Jý is die verskil – Felicia Snyman

 

Elke persoon het ’n passie vir iets. Hetsy dit is om te sing, dans of skryf; of ‘n onderwyser te wees; of selfs om die wêreld te verander – elkeen dra ‘n passie in hom- of haarself. Dit is ‘n vuur wat daagliks brandend moet bly.

Dít het ek onlangs besef toe ek op die Gautrein klim om ’n werkswinkel by te woon. Ek het geweldig daarteen opgesien, want daar was ’n wavrag onafgehandelde werk op my tafel. Maar ek was aangenaam verras.

Die spreker en aanbieder van die werkswinkel was absoluut fantasties. Net toe my vlammetjie vir my beroep uitbrand, het hy my weereens herinner waarom ek doen wat ek doen.

Ons verloor soms ons vonk. Tyd, geld en ondersteuning is min, en alles anders is te veel. Dit voel asof jy verdrink. Maar, alles hang af van perspektief. As jy te naby aan die situasie staan, kan jy nie die groter prentjie raaksien nie. Positiewe en opbouende gedagtes kan jou egter help met die omstandighede waarmee jy gekonfronteer word.

Hoe jy ’n situasie hanteer, bepaal hoe die situasie jou affekteer.

Ons loop met die kragtigste rekenaar tot ons beskikking in ons koppe rond – die brein. Jou brein is ’n padkaart, legkaart en wêreldkaart tot die ontdekking van wie jy is en waarheen jy op pad is. Dit het die mag om alles om ons te verbeter.

Ek wil elkeen aanmoedig om hulle passie uit te leef. Niks is so aansteeklik of pragtig soos iemand wat mal is oor wat hulle doen nie. Moet nooit vergeet dat jy uniek is nie, en jy mag trots wees op wat jy kan doen, veral as jy goed is daarmee.

Die spreker het die wonderlike woorde (losweg baseer op Rubem Alves se woorde) aan ons oorgedra: “Hoop is om die musiek van die toekoms te hoor, selfvertroue is om nou daarop te dans”.

 

 

Advertisements

Hart van ’n man – Madelein Stoltz

Hart van 'n man_High res

Kiara wag net totdat sy Liam se voetstappe hoor wegsterf voor sy haar suster aangluur. “Jy het my laat verstaan dit is net ons drie en Andy vanaand.”

Mariella vee oor haar boepie wat vir Kiara al hoe meer soos ’n oorgrote ballon lyk wat enige oomblik kan bars. Sy is amper te bang om aan Mariella se maag te raak, net vir ingeval. “Albertus het vanoggend eers vir Liam oorgenooi. Ek het nie gedink jy sal omgee nie,” is die koel antwoord wat sy kry.

Kiara sug diep. “Sê tog net asseblief vir my die man het ’n vrou wat ook later oorkom en dat hierdie nie nog ’n poging van jou is om my aan een van Albertus se kollegas af te smeer nie.”

“Ek het nie meer ’n vrou nie. Is ook nie in die mark nie!”

Kiara wens sy het maar eerder deur die venster geval. Sy voel hitte vanaf haar nek opstoot tot in haar gesig. Sy gee haar suster ’n vuil kyk en vou die volgende gordyn oop sonder om om te kyk waar sy weet Liam staan. So, die man is geskei. Sy stemtoon meer as sy woorde het haar duidelik laat verstaan dat hy geen begeerte het om vrou nommer twee – of drie dalk vir al wat sy weet – te vind nie. Sy is nou op haar plek gesit, of sy daarvan hou of nie.

“Ek wou eintlik net hoor of julle dames lus is vir vrugtesap.” Sy verbeel haar sy het die man saggies hoor lag. Haar vingers stryk oor ’n denkbeeldige kreukel in die ysblou gordyn. Sy weier om om te kyk, want nou amuseer sy hom ook boonop. Sy ry sommer huis toe en los alles net so vir Albertus en sy “tweelingbroer” om te kom doen.

“Sal lekker wees,” glimlag Mariella en gee haar dan ’n kwaai ouer-suster-kyk met daardie grasgroen oë van haar.

“Eerder wyn vir my. Ek dink ek het dit nódig,” sê Kiara oor haar skouer. “Daar is ’n bottel witwyn in die yskas.” Sy trek driftig aan die gordyn se toutjie. Mariella kon haar gewaarsku het die man is agter haar. Sy kry nie ’n antwoord van Liam nie, verwag ook nie een nie, hoor net sy voetstappe toe hy omdraai en loop.

“Hoekom het jy my nie gesê die man staan agter my nie?” baklei sy toe sy seker is sy en haar suster is alleen.

“Teen die tyd wat ek Liam gesien het, was dit te laat.” Mariella uiter iets wat soos ’n kreun klink. Haar hand verskuif na haar rug.

“Is dit kraampyne? Moet ek Albertus bel?”

