Vind mekaar – Dina Botha

vind-mekaar

“Ma, daar staan ’n klimraam langs die kerk. Kan ons daar gaan speel?”

Sy onthou D’Niel se woorde. Die kinders is veilig. “Nou goed, maar julle bly by mekaar en julle praat nie met vreemdelinge nie.”

Indien hulle iets daarop te sê gehad het, hoor sy dit nie. Hulle is reeds besig om na die klimraam te hardloop. Lizette volg die paadjie tot by die pastorie se voordeur.

Sy klop en wag geduldig.

“Goeiemiddag, kan ek help?”

Die vrou kan onmoontlik D’Niel se vrou wees, sy is te oud daarvoor. Ook nie sy ontvangspersoon nie, want dié sal nie met ’n voorskoot rondloop nie.

“Ek wil dominee Malan spreek, asseblief.”

Die vrou hou die deur uitnodigend oop en Lizette stap binne. Toe sien sy die twee dames in die gang raak. Hulle wag, nes sy daardie eerste dag, op die stoele teen die muur.

“Sit asseblief. Dominee is net besig met ’n konsultasie.”

“Dankie,” sê sy beleef en neem haar plek tussen die twee jong vroue in. Sy is dadelik bewus van hul opsommende blikke. Of is dit dalk krities? Sy besluit om haar eerder nie voor te stel nie. Sy glimlag net effens vir hulle en kyk voor haar uit. Toe sy nie langer so ’n passiewe houding kan handhaaf nie, kyk sy ongemerk na een van die vroue. Sy hou ’n wit koekblik met groen Kersbome vas. Lizette probeer ongesiens na die ander meisie kyk. Dié bring ook geskenke, lyk dit vir haar. Goudbruin koeksisters met Glad Wrap bedek lê en loer vir haar. Sy skuif haar blik terug en kyk maar na die toe deur.

“Is jy nuut op die dorp?” verbreek die meisie aan haar linkerkant die stilte.

Lizette kan kritiek verstaan, maar nie aggressie nie. Die meisie ken haar nie eens nie.

“Ja, ek is, hoekom vra jy?”

“Jy laat nie juis gras onder jou voete groei nie. Waarmee kom jy hom beïndruk? En waar is dit?”

Het Vind Mekaar ’n gestig waarvan sy nie weet nie, want die meisie het duidelik ’n klap van die windmeul weg. “Ek is jammer, maar ek verstaan nie. En die antwoord is nee, ek het niks saamgebring om enige iemand te beïndruk nie.”

“O, maar jy het darem gehoor dat hy nou amptelik drie jaar ’n wewenaar is?”

Lizette trek haar asem verras in. “Wewenaar?”

“Ja, sy vrou is vandag presies drie jaar gelede oorlede. Maar dit het jy seker geweet, want hoekom anders sal jy hier soos Charlotte sit en hoop jy beïndruk hom met koeksisters wat jy by die kafee gekoop het.”

“Dis nie gekoopte koeksisters nie. Ek en my ma het dit spesiaal vir Dominee gebak,” kap die meisie aan Lizette se regterkant dadelik terug. “En ja, Petru, soos wat jý verlede jaar se gemmerkoekies vir die basaar self gebak het, nè?”

Lizette weet nie watter skok sy eerste probeer verwerk nie: die predikant wat nie meer ’n pastoriemoeder het nie of die twee meisies wat mekaar reguit vertel wat hulle van mekaar se gebak dink. Sy wil regop kom, maar elke keer steek een van hulle haar amper met ’n vinger in die oog.

“Môre, dames,” sê D’Niel hard en duidelik.

Lizette het sowaar nie die deur hoor oopgaan nie. Sy kyk hulpsoekend na hom, maar daar is ook ’n tikkie paniek in sy oë toe hy die vroue sien.

“Dankie, tannie Kotze, vir die kuiertjie,” sê hy beleef en Lizette wonder of hy nie dalk lus het om die tante na buite te vergesel om van die vroue in sy voorportaal te ontsnap nie.

Die bejaarde dame druk haar handsak onder haar arm in en haar blik skroei oor hulle al drie. “Skaam julle julle nie? Om so skaamteloos vir ’n ongetroude man goed aan te dra. Dominee se vrou draai in haar graf om as sy julle nou kan sien.”

“Wag, Tante, alles is onder beheer. Stuur asseblief groete aan die oom en ek sien julle Sondag in die kerk.”

D’Niel lei die tante by hulle almal se voete verby tot by die deur waar hy lomp vir ’n tweede keer groet. Toe hy omdraai, is sy wange rooi en ongemak oor sy hele gesig geskryf. Hy kyk na die meisies se offers.

“Ek neem aan daardie eetgoed is vir die pastorie bedoel, Charlotte, Petru?”

Van die onlangse boosaardige uitdrukkings op die twee meisies se gesigte is daar niks te bespeur nie. Hulle stemmetjies is stroopsoet terwyl hulle gelyk verduidelik wat hulle gebring het.

“Dis werklik baie gaaf van julle om aan ons te dink. Stap gerus deur kombuis toe. Tannie Kotie sal julle wys waar om dit neer te sit. Ons is juis besig om vir die skuiling vir werkloses eetgoedjies bymekaar te maak.”

“Maar, Dominee, dis nie vir …”

“Ontspan, Petru, ek is seker hulle sal dit waardeer. Nogtans baie dankie vir julle moeite.”

D’Niel kyk na Lizette en sy lig vinnig haar hande op vir hom om te sien sy het nie ʼn geskenk gebring nie.

“I don’t bear any gifts. Ek is hier om iets van my huurhuis met jou te bespreek.”

“O ja, natuurlik. Stap voor, mevrou Lotz, ons kan sommer in my kantoor praat.”

Dit lyk of Charlotte ook protes wil aanteken, maar D’Niel maak die deur agter hulle toe. Hy stoot sy hand deur sy hare en rem aan sy das wat hom skynbaar nou wurg. Toe glimlag hy verleë. “Sit, asseblief, mevrou Lotz. Waarmee kan ek help?”

Lizette kan nie help om sy formele voorkoms te bewonder nie. Sy ligte snyerspak pas hom perfek. Sy hemp kan nie witter wees nie en sy grys strepiesdas is volmaak geknoop. Dis dus die ander sy van D’Niel Malan – die professionele en in-beheer man. Oukei, op daardie oomblik seker nie heeltemal so gemaklik en in beheer soos wat hy graag sou wou wees nie.

“Wat gaan met daardie twee meisies aan?” vra sy, hoewel sy reeds die antwoord weet. Dit sal ’n leuen wees as sy sê dat die nuus van sy wewenaarskap haar nie effens onkant gevang het nie. Maar hoekom sou hy noem dat hy ’n wewenaar is? Dis nie iets wat ’n mens soos ’n titel dra nie.

Maar hy kom iets laat glip het, hou haar agterkopstemmetjie aan om te redeneer.

Net soos wat jy hom kon vertel het dat jy geskei is. Maar jy het nie, want ’n mens blaker nie jou huwelikstatus teenoor enige iemand uit nie.

Sy fokus haar blik op D’Niel en wag vir sy antwoord.

“Dis sommer niks, net twee uiters ywerige susters in my gemeente. Is daar probleme by die huis?”

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s