Liefde op ’n skinkbord – Dina Botha

liefde-op-n-skinkbord_voorblad_high-res

Helgaard braai twee steaks en maak ’n sous terwyl sy die slaai maak. Dis heel waarskynlik selfkastyding en dalk ook ’n bietjie masochisties, maar sy wil skielik weet waar sy in Helgaard se oë te kort skiet. Hoekom hy sy lewe en sy drome om ’n meisie kan bou wat hom nie met oop arms verwelkom nie. Hom dalk nooit eens ten volle gaan waardeer of liefhê nie. Dit terwyl sy wat Zoë is, dit reeds alles voel.

“Helgaard, ek weet dis ’n vreemde vraag, maar wat soek jy nou eintlik in ’n meisie?”

Haar vraag verras hom en hy hou vir ’n oomblik op om die pepersous op die stoofplaat te roer.

“Wat wil ek in ’n meisie hê? Gits, ek het nog nooit ’n spesifieke lysie gemaak nie.”

“Oukei, jy het miskien nie, maar wat wil jy hê as jy so skielik uit die vuis moet raai?”

Helgaard draai die plaat af voordat hy na haar kyk. “Sy moet liefdevol en heeltemal in voeling met haar vroulikheid wees. Sy kan maar van mooi aantrek hou en grimering gebruik want ek weet dit laat ’n meisie goed oor haarself voel. Sy moet daarvan hou om te lag, dis belangrik vir my. Verkieslik moet sy ook nie te veel stres oor selluliet en rekmerke nie. Ook nie heeldag kla oor haar gewig nie.”

Zoë raak weer besig met die slaai en uit die hoek van haar oog kan sy sien Helgaard hou haar belangstellend dop. Dit maak haar effens senuweeagtig.

“Is mooi aantrek en om liefdevol te wees genoeg? Wat van die meisie se agtergrond en finansiële welvaart?”

Helgaard frons diep en ontevrede. “Is dit waaroor hierdie gesprek gaan? Jy wil weet hoe aanvaarbaar jý vir Leon is?”

Sy hou op om die blaarslaai uitmekaar te breek. Sy verstaan nie die verontwaardiging op sy gesig nie. Sy wil dadelik sê dat sy nie eens aan Leon gedink het nie, maar miskien is dit goed as hy so dink.

“Ja, jy is ’n man en behoort tog seker te weet.”

“Alles mans is nie dieselfde nie. Ek is nie soos Leon nie. Ek kon by my persoonlike lysie opvoeding, agtergrond en sulke twak bygevoeg het, maar ek het nie. Dis nie belangrik nie. Jy slaap nie in die nag langs welvaart nie en jy kyk nie teen ’n bankstaat vas as jy wakker word nie. Agtergrond sit nie langs jou op die bank as jy gelukkig en uitbundig vir ’n simpel grappie lag nie. Opvoeding en geskiedenis is soos agtergrondmusiek. Dit dra by tot die geheelbeeld van die liedjie, maar dis die woorde wat die emosie bevat, en wat ’n lied onvergeetlik kan maak.”

Sy mooi woordkeuse roer haar diep, maar sy mag dit nie wys nie.

“Wat van die gesegde soort soek soort?”

“Ek kan eintlik nie glo ons het in die eerste plek hierdie gesprek nie. As Leon werklik diep oor jou voel, gaan dit nie saak maak of jy bedags ’n aartappelsak dra nie. Of wat jy ry of waar jy bly of waar jy vandaan kom nie. Hy sal bloot elke oomblik van die dag saam met jou wil wees omdat jy jy is. Hy sal verby al hierdie uiterlik verf kyk en net jou uitdrukkingvolle oë wil sien en die lag op jou lippe geniet. Snags sal hy nie kan slaap nie, want jy hou hom wakker. Hy sal planne maak oor hoe hy jou lewe vir jou beter kan maak, en as hy aan die slaap raak, is dit om net van jou te droom.”

Zoë se mond hang oop. Sy het nie gedink haar onskuldige vrae sal so ’n reaksie uitlok nie. Helgaard besef seker dat hy nou heeltemal oorboord gegaan het, want hy stoot sy vingers geïrriteerd deur sy hare. Hy kyk weer na haar. “As Leon eerder na jou bankbalans wil kyk en wonder wat jy nou eintlik na die tafel kan bring, is hy jou nie werd nie, Zoë. Jy kan gerus iets uit Aspoestertjie se storie leer. Die prins het haar liefgekry vir wie sy is, nie vir wat sy na sy koninkryk kon bring nie. Hy het haar sy prinses gemaak omdat sy kosbaar was. Hy het haar sy hele koninkryk aangebied omdat hy wou, nie oor wat hy terug gaan ontvang nie.”

Zoë kan hom nie daarop antwoord nie. Die lug tussen hulle is nou gespanne en van die kameraderie van vroeër is daar geen teken meer nie.

 

Advertisements

Kersie bo-op − Bernette Bergenthuin

31519_laparomanzaliefde_fa

“Ek wens ek het ’n rok aangetrek,” glip dit uit. Ag hel, sy is seker sy bloos!

Die sjokolade oë met die lui-lang wimpers hou haar blik gevange. “Hoekom het jy nie?”

Ek is totaal uit my diepte, besef sy. Wat sou Wouter Greyling doen? Marcelle maak haar doelbewus gemaklik in die stoel. “Dalk omdat ’n rok mens weerloser laat lyk? Dalk wou ek my pantser teen dít alles.” Sy maak ’n wye beweging met haar hand.

Basjan Rademan knik en leun dan sameswerend oor die tafel. “Ek dink ek het ’n skinny jean en ’n leerbaadjie aangetrek om my ook te beskerm teen dít alles.”

Fake it ’til you make it. Sy wed haar hele nuwe klerekas dat die helfte van Wouter Greyling se selfvertroue vals is. As hy kan wegkom daarmee, kan sy ook. “O?” Sy hoop sy klink geamuseerd en so ’n klein bietjie sexy. Iets werk want Basjan Rademan maak byna ongemaklik keel skoon.

“Ja, weet jy hoe teleurgesteld is die deursneemeisie as die baas van die plaas nie ’n blou-en-kakie hemp met die plaas se naam op dra nie?”

Haar glimlag kom natuurlik. “Wat is jou plaas se naam?”

“Sê jy my.”