“Nee, net my rug wat die babas se gewig voel. Nog ten minste drie weke, sussie.”

Mariella se woorde is soos water op warm olie. Kiara voel of sy kan ontplof. “Net drie weke en julle kies om nou in julle nuwe huis in te trek. Dit is presies wat ek swak beplanning noem. Vir ’n ginekoloog is Albertus ook . . .”

“Uiters liefdevol, briljant en die beste man in die wêreld,” knip Mariella haar tirade kwaai kort.

Kiara snork, want sy kan nie regtig stry nie, al heers daar nou al vir jare ’n koue oorlog tussen haar en haar suster se man. Sy bekyk die tweede venster met skrefiesoë. Die maatband is êrens ingepak en sou nou handig te pas gekom het. Sy gaan nie weer sukkel met gordyne wat nie die regte breedte getrek is nie.

“Sap vir jou.” Liam kom binne en gee Mariella se glas eerste aan. “Jou wyn, Kiara. Het jy hulp nodig met daardie gordyn?”

Kiara skud haar kop terwyl sy die vol wynglas bekyk. Sy beter stadig drink. Dalk moes sy ook eerder vir sap gevra het, want wyn en die hitte is nie ’n goeie kombinasie nie. Ten minste het hy daaraan gedink om ’n paar ysblokkies in te gooi.

“Nee, ek kom reg, en dankie vir die skink van die wyn.”

“My plesier. Julle dames moet maar roep as ek kan help met iets. Ek gaan net die badkamer gebruik om in iets koelers te verklee, Mariella.”

Kiara staar hom agterna toe hy wegstap. Hy het mooi breë skouers en smal heupe. Sy skouers is regop. Hy lyk selfversekerd. Soos ’n man wat weet wat hy uit die lewe wil hê. Sy betrap Mariella se blik op haar en sien ’n glimlag om haar suster se mond sprei.

“Liam is beslis iets vir die oog, nè?”

“Mariella! Wat het ek netnou vir jou gesê?”

“Ag toe, moenie altyd soos ’n ou steeks donkie wees nie. Jy moet een of ander tyd ’n normale verhouding met ’n man aanknoop, trou en kinders kry. Jy word nie jonger nie, sussie. ’n Mens is nie gemaak om alleen te wees nie. Liam is ’n goeie vangs. As ek nie so gelukkig getroud was nie, het ek self my flikkers vir hom gegooi.”

“Ek het geen begeerte om ’n man te vang nie. Buitendien weet jy ek sien vir Randal.”

“Gmf. Hy is nie die regte man vir jou nie. Jy het self erken dat hy nie ’n geheim daarvan maak dat hy nog lank nie gereed is om te commit nie.”

“Dit is hoekom ons verhouding so perfek is, want ek wil ook nie in ’n vaste verhouding wees nie. Nie nou nie. Dalk nooit nie. Ek en Randal is voëls van eenderse vere.”

Wil jy saam met die hardkoppige Kiara verlief raak? Koop nou Hart van ’n man: http://bit.ly/2wIM0is

Vir ’n oogwink – Bernette Bergenthuin

Vir n oogwink_voorblad_WEB

“Geniet jy nie die partytjie nie?” praat ’n stem naby haar.

Kassandra kyk op, vas in die stalkneg se bruin oë. Sy glimlag. “Ek is nie eintlik een vir partytjies nie. Hierdie een moet seker vir jou ook ’n beproewing wees. Is jy vanmiddag en die hele aand aan diens?” Hy moet doodmoeg wees. Eers die perde versorg, seker nog die stalle skoonmaak ook, en dan hovaardige gaste bedien. Sy bestudeer sy uitrusting onderlangs. Ten minste trek mijnheer Mulder sy knegte netjies aan, alhoewel die klomp strikke en gespes effe belaglik lyk.

Die man frons vir ’n oomblik en dan breek ’n glimlag wit oor sy gesig. “Ek is inderdaad tot vanaand aan diens. Weer eens, plig voor plesier.”

Die hoë polfye raak ongemaklik en Kassandra beduie dat hulle moet sit. “Ek moet eerlik vir jou sê dat hierdie hele gedoente bra belaglik is. Kan jy dink wat dit jou heer en meester kos? Die verblyf is uit die boonste rakke, die tafels kraak onder die fyngebak hier en die mense eet maar skraps, ek wil nie eens dink hoe uitspattig die bal vanaand gaan wees nie.”

Die stalkneg knik half droewig. “Dit is dalk ’n bietjie oordadig. Maar dit is hoe dinge tans aan die Kaap gedoen word en die gasheer wou nie afsteek nie. Is dit regtig vir jou so erg?”

Kassandra glimlag. “Ek klink seker baie bederf. Dit is hoegenaamd nie erg nie, ek voel baie spesiaal, maar ek dink net dat die hele Kaap dalk wéér moet dink oor besteding. Daar is soveel meer betekenisvolle maniere waarop daardie geld spandeer kan word.”

