Chanette Paul: Meetsnoer

Proloog

Maandagaand 31 Augustus

Dit gebeur in ’n oogwink. Die een oomblik probeer sy nog die kronkelings van die grondpad in die Jeep se ligbaan uitmaak en die volgende vlieg iets van regs na links voor haar in die pad verby.

Raine trap die rempedaal plat teen die vloer. Die Jeep sidder en dan skuif die bande nog ’n ent verder oor die sanderige bolaag voor dit tot stilstand kom. Die siddering … was dit net die slegte pad, of het sy iets getref? Skok slaan in sweet oor haar lyf uit. Sy skakel die verwarmer af en tru stadig. Hou na regs, na die middel van die pad toe. Was dit ʼn verskrikte paar oë wat sy in daardie breukdeel van ʼn sekonde tussen die yl misdwarrels gesien het? ’n Bokkie s’n? ’n Uil?

Sy hou weer stil. As sy iets getref het, behoort sy dit van hier af te kan sien. Niks voor haar in die pad nie. Raine draai die venster oop. Links van haar raas die reuseboomvarings in ʼn windvlaag, regs suis die denneplantasie. Sterre skuil agter wolke. Waar daar onlangs nog ʼn driekwartmaan was, is daar nou nie ʼn enkele maanligstraal wat deurskif nie. Net die kopligte sprei welkome lig voor haar uit en selfs dit word getemper deur sliertjies mis.

Sy draai die stuurwiel na links en laat die Jeep ʼn tree of wat vorentoe knars. Wapperende varingblare tussen dik boomlywe. Sy stuur die Jeep na regs. Die lig verdwyn tussen die regop stamme van die denneplantasie agter ’n doringdraadheining. Weer na links.

Skuins agter haar ritsel iets groterigs tussen die denne. Sy ruk haar kop in die rigting, maar dis te donker om enigiets te sien.

Sy maak haar bestuurvoos oë toe en probeer die toneel weer oproep, probeer ʼn bokkie in vlug visualiseer, maar kry dit nie reg nie. ʼn Uil? ’n Kind, dalk? O, jimmel, nee.

Raine skakel die kajuitliggie aan, maar dit bly donker. Dêmmit! Sy het vergeet dit werk nie meer sedert die kettingbotsing waarin sy vanoggend betrokke was nie. Sy voel-voel onder haar sitplek totdat sy die langsteelflits raak vat en klim huiwerig uit.

Die wisselvallige bries verkil die sweet op haar voorkop. Sy ril. Met een voet op die deuropening se rand, hou sy die flits bo haar kop en laat die lig aan die ander kant van die motor speel. “Hallo-ou? Iemand daar?” Net ʼn uil antwoord, die res van die bos word stil. Nog ʼn windvlaag ruk deur ragfyn varingreuse wat weerstandig fladder.

Die woud lyk heeltemal te onheilspellend na haar smaak, maar sê nou dit wás ʼn kind? Selfs al was dit ʼn uil of ʼn bokkie, kan dit êrens beseer lê en miskien sal sy kan help. Sy los die enjin aan, laat die deur oopstaan en stap voor die kopligte verby. Haar eie skadu lyk lank en verwronge toe sy in die pad af kyk. Sy stap ʼn entjie langs die soom van die bos, stuur die skraal ligstraal tussen die lower in, maar dit steek vas teen skakerings van groen, haak hier en daar aan ʼn yl misspiraaltjie.

“Hallo?” Dié keer antwoord die uil nie. Sy draai om. Die uitlaatpyp maak sy eie mistige wolk en laat dit lyk asof die Jeep in die lug hang.

Sy probeer skat waar sy die siddering gevoel het, loop tot daar en gaan staan. Die smal ligstraal wip steeds vrugteloos tussen die ruie plantegroei rond. Iets ritsel ʼn entjie anderkant ʼn boomvaring wat bo haar uittroon.

“Anybody there?” Sy beur deur die laer plantegroei en laat speel die lig rondom en agter die ruwe stam.

“Halló!” Dié keer klink sy amper ergerlik, maar wat sy voel, is ongemak. Met haar oë op die plek waar sy die geritsel gehoor het, waag sy dit nog ʼn paar tree nader en dan verdwyn die grond onder haar voete. Sy gil, probeer haar val stuit, verloor haar greep op die flits.

Met ʼn hik gly sy teen iets solieds vas. ’n Boom. Sy hys haar orent en gaan staan met haar rug teen die stam, probeer haar oriënteer. Probeer haar asemhaling in bedwang kry. Dis so verdomp donker.

ʼn Ent teen die skuinste af sien sy die dowwe kol wat haar flits maak. Dit kan net mooitjies daar bly lê. Sy vee die hare wat uit haar poniestert losgekom het uit haar oë en kyk op na waar die Wrangler sy ligbane teen die groen tonnel gooi. Die stuk van hier tot daar is vrek donker en steil, maar sy het nie ver geval nie. Sy vryf haar boud waar ʼn blou kol seker reeds aan die blom is.

