Madelie gesels oor skryf

Wat is vir jou die heel lekkerste van voltyds skryf?
Na dekades van ‘n lewe wat deur die skoolklok gereël was, is die vryheid van skryf wanneer die gier my beetpak soos ‘n heerlike geskenk wat ek daagliks van nuuts af kan oopmaak en dit word net vir my al hoe lekkerder. En die wonderlikste van alles is dat daar ‘n uitgewer is wat aan my glo en my skryfsels wil uitgee en nog beter, dat daar lesers is wat my boeke koop en lees.

Is daar iets wat sleg is daaraan?
Die baie ure se stilsit (en die peuselry terwyl ek so sit) is natuurlik nie goed nie, maar gelukkig woon ek op ‘n plek waar dit veilig en baie genotvol is om te gaan stap.

Hoekom nou juis liefdesverhale?
Afgesien van die feit dat ek ‘n ongeneeslike romantikus is, het ek genoeg grys hare om te weet dat daar meer as genoeg wroeginge en worstelings in die lewe is. Ek het nie nodig om deur my skryfwerk nog daartoe by te dra nie. Ek wil graag vir mense die mooier kant van die lewe voorhou en vir hulle hoop gee dat, al is hul omstandighede dalk nie rooskleurig nie, daar werklik iets bestaan soos die liefde wat alles kan oorwin.

Wil jy vir altyd romanses skryf?
Daar sal altyd die element van liefde in my werk wees, maar ek sal graag wil ontwikkel as skrywer en dit sal beteken dat ek die een of ander tyd sal aanbeweeg na iets dieper, miskien iets anders. Die tyd sal leer. Intussen geniet ek wat ek doen.

Hoe voel die mense om jou oor jou skryfwerk?
My familie en vriende is baie positief en ondersteunend en dit beteken vir my geweldig baie. Daar is natuurlik mense wat neersien op die genre wat ek verkies om te skryf en my werk as leeg en sinneloos beskou, maar dis gelukkig in die minderheid. Hulle het ‘n reg op hulle opinie. Ek ook.

Vra mense jou soms snaakse goed oor jou skryfwerk?
Ja, nogal! Die mees algemene vraag is: “Het ‘n romanseskrywer baie ondervinding van liefdesverhoudings nodig om daaroor te kan skryf?” My uiters verontwaardige teenvraag is gewoonlik: “Het ‘n moordverhaalskrywer nodig om ‘n paar moorde te pleeg voordat hy daaroor kan skryf?” Liefdesverhoudings is oral om ons, in die werklike lewe, in boeke, op TV – oral! – en ek het net nodig om my oë oop te hou om meer as genoeg materiaal bymekaar te kan maak om vir baie jare te kan aanhou skryf.

Is skryf nie ‘n baie eensame werk nie?
Ja dit is, maar sedert ek ‘n klompie ander skrywers leer ken het en daagliks met hulle per e-pos en op die blogs kommunikeer, is my studeerkamer gladnie meer ‘n eensame plek nie. Inteendeel, ons is ‘n hegte groep vriende wat mekaar so dikwels as moontlik probeer sien en gedurig planne maak om saam te kuier. ‘n Mens skaar jou mos maar by ander wat dieselfde belangstellings en probleme as jy het.

Het jou werk jou al met interessante mense in aanraking gebring?
O ja. Ek is ‘n uiters nuuskierige mens en raak maklik met vreemdelinge aan die gesels, want ek hou gedurig my oë oop vir interessante karakters en storie-idees. Die interessantste mense wat ek mee te doen kry, is natuurlik die ander skrywers. Ek is in kontak met skrywers van oraloor ons land en selfs Europa, Brittanje, die VSA en tot diep in Afrika. Elkeen het ‘n uitsonderlike persoonlikheid en skryfstyl en by elkeen leer ek iets anders. Dan is daar natuurlik die verskeidenheid van mense met wie ek al onderhoude gevoer het om inligting bymekaar te maak oor beroepe of die plekke waaroor ek wil skryf.

Hoekom het jy so laat in jou lewe eers begin skryf?
H’m. Domgeit?
Ek is ‘n bietjie spyt dat ek nie lankal begin het nie, maar ek glo ook dat ‘n mens se lewe vir jou vooruit beplan is. Ek het seker maar die lewenservaring nodig gehad voordat ek ‘n sukses kon maak van skryf.

Wat is jou raad aan voornemende skrywers?
Skryf is harde werk vir min geld, veral as jy in Afrikaans skryf. Dit verg vasberadenheid en baie selfdissipline, maar dis uiters bevredigend. Moenie toelaat dat kritiek of klein mislukkings jou afsit nie. Leer uit elke fout en druk deur. Lees alles wat jy moontlik kan oor jou gekose rigting. Leer uit boeke, die internet, van ander skrywers, waar jy ookal inligting oor skryf in die hande kan kry en hou aan probeer, al moet jy ‘n boek ‘n hele paar maal oorskryf. Daar is altyd ruimte vir verbetering. Bowenal: geniet elke oomblik daarvan, want as jy dit geniet, sal jou lesers ook!!

2 thoughts on “Madelie gesels oor skryf

  1. Charolene says:

    Hi Madelie!
    Ek het al jou boeke baaaie geniet, ek dink Om Ben lief te he, die meeste…Of Myne vir altyd… Ek weet nie… Maar eintlik wil ek self skryf… Gedigte, nie boeke nie, asb!!! Kan jy dalkies help en se hoe ek moet begin? Moet ek eers ‘n kursus deurloop, wat moet ek lees en waar kry ek dit op die Internet???

    • Madelie Human says:

      Charolene, natuurlik is daar baie raad vir mense soos ek en jy wat graag skrywers wil wees. Ja, ek het al ‘n klompie boeke gepubliseer, maar my begeerte om te skryf is niks anders as joune nie. Kom kuier bietjie vir ons op ons Skrywerontwikkelingsblog. Daar is baie raad vir aspirantskrywers soos jy, maak nie saak watter genre jy wil skryf nie, die basiese beginsels is dieselfde. Sien jou daar! http://www.skrywerontwikkeling.wordpress.com

Leave a comment