“O? Dit is min dat ’n dame so meelewend oor spaarsamigheid praat.”

Kassandra laat haar nie twee maal nooi nie en leun effe nader aan hom. “Die slawekwartiere kan byvoorbeeld opgeknap word, of ’n klein skooltjie kan gebou word. Dalk kan die slawe sommer vrygekoop word, of mijnheer Mulder kan vir hulle ’n stukkie grond koop waarop hulle vir eie gewin kan boer.” Sy besef dat sy besig is om haar mond verby te praat. “Jammer, ek moet my nie uitlaat oor die bestuur van die gasheer se plaas nie.” Sy raak bewus van die donker man se broeiende blik op haar en vlindervingers dans by haar ruggraat af. “U sal my moet verskoon, my tante wil eintlik vroeg begin met die voorbereidings vir die bal.”

Hy knik. “Ek dink nie dat jy nog mooier kan lyk as wat jy nou lyk nie. Wat is jou naam?”

Kassandra het reeds opgestaan en glimlag net vir hom oor haar skouer. “Noem my sommer die spaarsamige gas.”

Bederf jouself en ontvlug na die ou Kaap: http://bit.ly/2wSXYLn 

Oor die draad met Madelein Stoltz

Vir wie sal jy jou laaste dans wil spaar? Hoekom?

Vir my man. Na drie dekades van getroud wees met my, al is hy partykeer ook hoe knorrig, is dit sy voorreg. Ek het belowe tot die dood ons skei.

Noem vyf dinge waarvan jy hou …

  • Ek hou van God
  • My gesin
  • Stil oomblikke
  • ’n Boeiende boek
  • En  mense wat lekker kan lag, want dit is aansteeklik

Vyf dinge wat jy nie kan verdra nie?

  • Kindermishandeling
  • Padwoede
  • Boelies
  • Onverdraagsaamheid
  • Rassisme

Watter drie doelwitte wil jy nog bereik op jou bucket list?

Dringend 10 kilogram verloor, dalk meer as ek die moed kry om op ’n skaal te klim

My kleindogter leer koekies bak

’n lekker lywige boek skryf

Wat gee jou moed om elke keer ’n manuskrip te voltooi?

Ek weet eerlikwaar nie. Wat die beste werk is as ek vir Marlies ’n datum gegee het

Wie is jou gunsteling fiktiewe paartjie van jou eie of ander skrywers se boeke?

Ek het al so baie boeke gelees dat hierdie ’n onmoontlike vraag is om te antwoord. Daar is net te veel boeke van skrywers wat ek al geniet het. My eie sal ek vir Marno en Erika uitsonder van Troukoors net omdat hy so clueless was oor “vroumense”- sy woorde.

Werk jy tans aan ’n boek?

Ja, ek is besig om ’n manuskrip te finaliseer

Het jy ’n boodskap vir die lesers?

Kiara was ’n uitdaging, want sy het nie in gelukkige eindes geglo nie. Ek het die arme held nogal jammer gekry. Ek hoop my lesers geniet Hart van ’n man.

Hart van ’n man nou te koop by LAPA Uitgewers http://bit.ly/2wIM0is

Tussen seisoene – Karen de Villiers

Tussen seisoene voorblad_High res

Dit is vroegoggend en die mis hang laag oor die doringbome. Verseker gaan dit weer ’n bloedig warm dag wees, dink Lente terwyl sy met die grondpad wegdraf van die huis af. Haar gedagtes dwaal onwillekeurig na haar werksdag en later na die nuwe streekhoof. Hy was kort-kort in haar drome gedurende die nag. Sy wonder wat lê in sy verlede, want elke mens het ’n geskiedenis.

Lente is so verdiep in haar gedagtes dat sy eers nie agterkom dat sy nie meer alleen op die grondpad is nie. Sy hoor die voetval van iemand wat agter haar aandraf. ’n Tikkie vrees bekruip haar. Nog nooit het iemand saam met haar op die grondpad gedraf nie. As sy haar kop en lyf effens na links draai, kan sy ook nie veel van die persoon waarneem nie, want die mis het intussen begin afdaal grond toe.

Haar hand gaan outomaties na haar broeksak. Die pepersproeikannetjie is koud in haar hand. Al wat sy van die persoon kan uitmaak, is die tekkies en bene. Geleidelik haal die drawwer haar in en dit is nie lank nie of hy is reg langs haar en kan sy vir die eerste keer sien dat dit ’n man is. Sy is nog besig om die kannetjie uit haar sak uit te vroetel toe haar oë opskiet na die drawwer se gesig, vas in sy ondeunde oë.

“Môre, Lente, dit is ’n groot verrassing om jou hier aan te tref.”

“Môre, Meneer,” stotter Lente en slaag nie daarin om die verbasing uit haar stem te hou nie. “Bly Meneer dan hier naby?”

