Ons vier Valentynsdag by Waverley-biblioteek – Zhan-Mishal Viviers

28081089_1708152449252593_2029126709_o

Wat kan nou lekkerder wees as om die dag van liefde in die geselskap van goeie vriendinne, suksesvolle skrywers en lekker boeke deur te bring? Ons het tee gedrink, aan ’n snytjie koek gesmul en vrolik met Dina Botha en Frenette van Wyk gesels oor die liefde en inspirasie agter hulle verhale.

Dina het al 54 Romanzas, 2 SuperRomanzas en 4 Kaapse romanses op haar kerfstok en daar lê nog baie jare se lekkerlees voor, want Dina  kry nie sommer skrywersblok nie. Sy is mal oor Kaapse romanse, want sy het talle Kaapse verhale saam met haar ouma as jong dogter gelees. Dina lag lekker toe sy aan die gehoor vertel dat haar vertolking van die tydperk en wêrelde in haar Kaapse romanse nie altyd getrou aan die werklikheid is nie, maar met genoegsame verbeelding oortuig sy haar leser.

 

Dina het die gehoor meegedeel dat sy ‘mense bestudeer’ as een van haar stokperdjies tel. Sy leef haar uit in ander mense se lewensverhale en gebruik dit ook as inspirasie wanneer sy skryf. “Maar as mense hoor ek is ’n skrywer begin hulle soms spontaan vertel,” sê sy.

Sy begin graag haar verhale met ’n heldin in gedagte, daarna skep sy ’n held so volmaak dat sy elke keer van voor af verlief raak.

Frenette van Wyk sit prentjiemooi langs Dina en luister na die gespreksleier Marlies Haupt, terwyl dié met  Dina gesels. Frenette is baie lief vir reis en gebruik dit graag as inspirasie wanneer sy die legkaart van haar stories aanmekaar sit. Die atmosfeer van die storie, die karakters se eienskappe en veral name is iets wat Frenette goed deurdink voor sy stories begin skryf. Anders as Dina wat aan meer as een manuskrip op ‘n slag werk, skryf sy graag een volledige storie klaar en dan vat sy gewoonlik ’n kort breuk voor sy haar idees vir ‘n volgende storie neerpen.

 

Mooi skoene en ’n handsak! Ons skrywers is mooi, jonk, intelligent en stylvol!

Beide Frenette en Dina deel met die gehoor dat alhoewel skryf ‘n voltydse werk is hulle, dit nie sommer op sy kan wegsit nie. Beide se skootrekenaars gaan selfs saam op vakansie. Soms net om navorsings bymekaar te maak vir stories, maar hulle weet die skryfgogga kan mens enige oomblik beetkry en dan moet jy  kan werk.

Frenette het gebieg dat die tegnologiese ontwikkelings haar skryf proses baie aanhits. Wanneer sy nie by haar rekenaar is nie kan sy maklik notas maak op haar selfoon en selfs paragrawe van haar manuskrip deur die dag klaar skryf terwyl sy ’n blaaskans het in haar normale dag-tot-dag-roetine.

Dina en Frenette het saam met die gehoor gekoer oor hulle gunstelinghelde en hulle kon eerlik nie net een held uitsonder nie. Dina eggo Frenette se woorde: “Elke held wat ek skep besit die waardes en karaktertrekke waarna ekself smag in ’n pasmaat.”

Vir die doodskleed se sakke – Didi Potgieter

Om haar pinkie

Die hakke van haar swart stiletto’s gly oor die gruisklippies en sy kan net hoop sy breek nie haar enkels of haar nek voor sy by die voordeur kom en dalk regtig die hiernamaals tegemoetval nie. Op die stoep is dit darem meer gelyk en effens koeler.

Sy vee ’n sweetdruppel onder haar kuif weg voor sy die klok wat langs die ou houtdeur hang, lui. Sy wil dit net weer ’n keer lui, toe sy voetstappe aan die ander kant van die toe deur hoor. Die vrou wat die deur oopmaak, is lank en skraal. ’n Lang, dik grysblonde vlegsel hang oor haar skouer. Haar oë lyk bekend en Francisca wonder hoekom dit voel of sy hierdie vrou al voorheen ontmoet het en hoekom haar hart skielik so vinnig klop.