Hande-viervoet en voel-voel klim sy teen die wal op, gly ’n paar maal, maar bereik tog die rand. Sy kyk behoedsaam rond voor sy opstaan. Om haar haal die bos diep asem; betrag haar met onsigbare oë. Vrees druk haar longe vas, steel haar suurstof.

Met ʼn spoed wat sy nie geweet het sy in haar het nie, bereik sy die steeds luierende Wrangler, spring in, slaan die deur langs haar toe en sluit dit. ʼn Oomblik bly sy so sit. Sy vee haar hande aan haar jeans af. Haar palms brand effens.

Polisie. Sy sal die polisie moet bel. En hier sit en wag tot hulle eendag opdaag? Haar oë flits heen en weer terwyl haar vingers in haar handsak rondgrawe. Die leesbril se huisie kry sy relatief gou, die selfoon neem langer. Uiteindelik klap sy dit oop en sit haar bril op.

Geen sein nie. Sy is in ’n effense laagte. As sy op ʼn bult kan kom, behoort sy ’n sein te kry. Sy sit die Jeep in eerste rat, huiwer dan. As sy iemand raak gery het, mag sy nie wegry nie. Stap tot sy ’n sein kry? Alleen? In die donker? Hier tussen die bosse?

Nie tensy iemand haar met ’n AK47 dwing nie.

Buitendien, dit kon nie ’n kind gewees het nie. Van waar af sal hy in hierdie godverlate omgewing kom? Dié tyd van die aand? Volgens die horlosie op die instrumentpaneel is dit al amper halftien. Haar oë flits ’n laaste keer na weerskante van die pad, maar wat sy ook al raak gery het, roer nie. Angs en ’n onheilige voorgevoel trek tou teen haar pligsbesef en wen. Sy trek stadig weg.

Noëlene lê doodstil. Ver teen die wal af maak die vrou se flits ʼn flou ligblerts teen die groen van die plantegroei. Hier bo is dit ruig, maar is dit ruig genoeg? Sy hoor hoe die gesnor van die motorenjin stiller en stiller raak. Dis beter so. Die donker is haar enigste bondgenoot.

Sy het so amper geantwoord. So amper om hulp geroep. Maar sy kon nie nog iemand in gevaar stel nie. Dis erg genoeg dat tannie Mart-hulle in die moeilikheid sal kom.

Haar heup en been pyn dofweg waar die motor haar getref het, al was dit baie skrams. Haar elmboog brand van die glyval teen die wal af. Sy voel hoe ʼn druppeltjie teen haar wang afloop.

Moet bloed wees, want sy huil nie. Sy is verby trane. Verby soveel dinge. Net die wete dat sy om haar lewe veg in hierdie kat-en-muis-spel, is belangrik. Dis al waarop sy kan en moet konsentreer. Sy bly doodstil lê en luister of sy iets kan hoor. As die bos net nie so geraas het nie. Vannag is dit nie ʼn fluisterbos nie, dis ʼn koggelbos.

Hoe lank sy so dood-doodstil gelê het, weet sy nie, maar toe die flits se ligkol skielik begin bokspring en sy die sagte lag hoor, weet sy wie die spel verloor het.

12 thoughts on “Chanette Paul: Meetsnoer

  1. Annatjie says:

    Wow, die een mis ek ook vir niks nie, my versameling word net al hoe groter, jy skryf regtig ongelooflike boeke en ek en my man baklei oor wie eerste lees, lekker skryf, ek kan nou nie wag vir my boek nie, groete!

  2. Rika Du Plessis says:

    Meetsnoer belowe vir my beslis lekker leesstof wat my aandag gaan behou as die verloop van die verhaal ook so spannend gaan bly. Ek vrek oor leesstof wat jou meevoer met die angspaadjie wat die persoon self in die verhaal loop.

  3. anngert says:

    Dié proloog maak dit ‘n moet-verder- lees-boek. Dit klink heel geheimsinnig en vol spanning. ’n Maanlose nag en donker bos laat die rillings teen my rug afgly.

  4. Chanette Paul says:

    @Bets Geniet die fees en daardie welverdiende skoolvakansie! Versigtig net vir te diep in die bos.😉
    @Tinus Jammer jong, maar soos ek op Facebook gesê het vir mense wat daar ook gekla het, all’s fair in love, war and bookselling.

    • Bets Smith says:

      ‘n Stalletjie by InniBos is nie ‘n piekniek nie. Mens kom nie eens verder as die eerste boom nie, dan val jy vas. Ek sal beslis nie kom tot waar dit so gevaarlik is soos in jou Meetsnoer nie!

  5. Bets Smith says:

    O my goeie genade, en ek is juis so bang vir godsdienstige ekstremiste van enige aard! As dit nou wel die agtergrond is waarteen die storie afspeel, bygesê. Chanette, dis een wat ek sowaar nie mis nie. Gelukkig is dit oor vier dae InniBos (wat nou vir my nuwe betekenis kry?) en daarna is dit lekker skoolvakansie. ♪

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s