Bladsy drie in Kate se lêer, bo-aan . . . Wat staan daar? Haar gedagtes is gestroop van enige inligting. Ag, dit is ook nou nie ’n eksamen nie. Sy kyk hom waterpas in die oë. “Kyk, Basjan, ek gaan eerlik wees. Ek het absoluut geen navorsing oor jou plaas, die winsgewendheid van jou bedryf of die moontlikheid van blou bloed in jou are gedoen nie. Maar ek weet jy boer met konfyt en ek verstaan dit glad nie.”

Sy lag is diep en laag. Die spiere agter haar naeltjie trek saam, haar asemhaling kom vlakker. Wat gaan aan? Wouter is reg, sy is totaal en al manverskrik. ’n Boer in ’n skinny jean lag en dit voel vir haar asof hy aan haar raak. As sy eendag hier uitkom, wat te oordeel na haar power verleidingstegnieke vandag nog sal wees, moet sy internet dating oorweeg. Enigiets om haar verwysingsraamwerk op te bou.

“My plaas se naam is Mon paradis. Dis my paradys, my hemel op aarde. Die handelsmerk is Mon paradis konserv.”

“Het jy konfytkunde in Frankryk studeer?”

Hy lyk verras. “Jy het my tog gegoogle?”

Marcelle skud haar kop. “Glad nie. Kom ons sê maar net uit die aard van my werk het ek ’n oog vir detail. Jy lyk nie soos een vir pretensie nie, wel vir kultuur. Jy sou nie jou plaas ’n Franse naam gegee het as jy nie eerstens self die taal magtig was en tweedens, ’n belewenis in Frankryk gehad het wat jou laat besluit het om eendag jou eie stukkie hemel kontinentaal te doop nie.”

Die aantreklike, eksentrieke man voor haar vryf ingedagte met ’n wysvinger en duim oor die stoppels op sy vierkantige ken.

“Vir jou, Marcelle Erasmus, gaan ek binnekort leer kersiekonfyt kook in die hemel.”

Beteken dit sy is deur? Liewe hemel, sy dink sy is deur na rondte twee! Kate het ’n wenner beet, die waarhede wat hulself darem tydens die skiet van hiérdie reeks gaan ontbloot.

Feestyd se voet in ‘n treklorrie – Felicia Snyman

Jingle bells, jingle bells, Jingle all the way. Oh, what fun it is to ride. In a one horse open sleigh. Probeer om dit te lees sonder om saam te sing. Onmoontlik! Hierdie spoggerige deuntjie, saam met ‘n half miljoen ander Kersfees liedjies, speel onophoudelik in winkelsentrums en elke ander publieke area. Om eerlik te wees dryf dit my die krans uit. Al hierdie vrolike melodieë wat te hard speel, terwyl jy probeer om ‘n geskenk te koop wat heeltemal onbekostigbaar is gedurende die feesgety.

Hierdie is waaraan Desember geken word. Winkelversierings, liedere en etes wat jou laat kreun. Daar is ook hierdie tyd van die jaar altyd ‘n advertensie op die televisie wat sinspeel op die groot migrasie af see toe. Dit is nou ‘n feit soos ‘n koei. Daar is meer motors op die pad as op die vloer by die motorhandelaars. Dis is asof die motors net skielik in Desember uitpeul. Geen mens weet waar al die mense vandaan kom nie. En almal is op pad met vakansie. See toe, Kaap toe, berge toe en wie weet waarheen toe.

Ons gesin is nie so gelukkig nie. Vir die laaste paar jaar trek ons elke liewe jaar en gewoonlik oor die Desember-vakansie. Ja, trek. Ja, elke jaar. En ek praat nie van ander mense se sogenaamde trek nie – pak twee bokse gooi dit in ‘n motor en ry na ‘n nuwe plek toe nie. Ook beslis nie die tipe trek waar mense ‘n verhuisfirma huur wat alles in borrelplastiek toe draai en in ‘n vragmotor deur arbeiders gepak word nie. Ek praat van die trek waarna niemand kan uitsien nie. Waar jy met jou eie hande breekware in koerantpapier, wat alles bevlek, moet toedraai, in bokse pak en toe plak. Amper vergeet ek dat mens nog die bokse eers moet gaan bedel by winkels en ander trekkers. Opslaan, onder toeplak en stewig maak. Daarna kan dit eers aangewend word vir die pakkerasie.

Hierdie Desember was geen uitsondering nie. My pa het moedeloos na al die huisinhoud wat op die sleepwa moet pas gekyk en mor-mor dit begin spasieer. Dit was ‘n lekkerlag-oomblik toe hy vra of dit alles is en ons drie vrouens (ek, my suster en ma) net skuldig rondkyk en openbaar dat daar nog ‘n hele vertrek is wat ons nog nie uitgedra het nie. Ek dink nie mens besef hoeveel klein tierlantyntjies mens in jou huis het nie. Skoenbokse, ornamente, mooigoed, los kussings, ekstra fieterjasies wat die huis moet laat modieus voorkom. Wat sal die mense sê as jy nie ‘n papierbokkop, reuse glaspotte met eksotiese kunswerke in en ‘n houtklok het om jou huis deel van die een en twintigste eeu te maak nie? Dit klink so goed op papier en lyk al te spoggerig, maar verpak nou al hierdie items om dit in eenstuk te probeer vervoer. Dit is ‘n heeltemal ander storie. Die breekbare en sensitiewe artikels moet in voertuie gepak word. Dit sal nie deug om dit agter op ‘n oop waentjie te pak en deur die wind en weer te laat martel nie. Net toe ons dink niks kan die energie nog meer uit ons tap nie, begin dit reën. Skielik moet alles toegemaak word met ‘n reusagtige plastiek om die yskas, banke en matras te beskerm. Die reuk wat uit ‘n nat matras sal kom is ondraaglik en dan moet mens dit noodgedwonge eerder aan die brand steek. So het ons bokse vol items en meublemente op ‘n enorme sleepwaentjie en in drie voertuie met ons eie arms (en bene) gepak en honderde kilometers op die besige snelweg gery.

felici

Moenie dink enige iemand het simpatie met die situasie nie. Wanneer mens by die vulstasie probeer deur worstel met ‘n oorvol sleepwa waarop plastiek en toue flapper, gee mense jou nie kans of plek nie. Almal is net in die vakansie-feesbui. Mense lag, koop koffie, drink ‘n drankie en geniet die lewe. Hier is ons doodmoeg, vee sweet af en verwens die ander vrolike individue. Die ander mense is ook geklee in vrolike somerrokke, blinksandale, netjiese gholfhemde en spoggerige uitrustings. Hulle hare is behoorlik gedoen vir die lang rit af see toe. Mens kan immers nie sonder perfekte hare op die strand beland nie.