Sy skud die gevoel af en steek haar hand uit. “Mevrou Bosman? Francisca Jacobs, aangename kennis.”

“Uiteindelik! Ek was bang jy het dalk verdwaal.”

Die hande wat om Francisca s’n vou, is groot en grof.

“Fienie Bosman, Welkom op Laaste Rus.” Die vrou staan eenkant toe. “Kom in. Asseblief. Kom sit solank hier in die sitkamer, dis darem koeler hier. Ek gaan skink vir ons elkeen ’n koeldrankie in. Jy is seker vrek van die dors.”

Francisca knik en tannie Fienie draai weg en los haar alleen in die vertrek wat, afgesien van die lugreëling, lyk of dit in die tagtigs vasgehaak het. Sy gaan sit op een van die banke en geniet die koel lug wat op haar blaas. Vir die eerste keer haal sy makliker asem. ’n Hospitaalreuk hang in die lug en dit het haar benoud gemaak. Dit en die wete dat daar iewers in die huis iemand besig is om dood te gaan.

Francisca byt haar lip en trek haar skouers op. Sy sal moet ontspan, dit is nou te laat vir omdraai.

 

Hy het die kar sien stilhou en die vrou sien uitklim. Hy het sy hart ’n paar minute gegun om tot bedaring te kom, sy lyf om haar te onthou. En toe stap hy die veld in. As hy kon aanhou stap, sou hy sommer tot in die Kaap gestap en eers teruggekom het as die hele gedoente afgehandel is. Hy het die afgelope paar dae ’n duisend keer gedink aan vlug, maar met tannie Lenie wat so swak is, kon hy nie sy ma alleen los nie.

’n Vloekwoord gly oor Markus se lippe. Die hemel weet, hy het so gehoop hy kon haar van plan laat verander – veral toe hy besef die ontwerper wat hulle wil laat kom, is dié Francisca Jacobs. Maar Fienie Bosman was soos ’n steeks donkie. Sy het net bly sê tannie Lenie betaal en sy gaan die vrou soek.

Nou is daar in elk geval nie meer tyd vir wegvlug nie. Die meisiekind is hier. Hoëhakskoene en die works en hy dink dit is eintlik simpel van sy hart om bly te wees daaroor. Sy kop weet mos sy is moeilikheid.

Liefde vir R29,99? Ja. Koop Om haar pinkie hier:  https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/om-haar-pinkie-vir-die-doodskleed-se-sakke-romanzaliefde/epub

Nog ’n misterie – Elsa Winckler

Elsa Winckler se nuwe reeks sluit in Op die sypaadjie en Blameer die skoenlapper. Vanwaar kom die inspirasie? En sal Jody, hul peetma, liefde vind? Elsa sal gesels …

Die prentjie van Jody, die kort, ouer vrou met ’n groot, blou bril, baie armbande en ’n klompie peetkinders is diep in die nag gebore. Ek het die eerste storie, Op die sypaadjie begin sonder om regtig te weet hoeveel ander peetkinders daar gaan wees, maar toe is Katryn ook daar. Die brande in Knysna het my so ontstel, ek moes dit net ook in die storie bring. Tydens die skryf van Blameer die skoenlapper, het die ander peetkinders meer gestalte gekry. Presies hoe hierdie stories gaan afspeel, is nog ’n misterie, maar my onderbewussyn is hopelik al daarmee besig. En ja, ek hoop Jodi vind liefde. Dalk haar jeugliefde, ’n mens weet nooit!

Koop Blameer die skoenlapper hier: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/blameer-die-skoenlapper/sagteband

Koop Op die sypaadjie hier: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/op-die-sypaadjie/sagteband

Liefde in letters – Rika du Plessis

Liefde in letters voorblad_high res

“Haai, Jennifer, wie se honde is dit?” vra Elsa agter hulle, en Jennifer skok tot stilstand net voor sy haar arms wou lig om om Waldo se nek te vou. Waldo se hande val ook van haar skouers af, en hulle draai om na Elsa toe.

Jennifer maak keelskoon, en tog klink haar stem maar nog dun toe sy antwoord.

