Blommetaal – Mattie Pansegrouw

blommetaal_high-res

Maandagmiddag buite dokter Nel se kamers steek Natildi soos ’n moedswillige donkie vas. Het diepredikant nie werk om te doen nie? Sy het verlede nag van hom gedroom en sy skaam haar morsdood as sy hom vandag in die oë moet kyk.

“Middag. Ry asseblief saam. Ek moet ’n hondjie op ’n plaas gaan aflewer.”

’n Waarskuwingsirene gaan in haar af. Bly weg. Moenie nader gaan nie. “Hoekom wil jy hê ek moet saamry?”

“Om te keer dat die hondjie onder my voete beland terwyl ek bestuur. Ek kan ongelukkig nie al die hondjies hou nie en smokkel hulle een vir een uit sodat Reonie my nie kan keer nie.”

“Skaam jou.” Natildi buk by die oop deur in. “O, dis ’n pragtige diertjie.”

“Moenie hom wakker maak nie. Hy is woelig en jy wil nie ’n plas op jou pragtige wit romp hê nie.”

Sy kan nie aan ’n verskoning dink om te weier nie en klim onseker in. Sy betrap sy geamuseerde blik op haar toe hy by die verkeerslig stilhou. “Wat kielie jou?”

“Ek dink aan jou geskokte gesig toe jy gedink het ek gaan jou soen. Ek moes die uitdaging aanvaar het.”

Sy is seker die ruimte in die kajuit tussen hulle het gekrimp. Sy sukkel om asem te haal. ’n Halfuur later trek hy van die pad af en hou stil. Verlig klim sy uit. Sy trek die vars geur van die veld diep in.

“Natildi, haal asem. Jy het gehoor wat die dogtertjie gesê het: ’n Dominee mag nie meisies soen nie.” Hy lag en gee vir haar ’n houertjie sap aan.

“Dankie. Jy beter dit onthou. Dis pragtig hier, die ruwe kranse, dennebome en fynbos.”

“Lieflik, ja. Ek verkyk my aan soveel ongekunstelde skoonheid.”

Sy kyk op en betrap sy oë vol bewondering op haar. ’n Gloed van ekstase rimpel deur haar. Ag, hoekom moes haar pad met so ’n sondige verleiding kruis? Die predikant is hartbrekend manlik, maar buite haar bereik. Wat ’n groot verlies! Hulle staan stil langs mekaar en eet die toebroodjies wat hy saamgebring het. Maar binne-in haar borrel en kook dit. Ergerlik omdat sy nie meer in beheer is van haar gevoelens nie, druk sy die leë kartonhouertjie plat en gooi dit in die vullissakkie wat hy na haar toe uithou. Hy doen dieselfde en vryf die krummels van sy hande af.

Sy moet onthou, vir hom is sy slegs ’n vriendin by wie hy net homself kan wees en niks meer nie, berispe sy haarself. Dis moeilikheid soek om saam met hom rond te rits. “Mario, miskien moet ons ry voor die hondjie wakker word.”

“Nou kom ons ry.” Hy hou die motordeur oop. “Maandae is ek vry. Ek het gehoop jy sal saam met my ontspan en die dag geniet.”

Hy lyk afgehaal. Skuldig omdat hy so fyn ingestel is op haar gevoelens en haar ongemak kan aanvoel, klim sy in. “Mario,” probeer sy onbeholpe vergoed toe hy langs haar inklim. “Ek geniet dit. Jy weet tog ek is lief vir die natuur en hou nie van mure om my nie.”

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s