Op dieselfde tyd suiker ons met rooi gesigte en hang skouers, poniesterte, kopbande, verbleikte denim kortbroeke, wat wragtig al beter dae gesien het, en vuil hemde rond. Voordat jy nou met oordeel hierdie kant toe staar, probeer ‘n hemp skoon hou terwyl jy ‘n boks groter as jouself dra en vyftig meter oor ‘n grasperk met krom bene na ‘n voertuig toe kruip.

 

Dit klink nou of die einde in sig is. O, nee, dink weer. Nadat die kilometers op die snelheidsmeter opgeteken en die eindbestemming bereik is, begin die hele affêre weer van voor af. Die pakkerasie mag nie op die sleepwa bly nie, dit moet weer terug besorg word aan die wa-lener. Hier gaan ons en herhaal die proses. Al die toue moet losgemaak word, plastiek afgehaal word en elke liewe artikel moet afgetel word. Ingedra word en weggepak word. Ons beweeg byna hande viervoet met droë kele soos kamele wat na ‘n oase in die woestyn toe voortbeur om net ‘n lafenis te kry. Teen die einde van die dag het ek pyne gehad op plekke wat nie geskik is om hier hardop te noem nie…

Mag die gróót trek ons nie weer volgende jaar tref nie. Maar as dit doen. Hier is my plan van aksie:

kry groot sterk ouens of mense wat trek vir ‘n lewe doen om te help met die trek;

dra ‘n masker sodat niemand jou natgeswete gesig herken nie;

moenie in die warmste, vrolikste en besigste maand van die jaar trek nie;

en bring ‘n koelboks met baie ys (onder andere) in saam.

 

So as julle dalk mense met ‘n gepakte sleepwa op pad na julle lang-beplan en verdiende vakansie sien wend ten minste ‘n poging aan om ‘n glimlag te deel. Dit is immers swaar dra al aan die eenkant…

Hartsplan – Petronel Louw

hartsplan_voorblad_high-res

“Jana?” Ruan se lippe vee sag oor hare.

Sy draai haar kop weg en skuif weg. “Ek kan nie, Ruan. Jy verskyn elke week saam met ’n ander vrou in die koerante se sosiale bladsye.” Haar weerloosheid maak haar lam. “Ek is niemand se speelding nie. Verskoon my.” Die koffietafel is in haar pad, maar sy stoot dit met haar been eenkant toe. Die voordeur voel so ver.

Die ritseling van die wind deur die blare bring ’n vrede oor haar waar sy op die sementbankie in ’n verskuilde hoekie neersak. Sy sluit haar oë en drink die rustigheid in. Haar gedagtes kies koers na Doreen en Ruan se bewondering vir wat sy bereik het. Vir haar was dit maar net hoe sy die kronkels van die lewe hanteer het. Die swaarkry, voortdurende honger en te klein klere was deel van elke dag se worsteling. Dalk het dit haar blind en doof gemaak vir die goeie wat daaruit gespruit het. Louise is amper klaar gestudeer en haar toekoms as mediese dokter strek belowend voor haar uit. Jana tel ’n blaartjie op en rol dit tussen haar vingers. Dan is daar haar wat Jana is, se meenthuis in Waterkloof. As haar ma haar nou kon sien . . . Sy is onafhanklik en het die wonderlike vooruitsig van haar eie maatskappy wanneer sy terugkeer huis toe. Wat keer haar dan om die lewe vreesloos aan te durf en haar nie te bekommer oor wat ander mense van die regte Jana sal dink nie? Die Jana wat daarvan hou om saans in haar oudste sweetpak en pantoffels te loop, met haar hare in ’n vrolike poniestert ingebondel?

“Jana!” hoor sy Doreen haar roep.

Jana staan sugtend op.

Doreen roep nog ’n paar keer.

Jana is by ’n kruispad. “Sal die regte Jana Nagel opstaan, asseblief?” prewel sy terwyl sy stadig terugstap na die wooneenheid toe.

Doreen is soos ’n warrelwind by haar. “Daar is jy! Dewaal is klaar met sy werk en Ruan praat van ’n vakansieplaas op die Victoria-Wespad, nie te ver hiervandaan nie. Kom saam, toe. Jy het nog nooit die omgewing verken nie. Ons wil sommer ’n lekker ontspannende aandjie daarvan maak en gaan eet en kuier.”

Jana weet nie wat om te sê nie. Die ontdekking van Martin se bedrog en Ruan . . . Sy het nog tyd nodig om alles te oordink en deur te werk.

“Ek dink nie ek gaan saam nie, Doreen. Dankie vir die uitnodiging.”

“Ag nee.” Ruan is duidelik teleurgesteld. “Ek het gehoop jy kan ook vir oom Bassie ontmoet en van sy verhale oor die vroeëre jare hoor. Veral toe hy eenkeer vir drie dae in ’n grot toegesneeu was en rotskuns daarbinne ontdek het.” Ruan grinnik alwetend.

Jana kreun innerlik. Sy is mal oor historiese verhale oor vervloë dae en Ruan weet dit. Oom Bassie sal tien teen een al die praatwerk doen. Sy sal dus net hoef te sit en luister.

“Oom Bassie het selfs gesê dat hy vir ons die pad sal beduie, dan kan ons volgende naweek toestemming by die boer kry om die rotstekeninge self te gaan besigtig.” Ruan hou haar stip dop.

“Ek hoef mos nie vanaand te gaan nie. Julle kan die aanwysings kry en dan ry ek volgende keer saam na die grotte toe.”

Doreen se gesig val. “Ek wil nie die enigste meisie wees nie, toe man. Dit gaan awkward wees. Ek gaan soos Pietie Potlood daar sit met twee mansmense.” Haar hand vou sag om Jana se arm. “Kom saam, toe.”

Jana kyk in die pleitende groen oë. Dêmmit! “Ag, oukei. Wanneer ry ons?”

Doreen voer ’n lawwe vreugdesdans uit. “Yes! Yes!”

“Ons ry sodra Dewaal opdaag.” Ruan draai om. “Praat van die duiwel. Hier is hy nou net.”

Dewaal dring aan dat Doreen voor by hom in die dubbelkajuitbakkie sit. Hy wil haar glo graag uitvra oor haar studies.

Jana klim gedwee agterin. Ruan vou sy lang lyf met gemak langs haar in.

“Wanneer sê jy haal jy die bus Kaap toe, Doreen?” Ruan het nader geskuif middel toe.