“Ja, net verder af in die pad,” antwoord Rheeder. ’n Paar minute lank draf hulle in stilte. “Jy weet nou ek bly in die pad af, maar waar bly jy?” vra Rheeder.

“Ook af in die pad, Meneer.”

“Lente, het ek jou nie gevra om my Rheeder te noem nie? Ons is mos nie nou by die werk nie. Draf jy elke dag hierdie tyd? Ek wonder of jy so alleen moet draf, kom Ellen nie ook saam met jou nie?”

“Ek draf graag alleen. Ellen hou nie daarvan om te draf nie. Ek het al vir jou gesê ek kan myself verdedig. Wat ek nou net wonder, is presies waar bly jy, want daar is net twee plotte af in hierdie pad en die een plot behoort aan my ouers. Die ander een was in die mark.”

“Ek en ’n vriend van my het plot twee vier sewe gekoop. Dit mag dalk die plot langs julle s’n wees. Ons het nog nie tyd gekry om ons bure te ontmoet nie.”

“Dan het julle seker oom Sarel en tannie Bets se plek gekoop.”

“Net so, hulle het gelyk na dierbare mense.”

“Ja, hulle was vir baie jare ons bure. Dis jammer dat ek nie geweet het hulle is reeds weg nie. Ek sou hulle baie graag wou gegroet het. Ek sal hulle ’n bietjie later bel. Dit is snaaks dat my ouers niks daarvan vir my gesê het nie.”

“Dit was ’n vinnige trek; hulle was so bly dat die koop vinnig deurgegaan het dat hulle nie nog ’n maand wou aanbly nie. Soos ek dit verstaan het, het hulle pas ’n kleinkind ryker geword en kon hulle nie wag om by die outjie uit te kom nie.”

“Ek en Ellen het as kinders baie gelukkige dae by hulle en hulle kinders deurgebring. Dalk het my ouers vir Ellen iets gesê en sy het vergeet om my in te lig. Sy het wel iets genoem van die oom en tannie, maar nie vreeslik uitgebrei nie.”

Skielik is daar ’n stilte wat tussen hulle hang, en dit is Lente wat eerste praat. “Hier voor is my afdraai. Ek moet deur die stort gaan spring en klaarmaak.”

“As jy wil, kan ons elke oggend saam gaan draf. Ek sal van die geselskap hou,” kom dit vriendelik van Rheeder.

“Dankie, maar nee dankie. Ek draf nie elke dag nie. Soos jy weet, gaan besoek ek dikwels my projekte en dan is ek vir ’n paar dae op ’n slag nie hier nie. Buitendien verskil ons draftempo’s te veel.”

“Ons kan ’n plan uitwerk, en moenie hardkoppig wees nie. Ek kan nie verstaan dat jou pa dit toelaat dat jy so op jou eie gaan draf nie. As jy my dogter was, sou ek dit nooit toegelaat het nie.”

“My pa weet waartoe ek in staat is, en wanneer hy hier is, geniet hy dit om saam met my te draf en . . .” breek Lente stomp af toe Rheeder haar in die rede val. Sy is bly Rheeder weet nie hoe sy nou vir hom gejok het nie.

“Bedaar. Ek wil nie baklei nie. Ek is net besorg.”

“Ek baklei nie, ek is net gewoond om op my eie te draf. So kry ek die geleentheid om my kop skoon te maak. Sien jou later!” groet sy en hardloop vinnig by die hek in sonder om weer terug te kyk.

Rheeder gaan staan botstil en staar Lente oorbluf agterna. Die meisiemens is dalk klein en fyn maar deksels, sy kan lekker kort van draad wees.

Hulle kon nog nie een sin praat sonder dat sy iets het om mee terug te kap nie. Ellen lyk glad nie na die tipe wat so vinnig kwaad word nie. Lente moet seker na die ander kant van die familie aard. Hy wil ook nie te veel dink aan sy hart wat bokspronge gedoen het toe hy besef het dit is Lente wat uit die mis verskyn het nie. Sy maak gevoelens by hom wakker wat hy gedink het nie meer sedert Saskia bestaan nie.

Nou beskikbaar by LAPA Uitgewers http://bit.ly/2xpFQrj

Die toetsbord is nou ons eie speelveld! – Amanda Claassens

Presies ‘n week gelede was ek in alleryl op pad Potchefstroom toe om die ATKV Lenteskool vir 2017 by te woon. Ek het ‘n goeie skoot onsekerheid beleef, maar meer ten opsigte van plek, vervoer, parkering, en dié sulke sake. Ek het per slot van sake reeds die uitgewers van LAPA ontmoet wat as aanbieders sou optree by die slypskool. Die hartlike ontvangs Donderdagoggend, het my dadelik op my gemak gestel. Al die fasiliteerders het hulself uitstekend van hulle taak gekwyt.

