Onderhoud met Madelie Human

1.     Wat is die heel lekkerste lekker in jou lewe?

My huis en die plek waar ons woon. Dis‘n Amerikaanse log cabin op ‘n wildplaas waar die diere vrylik rondbeweeg. Ons het van byna alle soorte wild hier, behalwe die Groot 5 en ander gevaarlike diere. Ek kan op die stoep sit en meer soorte diere sien as wat mens op ‘n hele dag in die groot wildtuine van ons land sien. Ek kan ook veilig (alleen!) gaan stap en letterlik tussen die diere beweeg. Die 6 nagapies wat in ons dak woon, is ons troeteldiere. Hulle is tans in ‘n ‘oorlog’ gewikkel met die eekhorings wat ook graag hulle intrek by ons wil neem!

2.     En die heel slegste?

Om te moet wag!! Veral as ek opgewonde is oor iets, is ek erger as ‘n kind.

3.     Jou gunsteling plek om te besoek?

‘n Boekwinkel.

4.     Wat haat jy?

Mense vir wie hulle uiterlike voorkoms die heel belangrikste ding in hul lewens is.

5.     Heel lekkerste kos?

Enigiets wat ek nie self hoef voor te berei nie!

6.     Wat is die belangrikste les oor die skryfkuns wat jy geleer het?

Dat jou eerste draft van ‘n manuskrip slegs dit is: ‘n eerste poging waaraan daar nog geskaaf sal moet word. Daar is altyd ruimte vir verbetering.

7.     Waar skryf jy?

My skryfhoekie is in die loft van ons houthuis vanwaar ek by feitlik al die vensters van die huis kan uitsien. Ek het al op ander plekke probeer skryf, maar voel ontuis en trek sommer baie vinnig weer terug.

8.     Wie is jou gunsteling van al die karakters wat jy al geskep het?

As ek moet kies, sal dit Ben van ‘Om Ben lief te hê’ wees, maar gewoonlik is dit die held van die boek waaraan ek op die oomblik werk. As ek nie kan verlief raak op my eie helde nie, sal my heldinne en lesers dit ook nie kan doen nie!

9.     Wat is daardie een spesifieke faktor wat ‘n held moet hê om jou hart te steel?

Hy moet uiters manlik wees, maar sensitief vir die vrou in sy lewe se gevoelens.

’n Desember romanse deur Sarah du Pisanie

‘n Splinter nuwe romanse van Sarah, ’n Bruid vir Soetvlei, gaan in Desember op die rakke verskyn. Net betyds vir Kersfees inkopies. Hou die blog dop vir ’n proestukkie!

’n Bruid vir Soetvlei

Riaan Malan erf ’n plaas in Namibië. Hy was in Londen vir vier jaar en het nie burgerskap gekry na onafhanklikheid nie. Al wat hom kan red is om met ’n Namibiese burger te trou.

Leila die plaasbestuurder se dogter, was haar hele lewe lank verlief op hom. Sal sy die een wees wat Soetvlei vir hom sal kan red?

Daar is egter nog Neville Terblanche, om mee rekening te hou. Hy sal die plaas erf as Riaan nie binne drie maande na sy Oupa se afsterwe die plaas kom beset nie.

Intussen is Leila in die middel en word soos ’n pion gebruik om Soetvlei aan die hande te kry.

In die pyplyn …

Marile Cloete se nuwe romanse, WAAR SY HOORT, is deur Lapa vir publikasie aanvaar en sal DV in Januarie 2011 verskyn.

WAAR SY HOORT is die verhaal van Anneke wat terugkeer na ‘n verblyf in Australië. En Adriaan wat terugkom na ‘n mislukte LSD-trip na Australië. En hul kinders. En ‘n geliefde troeteldier … wat nié ‘n volstruis is nie!

Nuut van Sophia Kapp!

Eerstejaar Danelle is op ’n dorp en ’n kampus waar sy nie wil wees nie. Boonop bly sy by haar ma, wat daagliks agteruitgaan. Haar liefdeslewe is ook nie na wense nie. Is dit net sy wat so swaar dra aan ’n kruis?

Die volgende Gys-boek is hier!

Toe Raine Quinn Fluisterbos koop, weet sy nie sy ry die profeet Sias van die Meetsnoer Tempel se heilige taak in die wiele nie, ook nie dat Fluisterbos die nuwe Eden is nie. En nog minder van Flint Fletcher se obsessie oor dié klein stukkie oerbos. Sy kon ook nie voorsien dat een van die Meetsnoer-lidmate die nag van haar aankoms op Fluisterbos vermoor sal word nie. Raine twyfel of die aarde se einde werklik in sig is, maar vermoed spoedig haar eie is dalk wel.

Geluk, Elsa!

Elize Parker, bekende joernalis en skrywer, verskyn hier saam met Elsa Winckler tydens die funksie waar verskeie skrywers met Woordveertjies bekroon is.