Is dit nou nodig om amper op haar skoot te sit? Jana se hart klop so vinnig, sy hoor nie eens Doreen se antwoord nie. Sy probeer wegskuif, maar Ruan strek sy arm agter haar uit en vou dit om haar skouers. Haar mond val oop. Kan ’n mens so orig wees? Sy maak haar mond oop om hom iets snedigs toe te snou, maar hy plant ’n nonchalante soen op haar oop mond. “Ontspan, mooi meisie.”

Sy is seker haar kaak lê iewers op die matjie by haar voete. Hoe meer sy wegbeur, hoe stywer druk hy haar vas.

“M’mm,” kreun hy gevoelvol in haar oor. “Ek sal stil sit as ek jy is. Jy maak dinge in my wakker.”

Haar elmboog vang hom geniepsig in die middel van sy maag. Met ’n oef-geluid los hy haar.

“Jinne, Jana. Kan jy nie eens ’n grappie vat nie?”

Haar wange brand. “Ek is nie jou speelpoppie nie, Ruan,” sis sy vererg, “kry dit in jou kop.”

Sy oë verloor die speelse uitdrukking. “Ek wonder baie oor jou. Wanneer gaan jy my genoeg vertrou om my te vertel wie jou gees geknak het?”

Jana kyk vinnig na Doreen en Dewaal, wat lag oor iets wat Doreen kwytgeraak het. Hulle is gelukkig besig met hulle eie gesprek. “Miskien deel ek my hart met jou die dag wanneer ek oortuig is ek is nie net lekker afleiding of iets dergeliks tot ons terug is in die stad nie.”

“Daarmee kan ek jou nie help nie. Jy gaan daardie een op jou eie moet uitpluis. Ek is wie ek is. Ek het nog nooit ’n meisie onder valse voorwendsels probeer verlei nie. Jy weet net so goed soos ek dat daar iets tussen ons is, maar nou ja,” hy lig sy hande, so asof hy opgee, “jy moet maar besluit wanneer ek eendag jou vertroue waardig is.”

Sy mis die warmte van sy lyf toe hy wegskuif en met Doreen en Dewaal begin gesels.

My verbeeldingswêreld is so lewendig soos die regte ene … Petronel Louw

Wie is jou vyf gunstelingskrywers?

  • Madelie Human
  • Chanette Paul
  • Dina Botha
  • Sophia Kapp
  • Peggy L Henderson

 Wat is jou 5 gunstelingboeke?

Gewoonlik die laaste boek wat ek gelees het. Ek lees altyd iets. Ek is versot op Romanzas en romans. 

Wie of wat het jou geïnspireer om te skryf?

Ek sal op die lughawe stap en skielik dink: Mmmm, sê nou maarnet … Dan sal die idee begin blom. Mense, plekke en situasies is alles my muse. Ek sal ʼn murasie sien en ʼn idee sal posvat. My broers en susters het altyd gespot dat ek op ʼn ander planeet bly. My verbeeldingswêreld is net so lewendig soos die regte ene …

 Jou gunstelingaanhaling is …

Wat jy saai, sal jy maai. Ek glo dit vas soos wat die son opkom en sak.

 Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Ek werk as ʼn change facilitator vir ʼn korporatiewe “Employee Wellness” maatskappy. Ons ondersteun werknemers wanneer daar herstrukturering kom en ʼn maatskappy die werknemers aflê. Ek is verantwoordelik vir hulle emosionele versorging, CV’s en om mense voor te berei vir werksonderhoude.

 Watter eienskappe moet ’n held hê om jou hart te steel?

Hy moet manlik wees, humor hê, foute kan maak én sy foute kan erken. Hy moet ʼn maat kan wees, respek kan betoon. Die held moet nie bang wees om homself te wees nie.

 Die drie woorde wat jou skryfstyl beskryf is …

Komies, diep en lekkerlees.

Wat was die inspirasie agter Hartsplan

Ek het gaan sit en dink watter beroep het nog nie regtig romantiese blootstelling gekry nie, en so besluit om dit oor ʼn ouditeur te maak en dan natuurlik bedrog op ʼn plaas. Ek en my man het toe ʼn skaapplaas naby Britstown gaan besoek en drie dae daar gekuier en ’n vriendin het al my vrae oor hoe oudits en trusts werk geduldig beantwoord.

 Drie woorde wat Jana te beskryf is …

Passievol, ernstig en ʼn staatmaker

 Dis Kersseisoen. Het jou gesin ’n spesiale tradisie vir die feestyd?

Ja, ons kom bymekaar op Oukersaand en kuier om ʼn braaivleisvuur (want groot-eet kom môre). Daarna is dit geskenke uitdeel. Dit is sommer ʼn heerlike samesyn.

Koop nou Hartsplan: http://bit.ly/2hYr6ZV Romanza-klublede spaar tot bykans 40% op hul Romanzas.

Om Kobus te ken – Madelie Human

wilde-hawer

“Sureta Brink, die meisie met die maanlig in haar oë,” kom dit onverwags in ’n baie diep stem voor dokter Malan kan reageer. Hy vat haar hand en maak ’n effense buiging.

Toe sy in daardie onmoontlike paar blou oë opkyk, voel dit vir haar asof sy skerp blik haar deurboor. Sureta se hart struikel, huiwer, en spring dan weg op ’n wilde galop. Die man kry dit steeds reg om haar hart op loop te sit, dis vir seker.

Sy raak skielik bewus daarvan dat die ander twee hulle geamuseerd dophou terwyl Kobus steeds haar hand in sy warm greep vashou. Dan stoot ’n witwarm woede in haar op. Hoe durf hy hier staan en maak asof dit wat tussen hulle was, niks meer as ’n ligte flirtasie was nie? Hy het vir byna ses jaar haar bestaan en dié van sy seun geïgnoreer en hier staan hy en flankeer met haar asof niks ooit gebeur het nie!

Sy ruk haar hand uit syne en vee dit aan haar baadjie af asof hy pes onder lede het.

“Verskoon my, ek het baie werk.”

Sonder ’n verdere woord stap sy haar kantoortjie binne en maak die deur agter haar toe. Sy leun teen die deur en blaas haar asem stadig uit. Dan knyp sy haar oë styf toe en laat toe dat die warboel emosies wat in haar kop spartel, deur haar hele lyf spoel. Skrik, verbasing, verontwaardiging, woede, hartseer, en uiteindelik ’n ysige vasberadenheid, gee sy erkenning aan elkeen. Skrik, want sy het nie verwag om hom ooit weer te sien nie.