As ek ‘n aspek of twee moet uitsonder, sou dit eerstens wees die sterk boodskap wat elke aanbieder oorgedra het, naamlik dat in die liefdesverhaalgenre, die leser dikteer wat die skrywer neerpen. Die sukses van ‘n liefdesverhaal lê grootliks daarin of dit aan die leser se verwagtinge voldoen. Prof Hans du Plessis, vorige direkteur van die Skryfskool, was van mening dat dit die moeilikste genre is om in te skryf, juis omdat daar kriteria is wat ononderhandelbaar is. Daar is nie veel praktiese skryfoefeninge gedoen nie, behalwe vir Franci Greyling wat ons kreatiwiteit ‘n hupstoot kom gee het. Die fokus was eerder op deeglike inligting oor die onderskeie boustene, soos plot- en karakterbeplanning, wat ingespan word om uiteindelik ‘n manuskrip daar te stel. Die proses wat die skrywer moet volg om die manuskrip in te dien, en wat om daarna te wagte te wees, is ook breedvoerig verduidelik.

Skrywers Sophia Kapp, Elsa Winckler en Didi Potgieter het gesorg vir ‘n lekker lewendige boekgesprek, onder leiding van Charlene Hougaard, tydens ‘n aandfunksie by ‘n gastehuis. Cecilia Steyn het ook ‘n draai gemaak en ons ingelig oor die skryf van liefdesverhale vir tieners.n Ridder vir Sanna

My mening, alles inaggenome? Indien enige van die kursusgangers ongeïnspireerd daar weggegaan het, kan die fout nie voor die ATKV Skryfskool se deur gelê word nie. Die entoesiasme en toeganklikheid van die LAPA dames was aansteeklik. Dus, die bal, of die toetsbord, in nou in ons eie speelveld!

Amanda Claassens se pragtige kortverhaal, Steeds Henk verskyn saam met Sophia Kapp se  ’n Ridder vir Sanna! Koop nou slegs R29,99: http://bit.ly/2vLAW7G  

“Ek wil elke keer iets oorspronkliks skep” – Karen de Villiers

Drie items waar sonder ek nie kan leef nie

My gesin, boeke en vriende.

Vyf dinge oor myself wat nie in my bio staan nie:

  • Ek bak en brou graag en volg nie altyd die resep nie.
  • Ek kyk graag realiteitsprogramme.
  • Ek verander idiome sonder dat ek dit besef en dit klink nie altyd baie goed nie.
  • Ek kan glad nie spel nie.
  • Ek is baie lief vir die see, maar ek sit in die dorre Vrystaat.

farm-2361569_640

Die heldin in Tussen seisoene se naam is Lente. Het jy dit so beplan om met die titel te gaan of nie?

Lente se naam het eers ontstaan toe Rheeder se van na De Winter verander het. Daarna moes ek myself net keer om haar suster se naam na Somer te verander. Dus hoe Tussen seisoene gebore is.

Beskryf Lente in sewe woorde?

’n Sterk vrou wat te nagekom is.

Tussen seisoene is jou vierde Romanza. Watter een eienskap deel al vier jou helde?

Hulle verstaan nie wat in ’n vrou se kop aangaan nie.

Hoe het jou skryfwerk ontwikkel vanaf die eerste boek?

Ek hoop dit het verbeter, wat ek wel geleer het is dat my held en heldin nie soveel mag baklei nie.

Vind jy dit moeiliker of makliker om ’n storielyn te skep?

Deesdae is dit baie moeiliker, want ek wil elke keer iets oorspronkliks skep. Ek wil nie stereotipiese boeke skryf nie.

Jou dogter is vanjaar matriek. Wil jy hê sy moet in jou skrywersvoetspore volg?

Sy is baie lief vir lees en lewe in haar eie wêreld. Ek het hoop.

Koop nou Karen de Villiers se boeke hier: http://bit.ly/2xf667m 

Held in ’n voorskoot – Madelie Human

Held in 'n voorskoot voorblad_High res

Nuuskierig loer Kate in die kamer in. Die vertrek is leeg, behalwe vir ’n stel tromme in die middel van die vloer en ’n elektriese ghitaar en klankversterker teen die een muur. “Is dit sowaar joune? Ek het gedink jy maak ’n grap.” Sy gaan nader en raak aan ’n blink simbaal.

“Nope, dis geen grap nie.”

“Bedoel jy ek moet . . .” Kate loop ’n wye draai om die blink tromme.

“As jy wil. Dit kan geen skade doen nie. Jy kan raas soveel jy wil. My naaste bure is oorsee met vakansie en die ander is ver genoeg, dit sal niemand pla nie.”

“Ron Jacobs, ’n lawaai met tromme sal my musieksiel mos oneindige skade aandoen.”

Hy lag. “Dis dalk so, maar dis ook moontlik dat dit jou sensitiewe gees kan bevry van baie dinge. Dis die moeite werd om te probeer. Ek sal saam met jou lawaai maak as dit sal help.” Hy wys na die ghitaar.

