Skitteroggend saam met Romanzaskrywers in die Laeveld!

Pienk

Advertisements

Proe-stukkie: Man van Formaat

Marie-Louise Cronje

Marie-Louise Cronje

Kat moet lag toe sy Vrydagmiddag die kombuis binne stap en Rob met ‘n mes en ‘n bak aartappels by die tafel aantref.

“Wat op die aarde vang jy aan?”

Hy grinnik toe hy die vraende uitdrukking op haar gesig sien.

“My ander niggie het my in die werk gesteek. Volgens haar het ek nou lank genoeg lyf weggesteek en is dit tyd dat ek my verblyf hier begin verdien.”

“Vera het dit gesê?”

“Wel, miskien nie in soveel woorde nie, maar sy is heeltemal reg.”

Kat sit die inkopiesakke op die kas neer. Rob het laas week geld in haar rekening laat oorplaas en haar gevra om vir hom ‘n skootrekenaar en ‘n nuwe selfoon aan te skaf. Hy was baie spesifiek en die bedrag wat sy op die twee artikels spandeer het, laat haar nou nog wonder waar hy soveel geld kry om rond te gooi sonder om te blik of te bloos. Continue reading

Daar’s lente in die lug!!

Wil jy graag leer liefdesverhale skryf? Kyk bietjie hier:

SKRYWERS SKRYF

Good morning! Die warmer weer maak mens lus om die wintervaak af te skud en nuwe kreatiewe dinge aan te pak! Ons het sommer TWEE skryfkursusse vir almal wat graag liefdesverhale wil skryf:

1.  Die ATKV se jaarlikse 3-dag Lenteskool word weer vroeg in September aangebied en miskien is daar is nog plek vir jou. As jy hou van persoonlike kontak met ander skrywers en uitgewers, is die ATKV skryfskool net die ding vir jou.

Wil jy die kursus bywoon? Skakel dan dadelik vir Kobie van Aswegen by 018 299 1783, of by die volgende e-posadres:  Kobie.VanAswegen@nwu.ac.za.

2.  Indien jy egter te ver is van Potchefstroom af of nie die drie dae kan afkry om soontoe te gaan nie, kan jy altyd die informele e-poskursus in die skryf van romanses in die gerief van jou eie huis en op jou eie tyd doen! Dit word aangebied deur gesoute romanseskrywer, Madelie Human

View original post 14 more words

Sophia Kapp kappityt in September met 5 uitgawes!

Liewe lesers,

Sophia Kapp kan ongelooflik trots wees dat Septembermaand wraggies aan haar gaan behoort: daar word VIER van haar boeke heruitgegee plus nog ‘n splinternuwe enkeltitel, Driehoek.

ISBN 978-0-7993-6147-6

Sophia Kapp se splinternuwe enkeltitel!

Sophia Kapp se splinternuwe enkeltitel!

Tien jaar nadat sy Potch se vervelige stof van haar voete afgeskud het, is Tessa terug. Maar sy is stukkend en moet van voor af probeer sin maak uit die lewe. Hoekom moet dit juis die onvergewensgesinde professor in Teologie wees wat haar hart laat roer?

Vanmiddag praat Sophia by SASNEV in Pinelands, Kaapstad. Ek gaan daar wees om ‘n bietjie meer uit te vind – kyk uit vir meer inligting!

Dan is die voorloper van Driehoek ook in heruitgawe beskikbaar in September: kyk uit vir Die Verhuising.

Eerstejaar Danelle is op ’n dorp en ’n kampus waar sy nie wil wees nie. Boonop bly sy by haar ma, wat daagliks agteruitgaan. Haar liefdeslewe is ook nie na wense nie. Is dit net sy wat so swaar dra aan ’n kruis?

Heruitgawe van Sophia Kapp en voorloper tot Driehoek

Heruitgawe van Sophia Kapp en voorloper tot Driehoek

Verdere goeie nuus is dat Die Malansusters ook terugkeer in heruitgawes van ‘n Nuwe Lente  en Waar die hart is, heel gepas vir die lentemaand.

In ‘n Nuwe Lente:

In die afsondering van die Weskus wil JC Malan gesond word, haar vrede terugkry. Teen haar sin deel sy die huis op Uitsig met Josua du Toit, stel haar bloot, min wetende hoe groot sy leuen is…

Heruitgawe van Sophia Kapp

Heruitgawe van Sophia Kapp

En in Waar die hart is:

Idalette veg om haar erfporsie van Adriaan Malan te behou. Sy glo sy’s nie goed genoeg nie, nie soos Adri en JC nie. Veral nie vir Charl Nienaber nie, trustee van haar erflating, wat haar net verdra, verduur.

