Al wat jy nodig het is ’n mansbaadjie – Felicia Snyman

 

romanzalesersblog

Onlangs moes ek ’n geselligheid gaan bywoon wat vereis het dat ek ’n metgesel saamneem. ’n Jongmeisie alleen by ’n funksie is darem ongehoord. Gelukkig het ek ’n baie goeie vriend wat bereid was om saam te gaan. Dus was ek verlos van skeptiese en spekulerende kyke. Ongelukkig het my blonde hare teen my getel en moes ek weer waak teen die “begeerte” om iemand se aanhangsel te gaps. Hulle sê: “Blondes have more fun”, maar dit lyk my eerder as jy blonde hare het, dink vroue jy soek hul mans.

Ondanks my gebrek aan getroude status en sosiaal aanvaarbare haarkleur, was dit ook nog ’n formele funksie en net soos die noodlot dit wil hê – koud! Elke meisie se grootste nagmerrie. Daar gaan die goed beplande uitrusting. Daardie moulose elegante aandrok is skielik nie meer die beste idee wat jy in die onmiddellike toekoms gehad het nie.

Die ander opsies is egter uitgeput en die rok sal moet deug. Al wat jy kort is ’n truitjie of sjaal. As jy nie ’n warmdingetjie neem nie word jy veroordeel: “Het sy nie die weer gesien nie? Is sy ontvoer en het nie geweet dit gaan koud wees nie?”. Indien jy die verkeerde nie-bypassende warmding neem word jy beoordeel: “Daardie trui pas glad nie by die rok nie, het sy nie ’n spieël in haar huis nie?”. Dit is net ’n deurmekaarspul! Tydens hierdie tweestryd het die perfekte advies vir elke enkellopende dame (miskien dalk elke dame oor die algemeen)  in my kop opgespring soos daardie gloeilampe in die spotprentjies.

defa1cc3decf8a48756a317940e22e3a

Al wat jy nodig het is ’n mansbaadjie.

Jy het reg gelees… ’n mansbaadjie; suit baadjie; die netjies stukkie kledingstuk wat elke man in ‘n gentleman en aantreklike wese laat verander.

Hier is my logika agter die bisarre stelling:

Indien mens ‘n vrou in ’n mooi rok met ’n mansbaadjie wat oot haar skouers hang sien, dink mens (vrou) dadelik daaraan dat ’n gawe, ware heer vir haar die baadjie geleen het, omdat sy koud kry. Die baadjie pas skielik by enige kleur, snit, ontwerpersrok en snyerspakkie. Ongeag wat jy vroeër van haar te stywe rok, afskuwelike groen gewaad, gevaarlike kort mini of doodgewone uitrusting gedink het, die baadjie is nou die fokuspunt.

In ’n oogwink is daardie dame nie kompetisie of ‘n bedreiging nie. Sy dra immers haar man, kêrel of moontlike toekomstige eggenoot se baadjie. Daar is nie ’n manier hoe sy sal ogies maak vir jou prins nie. Ewe skielik is sy deel van die ‘beskerm vroue teen veroordeling-vereniging’. Haar mansvriend is immers ’n man van goeie inbors, met uitstekende maniere. Hy is galant!

Weg is die onsekerheid en verdinkery.

Hier is my advies vir elke vrou wat nie reeds ’n man het wat sy baadjie vir haar kan leen nie – skaf vir jouself ’n goeie mansbaadjie aan. Dit is prakties. Warm. Gesofistikeerd. En gemaklik. Nooit weer sal iemand jou kan oordeel wanneer jy koud kry by ’n geselligheid nie. Niemand sal weet jy is alleen by ’n troue, doop, verjaarsdagpartytjie of werksfunksie nie. Jy hoef nie weer skaam rond te trap en te wens die aarde sluk jou in, omdat jy soos jou vinger alleen daar staan, nie.

As ’n totale bonus: dink net aan al die nuuskierige agies wat gaan wonder wie die man is wie se baadjie oor jou skouers hang.