sal haar hele hart daarin kan lees. Daarvan is sy seker. Sy trek die lug diep in haar longe in voor sy die

koffielikeur uit die kruidenierswarekas haal. Maryke sal vinnig moet drink.

“Gee vir my.” Dawid se oë is donker terwyl hy sy hand na die likeurbottel toe uithou.

Sy gee die bottel vir hom en vlug uit die kombuis uit. Maryke het gesien. Dis baie duidelik in die waarskuwende kyk wat sy haar gee.

Dawid oorhandig soos ’n ware gasheer elkeen se glasie likeur en kom sit op die bank langs haar.

Waar anders moet hy sit? Sy moet ekstra los stoele koop. Twee tweesitplekbanke in ’n sitkamer werk nie as jy gaste het nie.  Sy speel met die romerige koffiesmaak op haar tong in ’n poging om haar aandag van Dawid af te lei. Dit werk nie. Hier sit Dawid nou langs haar op haar bank in haar huis en koffielikeur drink. Hoe lieflik sou dit nie gewees het as hy nie vir Louise in sy lewe gehad het nie. Hoe anders sou

hierdie aand nie gewees het nie. Hoe spesiaal sou die oomblik in die kombuis nie gewees het nie. Sy sou kon omdraai in sy arms in en … Nee. Sy sluk die likeur af en staan op om die leë glas in die opwasbak te sit.

“Nou toe.” Dawid staan langs haar op. “Ons moet ook in die bed kom.”

Gerhard staan traag op, strek hom lui uit en trek Maryke van die bank af op.

Ek is nes ’n vroumens wat nie weet wat ek wil hê nie, dink Anja kriewelrig terwyl sy die deur vir haar gaste oopmaak. Die hele aand wens sy dat hierdie aand tog net tot ’n einde moet kom, en noudat dit uiteindelik gebeur, is sy terneergedruk.

“Nag, my vriendin.” Maryke vat haar twee hande in die voorportaal saam. “Baie dankie vir alles. Dit was heerlik.”

“Nag, sussie.” Gerhard gee haar ’n klapsoen op die wang voor hy Maryke na buite toe volg. “Ek stap saam met jou kar toe.”

“Nou goed dan,” glimlag Maryke inskiklik. “Nag, Anja. Nag, Dawid.” Maryke wuif en verdwyn saam met Gerhard om die hoek van die huis.

Nou is dit net sy en Dawid. Sy stap saam met hom uit tot op die voorstoep.

Die flou stoeplig weerkaats in sy mooi oë. “Baie dankie vir alles, Anja. Dit was lekker om jou weer te sien.”

“Daar is niks om voor dankie te sê nie, jy het vir alles betaal.” Wat anders moet sy sê? Dat dit vir haar ook lekker was om hom nog een keer weer te sien?

“Ek sê eintlik dankie.” Hy druk ’n los haarsliert sagkens en tydsaam agter haar oor in. “Dat jy ingestem het.”

“O.” Nou sal ’n goeie tyd wees om vir hom te sê dat hy haar eintlik hierin geboelie het, maar haar tong wil nie saamwerk nie.

Dawid se hand kom in die draai van haar nek tot ruste. “Kyk na my, Anja.” Dit voel of die aarde aan die draai is. “Asseblief?”

Sy moenie. Sy moenie nou kyk nie.

Hy lig haar ken met sy voorvinger. “Ek is mal oor jou.” Die deernis in sy oë verwoes alle weerstand in haar. “Vanaf die eerste oomblik wat ek jou gesien het, het jy iets in my wakker gemaak wat ek nog nooit voorheen met enige iemand anders

beleef het nie.”

Wat moet sy sê? Elke vesel in haar lyf hunker na hom. Nog nooit voorheen het sy so oor enige iemand gevoel nie, maar Louise het nie verdwyn nie. Sy mag nie toegee aan hierdie aantrekkingskrag nie. Sy lek haar droë lippe af. Dit is binne haar vermoë om hierdie situasie stop te sit. Sy sal in elk geval nie met haarself kan saamleef as sy dit nie nou in die kiem smoor nie.

