Musiek! Die hart se taal … Felicia Snyman

felicia-blog-3

Hierdie tyd van die jaar is een van my gunsteling tye en die hoofrede daarvoor is die reën. Ek is gaande oor reën. Die reuk wat in die lug hang met die belofte van reën. Daardie varsheid wat ná die tyd oor ons neerdaal. Die helderheid wat elke deel van die skepping so onselfsugtig vir ons tentoonstel. Laaste, maar nie die minste nie − die pragtige geluid van reëndruppels wat passievol op die dak en ruite dans en ons betower met die verwagting van nuwe lewe. Dit is musiek in my ore.

Daardie geluid van die hemelse musiek, laat my altyd voel soos ’n klein dogtertjie wat oor die gras wil hardloop, om en om draai en werklik dans. Dans asof niemand kyk nie. Dans asof die vreugde van menswees deur mens vloei. Ek dink te min mense dans deesdae net sommer omdat hulle gelukkig, vry, lewendig en menslik is. Mense is bang dat ander mense hulle oordeel, vir hulle lag of dat hulle sal lyk asof hulle nie inpas nie.

Onlangs het ek op ’n roadtrip al die pad Vrystaat toe saam met ’n werksvriend gegaan om ons werkplek se opedag te behartig. Ons twee het letterlik in die middernagtelike ure hier weggetrek. Dit is ’n hele paar ure om saam met iemand in die motor te spandeer. En in teenstelling tot die algemene opvatting is die binnekant van ’n voertuig aansienlik kleiner as wat mens dink, veral as daar onenigheid tussen die passasiers ontaard. Elke persoon met broers en/of susters wat langpad moes ry weet presies waarvan ek nou praat. Wel, daar sit ons in die kompakte volume van ’n enkelkajuit-bakkie soos twee nagapies in ’n hok by die dieretuin.

Die volle impak van die hele situasie pak my beet en ’n meisie (veral ek) oordink absoluut alles. Is ek reg aangetrek? Wat moet ek verwag? Hoe lyk die slaapplek en wat is die opset? Gaan ons geïrriteerd en moeg raak? Wat as ons vassit? Gelukkig gesels ons twee baie maklik oor letterlik enige iets. Die onsekerheid tree eenkant toe vir die opgewondenheid van die geleentheid om nuwe mense te ontmoet en ’n bydrae te lewer.  Die musiek speel op ’n gemaklike volume in die agtergrond en in ’n stadium sit ek die musiek harder. Dit is juis in een van ons gesels-en-spot-met-die-lewe-oomblikke wat een van my gunstelingliedjies begin speel. Dit is asof ons net stil raak en begin saam sing. Dit maak nie regtig saak hoe die note uit mens se keel uitkom nie, solank dit net loop soos stroop. Ons ken duidelik albei dieselfde tipe musiek en geniet die samesyn.

In daardie oomblik kyk mens na die ander persoon en dit is asof daardie liedjie hulle as ’n vriend aanbeveel. Die musiek bind julle in daardie oomblik saam en ’n nuwe vriendskap vorm. Dit was nou beslis een van die beste werksverpligtinge wat ek al ooit uitgevoer het. Meeste van alles was dit my mede-musiekliefhebber-bestuurder wat die rit die moeite werd gemaak het.

Ek het mooi oor die situasie gaan nadink en weet verseker indien ons musiek smaak ligjare verskil het sou dit ’n aaklige reis gewees het. Ons is twee vuurvreters en kon maklik koppe gestamp het. Tog, het ons dieselfde taal gepraat. Musiek!

Musiek is ’n wêreldtaal. Ongeag geloof, ras, kultuur, geslag en die ander verskille tussen mense, verstaan almal musiek. Dit is nie nodig om die taal waarin die woorde gesing te word te verstaan nie. Ons harte ken die woorde. Ons siele sing uit volle bors saam! Meeste van my hartsmense het ek regtig eers leer ken toe ons musiek gedeel het en dieselfde gevoel aan die binnekant oor die liedjie ervaar het. Musiek is soos ’n goeie boek wat jou siel aanraak. Daar is ’n liedjie vir elke emosie en situasie daarbuite.

So kry ’n mens nuwe vriende:

Die saam geniet van verskillende musiekvideo’s wat ’n spesiale mens aan jou bekendstel.

Die eerste metal band wat ek met verbasing geniet het, het van die meisie wat dit aanbeveel het ’n vriendin gemaak.

Dan is daar ook daardie liedjie wat jy nooit weer kan luister nie, want dit herinner jou aan die lae, luis wat jou hart gebreek het.

Die oorsese musiekkanale wat ’n reis saam met ’n beste vriendin onvergeetlik en wonderlik gemaak het.

Die liedjie waarop jy vir die eerste keer bitter ongemaklik vas gedans het by jou eerste sokkie, wat nou nog koue sweet op jou voorkop laat uitslaan.

Daar is soveel herinneringe wat aan musiek gekoppel kan word.

9822-friedrich-nietzsche-quote-and-those-who-were-seen-dancing-were

Ek is old school – niks kan kers vashou by die klank van ’n plaat wat roterend die note van ’n legende weergee nie. (’n Glas rooiwyn is natuurlik ’n noodsaaklikheid.) Maar ek voel mense geniet nie meer die natuur se musiek, soos voëltjies, donderweer, reën en winde of die wêreld se musiek, soos jare gelede nie.

So sing uit volle bors in die motor, maak nie saak wie langs jou sit nie. Luister na die pragtige musieknote wat jou hart so goed ken. Laat jou hare los hang en dans saam met die ritme van die lieflike lewenspassies. In daardie oomblikke beveel ’n liedjie dalk net vir jou ’n hartsmens aan en word jy ’n menslike juweel ryker.