Kate haal ’n paar maal diep asem. Hoekom nie? As tiener het sy self soms lus gevoel vir lawaaimusiek, al was dit net om te rebelleer. Sy glimlag skewekop vir hom. “Why not?”

“Wag, ek bring die musiekstoeltjie vir jou.” Ron glip by die deur uit en keer terug met die klavierstoel vir haar en sy hoë stoeltjie waarop hy vroeër gesit het. Hy verstel die stoeltjie se poot sodat dit hoog genoeg is vir haar om alles te kan bykom.

Terwyl hy die klankversterker koppel en met knoppies vroetel, gaan sit Kate by die tromme en tel die stokkies op. Sy trap per ongeluk op die pedaal en die basdrom reageer met ’n luide slag.

“Oe!” Kate giggel onseker. “Ek weet darem nie.”

Ron lag saam met haar. “As jy nie daarvan hou nie, stop ons dadelik. Dis die moeite werd om te probeer.”

“Oukei, maar ek weet nie eens hoe nie.”

Ron bly onversteurd. “Jy sal gou die gevoel kry. Het jy nog nooit ’n tromspeler dopgehou nie?”

Kate voel skoon dom. “Net op TV.”

“Dis goed genoeg. Volg net die ritme en doen wat vir jou reg voel, dis nie ’n toets wat jy kan dop nie.”

Hy stel aan die ghitaar en speel ’n paar akkoorde. “Let’s do this!” hits hy haar aan nes vantevore toe hulle saam gespeel het. Ron trek weg met ’n lied met ’n polsende ritme wat hy uit volle bors saam sing. Kate vergaap haar so aan hom dat sy vergeet om self te speel.

“Komaan, daai tromme byt nie,” skreeu hy bo die trillende lawaai van sy ghitaar uit.

Met ’n diep asemteug waag sy ’n paar houe met die tromstokkies. Haar musiekinstink neem egter gou oor en die ritme van die herhalende sinsnedes wat Ron soos wafferse rockster uitkreet, sleur haar mee. Haar hande beweeg instinktief asof sy dit jare lank al doen. Algaande maak sy ook van die bastrom en die simbale gebruik. Dis nogal verbasend bevredigend, veral die simbale. Sy moker dit met verstommende reëlmaat.

As Emma ontlading kon vind deur iets hard te slaan, kan sy seker ook. In haar kop hoor sy Emma se stem: “Met elke hou tik ek op my lysie iets af wat Pa en Ma ons ontneem het.”

Kate raak so verdiep dat sy nie eens agterkom dat Ron ophou sing het en haar dophou nie. Die ritme en die harde houe vibreer deur haar hele lyf en algaande voel sy hoe iets meegee en uit haar begin vloei soos bloed uit ’n oop wond. Trane loop ongehinderd oor haar wange, maar sy hou nie op speel nie. Soos sy vorder, word haar musiek al wilder en moker sy die instrumente om haar met toenemende drif. Saam met die gekerm van die elektriese ghitaar huil sy oor die leed van ’n klein dogtertjie wat nie kon verstaan hoekom haar ma haar nie meer wou hê nie. Deur haar gedagtes flits die verskillende stadiums van rou wat sy oor die jare beleef het.

’n Sesjarige Kate snik onbedaarlik oor die gevoel van ontoereikendheid wat sy beleef oor sy glo dat haar ma weg is oor sy nie ’n mooi genoeg of soet genoeg kind was nie. Sy haal dit op die kleiner tromme uit met ’n behendigheid wat sy nie geweet het sy het nie.

Die tienermeisie rou oor die pyn van verwerping wat veroorsaak het dat sy haarself vir jare saans aan die slaap gehuil het. Nou ontgeld die bastrom dit en sy moker dit met ’n oorgawe tot selfs die vloer daarvan dreun.

Die volwasse Kate is verbitter oor sy nou ontoereikend voel wanneer dit kom by verhoudings, oor sy nie seker is of sy ooit ’n man gelukkig sal kan maak nie. Dis nou die simbale se beurt om haar te help om uiting aan jare se opgekropte gevoelens te gee. Die blikkerige lawaai daarvan is vir haar so bevredigend soos enige ryk melodie wat sy uit haar eie musiekinstrumente kan optower.

Uiteindelik voel sy uitgewoed en laat sak sy die stokke. Adrenalien pomp egter steeds deur haar are en maak dat sy liggies bewe.

Ron sit sy ghitaar op die vloer neer en kom

staan agter haar met sy hande op haar skouers. “Is jy oukei?”

Sy lag bewerig. “Baie meer as oukei. Dit voel of ek die wêreld kan verower.”

Hy lag saggies saam. “Dit lyk of dit tog kan werk. Jy is enige tyd welkom om jou frustrasies hier op my tromme te kom uithaal,” praat hy by haar oor. Die bekende stem so intiem naby haar maak dat haar hele lyf in sy rigting neig. Sy donker oë trek haar in, maak haar ’n slaaf wat hom niks kan weier nie.