Heruitgawe van Sophia Kapp

Heruitgawe van Sophia Kapp

September is propvol liefde lekkerte, maak seker jy kry vir jou ‘n bietjie liefde. Ek gaan met Sophia gesels en terugvoer gee. Kyk uit as jy nuuskierig is…

Met liefde

Monique

Nuwe Romanza vir September: Man van Formaat

MAN VAN FORMAAT – Marie-Louise Cronjé

Marie-Louise Cronje

Marie-Louise Cronje

Die roekelose motorfietsryer wat op Elandsbaai in die hospitaal beland, is beslis nie Kat – ofte wel Katinka – se neef nie. Toe sy uitvind wie hy regtig is, en hoe bekend, het sy reeds haar hart op hom verloor…

Besoek LAPA se webtuiste vir ander heerlike Romanza titels: http://www.lapa.co.za/category/4/romanza. Hou ook hierdie blad dop vir nog opwindende Romanzas wat in September verskyn, asook ander enkeltitels in die romantiese genre.

Lekker lees!

Met liefde

Monique

Uitdaging!

Liewe lesers

 

Na aanleiding van gister se liefdesverklaring, het ek ‘n die volgende kommentaar gekry van ‘n man op Facebook:

Daniel Malan: Pragtig geskryf, Monique! Laat ek dan maar bieg: ek lees bitter min fiksie van enige aard en NOOIT liefdesverhale nie. Ek het in my (baie) jong jare een of ses romans gelees en dit toe maar daar gelaat. Ja, dis die voorspelbaarheid, die tekort aan “diepte” en die eendersheid van die stories wat my tot die dood toe verveel. Maar jy roep vir ‘n revolusie wat selfs ons manne insluit! Dalk is dit dan nou tyd dat jy aan my een besondere titel voorstel om te kyk of die genre in sy “nuwe” klere wel aan my hartsnare kan pluk… ek is bereid om dit ‘n goeie “go” te gee.”

As iemand dan so mooi vra om deel te wees van die Revolusie, dan moet ons seker sorg dat ons, ons bes doen om hom nie teleur te stel nie!

 

Nou vra ek voorstelle van titels uit die Romanzes wat ons aan hom kan voorstel. Asb. laat waai met jul idees. Hou in gedagte dat hy jonk van gees, intelligent en ‘n “sucker” vir die liefde is, maar steeds manlik.

 

Klink na ‘n heerlike uitdaging! Hou ook vandag die blad dop – ek plaas die eerste van ons nuwe September Romanzas.

 

Ek sien uit na jul reaksie!

 

Met liefde

Monique

 

My liefdesverklaring…

Liewe Romanzalesers

Dit is vir my ‘n wonderlike voorreg om hier by julle te kan aansluit. Ek self blog nou al lank graag dat die spoeg spat en ‘n groot liefde van my lê beslis by die romantiese genre: Romanzas sowel as die Liefdesroman. Nou, danksy Alta, Madelie, Linelle en LAPA wat my met hul baba vertrou, kan ek die twee groot liefdes van my lewe, Skryf en Romanse, kombineer. En dit nogal tussen ‘n lieflike klompie mense wat so lekker saam gesels.

Ek het ‘n bietjie gaan krap deur al die kommentaar en dit is vir my duidelik dat ons almal hier hierdie einste passie deel. En hoekom sou ons nou nie? Want wat hou ‘n mens dan warmer in die winter, as ‘n stomende Romanza? Of waarin verloor jy jouself meer as in die blaaie van ‘n lieflike liefdesroman? Ek het grootgeword met Ena Murray se verhale – sy is, myns insiens,  die pionier van die Afrikaanse Liefdesroman, die Moeder van die Romanses.

Intussen het hierdie romantiese genre haar taal-en-styl vere afgestof en ‘n nuwe nommertjie aangetrek en nou hang sy behoorlik uit! En gelukkig het ons wonderlike skrywers wat sorg dat die genre aanhou ontwikkel terwyl die sappige soetheid van die Murray-era behoue bly.

"Liefde laat jou Rice Krispies anders proe" - Tania Brink

“Liefde laat jou Rice Krispies anders proe” – Tania Brink

Tog, snaaks genoeg is nie almal so lief vir hierdie genre nie. Ek het ‘n boekklub wat ek bestuur, kuier gereeld op ‘n Facebook-leesgroep en het ook baie lesersvriende, dus kom ek gereeld in aanraking met ‘n verskeidenheid lesersforums en ‘n tendens wat ek (ongelukkig) tussen die lot bespeur, is dat daar ‘n hele paar is wat redelik neusoptrekkerig is wanneer dit by die liefdesgenre kom. Hul redes? Hulle soek “dieper” leesstof, iets om jou “te boei” en natuurlik wil hulle glad nie die einde vooraf kan uitpluis nie – dit moet kom as een groot verrassing, met ‘n goeie of tragiese einde…

Vir hulle wil ek sê: daar is nie ‘n genre wat ek so geniet soos die Liefde nie! En dis nie asof ek “nie van beter weet nie”. Ek self lees wyd, van speur- en spanningsromans, inspirerende romans, jeugverhale tot selfs toeganklike literêre tekste en niks kan by die opsitkers van die Liefdesgenre vashou nie. Die ontvlugting, die spanning van onvervulde liefde en ja, selfs die voorspelbare einde is wat my telkens lok: ek weet wat ek wil hê en, ou matta, ek gaan dit kry! Elke keer dat jy ‘n nuwe boek oopblaai kan jy met sekerheid weet dat jy met die duur van hierdie boek verlief gaan raak op ‘n aantreklike held, die rol van die heldin gaan speel en dan uiteindelik gelukkig in die arms van ‘n perfekte liefde gaan leef.