Dit verg elke greintjie wilskrag wat sy bymekaar kan skraap om haarself te laat regop staan en hom vas in die oë te kyk. “Ek is jammer, Dawid.” Sy sluk. Hopelik

sal sy vergewe word vir die leuen. “Ek het reeds iemand anders in my lewe.” Hoe anders kan sy hierdie belaglikheid finaal stopsit? “Jy sal my nou moet verskoon.”

Daar is soveel verwarring in Dawid se oë dat dit haar soos ʼn vuishou in die maag tref, maar sy maak die deur agter haar toe en sluit dit.

Sy staan met haar rug teen die houtversperring tussen hulle en sluit haar oë. Dis beter so. Sy gaan sit op die bank wat hy warm gesit het en luister hoe die twee motors die een na die ander wegtrek.

Dawid se sjerrieglas staan leeg op die koffietafel. Sy dop dit om om die laaste druppel koffielikeur te proe. Sy verwarde oë bly voor haar toe sy haar oë toemaak. Dis beter so, besweer sy die steekpyn in haar bors. Sy gaan haal die bottel koffielikeur weer uit die kas, gooi die glasie halfvol en gaan sit op die mat. Dawid het gesê hy is mal oor haar. Sy maak weer haar tong nat. Hy moes dit bedoel het. Geen mens kan so goed toneel speel nie, maar wat maak dit tog saak? Telkens maak sy haar tong nat tot die glas leeg is. Toe sit sy die sitkamerlig af. “Totsiens, Dawid.”

Advertisements

DINA BOTHA VANAAND OP RADIO PRETORIA!

Skakel vanaand net na 19:00 op Radio Pretoria in om na DINA BOTHA te luister!

bl2

blog

  • In die 2013 finansiële  jaar was sy vir 33 uit die 52 weke op Nielsen se topverkoperlys.
  • Vanaf 1 April 2014 skryf Dina voltyds.
  • Sy is ’n ma van vier kinders: Anri, Louwrens, Ziske en Karlin.
  • Sy het nou al meer as veertig boekkontrakte agter haar naam.
  • Dina het ’n vlymskerp brein. Nee, sy het nié ’n graad ’n graad in skeppende skryfwerk nie. Haar opleiding is in die inligtingtegnologie.
  • Op skool het sy Ena Murray se werk verslind en wou toenterjare al skryf. Ná skool wou sy joernalistiek swot om uiting te gee aan die skryfdrang, maar dié droom het skeefgeloop en sy het  ingeskryf om in IT ’n kwalifikasie te kry.
  •  Sy het begin skryf toe haar jongste kinders klein was en sy by die huis moes bly.
  •  Agt jaar later is sy nie net een van Afrikaans se mees produktiewe skrywers nie, sy begin nou ook lof onvang vir haar werk. Verlede jaar het sy weggeloop met die ATKV-Woordveertjie vir Romanses.

Die jongste Romanzas!

Die jongste Romanzas het sopas op ons tafel geland! En dit is daardie tyd van die jaar wat die begeerte vir ‘n vakansie in ‘n behoefte verander. Wel, hier is bekostigbare reisplan.

ROMANZAS

SKADUSEISOEN – Elsa Drotsky

Anaret en Chris is getroud en word op dieselfde dag bevorder. Hy moet Mosambiek toe en sy bly in die stad agter. Nie een van hulle wil bes gee nie, en dit lei tot groot onmin tussen hulle.

Skaduseisoen (Hoëres)

DIE EEN VIR MY – Salomé Schutte

 Mariella gaan Hogsback toe om die oupa wat sy nog nooit ontmoet het nie, te gaan opsoek. Maar dis nie net oupa Karel wat haar voete onder haar uitslaan nie – die mooie Victor Vos doen dit ook.

Die een vir my (Hoëres)

KAAPSE DRAAI – Alma Carstens

Lani gaan Kaap toe om vir ’n maand lank saam met ’n wildvreemde boer op sy plaas te bly.  Maar waarom sou ’n man wat so aantreklik is, dit nodig vind om vir ’n vrou te adverteer?

Kaapse draai (Hoëres)

DIE PERFEKTE OPLOSSING – Dirna Ackermann

Talani kry werk as ’n nanny om afstand tussen haar en haar verloofde te kry. Dit is egter die oulike seunskind se pa wat sy net nie uit haar gedagtes kan kry nie.