“Kate . . . Jy weet dat jy op die oomblik vir my so begeerlik is dat dit ’n pyn in my borskas veroorsaak, om van ander dele van my lyf nie eens te praat nie.”

“Ek dink ek voel dieselfde.” Haar stem is hees en byna onhoorbaar, maar dit lyk of hy genoeg gehoor het.

Hy tel haar in een beweging van die bankie af op en mik deur se kant toe. In die gang draai hy nie woonkamer toe nie, maar in die rigting van sy slaapkamer. Kate kom agter wat sy plan met haar is, maar sy gee nie om nie. Suiwer opwinding laat haar asem byna heeltemal wegslaan.

“My bed?” vra hy voor sy mond hare gulsig vasgryp.

“H’m . . .” is al wat sy in sy mond in gesê kry. Sy het nie juis ondervinding van seks nie, maar ineens is dit vir haar duidelik dat die hele aand een lang voorspel was tot dit wat nou hier aan die gebeur is.

Sonder om sy mond van hare af te neem, stryk hy aan in die lang gang af. Sy het gedink dat sy alle opgekropte emosie en passie op die tromme uitgehaal het, maar in haar are bruis die bloed steeds vuurwarm en sy beantwoord Ron se soene met net soveel drif as wat hy dit uitdeel. Kate voel asof sy die wêreld op hierdie oomblik kan versit. Hulle asems meng en word een. Vanaand wil sy syne word. Ron is al vir so lank die enigste man in haar kop en haar hart, nou wil sy hom deel maak van haar lyf ook.

Saam met elke kledingstuk wat hy van haar afstroop, gooi sy ’n stukkie van haar verlede ook af en met elke item van sy klere wat vloer toe gaan, stel sy haarself stuk vir stuk oop vir ’n nuwe ervaring, ’n nuwe toekoms. Toe sy gewig haar lyf saam met syne in die matras laat insak, weet sy dat sy tuisgekom het. Al loop hulle paaie in die toekoms miskien nie saam nie, niks kan dit verander nie – Ron is die een vir haar en dit sal altyd so wees. Gewillig laat sy toe dat hy haar bemin en saam met hom op en op neem totdat dit vir haar voel sy wil uit haar vel uitklim om nader aan hom te kom.

Bederf jouself  met Madelie Human se jongste Romanza, ‘Held in ’n voorskoot’ http://bit.ly/2vKTUw9

Held in ’n oorpak – Madelie Human

held-in-n-oorpak_voorblad_high-res

“Het jy en Hanno oor my geskinder?” wil sy agterdogtig weet.

“Hanno gee om vir jou, Em.” Hy skroef die bottel oop, skink vir hom ’n bietjie van die whiskey en bêre weer die bottel. Emma hou hom dop. Haar pa het gewoonlik sommer die glas byna volgemaak en nie opgehou voordat die bottel leeg was nie. Zack is klaarblyklik tevrede met heelwat minder en net een sopie op ’n keer.

Sy hou daarvan wanneer hy haar Em noem. “Ek weet. Hy is ’n goeie vriend vir my.”

In die sitkamer trek sy haar kaal voete onder haar in en maak haarself geheel en al met die oorgroot nagrok toe.

Zack kom sit by haar en bekyk haar met ’n glimlag. “Eendag gaan jy my nog wys wat jy so onder al die lappe wegsteek.”

“My nagrok is my trooskombers.” Toe dit uit is, is sy spyt. Nou gaan hy allerhande vrae vra.

“Hoekom het jy troos nodig? Dis November en hopeloos te warm in Pretoria vir flennie.”

Nes sy gedink het. Nou gaan hy dink sy is simpel. “Ek het lankal nie meer troos nodig nie, maar ek hou van die snoesige gevoel van die flennie, selfs in die somer.”

“Hanno sê my jy het moeilike kinderjare gehad.”

“Hanno met sy groot mond. Hy kan mos nie geheime hou nie. Dis dinge van lank gelede. Dit kan my nie meer raak nie.”

“Ek het jou gesê hy gee net om. Wat kan jou nie meer raak nie?”

Emma sug. Miskien moet sy hom maar vertel. Maar net kortliks, nie derms uitryg nie. “My pa se drinkery wat hom aggressief gemaak het. My ma wat later nie meer omgegee het nie, my en my sus verwaarloos en nog later heeltemal in die steek gelaat het. Met ’n pa byna nooit nugter nie en ’n sussie vyf jaar jonger as ek, het die huishouding op my skouers geval. Dis hoekom ek tot vandag toe nie daarvan hou om kos te maak nie. Dit herinner my te veel aan jare se gesukkel om iets te moes doen waarvoor ek nie gereed was nie. Dis maar al.” Snaaks, besef sy, sy voel nie meer bitter nie, net leeg wanneer sy daaroor praat. Beteken dit sy het heeltemal afgestomp geraak? Beteken dit dat sy ook nie tot liefde in staat is nie, omdat die mense wat haar moes liefhê, nie daartoe in staat was nie?