“Hulle is van vandag af myne, Elsa. Is hulle nie pragtig nie? Hulle name is Buks en Bakkies. Bakkies is die een wie se gesig meer boerboelplooitjies as die ander een het, en hy is ook ’n bietjie donkerder as Buks. Kom leer hulle ken, en stuur later ook vir Ben om hulle te kom groet. Hulle moet weet hulle is nie heeltemal alleen wanneer ek by die werk is nie,” babbel sy aaneen, en is eintlik uitasem toe sy stilbly.

“Ag, hulle sal vir ou Elsa soos kinders wees, Jennifer. Jy sal jou nooit oor hulle hoef te bekommer nie,” praat Ben toe hy by die hek inkom. Dis of die boerboele hulle al ’n leeftyd ken soos hulle met swaaiende sterte met Ben en Elsa kennis maak.

“Ons gaan hulle nou so ’n bietjie by julle los, want Jennifer het vir my koffie belowe. Leer hulle goed ken, hulle gaan ook deel van julle lewe wees. Eendag wanneer hulle goed hier aangepas het, kan julle hul selfs by die hek laat uitgaan om daar by julle by die rivier te gaan kuier,” sê Waldo, neem Jennifer sag aan die arm en du haar in die rigting van die trappe. Agter hulle klink die opgewonde stemme van Elsa en Ben saam met die kort blaffies van die honde.

In die kombuis raak Jennifer dadelik besig met die ketel en koppies sonder om na Waldo te kyk. Tog kan sy aanvoel hy beweeg nader na haar toe, en toe sy hande van agter sag op haar skouers kom lê, trek sy haar asem stadig in en staan bewegingloos. Sy vingers vleg vlindersag deur haar hare, sak weer af na haar kaal skouers waar net die dun bandjies van haar somersbloes tussen hulle velle is. Strelend vou sy een hand haar hare uit haar nek, en toe sy lippe voel-voel teen haar nek afbeweeg na haar skouer toe, snak Jennifer liggies na die asem wat sy nou al so lank staan en inhou.

“Jennifer, dit voel asof jy maar altyd deel van my lewe was en steeds is. Ek kan dit nie verklaar nie, want ek onthou jou tog nie,” fluister hy voor hy haar met haar rugkant styf teen sy bors vastrek. Sy hande gly om haar lyf en sy laat haar kop gewillig teen sy bors terugsak, sy warm asem nou voelbaar teen haar wang.

“Waldo, die . . . die ketel kook,” prewel sy, maar beweeg nie weg van hom af nie.

“Hy sal niks oorkom nie,” fluister hy skor, laat sak sy ken op haar kroontjie, en draai haar versigtig in sy arms om totdat hulle gesigte sentimeters van mekaar af is. Die broeiende emosies in sy oë wil haar verswelg, en die ligte bewing van sy hande teen haar lyf stuur golwe van hunkering deur haar. Haar lippe beweeg effens weg van mekaar af, en dis asof dit presies was waarvoor hy gewag het toe sy kop sak en hy sy lippe sag maar besitlik oor hare vou.

Niks rondom hulle maak meer vir Jennifer saak nie. Net hierdie man wat haar so passievol in sy arms liefkoos, die man na wie sy maar nog altyd gehunker het en te laat besef het sy moes hom nooit laat gaan het nie. Haar kop sak vanself agteroor toe sy lippe hare verlaat en soekend teen haar nek af streel tot waar haar hartklop in haar nek wild onder sy lippe pols. Sy hande streel op na haar skouers, sy vingers glip onder die bloes se dun bandjies in en laat gly dit oor haar skouers. Vlindersag val die gladde bloes teen haar lyf af en laat haar stewige borsies naak hier so na aan hom. Die sagte kreun van genot wat oor haar lippe kom toe sy lippe hulle beurtelings troetel, vuur hom aan en sy tong trek sagte kringe rondom die spits puntjies.

“Waldo . . .” prewel sy haar verlange na hom hartstogtelik uit. Hy tel haar op, dra haar na die kamer toe en lê haar op die bed neer.

Met storms wat in sy kykers broei, bly hulle op haar gerig terwyl hy sy hemp uittrek. Met sy hande by sy denimbroek se knoop, steek hy meteens vas. Sy mond sak effe oop, hy deins terug, vat sy hemp en trek dit verwoed weer aan. Sy lippe druip effens na onder, teleurstelling het nou die drif van emosie in sy oë vervang.