Die perfekte oplossing (Hoëres)

Krul op ‘n rusbank of lê op ‘n bed en geniet!

LEER KEN VIR … Juanita Aggenbach

Juanita se eerste Romanza, OP DIE HORISON VER, het hierdie maand by LAPA verskyn en dit is nommer 6 op SA se topverkoperlys!

Sy vertel ’n bietjie  meer van haarself…

Foto van werkspasie

My werkspasie: Wanneer ek skryf sit ek in my slaapkamer op een van twee plekke of voor my spieëlkas langs my klavier en kitaar of in die bed. In die winter wen die bed, maar dit keil my rug op …

Drie items waar sonder ek nie kan leef nie: My Bybel, my handsak met karsleutels in en my gesin (Ek weet hulle is nie ‘n “item” nie maar ek sal verlore wees sonder hulle)

My drie gunstelingskrywers … Annelie Botes, EKM Dido en Chanette Paul

As ek drie mense na ‘n ete (lewend of dood) sou nooi, sal dit wees … My man, ek is mal oor sy geselskap en hy laat my lag. Helen Zille ek sal haar graag as mens beter wil leer ken en Micki Pistorius, die forensiese sielkundige wat van die grootste reeksmoordenaars in Suid-Afrika help vastrek het.

Vyf dinge van myself wat nie in my bio staan nie:

    • Slaap is vir my ‘n wondersoete ding
    • Jy kan my heel waarskynlik omkoop met wine gums.
    • Ek is mal daaroor om alleen te wees en stil te raak.
    • Dekortydskrifte maak my kinderlik opgewonde en ek kan dieselfde tydskrif oor en oor deurblaai.
    • Ons het ’n Maltese poedel met die naam Boeta en hy is die babaseuntjie in die huis.

‘n Proestukkie uit OP DIE HORISON VER verskyn Donderdag!

ALDA GEERS: SOMME VAN DIE HART

Somme van die hart (Hoëres)“Die Erfenisagentskap sien om na alles wat in landsbelang bewaar moet word,” verduidelik hy. “En dit sluit historiese bome in.”

“Bome soos die Brekfisdorings?” Sy wens dit was nie vir haar nodig om so ’n simpel vraag te vra nie.

Hy tel sy koffie op, hou sy hande bak om die beker. “Bome soos die Brekfisdorings, ja.”

Die nuwe weet is soos ’n lewe wat van vooraf in haar oopgaan. “Hoe kontak mens die mense?”

“Ek het vir jou vorms van Pretoria af saamgebring om in te vul.”

“Watse vorms?”

“Aansoek om die bome as Erfenis Terrein verklaar te kry.”

Hy is weer besig om vir haar in te tree, dink sy. Maar dié keer maak dit nie saak nie, solank die bome staande bly. “Waar is die vorms? Ek sal dit sommer nou invul.”

“Wag, wag,” keer hy laggend. “Ek het dit nie hier nie. Nooi my vir koffie môremiddag, dan bring ek dit vir jou. Intussen kan jy begin met ’n verslag wat saam met die vorms ingestuur moet word.”

“Verslag?”

”Waarin jy alles noem wat jy van die bome weet. Die hele geskiedenis. Dit sal help as jy afdrukke kan bysit van daardie foto’s wat jou oupa het.”

“En dan is dit ’n wettige dokument wat keer dat die bome afgesaag word?”

“Nie op sigself nie. Maar is die aansoek in, kan jy ’n interdik kry teen enige skade daaraan. Nauderius Cronjé sal jou bystaan.”

Naderius Cronjé, die prokureur wat haar gehelp het met die borgtog. “Is dit jy wat hom aangestel het om my los te kry uit die polisieselle?” Vaagweg het sy die vermoede gehad.

“Ek het jou oupa-hulle beloof ek sal jou terugbring.”

Sy sit haar beker stadig neer en skuif dit van haar af weg. “En die tienduisend rand borggeld?” kom nog ’n vermoede by haar op. “Is dit jy wat dit betaal het?”

Hy sit soos ’n skoolseun wat uitgevang is op ’n onnutsigheid. “Kom ons sê dis ’n korttermyn lening.”

“Ek verstaan jou nie,” sê sy. “Eers help jy my die vangwa in en dan weer om my los te kry.”

