Hans du Plessis

Hans du Plessis

Tussen die klippe is Hans du Plessis se tiende roman. Sy veelsydige skryfwerk is leesbare verhale, gedigte en dramas oor mense, hulle geskiedenis, hulle voorkeure en afkere, en hulle belewenisse van die lewe. Elke roman is ʼn spannende verhaal met veelkantige, geloofwaardige karakters wat op plekke en in situasies beland, wat hulle self, en die leser, nie kon voorsien nie.

Hans ontvang die CBS-toekenning vir Christelike literatuur vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar al 60 000 eksemplare verkoop is. Sy drie jeugromans word op skool voorgeskryf en het al meer as twaalf herdrukke beleef. Hy is ook bekroon met ‘n ATKV-kinderboekprys. Sy historiese roman, As die wind kom draai, is in 2015 deur RSG voorgelees en Die pad na Skuilhoek is pas in Nederlands vertaal.

Hans du Plessis is ʼn bekende akademikus van die Noordwes-universiteit waar hy professor in Afrikaans en in Skryfkuns was.

“Hierdie roman is tot dusver onder sy heel bestes, indien nie dié een nie. Hierdie roman gaan by uitstek oor die lagwekkende sowel as die afgryslike van menslike swakheid deur alle eeue heen, oor die liefde, geregtigheid en God en sy arme mense op aarde. Voeg daarby dat Du Plessis daarin slaag om spanning te skep, van die soort wat jou nie sommer toelaat om die manuskrip neer te sit nie. Du Plessis bereik soveel mense met hierdie roman, hetsy hoog geleerd of glad nie geleerd. Dit is ’n four seasons-roman, vir almal.” – Jeanette Ferreira