“Waldo, wat is fout?” vra sy verward en sit orent op die bed.

“Ek onthou . . . ek onthou meteens alles. Jy wou my destyds nie regtig gehad het nie. Jy het my huweliksaanbod summier geweier, want jy wou liewer saam met jou ma wees as saam met my. Wat wil jy nou van my hê, Jennifer? Hoekom is ek nou goed genoeg, noudat jou ma nie meer lewe nie? Of is jy net soos al die ander agter my geld aan?” vra hy driftig terwyl hy sy hempsknope woes vasmaak.

Koop nou Liefde in letters hier: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/liefde-in-letters/sagteband

Ook beskikbaar as e-boek: https://www.lapa.co.za/Winkel/Besonderhede?ProductId=7531

’n Mooi vyand – Elsa Hamersma

n Mooi vyand

“Ag, Kesha, ek is so bly jy het veilig gery. Ons het aan jou gedink in hierdie weer,” sê Theresa Malherbe en gee haar ’n ligte drukkie.

Sy het by die tweede besoek al vir Kesha gevra om haar Theresa te noem en Kesha kry dit maklik reg. Al is Theresa seker al diep in die sestig, lyk sy goed vir haar jare en is pragtig versorg. Meneer Malherbe is egter ’n perd van ’n ander kleur. Sy noem hom oom Koos, want hy lyk vir haar baie ouer as sy dinamiese vrou.

“Dis heerlik om weer op Groeneweide te wees, al was die pad ’n riller,” glimlag sy. Die Malherbes laat haar met elke besoek besonder welkom voel met hulle opregte boeregasvryheid.

“Kom binne! Ons drink nog ’n koffietjie, want ons gesels vanoggend so baie dat ons nie koers kry nie.”

Kesha stap agter haar aan tot in die warm kombuis waar Koos Malherbe en ’n tweede man by die groot tafel sit.

“Hier is sy nou,” sê oom Koos. Hy bly sit, want hy sukkel met sy bene, maar die ander man staan op en draai om. “Kesha, kom ontmoet ons seun Jonker. Hy moes dieselfde moeilike pad as jy ry, want hy kom ook van Kaapstad af. Voor dit was hy baie jare in Kanada, maar die afgelope paar weke is hy terug in die land en vandag is hy hier om my oor die kontrak te adviseer.”

Kesha kyk en kyk weer. Haar oë trek nou. Voor haar staan die kampioensoener. Die een wat haar hart so aan die klop gesit het. Nou weer aan die klop het, maar om ’n ander rede.

Sy byt amper haar tong raak. As hy die Malherbes se seun is, het die man haar mos die vorige aand selfs meer belieg en bedrieg as wat sy gedink het. Kamstige speurder! Met groot inspanning hou sy haar mond toe, want haar eerste impuls is om hom ’n hele paar donker Afrikaanse woorde toe te voeg.

“Jonker, dis nou die dametjie van Internasionale Kaasprodukte waarvan ek jou vertel het.”

“Ons het gisteraand in die gastehuis ontmoet,” sê hy komkommerkoel vir sy pa. “Ek het mos in die dorp oorgeslaap omdat die mis so swaar was. Mens kon skaars ’n meter voor jou sien.” Hy trek sy skouers op. “Dit was nogal frustrerend om so naby te wees en tog so ver, en toevallig loop ek Kesha toe raak by Sterrewag-gastehuis. Ons het lekker gesels.”

Sy kners op haar tande. “Ja, ons het báie lekker gesels,” sê sy stroopsoet.

“Dis gaaf dat julle reeds ontmoet het, Jonker,” sê sy ma waarderend. “Sodra Kesha iets gedrink het, kan jy haar die nuwe kaasfabriek gaan wys sodat sy kan sien waar ons nou staan.”

“Dis nie ’n goeie idee nie, Ma. Ek was nog nie eens daar vandat die geboue klaar en al die masjiene geïnstalleer is nie. Dis Ma se baba en niemand sal dit beter kan wys en verduidelik nie. Intussen sal ek liewer na die kontrak kyk wat sy gebring het.” Hy kyk veelseggend na Kesha. “’n Kontrak is iets wat mens nooit ligtelik moet opneem nie. Veral nie hierdie een nie.”