“Ek verstaan myself soms nie. Maar ek kon eenvoudig nie toesien dat jy opgesluit bly nie.”

Sal dit al rede wees? wonder sy. Of is hy besig om kat-en-muis met haar te speel? “Vertel my van jouself,” sê sy.

“Wat wil jy weet? Ek is dertig jaar oud. Amper een-en-dertig en daar het nog niks dramaties in my lewe gebeur nie.”

Sy kan dit glo. Hy sou elke tree wat hy gee sorgvuldig vooruit beplan het, gesorg het dat daar niks hom onverwags oorval nie. “Waar het jy grootgeword?” vra sy.

“In die Vryburg-distrik. Op ’n plaas wat my oupa losgeboer het. Jy weet al dat my broer tans daar boer en dat my ouers ook op die plaas bly. My deel daarvan het ek afgestaan om te gaan studeer. Na my studies het ek in die firma begin werk waar ek tans een van drie vennote is.”

Kort en bondig, ’n hele lewe, dink sy. Toe sy uitvis oor sy persoonlike omstandighede, erken hy dat daar meisies was, maar dat hy nog nooit in ’n vaste verhouding was nie.

“En jy?” vra hy. “Wat het jou die kruisvaarder gemaak wat jy is?”

As kruisvaarder het sy haarself nog nooit gesien nie. Maar toe die opstand kom teen die mure wat Jan Combrinck om haar probeer bou het, het sy haarself aan die voorpunt van een na die ander missie bevind. Sy wou gehoor word. En gesien word. Sy wou erkenning hê dat sy ten minste ’n mens is.

Sy vertel hom iets van haar grootword jare, haar skool en haar kuiers by oupa Durham-hulle. Van haar kort huwelik wat nooit moes gewees het nie en haar permanente vestiging hier op Afsaal.

“Met wat boer jou oupa hier?”

“Hier is net twee melkkoeie wat Oupa ruil vir ander as hulle opdroog. Verder is hier ’n paar hoenders en die winkel. Afsaal is maar ’n uitval stukkie bosveld tussen die rivier laer af en die grootpad, ’n regte plaas is dit nie. Maar dit het al die jare nog in al Oupa Durham-hulle se behoeftes voorsien. En in dié van Stefina en Jantjie haar man en dié se ma, Siena wat twee keer ’n week inkom om vir Ouma in die huis te help.”

“En nou vir jou ook.”

“Vir my ook, ja.”

Dit word ’n uitgerekte kuier met baie vrae, lang redenasies en die een na die ander beker koffie. Twee keer is sy hand oor hare en dit stuur ’n vreemde tinteling deur haar. Hulle raak al meer ingestel op mekaar en na middernag met die groetslag by die voordeur, is dit asof daar iets dwingends in die lug is wat hulle na mekaar toe aantrek. Wie eerste beweeg het weet sy nie, maar toe sy arms honger om haar sluit, gee sy haarself, soek sy meer van hom.

Daar is niks teer in die omhelsing nie. Dis ’n bestorming, ’n hongerte na mekaar. Sy lippe beland op haar voorkop, skuur dan af teen haar wang, vind haar mond en dwing dit oop. Sy nestel haar stywer teen sy ferm lyf, klim in hom in, skuif half tussen sy bene in, voel die stuwing daar. Toe sy hande ’n pad onder haar klere in vind, is dit soos ’n gebiedende hitte op haar kaal rug. Sy strek haar arms oor sy skouers en trek sy kop stywer teen haar vas. So het sy dit nog nooit gehad nie. Dit voel asof sy oplos, of haar lyf wegvloei. Asof iets in haar wat jare opgesluit was, skielik losgelaat is.

Niks is belangriker as die oomblik nie. Nie haar gisters of haar môres nie. Nie die bome nie. Niks, en sy wens dit kan vir ewig aanhou.

Toe hulle later swetend en met jagende asems voor mekaar staan, glimlag hy af na haar. “Tot môremiddag dan,” sê hy tussen sy asemstote deur. “Ons maak dit halfvier, dan bring ek daardie vorms. En ek hou van melktert by die koffie, nè?”

Nadat sy die voordeur agter hom toegemaak het, voel dit asof sy in die lug bly hang. Sy staan met haar rug teen die deur, wag vir die kalmte om te kom. Wat nie gaan gebeur nie, weet sy. Sy het nou ’n drumpel oorgesteek wat alles verander het.

