Chanette Paul se nuutste: uittreksel uit Raaiselspieël

Raaiselspieël Proloog

 

Vooraf

 

“Verdomme!” Nils kyk misnoeg na die fynpuntkwassie. Nie dat dit dié se skuld is dat daar nou ‘n vermiljoenblerts op die doek sit waar daar ‘n fyn lyntjie moes wees nie. Dis sy hand wat aan die bewe geraak het.

Gegrief smyt hy die kwas neer en wikkel die palet van sy knoetserige duim af los. Vee sy hande aan die verfbesmeerde handdoekie af. Hy hoes diep en slymerig voor hy die voorlaaste sigaret uit die pakkie haal en met sy Zippo aansteek. Hy trek die rook diep in, hoes weer en staar na sy wys- en middelvinger waarin die sigaret vasgeknyp sit asof hy daarmee gebore is. Of sedertdien daaraan vasgegroei het. Die twee vingers het ook al verknokkel en lyk selfs meer grotesk as die ander. Mosterdgeel van die nikotien, die geriffelde naels bruin gerook.

Hy druk die sigaret dood in die oorvol asbak. ‘n Skeutjie Oue Klara sal dalk help. Hy laat sak die toonbankie van die jonkmanskas wat in ‘n drankkabinet omskep is, kry die erdebottel beet en ruk die prop af. Die jenewer mors op die spieëlblad toe hy daarvan in die glasie skink.

Ergerlik stamp hy die prop terug en plak die bottel langs die konjak neer. In die spieëlwand agter sy versameling likeurs sien hy brokstukke van homself.

Hy druk sy vingers deur die digte boskaas van sy hare, kam dit na agter. Silwer nou waar daar eers goud was, nes die bewerasie in sy hande waar daar eers sekuurheid was. Diep geëtste rimpels pleks van die gladde vel jare terug. Selfs die kuiltjie in sy ken lyk nou soos ‘n plooi waarin vuil opgaar. Weerbarstige grys wenkbroue staan ruig weerskante van die diep gleuf in sy voorkop. Agter brilglase, fletsblou oë wat deesdae lyk asof daar fyn rooi haarwortels uitgroei en die wit van sy oë toerank.

Met ‘n knak van sy pols sluk hy die jenewer af. Miskien is dit maar goed Mirella is nie meer daar om te sien hoe hy nou lyk nie. Selfs vir Stella kan hy nie meer verlei nie. Nie dat hy regtig wil nie, maar selfs ‘n ou man het sy behoeftes en hy en Stella kom ‘n lang pad saam.

Sy hand is op pad om die glasie neer te sit toe hy tussen die bottels deur die beweging agter hom sien.

Iets ruk deur sy lyf en die volgende oomblik ontplof sy ore. Vermiljoen spat teen die bottels aan, verf die versplinterende spieël daaragter toe. Sy rumatiekknieë gee stadig bes. Hy gryp na die blad. Dit hou hom ‘n oomblik lank regop voor die kettinkie meegee onder sy gewig. Nie verf nie, besef hy terwyl hy val. Bloed. Sy bloed.

Mirella …

 

Die pyn wat deur Frieda skiet, is verlammend. Die tuinvurkie vlieg uit haar hand. Sy snak na haar asem, gryp na haar hart asof sy die pyn kan vasvang. Haar bene gee mee en sy sak lomp op die gietysterstoel neer. Die glas bessiesap spat van die tuintafel af. Deur ‘n rooi waas sien sy die kristal versplinter, maar hoor nie die breekklanke nie.

“Mevrou?” Dis wat die tuinman se lippe sê, maar sy hoor nie die woord nie.

Die donkerte wat oor haar sak, is ‘n diep rooi kleur.

Toe sy bykom, lê sy op haar rug op die grasperk. Die kikoejoe prik deur die dun lap van haar hemp en teen haar kaal arms asof sy op ‘n stekelbed lê.

“O, jirretjie. O jirretjie, jirretjie,” kerm Amos.

“Hou jou bek, my magtag! Die Jirre se naam so ydelik staan en gebruik en dit hier waar ons dalk aanstons met ‘n sterfte op hande sit!” Edie se stem is skril van paniek. “Gaan foun die amblans! Mevrou?” Edie kniel by haar. “Ai, Mevroutjie, tog. Ag, dank die liewe Jirre. Sy’s by, Amos.”

Frieda skud haar kop. “Los die ambulans. Ek is oukei.” Haar stem kom skor.

“Maar hoe kan Mevrou dan nou oukei wees?”

“Net water. Asseblief.” Die dors is versengend.

“Ai, Mevrou is dan yskoud. En dit hier op ‘n dag wanneer mens die kraaie se kleintongetjies kan sien.” Edie vryf Frieda se hand. “Sie jy die water gaan haal, Amos!” skel sy oor haar skouer en vryf die ander hand ook. “Maar wat het dan gebeure, Mevrou?”

“My pa is dood.” Sy het dit nie besef totdat sy dit gesê het nie.

“Meneer Nils? Maar hoe weet Mevrou? Die selfoon lê dan in die sitkamer.”

“Hy is geskiet.”

“Maar wie …? Hoe?” Edie se oë rek. Sy sit terug van Frieda af, laat val haar hand. “Mevrou?”

Frieda probeer regop kom, maar die duiseligheid oorval haar weer. “Dit het nou net gebeur. Ag hemel, Edie, ek wou nog probeer vrede maak ná …” Hulle laaste uitval was nog meer verwoestend as vantevore.

“Mevrou? Is Mevrou altemit met die helmet gebore?”

Frieda maak haar oë toe teen die verblindende hoofpyn.Raaiselspieël

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s