Ek voel of dit my persoonlike plig is om ieder en elk net so vurig lief te maak vir die Liefdesgenre. (Partymaal dink ek almal lees dit in elk geval skelmpies maar wil dit net nie erken nie, amper soos die daai ander Afrikaanse tydskrif…). Ek wil elke vrou – en man! – bewusmaak van die wonder van die Romanse.

En los die stigma! Dit is bewys dat hiper-intelligente, beroeps- en sakevroue Romantiese Fiksie lees. Dokters, Advokate, Spesialiste, Tuisteskeppers, Ma’s en dalk selfs die Koninging? (G’n mens kan Corgi’s hê en NIE Romantiese fiksie geniet nie…)

So, getroue Romanzaliefhebbers, miskien moet ons ‘n revolusie begin. Die Romantiese Revolusie. En miskien sal dit beter wees as die Russiese Revolusie, dalk selfs die Industrële Revolusie en veral beter as die Franse Revolusie want, hoewel jy dalk gaan kop verloor, sal hier ten minste geen koppe rol in die Romantiese Revolusie nie!

En miskien is Septembermaand, die maand vir ontluikende liefde wat bloei en bot, net die maand om hals-oor-kop verlief te raak op die liefde. Koop vir al jou vriendinne, jou ma, jou kollegas, jou tienerdogters en selfs jou skoonma die Romanzas wat in September verskyn: miskien het sy nodig om die liefde te ontdek. Koop vir haar die boek. Die koste is klein en die beloning is groot.

Kyk uit vir die nuwe boeke wat ek begin plaas wat volgende maand verskyn. Daar is ‘n hele lot nuwe liefdes asook ou liefdes wat herontdek word. En met titels soos Man van Formaat, Alles wat jy is, Die regte tyd en Dans van die Liefde is daar beslis iets om op verlief te raak hierdie lente…

Terwyl ons nou die laaste bietjie winter geniet, sorg dat jy vanaand gesellig verkeer met ‘n stomende koppie koffie en ‘n warm Romanza in jou hand. Ek weet ek gaan.

Met liefde

Monique

‘n Einde … en ‘n nuwe begin!

MoniqueDis met ‘n tikkie weemoed dat ek, Madelie Human en Linelle Venter van die Lesersblog afskeid neem.

Oor ‘n tydperk van drie en ‘n half jaar het 469 posts hier verskyn en is 1 819 keer kommentaar gelewer.

59 064 lesers het oor dié tydperk op die verskillende poste gekliek.

Dit gee ons ‘n jaarlikse totaal van rofweg 16 000 klieks en ‘n daaglikse gemiddelde van iets in die veertig.

Ons glo ons het hierdeur nie slegs ons eie en ons blogvriendinne se werk bevorder nie, maar die saak van die Afrikaanse boek as geheel.

Ons voel ons kon ‘n deeltjie bydra tot die wonderlike oplewing in Afrikaanse ontspanningslektuur en die verwydering van die stigma wat ongelukkig steeds aan liefdesverhale kleef.

Daarom is ons dankbaar dat hierdie blog nie ‘n stille dood gaan sterf nie, maar dat LAPA kans gesien het om dit oor te neem.

Netso bly is ons dat leser en aspirant-skrywer Monique Bisschoff beskikbaar is om die leisels namens LAPA oor te neem.

Monique is jonk, dinamies en entoesiasties en net wat Afrikaans nodig het. Soos die foto wys, is sy nie een wat vir kabouters skrik nie!

Sy was ook verlede jaar die wenner van Leon van Nierop se hoofkarakter wedstryd en het ‘n groot hand daarin gehad om onlangs die diefstal van Ilse Salzwedel, Chanette Paul en Leon van Nierop se e-boeke oop te vlek.

Dankie, Monique – en mag die blog onder jou sorg sommer hoog vlieg!

Heila vertel meer oor Karoo-droom!

Karoo-droomDie Karoo is ‘n besonderse plek en lê net hier anderkant die berg uitgestrek. Ongelukkig lyk dit asof ons regering die plek in blokkies opgedeel het en sterk oorweeg om dit uit te deel aan mense wat vir ‘n paar jaar gas deur hidrobreking wil ontgin. Omdat die proses die natuur onherstelbaar kan beskadig, begin mense oral opstaan en op verskillende maniere daarteen betoog. Karoo-droom speel teen hierdie agtergrond af. Jana, ‘n rooikop wat emosioneel saam met die studente plakkate in die straat swaai, raak dolverlief op ‘n aantreklike professor wat glo mens moet koelkop en met kennis veg. Maar wie kan nou koelkop bly in die Karoo?