Hy kom nader. Nes sy gedink het; nou gaan hy haar bejammer. “Dit klink vir my na ’n leeftyd se seerkry,” is egter al wat hy sê.

Sy gee effens pad, maar sy sit reeds in die hoekie van die rusbank. Simpatie is die laaste ding wat sy soek. “En iets waaroor ek nie graag praat nie. Dis verby. Selfbejammering vermag in elk geval niks.”

“Ja, jy is reg. Maar dit kan ’n verklaring wees vir hoekom jy toenadering van my kant af vermy.” Hy kom weer nader en sit sy een arm om haar skouers.

Sy kyk op in sy gesig. Wat sy daar sien, is allesbehalwe simpatie. “Ek gaan nooit trou nie. Hoekom dan tyd mors met verhoudings?”

Agter elke held … Madelie Human

vrouekeur-advertensie_Fb

Eintlik was die reeks geïnspireer deur die sterk heldinne wat in elke storie haar held vind. Om vir elkeen van hierdie uitsonderlike vroue ’n pasmaat te soek, moes ek vier baie besondere helde bedink. Die titels was oorspronklik anders, maar toe besluit ek om op die helde te fokus en vandaar die held-reeks.

Held in ’n oorpak: (Romanza)

 Koop Held in ’n oorpak hier: http://bit.ly/2n0SDIV

Emma Jordaan is ’n talentvolle kunstenares wat uit haglike omstandighede stad toe gevlug het om ’n loopbaan in kuns vir haarself uit te kerf. Die enigste man wat haar gelukkig sou kon maak, was dus ’n suksesvolle kunstenaar. In my soektog na so ’n man, kom ek toe af op die werk van ’n baie talentvolle beeldhouer, John Lopez, wat beelde van diere maak uit ou plaasimplemente. Hy was die inspirasie vir Zack, die man wat Emma gehelp het om haar stukkende lewe weer heel te maak.

 Held in ’n voorskoot: (Romanza) 

Koop Held in ’n voorskoot hier: http://bit.ly/2vKTUw9

Emma se sussie, Kate, het op Vlakspruit agtergebly om hul alkoholis-pa te versorg nadat Emma weg is stad toe. Net soos haar ousus, vind sy ontvlugting in haar kuns, naamlik musiek. Saans raak sy aan die slaap met die fluweelstem van die aanbieder van die klassieke musiekprogram op Classic FM, Ron Jacobs, in haar ore. Na haar pa se dood trek sy by Emma en haar Zack in en ontmoet die man met die stem in lewende lywe. Gou besef sy dat sy meer as net sy stem onweerstaanbaar vind. Boonop is hy net so bedrewe in die kombuis met ’n bloedrooi voorskoot aan as agter ’n mikrofoon of met sy klassieke ghitaar in sy hand. Kate verloor heel onverwags haar hart op die onstuitbare man wat haar nie net met sy stem en sy musiek bekoor nie, maar ook die heerlike disse wat hy vir haar voorberei sowel as sy onweerstaanbare self.

 Held in ’n aandpak: (kortverhaal in Vrouekeur)

 aandpak

Liana Jacobs, Ron se ma, wy haar lewe aan haar man en gesin, maar na haar man se dood besluit sy om weer aktief terug te keer na haar beroep as argitek wat spesialiseer in die restourasie van ou geboue. Sy gee ook klas by die universiteit en daar loop sy haar ou studenteliefde, aan wie sy vir ’n kort rukkie verloof was, weer raak. Gustav is nou die bekende dirigent van die Johannesburg Simfonie-orkes en die teenoorgestelde van haar oorlede man. Sy voorliefde vir die fyner dinge van die lewe, sy onberispelike voorkoms en karakter spreek tot ’n sy van haar wat sy jare gelede reeds diep begrawe het. Daar is egter ou seermaakdinge tussen hulle wat eers oorkom moet word.

Held in blou jeans: (Romanza, moet nog verskyn)

 jeans

Riëtte Jacobs, Ron se sussie en Liana se dogter, wil graag ontslae raak van die beeld van die van die jongste lid van die gesin – die een wat deur almal soos ’n kind behandel word. Sy wil haar eie ding op haar manier doen. Haar ma se aantreklike nuwe vennoot vererger sake deur voort te gaan waar haar familie opgehou het. Hy maak homself egter baie tuis in haar hart, al beveg sy haar gevoelens vir hom met hand en tand.

Ek geniet dit baie om reekse te skryf, want die karakters word soos deel van my familie oor die maande wat dit my neem om hul stories te vertel.

Nog boeke deur Madelie Human. Skakerings van liefde verskyn Oktober 2017!