Kom vier die liefde!

Hier is ‘n heerlike kuier vir Gautengers – moet dit nie misloop nie!

Frances Vermaak en Rykie Roux sal die gassprekers wees vir die aand.

 

 

Advertisements

Nuut van Dina Botha

Maak reg vir ‘n onneersitbare lees van Dina. Bederf jouself hierdie Februarie met Bly myne.

BLY MYNE – Dina Botha
Romanza, Februarie 2012

Drie jaar ná Jackie se egskeiding is sy terug. Nie om hul huwelik te hervat nie maar om Alec te wys dis ’n ander Jackie dié. Maar hoe gemaak met die aantrekkingskrag tussen hulle?

Nuut van Rika du Plessis!

Nog ‘n heerlike boek van Rika! Betyds vir die mees romantiese maand van die jaar – dit is Februarie op die rakke.

BEPROEFDE GELUK – Rika du Plessis
Romanza, Februarie 2012

Sonita moet voorgee sy en haar eksverloofde is herenig omdat hy andersins gaan praat oor ’n geheim in haar lewe. Sy sou kon, as dit net nie vir sy aantreklike en sagsinnige neef was nie …

Nuut van Linelle Venter!

Februarie is die maand van liefde. Hier is een van Valentynsmaand se Romansas. Bederf jouself met Linelle se nuwe boek!

Onbeplande liefde – Linelle Venter
Februarie 2012

Wie Anke wil hê, moet weet die drie tienerseuns wat sy “geërf” het toe haar suster en swaer oorlede is, is deel van die pakket. Hoe sal haar aantreklike nuwe buurman daaroor voel?

Nuut van Magdaleen Walters!

Maak seker jy het Magdaleen se nuutse boek wat in Januarie beskikbaar is!!

Verby omdraai

Marike Nortjé het al gehoor van mans wat vroue met hul oë uittrek. Dis nie wat Benjamin Wennick doen nie. Hy skil haar af met sy oë. En wanneer hy daarmee klaar is, gaan hy waarskynlik haar vel oor die naaste doringbos oopspalk.

    Dis egter nie net Benjamin wat antagonisties teenoor haar optree nie. Sy is self nie alte positief wat die teenoorgestelde geslag aanbetref nie. Sy voel nog steeds die spreekwoordelike brand van haar eks-verloofde se skoensool op haar spreekwoordelike sitvlak en sy is glad nie van plan om so gou dáárvan te vergeet nie. Nogtans, die donker man met die donker oë laat haar beslis nie koud nie en toe omstandighede haar en Benjamin saamgooi en sy vir hul albei se lewens vrees, weet sy dat haar eie hart ook maar nie te vertroue is nie.

Proestukkie: Chanette Paul: Fleur

Fleur speel in 1938 af toe wynoorskotte die wynboere sleg geknou het.

Romuli se opstal is vars en wit, die gewels blinkskoon in die laatmiddaglig. Die ruitjiesvensters glimmer en in die eikebome fluister ’n ligte bries.

Pieter-Jan help haar uit die kapkar en sy is net op pad met die trappies na die voordeur toe Annabella uitkom.

“Fleur! Hoe bly is ek nie jy het toe tog gekom nie.” Haar lippe is sag teen Fleur se wang. “Maar kom binne. Jy sal die meeste mense ken, maar ek wil jou graag voorstel aan Christiaan. Jy onthou hom seker nie meer nie?” Annabella haak by haar in en Continue reading

Proestukkie: Susan Olivier: Aanloklike proposisie

Oopmond staar René hulle agterna. Die twee weglopers. Los haar wraggies alleen met hierdie man? En dit ná sy die situasie op groot skaal opgefoeter het. Die houers kon mos wag. Of sy kon ook help. Dalk loop hy nou. Of help hulle. Maar hy bly staan, vat sy bordjie en begin rustig aan die koek eet asof hy eregas by die paartie is.

Sy maak die vuil bekers bymekaar en sit dit op ‘n skinkbord. Enigiets om haar besig te hou, want sy is nie lus vir ‘n oppervlakkige geklets nie. Continue reading

Nog ’n Chanette Paul boek vir 2012!

Fleur se tweede uitgawe is in Januarie beskikbaar!

Fleur – Chanette Paul

Sy’t die wynplaas – afgetakel en op sy knieë – en hy’t die kennis. En die enigste uitweg om die plaas te red is deur te trou. Al is dit liefdeloos.

Dis wat erfgename doen, glo Fleur. En ná vyf jaar op ’n wynplaas in Frankryk, is dit die enigste manier hoe Christiaan ’n wynplaas kan bekom. Al het hy iemand anders lief.

Dis bloot ’n sakevennootskap. ’n Kontrak. ’n Ooreenkoms op Fleur se voorwaardes.

Net, Christiaan het nie tred gehou met sy romantiese Davel-familie nie. So ver soos hulle gaan groet, wag die wittebroodkamers. Die een na die ander. En iets moet meegee. Blom. Hul lywe? Liefde? Maar daar’s Fleur se voorwaardes. En boonop Christiaan se eed.