Hy is bang om alleen saam met haar na die fabriek toe te ry, dink Kesha smoorkwaad. Die boggher is bang. Maak ’n gek van haar en dink hy gaan daarmee wegkom.

“Ai, seun,” sug Theresa. “Toemaar, ek sal regkom. Kesha, as jy nie omgee nie, gee solank vir Jonker die kontrak, asseblief? Hy is ’n prokureur en sal, noudat hy terug is, die skakel wees tussen julle en my besigheidjie.”

“Nie ’n besigheidjie nie, Ma. Nou is dit ’n volbloedbesigheid. Maar ek sal seker maak dat Ma nie met ’n slim slenter gevang of uitgebuit word nie.”

Kesha voel lus en snou hom iets toe, maar knip doodbedaard haar tassie oop, haal die kontrak uit en sit dit voor hom op die tafel neer. “Mooi kyk,” sê sy en glimlag vals. “Maak seker dat alles eksie-perfeksie is.”

“O, ek sal. Internasionale maatskappye is alte geneig om verskaffers uit te buit, veral as hulle dink dat hulle onervare, oningeligte plattelanders is.”

Sy sal ’n stel valstande nodig hê wanneer sy hier wegry, dink Kesha, want sy byt kort-kort ’n skerp antwoord terug en kners op haar tande sodat daar nie dalk woorde uit haar mond glip wat die ouer, gawe Malherbes sal laat skrik nie.

’n Mooi vyand nou beskikbaar teen ’n bekostigbare R29,99: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/n-mooi-vyand-mia-se-goliat-romanzaliefde/epub

Sonder julle sou dit nie so lekker gewees het nie – Rika du Plessis

Liefde in letters voorblad_high res

Liefde in letters is Rika du Plessis se laaste Romanza! 

Vanaf 1995 is LAPA Uitgewers en my lesers deel van my lewe, en ek wil graag hiermee vir almal baie dankie sê vir die jarelange ondersteuning in my skryfloopbaan. Sonder julle sou dit nie so lekker gewees het nie.

Ongelukkig moet ek nou van ’n groot deel van my skryfwerk afskeid neem, weens ’n oogprobleem wat nie herstel kan word nie. Met behulp van ’n dierbare mens sal ek nog so hier en daar iets van my laat hoor, maar kan niks verder belowe nie. Ek is hartseer, want skielik is daar hierdie gaping in my lewe wat ek met iets anders sal moet vul.

Baie dankie vir almal wat dit die moeite werd geag het om oor die jare heen soms ’n lekker geselse-pos vir my te skryf, lieflike kommentaar oor my skryfwerk te lewer of sommer net op Facebook met my te gesels. Ek het dit baie waardeer.

Ek kuier nog so dan en wan daar, maar dis met baie moeite. Sal jul graag nog daar wil sien. Ek wens ieder en elk van julle ’n wonderlike toekoms toe.

Liefdegroete

Rika

Februarie: RomanzaLiefde is beskikbaar!

Om haar pinkie

Om haar pinkie − Didi Potgieter

Willem loop draaie om Melissa nadat hulle ’n soen gedeel het, want hy kan homself nie rondom haar vertrou nie. Wat is dit aan dié pragtige brunet wat so met hom toor? Waarom kan sy hom moeiteloos om haar pinkie draai?

BONUSKORTVERHAAL! 
Vir die doodskleed se sakke – Didi Potgieter

Met haar eie lewe aan skrewe, vlug Francisca na die plaas Laaste Rus. Maar die rede waarom sy haar verlowing verbreek het, is die eienaar van die plaas. Sal hulle ’n liefde vind om die doodskleed se sakke te vul?

Vir R29,99 kan jy Om haar pinkie hier koop: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/om-haar-pinkie-vir-die-doodskleed-se-sakke-romanzaliefde/epub 

 

’n Mooi vyand – Elsa Hamersma

n Mooi vyand
Na sy huwelik weet Jonker vir ewig en altyd is nie vir hom nie. Nee, dankie. Die laaste ding wat hy verwag is dat die vrou wat sy ma se besigheid teiken, aan sy hart begin pluk. Wat gaan hier aan? En hoekom voel Kesha nie meer soos sy vyand nie?