Verbasing omdat hy steeds die vermoë het om haar knieë met ’n enkele blik lam te maak, al het hy haar in die verlede soveel hartseer besorg.

Verontwaardiging omdat hy maak asof hulle verbintenis van ses jaar gelede maar net ’n ligte flirtasie was, asof hulle maar net kan voortgaan waar hulle al die jare gelede opgehou het.

Woede omdat hy dit durf waag om dieselfde woorde wat hy daardie een volmaakte aand met hartstog in haar oor gefluister het, hier te staan en aanhaal asof dit net ’n gedeelde grappie tussen ou vriende was.

Hartseer oor die vyf jaar dat haar kind sonder ’n pa moes grootword terwyl sy pa sonder ’n snars verantwoordelikheid ’n eie lewe gelei het, vry van die onwelkome las van kind grootmaak.

Lank staan sy so. Uiteindelik beur sy regop en staan met ’n ysige vasberadenheid weg van die deur af. Op een of ander manier sal sy sorg dat hy sy plig teenoor haar kind nakom, maar s’y wil niks met hom te doen hê nie. Sy kan sonder hom klaarkom.

Sy kan dit skaars glo. Die man wat sy liewer nooit weer sou wou sien nie, is die nuwe chirurg met wie sy voortaan baie nou sal moet saamwerk. Sy sal ’n plan van aksie moet uitdink. ’n Paar minute in sy teenwoordigheid was genoeg om haar te verseker dat sy nie onverskillig teenoor hom staan nie en sekerlik nooit sal nie, maar hy het haar hart gebreek en haar kind ’n onreg aangedoen, en daarvoor sal sy hom nooit vergewe nie.

Sy sal ’n sterk pantser om haar hart moet oprig om haarself teen die bekoring van die smeulende blik in sy hemelse blou oë en sy lui glimlag te beskerm, maar belangriker nog, sy moet haar kind teen ’n gevoellose pa beskerm wat sy bestaan die afgelope vyf jaar misken het.

Koop nou Wilde hawer: http://bit.ly/2ff2ERY

Blou diamant vir ’n ysprinses – Rosita Oberholster

blou-diamant-vir-n-ysprinses-9780799381979_mobi

Carla wens sy was nou in een van haar peperduur uitrustings en bykomstighede geklee sodat sy vir Adam die kyk kon gee wat hy verdien. Sy het hom nog nie vergewe vir die manier waarop hy na haar swaarkry as ’n tantrum verwys het nie. Wat het hy verwag? Dat sy hom moet bedank vir die geleentheid om te kan sit en vergaan op ’n plaas saam met ’n klomp welsynsgevalle? Vermetele vent! Hy behoort haar as juffrou Naudé aan te spreek, maar hy praat met haar asof sy sommer ’n ding is wat deur ’n rondloperkat hier aangedra is. Sy sug. Al haar frustrasies en slim redenasies help nou net mooi niks nie. Want sy lyk en voel soos ’n verlepte lelie op ’n ashoop. Geen grimering, geen parfuum. Dit is net die Cartier-horlosie om haar pols wat iets van haar herkoms laat deurskemer. Genadiglik het oom Charl dit nie in sy kop gekry om daarop ook beslag te lê nie. Hy het seker nie so opgelet nie. Dis asof sy skielik mense beny wat nié op geld hoef te steun vir selfvertroue nie. Hoe doen hulle dit?

Adam bereik haar en sy moet opkyk na hom. Die groet wat sy wou uiter, steek in haar keel vas. Waar is jy, Carla Naudé, vra sy haarself af. Van wanneer af laat sy haarself deur ’n groot lyf en ’n aantreklike gesig intimideer? Maar sy weet dit het min met sy lyf en gesig te doen. Dis die outoriteit wat hy uitstraal wat haar so haar spoor laat byster raak.

“Stap saam met my,” nooi hy, aansienlik vriendeliker as vroeër die oggend. “Ek wil jou so ’n bietjie rondwys en sommer net gesels.”

Sy val langs hom in. “Goed,” sê sy by gebrek aan iets beters om te sê.

“Jy wil seker graag weet wat jou pligte hier op Salem gaan wees, maar ek het dit goedgedink om jou eers ’n paar dae te gee om jou voete te vind. Ons kan later praat oor jou pligte. Ek wil hê jy moet almal beter leer ken en sien hoe dinge hier gedoen word.”

Sy trek haar skouers op. “Dankie.” Met ander woorde, net voor sy sterf van verveling, sal die finale doodsvonnis oor haar uitgespreek word.

“Carla, ek weet jy dink jou pa het jou ’n verskriklike onreg aangedoen.”

“Ek wil nie oor my pa praat nie,” val sy hom in die rede. Haar veglus is skielik terug. “Waar in jou lewe het jy al gesien dat ’n pa sy enigste kind vir die wolwe gooi?”

Hy kom tot stilstand en neem haar ietwat hard aan haar bo-arm. “Vir die wolwe gooi? Is dit wat jy dit noem?”

Sy ruk haar arm vererg los uit sy greep. “Wil jy vir my sê jy weet nie hoekom ek hier is en hoe ek hier beland het nie?”

“Natuurlik weet ek.”

“Ek wed jou jy ken net sy kant van die storie. Al wat julle van my weet, is wat julle by hom gehoor het. Julle het nie die vaagste benul wat hy aan my gedoen het nie.” Sy tel op haar vingers. “Hy het my uit die huis gegooi, hy het my kar met ’n tjor vervang, al my kaarte is gestop en in ruil daarvoor het ek ’n skamele paar rand gekry waarmee ek oor die weg moet kom.” Trane van selfbejammering brand agter haar ooglede maar sy druk deur. “Maar dis nie al nie. Hy dwing my om te woon en werk op ’n plek waar ek nie wil wees nie. Hier is verdomp nie eens selfoonontvangs of wifi nie. En dan praat ek nie eens van die vernedering nie. Wat anders is dit as vir die wolwe gooi?” Die minagting is terug op Adam se gesig, maar sy gee nie om nie. Dis tyd dat sy hoogheid ’n bietjie op sy plek gesit word. Sy kyk uitdagend na hom. “So gedink. Die wind is heel uit jou seile. Sien jy nou hoekom ek so ongelukkig is? Die mens wat ek met my lewe vertrou het, het my uitgelewer aan die genade.”

Adam knik. Sy stem is gevaarlik sag. Presies soos vroeër vanoggend. “Kom ek wys vir jou hoe lyk dit as iemand vir die wolwe gegooi word. En dan praat ons weer oor genade.” Hy neem haar aan haar arm en trek haar agter hom aan. Haar eerste instink is om hom na sy peetjie te stuur, maar iets weerhou haar daarvan. Hoekom voel dit skielik asof sy op die rand van ’n afgrond te staan gekom het?