Goeie môre, LAPA-familie

Ja-nee, hulle sê die eerste vyf dae na die naweek is die ergste! Maar dis ‘n mooi dag buite en die lewe is nooit so sleg soos dit lyk nie. So haal diep asem, glimlag en geniet die week!

kaalvoet-oor-die-drakensberge-is-seker-nie-meer-van-toepassing-nie-maar-onthou-ons-beaumans-het-nie-voete-van-klei-nie-ons-dra-stiletto-s-van-staal-vanessa

DINA BOTHA: GESTEELDE SOENE

Gesteelde soene HoeresHy steek sy hand uit. “Sal ek vir ons bid?”

Of dit die kerslig, sy stem of sy versoek is dat hy wil bid, weet sy  nie, maar sy lê haar hand gewillig in syne. Oorwonne deur sy blote teenwoordigheid. Sy vingers sluit warm en sterk om hare en sy maak haar oë toe. Die lewe is uiters onregverdig, kom sy tot ’n slotsom. Hoekom kan hierdie man nie aan haar behoort nie? Hy is dan alles wat sy in ’n man begeer. Sy is op hom verlief, weet sy in een helder oomblik. Dis nie net meer ’n vermoede nie, maar ’n klinkklare feit. Dieselfde eufories verliefde emosies wat sy destyds vir Albert ervaar het, is daar, maar ook ’n warmte wat haar hele wese vul. Haar hart wil nie ophou bons nie. Van blydskap. Van vrees. Van ’n magdom ander emosies.

Toe hy amen sê, maak sy haar oë oop. Wat sy eintlik wil doen, is opspring en weghardloop na waar sy oor haar gewaarwording kan gaan peins. Waar sy die gedagte vir ’n paar minute kan vertroetel en dan met mag en mening weer probeer vergeet. Maar sy kan nie. Decklan sal wil weet wat met haar aangaan. Nee, niemand mag ooit weet hoe sy voel nie. Allermins Decklan.

Sy vermy oogkontak en tel haar eetgerei op. “Smaaklike ete.”

“Nog wyn?” vra Decklan later toe die tafel skoon en netjies afgedek tussen hulle lê.

Uiterlik mag sy dalk kalm lyk maar binne is sy ’n bol senuwees. ’n Tweede glas wyn help haar dalk  ontspan. “Dankie,” sê sy en stoot haar glas in sy rigting.

“Jou kos was heerlik en gesond. Ek is beïndruk.”

Hy klink so kalm en ongesteurd dat sy moet vra: “Is jy nie bekommerd oor Nadia nie?”

“Nee, is jy?” gooi hy haar vraag terug.

“Nee, want ek weet dat Nadia haar soms soos ’n kind gedra en dink sy kry mense terug deur nie haar foon te beantwoord nie. Maar jy is tog haar verloofde.”

Decklan kyk na die glas tussen sy vingers en vind dit skielik vreeslik interessant. “Danielle, soms maak ’n man groot foute en dan weet hy nie hoe om daaruit te kom sonder om sy integriteit te verloor nie. Verstaan jy wat ek sê?”

Sy is te bang om hom te verstaan, want sê nou net sy maak ’n fout? Sy skud haar kop.

Hy lig sy glas na sy lippe en kyk oor die rand na haar. “Ek wil iets aan jou verduidelik, maar ek weet nie hoe nie.”

“Wat is dit?”

“Soms tree ’n man oorhaastig op. Neem hy belangrike besluite omdat hy … eensaam is, moeg gewag is op sy regmatige maat en dan  uit pure ongeduld sien hy eienskappe in iemand wat hom laat dink dat daardie persoon reg is vir hom. Danielle, dis so maklik om toegeneentheid vir liefde aan te sien.”

Danielle sluk swaar. Sy dink nie hy verwag regtig ’n antwoord nie. Dit lyk in elk geval of hy sy gedagtes net hardop uitspreek.

“Die vraag is net,  hoe gaan ’n man terug op sy woord? Wat sê hy vir haar ouers? Sê jy dat jy ’n fout gemaak het of sê jy bloot dat jy  van plan verander het? Die een dag het jy haar nog liefgehad, maar die volgende dag was dit oor. Hoe oppervlakkig en besluiteloos klink dit nie? Wat sê dit nie van ’n man se integriteit nie?”