BONUSKORTVERHAAL!
 Mia se Goliat – Sonja Brown
Mia se eerste dag by haar nuwe werk is ’n nagmerrie. Haar baas, Goliat, is ’n regtig brombeer, maar skuil daar ietsie meer agter sy aantreklike voorkoms?

Jou bederf vir slegs R29,99! Koop nou ’n Mooi vyand: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/n-mooi-vyand-mia-se-goliat-romanzaliefde/epub 

Liefde op die Nyl – Joléne de Koningh

Liefde op die Nyl voorblad_high res

Dit verhoed egter nie dat haar hart vinniger klop toe sy die eetsaal inkom en hom dadelik raaksien nie. Hy het opgestaan waar hy gesit het en wuif haar nader. Maggie sit ook aan dieselfde tafel en sy huiwer nie om by hulle aan te sluit nie.

“En toe, geniet jy nou al die ervaring, my kind?”

Sy lag. “Ja wraggies, Maggie, jy was reg. ’n Mens moet net ontspan en in hierdie wonderlike land is daar regtig ongelooflike goed om te sien.”

Maggie glimlag breed. “Hierdie waterhotel is deksels gerieflik. Hulle neem jou van die een plek na die ander en jy hoef nie elke keer jou goed in en uit te pak en rond te karwei as jy na iets gaan kyk nie.”

“Jy’s reg, dit neem die sweet uit die reiservaring.”

Sy lag. “Behalwe dat jy in elk geval buite sweet in die hitte.”

Die middag laat, ná ’n kort middagslapie, sit sy op die dek en kyk na die seilbote wat op en af op die Nyl beweeg. Feloeke word hulle volgens die gids genoem. Jong seuns in klein bootjies roei nader om te bedel, maar hulle is gewaarsku om dié pogings nie te ondersteun nie. Die kinders kan ’n groot lastigheid wees, selfs ’n gevaar vir die bootverkeer op die rivier.

Dis ’n poskaartprentjie – die Nyl se water donkerblou in die skemer en die silhoeëtte van palmbome op die hoë duin langs die oewer – en dit maak ’n naamlose heimwee in haar wakker. Waarna weet sy nie juis nie want sy het lanklaas aan Fritz gedink. Sy voel skielik net bitter alleen.

Toe sy opkyk, sien sy hom aankom, ’n glas in elke hand.

“Ek het omtrent die hele skip deurgesoek vir jou. Was net van plan om ’n soekgeselskap te reël om seker te maak jy het nie oorboord geval nie.”

Hy sit die glase vonkelwyn op die tafeltjie langs haar neer en kom hurk voor haar. “Waarvoor kruip jy weg, mensie?” Hy vat haar hande in syne en druk dit saggies.

“Ek kruip nie weg nie, ek soek net ’n bietjie stilte, ’n bietjie privaatheid. Die gedurige gewoel van mense om my druk my partykeer effens vas.” Sy vat nie haar hande weg nie, dis lekker warm in syne.

Dis hy wat opstaan en ’n stoel nader trek, tot byna teen hare. Sy kry ’n glas vonkelwyn in haar hand. “Daarvoor het ek begrip. Moet ek my wyn op ’n ander plek gaan drink?”

“Nee, Jan. Dis nie nodig nie. Moenie jou aan my steur nie.” Sy besef sy wil hê hy moet by haar wees. Dit is lekker om hier te sit en die koel aandlug saam met hom te geniet. Sy kyk na die borreltjies in haar glas en proe aan die wyn. “M’m. Heerlik.”

Hy klink sy glasie teen hare. “Op goeie geselskap. Die soort wat nie noodwendig woorde nodig het nie.”

Om een of ander rede is haar oë vol trane. Gelukkig kyk hy weg na die oewer waar klein seuntjies in die vlak water baljaar. Hulle is oor en oor gewaarsku oor die gevaar van malariabesoedeling in die Nyl en die onsuiwerheidsvlak wat jou ernstig siek kan maak. Selfs die besoekers se tande word in gebottelde water geborsel. Die rivier is vol afval, leë koeldrankbottels en – blikkies en ander kartonne dryf skommelend in die water op pad see toe. Dit lyk asof die kindertjies met die virusse en vuilgoed in die water grootgeword het en immuun is daarteen. Hulle lyk blakend gesond. Sy drink haar glasie proe-proe leeg en sit dit weer op die tafeltjie neer.