Hy kom op ’n damwal onder ’n boom met baie dorings tot stilstand. Libby sit ’n ent van hulle af. Sy gooi stukkies brood, wat die eende gulsig verorber, met rukkerige bewegings in die water. Hy beduie na haar. “Jy het haar vanoggend ontmoet. Wat sien jy?”

Carla kyk fronsend na hom. “Ek sien vir Libby.” Libby, die begrafnisondernemer, voeg sy in haar gedagtes by.

Hy sug. “Nie wie nie, wat.”

Carla onderdruk die begeerte om haar oë om te dop. “Wel, behalwe vir die Goth-uitrusting, sien ek . . .” Sy sien hoe die meisie se skouers ruk en hoe sy haar trane met die rugkant van haar hand afvee. Selfs op hierdie afstand is dit duidelik dat sy sielsongelukkig is. Jammerte roer diep binne haar. “Hoekom huil sy so?” vra sy fluisterend. “Moet jy nie iets doen nie?”

Adam skud sy kop. “Dis elke oggend se ding.” Hy breek ’n droë takkie van die boom af. Knak dit tussen sy vingers. “Twee jaar gelede het Libby se pa haar ook uit die huis gegooi. Net soos wat jou monster van ’n pa met jou gemaak het.” Hy kyk stip na haar. “Die verskil is net, daar was nie ’n SLK wat hy met ’n splinternuwe Golf GTI vervang het nie. Hy het ook nie ’n klomp geld in ’n spaarrekening vir haar inbetaal nie. Hy het ook nie vir haar ’n werk en woonplek gekry sodat sy iewers ’n nuwe begin kon maak nie. Hy het haar nie uit liefde sy huis belet omdat sy stadig maar seker besig was om haarself te vernietig nie. O, nee. Hy het haar letterlik in sy dronkenskap uit sy huis gesmyt omdat hy haar nog nooit liefgehad het nie en nie langer vir haar wou sorg nie.”

Carla laat haar kop sak. Hoekom klink haar ellende en swaarkry ewe skielik soos ’n lang uitgerekte vakansie op ’n eksotiese eiland?

“Maar dis nie al nie,” gaan Adam rustig voort. “Op daardie stadium het die welsyn gedreig om vir Janneman te vat. Janneman, wat normaal gebore is, maar breinskade opgedoen het as gevolg van sy ouers se nalatigheid. Libby het hom gevat en was van voorneme om vir hulle ’n nuwe lewe te skep. Weg van die verwaarlosing en mishandeling.”

Hy bly stil en Carla kyk afwagtend na hom. “En toe?” vra sy fronsend, tog geïnteresseerd deur die jong meisie se treurige verhaal.

“Sy het nie klaar skoolgegaan nie en kon nie onmiddellik werk kry nie, maar moes vir Janneman sorg. Ek het haar halfdood van die honger en bykans verkluim op ’n straathoek opgetel.”

Haar oë rek en sy sluk droog. “Was sy . . .”

“’n Prostituut, ja. Vandaar die Goth-uitrustings, soos jy daarna verwys. Sy steek haar liggaam weg omdat sy skaam is daarvoor.” Hy neem haar aan haar skouers en draai haar na hom toe. “Maar daarvan sal jy niks verstaan nie. Mense soos jy, Carla Naudé, wat met die spreekwoordelike goue lepel in die mond gebore is, kry gewoonlik ’n laaigraaf vol selfsug en selfvoldaanheid om dit te vergesel. Beeldskoon van buite maar dolleeg en pikdonker van binne.”

“Haal jou hande van my af,” sis sy en draai uit sy greep. “En klim van jou high horse af, asseblief. Jy ken my van geen kant af nie. Hou jou opinie vir jouself.” Sy klem haar hande inmekaar en haal diep asem in ’n poging om die bewing in haar binneste te stil. “Ek sal doen wat van my verwag word omdat ek geen ander keuse het nie. Maar jy en die res van jou swerm afvlerkvoëls moet so ver as moontlik uit my pad bly. Julle is hopeloos benede my stand.” Sonder ’n verdere woord draai sy om en stap so vinnig as wat die klipperige paadjie haar toelaat van hom af weg.

“Ek verkies my helde ’n bietjie meer menslik” – Rosita Oberholster

Wie is jou 5 gunstelingskrywers?

Sophia Kapp, Chanette Paul, Deon Meyer, Wilna Adriaanse en Philippa Gregory. Eintlik is daar vele meer, maar ek is gedurig op die uitkyk vir nuwe boeke van hierdie skrywers.

Wat is jou 5 gunstelingboeke?

Die uurwerk kantel − Marié Heese, Springgety − Chanette Paul, Die swye van Mario Salviati −Etienne van Heerden, Tussen stasies − Irma Joubert en Huis van die wind − Sophia Kapp.

Jou gunsteling aanhaling is …

pravs-j-imagination-will-take-you-everywhere

Wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Werk, werk en nogmaals werk. Maar wanneer ek die geleentheid kry, skilder of lees ek graag. Ek is ook baie lief vir stap.

Watter eienskappe moet ’n held hê om jou hart te steel?

Dit begin mos maar altyd met die onweerstaanbare held wat net perfek in elke opsig is. Byna iets soos ’n “superhero”. Soos ek ouer word, verkies ek hulle ’n bietjie meer menslik. Aantreklik, maar nie modelmooi nie. Goed gebou, maar met ’n letsel of twee. Altyd medemenslik, maar met ’n “no-nonsense” kant aan hom wat van ’n man, ’n man maak.

Die drie woorde wat jou skryfstyl beskryf is …

Spontaan, gemaklik, lig? (Of altans, ek hoop so.)

Wat was die inspirasie agter Blou diamant vir ’n ysprinses?

’n Familielid wat sonder om ’n oog te knip R3 000 en meer aan ’n paar skoene bestee. Maar sy het ’n pragtige hart en geaardheid.

Carla en Hannah Malan van jou vorige Romanza, Troue in ’n towerbos, verskil baie van mekaar. Maar hoe kom hulle ooreen?

Albei van hulle is sterk vroue, wat eers werklik hul selfwaarde leer ken wanneer die lewe hulle aan die diepkant ingooi.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Om die newe-karakters elkeen sy eie, regmatige plek te gee, terwyl ek vir Adam en Carla in die kollig hou. Veral Libby het my slapelose nagte gegee. Dié klein merrie wou net eenvoudig die hele tyd na die voorgrond beur.

