Ridder JACO VENTER

“Dit kort iets.” Jaco skep ’n skeppie van die sous met ’n skoon teelepel uit die pot en proe versigtig daaraan. Dan kyk hy na haar. “Proe jy ook, toe?”

Asof sy ’n kind is, laat sy toe dat hy haar voer. “Dit, e, dit is lekker.”

Hy skud sy kop. “Te sout? Of dink jy ons moet nog ’n bietjie vars basiliekruid byvoeg?”

Alhoewel haar sintuie soos altyd oorsensitief is in sy teenwoordigheid, kan sy nou glad nie proe nie. Soet, sout, wat maak dit saak as die man van jou drome in ’n voorskoot voor jou staan en jou voer?

“Ek het ’n lekker rooiwyntjie gekry vir vanaand, dit is immers ’n viering. Kan ek vir jou skink?”

Sy knik en neem die groot bolglas vol purper wyn byna dankbaar by hom. “Jaco, daar is iets waaroor ek wonder en ek weet nie eintlik hoe om dit te benader nie.”

Hy kyk op van waar hy die pasta in die pot kokende water sit. “Dit klink gewigtig?”

Sy haal diep asem. “My bevordering na jou ouditspan toe… Is die besluit op meriete geneem, of…?”

Jaco lig ’n wenkbrou en sy blou oë glinster. “Bevordering na my span sal altyd op meriete geskied. Ek hoop nie jy het vermoed dit is ’n manier om jou hier te kry vanaand nie?”

Dit voel asof ’n berg van haar skouers af rol. “Goed, ek aanvaar dit so. En jammer dat ek jou integriteit bevraagteken het. Ek is vanaand hier omdat ek hier wil wees, by jou. Ek hoop dit is waarom jy my genooi het?”

Rustig, asof niks hom jaag nie, draai Jaco die gasplaat waarop die pastapot prut laer, maak die voorskoot om sy middel los en stap met gemaklike, maar berekende tree op haar af. “Ek hou van hoe jy in my huis lyk, ek hou van hoe jou stem hier binne klink, van die reuk van jou parfuum wat my agtervolg as jy hier is. En ek hoop dat jy nog vir baie lank hier gaan wees. Hier by my.”