Decklan se oë vernou asof hy sy ware emosies van haar wil  verskans.

“Ek was nou die aand verskriklik kwaad vir Albert. Hoe durf hy by jou aanlê, terwyl hy ’n verloofde het? Hoe kan hy so swak  en ruggraatloos wees? het ek myself afgevra. Maar nou het ek net simpatie vir hom. Ek verstaan sy posisie. Hy het ook ’n fout gemaak. Dieselfde een as ek. Gedink hy het iemand lief en toe uitgevind hy het nie. Hy het iemand anders lief. Ek is ’n huigelaar as ek hom daaroor veroordeel.”

Ingedagte speel Decklan met die leë glas in sy hand. “Dalk kan jy my sê,  wat doen ’n man in my en Albert se posisie? Gaan hy voort met sy verlowing? Verloën hy sy  hart en geluk en probeer die res van sy lewe ’n leuen leef, of skraap hy genoeg moed bymekaar en maak ’n einde aan die verhouding? Doen hy dit, ontbloot hy sy  swakheid aan die hele wêreld.”

Danielle kry skaars asem. Decklan het nie meer vir Nadia lief nie, is al wat deur haar kop refrein. Tog is sy nog te bang om dit te glo. “Ek dink glad nie dis swakheid nie. Ek dink dis bloot menslik om foute te maak.”

Decklan sit sy glas op die tafel neer en hy kyk reguit na haar. Sy oë is soos ’n oop boek. Versteek niks meer nie.

“Dis egter nie die einde van my dilemma nie. Hoe kan jy vir ’n ouerpaar sê dat jy hulle een dogter nie meer wil hê nie, maar dat die ander een jou hart vinniger laat klop? Die bloed wild deur jou are laat pomp? Dat jy net aan haar kan dink. Haar lag, haar parmantigheid en die omgekraptheid in haar oë.”

Hy praat van haar. Sy is daardie ander dogter. Haar hart wil bars van vreugde. En daardie stemmetjie wat sy heeltyd onderdruk het: Sy was reg. Van die eerste oomblik af kon sy die aantrekkingskrag tussen hulle voel. Daarom was sy so katterig en onvriendelik met hom. Sy het toe al geweet dat sy haarself teen sy magnetisme moet beskerm.

“Maar sê ek dit vir haar ouers, het ek dalk geen kans op geluk met die tweede dogter nie. So iets saai onmin en verdeeldheid.”

’n Bietjie van haar vreugde sterf. Decklan is heeltemal reg. ’n Verhouding wat op so ’n voet afskop, is reeds gedoem. So iets vernietig liefde tussen ouer en dogter en tussen susters en dis amper onafwendbaar dat dit uiteindelik na die twee bemindes sal uitkring. Magteloosheid spoel oor haar en sy sluk moeilik.  Toe word sy kwaad.

“Hoekom het jy dit nou gedoen? Ek … Dit was makliker om te hoop dat jy … nou weet ek en …”

Decklan se oë blink en sy lees vreugde en verwondering en ’n klomp ander emosies in sy oë. Tog sit hy in sy stoel en hy oorbrug nie die emosionele grens tussen hulle nie. “Dan voel jy ook so oor my? Hoe belaglik dit ook al is?”

Sy weet presies wat hy met belaglik bedoel, want twee weke is belaglik kort om verlief te raak. Maar daar kan niks goeds uit hierdie situasie kom nie, som sy al die feite op. Decklan het beloftes aan Nadia gemaak en hy moet verantwoording daarvoor doen. “Nee, ek sê nie ek is … ek sê eintlik niks nie.” Sy spring op. “Dis ’n gemors.”

Wag jy steeds op jou maandboeke? Weens die poskantoorstaking kon heelwat Romanza-lede se boeke nie afgelewer word nie, maar ons het goeie nuus! Kontak marib@lapa.co.za of CliffordeneN@lapa.co.za  met jou lidnommer en straatadres sodat ons vir kourieraflewering kan reël. Of laat weet ons indien jy jou boekpakkie by ons kantore in Pretoria wil kom afhaal. Onthou net om vooraf ’n reëling te tref!