Meant to be bestaan nie. Of is daar so iets? – Felicia Snyman

 

felicia-1

Liefdesverhale is van die eerste verhale waarmee ’n mens in jou lewe gekonfronteer word. Dit is altyd die prins wat die prinses red van die bose heks, die held wat die meisie uit haar omstandighede laat sweef en die heldin wat die held van ’n monster na ’n manjifieke man verander met haar liefde wat sy onvoorwaardelik aan hom gee.

13654350_10154403055542386_1892190759777294751_n

Hierdie is die idees in ’n mens se kop waarmee jy die liefde opsom en soek. Ek het elke film, boek en alles tussenin oor die liefde verslind. Daardie genot het later ’n passie geword en toe die dryfkrag om my eie Romanza te skryf. Dit is presies wat ek gedoen het. My held en heldin het gegroei in eie reg en skoonheid. Gedurende die skryfwerk is ek skoon smoorverlief op Le Roux (die held in Duisend keer ja)!

'n duisend keer ja_high res

Hoe kan ’n vrou dan anders? Die man is immers ongelooflik aantreklik, welgesteld en om nie eens te praat van sy aanloklike persoonlikheid nie. Ek verbeel my hoe dit sou wees om so ’n beeld van ’n man te ontmoet en binne oomblikke deur hom weggevoer te word, te trou en ewig gelukkig saam te leef. Klink bekoorlik.

Ek is egter ’n harde koejawel en gooi die boek neer en dink “hierdie is so ver van die waarheid af”.

En daar … tref ’n ander realiteit my!

’n Werksvriendin ontmoet ’n man wat haar bene onder haar uitslaan en binne twee maande is hulle verloof. Sy beplan om oor vier maande te trou en sak en pak saam met hom te trek na ’n dorp so groot soos ’n outydse een sent (mossies is omtrent al geselskap wat mens daar sal hê, of so dink ek). Ek luister opgewonde na haar goeie nuus en die ‘oe’ en ‘ah’ vloei vrylik soos daar saam met haar beplan word aan die joligheid.

Alles rondom die troudag is beplan en gereed. Die strooimeisies, goeie musiek, kos, fotograaf, gastelyste en natuurlik die beeldskone droom-trourok. Selfs die tegniese aspekte, soos die huweliksvoorwaardekontrak en die huweliksbevestiger, is gereed! Het ek al genoem, hulle restoureer (eintlik bou) hulle eie huis. En dit is al byna voltooi. Gasp! Ek staan verstom oor hoe vinnig elke detail beplan word en alles net soos ’n legkaart in plek val. Asof dit net meant to be is. (Maar daar is mos nie so iets nie. Of is daar?)

Elke naweek kuier hulle oor en weer en mense sien die groeiende vreugde duidelik in haar opbou. Haar stories oor hul verhouding is so natuurlik en prettig. Die man klink soos ’n storieboek-held. Hy doen en sê alles reg. Sy is so verlief en gelukkig dat mens nie kan besluit of jy jaloers is of gelukkiger voel wanneer sy naby is nie. Dit straal behoorlik uit haar uit. Hy is sterk, selfstandige en sensitief. Hy is ’n familie-man, loop hand aan hand met God en hou van babadiertjies. Hy bel haar elke oggend en elke aand. Luister na al die stories, maak nie saak hoe onbenullig nie. Dis asof net hy haar verstaan, kan liefhê en laat voel soos die wêreld se sterkste en mooiste vrou. Tog, kan ek nie daardie gevoel van twyfel afskud nie…

Hoe kan ’n meisie, in vandag se tyd, wie se kop reg op haar skouers geskroef is alles los en agter ’n man aantrek. Selfs al is dit ’n lang, donkerkop, aantreklike boer. Dit is verregaande! Wat van haar troeteldiere? Gaan hulle veilig wees?

rsz_dsc_3000

Felicia met haar dierkind (en grootste ondersteuner) Rocky!

Wat van sekuriteit? Hoe gaan sy vir haarself sorg? Wat van al haar kwalifikasies? Sy ken hom nog nie eens nie. Hy kan ’n malletjie wees. ’n Skelm. ’n Bedrieër. Sy ma kan die heks van Endor wees! Krisis! Ek raak skoon angstig. Ek voel hoe my hare, vir haar part, sommer uit my kop uitval van stres. Dit gaan haar hele lewe verander. Sy moet darem hierdie ding deurdink. Mens spring nie holderstebolder in ’n situasie in nie.

Net daar stop ek myself dat die stof staan! Hoekom nie?

My eie heldinne raak halsoorkop verlief op die aantreklike, donkerkop boer, die besigheidsman met die onbeskryflike oë en die misterieuse veearts. Hulle gee soms als op, trek, beplan ’n toekoms saam met ’n basies wildvreemde man. My heldinne is soos my eie susters, beste vriendinne, my sielsgenote. Ek sal hulle deur woorde teen enige gevaar wil beskerm. Ek is nooit angstig vir hulle part nie. Hoekom nie? Dit is eenvoudig. Ek ken die held se intensies, sy hart en die manier hoe net hy die heldin kan liefhê.

My werksvriendin ken, net soos die heldinne, haar held se hart. Sy sien die emosies in sy oë wanneer hy na haar kyk en weet hoe hy oor haar voel.

Hier skryf, lees en droom ons van hierdie liefdesverhale en wonder soms of dit nie te ver van die realiteit verwyder is nie. Pessimiste, optimiste, realiste en skeptikusse – hokaai! stop net daar. Dit is juis dit… dit is die realiteit! Dit gebeur om en in ons. Ons, elke Eenvoudige Ella, Besige Bettie en Vurige Veronica, is die karakters van iemand se boek. Dit kan ’n hoofstuk of ’n meesterstuk wees, maar gewone mense is die helde en heldinne van liefdesverhale.

Romanza boeke is nie onrealisties nie – jou storie is dalk nog net besig om geskryf te word. Ek weet sommer dat my werksvriendin se storie ’n gelukkige einde gaan hê. Nou wag ek net dat iemand my held in my storie inskryf …

Skimp skimp.