Skrywers smee vriendskapsbande

Gedurende 2010 het ‘n  sterk band ontstaan tussen die skrywers wat deel vorm van die Lesersblog. In Junie het ‘n klomp van ons mekaar vir die eerste keer by die Indaba in Pretoria en die Bosveldkuier by Madelie Human en Ida Bester ontmoet. Van toe af het dit gewoonte geword dat skrywers probeer om mekaar op te soek wanneer iemand in iemand anders se deel van die land kom.
Die nuutste ontmoeting was in Desember op Mari Roberts-hulle se plaas in die lieflike Suid-Kaap tussen Mari en Marilé Cloete toe die Cloetes in die omgewing was. Twee vroue wat mekaar nog net eenkeer ontmoet het en mekaar se gesinne glad nie geken het nie, het binne ‘n uur of wat probeer om ‘n leeftyd se gesels in te haal!
Ons het werklik weer besef dat elke vreemdeling eintlik ‘n potensiële vriend is – ‘n mens moet net ‘n gemeenskaplike belangstelling/passie ontdek. En dis wat die blog vir ons gedoen het.

Proestukkie: Waar sy hoort – Marilé Cloete

“Ma, ons gaan nou aan boord.” Anneke klou die foontjie vas asof dit haar laaste skakel met die lewe is. Haar formidabele ma was nog altyd vir haar ‘n simbool van die lewe – die lekker én die minder lekker daarvan.
“Voorspoedige vlug, my kind.” Helena Bezuidenhout klink kalm en bekwaam, soos altyd. En natuurlik organiseer sy haar kinders ook nog net so graag soos altyd. Maar dis soos hulle haar ken en liefhet al loop dit maklik op ‘n botsing uit. “Ons kan nie wag nie,” kom haar warm stem gerusstellend oor die lyn na haar dogter.
Anneke gryp na Thomas, wat huppelend hulle nuwe lewe tegemoetgaan. “Bly by Mamma, moenie wegdwaal nie.” Met die foon in haar een hand en haar kind s’n in die ander, voel sy meteens geanker. Veiliger as wat sy in ‘n lang tyd gevoel het.
“Is Ma seker dit sal uitwerk as ons …?” begin sy, maar bedink haar dan. Sy’s ‘n selfstandige vrou, sy het dit reggekry om uit ‘n siek huwelik los te breek. Sy hoef nie by haar ma versekering te soek vir haar besluite nie.
Maar Helena se woorde uit die verre Boland is steeds kosbaar en oneindig gerusstellend: “Natuurlik is ons seker, my kind. Jy en Thomas kom huis toe, waar julle hoort. Jy kom rus eers lekker uit vir die vakansie. En na Nuwejaar begin jy rondkyk vir ‘n werk en blyplek.”

Lees verder by https://romanzalesers.wordpress.com/proe-stukkies/marile-cloete-waar-sy-hoort/

Geseënde Kersfees!

Aan al ons lesers – bekend en onbekend, skrywers, nie-skrywers, aspirant-skrywers – mag jy daarin slaag om die ware gees van Kersfees raak te vat en vas te hou te midde van al die gewoel, gekook en geëet! En dit aan te gee aan almal rondom jou.

Nuut van Marilé Cloete

Waar sy hoort verskyn in Januarie 2011:
Anneke Bezuidenhout kom met haar seuntjie terug huis toe. By Tom in Australië kon sy nie geluk vind nie. Haar hart het bly hunker na Afrika en na haar mense. In die Boland wag Bertus egter op haar, Bertus wie se hart sy destyds gebreek het.
Adriaan Rossouw besef hy het lank genoeg getreur oor Patricia. Maar Australië is nie die regte plek vir ‘n nuwe begin nie. Hy en Patti en Petunia sal hul heil op eie bodem moet uitwerk.
En tussen hulle twee op die vliegtuig bons klein Thomas van opwinding  oor die nuwe lewe wat wag in Afrika.