Hy vat haar hand weer in syne. “Ons sal seker moet gaan regmaak vir aandete of is jy op ’n eetstaking ook?”

Sy lag. “Glad nie. Ek is deksels honger.”

Hy trek haar uit haar stoel op en sit sy arm om haar skouers terwyl hulle na die trappe toe loop. Sy sal versigtig moet wees, sy kan hieraan gewoond raak. Maar hoekom voel dit dan asof dit so hoort?

Koop Liefde op die Nyl hier: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/liefde-op-die-nyl/sagteband

Ook beskikbaar as e-boek: https://www.lapa.co.za/fiksie/romanza/liefde-op-die-nyl-eboek/epub

2 Nuwes en ’n gunsteling

LIEFDE OP PETIT PARIS – FRENETTE VAN WYK

 

Liefde op petit parys_voorblad high res

In die ou Kaap de Goede Hoop stap ’n jongmeisie aan wal ná die vervolging van Protestante in Frankryk. Omdat Royale op die seereis haar ouers verloor het, is sy nou ’n weeskind in ’n land wat sy nog nooit gesien het nie. Die goewerneur wys Aragon as haar voog aan, ook ’n Hugenoot wat vroeër aan die Kaap ’n nuwe begin kom maak het.

Aragon is gekant teen Royale se liefde vir balletdans – dié ydele vermaak wat aan Louis die Veertiende se hof so modieus is – en wil haar nie toelaat om kontak met jongmans te hê nie. Dit is egter nie al wat Royale hinder nie want sy weet nie waarheen met haar romantiese gevoelens vir haar voog nie. Boonop hang die swaard van ’n huwelik met sy neef oor haar kop.

Dit is ook nie net Royale wat besef wat ’n onweerstaanbaar aantreklike man Aragon is nie, en die ander vrou het ’n dodelike wapen: Die plaas Petit Paris, waarop Aragon boer, behoort aan haar …

Hartsbegeerte – Madelie Human


Hartsbegeerte Voorblad high res

Drie van Madelie Human se vorige Romanzas:

Terug na jou:

Jare gelede het Mercia haar liefde vrygelaat, soos mens ’n boemerang van jou af weggooi. Nes die boemerang het haar liefde nou na haar toe teruggekeer. Sal sy hierdie keer daarin slaag om dit vas te hou en vir altyd te koester?

Kolwyntjie:

Die tweelingdokters in die spreekkamers reg langs Melani se nuwe besigheid is albei ewe sjarmant. Dis egter Lourens wat haar hart verower, maar hy wil verder studeer en het nie tyd vir ’n verhouding nie …

Altyd die strooimeisie:

Meyer Malan steel Zoë se hart met die eerste oogopslag, maar hoe kan sy hom liefhê as hy juis een van die bevoorregtes is wat op haar pa se erfplaas grootgeword het. Kan sy die familie vertel wie sy werklik is?

 

Veilige hawe – Irma Joubert
Veilige hawe (sonder 2-1-logo)

 

Irma Joubert het duisende lesers met Tussen stasies, Ver wink die Suiderkruis en Verbode drif bekoor. Veilige hawe is ’n heruitgawe van twee van haar gewildste romanses.

Vonkpos vir die hart

Hy noem haar ‘meisiekind’ – soms. Maar Liezl kry die muur om hom nie afgebreek nie. Pieter Naudé is nie ’n maklike man nie. Die pyn na die moord op sy gesin verstaan sy. Sy het self haar man verloor. Tog raak sy lief vir hom. Na wie luister sy, haar hart, of haar verstand?

’n Beskermengel vir Marlene

Haar pa het haar geleer: pasop vir mans en pasop veral dat jy nie goedkoop raak nie. Op drie en twintig is Marlene skielik ’n weduwee. Sy’s bang en sy vertrou niemand. Tot Adolf opdaag. Haar bang word vertroue. Sy erken dat sy hom liefhet. Baai haar in sy omgee, sy sorg … Tot die verlede hulle inhaal.