Waarom het Carla verander vanaf ’n ambisieuse vrou na ’n oppervlakkige plesiersoeker soos beskryf in haar gesprek met oom Charl?

Carla se vriendekring was mense met te veel geld en geen verantwoordelikheid. Stelselmatig het hulle haar ingetrek in hul selfsugtige bestaan van pret en plesier. Haar pa het die gevaartekens gesien en ingegryp.

Dis Kersseisoen. Het jou gesin ’n  spesiale tradisie vir die feestyd?

Kersdag word gewoonlik rustig by die huis deurgebring, soms saam met familie en vriende, en soms net ons vier. Maar ek sien baie uit na hierdie Kersfees, my man se jongste suster en haar gesin kom gesig wys na vier jaar se ononderbroke verblyf in Kanada. Dit gaan ’n lekker familie-byeenkoms wees.

Om Dirk te tem – Madelie Human

wilde-hawer

“Kom in hemelsnaam binne!” roep ’n growwe, ongeduldige stem toe sy die deurklokkie ’n derde maal lui.

Ja-nee, dit moet Dirk Degenaar wees, dink Marica. Suster Swart in die hospitaal op George het heelwat oor dié aantreklike vrygesel te sê gehad toe sy die lêers en mediese verslae gaan haal het sodat Marica die geval kon bestudeer voor sy die betrekking aanvaar. As die suster die waarheid oor sy humeur en ongeduld gepraat het, sal sy hare op haar tande nodig hê met haar nuutste pasiënt. Maar sy wat Marica Sonnekus is, is reg vir hom. Geen man sal haar ooit weer ore aansit nie.

Nou ja, laat sy maar sien hoe haar knorrige pasiënt lyk. Sy draai die deurknop en stoot die swaar voordeur oop. Dit stuit teen iets. Wat sou in die pad wees? Marica loer om die donker eikehout en kyk vas in ’n fronsende, bebaarde gesig. Sy ruk haar kop terug.

“Kom tog net in!” grom die ongeduld op twee krukke weer.

Sy lig haar handsak se bandjie oor haar skouer en skuifel deur die smal opening, versigtig om hom nie met die deur tussen hulle om te stamp nie.

“Jy’s laat,” knor die wankelrige reus. Sy sien sweetdruppels op sy voorkop pêrel. Dis nie warm nie, dis ’n koel dag, dus moet dit van inspanning of van pyn wees. Sy raai dat laasgenoemde twee die sondebokke en die oorsaak van die waag-dit-net-om-met-my-te-mors-houding is.

“Marica Sonnekus. Ek is hier in verband met die pos as fisioterapeut.” Sy steek nie haar hand uit nie, want sy weet hy het albei syne nodig om die krukke vas te hou om staande te kan bly.

“Ja, Sureta het my van jou koms laat weet. Wat ek wil weet, is hoekom ek nou skielik ’n nuwe terapeut nodig het. Sureta het onnodig haar neus in my sake gesteek. Waar is daai Gerhard-ventjie? Hy het my mos tot nou toe in die hospitaal behandel en ek het gevra dat hy my terapie hier by my huis voortsit.”

“Volgens die hospitaalbestuur het Gerhard ’n besige praktyk en kan hy jou nie langer behandel

nie. Ek is die enigste terapeut wat op die oomblik nie voltyds besig is nie, dus is jy op my aangewese, meneer Degenaar. Miskien moet ons iewers gesels sodat ons die besonderhede kan bespreek.”

Sy beduie hoopvol na ’n sitkamer wat deur ’n oop deur sigbaar is. Haar nek is klaar seer van opkyk na die lang man, al leun hy effens vooroor op sy krukke. Liewe hemel, hy is groot! dink sy. Die yslike bos baard en wilde, lang hare help ook nie juis om sy byna skrikwekkende voorkoms te versag nie.

Van die sondige aantreklikheid waaroor die suster giggelend agter haar hand gefluister het, is daar geen sprake nie. Wat op aarde het Sureta na hom aangetrek? Sy haal haar skouers op. Alle mense se definisie van wat aantreklik is en wat nie, is sekerlik nie eenders nie.

Hy beduie met sy kop dat sy moet voor stap en hink dan pynlik stadig agterna tot in die sitkamer. Terwyl hy aangesukkel kom, kyk sy waarderend in die gesellige vertrek rond.

Die meubels is ooglopend duur, maar die klem is op gemak eerder as luuksheid. Iemand in die huis het uitstekende smaak, of genoeg geld vir ’n peperduur binneversierder.

“Nou hoekom het Gerhard my nie self daarvan kom sê nie? Kon hy nie maar ’n plan gemaak het om my in te pas nie?

“Volgens die hospitaalpersoneel sien hy nie kans om hier te kom bly nie. Hy is getroud en wil saans na sy eie huis terugkeer. Hy het op die oomblik ook heelwat ander pasiënte wat hy nie net sommerso kan los nie. Maar dit het niks met my te make nie. Ek is hier net omdat Sureta my gevra het om jou te kom help.”

“Hoekom het Gerhard nie reguit vir my gesê hy sien nie meer kans nie?” hou hy halsstarrig vol. Ongeduld rasper in sy stem en Marica merk op dat hy sy een heup herhaaldelik vryf.

Sy maak haar rug reguit en klou verbete aan die laaste rafels van haar geduld. Die man sal selfs ’n engel se geduld beproef! Sy weier om verantwoording vir die onbekende Gerhard se gedrag te doen.

Sy ignoreer met opset die vraag en verduidelik verder: “Ek is besig om van Kaapstad George toe te verhuis en verwelkom ’n tydelike werk wat blyplek insluit. Dit sal my die geleentheid gee om hier in die omgewing vir my en Sureta ’n woonstel of ’n klein huisie te soek. Ek weet jy en Sureta korrespondeer per e-pos, dus is jy seker daarvan bewus dat ek en sy saam ’n praktyk in die nuwe vleuel van die privaat hospitaal gaan open?”

Sy kyk afwagtend na hom, maar hy antwoord haar nie.

Toe beur sy maar voort: “Maar dis eers van Oktober of November af. Ek het dus die tyd om jou intensiewe behandeling tot dan waar te neem.”

Hy bekyk haar met ’n ondersoekende blik van kop tot tone. “Hoe weet ek of jy bekwaam genoeg is om my behandeling waar te neem en dat jy nie net die werk aanvaar omdat dit jou pas en omdat Sureta jou gevra het nie?” Met ’n trek van pyn op sy gesig en ’n sisgeluid tussen sy tande deur val hy op die bank neer en beduie ongeduldig sy moet sit.

