Boeiende proe-stukkie uit Frenette van Wyk: Twee maal so lief

Onwillekeurig bespied sy die omgewing vir ’n bekende gesig. Toe bekyk sy die grasdak hier voor haar met gespanne nuuskierigheid.

Sy groot vensters weerkaats net son en veld. Daarbinne lyk alles donker en stil.

Kruip die mense hier dan deesdae weg vir die hitte? Of is die gedagte aan ’n weersiens met haar vir die Welthagens iets wat hulle tog nog wil uitstel solank hulle kan?

Selfs die houtdeur waarop ‘Ontvangs’ staan, lyk opeens onvriendelik toegestoot.

’n Angstigheid roer liggies in haar toe sy die nuwe, vreemde sementpaadjie betree. Maar sy durf die ent daarheen met selfversekerde treë en regop skouers aan.

Haar vingers klop met dieselfde onreëlmatige ritme van haar hart aan die deur voordat haar handpalms klam om die koperhandvatsel gly.

Die oomblik waarop sy haar so lank voorberei het, het aangebreek. Binne oomblikke gaan sy weer vir Roos sien …

Die deur bly dig toe. Met effens swaarder hartslae trap sy ’n treetjie terug en loer dan versigtig deur die venster. Dit staar stom en geheimsinnig na haar terug en sy draai onseker om.

Sefanja is nog besig om haar bagasie uit die Landrover te laai en beduie dat sy om die hoek moet gaan.

Sy stap weer flink met die sementpaadjie aan, om die hoek tot by die naaste deur. Dit staan gelukkig oop. Haar hart bons al meer ontembaar terwyl sy haar blik versigtig deur die donker koelte van die vertrek stuur.

Die volgende oomblik ontplof haar binneste in ’n chaos van emosies. Dis Roos hier voor haar, in ’n rolstoel.

Haar hand vlieg onwillekeurig na haar mond en smoor ’n uitroep. Skok en ontsteltenis golf deur haar wese terwyl sy verskrik toekyk hoe hy uit die rolstoel probeer orentbeur.

Skakerings blonde kuif hang in verstrooide halms oor sy voorkop. Sy lippe pers vergeefs op mekaar en sy hele gesig verraai ’n moedelose stryd. Want sy voete roer nie. En sy bene wil hom nie dra nie. Sy bolyf beur met gekreun orent en die are in sy arms en hande bult tot barstens toe. Maar dis net die krag in sy arms wat hom halfpad lig, voor hy weer in die rolstoel terugval.

Toe hy onverwags opkyk, staar sy vas in die onvergeetlike leeubruin oë waarvan sy vir baie nagte gedroom het. Maar nou brand ’n onbekende vuur in sy blik.

“Hallo, Roos.” Haar stem kraak onnatuurlik. “Mag ek binnekom?” Maar haar bene bewe nog te veel om ’n tree vorentoe te waag.

Hy antwoord nie, vee net die sweet met die rugkant van sy hand van sy voorkop af en kyk nie langer vir haar nie.

Bedagsaam bedwing sy haar emosies en trap versigtig oor die drumpel. Stadig stap sy die kantoor binne. Ten spyte van die rolstoel drink haar oë die meesleurende lyne van sy gesig dorstig in: die hoekige kaaklyn, die skoon, sterk kontoere van sy ingekeepte wange en prominente wangbene, determinasie en intelligensie in suiwer lyne uitgebeitel oor sy voorkop. Sy aantrekkingskrag het vir haar nog altyd in die onwrikbaarheid van sy voorkoms en sy karakter gelê.

Maar die fierheid en trots in sy houding wat haar eerste na hom aangetrek het, ontbreek op hierdie oomblik geheel en al. Hy lyk … broos.

So broos en stukkend soos sy was. Hoeveel maande het sy nie gehuil, getreur, hom gehaat vir sy liefdesverraad nie!

Maar maande se verwyte en al haar goeie voornemens om haar teen hom te verhard smelt in hierdie een oomblik weg.

Wat het veroorsaak dat hy so swaarkry?

Sy wil hom nie dadelik daarmee konfronteer nie. Sy wil hom tyd gee om eers weer  homself te vind en wag totdat sy skouers weer orentskiet en hy haar vol in die gesig kyk.

Sy soek weer die sagtheid in sy oë wat sy voorheen geken het, maar dit is ook spoorloos weg. Net die desperate, byna verwilderde hulproep skyn steeds uit sy blik.

“Verwag jy my dan nie?” vra sy onbeholpe.

“Ek kan ongelukkig nie opstaan om jou behoorlik welkom te heet nie.”

Dis wonderlik én aaklig om sy diep stem weer te hoor. Dit vibreer met troebel nuanses in haar ore, nes sy oë en die res van hom, so bekend en tog so vreemd vir haar.

“Dis nie … nodig nie,” probeer sy hom, miskien meer haarself, gerusstel.

“Natuurlik nie. Niemand het ’n invalide nodig nie. Jy beslis ook nie.”

Sy skud haar kop.

Sy was gereed om hom te wys sy het hom nie meer nodig nie. Sy was gereed om haarself te handhaaf teen ’n sterk, selfversekerde, onwrikbare, verraderlike man wanneer sy terugkom. Dis egter ’n totaal ander, stukkende Roos wat hier voor haar sit.

“Ek is jammer …” mompel sy.

“Jammer?” grinnik hy. “Het jy regtig teruggekom net om jammer te kom sê? Of om jou in my ellende te kom verlustig!”

Sy wil haar verdedig teen sy verbitterde uitbarsting, maar sy wysvinger mik dreigend na haar toe.

Kan sy nie maar om die lessenaar storm en die pyn in sy oë met troossoene stil nie? Haar vingers deur sy deurmekaar goue hare kam en sy bitter mond met haar lippe sagmaak nie?

Hierdie buitensporige houding van hom teenoor haar verwar haar nog meer.

“Hallo, Beaudine!”

Sy swaai om, verlig dat iemand opgedaag het om haar te kom bevry uit ’n nagmerrie waarin sy onverhoeds verstrengel geraak het.

“Sukkel hy al klaar met jou?” Dis Jefferson, Roos se jonger broer, wat ingestap het en met ’n ontevrede blik na sy broer beduie. Maar toe hy weer vir haar kyk, glimlag hy waarderend. “Nog net so mooi soos altyd. Dis so goed om jou weer …”

“En net so naïef ook,” werp Roos tussenin toe sy onverwags bloos. Sy mondhoeke trek misnoeg afwaarts en sy oë priem onsag in hare toe sy weer vir hom kyk.

“Hallo, Jeff,” groet sy verleë, maar hy gluur reeds weer sy broer kwaai aan.

“Roosevelt, wil jy nie maar net vir vandag probeer om nié die atmosfeer te verongeluk nie?” Jeff wag nie vir ’n antwoord van sy broer nie. Hy vat Beaudine se hand en sleep haar behoorlik agter hom aan in die rigting van die deur.

Sy volg hom met ’n hart wat wild en teësinnig klop.Twee maal so lief

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s