Marica voel hoe haar humeur begin smeul. Liewe hemel, sy kom van Kaapstad af om die man te kom help en hy behandel haar asof sy die melk uit sy tee kom steel het!

Koop nou Wilde hawer hier: http://bit.ly/2ff2ERY

 Romanza-klublede spaar R60 met hul 30%-afslagvoordeel!

 

#liefvirjou – Elsa Winckler

liefvirjou_voorblad_high-res

’n Hinderlike stem bly raas in haar ore. Cara wil nie wakker word nie. Haar kop rus op ’n sagte kussing en sy slaap so lekker. Uiteindelik dring die stem deur die newels van slaap tot haar deur en haar oë gaan oop.

Vir ’n oomblik weet sy nie waar sy is nie. Sy lig haar kop en kyk op, vas in ’n paar grasgroen oë. Kobus. Sy registreer ’n paar dinge gelyktydig: Haar kop was op die man se skouer, haar hand lê ewe tevrede op sy borskas en haar een been is bo-oor sy linkerbeen gevou.

Vinnig skarrel sy regop. “Ek is jammer, jy moes my wakker gemaak het. Ek het nie bedoel …  ek sou nie normaalweg … ”

Terwyl sy praat, probeer sy die hare uit haar gesig kam en besef sy hoe sy moet lyk.

Sy druk haar lippe opmekaar. “Ek moet badkamer toe gaan,” onderbreek sy haar stortvloed woorde.

“Ek was ’n heel gewillige kussing,” glimlag hy terwyl hy ook opstaan. Hy gee haar foon aan. “Dit het uitgeval terwyl jy geslaap het. Gou maak, ons gaan binnekort land.”

Sy vat haar foon, stap vinnig by hom verby terwyl sy haar vingers deur haar hare kam. Met haastige treë stap sy tot in die badkamer. Daar is gelukkig nie ’n tou nie en sy glip in die hokkie. ’n Bleek gesig met groot oë vol maskara staar vanuit die spieël terug na haar. Haar hare lyk soos iemand s’n wat pas opgestaan het. Sy kreun hardop. Kyk hoe lyk sy, wat op aarde moet die man van haar dink?

Maar dit maak nie saak wat hy van haar dink nie, sy weet wat sy naam en van is, dis al. En sy weet hy het die mooiste, mooiste groen oë wat sy nog ooit in haar lewe gesien het en sy weet sy borskas is kliphard gespierd en sy weet . . . Vrek, dis die laaste, héél laaste ding waaraan sy moet dink. Wat op aarde gaan met haar aan?

Vinnig kam sy haar vingers deur haar hare; haar borsel is in die rugsak. Sy sal maar weer haar fedora op haar kop druk. Sy haal ’n pakkie klam gesigdoekies wat sy altyd saamdra, uit haar sak en probeer die ergste maskarastrepe wegvee. Soos gewoonlik het sy nie veel grimering vanoggend aangesit nie, net maskara gebruik. Dit moes sy ook maar liewer gelos het.

Oor die interkom waarsku die loods hulle moet gereed maak vir die landing en sy skarrel vinnig uit die badkamer en af met die gang. Kobus staan op nog voor sy by hulle ry kom en staan eenkant toe sodat sy kan verbyskuur tot in haar sitplek.

Die man in die hoek haal uiteindelik die flappe van sy oë af en kyk verbaas rond. Kobus beduie vir hom hulle gaan land. Cara druk haar hare onder haar fedora in, maak haar gordel vas en vou haar hande styf inmekaar. Die landing duur net ’n paar minute, prewel sy oor en oor vir haarself.

“So, het jy al besluit wie is jou metgesel vir die troue?” vra Kobus en vou sy een hand weer oor haar hande.

Toe sy hand om hare vou, besef sy hoekom hy vroeër vandag met haar begin praat en haar hand vasgehou het – hy kon seker sien sy is op haar senuwees. Sonder om te veel daaroor te dink, draai sy haar hande sodat haar vingers in syne verstrengel – en sy voel dadelik rustiger.

“Nee, ek het nog nie weer daaraan gedink nie. Ek hoop eintlik nog om my ma te oortuig ek hoef nie regtig daar te wees nie.”

Hy kyk af na hulle hande. “Jy sal maklik iemand kry, ek is seker daarvan.”

“Ek is heeltemal happy om alleen te gaan as dit regtig moet, so ek wil nie nou al daaraan dink nie. Wat doen ’n prokureur op Hermanus?”

Hy glimlag en die skoenlappers op haar maag begin fladder. Ai, tog.

“Die gewone – alles van skeisake tot aktes.”

“Wat het jou laat besluit om ’n prokureur te word?”

“Dit was die kortste ry tydens registrasie in my eerste jaar op universiteit,” grinnik hy. “Daardie tyd moes ons nog in toue staan, aanlynregistrasie was net ’n toekomsmoontlikheid.”

“O, aarde, jy maak asof jy baie oud is.”

“Ek is baie ouer as jy.”

“Ek is nege en twintig. Dis my laaste jaar as twintigjarige.”

Hy trek sy mond. “Jy sal vir my moet oom sê, ek het lankal vergeet wat dit is om in my twintigs te wees.”

Sy kantel haar kop, bekyk sy gesig vir die eerste keer regtig. Om sy oë is fyn lyntjies, asook om sy mondhoeke.

“M’m, beteken dit jy is al vyftig?” vra sy tong in die kies.

Hy lig sy wenkbroue. “Nee. Ek is een en veertig.”

“Regtig?” vra sy verbaas voordat sy kan keer. Hy is lenig sonder ’n gram vet aan sy baie sexy lyf. Van haar skoolmaats het al boepies en hulle is jare jonger as Kobus. Sy het nie gedink hy is ouer as twee en dertig nie.

Voordat hy kan antwoord, begin die mense om hulle opstaan. Hy het dit al weer reggekry om haar aandag af te trek van die hele landingsproses. Sy wil dankie sê, maar hy is reeds in die gangetjie en besig om die bagasierak oop te maak. Hy gee haar rugsak aan, sy sit dit op haar rug en toe sy omdraai om weer met hom te praat, het drie ander mense tussen hulle ingeskuif.

Sy wuif oor almal se koppe heen vir hom, maar daar is nie tyd om by hom te probeer uitkom nie. Die ry voor haar begin beweeg en sy stap vinnig agterna.

Haar hand voel nog die warmte van syne.